Ons leef in ’n tyd waarin die Drie-eenheidsleer, en veral die godheid en ewige selfbestaan van die Here Jesus, deur ’n toenemende aantal teoloë verwerp word. Hierdie probleem is nie net die produk van moderne teologiese denke nie, maar die gevolg van eeue-oue dwalings in leerstellings oor Jesus Christus. Ter wille van ‘n beter perpspektief op die probleem sal ons in die kerkgeskiedenis aantoon waar dit ontstaan het.
In die heel eerste hoofstuk van die Bybel word ons aan die Drie-enige God voorgestel: “In die begin het God die hemel en die aarde geskape.” Die naam wat hier vir God gebruik word, is nie die meer algemene Jahweh wat op God se ewigheid en selfbestaan dui nie, maar Elohim wat op sy Drie-eenheid dui. Die volgende uiteensetting van die Drie-eenheid is gebaseer op die werk van dr. Richard Bennett (1998:45-46):
In Afrikaans en Engels word naamwoorde óf in die enkelvoud óf in die meervoudsvorm geskryf. Die Hebreeus tref egter in die meervoud ’n verdere onderskeid deurdat dié taal ’n duale vorm het wat na twee verwys, asook ’n meervoudsvorm wat na meer as twee verwys. Elohim is nie enkelvoudig en ook nie duaal nie, maar in die meervoudsvorm – m.a.w. drie of meer. Terselfdertyd is Elohim ook ’n samestelling van ander name. Een daarvan is El (God), soos in Bet-El (Die Huis van die Here), en dit is duidelik in die enkelvoudsvorm. Die naam Elohim dui dus op ’n enige Here wat terselfdertyd uit meer as twee Persone bestaan, in hierdie geval drie Persone wat saam een is. Dit is presies ook die implikasie van Deuteronómium 6:4 wat lui: “Hoor, Israel, die Here onse God is ’n enige Here.” (“Hoor, Israel, Jahweh ons Elohim is ’n enige Jahweh”).
Die Hebreeuse woord wat hier vir “eenheid” gebruik word, is echad, wat ’n saamgestelde eenheid en nie ’n absolute eenheid is nie. Dit is belangrik om hierdie begrip reg te verstaan, omdat meervoudigheid en enkelvoudigheid in een begrip saamgevoeg word. In Génesis 2:24 word echad ook as ’n vorm van saamgestelde eenheid gebruik: “... die man [sal] sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.”
Die feit dat Elohim beide na die enige Here én in sy meervoudsvorm na drie Persone in die Godheid verwys, blyk duidelik uit die voornaamwoorde wat vir Elohim gebruik word. In verband met die skepping van die mens word gesê: “Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis … . En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape” (Gen. 1:26-27). Die woord vir God wat hier gebruik word, is Elohim. Die Drie-enige God kan tereg sê: “Laat Ons mense maak,” en dan daarna: “man en vrou het Hy hulle geskape.”
Johannes beskryf die pre-geïnkarneerde Jesus as die Logos, of die Woord: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God” (Joh. 1:1). Hy was by Elohim en self ook Elohim. Die derde Persoon is die Gees van Elohim (Gen. 1:2). Hy is die “ewige Gees” (Heb. 9:14) wat as ’n Persoon in die Godheid ook ’n ewige selfbestaan het.
Die drie ewige, gelyke en mede-selfbestaande Persone in die Godheid word ook só deur Johannes beskryf: “Daar is drie wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een” (1 Joh. 5:7). Al drie Persone kan dus as Here (Heb. Jahweh; Gr. Kurios) en God (Heb. Elohim; Gr. Theos) beskryf en aangespreek word. Paulus het die vleesgeworde Here op die pad na Damaskus aangespreek: “Wie is U Here [Jahweh]? En die Here antwoord: Ek is Jesus wat jy vervolg” (Hand. 9:5). In Romeine 9:5 sê Paulus van Jesus dat Hy God [Elohim] is: “God, lofwaardig tot in ewigheid!” In alle tydperke van sy ewige selfbestaan as God is hierdie titels op Hom van toepassing.
Mense wat nie glo dat die titel Here of Jahweh (die ewige EK IS) op Jesus van toepassing is nie, se sonde kan nie vergewe word nie. Hy het vir die ongelowige Joodse leiers gesê: “As julle nie glo dat dit Ek is nie, sal julle in jul sondes sterwe. … Wanneer julle die Seun van die mens verhoog het, dan sal julle weet dat dit Ek is; … voordat Abraham was, is Ek” (Joh. 8:24, 28, 58). Die Modern King James Version sê: “If you do not believe that I AM, you shall die in your sins. ... Before Abraham came into being, I AM!” (Joh. 8:24, 58). Die Amplified Bible verbind Johannes 8:58 só aan Exodus 3:14: “I most solemnly tell you, before Abraham was born, I AM” [Ex. 3:14]. Hy is die selfbestaande, ewige God wat mens geword het om ’n volmaakte offer vir ons sonde te kon wees.
Dit is nodig om ernstig en diepgaande oor die godheid van Jesus Christus te besin, asook oor sy voorrang bo alle dinge. Dit kan gedoen word in Bybelstudie onder die leiding van die Heilige Gees, “want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God” (1 Kor. 2:10). Paulus het ’n groot openbaring van Jesus Christus gegee toe hy gesê het:
“Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping; want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte – alles is deur Hom en tot Hom geskape. En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand. En Hy is die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente; Hy wat die begin is, die Eersgeborene uit die dode, sodat Hy in alles die eerste kan wees. Want dit het die Vader behaag dat in Hom die ganse volheid sou woon en dat Hy deur Hom alles met Homself sou versoen nadat Hy vrede gemaak het deur die bloed van sy kruis – ek sê deur Hom – die dinge op die aarde sowel as die dinge in die hemele” (Kol. 1:15-20).
In Kolossense 1 word sewe unieke kenmerke van die Here Jesus se voorrang en opperheerskappy oor alles genoem. Die verduideliking hieronder word ook bevestig deur Norman Geisler (1983:672-674). Jesus Christus is:
1. Die Beeld van God. Hy het God aan die mensdom kom openbaar, daarom het almal wat Hom gesien het, die Vader gesien (Joh. 14:9). Wanneer ons die evangelie van die Here Jesus se reddende genade hoor, dan skyn die heerlikheid van die Vader én die Seun op ons (2 Kor. 4:4).
2. Die Eersgeborene van die skepping. Die uitdrukking: “Eersgeborene van die hele skepping” (v. 15b) beteken nie dat die pre-geïnkarneerde Jesus gebore is nie, maar dat Hy bestaan het voordat enigiets anders geskape is. Hy is die absolute eerste (Op. 1:17) wat self alles geskape het, daarom kan Hy nie deel van die geskape werklikheid wees nie. Hierdie stelling beteken: Christus, die Here, is die Eerste, verhewe bo die hele skepping. Omdat Hy alles geskape het, is Hy die Eerste wat van ewigheid af bestaan.
3. Die Skepper van die heelal. Alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape, en in Hom hou alle dinge stand (v. 16-17). Hy is “die begin van die skepping van God” (Op. 3:14). Johannes sê: “Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie” (Joh. 1:3). Die Here Jesus het sy skeppingswerk as Elohim gedoen, een van die drie Persone in die goddelike Drie-eenheid. Die Vader en die Heilige Gees is ook hierby betrokke, daarom sê Hebreërs 1:2 dat die Vader die wêreld deur die Seun gemaak het.
4. Die Hoof van die gemeente. Benewens die feit dat Jesus die Here van die heelal is, is Hy ook die hoof van die gemeente (v. 18; vgl. Ef. 1:22-23; 5:23). Die verwysing hier is na die onsigbare, universele gemeente waarin die Heilige Gees alle gelowiges in die liggaam van Christus indoop die oomblik wanneer hulle gered word (1 Kor. 12:13). In hierdie liggaam (die gemeente) is daar lede van alle bevolkingsgroepe (Gal. 3:28). Die verborgenheid van die gemeente was nie in vroeër eeue aan die mensdom bekend nie (Kol. 1:26; Ef. 3:4-5).
5. Die Eersgeborene uit die dode. Christus is die eerste wat met ’n onsterflike liggaam uit die dood opgestaan het (1 Kor. 15:20), want Hy het opgestaan om nooit weer te sterf nie. In hierdie opsig is Hy die eerste in ’n hele nuwe skepping van mense wat in Hom die opstanding tot die ewige lewe deelagtig word. Hulle sal almal met verheerlikte liggame opgewek word (1 Kor. 15:22-23; Fil. 3:20-21).
6. Die volheid van God. Kolossense 1:19 is ’n kragtige bevestiging van Christus se godheid. In dieselfde brief sê Paulus: “In Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik; en julle het die volheid in Hom wat die Hoof is van alle owerheid en mag” (Kol. 2:9-10). Johannes sê die Here Jesus is “vol van genade en waarheid. … En uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade” (Joh. 1:14, 16).
7. Die Een wat alles met God versoen. Die “alles” wat met God versoen word, word net op die aarde (nie onder die aarde nie) en in die hemel aangetref (Kol. 1:20), en dui derhalwe op verloste mense en goeie engele. Dit is belangrik om daarop te let dat dit mense is wat met God versoen word – nie God met mense nie. Die mensdom het God op verskillende dwaalweë verlaat en moet na Hom toe teruggebring word. Die stelling dat “God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle misdade nie toe te reken nie” (2 Kor. 5:19), dui op die feit dat die hele wêreldbevolking in beginsel gered kan word omdat Jesus “vrede gemaak het deur die bloed van sy kruis” (Kol. 1:20). Elkeen moet egter ’n keuse hieromtrent maak, daarom Paulus se ernstige oproep: “Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen” (2 Kor. 5:20). Die kerkgeskiedenis van die afglope bykans 2 000 jaar het bewys gelewer dat net ’n minderheid van die mensdom hierdie keuse gemaak het en daarby bly.
In die volheid van die tyd het die Woord, wat self alle dinge geskape het, vlees geword: “In die begin was die Woord … . Alle dinge het deur Hom ontstaan … . In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense. ... En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon – en ons het sy heerlikheid aanskou, ’n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom – vol van genade en waarheid” (Joh. 1:3, 4, 14). Die vleeswording, of inkarnasie, van die Woord het gepaard gegaan met die tydelike prysgawe van sy hemelse heerlikheid, maar nie van sy wesenlike godheid nie.
In selfopofferende liefde het Hy Hom van sy troonposisie af in die hemel neergebuig om aan mense gelyk te word. Meer nog, as ’n dienskneg wat geen voorkoms gehad het dat ons Hom sou begeer nie (Jes. 53:2), het Hy Homself verneder om verwerp, bespot en gekruisig te word sodat Hy ’n veragtelike dood in die plek van alle sondaars kon sterf: “Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van ’n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk te word; en in gedaante gevind as ’n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis” (Fil. 2:6-8).
Jesus het net sy heerlikheid as God afgelê, en nie sy status en gesag as God nie, daarom was Hy Emmánuel: “God met ons.” Ná sy menswording het Hy twee nature gehad: ’n menslike en ’n goddelike. In Jesus se hoedanigheid as Seun van die mens is die Vader groter as Hy, en het die Vader Hom as mens gegenereer. Jesus het Homself ook as mens uitdruklik aan die wil van sy Vader onderwerp (Matt. 26:39). In sy hoedanigheid as God is Hy egter een met en gelyk aan die Vader, daarom kon Hy sê: “Ek en die Vader is een” (Joh. 10:30). Indien Hy net ’n gewone mens was wat self aan die gevolge van die sondeval onderhewig was, sou Hy nie die volmaakte Lam van God kon wees wat die groot straf vir ons sonde kon betaal nie.
Jesus, die vleesgeworde Woord van God, “was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en die wêreld het Hom nie geken nie” (Joh. 1:10). Hy is nie as God wat in ’n menslike gestalte was, herken nie (Joh. 14:8-9). Die Woord het tydens sy menswording ’n hoedanigheid (’n menslike liggaam en natuur) aangeneem wat Hy nooit tevore gehad het nie. Afgesien van die feit dat Hy steeds God was, het Hy ook ’n geskape wese geword; die Seun van die mens: “Toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ’n vrou” (Gal. 4:4).
Daar is konkrete inligting wat daarop dui dat sterk oortuigings oor die Here Jesus se ewige godheid in die tyd van die apostels en direk daarna, gehuldig is. Kelly (1977:92-93) verwys na die vroom kerkvader en latere martelaar, Ignatius (35-107 n.C.), die biskop van Antiochië, as ’n goeie bron van die teologiese denke van sy tyd. Ignatius beskryf die Here Jesus as “ons God” en ook as “God wat mens geword het.” In sy voorbestaan (pre-existence) was hy nie-geskape (ingenerate). Kelly beskryf dié term só: “ingenerate: the technical term reserved to distinguish the increate God from creatures.” Hy was die tydlose, onsigbare en ontasbare Een wat om ons ontwil die bedeling van tyd betree het om sigbaar en tasbaar te word. Ignatius se idees is deur die Evangelie van Johannes gevorm, met die sterk beklemtoning van Christus se eenheid met die Vader (Joh. 1:1 e.v.; 10:30; 14:9; 17:5). Die waarheid oor Jesus Christus en sy Woord het egter deur baie eeue heen met sterk teëstand te kampe gehad – nie net van die kant van ander gelowe nie, maar ook van humanistiese denkrigtings met ’n duidelike ondertoon van die Griekse filosofie.
Teologiese ontwikkeling is sedert die tyd van die vroeë Christelike kerk tot ’n groot mate deur die filosofie beïnvloed. Aan die beginjare was dit die heidense Griekse filosofie van Plato wat ’n sterk stempel op godsdienstige denke afgedruk het. Sedert die eerste eeu, en gelyklopend met evangeliese beskouings oor die Here Jesus se godheid en inkarnasie, het die Gnostisisme ontwikkel. Dit is van die begrip “gnosis” (godsdienstige waarheidskennis) afgelei, en leer dat kennis, eerder as geloof, die sleutel tot die saligheid is. Hierdie filosofie het tot in die sesde eeu groot aanhang geniet en ’n duidelike invloed op die teologiese beskouings van daardie tyd uitgeoefen. Dit is ontwikkel met die doel om die Christelike godsdiens meer aanvaarbaar vir die Griekssprekende intelligentsia te maak, maar in die proses het die Bybelse godsbegrip verwronge geraak.
Die gnostieke liefde vir die wysheid het sy vorming gehad in die mistiese beskouings van Plato, asook sy godsbegrip van die “Absolute” – wat nie met ’n Bybelse Drie-eenheidsbegrip versoenbaar is nie. Nadat dit met Christelike idees vermeng is, is geredeneer dat daar wel ’n enkelvoudige Skeppergod is, naamlik die Vader, maar dat Hy Jesus as ’n laerorde God, of selfs as ’n engel, geskape het. Dit was ’n groot aanslag op die godheid en inkarnasie van die Here Jesus. Norman Geisler (1983: 677) sê: “Both Christ’s deity and humanity were challenged by this early Gnostic-like heresy. Those heretics diminished Christ to an angel whose ‘body’ was only apparent, not real.” Paulus het egter die Here Jesus se godheid, asook sy volkome menswording, verdedig: “In Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik” (Kol. 2:9). Hy is volkome God en ook volkome mens.
Verder het Paulus daarop gewys dat alle filosofiese kennis wat van ’n mistiese oorsprong is, nietigheid en misleiding is omdat dit nie uit God gebore is nie. In plaas daarvan om verborge kennis buite Christus na te speur, moet sulke mense eerder die verborgenheid van die Vader en van Christus leer ken, “in wie alle skatte van wysheid en kennis verborge is. Dit sê ek, sodat niemand julle mag verlei met drogredes nie. … Pas op dat niemand julle as ’n buit wegvoer deur die wysbegeerte en nietige misleiding nie, volgens die oorlewering van die mense, volgens die eerste beginsels van die wêreld en nie volgens Christus nie” (Kol. 2:2-4, 8). Groot misleiding het uit die gnostieke wysbegeerte gekom.
Een van die drogredes wat gebruik is om Jesus as ’n geskape wese en laerorde God voor te stel, is die sg. “Logosteologie”. Volgens Johannes 1:1 word Jesus in sy ewige voorbestaan inderdaad beskryf as die Woord (Gr. Logos) wat self ook God is. In die gnostieke Logosteologie word daar egter aangevoer dat God as Vader die Woord geskape en toe gebruik het om die res van sy skeppingswerk te voltooi. Prof. Young (1991:35) som hierdie dwaling só op: “Die Logos was die eniggebore Seun van God, die Woord wat Hy as ’n instrument vir sy skeppingswerk geprojekteer het, die Wysheid wat naas Hom bestaan en waardeur Hy alles beplan het. ... Dit is hierdie Woord wat na die profete gekom het, ook na Sokrates (die vader van die Griekse filosofie) en alle opregte leraars van die waarheid, en in die laaste dae is hierdie Woord in Jesus Christus geïnkarneer.” Hierdie idees is volgens Sproul (1983:42-45) niks anders nie as heidense Griekse wysbegeerte met ’n Christelike kleed aan.
Die Logosteologie is ook met Spreuke 8 in verband gebring en die foutiewe afleiding gemaak dat die wysheid in dié hoofstuk ’n beskrywing van die pre-geïnkarneerde Woord is. Spreuke 8:22-23 word as Christologiese tekste aanvaar en in terme daarvan is daar tot die gevolgtrekking gekom dat Jesus aan die begin van die skepping “geformeer” is. Die wysheid in Spreuke is egter ’n attribuut van God en nie ’n verwysing na Christus nie, al is wysheid ook een van sy kenmerkende eienskappe (Buzzell, 1985:922). Salomo beskryf die wysheid as ’n vrou wat ons as ons suster moet beskou (Spr. 7:4). Dit is eksegeties ongeregverdig om Jesus só te verpersoonlik en na aanleiding hiervan as ’n geskape wese te beskou.
Die kerkvader, Origenes (185-254 n.C.), het homself intensief in die filosofie van Plato verdiep. Na aanleiding hiervan het hy die allegoriese metode van Skrifverklaring ontwikkel. Volgens hom moet diegene wat die wysheid het, deur al die simbole in die Bybel dring en na die misterieuse opklim. Die Bybel het dus nie vir hom ’n letterlike betekenis nie, maar moet allegories verklaar word. Die werklike bestaan van die mens was vir Origenes in die filosofies-geestelike gnosis geleë waarheen elkeen deur allegoriese denke en verklarings moet vorder. Hy het ook Plato se godsbegrip voorgestaan, wat op die abstrakte maar enkelvoudige “Absolute” gebaseer is.
Oor God die Vader en sy Seun het Origenes geskryf: “Ek is van mening dat die wil van die Vader genoegsaam is vir die ontstaan van dit wat Hy tot stand wil bring; … daarom is ook die bestaan van die Seun deur Hom gegenereer. Hierdie standpunt moet ten alle tye gehandhaaf word, naamlik dat niemand ongebore is nie behalwe net God die Vader” (Roberts & Donaldson, 1878:23). Origenes verloën dus heeltemal die feit van die Here Jesus se selfbestaan as die ewige EK IS (Joh. 8:58), en ook dat die Heilige Gees die “ewige Gees” is (Heb. 9:14) wat as ’n Persoon in die Drie-eenheid ’n tydlose selfbestaan het. Op grond van Johannes 1:3 het Origenes gesê dat die Woord ingesluit moet word by die “alle dinge” wat deur God ontstaan het (Kelly, 1977:263).
Volgens Berkhof (1958:93) was Origenes in die derde eeu die eerste kerkvader wat van die “generering van die Seun in die voortyd” gepraat het. Hierdeur het hy duidelik te kenne gegee dat die Woord (Logos) nie voor sy generering bestaan het nie, en daardeur sy ewige selfbestaan ontken. Hoewel baie aspekte van Origenes se teologie deur sy tydgenote verwerp en hy ook later tot ketter verklaar is, het hy ’n groot en blywende invloed op teologiese denke uitgeoefen. Sy dwalings word vandag nog deur baie teoloë nagevolg.
Trigg (1983:95-99) openbaar ook die heidense filosofiese konsepte van Origenes se teologie, op grond waarvan hy sy godsbegrip formuleer: “Origenes het spoedig begin om die Christelike geloof in terme van Plato se beginsels te vertolk. Die leer oor God was vir hom by uitstek die leer oor God die Vader, aangesien Origenes die Seun en Gees slegs op grond van attribusie (toerekening) as God beskou het. ... Die Seun as ’n bemiddelende hipostase (goddelike wese) is ondergeskik aan die Vader en verteenwoordig ’n laer vlak op die kosmologiese skaal. Net die Vader is volgens Origenes waarlik God; die Seun is God slegs op grond van deelname aan die Vader.”
Opsommend: Origenes het die Vader gelykgestel met die Absolute van die heidense filosofie, en geglo dat net die Vader ’n ewige bestaan het, en dat die Seun deur Hom gegenereer is. In terme van Johannes 1:3 het hy ook geredeneer dat die Heilige Gees een van die skeppings van die Woord is. Op hierdie manier word die godheid en ewige bestaan van Christus en die Heilige Gees ontken.
Die kerkvader, Arius, het in die vierde eeu die teologie van ’n geskape Woord wat nie gelyk aan die Vader is nie, voortgesit: “Arius beweer dat die Seun nie gelyk aan die Vader is nie. … Hy het die tradisionele beskouing aanvaar dat die wysheid in Spreuke 8 identies met die Woord is, en op die basis van vers 22 tot die gevolgtrekking gekom dat die Woord God se skepsel is” (Young, 1983:59,62). Die dwaling dat Christus die grootste en mees volmaakte van God se skepsele is, maar as gevolg daarvan nie as God beskou kan word nie, staan as Arianisme bekend. Hierdeur het Arius sy mentor, Origenes, se voorbeeld nagevolg om die lewende, Drie-enige God van die Bybel na die “Absolute” van die filosofiese skole te verander (Young, 1983:61).
Wat sê die Here van die slaafse onderhouding van teologiese tradisies en oorlewerings wat deur mense opgestel is en ook verkondig word? “Tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is. Want terwyl julle die gebod van God nalaat, hou julle aan die oorlewering van mense vas … . Julle verstaan dit goed om die gebod van God opsy te sit en so julle oorlewering te onderhou” (Mark. 7:7-9).
Vir die Roomse Kerk is teologiese oorlewerings en tradisies selfs belangriker as die Bybel. Boettner (1966:103-105) sê: “Volgens die Roomse leer moet die Bybel intensief deur teologiese tradisies aangevul word. … Volgens Rooms-Katolieke is daar twee bronne van gesag: die Bybel en tradisie. … In pogings om die Bybel in die lig van tradisie te verklaar, plaas die Roomse Kerk tradisie bo die Bybel. … Die dwalings wat in hierdie kerk se tradisies voorkom, verberg en kanselleer baie van die waarheid uit wat hulle bely om te hê.” Sodoende het hulle ook die Bybelse leer oor die godheid en ewige selfbestaan van die Here Jesus opsy geskuif om aan tradisies vas te hou wat hulle oorsprong by ketters soos Origenes en Arius het. Baie van Rome se onbybelse teologiese tradisies het deur Calvyn hulle weg na verskeie Protestantse kerke gevind, en dit word vandag nog onnadenkend gehuldig (Hunt, 2002:33-74).
’n Invloedryke Britse prediker en teologiese dosent wat ’n sterk standpunt oor die Here Jesus se godheid en ewige selfbestaan gehuldig het, was William Romaine. Hy het ook in die herlewingstyd ’n groot rol gespeel. John Newton het van hom gesê dat hy onbuigbaar soos ’n ysterpilaar was in sy verkondiging van die waarheid, en onbeïnvloedbaar deur die wêreld se glimlagte of fronse. Die volgende is uittreksels uit ’n preek wat Romaine (1755:1-12) oor Exodus 3:14 en Johannes 8:24 gelewer het:
“Die eenheid van die goddelike essensie is dat daar drie Persone is wat in alle volmaaktheid en attribute een is sodat nie een voor of ná die ander is nie, nie een is groter of minder belangrik as die ander nie, maar in heerlikheid is hulle gelyk en in majesteit mede-ewig. Die Drie-eenheid word só in die Bybel uitgedruk: ‘Want daar is drie wat getuig in die hemel: Die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een’ (1 Joh. 5:7). Die ewig geseënde Drie-eenheid het die name van Vader, Seun en Heilige Gees aangeneem, nie om aan te toon hoe hulle as goddelike Persone bestaan nie, maar hoe hulle ter wille van die redding van mense optree. Hierdie name gee aan ons kennis oor die verskillende ampte waarop die Drie-eenheid besluit het om die boodskap van verlossing uit te werk.
“Binne die raamwerk van hierdie verbond het een van die goddelike Persone ingestem om ’n onberekenbare prys vir sonde te eis indien die mensdom sou sondig, en ook om die Vader van die menslike natuur van Jesus Christus te wees, en deur Hom ook ons Vader. Om dié rede word Hy God die Vader genoem: nie om sy natuur te beskryf nie, maar sy amp. ’n Ander een van die goddelike Persone het onderneem om die Seun te word, om die menslike natuur aan te neem en daardeur die hoë prys wat buite die mens se bereik is, vir sy sonde te betaal. Om hierdie rede word Hy Seun, Seun van God, en ander soortgelyke name genoem: nie om sy goddelike natuur te beskryf nie, maar sy amp. ’n Ander een van die goddelike Persone het onderneem om die onberekenbare prys wat die Seun van God sou betaal, effektief te maak deur mense op ’n geestelike vlak te inspireer en te oortuig om dit te aanvaar. Om dié rede word Hy die Heilige Inspireerder, die Heilige Gees, of die Gees van God genoem: nie om sy goddelike natuur te beskryf nie, maar sy amp.
“Die Bybel tref geen verskil tussen die drie goddelike Persone nie, behalwe die verskille wat uit hulle onderskeie ampte blyk, wat hulle ter wille van die genaderverbond beoefen. Christus het Homself nie minderwaardig gemaak toe Hy onderneem het om Seun te word nie, so ook nie die Heilige Gees toe Hy onderneem het om neer te daal en in mense te werk nie. Seun en Heilige Gees is ampsname wat hulle nie minder belangrik in ons oë moet maak nie, maar eerder moet verhoog, omdat hulle ter wille van ons redding neergedaal het om hierdie ampte te vervul. Ons geseënde Here was Jahweh toe Hy onderneem het om as Seun vlees te word. Die blote feit dat Hy hierdie amp kon beoefen, is bewys daarvan dat Hy ’n selfbestaande God is. Die hele verantwoordelikheid vir die wêreld, vanaf die skepping daarvan tot by die voleinding daarvan, is in sy hande geplaas. Die Bybel bevestig dit uitdruklik dat Hy die wêreld geskape het, dit regeer, dit onderhou, dat Hy mense deur sy bloed losgekoop het, en dat Hy in al sy heerlikheid weer sal kom om die wêreld te oordeel. Om hierdie amp te kan vervul, moet Hy ’n ewige selfbestaan hê, daarom kan Hy waarlik sê: EK IS. Daarsonder sou Hy nie die oorsaak van die skepping van alle dinge en skepsele kon wees nie. Saam met die Vader en die Heilige Gees is Hy die ewige en selfbestaande God.
“Die Here Jesus het gesê: ‘As julle nie glo dat Ek Is nie, sal julle in jul sondes sterf’ (Joh. 8:24). Dit is nie ’n klein oortreding om die selfbestaan van Christus te ontken nie, maar die grootste denkbare oortreding, soos om die koning se titel en kroon te ontken. Is dit nie hoogverraad nie? Wat is dit dan om die godheid van die geseënde, almagtige Koning van die konings en Heer van die here te verloën? Is dit nie hoogverraad teen die Opperheerser van die hemel nie? Die skrifgedeelte in Johannes 8:24 is van die allergrootste belang, want ons sal in ons sondes sterf as ons nie in die ewige selfbestaan van Jesus Christus glo nie. Laat dit nie vir jou ’n hindernis wees dat Hy Seun, Seun van God, of Seun van die mens genoem word nie, want Hy is van alle ewigheid af die selfbestaande God, Jahweh, wat net die naam Seun aangeneem het sodat Hy ter wille van ons saligheid mens kon word.” (Einde van aanhaling uit William Romaine se preek).
Nog ’n evangeliese teoloog wat aangrypende gedagtes oor die Here Jesus as die volmaakte God-mens geskryf het, is dr. Albert Barnes (1962):
“Op aarde was Hy die helderheid van God se heerlikheid en die Beeld van sy Persoon. Hy het God op ’n verhewe wyse onder die mense bekend gemaak, soos wat die son deur sy strale op die aarde skyn. Hy was die direkte gelykenis van God. Hy het siekes gesond gemaak – soos God. Hy het dooies opgewek – soos God. Hy het mag beoefen wat slegs God kan doen, en ’n karakter geopenbaar wat ons net van God sou kon verwag as Hy mens sou word en tussen ons sou wandel. Dit is veel gesê. Daardeur sê ons dat die verslag in die Evangelies waar is en dat die Christelike geloof die waarheid is. Ongeïnspireerde mense sou nooit ’n karakter soos dié van Jesus kon beskryf het nie, tensy die persoon werklik geleef het.
“Pogings is dikwels in die ander gelowe aangewend om God te beskryf, of om te wys hoe Hy sou praat en optree indien Hy na die aarde toe sou kom. ... Maar Christus is God in ’n menslike natuur. Sy uiterlike voorkoms is dié van ’n mens, maar sy gees is dié van God. Hy loop, eet en slaap soos ’n mens, maar Hy dink, praat en handel soos God. Hy is as ’n mens gebore, maar die engele het Hom as God vereer. Hy het soos ’n mens geëet, maar deur ’n woord het Hy kos vir duisende mense geskep asof Hy God was. Hy het soos ’n mens op ’n kussing geslaap terwyl die boot deur die golwe heen en weer geslinger is; soos God het Hy opgestaan en die wind en die golwe bestraf sodat hulle stil geword het. Soos ’n mens het Hy met vriendelike belangstelling na Martha en Maria se huis gegaan. As ’n mens het Hy in hulle droefheid aan hulle meegevoel betoon en ook by die graf van hulle broer geween, maar soos God het Hy gepraat en die dode het uit die graf opgestaan en na die land van die lewendes teruggekeer. Soos ’n mens het hy deur die landstreek van Judéa gereis. Hy het nie ’n huis gehad nie. Oral is die siekes egter aan sy voete neergelê; genesing het uit sy aanraking gekom en sterkte uit sy woorde, asof Hy God was. Soos ’n mens het Hy in die tuin van Getsémane gebid; Hy het sy kruis na Gólgota gedra en is daaraan vasgespyker – maar die hemele het donker geword, die aarde het geskud en dooies het uit die grafte opgestaan, asof Hy God was. Hy is as ’n mens in die graf neergelê – soos God het Hy opgestaan en lewe en onsterflikheid gebring. Hy het op aarde as ’n mens geleef, maar soos God na die hemel opgevaar.
“In sy hele lewe as Verlosser, in al die moeilike omstandighede waarin Hy verkeer het, was daar nie ’n woord of ’n daad wat teenstrydig was met die aanname dat Hy die vleesgeworde God was nie. Hy het nooit daarin gefaal om ’n sieke te genees of ’n dooie op te wek nie. Daar was geen gesigsuitdrukking, geen woord of geen daad wat nie volkome in harmonie met die aanname oor sy godheid was nie. Inteendeel, sy lewe was vol gebeurtenisse wat op geen ander manier beskryf kan word nie as dat Hy die afskynsel van die heerlikheid en die getroue Beeld van die essensie van die Godheid was.” (Einde van aanhaling uit dr. Albert Barnes se boek oor die NT).
Daar is ongelukkig baie mense wat tot hulle eie ondergang nie hierdie wonderlike openbarings oor die godheid en genadewerk van die Here Jesus aanvaar nie. Die Joodse volksleiers het baie duidelik kennis geneem van Jesus se aanspraak dat Hy en die Vader gelyk is, maar dit verwerp. Hulle het die Vader egter nie geken nie en dit het tot hulle eie geestelike verdorwenheid gelei. Die kennis van die Drie-enige God is deur ’n mensgemaakte teologie en Joodse godsdienstige tradisies vervang (Mark. 7:6, 9, 13). Die opinies van die rabbi’s was vir hulle belangriker as die Woord van God.
Die godsdienstige verblinding wat deur onkunde en mensgemaakte gebooie oor die Jode gekom het, was só erg dat hulle die Messias wat van die Vader af uitgegaan het, verwerp en onskuldig ter dood veroordeel het. Hulle teologie was só ver van die waarheid af verwyder dat hulle glad nie vir Jesus binne daardie raamwerk as die beloofde Messias kon aanvaar nie. Hulle kon Hom nie eers uit die profetiese woord as die Messias herken nie, en daarom het hulle effektief die poort tot die koninkryk van die hemel vir die volk toegesluit. Jesus het vir hulle gesê: “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle sluit die koninkryk van die hemel toe voor die mense; want julle gaan self nie in nie, en die wat sou ingaan, laat julle nie toe om in te gaan nie” (Matt. 23:13).
Dit was omdat hulle die Drie-enige God (Elohim) nie geken het nie, dat hulle binne die verband van hulle tradisionele godsbegrip nie vir Jesus as Messias kon aanvaar nie. Hy het vir hulle gesê: “Dit is my Vader wat My verheerlik, van wie julle sê dat Hy julle God is. En julle ken Hom nie, … maar Ek ken Hom en bewaar sy woord” (Joh. 8:54-55). Die Joodse leiers het God se Woord nie bewaar nie, en Jesus het hulle daaroor verwyt: “Die wat uit God is, luister na die woorde van God. Daarom luister julle nie, omdat julle nie uit God is nie” (Joh. 8:47). Dit is vanselfsprekend dat hulle vir Jesus ook sou verwerp omdat Hy die vleesgeworde Woord is wat getuig van die Vader wat nie deur dié mense geken is nie.
Die ongelowige Jode het vir Jesus gesê dat die groot beswaar teen Hom die feit is dat Hy wat ’n mens was, Homself God gemaak het (Joh. 10:31-33). Jesus het hulle dwalings regstreeks aan onkunde toegeskryf: “Julle dwaal omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie” (Matt. 22:29). ’n Gebrekkige kennis van die Vader en sy Woord lei noodwendig ook tot ’n gebrekkige kennis van sy Seun.
Hierdie ongeredde, ortodokse Jode was so ekstreem in hulle verwerping van Jesus dat hulle mense wat Hom as die Messias bely het, uit die sinagoges geban het (Joh. 9:22). Jesus het sy dissipels ook teen hierdie vervolging wat uit ’n gebrek aan kennis van God voortspruit, gewaarsku: “Hulle sal julle uit die sinagoges ban. Ja, daar kom ’n uur dat elkeen wat julle om die lewe bring, sal dink dat hy ’n diens aan God bewys. En dit sal hulle aan julle doen, omdat hulle die Vader nie ken nie en My ook nie” (Joh. 16:2-3). Dit is die bitter, antichristelike gevolge wat intree as mense nie waarlik vir God die Vader en sy Seun ken, aanvaar en dien nie.
Ons leef in die eindtyd, pas voor die openbaring van die Antichris en die wederkoms van Christus. Voordat Satan en sy trawante wêreldwyd aanvaar kan word, sal hulle poog om die kennis van die Drie-enige God en sy Woord in die grootste kringe van menslike samelewings te laat verdwyn. Hulle doelwit is dat regerings nie Christelike grondwette moet hê nie, maar dit as polities korrek moet beskou om multigodsdienstige grondwette te in te stel waarin alle gelowe erken word. Christelike onderwys moet dus heeltemal uitgefaseer word sodat die jong geslag sonder die kennis van die Bybel kan opgroei en maklike slagoffers van die valse, kosmiese christus van alle gelowe kan wees. Om hierdie rede word die waarheid van die Bybel bevraagteken deur afvallige teoloë wat dieselfde multigodsdienstige motiewe het.
Soos wat baie kerkvaders in die vroeë eeue die knie voor die afgod van die Griekse filosofie van Plato gebuig het, is daar ook baie moderne teoloë wat in geestelike sake eerder deur die wysbegeerte, sielkunde, natuurwetenskappe en die nie-Christelike gelowe as deur die Bybel gelei word. Hulle verhef die rede bo geloof en aanbid die humanistiese wetenskappe. Die belangrikste oogmerk van sulke verlore teoloë is die verwerping van die Here Jesus se godheid, sy uniekheid en verhewenheid bo die valse gode van die nasies, die heilsbetekenis van sy kruisdood en opstanding, die waarheid van sy Woord, en die werklikheid van die hemel en die hel.
As gevolg van die wye aanvaarding van hierdie en ander dwalings is daar ’n groot en wêreldwye proses van geestelike verval aan die gang, sodat die leuens van Satan in die plek van die waarheid van God se Woord bevorder en verkondig kan word: “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang” (1 Tim. 4:1). Valse profete wat hulleself in ’n Christelike gewaad tooi, verkondig die mees vergesogte drogredes van Satan (2 Kor. 11:13-15), en probeer ook om wetenskaplike en “teologiese” geloofwaardigheid daaraan te verleen.
Omdat ons nou in hierdie tyd van intensiewe blootstelling aan duiwelse leerstellings leef, sal ons as ’n saak van groot erns moet seker maak dat die ware kennis van God nie in ons eie lewens en dié van ons kinders ’n verdwynende verskynsel word nie. Ons sal geen verskoning hê as ons deur dwaalleraars mislei word nie, want ons hét die openbaring van die Drie-enige God en sy verlossingsplan vir ’n verlore mensdom in die Bybel. Ons moet dit net glo, bely, verdedig en uitleef, al het die wêreld ook sy rug daarop gedraai. Jesus Christus word steeds openlik versmaai en verloën deur valse leiers. Hulle het egter net ’n “gedaante van godsaligheid” maar het die krag daarvan verloën (2 Tim. 3:5).
Daar word besondere geestelike betekenis verleen aan die feit dat die Here Jesus buitekant die mure en stadspoorte van Jerusalem gely het om ons te heilig: “Daarom het Jesus ook, om die volk deur sy eie bloed te heilig, buitekant die poort gely” (Heb. 13:12). In die volgende vers word sy ware dissipels uitgedaag om hulleself buitekant die laer by Hom te gaan voeg, al beteken dit ook verwerping deur die samelewing: “Laat ons dan uitgaan na Hom toe buitekant die laer en sy smaad dra” (Heb. 13:13). Is jy bereid om buitekant die laer van mensgemaakte godsdienstige leerstellings en organisasies te gaan en sy smaad te dra? Hierdie “laers” kan kerke met verwronge leerstellings wees, wat daarop ingestel is om valse geestelike sekuriteit en ’n gerieflike gemaksone aan hulle misleide lidmate te bied.
Zane Hodges (1983:812) sê die volgende oor hierdie vers: “Jesus het buitekant die stadspoort gely ... om mense te heilig. ... Lesers [van die Hebreërbrief] moes nie huiwer om deelgenote te word van die skande wat Hy gedra het nie (vgl. Heb. 12:2), deur die kamp van Judaïsme te verlaat en met Hom te identifiseer. Indien die lesers bewus sou gewees het van spesifieke sektebewegings in hulle omgewing, sou hierdie vermaning nog meer ter sake gewees het. Die lesers se tuiste was nie ’n kamp of ’n stad wat toe bestaan het nie, maar ’n stad wat nog kom (vgl. Heb. 11:10, 16; 12:22).”
Ken ons werklik die Here Jesus en is ons bereid om sy wonderlike Naam en goddelike attribute te verkondig? Bernard Reeves (2003:7) sê: “Kan enigiets belangriker wees as om die meer verhewe beskouing en eg Bybelse leerstelling oor die goddelike Persone van ons Here Jesus Christus en die Heilige Gees in ere te herstel, asook die wesenlike, ewige eenheid van die selfbestaande, Drie-enige Godheid? Die tyd is min – Christus se wederkoms is naby, soos wat ons in wêreldgebeure kan sien, daarom moet ons nie die risiko neem om deur Hom bestraf te word omdat ons verkeerde leerstellings oor Hom en die Heilige Gees gehuldig het, en gevolglik beskaamd voor Hom sal verskyn nie. ... Laat ons almal ‘kragtig ... stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is’ (Jud. v. 3).”