1. Skadubeeld en Werklikheid

Die feeste van die Here in Levítikus 23 is van die boeiendste en mees insiggewende gedeeltes in die Ou Testament, omdat hulle ’n profetiese program bevat oor die toekomstige openbaring van die Messias in Nuwe-Testamentiese tye. Die verskillende rituele en aktiwiteite is ’n bloudruk van God se plan om die hele mensdom te red. Die inhoud van die feeste is onderrigtend omdat hulle aan gelowiges kosbare inligting verskaf oor wat die Messias tydens sy eerste en tweede koms sou doen. Hulle is ook toewydend omdat hulle aan Israel toon, asook aan alle toekomstige gelowiges, hoe die Messias gevolg, aanbid en gedien moet word. In tipologiese vorm verskaf hulle ’n vroeë leerstellige basis vir die verlossingswerk van die Messias, asook vir die uiteindelike openbaring van sy koninkryk nadat die geestelike oes vir sy koninkryk onder alle nasies ingesamel is.

In sy gesaghebbende en wyd gelese boek oor die feeste sê Edward Chumney (1994:1) die volgende: “Die feeste van die Here wat in Levítikus 23 bespreek word, is deur God aan ons gegee sodat sy volk die koms van die Messias kon verstaan, asook die rol wat die Messias sou speel om die mensdom en die aarde vir Hom los te koop na die sondeval van die mens in die Tuin van Eden. Hoewel meeste van die nie-Joodse Bybellesers al van die feeste gehoor het, word die dieper betekenis en belangrikheid van die feeste wêreldwyd nie verstaan nie. Die apostel Paulus het aan die nie-Joodse gelowiges in Kolosse geskryf dat die feeste van die Here, die nuwemaan en Sabbatte, ’n “skaduwee is van die toekomstige dinge” om ons meer van die Messias te leer (Kol. 2:16-17). Jeshua (die Hebreeuse naam vir Jesus, wat Verlossing beteken) was die substansie of finale vervulling van die groter plan wat God deur hierdie sewe belangrike feeste geopenbaar het.”

Die sewe feeste en hulle vervulling word in die tabel hieronder aangetoon:

Ou-Testamentiese Skaduwee

Nuwe-Testamentiese Vervulling

1.  Paasfees

Offer van die Lam van God

2. Fees van Ongesuurde Brood

Begrafnis van die Messias

3. Fees van die Eerstelinge

Die Messias se opstanding

50 dae tussen eerstelinge en
Pinkster (Fees van die Weke)

50 dae tussen die opstanding
van Christus en Pinkster

4. Pinksterfees (vier die ontvang
van die wet)

Pinkster (vier die uitstorting van
die Heilige Gees)

Vier maande waartydens
die oes in Israel
ingesamel word

Dispensasie van wêreldevangelisasie
om ’n oes vir God se koninkryk
onder alle nasies in te samel

5. Die Fees van Basuine

Finale insameling van die oes

Blaas van die basuin van God

God se oes word ingesamel

Die sewe verskriklike dae van
toetsing en verootmoediging*

Die sewe jaar van die verdrukking
(Daniël se 70ste jaarweek)

6. Die Groot Versoendag

Wederkoms van die Messias

7. Die Loofhuttefees

Die Messias se vrederyk

* Die sewe verskriklike dae waarna in die tabel verwys word, is deel van die tien verskriklike dae van 1 tot 10 Tisjri, waarvan die eerste twee met die Fees van die Basuine saamval en die tiende een met die Groot Versoendag. Die sewe dae tussenin verwys na die tyd van benoudheid vir Jakob (die verdrukking van sewe jaar).

Die eerste vier van hierdie feeste, naamlik die Paasfees (Pesach), die Fees van die Ongesuurde Brood (Hag Hamatzah), die Fees van die Eerstelinge (Bikkurim), en die Pinksterfees (Shavuot), leer ons oor belangrike gebeurtenisse in verband met die eerste koms van die Messias (Mashiach), terwyl die laaste drie feeste, naamlik die Fees van Basuine (Yom Teruach of Rosh Hashanah), die Groot Versoendag (Yom Kippur), en die Loofhuttefees (Sukkot) verband hou met belangrike gebeure wat met die wederkoms van die Messias geassosieer word.

Die feeste leer ons die dieper dinge oor ons verhouding met God en sy Seun, die Messias, wat Homself as losprys vir ons sonde gegee het. Ons sal opgewonde raak oor die wonderlike manier waarop die feeste in Nuwe-Testamentiese tye vervul word, en nuwe waardering kry vir die foutloosheid van die Bybel as God se Woord – veral oor die vervulling van Bybelse profesieë en Ou-Testamentiese tipes van Christus.

Die skaduagtige gebruike van die feeste in hulle oorspronklike vorm, en die diep geestelike inhoud wat hulle ná die koms van die Messias verkry het, is ’n volmaakte weerspieëling van God se verlossingsplan vir ’n verlore mensdom, en gee ook ’n aanduiding van die eindbestemming van gelowiges in sy koninkryk. Die simboliese gebruike in die eerste vier feeste in die lente het ’n letterlike teëbeeld in dit wat die Messias tydens sy eerste koms vir die redding van sondaars gedoen het. Gebruike wat met die laaste drie feeste in die herfs in verband staan, lig vir ons die sluier oor die toekoms wanneer die Messias weer sal kom en in ander hoedanighede geopenbaar sal word.

Die belangrikste simboliese handeling, of skaduagtige gebruik, van die Joodse Pasga was die slag van die paaslam. Die konteks daarvan was die letterlike situasie van Israel se uitredding uit hulle slawerny in Egipte. Die teëbeeld hiervan is die offer van die Lam van God ter wille van die uitredding van mense uit hulle geestelike verlorenheid wat meegebring is deur die slawerny aan sonde. ’n Ander konteks van hierdie fees van bevryding was die viering daarvan in die lentemaand. Dit dui op die begin van ’n nuwe lewe onder God se sorg.

In die Fees van die Ongesuurde Brood word suurdeeg as ’n simbool van werklike sondes gebruik. Net die Messias se lewe was sondeloos volmaak, daarom is net Hy die vervulling van die simbool van ongesuurde brood. Hy skenk genade om sonde te kan oorkom.

Die Fees van die Eerstelinge het die oestyd in Israel ingelui. Dit was simbolies van die begin van ’n geestelike oestyd wat deur die Messias se kruisiging en opstanding uit die dood ingelui sou word.

Die Pinksterfees was ’n wydingsplegtigheid waarin brode wat van die eerste graan van die seisoen gebak is aan die Here gewy is, sodat die Here die volk kon heilig. Tydens hierdie fees word die ontvang van die wet by Sinai herdenk, maar dit was net ’n heenwysing na die uitstorting van die Heilige Gees, wat die woorde van die Here op die tafels van gelowiges se harte skryf.

In die jaarlikse siklus van sewe feeste is daar ’n gaping van vier maande tussen die lentefeeste en die oesfeeste in die herfs. By Israel was daar nog altyd ’n sterk bewussyn van die erns van die drie oesfeeste as ’n heenwysing na ’n ingryping deur God (tans én in die toekoms) om die regverdiges te beloon tydens Rosh Hashanah (die Fees van die Basuine), die onbekeerlike sondaars te oordeel tydens die sewe verskriklike dae wat op Rosh Hashanah volg, Israel te red tydens Yom Kippur (die Groot Versoendag) en die beloofde Messiaanse koninkryk in te stel tydens Sukkot (die Loofhuttefees).

In die lig van hierdie profetiese verwagtings begin daar reeds ’n maand voor die oesfeeste, op die eerste dag van die maand Elul, ’n tyd van verootmoediging en bekering in Israel. Dit duur 40 dae lank. Ná 30 dae, op 1 Tisjri, breek die Fees van die Basuine aan, wat oor twee dae strek, en dit word deur die sewe verskriklike dae van intensiewe bekering gevolg wat beëindig word met Yom Kippur op 10 Tisjri, wanneer die hoëpriester versoening vir al die volk se sondes gedoen het. Indien die volk hulle grondig bekeer en guns in die oë van God gevind het, kon hulle uitsien na die sewende fees, Sukkot, wat ’n vreugdefees ná die finale insameling van die oes is.

Die geestelike boodskap van die Loofhuttefees (Sukkot) word só deur John Parsons (2012:4) van Hebrew for Christians verduidelik: “Uit ’n geestelike oogpunt stem Sukkot ooreen met die wete dat jou sonde vergewe is tydens Yom Kippur, terwyl jy ook terugdink aan God se wonderbaarlike voorsiening ná die verlossing uit Egipte. In ’n profetiese sin kyk Sukkot vooruit na die koms van Jeshua as Messias, wanneer al die volke na Jerusalem sal kom om die Here tydens hierdie fees te aanbid (Sag. 14:16). ... In die lig van wat Jeshua as ons Hoëpriester (Kohen Gadol) in die Nuwe Testament vir ons gedoen het, het ons nou toegang tot die hemelse tempel van God (Heb. 4:16). Ons is lede van die tempel van sy liggaam.”

Groter begrip vir die Nuwe Testament

Vyf van die sewe feeste is eendaagse feeste: Paasfees, Fees van die Eerstelinge, Pinksterfees (Fees van die Weke), Fees van die Basuine en die Groot Versoendag; die ander twee, Fees van die Ongesuurde Brood en die Loofhuttefees, is sewedagfeeste. Die eendaagse feeste het betrekking op sekere dade van God wat eenmalig gedoen is, byvoorbeeld die dood en opstanding van Christus wat net eenkeer op ’n bepaalde dag gebeur het. Sewedagfeeste het betrekking op die geseënde gevolge van die daglange feeste, en sluit breedvoerige riglyne in oor hoe mense hulle lewens in die lig van God se verlossing moet lei (Downie, 1954:53).

Kennis van die feeste sal lei tot groter waardering vir die Nuwe-Testamentiese instelling van die Nagmaal, wat op die eerste drie feeste gebaseer is. So dikwels as wat ons hierdie instelling vier (daar is geen beperking op die aantal kere wat ons dit kan doen nie) vestig ons aandag op God se verlossingswerk deur die Messias, wat reeds in die outydse feeste aan ons geopenbaar is.

Gelowiges in Christus kan geestelik baie baat vind by ’n studie van die Ou-Testamentiese feeste van die Here, deur veral aandag te gee aan die detail van die verskillende seremonies en rituele, want dit sal daartoe lei dat ons ’n dieper studie doen van die betekenis van Christus se versoening vir ons sondes aan die kruis. Wanneer die Ou-Testamentiese skadubeelde goed verstaan word, sal ons die Nuwe-Testamentiese werklikheid beter kan begryp en waardeer.

In die volgende hoofstuk sal ons eers die basiese aard van Bybelse profesieë bespreek, asook die vervulling van Bybelse tipes, omdat dit ons sal help om die tipologiese aard van die paaslam te verstaan, die seremonies wat daaraan verbonde was, asook die chronologiese vervulling van die sewe feeste in die Nuwe-Testamentiese tye.

Wanneer ons aandag gee aan die vervulling van Bybelse profesieë, sal dit ons daarvan weerhou om betrokke te raak by die voortgesette beoefening van skaduagtige gebruike wat reeds in die Messias vervul is. Wanneer sulke rituele en instellings op ’n wettiese wyse beoefen word sonder om ag te slaan op hulle profetiese betekenis as tydelik en voorlopige gebruike wat daarop ingestel was om Israel op die koms van die Messias voor te berei, is daar ’n baie groot moontlikheid dat Jesus as Messias verloën kan word. Sulke mense is geneig om die feeste en wette van die Ou Testament as hulle finale middel tot verlossing te sien.

Indien ons ten volle bewus is van die profetiese aard van die sewe feeste, sal hulle ’n wonderlike toekomsbeeld oor die Messias ontsluit. Net Hy alleen kan volle gestalte aan die beloftes en tipologiese beelde van die Ou Testament verleen. ’n Onwankelbare geloof in Christus is die grondslag vir ’n ongebroke verhouding met Hom waarin ons daagliks met Hom in verbinding bly deur ons gebede, en ook deur in die Gees te wandel. Ons word opgeroep om voortdurend te bid (Ef. 6:18), en dit beklemtoon die feit dat die feeste en heilige dae van die Ou Testament wat dikwels lank uitmekaar gevier is, vervang is deur ’n vorm van volgehoue toewyding wat nie net tot sekere heilige dae of seisoene van die jaar beperk is nie.

Die tempeldiens met al sy rites en seremonies is afgeskaf in die nuwe verbond met die Messias. Die soendood van die Verlosser bied aan alle gelowiges onbeperkte toegang tot die troon van genade (Heb. 10:19-23). Die persoonlike verhouding wat ons deur die Heilige Gees met Christus kan handhaaf na sy eenmalige offer aan die kruis, is nie afhanklik van die middelaarskap van priesters nie. Hulle het tipologiese offers gebring en ook ’n groot aantal simboliese gebare gemaak waardeur hulle God vereer het.

Die godsdienstige lewe van Nuwe-Testamentiese gelowiges het aansienlik meer inhoud weens hulle geloof in Christus. Op grond daarvan geniet ons ’n baie dieper dimensie van geestelike gemeenskap omdat ons deur Christus nader getrek word aan God. Daarom is die beoefening van ons geestelike lewe vereenvoudig en heeltemal losgemaak van veelvuldige rituele aktiwiteite. In ons geestelike lewe kom ons net die rituele van doop en Nagmaal na, wat albei simboliese handelinge is wat na ’n besliste geestelike ervaring verwys.

Die Nuwe Testament vloei voort uit die vervulling van beloftes wat in die Ou Testament gemaak is. Aansienlike geestelike voordeel kan verkry word uit ’n studie van die ontplooiing van God se plan met die mensdom in die Ou Testament, asook die bestudering van persone, gebruike en ervarings wat tipologiese skadubeelde was van die Messias en ons geloofslewe. Ons kan byvoorbeeld  beter begryp wat die implikasies daarvan is om ’n tempel van God te wees (vgl. 1 Kor. 3:16-17) indien ons ’n intensiewe studie van die Ou-Testamentiese tempeldiens doen. Die oue is ’n tipe van die nuwe, geestelike tempel en leer ons meer van wat daar van ons verwag word. Op dieselfde manier sal ’n studie van die feeste ons help om beter te kan verstaan hoedat God sy plan van verlossing aan Israel bekendgestel het, wat Hy van mense verwag om in ’n geloofsverhouding met Hom betrokke te raak, en hoedat Hy sy tydlose eis van ’n heilige lewe aan mense demonstreer.

’n Studie van die godgegewe feeste van Israel werp baie lig op die roeping en geestelike bestemming van hierdie spesiale volk. Deur die genade van God het hulle vierduisend jaar van ’n hoogs turbulente geskiedenis oorleef. Die feit dat hulle tydelik deur die Here eenkant toe geskuif is as gevolg van hulle ongeloof in die Messias, beteken glad nie dat hulle opgehou het om deel te wees van God se plan vir die mensdom, en nou vervang is deur ’n “geestelike Israel” wat nie van Joodse oorsprong is nie (die kerk). Die Bybel verkondig nie die vervangingsteologie nie.

Israel was, en is nog steeds, ’n seën vir die wêreld omdat die Woord van God aan hulle toevertrou is (Rom. 3:2), en veral ook omdat Christus, die Verlosser van die wêreld, as ’n lid van die stam van Juda in Israel gebore is (Luk. 3:23-31; Rom. 9:4-5). Die verlossing wat deur hulle geweier is omdat hulle die Messias verwerp het, is gedurende die afgelope twee millennia aan die nie-Joodse wêreld gebied. Dit beteken dat Israel in hulle gevalle toestand reeds ’n seën vir ons is. Paulus maak ook die belangrike opmerking dat indien Israel gedurende hulle geestelike blindheid al ’n seën vir ons was, hoeveel te meer sal hulle nie ’n seën wees vir die wêreld tydens hulle volheid as ’n ware Messiaanse volk nie! (Rom. 11:11-12).

In die tussentyd, in afwagting op hulle geestelike herlewing as ’n volk tydens die tweede koms van die Messias, moet ons aan Israel wys wat die werklike en blywende verskil is wat die verlossing van die Messias in ’n gelowige se lewe kan maak. Terwyl ons ’n studie maak van die Ou-Testamentiese feeste, wat God se feeste is en nie ’n uitvindsel van Israel nie, moet ons die Messiaanse simboliek van die feeste aan die verbondsvolk verduidelik.

Wanneer die boodskap van die feeste met die lewe en werke van Jesus van Nasaret vergelyk word, verkry ons sterk bewyse dat al sewe die feeste hulle finale vervulling in Hom verkry. Vier van die sewe is reeds op ’n merkwaardige en onweerlegbare wyse vervul, en ons staan op die drumpel van die vervulling van die laaste drie wanneer Christus weer kom – eers om sy bruid te kom haal en daarna om die wêreld te oordeel en die oorblyfsel van Israel en die nasies te red.

 

2. Die Vertolking van Bybelse Profesieë

Elke Christen is daartoe verbind om eerbied vir Bybelse profesieë te hê en hom- of haarself aan die bestudering daarvan toe te wy. Petrus sê: “En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ’n lamp wat in ’n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte; terwyl julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif ’n saak van eie uitlegging is nie; want geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek” (2 Pet. 1:19-21).

Vier baie belangrike beginsels wat ons moet eerbiedig, blyk uit hierdie gedeelte:

Eerstens het Bybelse profesieë ’n vaste boodskap oor die toekoms. Petrus sê die profetiese woord is baie vas en ons móét daarop ag gee. Dit is nie menslike spekulasie nie, maar ’n betroubare woord wat beslis in vervulling sal gaan omdat die hoogste gesagspersoon in die heelal, God self, hierdie woorde gespreek het. “God is geen man dat Hy sou lieg nie; of ’n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hý iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?” (Núm. 23:19). Sy Woord is die waarheid (Joh. 17:17), daarom is daar by Hom “geen verandering of skaduwee van omkering nie” (Jak. 1:17). Hy het die toekoms in sy hand en nie een van sy beloftes of waarskuwings sal onvervuld verbygaan nie – in Jesus Christus sal hulle almal vervul word (2 Kor. 1:20).

Heili

Tweedens is Bybelse profesieë absoluut uniek en in ’n kategorie van hulle eie. God het dit deur sy Heilige Gees aan mense bekendgemaak en in sy Woord laat opteken. Hierdie inligting moet van alle ander profesieë onderskei word. Buite-Bybelse profesieë dra nie ’n goddelike stempel van egtheid en waarheid nie omdat hulle óf menslik óf selfs okkulties van oorsprong mag wees. Profesieë van hierdie aard word nie van ’n studie van die profetiese woord in die Bybel afgelei nie, maar het hulle oorsprong in drome, visioene, waarsêery, fortuinvertellery, vreemde stemme wat met mense praat, en ook van buite-Bybelse profete en sieners soos Nostradamus en ander. Baie volke het hulle eie profete wat die gesag van die Bybel ignoreer en vir hulle profeteer oor wat hulle graag wil hoor. Soms word buite-Bybelse profesieë aan die Bybel gekoppel om meer geloofwaardigheid daaraan te verleen – dan raak dit nog meer misleidend. Bybelse profesieë het net een oorsprong: “… deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek (2 Pet. 1:21). Bybelskrywers het onder die direkte inspirasie van die Heilige Gees profesieë uitgespreek en neergeskryf. Hierdie direkte openbarings het in die jaar 95 n.C., ná die skryf van die boek Openbaring wat die laaste Bybelboek is, opgehou. Die volle raad wat God aan ons wou openbaar, is in die Bybel opgeteken (vgl. Hand. 20:27). Ons moet nét die Bybel vir inligting oor die toekoms raadpleeg.

Derdens is Bybelse profesieë nie ’n saak van eie uitlegging nie. Geen mens op aarde – al is hy ook hoe hooggeleerd – kan self, volgens eie insig, die profesieë van die Bybel uitlê nie. Hierdie profesieë is deur die Heilige Gees gegee, daarom kan net Hý jou in die hele waarheid lei en aan jou verligte oë van die verstand gee om die betekenis van sy woorde te verstaan (Joh. 16:13; Ef. 1:18). Jy móét dus weergebore wees en onder die leiding van die Heilige Gees die Woord bestudeer voordat jy die ware betekenis daarvan sal begryp. Selfs al is jy weergebore, moet jy seker maak dat jou vertolking van die profesieë nie deur die kerkvaders of teoloë van jou denominasie beïnvloed word nie. Hulle kan ook verkeerd wees, en as jy hulle sienings navolg, word jy nie noodwendig deur die Heilige Gees gelei nie. Dit is opvallend dat mense wat nie die werklike betekenis van die profetiese woord verstaan nie, daartoe oorgaan om vreemde uitleggings daarvan aan te bied. Omdat dit nie regtig vir hulle sin maak nie, besluit hulle om nie die profesieë ernstig en letterlik op te neem nie, maar om simboliese of allegoriese verklarings daarvoor te gee. In werklikheid is dit ’n aanduiding van ongeloof in die profetiese woord, want hulle wil nie glo dat daar aan die einde van hierdie bedeling ernstige verval in die Christendom én in die wêreld plaasvind; dat Israel in tye van groot benoudheid en vyandigheid in hulle eie land herstel word; dat daar ’n Antichris en ’n groot verdrukking kom; dat die ware gelowiges die verdrukking sal ontvlug, en dat die Here Jesus ná sy wederkoms ’n duisendjarige vrederyk op aarde sal vestig nie. Hulle vergeestelik eerder die Bybel om van hierdie konkrete feite af weg te kom en sodoende ruimte vir hulle eie standpunte te skep, wat as teologiese tradisies van een geslag na die ander oorgedra word.

Vierdens, sê Petrus, moet ons die profetiese woord bestudeer totdat die môrester in ons harte opgaan. Die môrester dui volgens Openbaring 22:16 op die Here Jesus, en meer spesifiek die feit dat Hy weer kom. Die môrester verskyn in die laaste nagwaak en verkondig die boodskap dat die nag byna verby is. Vir Christene is hierdie boodskap die toekomsverwagting dat Jesus Christus weer kom en dié keer as die son van geregtigheid die hele wêreld sal verlig en sy vrederyk hier sal vestig. Nou is dit geestelik gesproke nog donker, maar weldra sal die nag van sonde en ongeregtigheid verby wees en ewige geregtigheid aanbreek. Het die môrester van hoop en die blye verwagting van die Here Jesus se koms al in jou hart opgegaan? Indien nie, dan moet jy die Bybelse profesieë oor die eindtyd en die wederkoms van Christus intensief bestudeer. Sonder hierdie kennis kan jy nie daarop aanspraak maak dat jy ’n ingeligte Christen is wat in alle opsigte in die lig wandel en jou tydsomstandighede reg verstaan nie. Met die môrester in jou hart maak jy jouself los van die huidige, goddelose wêreld en bou aan ’n koninkryk wat nou nog verborge is, maar binnekort op aarde geopenbaar sal word wanneer die Koning kom.

Tipologie

Afgesien van Bybelse profesieë is daar ook verskeie tipes in die Ou Testament wat ’n voorafskaduwing is van Nuwe-Testamentiese persone of gebeurtenisse. In sy voorwoord vir Hugh Downie se boek oor Israel se oesfeeste (1994:9-10), sê J. Boyd Nicholson dat die studie van tipologie op sekere persone, voorwerpe en gebeurtenisse toegepas kan word. In Romeine 5:14 word dit duidelik gestel dat “Adam ... ’n voorbeeld is van Hom wat sou kom.” Hy is dus ’n tipe van Christus. Die eerste Adam is die hoof van ’n sondige geslag mense, maar Jesus Christus (die laaste Adam) is die Hoof van ’n geslag weergebore mense: “Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word” (1 Kor. 15:22). Daar is baie ander Ou-Testamentiese persone wat tipes van Christus was, byvoorbeeld Melgisédek (Heb. 6:20), Josef, Moses, Josua en Dawid.

Verder is daar verskeie Ou-Testamentiese gebeurtenisse, voorwerpe en gebruike wat ook van groot tipologiese en profetiese betekenis is. Israel se verlossing uit hulle slawerny in Egipte is ryk aan voorbeelde en tipes wat dui op die Nuwe-Testamentiese verlossing van ’n verlore mensdom uit die geestelike tirannie van Satan. Die eerste Pasga is in Egipte gevier, en die paaslam was ’n duidelike tipe van Christus: “... want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus” (1 Kor. 5:7; vgl. 1 Pet. 1:18-19). Verskeie van die ondervindings van Israel gedurende hulle uittog was ook skaduwees van God se toekomstige handelinge met mense, en om daardie rede word gelowiges onder die Nuwe Verbond terugverwys na hierdie gebeurtenisse en ondervindings vir verdere onderrig:

“Want ek wil nie hê, broeders, dat julle nie sou weet nie dat ons vaders almal onder die wolk was en almal deur die see deurgegaan het, en almal in Moses gedoop is in die wolk en in die see, en almal dieselfde geestelike spys geëet het, en almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit ’n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus. ... Al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde (Grieks tupos) en is opgeskrywe as ’n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het” (1 Kor. 10:1-4, 11).

Die tipologie is baie duidelik. Deur Moses te volg wat vir Israel uit Egipte gelei het, is hulle in Moses gedoop, en sodoende verenig met hulle geestelike leier wat die middelaar was van die Ou Verbond. Op soortgelyke wyse word ons in Christus gedoop, wat die Middelaar is van die Nuwe Verbond. Die voedsel wat Israel geëet en die water wat hulle in die woestyn gedrink het, is bonatuurlik voorsien en verwys dus na die geestelike voeding van God se volk. Vir ons is Christus die brood en water van die lewe. Die gekliefde rots verwys na Jesus Christus – Hy is die Ewige Rots wat vir ons geklief is, terwyl die stroom water wat uit die rots gevloei het, na die Heilige Gees verwys (Joh. 7:37-39).

Verskeie ander tipes is ook vir die stigting van sowel Israel as die Nuwe-Testamentiese gelowiges gegee: “Soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Joh. 3:14-15). Christus het ons van die vloek van die Slang verlos deur aan die kruis vir ons ’n vloek te word (Gal. 3:13). Deur in die geloof na Hom op te kyk, word ons geestelik lewend gemaak terwyl God se geregtigheid saam met die ewige lewe aan ons toegereken word.

Die tabernakel, sowel as die tempel wat veel later gebou is, was ook ryk aan simboliek en tipologiese aktiwiteite wat na die Messias verwys het, na sy offer vir sonde, sy goddelike eienskappe as die lig van die wêreld en die brood van die lewe. Die daaglikse gebede voor sy genadetroon is ook deur die tempeldiens voorafgeskadu. AB Simpson (2009:5-6) sê:

“Die tabernakel is die uitnemendste van al die Ou-Testamentiese tipes van Christus. Dit was een groot les in geestelike waarheid. In sy wonderlike meubels, in die priesterlike orde en die vorm van aanbidding en diens, sien ons so duidelik soos nêrens anders nie, die heerlikheid en genade van Jesus en die voorregte van sy verloste volk. ... In hierdie voorbeeld wat Moses op die berg gekry het (Ex. 25:8-9) verkry ons ’n baie goeie begrip van die heerlike tempel waarvan Christus die hoeksteen is en ons soos lewende stene opgebou word “tot ’n geestelike huis, ’n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus” (1 Pet. 2:5).

Downie (1994:15) sê: “Die tipologiese deel van die Bybel is net so belangrik soos die historiese, biografiese, profetiese, poëtiese, leerstellige en praktiese dele. Almal is nodig om ’n volledige Bybel te kan hê, en almal van hulle is noodsaaklik vir ’n goeie en breedvoerige begrip van die waarhede van God.”

Wanneer ons ’n studie van Bybelse tipologie doen, moet ons twee algemene gevare vermy. Eerstens is daar die gevaar verbonde aan die verontagsaming van tipologie deur dit nie in terme van die Nuwe-Testamentiese vervulling daarvan te ondersoek nie. Tweedens is daar die gevaar van die oordrywing van ’n tipologiese vergelyking deur ongeregverdigde afleidings te maak. Daar is aspekte van die tipe wat nie op die teenbeeld toegepas kan word nie. Alle onwerklike en eiesinnige vertolkings moet vermy word en daar moet getrou by die Skrif gebly word.

Komplekse scenario’s word soms gebruik as tipes van soortgelyke toekomstige situasies: “En soos dit gebeur het in die dae van Noag, so sal dit ook wees in die dae van die Seun van die mens: hulle het geëet en gedrink, hulle het getrou en is in die huwelik gegee tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het, en die sondvloed gekom en almal vernietig het. Net soos dit ook gebeur het in die dae van Lot: hulle het geëet en gedrink, gekoop en verkoop, hulle het geplant en gebou. Maar op die dag toe Lot van Sodom uitgaan, het vuur en swawel van die hemel af gereën en almal vernietig. Net so sal dit wees in die dag wanneer die Seun van die mens geopenbaar word” (Luk. 17:26-30).

Wanneer hierdie tipologie bestudeer word, en spesifiek ook die uiterste vorm van sonde, is dit duidelik dat daardie vroeë gemeenskappe openlik gerebelleer het teen die gesag van God en ook teen sy aandrang om moreel ordentlike lewens te lei. Daardeur het hulle die toorn van God ontlok wat oor hulle uitgestort is. In die eindtyd sal daar ’n soortgelyke situasie ontstaan. Aangesien die verdorwenheid van die tyd van Noag en Lot tipies is van die geestelike, morele en sosiale verval van die laaste dae, kan die volgende korrelasie tussen die historiese en eindtydse situasies gemaak word:

·       In die tyd van Noag en Lot het anargie geheers omdat mense in daardie wettelose samelewings gedoen het net wat hulle wou. Geweld was die mees algemene manier om geskille te besleg en doelwitte te bereik (Gen. 6:13; 19:9). So sal dit weer wees.

·      In die tyd van Noag en Lot was daar grootskaalse geestelike en morele verval omdat feitlik almal vrye teuels aan hulle verdorwe natuur gegee het. Die versinsels in mense se harte was altyddeur net sleg (Gen. 6:5; 19:5). Dit sal weer so wees.

·      In die tyd van Noag en Lot was mense totaal materialisties en het permissiewe en losbandige lewenstyle aanvaar, waaronder ook sodomie (afgelei van Sodom). Dit sal weer so wees.

·      In die tyd van Noag en Lot het die algemene publiek met die manne van God gespot en hulle glad nie aan profetiese waarskuwings oor die oordele van God gesteur nie. Hulle het dit as belaglike en vergesogte stories afgemaak en met hulle roekelose lewenswyse van vleeslike genietinge en hebsug voortgegaan. Dit sal weer so wees.

·      In die tyd van Noag en Lot het die Here die vervalle sondaars ’n billike tyd gegee om hulle van hul bose weë te bekeer. Hulle wou dit egter nie doen nie en het daardeur hulle eie lot verseël. Niemand anders behalwe hulleself kan vir hulle ondergang en ellende geblameer word nie. Dit sal weer so wees.

·      In die tyd van Noag en Lot het God op ’n kritieke oomblik aan die gelowiges ontvlugting gebied deur hulle in ’n plek van veiligheid te stel voordat Hy die sondaars geoordeel het. Die volgorde is dus: profetiese waarskuwings van naderende oordele, daarna die beveiliging van die gelowiges wat op die herhaalde oproepe tot bekering gereageer het, en dan die oordele oor die sondaars. Dit sal weer so wees.

·      In die tyd van Noag en Lot was daar onder die gelowiges nie plek vir vormgodsdienstige meelopers wie se harte nog aan wêreldse belange verknog was nie. Lot se vrou is ’n tipe van dié soort mense, en dit het op die laaste oomblik haar lewe gekos. Dit sal weer so wees.

·      In die tyd van Noag en Lot het daar kort ná die beveiliging van die gelowiges ’n skrikwekkende toneel afgespeel toe God se genadetyd vir dié groep sondaars verbygegaan het. Dood en verwoesting is gesaai. Dit sal weer so wees.

·      In die tyd van Noag en Lot het die sondaars nie besef hoeveel voorregte hulle geniet het as gevolg van die teenwoordigheid van ’n paar gelowiges in hulle midde nie. Die Here was bereid om ’n stad te spaar as daar net tien regverdiges in die stad was. Toe hierdie mense wat soos ligte te midde van ’n krom en verdraaide geslag geskyn het, skielik weggeneem is, het dit vir die goddelose wêreld waarin hulle gewoon het, nag geword. Dit sal weer so wees.

·      In die tyd van Noag het die spottende wêreldlinge vir die bouers aan die ark gelag en in die verhardheid van hulle harte voortgegaan “en dit nie verstaan voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees” (Matt. 24:39).

Dit is redelik om te verwag dat te midde van al die verdorwenheid en sonde wat die gevalle mensdom kenmerk, ’n liefdevolle God ook van die begin af ’n plan van verlossing sou aanbied wat op die herstel van sondaars gerig is. Die Verlosser het egter eers in die volheid van tyd gekom, ná omtrent vierduisend jaar van menslike geskiedenis sedert Adam en Eva. Dit is die rede vir die groot aantal simboliese en tipologiese handelinge wat in die godsdiens van mense in die voor-Christelike tydperk ingestel is om hulle op die vervulling van God se verlossing deur die soendood van die Messias voor te berei. Die baie offers in die Ou Testament verwys na die eenmalige offer van die Lam van God, en is almal daarin vervul. God het op baie maniere sy aandrang op geregtigheid beklemtoon, asook sy belofte van vergifnis aan sondaars wat berou het oor hulle oortredings.

Baie van die godsdienstige rituele en seremonies wat deur Israel beoefen word, vorm deel van die sewe feeste wat in Levítikus 23 ingestel is en jaarliks gevier word. Hierdie is nie Israel se feeste nie, maar die Here se feeste wat deur Hom ingestel is om Israel op die eerste en tweede koms van die Messias voor te berei. Die Here het aan Moses gesê: “Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: Die feestye van die Here wat julle moet uitroep as heilige samekomste – dit is my feestye” (Lev. 23:2). Die sewe feeste is almal tipes van die Messias se toekomstige genadewerk vir Israel en ook vir al die ander nasies van die wêreld, en daarom bevat dit ’n baie duidelike profetiese program van toekomstige gebeure.

Die sewe feeste is aan Israel gegee om te onderhou sodat hulle op die koms van die Messias voorberei kon word. Paulus beskryf hulle as “’n skaduwee van die toekomstige dinge, maar die liggaam behoort aan Christus” (Kol. 2:17). Hulle is almal Messiaanse feeste en het dus sterk profetiese betekenis. Die eerste vier is reeds vervul gedurende die eerste koms van Christus en tot en met die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag. Ons is nou naby aan die einde van die lang tussenpose tussen die twee groepe feeste, en daarom baie naby aan die einde van die kerkbedeling.

Die kerk van Christus vier nie hierdie feeste nie. Ons vier die Nagmaal, wat ’n vervanging is van die Paasfees, die Fees van Ongesuurde Brood en die Fees van die Eerstelinge. Elke Sondag word ons ook herinner aan die werklikheid van Jesus wat op die eerste dag van die week uit die graf opgestaan het. Pinkster word gevier op ’n manier wat verskil van die skaduagtige gebruike van die Ou Testament. Baie mense volg die voorbeeld van die vroeë dissipels wat hulleself verootmoedig en voor die Here ondersoek het voordat hulle op Pinksterdag met krag uit die hoogte toegerus is.

Wat die vervulling van die laaste drie feeste betref, erken ons hulle profetiese betekenis, let op die tekens van die tye en berei onsself op die koms van die hemelse Bruidegom voor. Ons wag nie vir die Groot Versoendag nie, omdat dit tydens die nasionale bekering van Israel vervul sal word. Die kruisiging van Christus is ons Versoendag, en ons hou aan om dit te herdenk totdat Hy weer kom. Dan sal die laaste van die sewe feeste vervul wees.

Nuwe-Testamentiese betekenis van die feeste

Daar is altyd oneindig meer in die teenbeeld as in die tipe, omdat daar meer in die werklikheid as in die skaduwee is. Baie gelowiges verdiep hulleself oormatig in die beoefening van skaduagtige rituele, en daardeur mis hulle die konkrete elemente van die volle, Nuwe-Testamentiese openbaring wat deel geword het van ons Christelike erfenis.

As Christene het ons nie ’n opdrag om die feeste in die nuwe dispensasie ná die koms van die Messias te vier nie, aangesien ons veronderstel is om onsself met die Messiaanse substansie van die feeste besig te hou, eerder as met die oorspronklike, skaduagtige aard daarvan. Desnieteenstaande het die feeste groot tipologiese en profetiese betekenis, en kan ons baie baat by die bestudering van Ou-Testamentiese beloftes en tipes wat reeds gedeeltelik in Nuwe- Testamentiese tye vervul is. Die absolute letterlike vervulling van die eerste vier feeste gedurende gebeure rondom die eerste koms van die Messias, bevestig nie net die geloofwaardigheid van die profetiese woord in die algemeen nie, maar lewer ook bewys dat die oorblywende drie feeste ewe letterlik vervul sal word gedurende sy wederkoms.

Baie boeke is geskryf om die belangrike verhouding tussen die feeste en die Messias te beklemtoon, byvoorbeeld  The seven festivals of the Messiah deur Edward Chumney (1994), The gospel in the feasts of Israel deur Victor Buksbazen (1954), Harvest Festivals deur Hugh Downie (1994), en The feasts of Israel: Seasons of the Messiah deur Bruce Scott (1997).

Dit sal in die verdere bespreking aangetoon word dat die eerste vier feeste (Paasfees, Ongesuurde Brood, Eerstelinge en Pinkster) nie alleen in die chronologiese orde vervul is waarin dit gegee is nie, maar ook op presies dieselfde dag in die godsdienstige kalender van die Jode waarop hulle ingestel is. In ’n Nuwe-Testamentiese verband het hierdie feeste betrekking op die kruisiging van Christus, sy begrafnis, sy opstanding en ook op die uitstorting van die Heilige Gees. Ons het alle rede om te glo dat die laaste drie feeste (Basuine, Versoendag en die Huttefees) ewe letterlik vervul sal word.

’n Baie belangrike feit in verband met die feeste is dat hulle gegee is om Israel voor te berei op die koms van die Messias, wat nie alleen hulle Verlosser sou wees nie maar ook die Verlosser van die hele mensdom. Die profeet Jesaja het Israel uitdruklik voorberei op die feit dat die Messias die Redder van alle nasies sal wees, omdat Hy ook buite Israel baie mense vir sy koninkryk sal versamel: “Wend julle tot My en laat julle red, alle eindes van die aarde! Want Ek is God en daar is geen ander nie” (Jes. 45:22). In verband met die Messias het die hemelse Vader die volgende gesê: “En nou sê die Here wat My van die moederskoot af geformeer het om sy Kneg te wees, om Jakob na Hom terug te bring en dat Israel by Hom versamel mag word ... Dit is te gering dat U my Kneg sou wees om op te rig die stamme van Jakob en terug te bring die gespaardes in Israel: Ek het U gemaak tot ’n lig van die nasies, om my heil te wees tot aan die einde van die aarde” (Jes. 49:5-6).

Nog voor die kruisiging van Jesus het Johannes die Doper gesê dat Hy die Lam van God is wat die sonde van die wêreld sou wegneem (Joh. 1:29). Na sy kruisiging, en kort voor sy hemelvaart, het Jesus aan sy dissipels opdrag gegee om die evangelie aan alle nasies te verkondig, selfs tot by die eindes van die aarde (Mark. 16:15; Hand. 1:8).

Tydens die vervulling van die vierde fees (Pinkster) is die wêreldwye omvang van die Messias se verlossingswerk weer sterk beklemtoon deur aan die dissipels ’n gawe te gee om in verskillende tale te kon praat. Op hierdie manier is dit gedemonstreer dat die boodskap van die Messias se verlossing nie alleen aan Israel verkondig moes word nie, maar ook aan alle nasies.

In die lig van hierdie vaste feite is dit duidelik waarom Nuwe-Testamentiese gelowiges aan die Nagmaal deelneem om die koms van Christus te herdenk, toe die eerste drie feeste vervul is. Pinkster word as ’n daaglikse werklikheid ervaar, en die historiese gebeurtenis van die uitstorting van die Gees word dikwels tydens spesiale dienste oor die bediening van die Heilige Gees in herinnering geroep.

Na die Nuwe-Testamentiese openbarings van die Messias weet ons oneindig meer van Hom en sy boodskap van redding en heiligmaking, as wat Israel in Ou-Testamentiese tye geweet het. Dit sou heeltemal irrasioneel wees indien ons ons Nuwe-Testamentiese manier van aanbidding sou afskeep of staak, en dan begin om die skaduagtige gebruike van Israel te onderhou wat gedurende die vorige bedeling van die wet gegeld het. Ortodokse Jode wat nie die Messias erken nie, hou steeds hierdie gebruike in stand.

Aanhangers van die Hebreeuse Wortels-beweging maak ’n fout wanneer hulle die stelling maak dat ons in Israel ingeënt word wanneer ons gelowiges word, en daardeur in ’n geestelike sin Jode word wat verplig is om die feeste op ’n tipies Joodse manier te vier. Die Here Jesus is die Bron van ons lewe – nie Israel nie. Hy is die ware wynstok waarin ons geënt is, soos wat Hy self aan sy dissipels verduidelik het: “Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie” (Joh. 15:5). Ook in die praktiese uitleef van ons geloof moet ons in sy voetspore volg en aan Hom gelykvormig word.

Sommige mense huldig egter ’n verkeerde vertolking van die simbool van die olyfboom wat in Romeine 11:16-24 gebruik word, deur die gevolgtrekking te maak dat ons as gelowiges in die volk Israel ingeënt word. In plaas van om meer soos Christus te word, word hierdie mense meer soos Israel. Hulle onderhou Ou-Testamentiese wette en vier Joodse feesdae, insluitend die Sabbat, en gebruik ook net Hebreeuse name vir die Here. Hierdeur stel hulle die verlossing en vryheid wat hulle in Christus het, in gevaar.

’n Terugkeer na die wet kan hoogs nadelige gevolge in mense se geestelike lewe hê. Paulus sê: “Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval” (Gal 5:4). Indien Jesus Christus nie meer die absolute sentrum van ons lewe is nie, kan groot probleme intree. Mense wat onder die Nuwe Verbond van die Messias leef, is nie onder die wet nie maar onder die genade (Rom. 6:14; 10:4). Die Messias het nie die wette en feeste afgeskaf nie, maar vervul (Matt. 5:17).

Wat die simbool van die olyfboom in Romeine 11 betref, moet daarop gelet word dat dit in werklikheid net die takke is wat die volk Israel voorstel. Hulle is weens ongeloof afgebreek, en ons is beslis nie in die afgebreekte takke ingeënt nie! Israel het sy oorsprong uit God, daarom verwys die wortel van die Olyfboom na God wat die belofte van die Messias aan hulle gegee het. Die Here Jesus het gesê: “Ek is die wortel en geslag van Dawid” (Op. 22:16). Hoewel Hy as ’n mens in die koninklike familie van Dawid gebore is, is Hy ook die Wortel, of Oorsprong van Dawid asook die wortel van Israel as die uitverkore volk.

Abraham, as die stamvader van Israel, is slegs belangrik omdat hy ’n geloofsverhouding met God gehad het as sy geestelike anker: “En hy [Abraham] het in die Here geglo; en Hy het dit hom tot geregtigheid gereken” (Gen. 15:6). Die diep betekenis wat die wortel vir Israel en die nasies inhou, is nie die Joodse volk wat van Abraham afstam nie, en ook nie hulle wette en rituele nie, maar die Messias wat uit hierdie volk gebore is. Jesus is die saad van Abraham, daarom kon Hy vir die Jode sê: “Voordat Abraham was, is Ek” (Joh. 8:58). Dit is die rede waarom God aan Abraham gesê het: “... in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word: (Gen. 12:3). Die Messias, wat die Verlosser van die hele wêreld is, sou uit Israel gebore word. Paulus verwys na die groot betekenis van die Messias se kruisiging: “sodat die seën van Abraham na die heidene kan kom in Christus Jesus, en dat ons die belofte van die Gees deur die geloof kan ontvang” (Gal. 3:14).

Christus is die bron van alle seëninge, en omdat Israel Hom verwerp het, het hulle oor die hele aarde verstrooid geraak. Slegs nadat hulle weer met Hom herenig is, sal hulle in die Olyfboom teruggeënt word waarin ons reeds is (Rom. 11:23-26). Dan sal hulle in die Messias ’n seën vir alle nasies wees (Rom. 11:11-12). Ons moenie probeer om hulle nou na te boots nie, maar slegs aanhou om in die Messias se voetspore te volg. Ons moet hulle jaloers maak op die manier waarop ons die God van Abraham, Isak en Jakob deur die Messias dien. Ons moenie hierdie opdrag nietig maak deur te probeer om Israel se guns te wen deur aan kulturele en godsdienstige aktiwiteite deel te neem waarin Jesus Christus nie duidelik en openlik as die Messias van Israel erken word nie.

Wat die vervulling van die laaste drie feeste aan die einde van die oesseisoen betref, het ons veel meer inligting in die Nuwe Testament oor gebeurtenisse wat verband hou met die wederkoms van Christus en die vestiging van sy vrederyk op aarde, as wat in die Ou Testament se oesfeeste geopenbaar word. Ons moet hierdie profesieë bestudeer en ’n aktiewe verwagting op sy wederkoms opbou, eerder as om op die onderhouding van Ou-Testamentiese tipes ingestel te wees. Hoewel ons baie uit hierdie tipes kan leer, kan hulle nooit met die meer konkrete Nuwe-Testamentiese openbarings vergelyk word nie.

Vervulling van die wet

Die liefde is die vervulling van die hele wet – dit sluit seremoniële sowel as morele wette in. Die woord “vervul” beteken volgens die Strong’s konkordansie: “die beëindiging van ’n tydperk of taak; voleindig; afhandel; afsluit.” Die wet is nie in Christus ontbind nie, maar vervul. Alle verwysings na die opdragte van Christus in die Nuwe Testament, vloei voort uit een enkele opdrag, en dit is om ’n hart te hê wat met goddelike liefde vervul is (Matt. 22:37-39). Hierdie seën kan net in die geloof verkry word op grond van die volbragte werk van Christus aan die kruis. So ’n lewe kan beskryf word as “Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid” (Kol. 1:27). Hy is die verpersoonliking van God se liefde vir ons.

As ons gewortel en gegrond is in die liefde van Christus sal ons sy goddelike liefde, wat alle kennis oortref, ten volle begryp sodat ons vervul kan word tot al die volheid van God (Ef. 3:17-19). So ’n persoon sal nooit terugkeer na die elementêre beginsels en skaduagtige gebruike van die Ou-Testamentiese wet nie omdat hy wat werklik liefhet, die wet vervul het (Rom. 13:8-10). Hy staan voor die uitdaging om uitvoering aan die meer verhewe eise van God se liefde te gee, soos die navolging van Christus, vervulling met die Heilige Gees, volkome heiligmaking, aanhoudende gebed, wêreldevangelisasie, die verkondiging van die Woord by elke geleentheid, die verwerping van die verdorwe beginsels van ’n vervalle wêreld, en betrokkenheid by geestelike oorlogvoering deur die volle wapenrusting van God aan te trek en elke gedagte tot die gehoorsaamheid aan Christus gevange te neem. Die Ou-Testamentiese wet kom nie eers naby aan die bevordering van sulke Christelike deugde nie.

Ons word nie van sonde oortuig deur die Tora nie maar deur die Heilige Gees wat ons Leidsman en Leermeester is. Die standaard waarteen ons gemeet word, is nie die wet nie maar die sondelose lewe van Christus. Die maniere waarop ons uitvoering gee aan sy wet van die liefde bepaal die aard van ons geestelike lewe. Ons gehoorsaam slegs die enkelvoudige gebod van die liefde, alhoewel dit baie verskillende toepassings het. Jesus het aan sy dissipels gesê: “’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê” (Joh. 13:34). ’n Veranderde hart is nodig om aan hierdie opdrag gehoor te kan gee, en dit is presies wat die Heilige Gees vir ons kom doen het (Rom. 5:5).

Op ’n soortgelyke wyse bestudeer ons die Ou-Testamentiese feeste om beter te kan verstaan hoe ons onsself aan God moet toewy en Christus daagliks beter te kan dien. Dit word gedoen sonder om die feeste van Levítikus 23 in hulle oorspronklike vorm te vier. Ons let op hulle tipologiese en profetiese aard en ondersoek dan die Nuwe Testament om te sien hoe die eerste vier feeste vervul is, en ook om vas te stel hoe die laaste drie vervul gaan word. Hoewel nuwe aspekte van God se plan vir die mensdom openbaar word, bly sekere beginsels, asook sy basiese program, onveranderd.

Ongelukkig is daar ’n vinnig groeiende beweging onder sekere Christene in die wêreld om meer wetties te raak in die beoefening van hulle geloof. As gevolg hiervan word die Tora onderhou, asook die Joodse Sabbat. Die Messiaanse Jood, Victor Buksbazen (1954:61-62), beklemtoon die feit dat die besnydenis en die Sabbat net op Judaïsme betrekking het:

“Die Sabbat is diep in die hart van Judaïsme gevestig en is ’n sentrale deel van die Joodse lewe. Die Sabbat en die besnydenis is twee belangrike kenmerke van Judaïsme. Niemand kan in die rabbynse sin as ’n ware gelowige Jood beskou word sonder dat hy beide onderhou nie. Sabbat beteken rus. Dit is by uitstek en spesifiek ’n Joodse rusdag wat deur God by Sinai aan die kinders van Israel gegee is deur sy dienskneg Moses. ... Die Sabbat is eksklusief Israel se erfenis wat onder die wet gegee is aan mense wat onder die wet is. Die nakoming van die Sabbat soos oorspronklik deur God bepaal is, veronderstel die bestaan van ’n heilige tempel, ’n priesterlike orde wat deur God ingestel is, asook ’n offerdiens (vgl. Núm. 28:9-10). Soos wat omstandighede vandag is, kan ’n Jood nie die Sabbat onderhou in sy Bybelse verband nie, omdat die noodsaaklike toestande vir die nakom van sulke voorskrifte nie bestaan nie. Wat die Jode vandag probeer onderhou is die rabbynse weergawe van die Sabbat. Dit is egter ’n aansienlik veranderde Sabbat en dit is selfs nog meer onmoontlik om dit streng na te kom.”

In die vroeë kerk was daar ’n hewige stryd teen die Judaïseerders wat geglo het dat nie-Jode wat Christene word, eers Jode moes word wat aan al die vereistes van die wet voldoen. Die hoofgroep het egter geglo dat Christene nie onder ’n verpligting teenoor die wet gestaan het nie. Op ’n spesiale vergadering van die apostels in Jerusalem is daar besluit dat gelowiges uit die nie-Joodse volke nie onder die wet is nie (Hand. 15:1-29). Riglyne is gegee vir behoorlike morele gedrag, maar sonder enige melding hoegenaamd van die Tora en die Sabbat.

Buksbazen (1954:72) bied die volgende vergelyking aan tussen die Sabbat van die Jode en die Sondagaanbidding van Christene:

Die Joodse Sabbat

Die Christelike Sondag

Die Sabbat, of die sewende dag van die week, herdenk die afgehandelde fisiese skepping – Gen. 2:1-3.

Die eerste dag van die week is opstandingsdag en dui op afgehandelde verlossing – Matt. 28:1-6.

Die Sabbat is ’n verbondsteken tussen God en sy volk Israel: “Spreek jý met die kinders van Israel en sê: Julle moet sekerlik my sabbatte onderhou, want dit is ’n teken tussen My en julle in julle geslagte, sodat die mense kan weet dat Ek die Here is wat julle heilig” (Ex. 31:13).

Die eerste dag van die week dui op gemeenskap tussen die kerk en die Here Jesus: “En op die eerste dag van die week, toe die dissipels vergader het om brood te breek, het Paulus hulle toegespreek” (Hand. 20:7).

Onderhouding van die Sabbat is deur die wet vereis en oortreders met die dood gestraf: “Hy wat dit ontheilig, moet sekerlik gedood word” (Ex. 31:14).

Sondag is ’n dag van vrywillige en spontane aanbidding sonder enige wetlike verpligting – ’n dag van getuienis en arbeid vir die Here.

Die Sabbat is ’n noodsaaklike deel van die verbond van werke.

Sondag verteenwoordig die verbond van genade.

Die Sabbat is die hoogtepunt van die week, en daarop word die mens beloon vir sy moeitevolle arbeid.

Sondag beklemtoon wat God vir die mens gedoen het deur sy eniggebore Seun.

In Jesus Christus het ons die rus van die Here ingegaan. Dit is die vervulde betekenis van die Ou-Testamentiese Sabbat, wat ook saam met die sewe feeste van die Here in Levítikus 23:3 genoem word.

Israel se eindtydse herstel

God se program van feeste het nie slegs die doel gedien om Israel op die koms van die Messias voor te berei nie, maar dit dui ook aan dat Israel as ’n volk eers aan die einde van die Nuwe- Testamentiese oesseisoen, op die Groot Versoendag, gered sal word. Die vervulling van die Paasfees moes hulle Groot Versoendag gewees het, maar die Here het geweet dat die groot meerderheid Israeliete die Lam van God sou verwerp en Hom aan die Romeine sou oorhandig om gekruisig te word. As gevolg daarvan sou daar ’n nuwe dispensasie begin waarin gelowiges uit alle nasies die getuies van Christus in die wêreld sou wees.

Israel sal slegs as ’n volk gered word nadat ’n oes onder al die nie-Jode ingesamel is, en om hierdie rede sal die Groot Versoendag vir hulle die tweedelaaste fees wees. Paulus sê: “... die verharding [het] ten dele oor Israel gekom totdat die volheid van die heidene ingegaan het; en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend” (Rom. 11:25-26). Dit sal ná die kerkbedeling gebeur, wanneer die nie-Jode ruim geleentheid gehad het om tot die koninkryk van God toe te tree.

Die laaste drie feeste word gevier in die sewende maand op die godsdienstige kalender van Israel. Hierdie maand val saam met die einde van die oesseisoen, wat deur die insameling van die naoes afgesluit word. Wanneer hierdie kritieke tydperk in Israel se geskiedenis aan die einde van die kerkbedeling aanbreek, sal hulle as ’n volk steeds ongered wees: “Die oes is verby, die somer is ten einde, en óns is nie verlos nie! (Jer. 8:20). Hoewel dit ’n baie laat uur in die oesseisoen sal wees, sal ’n spesiale geleentheid nogtans aan die Jode gebied word om gered te word: “Ook vir jou, o Juda, is daar ’n oes beskik as Ek die lot van my volk verander” (Hos. 6:11).

Nadat die kerk verheerlik en in die hemel opgeneem is, en die ongelowiges op aarde deur Christus geoordeel is, sal die hele oorblyfsel van Israel gered word en gedurende die regering van die Messias in hulle land gevestig word. Dit sal die vervulling wees van die laaste fees, die Loofhuttefees.

 

3. Vasgestelde Tye van die Feeste

Die chronologiese orde waarin die sewe feeste ingestel is, is baie betekenisvol: “Dit is die feestye van die Here ... wat julle moet uitroep op hulle bepaalde tyd” (Lev. 23:4). Die aangewese tye van die feeste is gedoen binne die raamwerk van Israel se jaarlikse landbouseisoen. In hulle profetiese toepassing openbaar hulle die ontplooiing van God se plan van verlossing deur die eeue. Dit begin by die soendood van die Messias en eindig by sy wederkoms en die instelling van sy vrederyk.

Die feeste word verdeel in twee groepe van vier en drie, wat onderskeidelik die begin en einde van die oesseisoen verteenwoordig. Sewe is die Bybelse getal van volmaaktheid, wat dikwels in Openbaring gebruik word – byvoorbeeld die sewe gemeentes, die sewe seëls, die sewe basuine, ensovoorts. Die spesifieke tye van die feeste, asook hulle betekenis en tipologiese boodskap, is soos volg:

Die Paasfees word gevier op die 14de dag van die lentemaand (Nisan of Abib), en dit is die eerste maand op die godsdienstige kalender. Hierdie fees dui op die dood van Christus.

Ongesuurde Brood volg direk op die dag van die Paasfees en word op die 15de dag van Nisan gevier. Dit is vervul in die begrafnis van die Messias. Deur die offer van sy sondelose lewe het Hy vir ons die ongesuurde Brood van die Lewe geword.

Eerstelinge bestaan uit ’n beweegoffer wat in die lentemaand, op ’n dag ná die Sabbat, gebring moes word. Hierdie fees verwys na die opstanding van Christus, en was die begin van die Fees van die Weke.

Pinkster is die laaste dag van die Fees van die Weke, en vind plaas op die 50ste dag na Eerstelinge. Hierdie fees het vooruit gewys na die uitstorting van die Heilige Gees, en is gevolg deur ’n periode van vier maande waarin die oes ingesamel is.

Basuine is gevier op die eerste dag van die sewende maand en dit dui op die einde van die oesseisoen. Profeties wys dit op die insameling van God se oes van geredde mense in die hemelse skuur, aan die einde van die Messiaanse era.

Die Groot Versoendag word op die 10de dag van die sewende maand gevier en wys vooruit na Israel se nasionale bekering en versoening met die Messias.

Die Loofhuttefees word vanaf die 15de dag van die sewende maand vir ’n week lank gevier, en sluit die oesfees af. Dit is ’n vreugdefees wat ’n tipe is van die Messias se vrederyk op aarde wanneer Hy in die midde sal wees van die geredde oorblyfsel van Israel asook sy verheerlikte kerk.

Deur Israel se feeste binne die verband van ’n landbouseisoen aan te bied, gebruik die Here natuurlike aktiwiteite om geestelike waarhede aan die volk te demonstreer. Die lentefeeste gee ’n aanduiding van die lewensveranderende en wêreldhervormende gevolge van die Messias se koms na die aarde, naamlik die verbreking van geestelike slawerny en die versekering van vryheid vir die volk van God. Die herfsfeeste fokus op die verheerliking van God se volk, oordele oor die ongelowiges, asook die vestiging van ’n regering van geregtigheid op aarde.

Joodse tydrekening

Die Jode gebruik ’n maanjaar waarin elke maand na die verskyning van die eerste skrefie van die nuwemaan begin. Aangesien die siklus van die maan net 29½ dae is, is die lengte van ’n maanjaar 354 dae, vergeleke met die 365¼ dae van ’n sonjaar of seisoensjaar. Hierdie verskil het vir Israel probleme geskep omdat sekere van hulle maande ten nouste met die seisoene van die jaar geassosieer is. Die maand Nisan, wanneer die eerste drie feeste gevier word, moet altyd met die lente saamval omdat hulle dan ’n gerf van die gars moet sny om as ’n beweegoffer vir die Fees van die Eerstelinge gebruik te word. Tisjri is die maand waarin die oes finaal ingesamel word, en in hierdie maand word die laaste drie feeste van die oesseisoen gevier.

Israel het ’n uitgebreide stelsel van skrikkeljare ontwikkel om te verseker dat hulle maanjare gelyklopend met die seisoensjare bly. Binne elke siklus van 19 jaar is die volgende almal skrikkeljare: 3, 6, 8, 11, 14, 17, en 19. By al hierdie jare word daar ’n dertiende maand aan die einde van die godsdienstige kalender tussen Adar en Nisan bygevoeg, naamlik Ve-Adar (Tweede Adar). As gevolg van hierdie skrikkeljare wissel die datums van Joodse feeste aansienlik op die sonkalender, selfs tot ’n maand, maar hulle bly altyd min of meer ooreenstemmend met die siklus van seisoensjare.

Israel het twee maankalenders – die een ’n godsdienstige kalender wat in die lentemaand Nisan begin, en die ander een ’n siviele kalender wat tydens Rosh Hashanah op 1 begin. Die name van die maande is soos volg, met benaderde ekwivalente of die Gregoriaanse sonkalender:

Name van die maande

Stem ooreen met

Aantal dae per maand

Maand in siviele kalender

Maand in godsdienstige kalender

Tisjri

Cheshvan

Kislev

Tevet

Shevat

Adar

Nisan

Iyar

Sivan

Tammuz

Av

Elul

Sep–Okt

Okt–Nov

Nov–Des

Des–Jan

Jan–Feb

Feb–Mar

Mar–Apr

Apr–Mei

Mei–Jun

Jun–Jul

Jul–Aug

Aug–Sep

30

29 of 30

29 of 30

29

30

29 of 30

30

29

30

29

30

29

  1

  2

  3

  4

  5

  6

  7

  8

  9

10

11

12

  7

  8

  9

10

11

12

  1

  2

  3

  4

  5

  6

Dae in Israel verloop tussen sononder en sononder die volgende dag. Die nagte word verdeel in vier nagwake: van sononder tot 9 nm., van 9 nm. tot middernag, van middernag tot 3 vm., en van 3 vm. tot sonsopkoms. Die dae word ook in vier wake verdeel: sonsopkoms tot 9 vm., 9 vm. tot middag, middag tot 3 nm. en 3 nm. tot sononder.

Wanneer dae getel word, word ’n stelsel van inklusiewe berekening gebruik. Omdat ’n gedeelte van ’n dag as ’n volle dag beskou word, kan ’n week (byvoorbeeld van Woensdagmiddag af tot die volgende Woensdagmiddag) ook as agt dae beskryf word omdat altwee Woensdae as volle dae getel word. Die Loofhuttefees in Israel word vir ’n week lank, van die 15de tot die 22ste dag van hulle sewende maand gevier: “Spreek met die kinders van Israel en sê: Op die vyftiende dag van hierdie sewende maand is dit sewe dae lank die huttefees vir die Here. Op die eerste dag moet daar ’n heilige vierdag wees. ... Sewe dae lank moet julle aan die Here ’n vuuroffer bring. Op die agtste dag moet daar vir julle ’n heilige vierdag wees” (Lev. 23:34-36). Die laaste dag van hierdie week, naamlik die agtste dag, was die groot dag van die fees (vergelyk Joh. 7:2, 37).

In Levítikus 23 staan daar die volgende oor die fees van die 50ste dag: “Dan moet julle tel van die dag ná die sabbat, ... sewe volle weke moet dit wees; tot die dag ná die sewende sabbat moet julle vyftig dae tel” (Lev. 23:15-16). Hierdie 49 dae tussen ’n Sondag en ’n ander Sondag sewe weke later, word 50 dae genoem omdat die eerste en laaste Sondae beide as volle dae getel word. In die Nuwe Testament is hierdie twee feeste vervul tydens die opstanding van die Here Jesus op ’n Sondag en die uitstorting van die Heilige Gees sewe weke later, ook op ’n Sondag. “Pinkster” beteken “Vyftigste” – dit is die fees van die vyftigste dag.

Profetiese jare

Afgesien van Israel se maankalender is daar ook ’n profetiese kalender in die Bybel waarin elke maand 30 dae lank is, met ander woorde ’n jaar van 360 dae. Uit Génesis 7:11, 24, en 8:4 is dit duidelik dat die sondvloed vyf maande van 30 dae elk geduur het, met ander woorde 150 dae. In Openbaring 11:2-3, 12:6 en 13:5 is ’n periode van 42 maande – die twee helftes van die verdrukking – presies 1 260 dae lank, wat beteken dat elke maand 30 dae lank is. Hierdie kalender is baie spesifiek, hoewel dit nie geskik is om maansiklusse of seisoensjare mee te bereken nie. Die rede vir die gebruik van ’n profetiese kalender was om te verseker dat ongeag die gebruik van enige ander kalender (byvoorbeeld Israel se maankalender of die Romeine se sonkalender) dit moontlik sou wees om by ’n spesifieke datum uit te kom – byvoorbeeld vir die kruisiging van die Messias.

Daniël 9:24-27 bied ’n duidelike profesie aan oor die tyd van die Messias se kruisiging, wat die vervulling van die Paasfees was. Daniël het tydens die Babiloniese ballingskap van Israel oor die herstel van Jerusalem geprofeteer, en aangedui dat daar van die vergunning af om Jerusalem te herbou, ’n aftelling van 69 jaarweke sou volg tot by die kruisiging van die Messias: “... van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op ’n Gesalfde, ’n Vors, is sewe sewetalle; en twee-en-sestig sewetalle ...” (Dan. 9:25). Die herbouing van Jerusalem het 7 jaarweke lank geduur; daarna het nog 62 jaarweke gevolg totdat die Gesalfde (Christus) deur Israel en die Romeinse heersers “uitgeroei” is (Dan. 9:26).

Daar het 69 jaarweke (483 profetiese jare) verloop vandat koning Artasásta op 1 Nisan 445 v.C. aan Nehemía toestemming gegee het om Jerusalem te gaan herbou (Neh. 2:1-8), tot en met die kruisiging van die Messias op die 14de dag van Nisan 32 n.C. Prof. J.M. Schepers van die Randse Afrikaanse Universiteit (tans die Universiteit van Johannesburg) het in ’n artikel (1984:7-10) daarop gewys dat 483 profetiese jare van 360 dae elk, ’n totaal van 173 880 dae verteenwoordig. Wanneer dit deur 365¼ gedeel word, is dit gelyk aan 476,06 seisoensjare op die Gregoriaanse kalender. Op hierdie kalender het die 69 jaarweke dus tussen 23 Maart 445 v.C. en Vrydag 11 April 32 n.C. verloop, en is beëindig op die Vrydag waarop die Here Jesus gekruisig is.

Dieselfde profetiese kalender sal ook gebruik word vir die aftelling van die komende 70ste jaarweek van Daniël (die verdrukking). Hierdie sewe jaar-tydperk sal die vervulling wees van die sewe verskriklike dae tussen die Fees van Basuine en die Groot Versoendag. Dit sal dus moontlik wees om die verloop van hierdie donker jaarweek presies te kan volg, vanaf die begin daarvan wanneer Israel ’n verbond met die valse messias sal sluit (Dan. 9:27). In die middel van die week, na 42 maande of 1 260 dae, sal hy die tempel ontheilig deur ’n beeld van homself in die Allerheiligste te laat oprig en homself tot God te verklaar. Ná nog 42 maande sal die ware Messias sy voete op die Olyfberg sit en ’n einde maak aan die skrikbewind van die valse messias.

Die Here het dus vir Israel twee spesifieke datums gegee: een oor die eerste koms van Christus en ’n ander een oor die tyd van sy wederkoms. Die eerste een is byna twee millennia gelede al vervul. Die tweede een sal ook op sy bepaalde tyd vervul word, maar die aftelling van sewe jaar sal eers kan begin nadat die valse messias geopenbaar is en ’n verbond met Israel en die nasies gesluit het. Die Bybel openbaar nie aan ons wanneer die tyd van benoudheid vir Jakob sal begin nie, maar die gevorderde stadium van Israel se herstel is ’n aanduiding dat dit nie baie ver in die toekoms kan wees nie.

’n Ander datum waaroor baie mense probeer spekuleer, is dié van die wegraping wanneer die hemelse Bruidegom sy bruid in die geheim sal kom haal en na haar woning in die hemel weg te neem. Hierdie gebeurtenis vorm nie deel van die 70ste jaarweek van Daniël nie en kan dus nie aan ’n datum gekoppel word nie. Hoewel die tekens van die tye aandui dat die wegraping baie naby mag wees, is die spesifieke datum daarvan nogtans nie in die Bybel aan ons geopenbaar nie. Die Here wil hê dat ons so met sy Seun sal wandel dat ons elke dag vir sy wederkoms gereed sal wees.

Wanneer ons op ’n reis deur die sewe feeste vertrek, sal ons altyd die regte historiese verwysingspunt by die eerste koms van Christus hê waar ons nuwe lewe begin het, asook ’n Bybelse toekomsverwagting wat gebaseer is op profetiese beloftes oor sy wederkoms wanneer ons verheerlik sal word en mede-erfgename van ’n hemelse koninkryk sal wees.