3. Soendood van die Lam van God

Dit is belangrik om duidelikheid te verkry oor die tyd en omstandighede van die Here Jesus se soendood net buite Jerusalem op Goeie Vrydag, byna 2 000 jaar gelede. Die historiese gebeurtenis sowel as die diep geestelike betekenis van die kruisiging moet duidelik verstaan word. Daar is meningsverskille oor die dag waarop Christus gekruisig is, daarom bespreek ons eers die drie dae van die Paasnaweek. Daarna verskuif die klem na die groot heilswaarde van hierdie gebeure.

Goeie Vrydag en Paassondag

Ons moet eerstens die drie dae tussen die kruisiging en opstanding van Christus in hulle korrekte historiese verband plaas.

Die Here Jesus vergelyk sy begrafnis en opstanding uit die dood met die ondervinding van Jona: “Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees” (Matt. 12:40). In Jona 1:17 staan daar: “... en Jona was drie dae en drie nagte in die ingewande van die vis.” John Hanna (1985:1467) sê die volgende hieroor: “Die uitdrukking ‘drie dae en drie nagte’ dui nie noodwendig ’n periode van 72 uur aan nie, omdat dit een dag en gedeeltes van twee ander dae kan wees.” Vergelyk in hierdie verband ook Ester 4:16 en 5:1, waar Ester ’n vastyd van drie dae en drie nagte beveel het, maar op die derde dag, voordat die dag verby was, het sy reeds haar doel met die vas bereik.

Sommige mense het ’n probleem met die siening dat Jesus nie drie volle dae en nagte (m.a.w. 72 uur) in die graf was nie, en wend pogings aan om sy kruisiging van die Vrydag af na die Woensdag te vervroeg. Die feit is egter dat die Jode inklusiewe tydrekening beoefen waarin ’n gedeelte van ’n dag ook as ’n volle dag beskou word. Louis Barbieri (1983:47) sê die volgende oor Matthéüs 12:40: “Aangesien die Jode ’n deel van ’n dag as ’n vol dag beskou het, sou die ‘drie dae en drie nagte’ kon inhou dat die kruisiging Vrydag was.” In ’n addendum tot die Strong’s konkordansie, Harmony of the Gospels, word 41 gebeurtenisse wat  plaasgevind het gedurende die week van Jesus se kruisiging, vanaf sy intog in Jerusalem op ’n Sondag tot met sy kruisiging en begrafnis die volgende Vrydag, saam met Skrifverwysings gelys (Strong, 1990). Hierdie opeenvolging van gebeure bevestig bo alle twyfel dat Hy op ’n Vrydag gekruisig is.

Volgens die Bybel, asook ander ondersteunende bronne, is Jesus die Vrydagmiddag kort voor die aanbreek van die Sabbat begrawe, en het Hy vroeg op die eerste dag van die volgende week (Sondag) opgestaan. Die dag waarop Hy gekruisig is (Vrydag), was dus die eerste dag van die Paasgebeure, Saterdag (die Sabbat) was die tweede dag, en Sondag (sy opstandingsdag) die derde dag. In die Joodse chronologie word só ’n tydperk as “drie dae en drie nagte” beskryf, of bloot net as “drie dae.” Joodse dae strek vanaf sononder tot sononder. Die derde dag ná die kruisiging het dus die Saterdagaand teen sononder al begin.

Die Emmausgangers bevestig hierdie feite. Die dag toe Jesus opgestaan het (die Sondag), was hulle op pad na Emmaus (Luk. 24:13). Onbewus daarvan dat Jesus self by hulle aangesluit het, vertel hulle van die gebeure rondom sy kruisiging wat vroeg die Vrydagoggend begin het, en voeg by: “Ons het gehoop dat dit Hy was wat Israel sou verlos; maar nou is dit vandag, met dit alles, die derde dag vandat dit plaasgevind het. Maar sommige vroue uit ons het ons ook ontstel toe hulle vroeg by die graf was; en toe hulle sy liggaam nie kry nie, het hulle ook gekom en gesê dat hulle ’n gesig gesien het van engele wat sê dat Hy lewe” (Luk. 24:21-23). Sondag was dus die derde dag sedert die kruisiging van Jesus, wat die vorige  Vrydag plaasgevind het.

Op hierdie Sondagmiddag, die derde dag, toe die Emmausgangers met Jesus gepraat het, het Hy etlike ure vroeër reeds uit die graf opgestaan: “En op die eerste dag van die week kom Maria Magdalena vroeg, terwyl dit nog donker was, by die graf en sien dat die steen van die graf weggeneem was” (Joh. 20:1). Nadat Jesus met die Emmausgangers in gesprek was het Hy, nog steeds op die dag van sy opstanding, ook aan sy dissipels verskyn (Joh. 20:19).

Jesus was dus net ’n gedeelte van die derde dag in die graf, net soos wat Hy slegs ’n gedeelte van die voorafgaande Vrydag in die graf was. Die Jode ag dit nietemin as drie dae en nagte, al is net gedeeltes daarvan ter sprake. Die Emmausgangers se gesprek skakel alle spekulasie oor ’n vroeëre dag vir die kruisiging uit. Indien Christus Woensdag (die vierde dag van die week) gekruisig en begrawe is, dan sou dit op die volgende Sondag al reeds die vyfde dag gewees het sedert dit gebeur het, maar hierdie manne sê duidelik dat dit “die derde dag” was!

Joodse tydrekening

Omdat ’n gedeelte van ’n dag in inklusiewe tydrekening as ’n volle dag beskou word, kan ’n week (bv. van Woensdagmiddag af tot die volgende Woensdagmiddag) ook as agt dae beskryf word omdat altwee Woensdae as volle dae getel word. Die loofhuttefees in Israel word vir ’n week lank, van die 15de tot die 22ste dag van hulle sewende maand gevier: “Spreek met die kinders van Israel en sê: Op die vyftiende dag van hierdie sewende maand is dit sewe dae lank die huttefees vir die Here. Op die eerste dag moet daar ’n heilige vierdag wees ... . Sewe dae lank moet julle aan die Here ’n vuuroffer bring. Op die agtste dag moet daar vir julle ’n heilige vierdag wees” (Lev. 23:34-36). Die laaste dag van hierdie week, naamlik die agtste dag, was die groot dag van die fees (vgl. Joh. 7:2, 37).

In Levítikus 23 staan daar die volgende oor die fees van die 50ste dag: “Dan moet julle tel van die dag ná die Sabbat, ... sewe volle weke moet dit wees; tot die dag ná die sewende Sabbat moet julle vyftig dae tel” (Lev. 23:15-16). Hierdie 49 dae tussen ’n Sondag en ’n ander Sondag sewe weke later, word 50 dae genoem omdat die eerste en laaste Sondae beide as volle dae getel word. In die Nuwe Testament is hierdie twee feeste vervul tydens die opstanding van die Here Jesus op ’n Sondag en die uitstorting van die Heilige Gees sewe weke later, ook op ’n Sondag. “Pinkster” beteken “Vyftigste” – dit is die fees van die vyftigste dag.

Die Ou Testamentiese fees van die eerste vrugte is op sy regte tyd in die Nuwe Testament vervul, naamlik op die Sondag waarop dit begin het en die Sondag waarop dit sewe weke later afgesluit is. Let op die duidelike bepalings vir albei feeste: “... die dag ná die Sabbat.” Sondag is die eerste dag van ’n nuwe week, of dispensasie, in God se raadsplan vir die mens. In die huidige bedeling word die opstanding van Jesus spontaan elke week op Sondae as die dag van die Here gevier.

Die fees van die eerstelingsgerf in Levítikus 23 is die vroegste aanduiding in die Ou Testament van ’n toekomstige Sondagviering as ’n Christusfees. Op dié dag verkondig ons die boodskap: “Hy het opgestaan – Hy leef!” Jesus self het op die Sondag van sy opstanding die eerste preek van die nuwe bedeling gelewer, asook ’n week later, weer op ’n Sondag, die tweede een (Joh. 20:19-29). Daarna het die dissipels gereeld op Sondae bymekaargekom (vgl. Hand. 20:7 en 1 Kor. 16:1-2). Die uitstorting van die Heilige Gees as die geestelike toerusting vir wêreldevangelisasie, het ook op ’n Sondag plaasgevind.

Die kruisiging van die Here Jesus op Goeie Vrydag, sy opstanding drie dae later op ’n Sondag, asook die uitstorting van die Heilige Gees op ’n Sondag, is kerndatums op die   Christelike kalender. Sy hemelvaart het op ’n Donderdag plaasgevind, 40 dae ná sy opstanding en tien dae voor die uitstorting van die Heilige Gees.

Die kruisigingsdatum volgens Daniël

In Daniël 9:24-27 word daar ’n duidelike profesie oor die tyd van die Messias se kruisiging aangebied. Daniël het tydens die Babiloniese ballingskap van Israel oor die herstel van Jerusalem geprofeteer, en aangedui dat daar van die vergunning af om Jerusalem te herbou, ’n aftelling van 69 jaarweke sou volg tot by die kruisiging van die Messias: “... van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op ’n Gesalfde, ’n Vors, is sewe sewetalle; en twee-en-sestig sewetalle ...” (Dan. 9:25). Die herbouing van Jerusalem het 7 jaarweke lank geduur; daarna het nog 62 jaarweke gevolg totdat die Gesalfde (Christus) deur Israel en die Romeinse heersers “uitgeroei” is (Dan. 9:26).

In hierdie profesie word daar van profetiese jare van 360 dae elk gebruik gemaak, waarin elke maand 30 dae het (vgl. Op. 11:2-3, waar 42 profetiese maande presies 1260 dae lank is.                  Uit Gen. 7:11, 24 en 8:4 is dit ook duidelik dat die sondvloed vyf maande van 30 dae elk geduur het, m.a.w. 150 dae). Die rede vir die gebruik van die profetiese kalender was om te verseker dat daar ongeag die gebruik van ander kalenders (bv. Israel se maankalender of die Romeine se sonkalender) steeds by ’n presiese datum vir die kruisiging uitgekom kon word.

Daar het 69 jaarweke (483 profetiese jare) verloop vandat koning Artasásta op 1 Nisan 445 v.C. aan Nehemía toestemming gegee het om Jerusalem te gaan herbou (Neh. 2:1-8), tot met die kruisiging van die Messias op 14 Nisan 32 n.C. Prof. J.M. Schepers van die Randse Afrikaanse Universiteit het in ’n artikel (1984:7-10) daarop gewys dat 483 profetiese jare van 360 dae elk, ’n totaal van 173 880 dae verteenwoordig. Wanneer dit deur 365¼ gedeel word, is dit gelyk aan 476,06 seisoensjare op die Gregoriaanse kalender. Op hierdie kalender het die 69 jaarweke dus tussen 23 Maart 445 v.C. en Vrydag 11 April 32 n.C. verloop, en is beëindig op die Vrydag waarop die Here Jesus gekruisig is.

Die Pasga

Die vervulling van die Ou Testamentiese Pasga was met die kruisiging van die vlekkelose Lam van God wat in die volheid van die tyd mens geword het om vir ons sy lewe af te lê. Petrus het na die onberekenbare offer van hierdie Lam verwys toe hy gesê het: “… julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ’n lam sonder gebrek en vlekkeloos” (1 Pet. 1:18-19). Palus sê: “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade” (Ef. 1:7); en ook: “... sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie” (Heb. 9:22).

Weens die tipologiese aard van die Pasga as ’n heenwysing na die offer van die Lam van God, was dit duidelik dat hierdie fees tydens een van die toekomstige vierings daarvan vervul sou word. Die Here Jesus is inderdaad op die dag van die Pasgaviering gekruisig. Volgens Markus 14:1-2 wou die Jode só ’n situasie vermy: “En die Pasga … sou oor twee dae wees; en die owerpriesters en die skrifgeleerdes het gesoek hoe hulle Hom met lis gevange kon neem en doodmaak. Maar hulle het gesê: Nie op die fees nie, sodat daar nie miskien ’n oproer onder die volk kom nie.”

Die Jode kon egter nie daarin slaag om die stiptelike vervulling van hierdie fees te voorkom nie, en Jesus is op Vrydag die 14de Nisan (11 April 32) gekruisig. Hy het op die negende uur (3 nm.) die asem uitgeblaas (Mark. 15:34-37), op presies dieselfde uur toe die lam tydens die eerste Pasga in Egipte geslag is. Pilatus was verwonderd dat Jesus so gou gesterf het, en het toestemming vir sy begrafnis verleen (Mark. 15:42-45). Dit is nog voor die Vrydagaand 6-uur afgehandel toe die Sabbat sou begin en niemand dan begrawe kon word nie (Luk. 23:52-54; Joh. 19:31).

Ons lees die volgende oor die kruisigingsdag in Markus: “En toe dit aand geword het, omdat dit die voorbereiding was, dit is die voorsabbat, kom daar ’n vername raadslid, Josef van Arimathéa … om na Pilatus in te gaan en die liggaam van Jesus te vra” (Mark. 15:42-43). John Grassmick (1983:191) sê die volgende oor dié teks: “Jesus se begrafnis het amptelik sy dood bevestig. Die uitdrukkings voorbereiding en voorsabbat is tegniese terme vir Vrydag wat op die dag voor die Sabbat dui, soos wat Markus aan sy nie-Joodse lesers verduidelik. Omdat daar geen werk op die Joodse Sabbat gedoen mag word nie, is al die voorbereidings daarvoor op Vrydae gedoen. Hierdie verwysing bevestig die feit dat Jesus op ’n Vrydag gekruisig is.”

Vrydag (die Voorsabbat, of Dag van Voorbereiding) en Saterdag (die Sabbat) is die enigste twee dae in die Joodse week wat spesifieke name het. Die ander dae word bloot genommer, bv. die eerste dag van die week (Sondag), die tweede dag (Maandag), ens. Indien ’n godsdienstige fees soos die Pasga (14 Nisan) op enige weeksdag gevier word, word hierdie dag wel soos ’n Sabbat gevier, maar nie self ’n Sabbat genoem nie; die Sabbat is die sewende dag van die week. Ons kan ook vandag godsdienstige feeste, en selfs Geloftedag, soos ’n Sondag vier – maar dit beteken nie dat die dag self ’n Sondag word nie.

Jesus se kruisiging op die Dag van Voorbereiding (Vrydag), blyk duidelik uit Johannes 19: “En dat die liggame nie op die Sabbat aan die kruis sou bly nie, aangesien dit voorbereiding was – want die dag van daardie Sabbat was groot – het die Jode Pilatus gevra dat hulle bene gebreek en hulle weggeneem moes word. ... [M]aar toe hulle by Jesus kom en sien dat Hy al dood was, het hulle sy bene nie gebreek nie. Maar een van die soldate het met ’n spies in sy sy gesteek, en dadelik het daar bloed en water uitgekom” (Joh. 19:31-34). Die Sabbat wat direk gevolg het op die Dag van Voorbereiding en Christus se kruisiging, word as ’n groot dag beskryf omdat dit tegelyk die weeklikse Sabbat en die belangrike eerste dag van die fees van die ongesuurde brode was.

Lukas bevestig ook die feit van Jesus se begrafnis op die Dag van Voorbereiding: Jesus se liggaam “is in linne toegedraai en neergelê in ’n graf wat uit ’n rots gekap was, waar nog nooit iemand in gelê het nie. En dit was die dag van voorbereiding, en die Sabbat wou aanbreek” (Luk. 23:53-54). Die Sabbat wat op die punt was om teen sononder daardie aand aan te breek, was sonder enige twyfel die weeklikse Sabbat. Indien dit die Pasga was wat sou aanbreek, dan beteken dit dat Hy ’n dag voor die Pasga-fees gekruisig is en dat die Pasga nie dag en datum vervul is nie. Hy is juis op die feesdag gekruisig, die dag toe die slag van die offerlam in Egipte die begin van Israel se uittog uit slawerny was.

Laat ons onwrikbaar aan die belydenis van Christus se soendood en opstanding vashou, ongeag op watter spesifieke datums dit gebeur het. Dit is nogtans goed om konkrete historiese verwysingspunte vir hierdie belangrike gebeurtenisse te hê.

Die teken van Jona

Ons moet nie die teken van Jona net tot die begrafnis en opstanding van Christus beperk nie, maar ook kyk na dit wat ná Jona se bevryding uit die buik van die vis gebeur het. Hy het ’n boodskap van verlossing vir die heidense stad, Ninevé, gehad. Hierdie mense het hulleself in sak en as bekeer van hulle verkeerde weë en die Here om genade gesmeek. As gevolg hiervan is die toorn van die Here van hulle afgewend (Jona 3:1-10). Die Here het nie berou gehad in die sin dat Hy ’n verkeerde besluit oor Ninevé se verwoesting herroep het nie, maar die inwoners se bekering het hulle begenadiging deur Hom verseker (Jona 3:10). Die   inwoners se bekering het God se oordeel oor hierdie stad vir omtrent 150 jaar lank uitgestel. Later geslagte het weer in sonde en rebellie teenoor die Here verval, wat meegebring het dat die stad en sy inwoners in 612 v.C. verwoes is. Die Here het in ’n boodskap deur die profeet Nahum aan hierdie stad gesê:

“Ek sal vuilgoed op jou gooi en jou aan minagting prysgee en van jou ’n skouspel maak, sodat elkeen wat jou sien, van jou af sal wegvlug en sê: Verwoes is Ninevé! Wie sal met haar medelye hê? ... Daar sal die vuur jou verteer, die swaard jou uitroei ... . Daar is geen herstel vir jou verbreking nie; jou wond is ongeneeslik” (Nah. 3:6, 7, 15, 19).

Ná die dood en opstanding van Jesus Christus moet die boodskap van God se toorn oor die   sondaars, én van sy reddende genade oor dié wat hulle van harte bekeer, verkondig word: “Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom” (Joh. 3:36).

Wat is die voorwaarde om in God se guns te kom? Ons moet in die soendood van sy Seun aan die kruis glo, en ons volkome van ons sondige verlede bekeer. Dit is die boodskap wat aan die wêreld verkondig moet word. Net voor sy Hemelvaart het Jesus aan sy dissipels gesê: “So is dit geskrywe en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan, en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies” (Luk. 24:46-47).

In die afgelope byna 2 000 jaar was daar al verskeie gemeenskappe, en selfs lande, waar die evangelie van Christus deur ’n groot deel van die samelewing aanvaar, Christelike grondwette ingestel, en Christelike norme oor ’n breë front in die samelewing eerbiedig is. Soos in die geval van Ninevé ná hulle nasionale bekering, het die seën van die Here kennelik op dié gemeenskappe en volke gerus.

Hierdie goeie tye het egter nie onbepaald voortgeduur nie. Dit was nie omdat God ontrou geraak het nie, maar omdat die opkomende geslagte weer in sonde en openlike rebellie teen Hom verval het. Christelike grondwette is herroep en deur humanistiese grondwette vervang waarin alle godsdienste gelykgestel word. Daarmee saam is Christelike norme ook verwerp en het dit die deur wyd oopgemaak vir antichristelike gebruike soos leuens, korrupsie, materialisme, afgodediens, hoerery, aborsie, homoseksualiteit, dronkenskap, gewelddadigheid, en ’n horde ander euwels. Dinge wat vroeër as ’n skande beskou is, word nou openlik bedryf.

Wat anders kan ’n verdorwe wêreld te wagte wees as die oordele van God? Almal wat hulleself nie grondig tot die Lam van God bekeer nie, sal die voorwerpe van sy toorn wees en deur Hom geoordeel word: “God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer, omdat Hy ’n dag bepaal het waarin Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ’n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek” (Hand. 17:30-31).

Glo jy met jou hele hart in die gekruisigde en verrese Here Jesus, en is die fondament van bekering uit dooie werke en van geloof in God reeds in jou lewe gelê? (Heb. 6:1). Indien wel, dan sal jy die uitstorting van God se toorn in die komende verdrukking ontvlug (Luk. 21:36). Die gelowiges in Thessaloníka het hulleself “bekeer tot God om die lewende en waaragtige God te dien en sy Seun uit die hemele te verwag, wat Hy uit die dode opgewek het, Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos” (1 Thess. 1:9-10).

Diegene wat ’n valse, mensgemaakte vrede buite Christus nastreef, sal die ontvlugting van die oordele misloop en onverwags deur die oordele van God oorval word: “Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid – dan oorval ’n skielike verderf hulle ... en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie” (1 Thess. 5:3). Dié wat waarlik glo en as dissipels van Christus heilig leef, sal waak en bid sodat hulle waardig kan wees om die oordele van die komende verdrukking te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan (Luk. 21:36).

Ons ontvlugting is gebaseer op die verlossingswerk wat die Here Jesus op Goeie Vrydag aan die kruis gedoen het, daar waar Hy die straf wat vir ons die vrede aanbring, op Homself geneem het (Jes. 53:5). Laat ons op hierdie pad volhard, “want ons het deelgenote van Christus geword, as ons net die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou” (Heb. 3:14). Laat ons nie, soos die inwoners van Ninevé, ná ’n tyd weer in goddeloosheid verval nie.

Groot betekenis van die kruisiging

Die groot boodskap wat die Heilige Gees op alle dissipels van Jesus se harte druk, is die kruisevangelie. Hy maak die gekruisigde Christus ’n werklikheid in ons lewens, want dit is die rots waarop ons geloof berus. Identifikasie met die kruis van Christus is ook die grondslag vir die verdere genadewerk van heiligmaking. As ons saam met Hom sterf, sal ons ook saam met Hom leef. Paulus het gesê hy verkondig Christus wat gekruisig is (1 Kor. 1:23). Sonder die verkondiging van die Here Jesus se bloed wat aan die kruis vir die versoening van ons sonde gestort is, kan niemand gered word nie: “... die bloed van Jesus Christus ... reinig ons van alle sonde” (1 Joh. 1:7).

In die ses ure waarin die Here Jesus sy lewe aan die kruis afgelê het (dit was van 9-uur die oggend tot 3-uur die middag – in Israel is dit tussen die 3de en 9de uur van die dag), het Hy baie min gepraat. Die sewe uitsprake wat Hy wel gemaak het, het saam minder as ’n minuut geduur. Nogtans was dit die mees betekenisvolle woorde van vergifnis, reddende genade, vertroosting en oorwinning oor die magte van Satan wat Jesus Christus te midde van intense sterwensnood uitgespreek het. Dié woorde was die volgende:

1. “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie” (Luk. 23:34). Jesus het sy grenslose liefde en genade getoon toe Hy tydens sy onregverdige veroordeling en teregstelling vir sy oortreders gebid het. Nog voor sy kruisiging het Hy vir die geestelik verblinde inwoners van Jerusalem gebid. Hulle het groot ellende en internasionale verstrooiing in die gesig gestaar omdat hulle die gunstige tyd toe God hulle deur sy Seun besoek het, nie opgemerk het nie. Hierdie gebed van begenadiging vir sy oortreders is verhoor deurdat duisende Jode deur die eeue heen vir Jesus as Messias aangeneem het. In die eindtyd sal daar ook ’n groep wees wat sal opsien na Hom vir wie hulle deurboor het, en bitterlik oor Hom sal ween (Sag. 12:10).

2. “En toe Jesus sy moeder sien en die dissipel wat Hy liefgehad het, by haar staan, sê Hy vir sy moeder: Vrou, dáár is u seun! Daarop sê Hy vir die dissipel: Dáár is jou moeder! En van daardie uur af het die dissipel haar in sy huis geneem” (Joh. 19:26-27).

Jesus het met hierdie uitspraak veel meer in gedagte gehad as net die versorging van sy moeder, Maria. Hy dra hier ook sy moeder (Israel) aan die sorg van sy dissipel (die kerk) op. In die Ou Testament word Israel dikwels as ’n getroude vrou voorgestel uit wie die Messias gebore sou word. Jeremia 31:4 verwys na die jonkvrou van Israel, terwyl Jesaja 54:5 Israel ook as ’n vrou beskryf. In Openbaring 12 verwys die vrou en haar manlike kind wat die nasies met ’n ystersepter sal regeer, na Israel en die Here Jesus.

Die kerk het beslis ’n taak om Israel te vertroos, te bemoedig, te versorg, en dié volk ook jaloers te maak oor die manier waarop ons die God van Abraham, Isak en Jakob deur sy Seun, Jesus, dien (Rom. 11:11-12).

3. “Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees” (Luk. 23:43). Aanvanklik het altwee die rowers wat saam met Jesus gekruisig is, met Hom gespot en Hom beledig (Matt. 27:44). Later het die een tot die besef gekom van sy sondigheid en van Jesus se regverdigheid, en om genade gepleit (Luk. 23:39-42). Die Here Jesus het dadelik op hierdie hartsverandering gereageer en aan ’n verlore sondaar die sekerheid van die ewige lewe gegee. Hierdeur het Hy ’n belofte gestand gedoen wat deur die eeue heen tot vandag toe, nog steeds geld: “Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie” (Joh. 6:37).

Uit die wonderbaarlike bekering van ’n geharde sondaar aan die kruis, weet ons dat die groot Geneesheer juis vir geestelik sterwendes gekom het, en nie vir diegene wat hulleself regverdig ag en meen dat hulle sonder Jesus se reddende genade kan klaarkom nie. Ons weet ook dat daar geen sonde is wat so groot is dat dit nie volkome en onmiddellik vergewe kan word nie. Verder weet ons dat daar sterwensgenade is vir enigeen wat in die vallei van doodskaduwee is, solank hy of sy in die geloof die hand na die Here Jesus uitstrek. Ons sien in hierdie gebeurtenis ook dat bekering ’n geloofstap is wat sonder die bemiddeling van ander mense óf die beoefening van ’n sakrament gedoen kan word. Dit onthef ons egter nie van ons verpligting om met die evangelie na ander mense uit te reik nie, want “die geloof is uit die gehoor,” daarom moet die boodskap dat Jesus red tot aan die eindes van die aarde weerklink (Rom. 10:17-18). Die rower aan die kruis was deel van die Gólgota-gebeure en kon regstreeks op grond daarvan ’n besluit neem. Ons opdrag is om alle mense op aarde van hierdie feite bewus te maak.

4. “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Matt. 27:46). Van 12-uur af tot 3-uur die middag toe Jesus aan die kruis gesterf het, het daar duisternis oor die aarde toegesak (Mark. 15:33). Dit was ’n aanduiding dat daar, geestelik gesproke, donker wolke van die hele mensdom se sondes oor die Here Jesus gehang en skeiding tussen die veroordeelde Seun en sy Vader gebring het. Jesus het vrywillig as onskuldige die plek van ’n misdadiger ingeneem sodat die sondes van alle mense op Hom gelê kon word en Hy die regverdige straf daarvoor kon uitdien. “Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom” (Jes. 53:5).

Die Vader het die ongeregtigheid van ons almal op Jesus laat neerkom (Jes. 53:6), en Hom sodoende die voorwerp van sy toorn oor die sonde gemaak. “Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom” (2 Kor. 5:21). Op hierdie oomblik toe sy Seun deur die sondeskuld van ’n verlore mensdom oordek is, het die Vader van Hom af weggekyk. Jesus was besig om te sterf, en in daardie angsvolle oomblikke alleen aan die kruis het Hy in sy menslike natuur uitgeroep: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” Hy het volkome die plek ingeneem van alle verlore sondaars wat van God verlate is, en wat deur die donkerte van goddelike toorn en oordeel omring word.

5. “Ek het dors” (Joh. 19:28). Persone wat gekruisig is, het ’n geweldige dors beleef, en hulle het na water gesmag terwyl hulle die dood in die gesig gestaar het. In ’n Messiaanse Psalm wat op die dood van Jesus dui, het Dawid dit só beskryf: “My krag is verdroog soos ’n potskerf, en my tong kleef aan my verhemelte; en U lê my neer in die stof van die dood” (Ps. 22:16).

Christus se dood was iets veel erger as ’n gewone mens se dood. Hy is deur die totale sondelas van ’n gevalle mensdom gekonfronteer en moes onder die toorngloed en oordele van God sy lewe aflê: “... my hart het soos was geword; dit het gesmelt binne-in my ingewande” (Ps. 22:15). Hy was inderdaad in ’n plek van godverlatenheid waar ’n ewige dors heers. Die verlore ryk man was terdeë van hierdie dors bewus toe hy sy oë in die doderyk oopgemaak het (Luk. 16:24). Jesus het alleen die straf namens ons gedra (Santala, 1992:108-145).

In hierdie én die vorige kruiswoord wat Jesus kort voor sy dood uitgespreek het, word die groot teenstellings van die Gólgota-gebeure uitgedruk:

·       Die grootste antitese waaruit al die ander teenstellings voortvloei, is dat Jesus gesterwe het sodat ons kan lewe (Joh. 3:16).

·       Jesus was van God verlate sodat ons nooit deur God begewe of verlaat sal word as ons deur Christus met Hom versoen is nie (Heb. 13:5).

·       Omdat Jesus dors was, kan Hy ons geestelike dors les sodat ons in ewigheid nooit weer dors sal kry nie (Joh. 4:14; 6:35).

·       Hy het naak aan die kruis gehang, sodat ons met die klere van heil beklee kan word (Joh. 19:23; Rom. 13:14; Op. 3:18).

·       Hy het arm geword, sodat ons deur sy armoede die rykdomme van God se genade deelagtig kan word (2 Kor. 8:9).

6. “Vader, in u hande gee Ek my gees oor!” (Luk. 23:46). Jesus het self sy lewe afgelê en stel met hierdie woorde sy gees in die hande van sy Vader. Hy het dit gewillig en bewustelik gedoen (Joh. 10:17-18). Direk hierna, met sy laaste asem, het Hy gesê:

7. “Dit is volbring!” (Joh. 19:30). Die oorspronklike Griekse weergawe van Jesus se sterwenswoord is tetelestai. Hierdeur word die voltooiing van sy sending om die losprys vir ons sonde te betaal, uitgedruk. Omdat die doodstraf volgens die eis van God se geregtigheid uitgedien moes word (Rom. 6:23), kon Jesus nie hierdie woord uitspreek voordat sy sterwensoomblik aangebreek het nie. Dit was die kritieke oomblik van sy verlossingswerk aan die kruis. In die tyd van Jesus het die woord tetelestai ’n besondere betekenis gehad, wat in ag geneem moet word as ons ten volle wil begryp wat Hy hier gesê het. Vir die mense van daardie tyd het dit veel meer inhoud gehad as vir ons vandag.

In die eerste plek is die woord tetelestai in Bybelse tye as die sleutelwoord op ’n kwitansie gebruik. Dit het die betekenis gehad van ten volle betaal. Het die gedagte ooit by jou opgekom dat die Here Jesus jou gekoop het toe Hy sy bloed gestort en sy lewe vir jou afgelê het? Paulus herinner ons hieraan wanneer hy sê: “Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort” (1 Kor. 6:20). Petrus sê: “Julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ’n lam sonder gebrek en vlekkeloos” (1 Pet. 1:18-19). Die getuienis van die ouderlinge in die hemel bevestig die feit dat hulle ten volle daarvan bewus is dat hulle lewens deur die bloed van die Lam gekoop is: “U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie” (Op. 5:9).

Het jy die versekering dat jou sondes betaal is? Voldoen jy aan die vereistes van bekering en die belydenis van jou sondes ten einde vergifnis daarvoor te kan verkry? Die Bybel sê: “Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind” (Spr. 28:13; kyk ook 1 Joh. 1:8-9).

Tweedens was dit in antieke tye algemene praktyk om die klagstaat van ’n gevangene aan sy seldeur vas te spyker. Die oortredings waarvoor hy veroordeel is, is daarop aangeteken, asook die vonnis wat hom opgelê is. Nadat hy sy tronkstraf uitgedien het, is die klagstaat van die seldeur verwyder en uitgekanselleer deur in groot letters daaroor te skryf: TETELESTAI (Ten volle uitgedien). Daarna is dit aan die betrokke persoon oorhandig, en niemand kon hom ooit weer vir dié oortredings aankla nie – hy het die vonnis uitgedien en daardeur die prys vir sy misdade betaal.

In ’n geestelike sin is alle mense gevangenes van Satan, “want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (Rom. 3:23). Aangekla deur hulle sonde, is hulle in die mag van Satan waar hulle in sy dodeselle hulle verhoor voor die groot wit troon, en hulle veroordeling tot die ewige dood afwag. Die tronkbewaarder is die duiwel self, en geen persoon kan homself uit sy mag bevry en die doodstraf wat op hom wag, vryspring nie.

Om verlore sondaars te kan red, het Jesus Christus gewillig die doodstraf uitgedien wat in beginsel reeds oor alle sondaars uitgespreek is (Eseg. 18:20; Rom. 6:23). Ná sy opstanding uit die dode is Hy in ’n posisie om die klagstaat van elke verlore sondaar uit te kanselleer deur met sy bloed daaroor te skryf: Tetelestai – die vonnis is betaal. Paulus sê: “En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend  gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het, en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael” (Kol. 2:13-14). Die straf vir alle sonde is ten volle aan die kruis betaal.

Is al die sondes waarvoor die duiwel jou by die troon van God aangekla het, uitgewis deur die bloed van die Lam? Indien wel, dan kan niemand jou ooit weer hiervoor aankla en beskuldig nie. Dit maak nie saak hoe ernstig hierdie oortredinge was nie, want die straf daarvoor is reeds ten volle betaal. “Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het” (Gal. 5:1).

’n Derde gebruik vir die term tetelestai was in verband met suksesvolle militêre operasies teen die vyand. Wanneer ’n generaal van die slagveld af teruggekeer het, het hy van sy krygsgevangenes in die strate geparadeer en sy oorwinning geproklameer deur uit te roep: Tetelestai ... tetelestai ... Deur hierdie uitroep van oorwinning is ’n duidelike stelling gemaak, naamlik die oorwinning is behaal, of die sending is voltooi.

Hoewel dit Jesus se sterwenswoord aan die kruis was, het Hy sy oorwinning oor die vyand aangekondig deur uit te roep: Tetelestai! Om te sterwe was vir Hom ’n groot oorwinning,   “sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het – dit is die duiwel –  en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was” (Heb. 2:14-15). Dit was ’n groot triomf oor die vyand van ons siele: “Hy [het] die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer” (Kol. 2:15). Die Here Jesus het wel oor die vyand getriomfeer, maar Hy het hom nie uitgewis nie. Die duiwel is steeds baie aktief op aarde, daarom word ons opgeroep om deelgenote van die oorwinning op Gólgota te word (Rom. 8:37).

Dit was hoogs dramatiese oomblikke toe Jesus sy lewe aan die kruis afgelê en daardeur die Verlosser van ’n verlore mensdom geword het. Dit het die Nuwe Testamentiese bedeling  ingelui, wat ’n wonderlike verskil in die mens-God-verhouding gemaak het.

Die voorhangsel in die tempel het van bo na onder in twee geskeur. Hierdeur is vrye toegang na die genadetroon van God vir elke persoon verseker. In die Ou Testament kon slegs die hoëpriester een keer per jaar die Allerheiligste betree om met die bloed van offerdiere  versoening vir die volk se sonde te doen. Die gebroke liggaam en gestorte bloed van Jesus het egter ’n eenmalige en blywende versoening geskep vir almal wat dit wil aanneem. Ons het ook nie menslike middelaars soos profete nodig om namens ons tot God se troon toe te tree nie: “Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees, en ons ’n groot Priester oor die huis van God het, laat ons toetree met ’n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid” (Heb. 10:19-22).

Tydens Christus se sterwensoomblik het daar ’n aardbewing plaasgevind, die grafte van ontslape heiliges het oopgegaan en hulle het uit die dood opgestaan. Die Here Jesus het die mag van die dood verbreek sodat dit die regverdiges nie kan insluit en behou nie, daarom sal  daar vir elkeen wat glo, ’n opstanding tot die lewe wees. Jesus het gesê: “Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe” (Joh. 11:25).

Ná die drie uur lange duisternis nét voor die dood van die Here Jesus, het die lig skielik weer helder deurgebreek. Gólgota was in ’n nuwe ligglans gehul, en die getuienis van hierdie gebeure sou deur die eeue heen vir miljoene mense die duisternis van sonde en verlorenheid verdryf. Elkeen van ons wat sy reddende genade deelagtig geword het, is ’n gesant om die deugde te verkondig van Hom wat ons uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig (1 Pet. 2:9).  

Toe die Romeinse soldate “die aardbewing sien en die dinge wat daar gebeur, het hulle baie bevrees geword en gesê: Waarlik, Hy was die Seun van God” (Matt. 27:54). Selfs heidene wat geen kennis van die Messiaanse profesieë van die Ou Testament gehad het nie, het bewende tot die gevolgtrekking gekom dat Jesus die Seun van God is. Die Here bied versoening deur die bloed van Christus aan elke volk en taal en stam en nasie tot aan die eindes van die aarde. Hy roep almal tot bekering op (Hand. 17:30). Omdat Jesus Christus gehoorsaam was om Homself tot in die donker dieptes van die kruisdood te verneder, het God Hom opgewek uit die dode en Hom ’n Naam gegee wat bo elke naam is (Fil. 2:6-11).

Die skadu’s van die kerkbedeling is besig om lank te rek en die tyd loop vinnig uit. Laat ons die meeste van die oorblywende tyd maak en dit uitkoop om die Here te dien en sy koninkryk op aarde uit te brei. Soos Jesus, moet ons ook ’n dringendheid omtrent ons opdrag hê: “Ek moet die werke doen van Hom wat My gestuur het, so lank as dit dag is; die nag kom wanneer niemand kan werk nie” (Joh. 9:4). Die nag van God se oordele in die groot verdrukking kom vinnig nader, en daar is nog baie onafgehandelde werk in sy koninkryk voordat die basuin sal blaas. Verlorenes moet gered en Christene voorberei word vir die ontmoeting met die hemelse Bruidegom.

Die oproep tot wedergeboorte

Die belangrikste sending van die Here Jesus na die wêreld was “om te soek en te red wat verlore was” (Luk. 19:10). Omdat die verlossing van verlore sondaars ’n ingryping deur die Here vereis en ook die begin van ’n nuwe lewe is, het Christus ’n basiese stelling oor wedergeboorte gemaak aan ’n Joodse leermeester wat in die duister was oor wat redding werklik behels:

“En daar was ’n man uit die Fariseërs met die naam van Nikodémus, ’n owerste van die Jode. Hy het in die nag na Jesus gekom en vir Hom gesê: Rabbi, ons weet dat U ’n leraar is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens doen wat U doen as God nie met hom is nie. Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. Nikodémus sê vir Hom: Hoe kan ’n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie ’n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie? Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie. Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees. Moenie jou verwonder dat Ek vir jou gesê het, julle moet weer gebore word nie. ... Nikodémus antwoord en sê vir Hom: Hoe kan hierdie dinge gebeur? Jesus antwoord en sê vir hom: Jy is die leraar van Israel en jy weet hierdie dinge nie?” (Joh. 3:1-10).

Nikodémus was een van die gematigde en meer oortuigbare lede van die Sanhedrin in Israel. Hy was beïndruk met Jesus se bediening, veral met sy goddelike mag om wonderwerke te doen, en wou meer daaroor uitvind. Sy kollegas was hatig op Jesus, daarom het hy alleen in die nag met Hom gaan praat. Nikodémus spreek vir Jesus op ’n gelyke vlak as rabbi aan, maar gee nietemin erkenning aan die feit dat God met Hom is. Jesus was nie hierdie Fariseër se gelyke nie, maar ver bokant hom verhewe omdat Hy van bo af kom. Johannes die Doper het gesê: “Hy wat uit die hemel kom, is bo almal” (Joh. 3:31). Die Here Jesus was ten volle van Nikodémus se geestelike probleme bewus, naamlik dat hy onkundig was en ’n dooie, wettiese godsdiens van uiterlike handelinge en rituele beoefen het, terwyl sy hart koud en ver van die Here af was.

Jesus kom vinnig tot die punt en gee duidelik die oplossing vir hierdie leraar se probleem van vormgodsdiens: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” Nikodémus het glad nie verstaan dat ’n mens ’n tweede keer gebore kon word nie, omdat hy aan ’n tweede fisiese geboorte gedink het. Die Here Jesus verduidelik toe dat hy die tweede keer van bo, deur die Heilige Gees, gebore moes word. Hy moes dus geestelik lewend gemaak word en ’n veranderde hart kry. Nikodémus is verkwalik omdat hy dit nie kon insien nie, want hy was ’n kenner van die Ou Testament en moes geweet het dat God ’n veranderde hart van sy volk verwag (vgl. Deut. 30:6; Eseg. 36:25-27; Jer. 4:4). Jesus sê vir hom: “Jy is die leraar van Israel en jy weet hierdie dinge nie?” Hy kon dit nie insien nie omdat sy hart nie reg ingestel was nie.

Paulus verwys ook na hierdie diep geestelike werk wat die Here vir sy volk wil doen, naamlik ’n hartsverandering om Hom waarlik lief te hê: “Want nie hy is ’n Jood wat dit in die openbaar is nie, en nie dít is besnydenis wat dit in die openbaar in die vlees is nie; maar hy is ’n Jood wat dit in die verborgene is, en besnydenis is dié van die hart, in die gees, nie na die letter nie. Sy lof is nie uit mense nie, maar uit God” (Rom. 2:28-29). Wat help ’n mooi uiterlike lewe, maar binne-in het die persoon ’n donker, onweergebore, onheilige en ongelowige hart?

Is jou godsdiens op die reël van die nuwe mens gebaseer? Het jy ’n getuienis dat jou lewe en waardes op ’n geestelike vlak verander het, dat die ou dinge verbygegaan en alles nuut geword het? (2 Kor. 5:17). Paulus het vir Timótheüs gewaarsku dat daar veral in die eindtyd baie mense sal wees wat net ’n uiterlike skyn van godsdienstigheid sal hê, maar op ’n geestelike vlak steeds dood in hulle sonde en misdade sal wees: “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ... meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af” (2 Tim. 3:1-5).

Sulke mense ken nie die wederbarende krag van die Heilige Gees in hulle lewe nie. Hulle is net gedoop en aangeneem, maar verder leef hulle soos hulle wil. Hulle maak volgens uiterlike kriteria soos kerklike sakramente en goeie werke daarop aanspraak om Christene te wees wat op pad hemel toe is. Hulle mislei egter hulleself, want hulle is soos die gemeente in Sardis, waarvan die Here Jesus gesê het: “Jy het die naam dat jy leef, [maar] jy is dood” (Op. 3:1). Hulle is nie deur die Gees van God lewend gemaak nie, maar word nogtans binne kerklike verband salig gespreek. Die feit dat daar by elke begrafnis maar die standaarduitspraak gemaak word dat die oorledene – hoe onweergebore hy/sy ook al gesterf het – nou by die Here is omdat die persoon ’n “gelowige” was, dra tot die valse gerustheid by.

Wedergeboorte verwys na die opstandingslewe van Christus waarmee ons beklee word wanneer ons waarlik gered word. Net dit gee aan ons ’n hoopvolle toekoms: “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ’n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode” (1 Pet. 1:3). Wanneer ons tydens die aflegging van die ou lewe aan Christus se dood gelykvormig geword het, word ons geestelik nuut gemaak en met die opstandingslewe van die Here Jesus beklee. Ons kan dan saam met Hom in ’n totaal nuwe lewe wandel. Ons familie en vriende sal kan sien dat ons lewe grondig verander het. Ons kan nog steeds foute maak en sondig, maar na aanleiding van die Heilige Gees se innerlike oortuiging stel ons die probleem dadelik weer reg en gaan voort om deur die Gees te wandel – nie deur die vlees nie. Die Here omskep ons geestelik om sy getuies in ’n verdorwe wêreld te wees. Ons distansieer onsself absoluut van die sondes wat ons in die verlede gedoen het en streef daarna om aan die beeld van Christus gelykvormig te word.

Sondevergifnis en wedergeboorte staan in ’n noue verband met mekaar, want die Here Jesus reinig ons van ons sonde wanneer Hy aan ons deur die wedergeboorte ’n nuwe lewe met ’n nuwe natuur gee. Reiniging van sonde is die groot doel waarom die Here Jesus na die wêreld toe gekom het (Matt. 1:21). Dit is ’n lewensbelangrike saak, want die Bybel sê die loon, of straf, vir die sonde is die dood (Rom. 6:23). Die Here Jesus red ons deurdat Hy die losprys vir ons sonde aan die kruis betaal het, sodat ons geestelik wederbaar kan word en sy heilige natuur deelagtig word.

Die korrekte voorstelling van Christus

Dit is belangrik dat ons in die kerkbedeling die korrekte voorstelling van Christus sal doen, naamlik as die Verlosser wat gekom het om te soek wat verlore was (Luk. 19:10). Die klem moet val op sy kruisdood waar Hy die losprys vir ons sonde betaal het. Paulus het hierdie perspektief altyd voorop gestel: “[O]ns verkondig Christus wat gekruisig is ... . Ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde” (1 Kor. 1:23; 2:2).

Geloof in die gekruisigde Here Jesus is die sleutel tot wedergeboorte en ’n nuwe lewe vir alle sondaars, daarom moet Hy pertinent in die verband van sy versoeningswerk aan hulle voorgehou word. Alle sondaars “word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is. Hom het God voorgestel in sy bloed as ’n versoening deur die geloof” (Rom. 3:24-25). Hierdie voorstelling van Jesus Christus is ook van voortgaande belang vir Christene ná hulle bekering, omdat ons met Hom moet saamgroei deur die   gelykvormigheid aan sy dood (Rom. 6:5-6).

Die kruis van Christus moet ons hoogste roem in die nuwe lewe wees, omdat ons vereenselwiging daarmee ons in staat stel om vir die wêreld te sterf, en die wêreld vir ons (Gal. 6:14). Ons bewandel dus die kruisweg van voortdurende selfverloëning en voortgesette reiniging deur die bloed van die Lam (Luk. 9:23). Johannes sê: “As ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde” (1 Joh. 1:7; Kol. 1:14).

Indien ons perspektief op Jesus as die gekruisigde vervaag en deur ander perspektiewe verdring word, loop ons gevaar om die groot seën van sy soendood, asook die voortgaande reiniging deur sy bloed, mis te loop. Daar is ongelukkig mense wat Jesus net as ’n morele rolmodel aanvaar, en dan daarna streef om deur eie pogings moreel voorbeeldige en sosiaal aanvaarbare lewens te lei. Hulle assosiasie met Hom hou egter hier op. Ander beskou Hom as ’n inspirerende voorbeeld van politieke aktivisme omdat Hy volgens hulle ’n kampvegter vir armes en onderdruktes was wat bereid was om onregverdig deur die gemeenskap en die regering vervolg te word. Sodoende mis hulle totaal die groot doel van sy koms na die aarde.

Dan is daar die ernstige probleem van ’n groot groep gelowiges wat verkeerde sienings oor die openbaring van Christus se koninkryk huldig. Hulle beklemtoon die Here Jesus se posisie  as Koning ten koste van sy ander attribute, en na aanleiding daarvan word dit hulle hoofdoelwit om self konings te word. Hulle beywer hulle vir ’n koninkryk hier en nou tydens die kerkbedeling, en is as gevolg daarvan baie sterk op koninkryksmagte ingestel. Hulle wil die mag hê om wonderwerke te doen, insluitend die genesing van siekes en selfs die opwekking van dooies. Te midde van dit alles streef hulle na roem, populariteit en groot rykdom. Hulle wil ’n groot gevolg hê en baie van hulle wil as spesiaalgesalfde profete of apostels bekend staan.

Verder streef koninkryksgesindes daarna om alle mag oor die koninkryk van Satan te verkry. Hulle vra vir die Here mag om duiwels uit te dryf – nie net uit individue nie, maar ook uit dorpe, stede en hele lande. Sodoende wil hulle ’n transformasie na koninkrykstoestande op aarde skep, en dan namens die Here oor hulle koninkryk regeer. Byeenkomste vir die bevordering van ’n Christelike transformasie op nasionale vlak word gereeld in die meeste lande van die wêreld gehou. Baie mense is hoogs beïndruk en begeester hierdeur, maar die vraag is: “Watter Jesus verkondig hulle?”

Sulke mense bevorder Christus se posisie as Koning wat saam met sy heiliges regeer, ten koste van sy posisie as die gekruisigde Verlosser wat sy dissipels na alle uithoeke van die aarde stuur om die evangelie van redding in ’n vyandige wêreld te verkondig. Hulle het nie die opdrag of mag om Satan se ryk op ’n territoriale grondslag te verbreek nie. Die opdrag wat alle gelowiges het, is om mense na die kruis te lei waar hulle van sonde en satansmag verlos kan word.

Evangelisasie is harde werk, en net ’n klein minderheid mense reageer positief hierop (Luk. 13:24; Joh. 3:19). Dit is onbybels en onrealisties om te verwag dat hele samelewings en hele  volke nou van die breë weg af na die smal weg sal oorkom, hoe graag ons dit ook al wil sien gebeur. Ons moet voortgaan om die gekruisigde Christus te verkondig wat steeds deur die meerderheid verwerp word. Dit sal vir ons ook lyding en verwerping meebring (Rom. 8:17; 2 Tim. 2:12), maar as ons volhard, sal ons eendag in Christus se ryk saam met Hom regeer – beslis nie nou al in ’n wêreld wat in die mag van die Bose lê nie (1 Joh. 5:19).

Die Here Jesus sal eers tydens sy wederkoms as Koning van die konings kom en Satan se magsbasis op aarde totaal verbreek (Op. 19:19 – 20:3). Dan eers sal sy verheerlikte heiliges saam met Hom as konings regeer (Op. 20:6). Dit is dispensasioneel geheel en al misplaas om nou, in die kerkbedeling, die Here Jesus se koninklike posisie te beklemtoon ten koste van sy hoedanigheid as die gekruisigde Verlosser.