Pinkster word gevolg deur ’n lang periode van vier maande wanneer die oes van verskillende produkte in Israel ingesamel word. Die laaste drie feeste word dan ná die oestyd gevier, in die sewende maand. Die lang tydperk tussen die twee groepe feeste het profetiese betekenis. Dit verwys na die kerkdispensasie waarin ’n oes vir die koninkryk van die hemel onder alle nasies ingesamel moet word. Diegene wat vir die Here werk, moet hulleself daaraan toewy om hulle opdrag binne die beskikbare tyd af te handel: “Sê julle nie: Dit is nog vier maande dan kom die oes nie? Kyk, Ek sê vir julle, slaan julle oë op en aanskou die lande dat hulle al wit is vir die oes” (Joh. 4:35).
|
|
By ’n ander geleentheid het Jesus gesê: “Die oes is wel groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here van die oes dat Hy arbeiders in sy oes uitstuur” (Luk. 10:2). In een van die gelykenisse word ’n saailand as ’n simbool van die wêreld gebruik, en die finale insameling van die oes as die einde van die wêreld (Matt. 13:38-39). Die woord “wêreld” wat in Matthéüs 13:39 gebruik word is “aioon” (Grieks aion) en verwys ook na ’n lang tydperk, soos ’n bedeling of ’n eeu (vgl. 1 Kor. 10:11). In die betrokke gelykenis verwys “aioon” na die Messiaanse era tussen die eerste en tweede koms van die Messias, wanneer die oes ingesamel moet word. Slegs aan die einde van hierdie bedeling sal die oes in die hemelse skuur versamel word.
Daar is verskillende beskrywings in die Bybel van die aard van die kerkdispensasie, asook tekens wat op die naderende einde daarvan dui, waarna Israel weer ’n sentrale rol in God se heilsplan vir die mensdom sal speel. Die volgende belangrike feite moet in gedagte gehou word:
Die Lam van God wat as Verlosser en Koning na Israel gestuur is, is deur die groot meerderheid van die volk verwerp, insluitend hulle geestelike leiers. Deur hierdie daad is Hy van sy eie mense afgesny, omdat hulle sy geloofsbriewe verwerp en besluit het om geestelik self hulle weg deur die lewe te vind sonder Hom: “Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie” (Joh. 1:11). Hierdie negatiewe reaksie van Israel verklaar die lang onderbreking in die viering van die sewe feeste. Ten spyte van die tragiese gevolge vir Israel van die verwerping van hulle Messias-Koning, is die lang onderbreking ’n uiters betekenisvolle fase in die verkondiging van God se verlossing aan die ganse wêreld – ook aan die verstrooide Israeliete.
Christus verduidelik Israel se geestelike blindheid en die gevolge van hulle verwerping van die Seun van God soos volg in ’n gelykenis:
“Daar was ’n sekere huisheer wat ’n wingerd geplant het; en hy het ’n heining daarom gesit en ’n parskuip daarin gegrawe en ’n wagtoring gebou, en hy het dit aan landbouers verhuur en op reis gegaan. En toe die vrugtetyd nader kom, stuur hy sy diensknegte na die landbouers om sy vrugte te ontvang. Maar die landbouers het sy diensknegte geneem en een geslaan en ’n ander een doodgemaak en ’n ander een gestenig. Weer het hy ander diensknegte gestuur, meer as die eerstes, en hulle het met dié net so gemaak. Oplaas het hy sy seun na hulle gestuur en gesê: Hulle sal my seun ontsien. Maar toe die landbouers die seun sien, het hulle onder mekaar gesê: Dit is die erfgenaam; kom laat ons hom doodmaak en sy erfdeel in besit neem. En hulle het hom geneem en buitekant die wingerd uitgewerp en doodgemaak. Wanneer die eienaar van die wingerd dan kom, wat sal hy met daardie landbouers doen? Hulle antwoord Hom: Die slegte mense – hy sal hulle ’n slegte dood laat sterwe en die wingerd verhuur aan ander landbouers wat hom die vrugte op die regte tyd sal gee. Jesus sê vir hulle: Het julle nooit in die Skrifte gelees nie: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het ’n hoeksteen geword. Hy het van die Here gekom en is wonderbaar in ons oë? Daarom sê Ek vir julle: Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan ’n volk gegee word wat die vrugte daarvan sal dra” (Matt. 21:33-43).
Jesus die Messias het vir die Joodse leiers gesê dat hulle die huurders was wat die Huisheer (God) in twee stadiums sou verwerp: eers het hulle sy diensknegte verwerp, en nou was hulle op die punt om sy Seun ook te verwerp en dood te maak. Louis Barbieri (1983:70-71) sê: “Dit is duidelik dat Jesus van die volk Israel gepraat het wat noukeurig deur God voorberei is om sy vrugbare wingerd te wees (vgl. Jes. 5:1-7). Die versorging van die wingerd is aan die volk se godsdiensleiers oorgelaat, maar hulle het nagelaat om die Here se reg oor hulle te erken en het sy gesante en profete sleg behandel. Hulle sou uiteindelik selfs sy Seun, Jesus Christus, buitekant Jerusalem doodmaak (vgl. Heb. 13:12). ... By wyse van toepassing het Jesus gesê dat die koninkryk van God weggeneem sou word van diegene wat na Hom geluister het, en aan mense gegee sou word wat die vrugte daarvan sal dra. ... Die koninkryk is egter nie permanent van Israel af weggeneem nie (Rom. 11:15, 25) en die kerk het nie nou die koninkryk geërf nie. ... Jesus het bloot gesê dat die koninkryk in daardie stadium van Israel af weggeneem sou word, maar dit sou in ’n toekomstige stadium aan hulle teruggegee word wanneer hierdie volk ware berou en geloof toon.”
Gedurende die onderbreking tussen die feeste vind die insameling van God se oes hoofsaaklik onder die nie-Joodse volke plaas. Terwyl hulle hiermee besig is, moet die nie-Joodse volke vir Israel jaloers maak deur die manier waarop hulle die Messias dien en eer, asook deur hulle toewyding aan die uitvoering van sy opdragte.
Dit is ook interessant om daarop te let dat gedurende die tyd tussen die eerste en tweede koms van die Messias, daar twee oorgangsgeslagte (of generasies) is waarin Israel en die kerk saam bestaan. Gedurende die eerste geslag na die koms van die Messias is die eerste vier feeste vervul (Paasfees, Ongesuurde Brood, Eerstelinge en Pinkster). As gevolg van Israel se verwerping van die Messiaanse vervulling van hierdie feeste, was die skrif aan die muur vir Israel om van God se heilsplan af uitgefaseer te word en ook uit hulle Godgegewe land verstrooi te word (Matt. 23:36-38). Terselfdertyd, nog voor die vernietiging van Jerusalem in 70 n.C., is die kerk van Christus in die nie-Joodse wêreld gevestig en dus geleidelik ingefaseer.
In die laaste geslag voor die koms van die Messias word Israel in hulle land herstel, en dit op sigself is ’n teken vir die kerk dat die bedeling van wêreldevangelisasie sy einde nader (Luk. 21:24). Terwyl Israel toenemend in hulle land herstel word, moet die ware kerk gereedmaak om van die planeet aarde af weggeneem te word wanneer die hemelse Bruidegom kom.
Die Messias is in Israel gebore om hulle Verlosser en Koning te wees (Jes. 9:5-6; Luk. 1:32). Teen die tyd toe Jesus aan die volk voorgestel is en Hy met sy openbare bediening begin het, het Israel se koninkryk vir omtrent ses eeue reeds nie meer bestaan nie – dit was die hele tydperk sedert hulle Babiloniese ballingskap. Hulle was eers die onderdane van die Babiloniese Ryk, gevolg deur die Medo-Persiese, Griekse en Romeinse Ryke. In die tyd van Christus was die troon van Dawid steeds vervalle, en in sy profetiese rede het Hy aangedui dat hierdie situasie onveranderd sou bly totdat die tye van die nasies vervul is.
Die Here Jesus het selfs ’n meer volledige onderwerping van Israel deur die nasies geprofeteer, waarin Hy gesê het dat hulle nie slegs sonder ’n koning sou wees nie, maar ook sonder ’n hoofstad en ’n land, terwyl baie van hulle hul lewens sou verloor: “En wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is. Dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug; en die wat in die stad is, moet uitgaan; en die wat in die buitewyke is, moet nie daar inkom nie. Want dit sal dae van wraak wees, sodat alles wat geskrywe is, vervul kan word. Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog in daardie dae; want daar sal ’n groot nood in die land wees en toorn oor hierdie volk. En hulle sal deur die skerpte van die swaard val en as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:20-24).
Hierdie profesie is in 70 n.C. vervul toe die Romeine Jerusalem ingeneem en vernietig het, en dit het na die dood van 1,1 miljoen Jode gelei. Die oorlewende 97 000 inwoners van die sterwende stad is as krygsgevangenes weggevoer en het na verskillende lande verstrooid geraak (Malan, 2012b). Dit word in die voorafgaande profesie duidelik gestel dat Jerusalem nie onbepaald vertrap sou word nie, maar slegs totdat die tye van die nasies vervul is. Hierdeur word bevestig dat daar ’n verlengde tyd sou wees waarin die nie-Joodse wêreld die geleentheid sou hê om deel van God se koninkryk te word. Paulus het ook na hierdie tyd verwys waarin ’n oes onder die heidense nasies ingesamel sou word, waarna die hele Israel gered sal word: “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het; en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend” (Rom. 11:25-26). Daar sal reiniging en vernuwing vir die hele oorblyfsel van die volk wees wanneer die Messias kom.
Israel sal in die eindtyd beslis fisies en geestelik herstel word: “Daarom, sê vir die huis van Israel: So spreek die Here Here: ... Ek sal julle uit die nasies gaan haal en julle uit al die lande bymekaar laat kom, en Ek sal julle in jul land bring. Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig. En Ek sal julle ’n nuwe hart gee en ’n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ’n hart van vlees gee” (Eseg. 36:22-26).
Die herstel van Israel as die volk van God wat Hom waarlik dien, sal plaasvind wanneer Jesus na die lang tydperk van wêreldevangelisasie terugkom. Hierdie keer sal Hy nie weer deur Israel verwerp word nie, maar ten volle aanvaar word: “Want Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23:39). Dit sal dan gepas wees vir die Messias om die troon van Dawid te herstel en sy wêreldwye koninkryk te vestig: “Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawid weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herstel, sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek, en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat al hierdie dinge doen” (Hand. 15:16-17).
So lank as wat Israel verstrooi is en Jerusalem vertrap word, sal God se koninkryk nie as ’n sigbare werklikheid op aarde gemanifesteer word nie. Net Christus kan self sy koninkryk openbaar en vestig, en dit kan slegs gebeur nadat Hy as Koning van die konings gekom het, sy vyande oorwin en geoordeel het en die oorblyfsel van Israel gered het.
Die Here Jesus het nooit aan sy dissipels opdrag gegee om by koninkrykstransformasies betrokke te raak en mag te demonstreer deur ekumeniese alliansies en massabyeenkomste nie. Hy het ook nie ’n mandaat aan hulle gegee om bose magte deur middel van strategiese geestelike oorlogvoering uit te dryf, of hulle uitgedaag om na hoë posisies te streef soos dié van konings, apostels of spesiale profete wat gesalf is om tekens en wonders deur middel van bonatuurlike magte te doen nie.
Inteendeel, ons is vreemdelinge en bywoners in ’n wêreld wat in die mag van die Bose lê (1 Pet. 2:11; 1 Joh. 5:19). Diegene wat gered word, is relatief min (Matt. 7:14; Luk. 13:23-24) en ons is gewaarsku dat ons geminag, gehaat en vervolg sal word deur ’n oorwegend bose en God-verwerpende wêreld (Joh. 15:18-20; 16:33).
In die gelykenis van die koring en die onkruid word dit duidelik gestel dat ons in noue assosiasie met bose mense sal moet leef en werk tot die einde van die kerkbedeling, wanneer die tyd vir die finale oes aanbreek: “Laat altwee saamgroei tot die oes toe, en in die oestyd sal ek vir die maaiers sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring bymekaar in my skuur” (Matt. 13:30).
Nou, gedurende die tyd baie naby aan die wederkoms van Christus, is dit opvallend dat die geestelike onkruid toenemend hulleself saamgroepeer in die vorm van kultusse, misleide kerke, die nie-Christelike godsdienste, intergeloofsbewegings en mistiese organisasies soos die New Age-beweging, transendentale meditasiegroepe, sekulêre humaniste, ensovoorts. Op ’n gegewe oomblik sal die basuin van God blaas en dan sal alle ware gelowiges in die hemel bymekaargebring word.
Die finale fase van die kerkbedeling sal nie deur ’n koninkryksituasie van vrede en geregtigheid gekenmerk word waarin die kerk ’n posisie van heerskappy oor bose wêreldse magte geniet nie, maar eerder in ’n ongekende konfrontasie tussen die magte van die lig en die duisternis. Voordat God tussenbeide tree om die beoefenaars van boosheid te oordeel, sal die wêreldwye oestyd begin wanneer die ware kerk na die hemel opgeroep word. Op die oomblik leef ons in ’n tyd van goddeloosheid waarin mense van die waarheid afvallig raak. Indien ons ernstig is om staande te bly teen die magte van geestelike misleiding, dan moet ons goed ingelig wees oor die groot impak van bose beïnvloeding op die mensdom.
Die werklikheid van ’n opponerende koninkryk van die duisternis moet altyd in gedagte gehou word. Satan is verantwoordelik vir die geestelike en morele val van die mensdom, en hy is van plan om in die eindtyd sy koninkryk op aarde te openbaar. Die valse messias en die valse profeet sal tydens die sewe jaar van verdrukking aan die hoof staan van hierdie bose koninkryk, en Satan sal aan hulle sy krag gee en sy troon en groot mag (Op. 13:1-2). Sy misleiding en aanvalle op gelowiges sal in intensiteit toeneem terwyl ons die einde nader.
Die duiwel het so ’n groot mate van sukses met sy pogings behaal dat alle vorige dispensasies in die geskiedenis van die mensdom in grootskaalse goddeloosheid geëindig het. Hierdie toestande van rebellie het na dramatiese ingrypings deur die Here gelei waartydens die volgelinge van Satan geoordeel is, gevolg deur ’n nuwe fase in die progressiewe ontplooiing van God se heilsplan met die mensdom. Volgens Bybelse profesieë sal die toekomstige dispensasies ook in goddeloosheid eindig onder die meerderheid van die mense op aarde.
Die sewe bedelings word hieronder genoem, en hulle bied ’n duidelike dispensasionele raamwerk vir die verstaan van God se handelinge met die mensdom, asook ’n verduideliking vir die tydperke van verskerpte optrede deur die duiwel. Uit hierdie kort oorsig sal dit duidelik wees dat nie net Israel in die vervulling van hulle geestelike roeping gefaal het nie, maar ook alle volke van alle tye in die menslike geskiedenis. In die lig van hierdie feite sal dit duidelik wees waarom die Fees van Basuine in die eindtyd deur “sewe verskriklike dae” van goddelike oordele gevolg sal word.
1. Die dispensasie van onskuld in die Tuin van Eden. God het aan Adam en Eva opdrag gegee om nie van die boom van die kennis van goed en kwaad te eet nie, en gewaarsku dat hulle sekerlik sou sterwe indien hulle dit doen (Gen. 2:17). Die duiwel het homself as ’n slang vermom en die saad van ongeloof in hulle harte gesaai, wat deur hulle aanvaar is. Adam en Eva het skielik van die verskil tussen goed en kwaad bewus geraak, self slagoffers van die bose misleiding geword, en hulle geloofsverhouding met God verbreek. Hulle het onmiddellik geestelik gesterf en ook fisiek sterflike wesens geword. In plaas van gehoorsaamheid aan God het hulle nou aan ’n vreemde god, die duiwel, gehoorsaam geraak. Op hierdie wyse het hulle ’n gevalle natuur verkry wat ook deur afstammelinge geërf is (Rom. 5:12). Die oorspronklike sonde van ons eerste ouers verklaar die feit waarom alle mense as sondaars gebore word. Indien hulle nie deur Christus wederbaar word nie bly hulle onder die beheer van die god van hierdie wêreld, en stuur as gevolg daarvan af op die ewige dood en veroordeling (Rom. 5:13-19). Adam en Eva is weens hulle ongeloof uit die Tuin van Eden verdryf, en die dispensasie van onskuld het in ’n groot tragedie vir die mensdom geëindig.
2. Die dispensasie van die gewete. God het gevalle mense gehelp om deur hulle gewete tussen goed en kwaad te kan onderskei. Hulle kon deur gebede en offers met God kommunikeer en sodoende ’n verhouding met Hom opbou. Hulle het die vermoë gehad om morele keuses tussen goed en kwaad te maak (Gen. 4:7). Die neiging tot sonde het egter die oorhand gekry. Alle mense, behalwe Noag en sy gesin, het in totale goddeloosheid verval en dit het aanleiding gegee tot die sondvloed waarin al die goddelose mense vernietig is (Gen. 6:5-7).
3. Die dispensasie van menslike regering na die vloed. Hierdie stadium van die menslike geskiedenis is gekenmerk deur die totstandkoming van volke met hulle eie regerings. Hulle het die keuse gehad of hulle God wou dien of nie. As gevolg van hulle eie keuses het hulle almal heidense volke geword wat afgode aanbid het, en sodoende bewys gelewer dat hulle almal deur Satan mislei is. Deur die bou van die toring van Babel het hulle probeer om ’n heidense wêreldregering tot stand te bring onder die leiding van ’n koning wat homself vergoddelik het. God het hulle poging deur die taalverwarring ongedaan gemaak, waarna die verskillende volke onafhanklik van mekaar met hulle afgodediens en ongeloof in die ware God voortgegaan het.
4. Die dispensasie van die wet. Die Here het ’n nuwe bedeling ingestel deur Israel eers te roep en hulle toe later uit Egipte te verlos sodat hulle Hom as ’n heilige en onafhanklike volk in die Beloofde Land kon dien. Hy het aan hulle sy wet gegee en hulle ook gelei, versterk en geseën deur middel van die priesterlike werk in die tabernakel. Hy het duidelike opdragte aan Israel gegee om nie met heidense volke te meng nie, omdat hulle hulself geestelik sou besoedel deur die afgodediens van hierdie volke. Die sewe feeste van die Here is ook aan hulle gegee om hulle verder oor sy groot verlossing te onderrig. Dit is tragies dat Israel se lang geskiedenis in die Ou Testament hoofsaaklik gekenmerk is deur goddeloosheid, ongehoorsaamheid aan die wet, ongeloof in die ware God, asook die aanbidding van afgode. Die uitverkore volk van God het veragter na ’n toestand van geestelike duisternis en ongeloof, en saam met al die bewoners van die aarde was hulle slagoffers van “die owerste van die mag van die lug” (Ef. 2:2).
5. Die dispensasie van die kerk. Met die geboorte van die Messias het ’n groot lig geskyn oor ’n volk wat in duisternis gewandel het. “Die waaragtige lig wat elke mens verlig, was aan kom in die wêreld. Hy was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en die wêreld het Hom nie geken nie. Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie” (Joh. 1:9-11). Die koms van Jesus Christus, sy soendood, opstanding en die uitstorting van die Heilige Gees het die grondslag van ’n nuwe testament gevorm waarin alle mense uit die duisternis tot sy wonderbare lig geroep word. Die eerste vier van die sewe feeste van Israel is in die jaar van Christus se kruisiging en opstanding vervul, en in die eeue daarna het baie mense (hoewel nooit ’n meerderheid in enige gemeenskap of volk nie) tot geloof in Christus gekom.
Die wêreldwye openbaring van God se genade in die Nuwe Testament het met toenemende kennis oor Satan en sy koninkryk saamgeval. Baie van die vroeë gelowiges het egter tot hulle eie skade nagelaat om misleiding te weerstaan soos hulle moes. Paulus sê vir die Korinthiërs: “Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. Want as iemand kom en ’n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ’n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ’n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval” (2 Kor. 11:3-4). Geestelike misleiding was kenmerkend van die ganse kerkbedeling, en slegs klein groepies mense het getrou gebly aan die evangelie van Jesus Christus. Op die oomblik is die wêreld geestelik in ’n baie donker tydperk. Dit sal lei na ’n dramatiese ingryping deur die Here om die ware gelowiges weg te neem en dan die misleide massas aan die diktatuur van die Antichris oor te lewer.
Misleide, nominale gelowiges sal slegs hulleself kan blameer vir hulle haglike toestand wanneer hulle tydens die wegraping agtergelaat word. Die Messias het gelowiges onder die nasies gewaarsku om nie Israel se voorbeeld te volg deur begerig te wees na slegte dinge, afgode te dien, aan seksuele immoraliteit oor te gee, teen God te murmureer, en Christus te versoek nie (1 Kor. 10:5-10). Leer ons uit Israel se foute? Paulus sê: “Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ’n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het. Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie” (1 Kor. 10:11-12). Moet nooit op Israel neersien as gevolg van hulle foute nie, maar wees vasberade om beter te doen en ook aan hulle ’n goeie voorbeeld te stel (Rom. 11:13-23).
6. Die dispensasie van die Antichris se regering. Die Antichris sal kort na die wegraping geopenbaar word, wanneer die bedeling van sy sewe jaar lange regering op aarde sal begin. Alhoewel die Here ook spesiale getuies sal opwek om die evangelie in hierdie tyd te verkondig, sal bekeerlinge as martelare weens vervolging deur die Antichris sterf. Hierdie dispensasie sal in wêreldwye goddeloosheid eindig, asook in ’n demonies geïnspireerde poging om die ware Christus tydens sy wederkoms dood te maak (Op. 19:19). Hierdie pogings sal na die berugte slag van Armagéddon lei waartydens al die bose magte en hulle leiers vernietig sal word.
7. Die dispensasie van die millennium. Christus sal persoonlik tydens hierdie bedeling regeer, en die geredde Israel sal sy spesiale getuies wees wat die wêreld sal evangeliseer (Jes. 27:6). Hulle sal hoog in aansien wees onder alle nasies (Sag. 8:23). Hoewel die eerste geslag mense ná Christus se wederkoms almal gered sal wees, sal hulle kinders steeds met ’n sondige natuur gebore word en dus geëvangeliseer moet word. So verbasend en onwaarskynlik as wat dit mag klink, sal daar in die loop van die millennium al hoe meer mense wees wat net ’n gedaante van godsaligheid het, en dit sal na wydverspreide ongeloof lei. Satan sal aan die einde van die 1 000 jaar uit die put vrygelaat word om weer eens die mensdom te verlei ten einde vas te stel wat die verborge bedoelings en begeertes van hulle harte is. Die meerderheid van hulle sal dadelik slagoffers van sy misleiding wees en as gevolg daarvan aangehits word om aan die laaste groot rebellie teen God en sy koninkryk deel te neem (Op. 20:7-10).
Dit is duidelik dat die groot afval van die huidige tyd na ’n uiters gepolariseerde situasie gaan lei: Die meerderheid van die mensdom sal deur die vloedgolf van misleiding en immoraliteit meegesleur word, en daardeur die weg berei vir die verskyning van die Antichris as die selfverklaarde God en mens van sonde. Aan die ander kant sal die groep ware gelowiges die misleiding weerstaan en as gevolg daarvan “waardig geag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36). Dit sal gebeur wanneer die basuin van die vyfde fees blaas.