Profetiese program in die

Sewe Feeste van Israel

Johan Malan

 

 

Inhoud

Voorwoord

1. Skadubeeld en werklikheid

2. Die vertolking van Bybelse profesieë

3. Vasgestelde tye van die feeste

4. Die Paasfees

5. Fees van die Ongesuurde Brood

6. Fees van die Eerstelinge

7. Pinkster (Fees van die Weke)

8. Die lang onderbreking: insameling van die oes

9. Fees van die Basuine

10. Die Groot Versoendag

11. Die Loofhuttefees

12. Finale oorwinning van die Lam

Verwysings

Oor die outeur

 

Aanbeveling

Dit is met kenmerkende deeglikheid en suiwerheid van begrip dat Johan Malan hierdie boek oor die feeste van Israel geskryf het. Hy bied ’n baie gebalanseerde beskouing aan oor die onderwerp en ruim verskeie misverstande uit die weg oor hoe, waarom en of hierdie feeste in ons tyd gevier moet word. Terselfdertyd stel hy sonder skroom sekere van die ekstremistiese en verkeerde sienings wat oor hierdie onderwerp gehuldig word reg.

Hoe verder ek in die boek gelees het, hoe duideliker het dit vir my geword dat my vriend deur die Heilige Gees gelei word in sy siening oor die profetiese betekenis van die feeste. Hy verbind die feeste van Israel op ’n wonderlike en Bybelse manier met die eerste en tweede koms van die Messias. In hierdie tyd van verwarring en misleiding is dit besielend om ’n boek teë te kom wat nie alleen teologies suiwer is nie, maar ook baie leesbaar en insiggewend is. Die groot saak van die Verlosser wat uit die hemel gekom het om sy liefde aan ons te bewys en Homself vir ons oor te gee, is deurgaans die belangrikste onderwerp van bespreking.

Ek kan met vrymoedigheid sê dat hierdie boek ’n waardevolle bydrae sal lewer tot eindtydse literatuur. Dit sal jou en my help om die tyd waarin ons leef beter te verstaan en ons met heilige afwagting vervul vir die dinge wat nog moet gebeur. Die boek moes lankal verskyn het, en ek beveel dit baie sterk aan by Jode sowel as nie-Jode vir wie dit ’n saak van erns is om in die volle raad van God te wandel.

John Haupt

Margate

Christelike skrywer en toerleier na Israel