Die finale oorwinning van die Lam sal behaal word by sy wederkoms wanneer Hy in mag en majesteit na die aarde sal terugkeer om sy vyande te oordeel by die slag van Armagéddon, die Antichris en valse profeet tot die poel van vuur te verdoem, die duiwel in ’n put laat bind en toesluit, ’n oorblyfsel van Israel en die nasies sal red, en sy vrederyk op aarde sal vestig. Baie van hierdie groot eskatologiese gebeure word in Openbaring beskryf, en ’n mens sou verwag dat Johannes voorkeur sou gee aan koninklike titels om Christus in sy verhewe posisie as God en Koning te beskryf – maar hy verwys hoofsaaklik na Hom as die Lam.
Die basis vir Christus se oorwinning en heerskappy word in die eerste van die sewe feeste gevind, en dit is sy hoedanigheid as die Lam van God wat sy lewe afgelê het om ’n verlore mensdom te red deur die doodvonnis vir hulle sonde aan die kruis te dra. Sodoende het Hy hulle van die mag en aanspraak van die Bose verlos. In die boek Openbaring word Hy 26 keer as die Lam beskryf. Ander name en beskrywings word ook gebruik, maar sy posisie as die Lam is oorheersend in hierdie laaste Bybelboek.
Dit is vanpas om hierdie boek af te sluit met ’n paar uittreksels uit Openbaring waarin Christus se posisie as die Lam beklemtoon word, asook sy verwante hoedanighede as die Eersteling en die Hoëpriester:
Die eersgeborene uit die dode. Die boodskap in Openbaring kom van: “Jesus Christus, die getroue getuie, die eersgeborene uit die dode en die Owerste oor die konings van die aarde! Aan Hom wat ons liefgehad het en ons van ons sondes gewas het in sy bloed en ons gemaak het konings en priesters vir sy God en Vader, aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid!” (Op. 1:5-6). Hy is die getroue getuie oor alle dinge, in die verlede, hede en die toekoms, en Hy het ons deur sy bloed gereinig en aan ons ’n groot en wonderlike toekoms in sy koninkryk gebied. Hy is die eersgeborene uit die dode, daarom weet ons dat ons ’n lewende Christus dien wat voor alle dinge reeds bestaan het, en ook die einde van alle dinge in sy hand hou. Hy wil hê gelowiges moet daarvan kennis neem dat Hy “die eerste en die laaste [is], wat dood was en lewend geword het” (Op. 2:8). Hy het ter wille van ons gesterf en weer opgestaan, en in die proses ook die laaste vyand van die dood oorwin. Almal wat in Hom glo, sal nie deur die dood van die liggaam enige skade ly nie, maar sal opstaan uit die dood en vir ewig in God se koninkryk lewe.
Die hele wêreld sal Hom sien kom. “Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het; en al die geslagte van die aarde sal oor Hom rou bedryf” (Op. 1:7). Gedurende die afgelope twee millennia is die dissipels van die Lam na die hele wêreld uitgestuur om die evangelie aan alle nasies te verkondig. Wanneer Hy in heerlikheid terugkom as Regter en Koning van die konings, sal elke oog Hom sien en alle mense rekenskap van hulle lewens moet gee – spesifiek met betrekking tot hulle verhouding met Christus as Verlosser. Ná die verskriklike oordele van die dag van die Here, sal die oorlewende mense uit alle volke rou bedryf oor Jesus en hulle sondes bely. Onder hulle sal ook ’n godvresende oorblyfsel van Israel wees wat sal opsien na Hom “vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag” (Sag. 12:10). Die bekeerlinge uit alle nasies sal gered word en deel verkry van aan die Lam se vrederyk (Matt. 24:29-30; Sag. 14:16).
Hy sal in ’n koninklike en priesterlike kleed as Regter, Koning en Priester verskyn. Sy heerlikheid sal groot wees, sy kennis volmaak, sy insig sonder perke, sy oordele streng en sy genade grensloos. In sy visioene oor die toekoms beskryf Johannes die verheerlikte Christus só: “Toe [sien ek] tussen die sewe goue kandelaars Een soos die Seun van die mens met ’n kleed aan wat tot op die voete hang, en gegord om die bors met ’n goue gordel. Sy hoof en hare was wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë soos ’n vuurvlam, en sy voete soos blink koper wat gloei soos in ’n oond, en sy stem soos die stem van baie waters” (Op. 1:12-15).
Die Lam is in die midde van sy kerk en ken al hulle werke. Deur sy dissipel Johannes het Jesus boodskappe aan sy kerk op aarde gestuur: “Dít sê Hy wat die sewe sterre in sy regterhand hou, wat wandel tussen die sewe goue kandelaars: Ek ken jou werke” (Op. 2:1-2). Hy ken al ons dade en selfs die mees verborge gedagtes en bedoelings van ons harte, en sal ons in die lig daarvan beoordeel.
Die heiliges sal roem in die gestorte bloed van die Lam waardeur hulle gered en geheilig is, en erken dat net Hy waardig is om die boek van God se oordele oop te maak en die goddeloses te oordeel. “Die Leeu wat uit die stam van Juda is, die wortel van Dawid, het oorwin om die boek oop te maak en sy sewe seëls te breek. ... En toe Hy die boek neem, val die vier lewende wesens en die vier-en-twintig ouderlinge voor die Lam neer. ... Toe sing hulle ’n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Op. 5:5, 8-10). Die Leeu uit die stam van Juda, Emmánuel (God met ons) wat mens geword het in die koninklike familie van Israel, het eers op die toneel verskyn in die gedaante van ’n nederige dienskneg en Lam van God om Homself as ’n soenoffer vir die sondes van die wêreld aan te bied. Net Hy het ’n Godgegewe reg om alle mense te oordeel wat God se aanbod tot verlossing geminag het, daarom kan Hy die boek oopmaak en die goddeloses oordeel. Die mag van die koninkryk van die duisternis sal volkome verbreek word. Diegene wat aan die Lam behoort, sal roem in die feit dat Hy hulle met sy bloed gekoop het. Hulle sal mede-erfgename wees van die koninkryk van die Leeu van Juda, wat van Dawid se troon af uit die stad van die groot Koning sal regeer. Hieruit is dit duidelik dat die Lam wat in Israel gebore is, ’n wêreldwye sending het en ook ’n wêreldwye koninkryk. Die sewe feeste van die Here het dus ook ’n wêreldwye toepassing en ’n Nuwe-Testamentiese vervulling.
Die gelowiges uit die verdrukking sal hulle klere in die bloed van die Lam was (Op. 7:14). Hoewel hulle as martelare sal sterf (Op. 6:9-11), sal hulle die geestelike stryd teen die Antichris wen op grond van die krag wat die Lam aan hulle gee: “En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie” (Op. 12:11).
Die oordele van die Lam sal ’n verskriklike verdrukking op aarde tot gevolg hê. Wanneer vernietigende aardbewings en ander natuurrampe die aarde tref, sal die mense weet dat dit goddelike oordele is omdat hulle die Lam van God se oproep tot bekering verwerp het: “En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was ’n groot aardbewing; en die son het swart geword soos ’n harige sak, en die maan het geword soos bloed; en die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos ’n vyeboom wat deur ’n groot wind geskud word, sy navye laat afval; en die hemel het weggewyk soos ’n boek wat toegerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit; en die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en die rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Op. 6:12-17). Die toorn van die Lam wag vir almal wat hulleself uit eie wil by die vyande van die Lam skaar, en hulle sal hulleself ná die wegraping in die “sewe verskriklike dae” van goddelike oordele bevind. “Hoe sal ons ontvlug as ons so ’n groot saligheid veronagsaam het?” (Heb. 2:3).
Wanneer die Lam na sy wederkoms sy koninkryk op aarde openbaar, sal sy bruilofsmaal hier op aarde gevier word, en dan sal Hy sy bruid vertoon wat saam met Hom sal regeer. “Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak. En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges. Toe sê hy vir my: Skryf salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam” (Op. 19:7-9). Paulus het ook reikhalsend na hierdie dag verlang: “Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word” (Kol 3:4). Soos wat Israel geleer is om elke jaar die Loofhuttefees te vier en na die koms van die Messias uit te sien, moet ons ook ’n profetiese vergesig hê van die koms van Christus en die openbaring van sy koninkryk. “Verag die profesieë nie” (1 Thess. 5:20).
Vir ware gelowiges sal al die pyn en lyding verby wees wanneer die Lam alles nuut maak, insluitend ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde; maar vir die goddeloses wag daar ewige ellende. “En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ’n bruid wat vir haar man versier is. En ek het ’n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan. En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar. En Hy het vir my gesê: Dit is verby! Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde. Aan die dorstige sal Ek gee uit die fontein van die water van die lewe, verniet. Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom ’n God wees, en hy sal vir My ’n seun wees. Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood” (Op. 21:2-8). Diegene wie se lewens nog deurtrek is van die suurdeeg van sonde, en wat ten volle daardeur oorheers word, verkeer nog in die slawerny van Egipte en is nie op die reis van die bevryde volk van God wat op pad is na die Beloofde Land toe nie.
Toegang tot die Nuwe Jerusalem kan slegs deur die Lam verkry word. “... en die stad was suiwer goud soos suiwer glas. En die fondamente van die muur van die stad was versierd met allerhande edelgesteentes. ... En die twaalf poorte was twaalf pêrels; elkeen van die poorte was uit een pêrel, en die straat van die stad was suiwer goud soos deurskynende glas” (Op. 21:18-21). Die stad en sy strate is van suiwer, deurskynende goud gebou. Die fondamente van die muur is met kosbare edelgesteentes versier wat wissel van kristalhelder stene tot dieprooi sardius, groen chrisoliet en vonkelende blou saffier. In die hoë mure rondom die stad is daar twaalf poorte, en elke poort bestaan uit ’n pêrel. Die idee van ’n traan word deur ’n pêrel vertolk, omdat sy vorming met pyn en lyding gepaard gaan. Wanneer die oester beseer word, of ’n sandkorreltjie inkry, vorm dit ’n skitterende pêrel op daardie plek. Toe Jesus se hande en voete deur ruwe spykers deurboor is en Hy sy lewe vir ons afgelê het aan die kruis, is die poorte van die paradys weer vir die gevalle mens geopen. Deur sy trane en lyding het Hy vir ons die kosbare pêrel geword wat self die poort na die Nuwe Jerusalem is. Deur Hom kan ons ingaan en uitgaan en ons vir ewig in die heerlikheid van die Here verbly.
Die Lam sal die lig van die wêreld wees en ook God se heiligheid en heerlikheid uitstraal. “En ’n tempel het ek nie daarin gesien nie, want die Here God, die Almagtige, is sy tempel, en die Lam. En die stad het die son of die maan nie nodig om in hom te skyn nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp” (Op. 21:22-23). Geen tempel sal in die Nuwe Jerusalem nodig wees nie, omdat die tempeldiens en al sy toerusting slegs ’n voorbereidende funksie op die koms van Christus vervul het. ’n Helder lig sal van God se troon af skyn en alle duisternis verdryf. Gedurende Christus se eerste koms was Hy ook die lig van die wêreld, maar mense het die keuse gehad of hulle Hom wou aanvaar of verwerp: “En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos” (Joh. 3:19). Dit sal slegs wees nadat die magte van die duisternis uitgewis is deur die veroordeling van die bose mense, die verdoeming van die Antichris en die valse profeet tot die poel van vuur, en die binding van Satan, dat die lig van die Messias tot in al die uithoeke van die heelal sal skyn en die lewens van alle mense verlig.
Die Bybel sluit af met ’n finale uitnodiging aan enigeen om die ewige lewe te verkry. “En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet” (Op. 22:17). Die Here Jesus is die enigste water van die lewe vir ’n geestelik sterwende wêreld, en nooi almal van ons uit om van hierdie water te neem. Soos wat Hy gedoen het toe Hy die Loofhuttefees in Jerusalem bygewoon het, nooi Hy nog steeds mense uit om na Hom toe te kom en die water van die lewe te drink (Joh. 7:37). “Aan die dorstige sal Ek gee uit die fontein van die water van die lewe, verniet” (Op. 21:6).
In die lig van Openbaring se ernstige boodskap het ons ’n baie groot verantwoordelikheid om God se verlossingsplan vir die mensdom deeglik te bestudeer, ook soos wat dit deur die sewe feeste voorafgeskadu word. Die vertrekpunt hiervan is die offer van die Lam van God om die sondes van die mensdom weg te neem. “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade” (Ef. 1:7). Hierdie geskenk moet in die geloof aangeneem word. Tesame met ’n oorgawe van onsself aan Hom, moet ons ons lewens deeglik ondersoek en alle suurdeeg van sonde bely en laat staan. Daarna moet dit by ons ’n lewenswyse wees om aan die opstandingslewe van Christus gelykvormig te word, omdat net Hy ons in staat kan stel om in ’n nuwe lewe te wandel. Die toerusting met krag uit die hoogte is op Pinksterdag gegee toe die Heilige Gees uitgestort is.
Indien ons van al hierdie seëninge kan getuig, en onsself ten volle oorgegee het om deur die Gees te wandel, moet ons by die uitvoering van die Groot Opdrag van wêreldevangelisasie inskakel. Terwyl ons dit doen, moet ons altyd daarvan bewus wees dat die bedeling van genade amper verby is. Spoedig sal die Loofhuttefees vervul word wanneer die oes van gelowiges in die hemel versamel word. Onder op die aarde sal die sewe jaar van verdrukking verloop, wat onbeskryflike smarte en lyding vir miljoene mense sal meebring wat die Lam se uitnodiging tot redding vermy of verwerp het.
Aan die einde van die verdrukking sal die Groot Versoendag vervul word wanneer die Messias terugkeer, sy voete op die Olyfberg sit, die oorblyfsel van Israel en die nasies red, en sy vrederyk instel. Die openbaarmaking van sy koninkryk sal die vervulling van die Loofhuttefees wees.