Israel is duidelik onderrig dat die jaarlikse feeste op die spesifieke tye en wyse gevier moet word wat deur God bepaal is: “Dit is die feestye van die Here, die heilige vierdae wat julle moet uitroep op hulle bepaalde tyd. In die eerste maand, op die veertiende van die maand, teen die aand, is die Pasga van die Here” (Lev. 23:4-5).
|
|
Met die instelling van die Pasga is die eerste formele riglyne gelê waarvolgens God se verlossingsplan vir die mens 1500 jaar later sy finale vervulling sou verkry toe Christus vir die sondes van die wêreld gekruisig is. Moses het vir Israel gesê: “Julle moet ’n lam hê sonder gebrek, ’n jaaroud rammetjie. … En julle moet dit in bewaring hou tot die veertiende dag van hierdie maand; en die hele vergadering van die gemeente van Israel moet dit slag teen die aand. En hulle moet van die bloed neem en dit stryk aan die twee deurposte en aan die bo-drumpel, aan die huis waarin hulle dit eet. … Want Ek sal in hierdie nag deur Egipteland trek en al die eersgeborenes in Egipteland tref. … Maar die bloed sal vir julle ’n teken wees aan die huise waarin julle is: as Ek die bloed sien, sal Ek by julle verbygaan. En daar sal geen verderflike plaag onder julle wees wanneer Ek Egipteland tref nie” (Ex. 12:5-7, 12-13).
Paasfees vier die verlossing van Israel uit die Egiptiese onderdrukking waar hulle slawe van die Egiptenaars was. In ’n geestelike toepassing van hierdie gebeurtenis is dit duidelik dat Egipte ’n tipe is van die bose wêreld en sy stelsels terwyl Farao, sy hoof, ’n tipe is van Satan. Die kinders van Israel is uit hulle slawerny verlos deur die bloed van ’n lam aan die deurposte en bodrumpel van hulle huise te stryk, en dit was ’n tipe van die Messias se verlossing uit sonde en uit die mag van ’n bose oorheerser, Satan.
Die Paasfees is die eerste van die sewe groot feeste van Jahweh omdat die geslagte Lam die grondslag en beginpunt was van die verlossing van sy volk. Uit ’n godsdienstige oogpunt moes die maand waarin die Pasga gevier is, die begin van die maande wees (Ex. 12:2). Op die siviele kalender is Nisan die sewende maand. God het Homself op ’n nuwe manier geopenbaar. Tot in hierdie stadium het Hy Homself op verskeie maniere geopenbaar, maar nie as Verlosser nie. Israel het as onderworpe slawe in Egipte gewoon, met geen nasionale status of godsdienstige ambisie nie. Deur die krag van God is daar egter nou ’n nuwe begin in hulle geskiedenis as volk gemaak. Die verlede met sy onderdrukking en ellende is uitgewis. Hulle is verlos van slawerny en van die dood deur die teken van ’n lam se bloed waardeur God se krag in werking getree het. Dit was die begin van ’n nuwe jaar omdat dit die geboortedag van ’n volk was.
Die geboortedag van ’n gelowige is vir hom ook die begin van die maande en jare omdat die dag van die wedergeboorte in belangrikheid die dag van die natuurlike geboorte oorskadu. Die verlede is dan onder die bloed, vergewe en vergete deur God: “... die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword” (2 Kor. 5:17).
Geestelik gesproke, en ook wat Israel se fisiese woonplek betref, was die Pasga gedurende die lentemaand die begin van ’n nuwe lewe. In ’n Nuwe-Testamentiese verband is dit ook die begin van ’n nuwe lewe wanneer ons die Here Jesus as Verlosser ontvang. Die Paasfees is die eerste fees. Net so ook is bekering van ons sonde en geloof in die gestorte bloed van Jesus die eerste stap in ons wandel met God (Chumney, 1994:25).
Die betekenis van die Paasfees is voor die hand liggend en kan maklik verstaan word. Paulus sê: “... want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus” (1 Kor. 5:7), en daarmee verwys Hy na die kruis waaraan Jesus Christus as die ware Paaslam sou sterf. Hoewel die Paasfees vir ’n baie lang tyd onvervuld was, was God se reddingswerk die grondslag van sy verhouding met Israel. Toe Hy die wet aan hulle gegee het, het Hy gesê: “Ek is die Here jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het” (Ex. 20:2). Toe die Pasga gedurende die kruisiging van Jesus vervul is, het die kruis die finale grondslag vir die redding van sowel Jode as nie-Jode geword. Die kruis verteenwoordig die oorgang van die oue na die nuwe, en is die ware middelpunt van alles. Ou-Testamentiese gelowiges het uitgesien daarna, terwyl Nuwe-Testamentiese gelowiges daarna terugkyk.
Dit was waarlik ’n oomblik van bestiering toe God op ’n dramatiese en duidelike wyse tussenbeide getree het om sy volk uit Egipte te red. As gevolg hiervan moes die Paasfees gereeld gevier word ter herinnering aan die wonderlike gebeurtenis van Israel se uitredding uit Egipte. Ortodokse Jode vier vandag nog steeds hierdie fees op ’n baie toegewyde manier, maar sonder om enige erkenning te gee aan die vervulling daarvan deur die Messias. Hulle eet ongesuurde brood en onderhou al die rites wat op hulle gevangenis en verlossing uit Egipte betrekking het, maar die paaslam ontbreek. Hulle sit wel die gebraaide skenkelbeen van ’n lam op die tafel, maar nie die lam self nie. Die skenkelbeen getuig teen hulle, want omdat hulle Christus verwerp het, is daar nie ’n paaslam vir hulle nie. Bloed ontbreek ook in al hulle feeste en offers.
Waarom het God so ’n ongewone manier van verlossing gebruik toe sy volk in Egipte was? Waarom moes ’n lam geslag word, sy bloed op hulle deur gesprinkel word as beskerming teen ’n doodsengel wat op die punt was om deur die hele Egipte te trek om te oordeel? God kon tog sekerlik vir Israel verlos het deur sy groot krag te gebruik, en hulle sodoende die moeite gespaar het om ’n lam uit te soek, te slag en die bloed daarvan op hulle huise te sprinkel. God kon die Egiptiese magte verdelg het soos wat Hy aan die einde gedoen het, en Israel sodoende uit hulle mag verlos het. So ’n manier van verlossing sou wel doeltreffend gewees het, maar dit sou nie die probleem van die mens se sonde en die eis van God se geregtigheid aangespreek het nie. Die kinders van Israel was nie net slawe in Egipte nie, hulle was ook sondaars in Egipte (Downie, 1994:34).
Israel het gedurende die lang tyd van hulle verblyf in ’n vreemde land nie net by die Egiptiese kultuur aangepas nie, maar hulle het ook Egipte se afgode aanbid, soos gedemonstreer deur die aanbidding van ’n goue kalf by Sinai. Die les moes aan hulle geleer word dat hulle net geestelik verlos kon word deur middel van ’n offer en bloedvergieting. In die belang van sy regverdigheid en geregtigheid kon God nie vir Israel op enige ander manier uitred nie, “want die bloed bewerk versoening deur die siel” (Lev. 17:11). Dieselfde beginsel geld vir ons: “... sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie” (Heb. 9:22).
God se wet vereis die doodstraf vir sondaars (Gen. 2:17; Eseg. 18:4; Rom. 5:12), maar in sy grenslose liefde het Hy ’n plan beraam van ’n plaasvervangende dood waarin ’n onskuldige persoon in die plek van sondaars kon sterf om hulle straf te dra. Dit is waar die slag van die paaslam inkom: ’n vlekkelose en onskuldige lam moes geslag word en sy bloed, as ’n teken van sy lewe wat afgelê is, moes op die deurposte van sondaars se huise gesprinkel word. Die lam was egter net ’n dier en daarom slegs ’n tipe van die ware Lam van God wat eers baie later geoffer sou word:
“Want die bloed van stiere en bokke kan onmoontlik die sonde wegneem. Daarom sê Hy, as Hy in die wêreld inkom: Slagoffer en spysoffer wou U nie hê nie, maar U het vir My ’n liggaam berei. Brandoffers en sondoffers het U nie behaag nie. Toe het Ek gesê: Kyk, Ek kom – in die boekrol is dit van My geskrywe – om u wil te doen, o God. ... Deur hierdie wil is ons geheilig deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, net een maal” (Heb. 10:4-10).
Die paaslam in Egipte moes aan sekere duidelike vereistes voldoen omdat dit ’n ware tipe van Christus was, die Paaslam van God.
Die lam moes manlik wees (Ex. 12:5). Dit was deur een man se oortreding dat sonde in die wêreld ingekom het (Rom. 5:12). Omdat Adam, die eerste man, gesondig het, moes ’n sondelose man, Jesus, vir daardie sonde versoening doen: “Want as ten gevolge van die misdaad van die één die dood geheers het deur die één, veel meer sal hulle wat die oorvloed van die genade en van die gawe van die geregtigheid ontvang, in die lewe heers deur die Één, Jesus Christus. Daarom dan, net soos dit deur een misdaad vir alle mense tot veroordeling gekom het, so ook is dit deur een daad van geregtigheid vir alle mense tot regverdigmaking van die lewe. Want soos deur die ongehoorsaamheid van die een mens baie tot sondaars gestel is, so sal ook deur die gehoorsaamheid van die Één baie tot regverdiges gestel word” (Rom. 5:17-19). “Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word” (1 Kor. 15:22).
Die lam was van die eerste jaar (Ex. 12:5). Die eersgeborenes van beide mense en diere moes gereserveer en aan God gegee word (Ex. 13:2, 11-13). Chumney (1994:27-28) wys daarop dat die tema van eersgeborenes regdeur die Bybel aangetref word. Kain moes gegee word vir Abel, Ismael vir Isak en Esau vir Jakob. Geestelik gesproke het God hier voorbeelde gegee om ons te leer dat die eersgeborene na die vlees (dit wat natuurlik is) afgestaan moes word ter wille van die eersgeborene na die gees (dit wat geestelik is). In hierdie proses tref God onderskeid tussen die eerste of natuurlike geboorte en die tweede of geestelike geboorte. Die eerste geboorte verteenwoordig ons posisie as sondaars, terwyl die tweede geboorte van ons gelowiges en kinders van God maak (Joh. 1:12; 3:1-7; 1 Kor. 15:45-47). Jesus was die eersgeborene van Maria (natuurlik, maar sonder sonde) en die eersgeborene van God – geestelik (Matt. 1:21-25; Rom. 8:29; Kol. 1:15, 18; Op. 3:14).
Die lam moes in bewaring gehou word vir vier dae (Ex. 12:3, 6). Israel is beveel om op die 10de dag van Nisan ’n lam te neem en dit tot die 14de dag van Nisan in bewaring te hou. Jesus het gedurende die week voor die Paasfees hierdie vier dae vervul. Hy het na Jerusalem opgegaan, deel van die openbare lewe in die stad geword ter voorbereiding op die Pasga, en verskeie kere opgetree voordat Hy in hegtenis geneem, verhoor en gekruisig is. Daar is egter ook ’n ander interpretasie van die vier dae wat deur Chumney (1994:26) gegee word:
“Eskatologies is die vier dae waarin die lam eenkant gehou is, profeties van die verwagting dat die Messias sou kom, 4 000 jaar na die skepping van Adam, as deel van die 7 000 jaar plan van God om die mensdom en die aarde los te koop en alles te herstel soos wat dit in die Tuin van Eden was. Hierdie vier dae dui profeties op die tyd waarin die Messias vir vier dae, of 4 000 jaar sedert die skepping van Adam, weggesteek is van die wêreld af. ’n Dag dui profeties op ’n duisend jaar, in die lig van Psalm 90:4 en 2 Petrus 3:8. Indien hierdie tydskaal op die skeppingsweek toegepas word, sal die hele verlossing van die mens sedert die sondeval in die Tuin van Eden 7 000 jaar lank neem.”
Die lam moes vlekkeloos wees (Ex 12:5). Eeue later het die vlekkelose Lam van God in die behoefte van die mensdom voorsien. Johannes het vir Jesus gesien terwyl Hy na hom toe kom, en gesê: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Joh. 1:29). Van alle mense wat ooit op die aarde was, was net Hy sondeloos gewees. Hebreërs 4:15 sê Hy is “in alle opsigte versoek net soos ons, maar sonder sonde.”
Die lam moes geslag word (Ex. 12:6). ’n Lewende lam, al is hy ook hoe goed uitgesoek, kon die Israeliete nie red nie – hy moes doodgaan. Net so ook sou Christus se lewe van geregtigheid vir ons buiten die kruis niks beteken nie. Dit sou die probleem van sonde en ’n gebroke verhouding met God onbeantwoord laat. Wetlike geregtigheid eis die dood van die sondaar. Vir ’n mens se oortredings moet daar ’n mens sterf. Maar watter mens? Net ’n mens wat nie sy lewe verbeur het weens sy eie sonde nie. Om hierdie rede het die Here Jesus na vore gekom as die sondelose en vlekkelose Een, op wie die sonde en die dood geen aanspraak gehad het nie, en vrywillig sy lewe vir sondaars afgelê (Downie, 1994:37).
Die lam is teen die aand geslag (Ex. 12:6). Volgens Chumney (1994:29) is die tyd van 6 vm. tot 12-uur die middag die oggendgedeelte van die dag. Van 12-uur tot 6 nm. is die aandgedeelte van die dag. Die uitdrukking “between the evening” (die oorspronklike Engelse vertaling van Exodus 12:6) verwys na die middel van die tydperk tussen 12-uur en 6 nm., met ander woorde 3 nm. Dit is die 9de uur van die dag indien die ure van 6 vm. af getel word. Die slag van die paaslam in Egipte op die negende uur (3 nm. ons tyd) op die 14de dag van Nisan, het gebeur op presies dieselfde uur toe die Lam van God tydens die Paasfees aan die kruis gesterf het (Mark. 15:33-37).
Die bloed moes gesprinkel word (Ex. 12:22-25). Die hisop is in die skottel met die bloed gedoop en aan die deurposte van die huis gestryk. Dit was ’n teken dat daar ’n lewe vir daardie huis gegee is. Deur geloof moes die bloed aangewend word. Die lam kon uitgesoek en selfs geslag gewees het, maar indien die teken van ’n gehoorsame geloof ontbreek het (die aanstryk van die bloed) dan sou die dood gevolg het. Dit is nie genoeg vir ons dat die bloed van Jesus Christus vir die vergifnis van ons sonde gestort is nie. Ons moet deur ’n gehoorsame geloof die voordele en seën van Gólgota vir onsself toe-eien. Ons moet die hisop van ons geloof in die bloed steek en ons harte besprinkel. Die Here het gesê: “As Ek die bloed sien, sal Ek by julle verbygaan” (Ex. 12:13). Dit was die bloed alleen wat die grondslag van die Israeliete se verlossing was. Die bloed is ook die enigste grondslag vir ons aanvaarding deur God en verlossing uit die skuld en veroordeling weens sonde. Dit is waarom die bloed alleen die onderwerp van ’n nuwe lied sal wees wat die bevrydes in die hemel sal sing.
Die ouderlinge in die hemel sal ’n sterk bewussyn hê van die verlossingskrag van die Lam van God wat hulle met sy bloed vrygekoop het: “Toe sing hulle ’n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Op. 5:9-10).
Petrus beklemtoon ook die groot betekenis van die bloed van die Lam: “... omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ’n lam sonder gebrek en vlekkeloos” (1 Pet. 1:18-19). Paulus sê: “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade” (Ef. 1:7).
Die Here Jesus vergelyk sy begrafnis en opstanding uit die dood met die ondervinding van Jona: “Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees” (Matt. 12:40). In Jona 1:17 staan daar: “... en Jona was drie dae en drie nagte in die ingewande van die vis.” John Hannah (1985:1467) sê die volgende hieroor: “Die uitdrukking ‘drie dae en drie nagte’ dui nie noodwendig ’n periode van 72 uur aan nie, omdat dit een dag en gedeeltes van twee ander dae kan wees.” Vergelyk in hierdie verband ook Ester 4:16 en 5:1, waar Ester ’n vastyd van drie dae en drie nagte beveel het, maar op die derde dag, voordat die dag verby was, het sy reeds haar doel met die vas bereik.
Sommige mense het ’n probleem met die siening dat Jesus nie drie volle dae en nagte (met ander woorde 72 uur) in die graf was nie, en wend pogings aan om sy kruisiging van die Vrydag af na die Woensdag te vervroeg. Die feit is egter dat die Jode inklusiewe tydrekening beoefen waarin ’n gedeelte van ’n dag ook as ’n volle dag beskou word. Louis Barbieri (1983:47) sê die volgende oor Matthéüs 12:40: “Aangesien die Jode ’n deel van ’n dag as ’n vol dag beskou het, sou die ‘drie dae en drie nagte’ kon inhou dat die kruisiging Vrydag was.” In ’n addendum tot die Strong’s konkordansie, Harmony of the Gospels, word 41 gebeurtenisse wat plaasgevind het gedurende die week van Jesus se kruisiging, vanaf sy intog in Jerusalem op ’n Sondag tot en met sy kruisiging en begrafnis die volgende Vrydag, saam met Skrifverwysings gelys (Strong, 1990). Hierdie opeenvolging van gebeure bevestig bo alle twyfel dat Hy op ’n Vrydag gekruisig is.
Volgens die Bybel, asook ander ondersteunende bronne, is Jesus die Vrydagmiddag kort voor die aanbreek van die Sabbat begrawe, en het Hy vroeg op die eerste dag van die volgende week (Sondag) opgestaan. Die dag waarop Hy gekruisig is (Vrydag), was dus die eerste dag van die Paasgebeure, Saterdag (die Sabbat) was die tweede dag, en Sondag (sy opstandingsdag) die derde dag. In die Joodse chronologie word só ’n tydperk as “drie dae en drie nagte” beskryf, of bloot net as “drie dae”. Joodse dae strek vanaf sononder tot sononder. Die derde dag ná die kruisiging het dus die Saterdagaand teen sononder al begin.
Die Emmausgangers bevestig hierdie feite. Die dag toe Jesus opgestaan het (die Sondag), was hulle op pad na Emmaus (Luk. 24:13). Onbewus daarvan dat Jesus self by hulle aangesluit het, vertel hulle van die gebeure rondom sy kruisiging wat vroeg die Vrydagoggend begin het, en voeg by: “Ons het gehoop dat dit Hy was wat Israel sou verlos; maar nou is dit vandag, met dit alles, die derde dag vandat dit plaasgevind het. Maar sommige vroue uit ons het ons ook ontstel toe hulle vroeg by die graf was; en toe hulle sy liggaam nie kry nie, het hulle ook gekom en gesê dat hulle ’n gesig gesien het van engele wat sê dat Hy lewe” (Luk. 24:21-23). Sondag was dus die derde dag sedert die kruisiging van Jesus, wat die vorige Vrydag plaasgevind het.
Op hierdie Sondagmiddag, die derde dag, toe die Emmausgangers met Jesus gepraat het, het Hy etlike ure vroeër reeds uit die graf opgestaan: “En op die eerste dag van die week kom Maria Magdalena vroeg, terwyl dit nog donker was, by die graf en sien dat die steen van die graf weggeneem was” (Joh. 20:1). Nadat Jesus met die Emmausgangers in gesprek was het Hy, nog steeds op die dag van sy opstanding, ook aan sy dissipels verskyn (Joh. 20:19). Vir ’n volledige bespreking van die soendood van Jesus, sien Jesus Christus en ons lewe in Hom (Malan, 2012a).
Die vervulling van die Ou-Testamentiese Pasga was met die kruisiging van die vlekkelose Lam van God wat in die volheid van die tyd mens geword het om vir ons sy lewe af te lê. Weens die tipologiese aard van die Pasga as ’n heenwysing na die offer van die Lam van God, was dit duidelik dat hierdie fees tydens een van die toekomstige vierings daarvan vervul sou word. Die Here Jesus is inderdaad op die dag van die Pasgaviering gekruisig. Volgens Markus 14:1-2 wou die Jode só ’n situasie vermy: “En die Pasga … sou oor twee dae wees; en die owerpriesters en die skrifgeleerdes het gesoek hoe hulle Hom met lis gevange kon neem en doodmaak. Maar hulle het gesê: Nie op die fees nie, sodat daar nie miskien ’n oproer onder die volk kom nie.”
Die Jode kon egter nie daarin slaag om die stiptelike vervulling van hierdie fees te voorkom nie, en Jesus is op Vrydag die 14de dag van Nisan (11 April 32) gekruisig. Hy het op die negende uur (3 nm.) die asem uitgeblaas (Mark. 15:34-37), op presies dieselfde uur toe die lam tydens die eerste Pasga in Egipte geslag is. Pilatus was verwonderd dat Jesus so gou gesterf het, en het toestemming vir sy begrafnis verleen (Mark. 15:42-45). Dit is nog voor die Vrydagaand 6-uur afgehandel toe die Sabbat sou begin en niemand dan begrawe kon word nie (Luk. 23:52-54; Joh. 19:31).
Ons lees die volgende oor die kruisigingsdag in Markus: “En toe dit aand geword het, omdat dit die voorbereiding was, dit is die voorsabbat, kom daar ’n vername raadslid, Josef van Arimathéa … om na Pilatus in te gaan en die liggaam van Jesus te vra” (Mark. 15:42-43). John Grassmick (1983:191) sê die volgende oor dié teks: “Jesus se begrafnis het amptelik sy dood bevestig. Die uitdrukkings voorbereiding en voorsabbat is tegniese terme vir Vrydag wat op die dag voor die Sabbat dui, soos wat Markus aan sy nie-Joodse lesers verduidelik. Omdat daar geen werk op die Joodse Sabbat gedoen mag word nie, is al die voorbereidings daarvoor op Vrydae gedoen. Hierdie verwysing bevestig die feit dat Jesus op ’n Vrydag gekruisig is.”
Vrydag (die Voorsabbat, of Dag van Voorbereiding) en Saterdag (die Sabbat) is die enigste twee dae in die Joodse week wat spesifieke name het. Die ander dae word bloot genommer, byvoorbeeld die eerste dag van die week (Sondag), die tweede dag (Maandag), ensovoorts. Indien ’n godsdienstige fees soos die Pasga (14de dag van Nisan) op enige weeksdag gevier word, word hierdie dag wel soos ’n Sabbat gevier, maar nie self ’n Sabbat genoem nie; die Sabbat is die sewende dag van die week. Ons kan ook vandag godsdienstige feeste, en selfs Geloftedag, soos ’n Sondag vier – maar dit beteken nie dat die dag self ’n Sondag word nie.
Jesus se kruisiging op die Dag van Voorbereiding (Vrydag), blyk duidelik uit Johannes 19: “En dat die liggame nie op die sabbat aan die kruis sou bly nie, aangesien dit voorbereiding was – want die dag van daardie sabbat was groot – het die Jode Pilatus gevra dat hulle bene gebreek en hulle weggeneem moes word. ... Toe hulle by Jesus kom en sien dat Hy al dood was, het hulle sy bene nie gebreek nie. Maar een van die soldate het met ’n spies in sy sy gesteek, en dadelik het daar bloed en water uitgekom” (Joh. 19:31-34). Die Sabbat wat direk gevolg het op die Dag van Voorbereiding en Christus se kruisiging, word as ’n groot dag beskryf omdat dit tegelyk die weeklikse Sabbat en die belangrike eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brood was.
Lukas bevestig ook die feit van Jesus se begrafnis op die Dag van Voorbereiding: Jesus se liggaam “is in linne toegedraai en neergelê in ’n graf wat uit ’n rots gekap was, waar nog nooit iemand in gelê het nie. En dit was die dag van voorbereiding, en die sabbat wou aanbreek” (Luk. 23:53-54). Die Sabbat wat op die punt was om teen sononder daardie aand aan te breek, was sonder enige twyfel die weeklikse Sabbat. Indien dit die Pasga was wat sou aanbreek, dan beteken dit dat Hy ’n dag voor die Pasga-fees gekruisig is en dat die Pasga nie dag en datum vervul is nie. Hy is juis op die feesdag gekruisig, die dag toe die slag van die offerlam in Egipte die begin van Israel se uittog uit slawerny was.
Die kern van die Pasga was die offer van die lam – die besprinkeling van die bloed – en niks meer nie: “Dit is ’n paasoffer aan die Here” (Ex. 12:27). Die bloed moes aan die deur van die Israeliete se huise gesprinkel word, want God het gesê: “As Ek die bloed sien, sal Ek by julle verbygaan” (Ex. 12:13). In die Engelse teks kom die betekenis van Paasfees duideliker uit: “When I see the blood, I will pass over you” (beklemtoning bygevoeg). Diegene wat onder die bloed skuil, sal dus oorgeslaan of verbygegaan word, met ander woorde hulle sal verontskuldig en vrygespreek word.
Hierdie fees se naam is dus van die offer van die lam afgelei. Dit het op die 14de dag van Nisan gebeur, gedurende die laaste paar ure van die dag. Direk daarna is die lam in die huise van die Israeliete ingeneem, met vuur gebraai en saam met ongesuurde brood en bitter kruie geëet. Teen hierdie tyd het ’n nuwe dag reeds begin; dit was die 15de dag van Nisan en is die feesdag genoem, die fees van die Pasga. Die slag van die lam en die besprinkeling van die bloed was die begin van Israel se uittog en die grondslag van alles wat gevolg het (Downie, 1994:44).
Die betekenis van die Pasga is op drie vlakke geleë. Eerstens moes die bloed hulle beveilig. Hulle moes God se voorsiening vir redding aanvaar deur die lam te slag, sy bloed aan hulle huise te sprinkel en dan onder die bloed te skuil – dan alleen sou hulle veilig wees. Tweedens het hulle die woord van God gehad as ’n vaste belofte dat Hy hulle sou aanneem en beskerm indien hulle sy opdragte uitvoer. Derdens moes die lam ook geëet word om krag te kry vir die moeilike reis wat voorgelê het.
Op ’n soortgelyke wyse het die gelowige in Christus die bloed van die Lam vir redding, maar hy moet die soendood van Christus in die geloof vir homself aanneem deur ten nouste met sy dood te identifiseer en daaraan gelykvormig te word (Rom. 6:5; Gal. 2:20, 6:14; Fil. 3:10). Indien ons met die bloed gereinig is, sal God ons “oorslaan” en van sy oordele vryspreek. Verder is Christus vir ons die brood en water van die lewe (Joh. 6:33-35). Hy versterk ons daagliks om die goeie stryd van die geloof te kan stry en vordering op die pad van geloof te maak.
Dit is belangrik om daarop te let dat die Israeliete eers die bloed op plekke moes aanwend wat deur God bepaal is, en dan in hulle huise moes ingaan om deur die lam gevoed te word. Hulle kon die lam nie buitekant eet nie, omdat hulle eers onder die beskerming van die bloed moes wees – eers gered. Dit is op hierdie punt waar baie Christene van die Here se pad afwyk deur die orde te verander en sekere seëninge van Christus te probeer verkry sonder om eers seker te maak dat hulle deur sy bloed gereinig is. Hulle probeer sonder sukses om Christus lief te hê, te dien en te volg en wonder dan waarom hulle nie daarin kan slaag nie. Baie van hulle vertrou Christus vir genesing en ander seëninge, sonder om eers volgelinge van Hom te word (vgl. Luk. 17:11-19).
Toe God die Israeliete gered het, het Hy hulle nie net van die dood gered nie, maar aan hulle ’n nuwe lewe gegee asook die middele om daardie lewe te onderhou. Dit is presies wat redding is: daar is verlossing van die dood en die oordeel wat deur sonde veroorsaak is, maar ook die gawe van ’n nuwe lewe wat deur die Heilige Gees in ons bewerk word: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe” (Joh. 5:24). Na redding en weergeboorte is daar ’n nuwe lewe wat deur ’n versorgende God onderhou en versterk moet word.
In die noukeurige voorskrifte oor hoe die lam geëet moes word, is die Israeliete beveel dat dit oor die vuur gebraai moes word: “En hulle moet die vleis in dieselfde nag eet, oor die vuur gebraai; saam met ongesuurde brode moet hulle dit met bitter kruie eet. Julle moet daarvan nie eet as dit rou is en as dit in water gaar gekook is nie, maar oor die vuur gebraai” (Ex. 12:8-9). Die braai van die lam oor vuur is ’n tipe van die oordele van God. Hierdie idee kan nie paslik oorgedra word deur ’n rou of gekookte lam nie, daarom moes die lam deur die vuur gaan. Dit herinner ons aan die ware Lam van God wat deur die vuur van God se oordele oor die sonde gegaan het. Dit was die dood van die lam, en nie sy lewe nie, wat verlossing vir die Israeliete bewerk het, en net so ook is dit die dood van Christus waardeur ons vryspraak verkry.
Die Persoon van Christus moet nooit van sy dood losgemaak word nie. Paulus het gesê: “Want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde” (1 Kor. 2:2). Ons moet Hom altyd loof vir sy opofferende liefde. Dit is om hierdie rede dat die herinneringe aan Gólgota altyd vars sal bly, lank nadat ons aardse bestaan verby is (Op 5:9).
Die bitter kruie verwys na die lyding van die lam. Gemeenskap met Christus behels gemeenskap aan sy lyde (Fil. 3:10; 1 Pet. 4:13). Ons moet ’n kruis opneem as ons Hom wil volg (Luk. 9:23). Downie (1994:48) sê: “Hoe dikwels probeer ons om die bitter ondervindings van die lewe, die bitter kruie en die bitter waters, te ontvlug! En tog word die genade van die Christelike lewe in sulke ondervindings verkry. Ons word volwasse Christene deur lyding. Beproewings skep ’n behoefte aan geloof, lankmoedigheid, nederigheid en goedhartigheid. Deur vele verdrukkings sal die siel deur die poorte van die hemelse koninkryk gaan om die rykdom daarvan te beërf.”
Die lam moes haastig geëet word (Ex. 12:11), met die heupe omgord, skoene aan die voete en ’n staf in die hand. Daardeur het die Israeliete hulle gretigheid en gereedheid aangedui om Egipte te verlaat, wat ’n aanduiding van die ou lewe was. Geen tyd moes verspil word nie. Gelowiges moet haastig wees om Egipte (die sondige wêreld waarvan hulle deel was) te verlaat en te hardloop na die nuwe lewe wat daar in Christus is. Gretigheid en toewyding moet kenmerke wees van ons nuwe lewe en diens aan die Here: “Daarom, omgord die lendene van julle verstand, wees nugter en hoop volkome op die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus” (1 Pet. 1:13).
Ons moet skoene aan ons voete hê waardeur “bereidheid vir die evangelie van vrede” aangetoon word (Ef. 6:15). “Hoe lieflik is die voete van die wat die evangelie van vrede verkondig” (Rom. 10:15). Ons moenie traag wees in die uitvoering van goddelike geleenthede, voorregte en beloftes nie. Die staf in ons hand verwys na die gelowige se outoriteit in Christus. “Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie” (Gal. 5:1). Sonde moenie toegelaat word om weer oor ons te heers nie.
Die haas waarmee die Israeliete die paaslam geëet het, benadruk die feit dat ons as gelowiges in Christus net ’n kort lewe het om meer van die Here Jesus te leer en onsself bruikbaar te maak as voorwerpe van diens in die uitbreiding van sy koninkryk. Gebruik ons ons tyd tot die beste moontlike voordeel? Voed ons onsself uit die Woord wat vlees geword het, en leer ons elke dag meer van Hom?
Daar moet nie aan omdraai gedink word wanneer ons op die reis na die Beloofde Land is nie, al is die reis ook hoe moeilik. Moet nooit, soos die teruggevallenes, na die wêreld omdraai en hulp van goddelose mense soek om jou probleme op te los nie: “Wee hulle wat na Egipte aftrek om hulp ... maar hulle sien nie op die Heilige van Israel en hulle soek nie die Here nie” (Jes. 31:1). Christus is ons Herder wat ons op weë van geregtigheid lei.
Hoe vier die Jode vandag Paasfees? Intensiewe voorbereidings is nodig vir die Paasfeesmaal, soos beskryf deur Arnold Fruchtenbaum (1991) in sy boek: A Passover haggadah for Jewish believers.
Wanneer die tafel gedek word, word ’n ereplek vir Elia gereserveer. Daar word geglo dat hy die aankondiger van die koms van die Messias is, daarom word ’n plek vir hom oopgehou indien hy op hierdie plegtige aand sou kom om die blye tyding te bring dat die Messias uiteindelik gekom het. Victor Buksbazen (1954:8) sê: “Volgens die rabbi’s sal die Messias heel waarskynlik in die nag van Paasfees kom. Om hierdie rede word daar ’n plek aan die tafel vir Elia gedek, die tradisionele beker van Elia word gevul, en ’n leë stoel wag op die hemelse besoeker. Sal hy kom? Sal hy van die wyn drink? Hierdie is stille vrae in elke hart. ... Watter vurige hoop word nie deur die beker gesimboliseer nie, en hoe word drome nie vernietig by die aanskouing dat die beker onaangeraak gebly het nie!”
Chumney (1994:37-46) identifiseer die volgende vyftien stappe in die Paasfees Seder, soos wat dit vandag beoefen word:
1. Die beker van heiligmaking (kaddesh). Die eerste beker met ongegiste wyn word die beker van heiligmaking genoem. Voordat die wyn gedrink word, word ’n seën uitgespreek: Geseënd is U, Here onse God, Koning van die heelal, wat die vrug van die wynstok gemaak het.” Gedurende die Paasfees het Jesus gesê: “Ek is die ware wynstok” (Joh. 15:1).
2. Die was van hande (u-r’chatz). Geen seën word uitgespreek nie.
3. Die eet van groen kruie (karpas). Dit verwys na die gebruik in die Seder wanneer die aanwesiges groente in soutwater doop en dit eet.
4. Die breek van brood (yachatz). Gedurende die viering van Paasfees word drie koekies ongesuurde brood ( ekv. matzah mv. matzot) opmekaar gesit met servette tussen hulle. Die middelste koekie, bekend as afikomen (“dit wat daarna kom”) word in twee gebreek. Die een stuk word tussen die aanwesiges rondgestuur en hulle eet dit, maar die groter gedeelte word in ’n servet toegedraai om later geëet te word. Die Messiaanse vertolking van die drie stukke matzot is dat hulle God die Vader, Jeshua die Messias, en die Heilige Gees voorstel. Die middelste stuk, die afikomen, word gebreek, ’n gedeelte word geëet en die res weggesteek om dan later gevind te word. Dit getuig van die dood, begrafnis en opstanding van Jeshua. Jesus Christus is die ongesuurde brood wat vir ons gebreek is (vgl. Luk. 22:19).
5. Die vertel van die verhaal van die uittog (maggid). Die maggid sluit af met die tweede beker wyn, wat as die beker van toorn bekendstaan. Daar word nie uit hierdie beker gedrink nie, maar die inhoud daarvan word op die tafel uitgegooi terwyl die plae van Egipte geresiteer word. Wanneer die storie van die uittog vertel word, moet elke persoon dit ervaar asof God hom persoonlik uitgered het: “En jy moet jou seun op dié dag vertel en sê: Dit geskied ter wille van wat die Here aan my gedoen het toe ek uit Egipte uitgetrek het” (Ex. 13:8). Jesus het die beker van God se toorn gedrink toe Hy in Getsémané was, kort voordat Hy aan die kruis gesterf het (Luk. 22:42-44).
6. Die was van die hande met ’n seën (rachtzah).
7. Die seën van die brood (motzi). Hierdie seën word soos volg uitgespreek: “Geseënd is U, Here God, Koning van die heelal, wat brood uit die aarde laat voortkom.” Hierdie seën is ’n profesie oor die opstanding van die Messias uit die aarde, omdat Hy die gelowige se brood is (Joh. 6:47-51).
8. Die eet van die brood (matzah). Die Paasfees word die tyd van ons vryheid genoem. Op hierdie dag word jy uit die slawerny van Egipte verlos, wat geassosieer word met slawerny aan die sonde. Noudat jy vry is, word jy as ’n koning gesien. Konings leun tradisioneel agteroor tydens hulle etes, daarom leuen aanwesiges ook agteroor tydens gedeeltes van die Paasfees Seder. Gelowiges in Jesus is priesters en konings voor God (1 Pet. 2:9; Op. 1:6; 5:10).
9. Die bitter kruie (maror) word geseën en geëet. Hierdie bitter kruie verwys simbolies na die lyding van die Messias.
10. Die brood en bitter kruie word saam geëet (korech).
11. Die ete word genuttig (shulchan orech).
12. Die matzot wat weggesteek is (afikomen) word gevind, oopgemaak en dan geëet (tzafun).
13. Die uitspreek van die seën na die ete (barech). Na die barech word seën vir die wyn oor die derde beker uitgespreek, waarna die wyn gedrink word. Dit is die beker van verlossing: “Net so neem Hy [die Messias] ook die beker ná die maaltyd en sê: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed wat vir julle uitgestort word” (Luk. 22:20). Paulus sê: “Die beker van danksegging wat ons met danksegging seën, is dit nie die gemeenskap met die bloed van Christus nie? Die brood wat ons breek, is dit nie die gemeenskap met die liggaam van Christus nie?” (1 Kor. 10:16).
14. Prysliedere (hallel). Psalms 115 tot 118 word gesing as lofprysing teenoor God. Die vierde beker word nou gevul en die deur word oopgemaak vir Elia om in te kom en die koms van die Messias aan te kondig.
15. Alles is afgehandel (nirtzah). ’n Laaste lied word gesing, wat eindig met die frase: “Volgende jaar in Jerusalem!” (vgl. Matt. 26:30).
Uit gebruike soos die voorbereidings vir die moontlike verskyning van Elia, is dit duidelik dat ortodokse Jode nie vir Jesus as Messias erken nie, en steeds vir ’n ander Messias wag om te kom. Die vervulling van al die simboliese handelinge in die Seder maaltyd ontwyk hulle nog steeds, en dit sal aanhou om te gebeur totdat hulle oë oopgaan vir die wonderlike vervulling van Paasfees rituele in die offer van die vlekkelose Lam van God. Diegene wat in Jesus glo, weet dat die vierde beker ná die wederkoms van die Messias nuut in sy koninkryk gedrink sal word (Matt. 26:29).
In die lig van die Ou-Testamentiese Paasfees is dit nog wonderliker om te let op hoe die Here Jesus die Nagmaal ingestel het, en daardeur al die verhewe beginsels en profetiese verwagtings van die Paasfees vervul het. Paulus sê:
“Want ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het, dat die Here Jesus in die nag waarin Hy verraai is, brood geneem het; en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis. Net so ook die beker ná die ete, met die woorde: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis. Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom” (1 Kor. 11:23-26).
Hierdie Christelike seremonie van herinnering en toewyding verleen aan ons ’n wye perspektief op die nuwe lewe waarin ons terugkyk na die Verlosser se kruisiging, en ook uitsien na sy wederkoms wanneer sy koninkryk in heerlikheid geopenbaar sal word. In hierdie perspektief op ons lewens word daar geen voorsiening gemaak vir die tyd voor Christus toe ons nog slawe van sonde was nie. Om hierdie rede het almal van ons ook ’n “godsdienstige kalender” waarin ons dié dinge vergeet wat agter ons lê (Egipte en die woestynlewe van ongeloof) terwyl ons uitsien na die koms van die Koning wanneer ons saam met Hom sal regeer. In hierdie sin kan ons ook sê: “Volgende jaar in Jerusalem!” omdat ons glo dat Jesus Christus spoedig sal terugkeer om die troon van Dawid in Jerusalem te herstel en die wêreld daarvandaan te regeer (Luk. 1:32).
Tot dan moet ons die wedloop voor ons met volharding loop (Heb. 12:1-2). Christus moedig ons aan om die goeie stryd van die geloof tot aan die einde te stry: “En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee” (Op. 2:26). Die geheim van ’n lewe van oorwinning oor die vlees en die magte van die duisternis is die Lam wat sy lewe vir ons afgelê het. Om hierdie rede moet die viering van Paasfees (Nagmaal) tot aan die einde van die kerkdispensasie volgehou word: “Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom” (1 Kor. 11:26).
’n Verlengde fees van sewe dae is ingestel vir die week wat direk op Paasfees gevolg het, en was daarop gerig om ’n geestelike en morele transformasie teweeg te bring onder Israeliete wat die verlossing aanvaar het wat God deur die offer van die paaslam aan hulle gebied het: “…en op die vyftiende dag van hierdie maand is die fees van die ongesuurde brode van die Here; sewe dae lank moet julle ongesuurde brode eet. Op die eerste dag moet daar vir julle ’n heilige vierdag wees; géén beroepswerk mag julle doen nie” (Lev. 23:6-7).
|
|
’n Gepaste reaksie op Paasfees moes gedemonstreer word deur diegene wat deur God vrygespreek is. Dit is waarom hierdie fees eintlik net ’n verlenging van die Paasfees is: “En die Fees van Ongesuurde Brode, wat Pasga genoem word, was naby” (Luk. 22:1).
Terwyl die Pasga ’n tipe is van Christus se soendood waarin Hy aan al die eise van God se regverdige straf oor sonde voldoen het, dui die Fees van Ongesuurde Brood op gelowiges se verpligting om hulle gedrag so te verander dat hulle volgens sy standaard van heiligheid sal leef en dus vir Hom aanvaarbaar sal wees. Verskeie voorskrifte is gegee, insluitend simboliese handelinge, om ’n verhouding met God te bou deur die Israeliete wat uit hulle sondige verlede in Egipte gered is.
Vir die ortodokse Jode is die betekenis van hierdie fees in selfondersoek en verootmoediging geleë. Suurdeeg is ’n beeld van sonde, daarom simboliseer die eet van ongesuurde brood die nastreef van ’n heilige lewe. Tydens die volle duur van die fees moet suurdeeg, wat hoofsaaklik uit krummels en brokstukke van gesuurde brood bestaan het, uit hulle huise verwyder en verbrand word: “Sewe dae lank moet julle ongesuurde brode eet; alreeds op die eerste dag moet julle die suurdeeg uit julle huise verwyder. Want elkeen wat gesuurde brood eet, van die eerste dag af tot die sewende toe, dié siel moet uit Israel uitgeroei word” (Ex. 12:15).
Hierdie fees is vervul toe Christus gesterf het. Hy was die koringkorrel wat in die grond geval en gesterf het sodat dit kan groei en veel vrug dra (Joh. 12:24). As die volmaakte en sondelose Seun van God was Hy die ongesuurde brood van die lewe deur wie ons tot geestelike lewe kon kom. Dit is waarom Jesus gesê het: “Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid. En die brood wat Ek sal gee, is my vlees wat Ek vir die lewe van die wêreld sal gee” (Joh. 6:51).
Paulus sê dat hierdie fees inderdaad ’n Christusgesentreerde ervaring is waarin almal van ons moet deel: “Julle roem is nie mooi nie. Weet julle nie dat ’n bietjie suurdeeg die hele deeg suur maak nie? Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle ’n nuwe deeg kan wees – soos julle inderdaad ongesuurd is – want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus. Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van ondeug en boosheid nie, maar met die ongesuurde brode van reinheid en waarheid” (1 Kor. 5:6-8).
In die Ou Testament is ’n seremonie gevolg waarin suurdeeg in die huise van Israeliete gesoek en verwyder is. Dit is voor die Fees van Ongesuurde Brood gedoen en was ter voorbereiding op die fees. Die vrou moes eers die huis deeglik skoonmaak deur alle suurdeeg daaruit te verwyder – gewoonlik was dit krummels van brood wat met suurdeeg gebak is. In die Bybel is suurdeeg ’n simbool van sonde. Chumney (1994:59) verduidelik hierdie gebruik soos volg:
“Terwyl sy die huis skoongemaak het, moes die huisvrou doelbewus tien klein stukkies gesuurde brood in die huis los. Die pa en die kinders het dan ’n kers (of olielampie), ’n houtlepel, ’n veer en ’n stukkie materiaal geneem en deur die huis begin soek na die tien stukkies suurdeeg. Die aand laat voor die Paasfees (Pesach) is ’n laaste intensiewe soektog onderneem. Teen hierdie tyd was die huis heeltemal donker, behalwe vir die kerse. Wanneer die pa die gesuurde brood gekry het, het hy die kers langs dit neergesit, asook die houtlepel. Hy het die veer gebruik om die suurdeeg op die lepel te vee. Sonder om aan die suurdeeg te raak, het hy die veer, die lepel en die suurdeeg geneem, in die doekie toegedraai en by die deur uitgegooi. Die volgende oggend (die 14de dag van Nisan), het hy na die sinagoge gegaan en die doekie met die inhoud daarvan in ’n vuur gegooi om te verbrand.
Die Nuwe-Testamentiese weergawe van hierdie gebruik word so deur Chumney (1994:59-60) verduidelik: “Geestelik moet ons lewens van die suurdeeg van sonde gereinig word deur die Heilige Gees toe te laat om deur middel van die kennis van Jeshua en die Skrifte die sonde in ons lewe te openbaar. Dit is slegs deur God se Woord dat ons in staat is om sonde in ons lewe te kan identifiseer. In Psalm 119:105 staan daar: ‘U Woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad’. Die geestelike betekenis van die kers is dat dit die Woord van God voorstel. Die veer beeld die Heilige Gees uit. Selfs al het ons die Woord van God, het ons die Heilige Gees nodig om die hele Bybel vir ons te verlig. ... Die lepel stel die kruis voor waaraan Jeshua gesterf het (Deut. 21:22-23). Die suurdeeg (sonde) is op die lepel (die houtkruis) gevee as deel van die seremonie. Net so ook is ons sonde op Jeshua gewerp (2 Kor. 5:21) toe Hy aan die kruis gesterf het.”
Die Heilige Gees wat ons wederbaar, het ook gekom om ons te heilig deur ons in staat te stel om in ’n nuwe lewe te wandel: “As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel. Laat ons nie word soekers van ydele eer wat mekaar uittart en mekaar beny nie” (Gal. 5:25-27). Ons lewens moet van alle suurdeeg van sonde en vleeslikheid gereinig word.
Die Fees van Ongesuurde Brood is sewe dae lank gehou. In die Bybel is sewe die getal van volmaaktheid en volheid. Die gelowige wat hierdie fees hou, moet dit ten volle vir die Here hou en homself reinig. Hierdie fees vereis volkome afsondering van alles wat sondig is, terwyl ons daarop ingestel moet wees om onsself net te voed met Jesus wat die ongesuurde brood van die lewe is.
Ons word herhaaldelik gewaarsku teen die vernietigende gevolge daarvan om die suurdeeg van sonde in ons lewens toe laat. Die volgende is verskillende tipes suurdeeg waarteen die Bybel ons waarsku:
Die ou suurdeeg (1 Kor. 5:7-8). Dit verwys na ou gewoontes en sondes waarby mense voor hulle bekering betrokke was. Hierdie sondes het deur die mag van die gewoonte gevestigde gebruike geword, en kan maklik weer hulleself hervestig tydens oomblikke van swakheid of ’n gebrek aan waaksaamheid. Die Here het vir Israel gesê: “Volgens die werke van die land van Egipte waar julle in gewoon het, mag julle nie doen nie; en volgens die werke van die land Kanaän waarheen Ek julle bring, mag julle nie doen nie, en julle mag in hulle insettinge nie wandel nie” (Lev. 18:3). Die sondige gedrag van die heidenwêreld waaruit ons kom, sowel as die bose gewoontes van die ongeredde mense wat ons in die loop van ons nuwe lewe ontmoet, moet nie deur ’n Christen nagevolg word nie. Geen kompromie van enige aard mag gemaak word nie, want ’n bietjie suurdeeg maak die hele deeg suur (1 Kor. 5:6). Indien die dinge wat deur die wêreld as reg en aanvaarbaar beskou word, nie aan Bybelse standaarde voldoen nie, moet geen plek daaraan gegee word in ’n Christen se lewe nie.
Die suurdeeg van ondeug en boosheid (1 Kor. 5:8). Dit is verbasend om te sien hoe dikwels hierdie twee woorde wat ’n hoogs vervalle lewenstyl beskryf, in die Nuwe Testament vir Christene gebruik word. Paulus sê aan die Efésiërs: “Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word, saam met alle boosheid” (Ef. 4:31). Petrus waarsku Messiaanse gelowiges in Israel teen dieselfde neiging tot boosheid: “Lê dan af alle boosheid en alle bedrog en geveinsdheid en afguns en alle kwaadpratery” (1 Pet. 2:1). Dit is ongelooflik hoe losbandig Christene soms kan raak. Mense wat in sonde volhard, is geestelik besig om na Egipte terug te keer, en loop gevaar om hulle geloof te verloor as hulle hulleself nie bekeer nie. Paulus het die teruggevalle Hebreeuse Christene sterk vermaan en hulle tot bekering en volharding opgeroep:
“Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ’n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie. Maar vermaan mekaar elke dag so lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie. Want ons het deelgenote van Christus geword, as ons net die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou” (Heb. 3:12-14).
Die suurdeeg van sonde het hulle geloof in die Messias ondermyn, en hulle het nie langer aktief hulle siele met die ongesuurde brood van die lewe gevoed nie. Indien hulle aangehou het om te sondig, sou hulle met bose en ongelowige harte eindig en daardeur van die lewende God afvallig raak.
Die suurdeeg van die Fariseërs en Sadduseërs (Matt. 16:6). Hulle misleidende leerstellings was soos suurdeeg wat tot die hele volk deurgedring en hulle besoedel het. Die Fariseërs het hulle wêreldgesindheid en hebsug agter ’n kleed van godsdienstigheid verberg en hulle posisie as ’n masker gebruik om hulle ware karakter te verbloem. Hulle was uiterlik die mees godsdienstige mense van hulle tyd, maar innerlik was hulle vol bedrog. Hulle het nie vir Jesus as die beloofde Messias erken nie, en sy aanspraak dat Hy die Seun van God is, totaal verwerp. Die Sadduseërs was geesgenote van hulle, maar anders as die Fariseërs het hulle nie aan engele, die hiernamaalse lewe en die opstanding uit die dood geglo nie. Hierdie leiers was sekulêr in hulle uitkyk op die lewe en het politiek belangriker as godsdiens geag. Die gewone mense is herhaaldelik teen die dubbele standaarde en valse leerstellings van die Fariseërs en Sadduseërs gewaarsku.
Ons leef in soortgelyke tye vandag: die Godheid van die Here Jesus, sowel as sy opstanding uit die dood, word deur baie van die moderne skrifgeleerdes verwerp. Die eindtydse skynheiliges is ook baie hebsugtig en magshonger. Hulle spreek kwaad van evangeliese gelowiges wat hulle teëstaan en weier om hulle verdorwe leerstellings te aanvaar. Evangeliegesinde mense het egter geen keuse as om die suurdeeg van die Fariseërs en Sadduseërs te verwerp nie.
Die suurdeeg van Herodes (Mark. 8:15). Hierdie man was ’n godsdienstige opportunis. Hy het baie van die Joodse godsdiens geweet en was ook goed ingelig oor die bediening van Jesus van Nasaret. Hy wou in werklikheid baie graag vir Jesus sien en was baie bly toe dit gebeur het (Luk. 23:6-8). Herodes was egter nie van plan om tot bekering te kom en ’n dissipel van Jesus te word nie – hy wou slegs van die wonderwerke sien wat Hy gedoen het. Hierdie soort godsdienstige opportunisme is in ons tyd aan die orde van die dag. Baie mense stroom na byeenkomste waar daar genesings plaasvind en opspraakwekkende tekens en wonders gedoen word, maar hulle het geen begeerte om hulleself te verneder en dissipels van die Lam van God te word nie. Hulle is geïnteresseerd in goddelike seëninge en ’n skouspel van bonatuurlike krag, maar sien nie kans om aan die eise van die evangelie te voldoen nie.
Die suurdeeg van valse leerstellings (Gal 5:9). Paulus spreek ’n ernstige probleem aan in verband met die valse evangelie van wettisisme wat in die gemeente van die Galasiërs verkondig is, en vergelyk dit met die deurdringende werking van suurdeeg. Die valse profete het verkondig dat geloof in die Messias nie genoeg was vir redding nie, en dat lede van die kerk ook die Tora moes onderhou en besny word. Paulus het in geen onduidelike terme nie gewaarsku teen ’n valse evangelie waarin die wet en genade vermeng word:
“Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie. Kyk, ek, Paulus, sê vir julle dat as julle jul laat besny, Christus vir julle tot geen nut sal wees nie. En ek betuig dit weer aan elke mens wat hom laat besny, dat hy onder verpligting is om die hele wet te onderhou. Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval” (Gal. 5:1-4).
Paulus was baie ontsteld oor die manier waarop die Galásiërs hulleself vir die suurdeeg van misleiding oopgestel het. Hulle het probeer om die eise van die wet toe te voeg tot die verlossing wat aan hulle gebied is deur die Lam van God: “O, Onverstandige Galásiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie, julle voor wie se oë Jesus Christus afgeskilder is as onder julle gekruisig? Dit alleen wil ek van julle weet: het julle die Gees ontvang uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof? Is julle so onverstandig? Nadat julle met die Gees begin het, eindig julle nou met die vlees?” (Gal. 3:1-3). Paulus het die gekruisigde Christus duidelik en gevoelvol aan hulle verkondig, maar hulle oë is afgewend van die kruis af na die wet toe. Dit was onverskoonbaar.
’n Ander evangelie (vgl. 2 Kor. 11:4) wat gebaseer is op ’n samevloeiing van die wet en genade, is in ons tyd vinnig besig om in gewildheid toe te neem. Dit begin gewoonlik met die onderhou van seremoniële wette oor heilige dae (Sabbatte), maar sommige mense gaan verder en bevestig ook die ou verbond deur middel van die besnydenis. In verband met die heilige dae van die ou verbond sê Paulus: “Maar noudat julle God ken, of liewer deur God geken is, hoe keer julle weer terug tot die swakke en armoedige eerste beginsels wat julle weer van voor af aan wil dien? Julle neem dae en maande en tye en jare waar” (Gal. 4:9-10). In sy kommentaar oor hierdie verse sê Campbell (1983:602) die volgende:
“Onder die invloed van Judaïseerders het die Galásiërs weer die Mosaïese kalender begin volg. Hulle het spesiale dae waargeneem (die weeklikse sabbat), en maande (nuwe mane), en seisoene (seisoenale feeste soos Paasfees, die Pinksterfees en die Loofhuttefees), en ook jare (sabbatsjare en jubeljare) – vergelyk Kolossense 2:16. Hulle het gemeen dat deur hierdie spesiale tye te onderhou, hulle ekstra guns in die oë van die Here sou vind. Paulus het dit egter duidelik gemaak dat hulle deur die werke van die wet niks tot hulle geloof as die grondslag vir hulle regverdigmaking of heiligmaking kon toevoeg nie.”
In die plek van die suurdeeg van misleiding moet ons die ware boodskap van God se plan met die mensdom verkondig. Die basiese en baie kosbare les wat ons van die sewe feeste leer is dat hulle God se plan vir die verlossing van Israel en die nasies openbaar. In die Messiaanse era word die feeste op so ’n manier gevier dat die Messias geëer en verhoog word, en dit moet op ’n baie meer gereelde basis gedoen word as wat deur die program van Ou-Testamentiese feeste vereis word. Dit is die rede waarom Paasfees onder die nuwe verbond vervang is deur die Nagmaal, wat gevier kan word so dikwels as wat ons wil.
Die kruisiging van Christus is die kern van die evangelieboodskap en moet altyd verkondig word. Dit sou verkeerd wees vir Christene om die Ou-Testamentiese Pasga te vier waarin die simbole (die wyn en ongesuurde brood) nie regstreeks met Jesus as die Lam van God in verband gebring word nie, en waarin die deur vir Elia oopgemaak word om die koms van die Messias aan te kondig asof Hy nog nie gekom het nie. Dit kom neer op die verloëning van die Messiasskap van Jesus, daarom kan Christene geen deel hê in die ontkenning van die Messiaanse vervulling van Paasfeessimbole nie.
Net so ook is die Fees van Ongesuurde Brood in Jesus vervul, en ons het die verpligting om heiligmaking so dikwels en duidelik as moontlik aan Christene te leer. Die Fees van Eerstelinge is in die opstanding van Christus vervul, en ons het die voorreg om elke dag van die week daaraan te dink, maar veral op Sondae. Die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag is die oorsaak van ’n Nuwe-Testamentiese viering van Pinkster wat drasties van die Ou-Testamentiese roem in die Tora verskil.
Wat die boodskap van die laaste drie feeste betref, verbly ons onsself in die profetiese perspektief wat ons deur ’n studie van die feeste verkry. Ons gee uitdrukking aan hierdie verwagting deur oor die wederkoms van Christus te preek en te skryf, en ook deur onbekeerlike sondaars teen die komende Antichris se misleiding en sy daaropvolgende skrikbewind te waarsku. Ons het ’n groot aantal Nuwe-Testamentiese profesieë om by dié van die Ou Testament te voeg, daarom kan ons met groot gesag oor die eindtyd praat sonder om datums vir Christus se wederkoms te probeer bepaal.
Israeliete moes alle suurdeeg uit hulle huise verwyder (Ex. 12:15). Die hoof van die huis is nie alleen verbied om gedurende die fees suurdeeg te eet nie, maar hy moes ook seker maak dat daar nie suurdeeg in sy huis was nie. Hugh Downie (1994:60-61) sê dat beide persoonlike en kollektiewe heiligheid noodsaaklik is vir ons. Ons persoonlike lewens moet skoon wees en ons verhoudings suiwer. Dit laat ’n belangrike vraag ontstaan oor wat toelaatbaar is, nie alleen in ons eie lewe nie maar ook in die kringe waarin ons beweeg. As individue is ons verantwoordelik om suurdeeg uit ons eie lewens te hou, en as ouers moet ons toesien dat daar nie suurdeeg in ons huise en gesinne is nie. Baie mense wat streng daarby hou om suurdeeg uit hulle kerke te hou, is nie so streng in hulle eie huise nie, ten spyte daarvan dat die gesinslewe net so belangrik as die kerklike lewe is.
Alle ouers wat nougeset is en ’n goeie onderskeidingsvermoë het, besef hoe moeilik dit is om groeiende kinders binne redelike perke te hou. In die tyd waarin ons leef is dit moeilik en gevaarlik vir jongmense, en ons het meegevoel met hulle in hulle probleme en stryd. Nogtans is dit die ouers, en nie die kinders nie, wat die huis moet regeer. Die pa en ma moet die finale sê hê oor wat in die huis toegelaat word, en die ouer wat nie sy godgegewe gesag beoefen nie, stuur af op ’n ramp in sy gesin.
Daar het ’n groot straf gerus op die ontdekking van suurdeeg in die huis. “Want elkeen wat gesuurde brood eet, van die eerste dag af tot die sewende toe, dié siel moet uit Israel uitgeroei word” (Ex. 12:15). Die term “uitroei” kan een van twee dinge beteken – die doodstraf soos in die geval van sabbatskenders (Núm. 15:36), of uitsluiting van die voorregte wat die volk van God geniet het, soos in die geval van Asárja (2 Kon. 15:5). Downie (1994:61-62) sê:
In die Nuwe Testament beteken uitroei (Engels cutting off) een van twee dinge, en soms albei – die verlies aan gemeenskap met God, of met die gelowiges. Ons kan nie in die duisternis wandel en gemeenskap hê met Hom wat die lig is, in wie daar geen duisternis is nie. Daar moet geen wolke van sonde tussen ’n gelowige en die Here wees indien ons werklik sy teenwoordigheid wil ervaar nie. In ekstreme gevalle, soos dié in Korinthe, word die oortreder uit die plaaslike gemeente geskors. Selfs in sulke gevalle moet dit egter in gedagte gehou word dat die einddoel met dissipline, altyd herstel is. Die Korinthiërs het die fout gemaak om aan te neem dat indien die oortreder van die gemeente afgesny is, die saak daarmee afgehandel was. Hulle moes daaraan herinner word dat dit hulle plig was om die persoon weer te probeer terugbring. Té dikwels word daar geen pogings aangewend om sulke persone terug te wen nie ... Gevalle van herstel is inderdaad baie seldsaam, en dit laat ons noodwendig tot die gevolgtrekking kom dat daar te min mense is wat aan die standaard van Galásiërs 6:1 voldoen.
Ons verhouding met die Here Jesus is ’n saak van uiterste belang, en almal van ons moet onsself ten volle oorgee om heilige lewens te lei en in Christus te bly. Hy vergewe menigvuldiglik en dit is slegs in uiterste gevalle dat die afsny of uitwerp van ’n teruggevalle gelowige sal plaasvind. Die Here Jesus sê: “Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie. Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie. As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand” (Joh. 15:4-6).
Wat van teruggevalle kerke? Kan hulle ook van gemeenskap met God afgesny word? Downie (1994:63) sê dat slegs God ’n gemeente kan afsny of, soos dit in Openbaring 2:4-5 gestel is, hulle kandelaar verwyder omdat hulle hul eerste liefde verlaat het. Dit is sy prerogatief en Hy laat dit nie aan kerke of ampsdraers oor om hierdie funksie te vervul nie. ’n Gemeente word afgesny wanneer dit ophou om te bestaan, en ongelukkig is dit glad nie ’n seldsame verskynsel nie. Die beëindiging van ’n gemeente beteken dat die Here hulle kandelaar van sy plek verwyder het, soos wat Hy met Éfese gedoen het. Wat ’n ernstige gedagte!
Die Here is nie tevrede met die suurdeeg van sonde in ons lewe nie, daarom maak Hy dit vir ons moontlik om sonder die oorheersing van sonde te lewe. Selfs al sondig ons ook – en dit is altyd ’n moontlikheid – dan moet ons vertroebelde verhouding met die Here onmiddellik deur middel van belydenis en bekering reggestel word. Johannes sê: “My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ’n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige. En Hy is ’n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld” (1 Joh. 2:1-2).
Hou aan om enige sondes te bely waarvan die Heilige Gees jou oortuig, en verbind jouself heelhartig daaraan om in die lig te wandel: “As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie. Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde” (1 Joh. 1:6-7).
Die werkwoord waardeur die Here reiniging aan ons beloof, is geskryf in die onvoltooide tydvorm wat beteken dat as ons in Hom bly en kontak met Hom behou, Hy ons voortdurend van alle sonde sal reinig. Op hierdie manier kan ons ons morele en geestelike rekord met die Here skoon hou en ’n lewe lei wat vry is van die besoedeling en oorheersing deur die suurdeeg van sonde.
Hierdie fees is ook ten nouste aan die jaarlikse landbouaktiwiteite in Israel gekoppel. Die handeling van die insameling van die oes word metafories gebruik om die insameling van ’n geestelike oes vir die koninkryk van die hemel in Israel te beskryf, maar in ’n Nuwe-Testamentiese verband ook onder alle volke:
“Spreek met die kinders van Israel en sê aan hulle: As julle in die land kom wat Ek julle gee en sy opbrings oes, moet julle die eerstelingsgerf van julle oes na die priester bring. En hy moet die gerf voor die aangesig van die Here beweeg, sodat julle welgevallig kan wees; die dag ná die sabbat moet die priester dit beweeg” (Lev. 23:10-11).
|
|
Israel is ’n winterreënvalgebied en gedurende die lente word die eerstelingsgerf van die gars as ’n beweegoffer voor die Here gebring. Dit moes uitdruklik op ’n Sondag geskied (die dag ná die Sabbat), en was geestelik ’n baie belangrike gebeurtenis omdat die viering daarvan bedoel was om die volk Israel vir God welgevallig te maak.
Edward Chumney (1994:69-70) sê dat Israel baie vertroud was met die begrippe “eerste vrugte” en “eerstelinge”. Die eerste vrugte was altyd die keurigste, die belangrikste, die eerste, die beste, die voortreflikste van alles wat gevolg het. Dit was heilig vir die Here. Die begrippe van eerste vrugte of eerstelinge is ’n belangrike tema in die Bybel en kan in die volgende Skrifgedeeltes gesien word: Exodus 23:16, 19; 34:26; Levítikus 2:12, 14; 23:20; Númeri 18:12-15, 26; Deuteronómium 18:1-5; 26:2-4, 10; 2 Kronieke 31:5; Nehemía 10:35-39; Spreuke 3:9; Jeremia 2:3; Eségiël 44:30; 48:14; Hebreërs 6:20.
Die eerstelinge van beide mense en diere is geheilig en aan die Here gewy (Ex. 13:2; 22:9). Die eerste vrugte van die hele aarde is in lof en danksegging voor die Here se altaar aan Hom gewy (Deut. 26:1-11).
Die Fees van die Eerstelinge is baie naby aan die tyd van die Pasga gevier. Tydens die uittog uit Egipte was die gars, wat effens vroeër as die koring ryp word, reeds in die aar (Ex. 9:31). Dit gee verdere betekenis aan die lentemaand van Nisan as die begin van ’n nuwe lewe. Nie alleen het Jesus in hierdie maand uit die graf opgestaan nie, maar die Jode is ook in Nisan uit Egipte gelei. In die jaar 32 n.C. is hierdie seremonie op Sondagmôre die 16de dag van Nisan uitgevoer – die dag waarop Jesus uit die graf opgestaan het. Dit was die dag na die Sabbat: “En nadat Hy opgestaan het, vroeg op die eerste dag van die week, het Hy eers verskyn aan Maria Magdalena” (Mark. 16:9).
Die koringkorrel wat in die grond geval en gesterf het (die dood en begrafnis van Jesus), het op hierdie Sondagmôre toe Jesus uit die graf opgestaan het, sy eerste vrug opgelewer. Dit het ook die begin van die oes van mense aangedui, omdat die hele oes wat daarna ingesamel sou word, vir God aanneemlik sou wees deur die dood en opstanding van Jesus. Verder dui dit ook die oorgang van die ou na die nuwe verbond aan. Dit is waarom dit op ’n Sondag gebeur het, die eerste dag van die week en simbolies ook die begin van ’n nuwe dispensasie. Die dag van ons rus in die Here is verander van die sewende dag in die voorafgaande week na die eerste dag van ’n nuwe week in die dispensasie van genade. Weens die volbragte werk van Christus kan ons elke Sondag opstandingsdag vier. Deur Hom het ons ’n nuwe verbond met God gesluit, en is dus aktiewe deelnemers aan die opstandingslewe van Jesus Christus ons Here. “... en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes” (1 Kor. 15:17).
Die Here Jesus word op verskillende maniere as die Eersteling uitgebeeld, die Een wat die hele oes van mense heilig wat in sy Naam gered sou word onder die nuwe verbond. Gesamentlik verteenwoordig hulle die oes van gelowiges wat in die hemelse skuur versamel sal word. Die volgende stellings oor Christus as die Eersteling is vir hierdie bespreking ter sake:
Hy is die eersgeborene van Maria. “Kyk, die maagd sal swanger word en ’n seun baar, en hulle sal Hom Emmánuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons. En toe Josef uit die slaap wakker word, het hy gedoen soos die engel van die Here hom beveel het en sy vrou by hom geneem; en hy het haar nie beken totdat sy haar eersgebore Seun gebaar het nie; en hy het Hom Jesus genoem” (Matt. 1:23-25).
Hy is die eniggebore [of eersgeborene] van die Vader: “En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon – en ons het sy heerlikheid aanskou, ’n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom – vol van genade en waarheid” (Joh. 1:14).
Hy is die eersgeborene van die hele skepping: “Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping” (Kol. 1:15).
Hy is die begin van die skepping van God (Op. 3:14).
Hy is die eersgeborene uit die dode: “Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom ... en van Jesus Christus, die getroue getuie, die eersgeborene uit die dode en die Owerste oor die konings van die aarde! Aan Hom wat ons liefgehad het en ons van ons sondes gewas het in sy bloed” (Op. 1:4-5).
Hy is die eersgeborene onder baie broeders (Rom. 8:29).
Hy is die eersteling van die wat ontslaap het: “Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het. Want aangesien die dood deur ’n mens is, is die opstanding van die dode ook deur ’n mens. Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms” (1 Kor. 15:20-23).
Hy is in alles eerste: “Hy is die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente; Hy wat die begin is, die Eersgeborene uit die dode, sodat Hy in alles die eerste kan wees” (Kol. 1:18).
Jesus Christus is die Heilige Een van God en is deur die Vader geheilig. As die Eersgeborene van die Vader is Hy die eerste in die hele skepping, en deur Hom word die hele oes van gelowiges geheilig en vir die Vader aanneemlik gemaak.
Dit is duidelik dat ’n ritueel wat deel van ’n nuwe oesseisoen is, geensins tot Israel se regverdiging voor die Here kon bydra nie. Hierdie fees was ’n duidelike heenwysing na die nuwe lewe wat net deur die Messias aan hulle gegee kon word, asook na die feit dat sy opstanding die begin van die insameling van ’n groot oes vir die Here op aarde sou wees.
Christus is “opgewek ter wille van ons regverdigmaking” (Rom. 4:25), en ’n opgestane en opgevare Christus is die grondslag van ons aanvaarding deur God. Sonder die opstanding sou die dood van Christus vir mense gelyk het soos die dood van ’n edele martelaar. Geloof sou sy vaste anker verloor het sonder ’n lewende Christus wat die dood oorwin het. Hierdeur het Hy ook ’n groot oorwinning oor die duiwel behaal, “sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het – dit is die duiwel” (Heb. 2:14).
In 1 Korinthiërs 15 verduidelik Paulus hoe absoluut noodsaaklik die opstanding van Christus is. Hy redeneer heeltemal tereg dat indien Christus nie opgestaan het nie, daar niks is wat die moeite werd is om voor te lewe nie; maar as Hy opgestaan het, dan het ons alles wat ons nodig het vir tyd en ewigheid. Die opstanding is die groot teken dat God tevrede is met die losprys wat Christus namens alle sondaars aan die kruis betaal het. Verder is geloof in die opstanding noodsaaklik vir redding omdat dit geloof in die Godheid van Christus veronderstel. Slegs die vlekkelose Lam van God kon Homself as ’n aanvaarbare plaasvervanger vir sondaars aanbied om hulle sonde te dra en ook die dood en hel namens hulle te oorwin. Sy opstanding is die bewys van ’n wonderlike verlossing.
Daar is ’n noue verband tussen die dood en opstanding van Jesus Christus, omdat die een ’n voorwaarde vir die ander was. Die weg na oorwinning en heerlikheid was deur die dood en opstanding: “Jesus antwoord hulle en sê: Die uur het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen; maar as dit sterf, dra dit veel vrug” (Joh. 12:23-24).
Die koringkorrel moes eers in die grond gesaai word, anders sou daar nie ’n eerstelingsgerf wees nie en ook nie ’n oes daarna nie. Christus moes dus sterf en opstaan voordat daar ’n oes van verloste siele vir God ingesamel sou kon word. Downie (1994:68) sê:
“Soos die koringkorrel, was Christus absoluut alleen. Hy was die eniggebore Seun van die Vader, die enigste voorwerp van sy ewige liefde. Indien Hy nie gesterf het nie, sou Hy altyd alleen gewees het in sy ontoeganklike heerlikheid. As die koringkorrel het Hy alleen gesterf. Niemand kon deel in sy lyding vir sonde nie; niemand kon saam met Hom aan die skandelike kruis op Gólgota hang nie. Maar omdat Hy alleen gesterf en uit die dood opgestaan het, is Hy nie meer alleen nie. Hy is “die Eersgeborene uit die dode” (Kol. 1:18), “die eersgeborene ... onder baie broeders” (Rom. 8:29).
Ons moet ten nouste identifiseer met die dood en opstanding van Christus deur vir die ou lewe van sonde te sterf. Hy vergewe ons sondes en skenk aan ons deur die wedergeboorte ’n nuwe lewe wat aan sy opstandingslewe gelykvormig is:
“Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ’n nuwe lewe kan wandel. Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding; aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie. Want hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde. As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe” (Rom. 6:4-8).
Uit hierdie gedeelte is dit duidelik dat om in die dood van Christus gedoop te word, ’n geestelike ondervinding is waardeur ons met Hom in die gelykvormigheid van sy dood verenig word. Slegs dan, en dan alleen, sal ons volle deelname aan sy opstandingslewe kan hê. Ons moet ’n volle oorgawe aan Christus maak waarin ons onsself verloën en kruisig (die aflê van ons ou natuur) voordat dit vir ons moontlik sal wees om ten volle met Christus beklee te word deur die vervulling met die Heilige Gees, en daardeur in staat gestel word om in ’n nuwe lewe te wandel.
Christene wat nalaat om hierdie oorgawe te maak, word geestelik deur hulle ongekruisigde vlees afgetrek: “Want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie” (Gal 5:17; vgl. 1 Kor. 3:1-3). Die gees van God geniet nie volle beheer oor jou lewe solank as wat jou vlees nog nie aan die kruis van Christus oorgelewer is nie. Vir sulke mense is dit onmoontlik om uitvoering aan die volgende opdrag te gee: “Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie” (Gal. 5:16). Die geestelik onvolwasse Efésiërs is daaraan herinner dat hulle die ou lewe moes aflê voordat hulle in staat sou wees om met die opstandingslewe van Christus beklee te kan word: “... dat julle, wat die vorige lewenswandel betref die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan, en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid” (Ef. 4:22-24).
In sy persoonlike lewe het Paulus ervaar dat die voortgesette vereenselwiging met die dood van Christus die sleutel is tot die ervaring van die krag van sy opstanding. Hy het dit as ’n persoonlike doelwit in sy lewe gestel: “sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word, of ek miskien die opstanding uit die dode kan bereik” (Fil. 3:10-11).
Paulus het besef dat om ’n lewe te lei in die krag van Christus se opstanding, sal verseker dat ’n gelowige deel sal hê aan die opstanding van die regverdiges aan die einde van die kerkbedeling. Dit is ’n seën wat net aan gelowiges belowe word.
Daar is verskillende maniere en stadiums waarin die belofte van die opstanding in gelowiges se lewens vervul word. Eerstens word ons by wedergeboorte geestelik lewend gemaak en ontvang dan die opstandingslewe van Jesus Christus: “Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dode, en Christus sal oor jou skyn” (Ef. 5:14). Ons staan op uit ’n geestelike dood, alhoewel ons fisiek nog steeds in sterflike liggame leef. Nietemin het ons reeds die versekering van die ewige lewe (Joh. 5:24).
As mense wat geestelik lewend is en, deur die inwoning van die Heilige Gees, wandel in die opstandingslewe van Christus, is ons vreemdelinge en bywoners in ’n bose wêreld. Ons sien uit na die wederkoms van Christus, wanneer ons ook ’n liggaamlike opstanding in ’n onsterflike liggaam sal verkry, en dan verheerlikte liggame sal hê soos die een waarin Christus uit die dood opgestaan het: “Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus, wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam” (Fil. 3:20-21).
Die Here Jesus het ook die opstanding van die gelowiges só verduidelik: “Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie” (Joh. 11:25-26).
Dit is ’n verwysing na die feit dat sommige van die geestelik weergebore mense wat steeds sal lewe wanneer Jesus kom, nooit sal doodgaan nie – hulle sal in ’n oogwink van sterflikheid tot onsterflik verander word (1 Kor. 15:51-54). Die ander wat al gesterf het, sal in verheerlikte liggame opgewek word en vir altyd leef.
Die Bybel onderskei duidelik tussen twee liggaamlike opstandings – een vir gelowiges en een vir ongelowiges. Die een word die opstanding tot die lewe genoem, die eerste opstanding of die opstanding van die regverdiges (Luk. 14:14; Joh. 5:29; Hand. 24:15). Die ander een word die opstanding van die veroordeling genoem (Joh. 5:29). Daar is tenminste ’n duisend jaar tussen hierdie twee opstandings, en hulle verskil ook wat hulle aard en gevolge betref (Op. 20:4-6).
Paulus verwys na die belangrike feit dat die eerste opstanding in verskillende fases plaasvind: “Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms. Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het” (1 Kor. 15:22-24).
Jesus Christus het self die eerste opstanding ingelui en dit daardeur vir almal wat in Hom glo, moontlik gemaak om in die wonderlike seën van die eerste opstanding te deel. Wanneer Christus aan die einde van die kerkdispensasie terugkom, sal die hoofoes van gelowiges in die hemel ingesamel word (1 Thess. 4:16-17). Daarna sal die gelowiges uit die verdrukking ook opgewek word (Op 20:4). Al hierdie gelowiges vorm deel van die eerste opstanding in Christus.
Wat ’n wonderlike toekoms het ons nie om na uit te sien nie! Jesus Christus, die vlekkelose Lam van God, het ons met sy kosbare bloed vrygekoop, Hy het die vyand van ons siele oorwin, Hy het uit die dood opgestaan en ook sy opstandingslewe aan ons geskenk. Ons kan nou uitsien na die dag wanneer ons nuwe, verheerlikte liggame tydens die opstanding van die regverdiges sal kry, en ook na die ewige lewe in sy heilige teenwoordigheid.
Hierdie fees staan ook as die Fees van Weke bekend, as gevolg van die sewe weke wat daar tussen die feeste van Eerstelinge en Pinkster moet verloop: “Dan moet julle tel van die dag ná die sabbat, van die dag af as julle die beweegoffergerf bring – sewe volle weke moet dit wees; tot die dag ná die sewende sabbat moet julle vyftig dae tel; dan moet julle ’n nuwe spysoffer aan die Here bring. Julle moet uit jul woonplekke twee beweegbrode bring; dit moet van twee tiendes van ’n efa fynmeel wees; gesuurd moet dit gebak word as eerstelinge aan die Here” (Lev. 23:15-17).
|
|
Op die vyftigste dag, ’n Sondag, moes twee gesuurde brode as ’n beweegoffer voor die Here se aangesig gebring word. Onthou dat suurdeeg ’n simbool van sonde is, daarom verwys hierdie twee brode nie na die Messias nie. Hulle is profetiese simbole van twee groepe gelowiges – dié uit Israel en dié uit die nie-Joodse wêreld. Gelowiges uit Israel en die nasies is ten spyte van hulle verlossing nie sondeloos volmaak nie, daarom hierdie spesiale wydingsplegtigheid aan die Here. Dit is die betekenis van hierdie seremonie. Paasfees en die Fees van Ongesuurde Brood verwys na Jesus wat sonder sonde is, maar die Pinksterfees verwys na die heiliging van Israel en die kerk, waarin daar steeds sonde is.
Jode vier die begin van die dispensasie van die wet tydens Pinkster (afgelei van die Griekse woord pentecostos wat vyftigste beteken). Hulle glo dat die Israeliete op die 50ste dag nadat hulle Egipte verlaat het, reeds by Sinai was. God het die wet hier aan Moses gegee (Ex 19:1-3). Dit was vir die viering van hierdie fees dat Jode uit verskillende lande in Jerusalem byeengekom het op die dag toe die Heilige Gees uitgestort is (Hand. 2). Hulle het nie besef dat die Paasfees, die Fees van Ongesuurde Brood en die Fees van Eerstelinge reeds vervul is deur die versoeningswerk en opstanding van Jesus nie. Hulle was gevolglik ook onbewus van die feit dat die bedeling van die wet tot ’n einde gekom het.
|
|
Die nuwe dispensasie van genade wat deur die Heilige Gees bedien word, het die dispensasie van die wet vervang, “want die letter maak dood, maar die Gees maak lewend” (2 Kor. 3:6; vgl. Heb. 8:7-13 en Jer. 31:31). By Sinai het 3 000 mense gesterf omdat hulle onder die wet gestraf is weens afgodediens (Ex. 32:28). Op Pinksterdag, soos in die Nuwe Testament beskryf, is 3 000 mense gered toe die nuwe bedeling deur die uitstorting van die Heilige Gees (Hand. 2:41) ingelui is.
Die begin van die kerkbedeling op Pinksterdag dui aan dat die voorafgaande bedeling van die wet vervang is. Dit was nog ’n voorbeeld van God se volmaakte tydsberekening, omdat 40 dae verloop het tussen die opstanding en hemelvaart van Jesus, en ’n verdere tien dae terwyl die dissipels gebid en op die belofte van die Heilige Gees gewag het. Dit is ’n totaal van 50 dae, presies dieselfde tyd as wat daar verloop het tussen die twee beweegoffers van Eerstelinge en Pinkster. Christene erken steeds hierdie chronologie, omdat ons Jesus se opstandingsdag op die Sondag na Goeie Vrydag vier, sy hemelvaart 40 dae later op ’n Donderdag, en Pinkster tien dae later, weer op ’n Sondag.
Dit is ook interessant dat Pinkster nie in isolasie gevier word nie. Die aftelling van 50 dae dien as ’n verbindingslyn tussen Pinkster en die eerste drie feeste. Dit vorm dus deel van die siklus van lentefeeste, en is ten nouste verbonde aan die Fees van Eerstelinge wat 50 dae vroeër gevier word. Om hierdie rede moet die uitstorting van die Heilige Gees altyd in sy noue verband gesien word met die hele reeks gebeure wat gelei het na die dood, opstanding en hemelvaart van die Here Jesus Christus.
By Sinai het God Homself op ’n nuwe en groter manier as in die verlede aan Israel geopenbaar. Uitgebreide nuwe wette en riglyne is gegee oor hoe om Hom te eer en te aanbid, en ook hoe om goddelike beginsels in menseverhoudings te handhaaf. Die feit dat hierdie wettiese riglyne bokant die vermoë van gevalle mense was om na te kom, het sterk klem gelê op die behoefte aan die koms van die Messias, asook die uitstorting van die Heilige Gees as die Een wat gelowiges in die hele waarheid kan lei.
Die opstanding van die Here Jesus op ’n Sondag (die dag na die Sabbat), asook die uitstorting van die Heilige Gees op Pinkster, weer op ’n Sondag, is die vroegste profetiese aanduidings in die Ou Testament van ’n toekomstige dispensasie in God se verlossingsplan waarin nuwe beginsels neergelê sou word oor hoe om Hom deur sy Seun te aanbid onder die leiding van die Heilige Gees. ’n Verhouding moet met sy Seun gehandhaaf word, en nie met die wet nie. Die hoofdoel van die gelowiges sou wees om die Messias te volg en aan sy beeld van geregtigheid gelykvormig te word, eerder as om die bepalings van skaduagtige rituele en wette uit te voer.
In die nuwe bedeling sou die Sabbat, die sewende dag wat deur die wet ingestel is, vervang word met die aanbidding van die Messias wat op die eerste dag van die week uit die graf opgestaan het. Hy het die wet vervul wat geen ander mens kon doen nie, die swakheid en onvermoë daarvan geopenbaar om Israel met God te versoen, bokant die eise daarvan uitgestyg en ’n nuwe standaard vir ware geestelikheid gestel, en ’n nuwe lewe van geloof in Hom deur die Heilige Gees bekendgestel. Sy dissipels is met sy Goddelike natuur toegerus, asook die motivering en krag om dienooreenkomstig te kan lewe.
Op Pinksterdag is die Heilige Gees uitgestort om gelowiges oral in staat te stel om met die Gees vervul te kan word. Die doel met hierdie ervaring is nie net om aan die eis van persoonlike heiligheid te voldoen nie, maar ook om die vrymoedigheid te hê om by die uitvoering van die Groot Opdrag van wêreldevangelisasie in te skakel. Ons is almal geroep om in die oeslande van die wêreld te arbei en ’n geestelike oes vir die koninkryk van die Messias in te samel.
Die gee van die Tora aan Israel op die 50ste dag na hulle uittog uit Egipte was ’n belangrike nuwe fase in die ontplooiing van God se roeping aan hulle om sy spesiale volk te wees. Die eerste uitstaande punt in die formalisering van hierdie verhouding was die teken van die besnydenis wat ingestel is as deel van die verbond tussen God, Abraham en sy nageslag deur Isak (Gen. 17:7-11). By Sinai is geestelike beginsels neergelê en eise gestel om te verseker dat Israel net die ware God, Jahweh, sou dien. Hy het gesê: “Ek is die Here jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het. Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie” (Ex. 20:2-3).
Abraham was die eerste Hebreeuse gelowige wat deur God geroep is om oor te kom uit die heidenwêreld en Hom in ’n nuwe land te dien wat God aan hom en sy nageslag sou gee (die woord Hebreër is afgelei van die werkwoord wat beteken “om oor te kom” of “om ’n oorgang te maak”). In die tipologie van Abraham se gesin is Abraham ’n tipe van God. Paulus beskryf hom as “die vader van ons almal” (Rom. 4:16) terwyl Jakobus na hom verwys as “’n vriend van God” (Jak. 2:23). Sy onvrugbare vrou, Sara, stel Israel voor in hulle oorwegend onvrugbare verhouding met God gedurende Ou-Testamentiese tye. Sy het haar rol as moeder eers op ’n hoë ouderdom vervul, baie op dieselfde manier as wat Israel eers geestelik sal ontwaak in ’n gevorderde stadium van hulle geskiedenis as God se uitverkore volk.
Sara het geboorte gegee aan Isak, die seun van die belofte. Abraham het sy seun baie liefgehad, daarom moes dit ’n baie traumatiese ervaring gewees het toe hy die volgende opdrag van die Here af ontvang het: “Neem jou seun, jou enigste, wat jy liefhet, Isak, en gaan na die land Moría en offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat Ek jou sal aanwys” (Gen. 22:2). Abraham was gehoorsaam en gewillig om sy seun oor te gee om te sterf. Net so ook was Jesus die eniggebore en geliefde Seun van die hemelse Vader, wat gewillig was om Hom oor te gee om te sterf sodat Hy ’n losprys vir ons sonde kon word.
Isak en Jesus was albei bereid om te doen wat die Here gesê het. Isak het selfs die hout op sy skouers gedra en die berg uitgeklim waarop hy as ’n brandoffer sou sterf. Baie jare later is die tempel van die Here op daardie selfde berg gebou. Duisende diere is daar geoffer en was almal tipes van die uiteindelike offer van die Lam van God wat net buitekant die poorte van Jerusalem vir die sonde van die hele mensdom geoffer is. Soos Isak, was Jesus ook bereid om sy lewe af te lê, en Hy het die houtkruis op sy skouers gedra onderweg na die plek waar Hy geoffer sou word.
Isak is van die altaar af opgerig en aan sy vader teruggegee: “Deur die geloof het Abraham, toe hy op die proef gestel is, Isak geoffer; ja, hy wat die beloftes ontvang het, het sy eniggeborene geoffer, aan wie gesê is: In Isak sal jou nageslag genoem word – want hy het gereken dat God mag het om selfs uit die dode op te wek; daaruit het hy hom ook, om so te spreek, terug ontvang” (Heb. 11:17-19). Baie eeue later het die Messias sy lewe gegee sodat ander gered kon word, maar Hy het uit die dood opgestaan en na sy Vader in die hemel teruggekeer. Hy het oorwinning oor die dood behaal.
Eliëser, die dienskneg van Abraham, was ’n tipe van die Heilige Gees en is deur Abraham gestuur om ’n vrou vir sy seun te vind (Gen. 15:2; 24:2-4). Na ’n lang reis het hy na Abraham teruggekeer met Rebekka, wat met Isak getroud is. Op soortgelyke wyse is die Heilige Gees deur die Vader uitgestuur om in ’n oorwegend heidenwêreld ’n bruid vir sy Seun te versamel. Aan die einde van die kerkbedeling, wanneer die bruidsgemeente van Christus gereed en voltallig is, sal sy na Jesus in die hemel weggeneem word waar die huwelik bevestig sal word. Johannes sê: “Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak. En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges” (Op. 19:7-8; vir ’n bespreking van die bruid van die Seun, sien Malan, 2009).
In die kern van Abraham se gesin was daar vyf lede wat tipes was van die drie-enige God (die Vader, die Seun en die Heilige Gees), asook van Israel, en van die kerk. Daar word in die Ou Testament dikwels na die huweliksverhouding tussen Israel en God verwys. Die Here sê vir Israel: “Want jou Maker is jou Man; Here van die leërskare is sy Naam; en die Heilige van Israel is jou Verlosser. Hy sal die God van die hele aarde genoem word” (Jes. 54:5). Ná ’n tyd van geestelike ontrouheid sal Israel se gebroke verhouding met God herstel word (Jes. 54:7; Hos. 2:14-17). Wonderlike beloftes word deur God gemaak oor Israel se eindtydse herstel:
“Die Here het aan my verskyn uit die verte: Ja, Ek het jou liefgehad met ’n ewige liefde; daarom het Ek jou getrek met goedertierenheid. Ek sal jou weer bou, en jy sal gebou word, o jonkvrou van Israel! Jy sal jou weer versier met jou tamboeryne en uittrek in die koordans van die spelers ... Want so sê die Here: Jubel oor Jakob van vreugde, en juig oor die hoof van die nasies; laat dit hoor, sing lof en sê: o Here, verlos u volk, die oorblyfsel van Israel! Kyk, Ek bring hulle aan uit die Noordland en sal hulle bymekaar laat kom uit die agterhoeke van die aarde ... Hoor die woord van die Here, o nasies, en verkondig in die kuslande wat ver is, en sê: Hy wat Israel verstrooi het, sal hom vergader en hom bewaak soos ’n herder sy kudde. ... Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ’n nuwe verbond sal sluit; nie soos die verbond wat Ek met hulle vaders gesluit het op dié dag toe Ek hulle hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie – my verbond wat húlle verbreek het, alhoewel Ék gebieder oor hulle was, spreek die Here. Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die Here: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ’n God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees. En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die Here; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die Here; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie” (Jer. 31:3-4, 7-10, 31-34).
’n Geestelike opstanding lê vir die volk Israel voor. In hulle verblinde en agnostiese toestand was hulle reeds ’n seën vir die nie-Joodse wêreld deurdat die redding wat na hulle gekom het, deur hulle verwerp is en daarna aan die heidene gebied is. Die natuurlike takke van die olyfboom (Israel) is afgebreek van die stam (die Heilige van Israel) en takke van die wilde olyfboom (die nie-Jode) is in die Messias ingeënt. Die verpligting rus nou op ons om Israel op ons geestelike erfenis in die Messias afgunstig te maak (Rom. 11:11-12).
Ons moet aan Israel die vreugde van ons verlossing demonstreer, die vryheid wat ons in Christus geniet, asook die heiligheid en liefde wat Hy deur die Heilige Gees in ons harte uitgestort het (Rom. 5:5). Op hierdie manier moet hulle prakties kan sien dat “Christus die einde van die wet tot geregtigheid [is] vir elkeen wat glo” (Rom. 10:4). Ons kan nie hierdie doel bereik deur kompromie te maak met die wettiese en ritualistiese instellings van Judaïsme nie. Wanneer Israel die oorgang maak van die wet na die genade van die Messias, sal hulle hul roeping van lank gelede vervul om God se spesiale volk op aarde te wees, en dan ’n seën vir alle nasies wees. Paulus sê: “As hulle verwerping die versoening van die wêreld is, wat sal hulle aanneming anders wees as lewe uit die dode? (Rom. 11:15).
“Lewe uit die dood” is nie net wat ’n ongelowige Israel nodig het nie, maar alle mense op aarde wat steeds geestelike dood is, het ’n dringende behoefte aan wedergeboorte. Christus is die opstanding en die lewe! Die Heilige Gees het op Pinksterdag gekom om gelowiges met krag uit die hoogte toe te rus. Daardeur bemagtig Hy hulle om in die voetspore van Christus te volg en die werk te kan doen wat Hy aan hulle opgedra het.
Ortodokse Israeli’s in die huidige tyd hou aan om hulle op Pinksterdag in die wet te verbly, en daardeur herdenk hulle die 50ste dag na hulle uittog uit Egipte toe hulle die wet by Sinai ontvang het. Dit is ’n ernstige oordeelsfout, omdat hulle tred verloor het met die verdere ontplooiing van God se heilsplan vir die redding van Israel en die nasies. Die periode onder die wet was ’n voorbereidende fase in hulle geestelike ontwikkeling onderweg na die koms van die Messias. Hy het gekom nadat sy volk 1500 jaar van mislukte pogings beleef het om aan die eise van die wet te voldoen, en Hy is inderdaad die enigste Een wat sy volk van hulle sonde kan verlos (Matt. 1:21). Hy bied aan hulle ’n nuwe lewe deur geloof in Homself, asook die belofte van die Heilige Gees, maar hierdie aanbod word nog steeds deur die meerderheid Jode van die hand gewys.
Die voortslepende probleem van om uit pas te wees met die vervulling van Bybelse feeste, kan nie slegs toegeskryf word aan Israel se onvermoë om die vervulling van Pinksterdag raak te sien nie, maar gaan verder terug na hul onvermoë om te besef dat Jesus van Nasaret die beloofde Messias en Lam van God is. Indien hulle hierdie belangrike feit kon raaksien en aanvaar, sou hulle hulself onder die dissipels van Jesus bevind het wat op Pinksterdag met die Heilige Gees vervul is.
Die gee van die wet by Sinai was deel van ’n uitgebreide stel godsdienstige rites, beginsels en aktiwiteite wat daarop gerig is om Israel op die koms van die Messias voor te berei. Edward Chumney sê: “Die gee van die wet by die Berg Sinai het die priesterorde van Aäron ingesluit, asook die stelsel van offers, die tabernakel, die Sabbatdae, die feeste, die siviele en seremoniële wette, en die Tien Gebooie. ... Hierdie dinge is deur God gegee as skaduwees van toekomstige dinge (Heb. 10:1) om ons te leer oor die Messias Jeshua (Gal. 3:24) en die verlossingswerk van God (Kol. 2:16-17). Pinkster was die geboorte van die vergadering (kehilat) in die woestyn (Hand. 7:38). Die dinge wat by die Berg Sinai aan Moses gegee is, was van God self, maar aangetoon op ’n fisieke manier om ons te help om geestelike waarhede te verstaan wat die Here aan ons wou oordra (1 Pet. 2:5-9).”
Die wette en offers wat aan Israel gegee is, was wel heilige bepalings, maar nogtans was hulle net skaduwees van wonderliker dinge wat nog aan hulle geopenbaar moes word: “Want die wet, wat ’n skaduwee het van die toekomstige weldade, nie die beeld self van die dinge nie, kan nooit deur dieselfde offers wat jaar na jaar gedurig gebring word, die wat toetree, tot volmaaktheid lei nie ... Want die bloed van stiere en bokke kan onmoontlik die sonde wegneem” (Heb. 10:1, 4).
Wat was dan die doel daarvan om aan Israel wette te gee wat onmoontlik was om op ’n aanvaarbare en volgehoue wyse te kon onderhou, en dan van hulle te verwag om offers te bring wat hulle nie van hulle sondes kon reinig nie? Soos in die Skrifgedeelte hierbo genoem, was die wet en die offers skaduwees, of tipes, van ’n volmaakte verlossingsplan wat geopenbaar sou word in die Messias as die ware Lam van God. Hulle het die wet nodig gehad as hulle tugmeester na Christus, sodat Hy vir hulle kon doen wat die wet nie kon doen nie (Gal. 3:24).
Wat die offers betref, moes Israel besef dat hulle ’n behoefte het aan die onmisbare rol van vergifnis en versoening. Hulle aanhoudende oortredings van die wet het die belangrike funksie van versoening op ’n voortgesette basis beklemtoon. Die diereoffers was egter ondoeltreffend om hulle van sonde te reinig, en was dus net tipes van die Messias se eenmalige offer. God het die sonde van die Ou-Testamentiese heiliges vergewe op grond van die offers wat aan Hom gebring is, hangende die finale offer van die Messias om al die voorlopige offers te bekragtig wat voor sy kruisiging gebring is.
Die soendood van Jesus was dus ook terugwerkend van toepassing deurdat dit ook van toepassing is op die redding van gelowiges voor die tyd van Christus. Uiteindelik sal ons almal saam in die Messias verenig wees en almal deel in die versoening wat deur Hom voorsien is. In die afsluiting van sy bespreking oor Ou-Testamentiese gelowiges sê Paulus dat “alhoewel hulle almal deur geloof getuienis ontvang het, het hulle die belofte [van die Messias] nie verkry nie, omdat God iets beters oor [hulle] beskik het, sodat hulle nie sonder ons volmaak sou word nie” (Heb. 11:39-40).
Gedurende die verloop van die sewe feeste word daar drie basuine geblaas om mense te laat saamkom vir die aankondiging van ’n nuwe fase in God se plan van verlossing. Die eerste basuin is by Sinai geblaas gedurende die Pinksterfees (Fees van die Weke) nadat God se volk uit Egipte gelei is, en op die punt gestaan het om die wet van die Here te ontvang. Die tweede basuin word geblaas tydens die Fees van Basuine op Rosh Hashanah nadat die oes ingesamel is, en die derde een op die Groot Versoendag om Israel se redding te vier.
Israel was op die drumpel van die bedeling van die wet toe ’n basuin op die berg geblaas is en Moses opgeroep is om hoër op te gaan en God se wet te ontvang: “Toe die geluid van die basuin sterker en sterker word, het Moses gespreek, en God het hom telkens hardop geantwoord. Terwyl die Here op die berg Sinai neerdaal, op die top van die berg, het die Here Moses na die top van die berg geroep, en Moses het opgeklim” (Ex. 19:19-20).
Selfs al het Israel ingestem om die wet te aanvaar en te onderhou, was hulle harte nooit reg met die Here nie. Moses was nog op die berg, toe verval hulle al in afgodediens en aanbid ’n goue kalf. Hierdie dubbelhartigheid het nie goeie vooruitsigte vir die daaropvolgende bedeling van die wet ingehou nie. Israel het inderdaad geestelik baie gestruikel en sodoende hulleself onwaardig gemaak om die Here te dien, en ook om die Messias te ontvang toe Hy uiteindelik gekom het.
As gevolg hiervan het die Messias sy klein groepie dissipels beveel om hulleself te verootmoedig in afwagting op die Pinksterseën, en om dan te begin om die evangelie aan alle nasies te verkondig: “En Hy sê vir hulle: So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan, en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder. En julle is getuies van hierdie dinge. En kyk, Ek stuur die belofte van my Vader op julle. Maar julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte” (Luk. 24:46-49; vgl. Hand. 1:8).
Hierdie seën is op Pinksterdag ontvang, 50 dae na die Fees van die Eerstelinge toe Christus uit die dood opgestaan het (Hand. 2:1-12).