9. Verlossing aan die Kruis

Gebed: Ons aanbid U, Here Jesus, as die Seun van God wat Uself oorgegee het om aan ‘n kruishout op Golgota die straf vir ons sonde te betaal. Watter onuitspreeklike voorreg is dit nie om deur U in genade aangesien te word en van al ons sonde en ongeregtigheid gereinig te word nie! U het ons van die duisternis van verlorenheid af na u ewige heerlikheid geroep. Aan almal wat U aangeneem het, het U ook belowe om die Heilige Gees as Trooster en Leidsman te stuur om ons in die hele waarheid van u Woord te lei. Ons herdenk op hierdie Pinkster-Sondag daardie wonderlike gebeurtenis van die uitstorting van u Gees oor 120 dissipels wat in verootmoediging op die vervulling van dié belofte gewag het. Watter groot dinge het U nie tot die eer van u Naam deur die eeue heen bereik deur die getuienis van ‘n relatief klein groepie getroue dissipels nie. Wat ‘n voorreg om onder hulle gereken te word, en wat ‘n voorreg om vir so ‘n belangrike taak deur u Heilige Gees toegerus te word. Ons buig in diepe dankbaarheid voor u genadetroon en bid dat die Naam van die Here Jesus in ons lewens verheerlik sal word, amen.

Die groot boodskap wat die Heilige Gees op alle dissipels van Jesus se harte druk, is die kruisevangelie. Hy maak die gekruisigde Christus ‘n werklikheid in ons lewens, want dit is die rots waarop ons geloof berus. Identifikasie met die kruis van Christus is ook die grondslag vir die tweede genadewerk van heiligmaking. As ons saam met Hom sterf, sal ons ook saam met Hom leef. Paulus het gesê hy verkondig Christus wat gekruisig is (1 Kor. 1:23). Sonder die verkondiging van die Here Jesus se bloed wat aan die kruis vir die versoening van ons sonde gestort is, kan niemand gered word nie: “Hom het God voorgestel in sy bloed as ‘n versoening deur die geloof” (Rom. 3:25).

In die ses ure waarin die Here Jesus sy lewe aan die kruis afgelê het (dit was van 9-uur die oggend tot 3-uur die middag – in Israel is dit tussen die 3de en 9de uur van die dag) het Hy baie min gepraat. Die sewe uitsprake wat Hy wél gemaak het, het saam minder as ‘n minuut geduur. Nogtans was dit die mees betekenisvolle woorde van vergifnis, reddende genade, vertroosting en oorwinning oor die magte van Satan wat Jesus Christus te midde van intense sterwensnood uitgespreek het. Dié woorde was die volgende:

1. “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie” (Luk. 23:34). Jesus het sy grenslose liefde en genade getoon toe Hy tydens sy onregverdige veroordeling en teregstelling vir sy oortreders gebid het. Voor sy kruisiging het Hy al vir die geestelik verblinde inwoners van Jerusalem gebid. Hulle het groot ellende en internasionale verstrooiing in die gesig gestaar omdat hulle die gunstige tyd toe God hulle deur sy Seun besoek het, nie opgemerk het nie. Hierdie gebed van begenadiging vir sy oortreders is verhoor deurdat duisende Jode deur die eeue heen vir Jesus as Messias aangeneem het. In die eindtyd sal daar ook ‘n groep wees wat sal opsien na Hom vir wie hulle deurboor het, en bitterlik oor Hom sal ween (Sag. 12:10).

2. “En toe Jesus sy moeder sien en die dissipel wat Hy liefgehad het, by haar staan, sê Hy vir sy moeder: Vrou, dáár is u seun! Daarop sê Hy vir die dissipel: Dáár is jou moeder! En van daardie uur af het die dissipel haar in sy huis geneem” (Joh. 19:26-27).

Jesus het met hierdie uitspraak veel meer as net die versorging van sy moeder, Maria, in gedagte gehad. Hy dra hier ook sy moeder (Israel) aan die sorg van sy dissipel (die kerk) op. In die Ou Testament word Israel dikwels as ‘n getroude vrou voorgestel uit wie die Messias gebore sou word. Jeremia 31:4 verwys na die jonkvrou van Israel, terwyl Jesaja 54:5 Israel ook as ‘n vrou beskryf. In Openbaring 12 verwys die vrou en haar manlike kind wat die nasies met ‘n ystersepter sal regeer, na Israel en die Here Jesus.

Die kerk het beslis ‘n taak om Israel te vertroos, te bemoedig, te versorg en dié volk ook jaloers te maak oor manier waarop ons die God van Abraham, Isak en Jakob deur haar Seun, Jesus, dien (Rom. 11:11-12).

3. “Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees” (Luk. 23:43). Aanvanklik het die rowers wat saam met Jesus gekruisig is, altwee met Hom gespot en Hom beledig (Matt. 27:44). Later het die een tot die besef van sy sondigheid en van Jesus se regverdigheid gekom, en om genade gepleit (Luk. 23:39-42). Die Here Jesus het dadelik op hierdie hartsverandering gereageer en aan ‘n verlore sondaar die sekerheid van die ewige lewe gegee. Hierdeur het Hy ‘n belofte gestand gedoen wat deur die eeue heen tot vandag toe nog steeds geld: “Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie” (Joh. 6:37).

Uit die wonderbaarlike bekering van ‘n geharde sondaar aan die kruis, weet ons dat die groot Geneesheer juis vir geestelik sterwendes gekom het, en nie vir diegene wat hulleself regverdig en meen dat hulle sonder Jesus se reddende genade kan klaarkom nie. Ons weet ook dat daar geen sonde is wat so groot is dat dit nie volkome en onmiddellik vergewe kan word nie. Verder weet ons dat daar sterwensgenade is vir enigeen wat die vallei van doodskaduwee betree, solank hy of sy in die geloof die hand na die Here Jesus uitstrek. Ons sien in hierdie gebeurtenis ook dat bekering ‘n geloofstap is wat sonder die bemiddeling van ander mense óf die beoefening van ‘n sakrament gedoen kan word. Dit onthef ons egter nie van ons verpligting om met die evangelie na ander mense uit te reik nie, want “die geloof is uit die gehoor,” daarom moet die boodskap dat Jesus red tot aan die eindes van die aarde weerklink (Rom. 10:17-18). Die rower aan die kruis was deel van die Gólogta-gebeure en kon regstreeks op grond daarvan ‘n besluit neem. Ons opdrag is om alle mense op aarde met hierdie feite te konfronteer.

4. “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Matt. 27:46). Van 12-uur af tot 3-uur die middag toe Jesus aan die kruis gesterf het, het daar duisternis oor die aarde toegesak (Mark. 15:33). Dit was ‘n aanduiding dat daar, geestelik gesproke, donker wolke van die hele mensdom se sondes oor die Here Jesus gehang en skeiding tussen die veroordeelde Seun en sy Vader gebring het. Jesus het vrywillig as onskuldige die plek van ‘n misdadiger ingeneem sodat die sondes van alle mense op Hom gelê kon word en Hy die regverdige straf daarvoor kon uitdien. “Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom” (Jes. 53:5).

Die Vader het die ongeregtigheid van ons almal op Jesus laat neerkom (Jes. 53:6), en Hom sodoende die voorwerp van sy toorn oor die sonde gemaak. “Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom” (2 Kor. 5:21). Op hierdie oomblik toe sy Seun deur die sondeskuld van ‘n verlore mensdom bedek is, het die Vader van Hom af weggekyk. Jesus was besig om te sterf, en in daardie angsvolle oomblikke alleen aan die kruis het Hy in sy menslike natuur uitgeroep: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” Hy het volkome die plek van alle verlore sondaars ingeneem wat van God verlate is, en wat deur die donkerte van goddelike toorn en oordeel omring word.

5. “Ek het dors” (Joh. 19:28). Persone wat gekruisig is, het ‘n geweldige dors beleef, en hulle het na water gesmag terwyl hulle die dood in die gesig gestaar het. In ‘n Messiaanse Psalm wat op die dood van Jesus dui, het Dawid dit só beskryf: “My krag is verdroog soos ‘n potskerf, en my tong kleef aan my verhemelte; en U lê my neer in die stof van die dood” (Ps. 22:16).

Christus se dood was iets veel erger as ‘n gewone mens se dood. Hy is deur die totale sondelas van ‘n gevalle mensdom gekonfronteer en moes onder die toorngloed en oordele van God sy lewe aflê: “...my hart het soos was geword; dit het gesmelt binne-in my ingewande” (Ps. 22:15). Hy was inderdaad in ‘n plek van godverlatenheid waar ‘n ewige dors heers. Die verlore ryk man was terdeë van hierdie dors bewus toe hy sy oë in die doderyk oopgemaak het (Luk. 16:24). Jesus het alleen die straf namens ons gedra.

In hierdie én die vorige kruiswoord wat Jesus kort voor sy dood uitgespreek het, word die groot teenstellings van die Gólgota-gebeure uitgedruk:

·       Die grootste antitese waaruit al die ander teenstellings voortvloei, is dat Jesus gesterwe het sodat ons kan lewe (Joh. 3:16).

·       Jesus was van God verlate sodat ons nooit deur God begewe of verlaat sal word as ons deur Christus met Hom versoen is nie (Heb. 13:5).

·       Omdat Jesus dors was, kan Hy ons geestelike dors les sodat ons in ewigheid nooit weer dors sal kry nie (Joh. 4:14; 6:35).

·       Hy het naak aan die kruis gehang, sodat ons met die klere van heil beklee kan word (Joh. 19:23; Rom. 13:14; Op. 3:18).

·       Hy het arm geword, sodat ons deur sy armoede die rykdomme van God se genade deelagtig kan word (2 Kor. 8:9).

6. “Vader, in u hande gee Ek my gees oor!” (Luk. 23:46). Jesus het self sy lewe afgelê en stel met hierdie woorde sy gees in die hande van sy Vader. Hy het dit gewillig en bewustelik gedoen (Joh. 10:17-18). Direk hierna, met sy laaste asem, het Hy gesê:

7. “Dit is volbring!” (Joh. 19:30). Die Griekse weergawe van Jesus se sterwenswoord is tetelestai. Hierdeur word die voltooiing van sy sending om die losprys vir ons sonde te betaal, uitgedruk. Omdat die doodstraf volgens die eis van God se geregtigheid uitgedien moes word (Rom. 6:23), kon Jesus nie hierdie woord uitspreek voordat sy sterwensoomblik aangebreek het nie. Dit was die kritieke oomblik van sy verlossingswerk aan die kruis. In die tyd van Jesus het die woord tetelestai ‘n besondere betekenis gehad, wat in ag geneem moet word as ons ten volle wil begryp wat Hy hier gesê het. Vir die mense van daardie tyd het dit veel meer inhoud gehad as vir ons vandag.

In die eerste plek is die woord tetelestai in Bybelse tye as die sleutelwoord op ‘n kwitansie gebruik. Dit het die betekenis gehad van ten volle betaal. Het die gedagte ooit by jou opgekom dat die Here Jesus jou gekoop het toe Hy sy bloed gestort en sy lewe vir jou afgelê het? Paulus herinner ons hieraan wanneer hy sê: “Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort” (1 Kor. 6:20). Petrus sê: “Julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos” (1 Pet. 1:18-19). Die getuienis van die ouderlinge in die hemel bevestig die feit dat hulle ten volle daarvan bewus is dat hulle lewens deur die bloed van die Lam gekoop is: “U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie” (Op. 5:9).

Het jy die versekering dat jou sondes betaal is? Voldoen jy aan die vereistes van bekering en die belydenis van jou sondes ten einde vergifnis daarvoor te kan verkry? Die Bybel sê: “Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind” (Spr. 28:13; kyk ook 1 Joh. 1:8-9).

Tweedens was dit in antieke tye algemene praktyk om die klagstaat van ‘n gevangene aan sy seldeur vas te spyker. Die oortredings waarvoor hy veroordeel is, is daarop aangeteken, asook die vonnis wat hom opgelê is. Nadat hy sy tronkstraf uitgedien het, is die klagstaat van die seldeur verwyder en uitgekanselleer deur in groot letters daaroor te skryf: TETELESTAI (Ten volle uitgedien). Daarna is dit aan die betrokke persoon oorhandig, en niemand kon hom ooit weer vir dié oortredings aankla nie – hy het die vonnis uitgedien en daardeur die prys vir sy misdade betaal.

In ‘n geestelike sin is alle mense gevangenes van Satan, “want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (Rom. 3:23). Aangekla deur hulle sonde is hulle in die mag van Satan waar hulle in sy dodeselle hulle verhoor en veroordeling na die ewige dood voor die groot wit troon afwag. Die tronkbewaarder is die duiwel self, en geen persoon kan homself uit sy mag bevry en die doodstraf wat op hom wag, vryspring nie.

Om verlore sondaars te kan red, het Jesus Christus gewillig die doodstraf uitgedien wat in beginsel reeds oor alle sondaars uitgespreek is (Rom. 6:23). Ná sy opstanding uit die dode is Hy in ‘n posisie om die klagstaat van elke verlore sondaar uit te kanselleer deur met sy bloed daaroor te skryf: Tetelestai – die vonnis is betaal. Paulus sê: “En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het, en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael” (Kol. 2:13-14). Die straf vir alle sonde is ten volle aan die kruis betaal.

Is al die sondes waarvoor die duiwel jou by die troon van God aangekla het, uitgewis deur die bloed van die Lam? Indien wel, dan kan niemand jou ooit weer hiervoor aankla en beskuldig nie. Dit maak nie saak hoe ernstig hierdie oortredinge was nie, want die straf daarvoor is reeds ten volle betaal. Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus jou vrygekoop het (Gal. 5:1).

‘n Derde gebruik vir die term tetelestai was in verband met suksesvolle militêre operasies teen die vyand. Wanneer ‘n generaal van die slagveld af teruggekeer het, het hy van sy krygsgevangenes in die strate geparadeer en sy oorwinning geproklameer deur uit te roep: Tetelestai... tetelestai... Deur hierdie uitroep van oorwinning is ‘n duidelike stelling gemaak, naamlik die oorwinning is behaal, of die sending is voltooi (Eng. “mission accomplished”).

Hoewel dit Jesus se sterwenswoord aan die kruis was, het Hy sy oorwinning oor die vyand aangekondig deur uit te roep: Tetelestai! Om te sterwe was vir Hom ‘n groot oorwinning, “sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het – dit is die duiwel – en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was” (Heb. 2:14-15). Dit was ‘n groot triomf oor die vyand van ons siele: “Hy [het] die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer” (Kol. 2:15). Die Here Jesus het wél oor die vyand getriomfeer, maar Hy het hom nie uitgewis nie. Die duiwel is steeds baie aktief op aarde, daarom word ons opgeroep om deelgenote van die oorwinning op Gólgota te word (Rom. 8:37).

Dit was hoogs dramatiese oomblikke toe Jesus sy lewe aan die kruis afgelê en daardeur die Verlosser van ‘n verlore mensdom geword het. Dit het die Nuwe Testamentiese bedeling ingelui, wat ‘n wonderlike verskil in die mens-God-verhouding gemaak het.

Die voorhangsel in die tempel het van bo na onder in twee geskeur. Hierdeur is vrye toegang na die genadetroon van God vir elke persoon verseker. In die Ou Testament kon slegs die Hoëpriester een keer per jaar die Allerheiligste betree om met die bloed van offerdiere versoening vir die volk se sonde te doen. Die gebroke liggaam en gestorte bloed van Jesus het egter ‘n eenmalige en blywende versoening geskep vir almal wat dit wil aanneem. Ons het ook nie menslike middelaars soos profete nodig om namens ons tot God se troon toe te tree nie: “Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees, en ons ‘n groot Priester oor die huis van God het, laat ons toetree met ‘n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid” (Heb. 10:19-22).

Tydens Christus se sterwensoomblik het daar ‘n aardbewing plaasgevind, die grafte van ontslape heiliges het oopgegaan en hulle het uit die dood opgestaan. Die Here Jesus het die mag van die dood verbreek sodat dit die regverdiges nie kan insluit en behou nie, daarom sal daar vir elkeen wat glo ‘n opstanding tot die lewe wees. Jesus het gesê: “Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe” (Joh. 11:25).

Ná die drie uur lange duisternis nét voor die dood van Jesus, het die lig skielik weer helder deurgebreek. Gólgota was in ‘n nuwe ligglans gehul, en die getuienis van hierdie gebeure sou deur die eeue heen vir miljoene mense die duisternis van sonde en verlorenheid verdryf en laat opklaar. Elkeen van ons wat sy reddende genade deelagtig geword het, is ‘n gesant om te verkondig die deugde van Hom wat ons uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig (1 Pet. 2:9).

Toe die Romeinse soldate “die aardbewing sien en die dinge wat daar gebeur, het hulle baie bevrees geword en gesê: Waarlik, Hy was die Seun van God” (Matt. 27:54). Selfs heidene wat geen kennis van die Messiaanse profesieë van die Ou Testament gehad het nie, het bewende tot die gevolgtrekking gekom dat Jesus die Seun van God is. Die Here bied versoening deur die bloed van Christus aan elke volk en taal en stam en nasie tot aan die eindes van die aarde aan.

Omdat Jesus gehoorsaam was om Homself tot in die donker dieptes van die kruisdood te verneder, het God Hom opgewek uit die dode, Hom “uitermate verhoog en Hom ‘n Naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van die Vader” (Fil. 2:6-11).

Elke persoon op aarde sal die knie voor Jesus Christus moet buig en erken dat Hy Here en God is. Dit is ons taak as Christene om die mensdom op ‘n ontmoeting met Christus voor te berei. Óf hulle buig nou by sy genadetroon voor Hom en aanvaar Hom as hulle Verlosser, óf hulle sal eendag by die groot wit troon voor Hom verskyn om deur Hom tot die poel van vuur verdoem te word. Hy is óf jou Verlosser, óf Hy sal jou Regter wees.

Die skadu’s van die kerkbedeling is besig om lank te rek en die tyd loop vinnig uit. Laat ons die meeste van die oorblywende tyd maak en dit uitkoop om die Here te dien en sy koninkryk op aarde uit te brei. Soos Jesus, moet ons ook ‘n dringendheid omtrent ons opdrag hê: “Ek moet die werke doen van Hom wat My gestuur het, so lank as dit dag is; die nag kom wanneer niemand kan werk nie” (Joh. 9:4). Die nag van God se oordele in die groot verdrukking kom vinnig nader, en daar is nog baie onafgehandelde werk in sy koninkryk voordat die basuin sal blaas. Verlorenes moet gered word en Christene voorberei word vir die ontmoeting met die hemelse Bruidegom.

Gebed: Dankie, o Here, dat U ons besoek en ryklik geseën het. Gee dat elkeen van ons saam met Paulus sal kan sê: “Ek roem in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld.” Gee dat ons só sal sterf vir die wêreld en die sonde dat ons rein kanale sal wees waardeur u Heilige Gees kan werk om die boodskap van verlossing in ‘n sondige wêreld te laat weerklink. Beklee ons met die gekruisigde Here Jesus en help ons deur u Gees om die reuk van sy kennis oral te versprei. Maak ons toonbeelde van sy selfopofferende liefde en gee dat ons nie in ‘n lewe van eiebelang en selfsugtigheid sal verval nie. Ons kom kniel voor die kruis om opnuut elke las af te lê, en ook die sonde wat ons so maklik omring. Gee dat ons as begenadigdes van die Here vas sal staan in die vryheid waarmee Christus ons vrygekoop het en selfs ten bloede toe weerstand sal bied teen die sonde. Gee dat ons nie as gevolg van nalatigheid, hoogmoed of ander sondes onbevoeg sal raak om getuies vir Christus te wees nie. Hou ons trou, Here Jesus, en word verheerlik in ons lewens. Ons vra dit uit diepe afhanklikheid van U, amen.