10. Voortreflikheid van die Messias

Dit is gepas om die Messias te loof, sy naam groot te maak, die uitnemendheid van sy verlossingswerk te verkondig, blydskap oor sy liefdevolle versorging te betoon, en bemoedig te word deur al die heerlikheid wat Hy vir sy getroue dissipels belowe het in die toekomstige openbaring van sy koninkryk. Jesus Christus moet verhef word bokant ons hoogste vreugde. Die gedagtes oor Hom moet ’n vaste hoop in ons harte laat opvlam, sodat ons selfs in die donkerste ure van ons aardse pelgrimsreis sal opkyk na die Blink Môrester wat die koms van ’n helder nuwe dag aankondig.

Ons geloof in hierdie wonderlike Verlosser moet deur intensiewe Bybelstudie versterk word, want dit sal ons aanspoor tot kreatiewe denke en groter toewyding aan Hom. Ons moet nuwe insigte verkry oor die grensloosheid van sy liefde en genade, en ook oor die regverdigheid van sy oordele: “o Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë!” (Rom. 11:33). Die verborgenhede van die evangelie is in die Bybel geopenbaar, sodat ons saam met al die heiliges ten volle kan begryp wat die hoogte en diepte is van Christus se liefde wat die kennis oortref, sodat ons vervul kan word tot al die volheid van God (Ef. 3:17-19).

’n Vaste geloof in Jesus Christus sal jou met arendsvlerke laat opstyg na die heiligdomme van die Here, sodat jy sy teenwoordigheid in jou gees kan ervaar. Dit sal by jou, soos by Dawid, ’n begeerte laat ontstaan om die Here te raadpleeg en te ken in al jou weë, en altyd naby aan Hom te leef. Só alleen kan ons “toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Pet. 3:18) en ons ook altyd in die Here verbly.

Die voortreflikhede van ons Verlosser is soos ’n diamant met baie fasette, waardeur die lig van sy heerlikheid uitgestraal word. Wanneer ons Hom beter wil leer ken, moet ons altyd by ’n studie van sy godheid en ewige selfbestaan begin, dan sal ons nooit navolgers van diegene word wat Hom tot ’n tydgebonde bestaan as mens wil beperk nie. Al die Bybelse profete het onder die leiding van die Heilige Gees die ware perspektief oor die Messias gehad.

Die Messias wat ook God is

Miga het verby Israel se lang geskiedenis na die tydlose verlede gekyk toe hy van die Messias, wat in Betlehem gebore sou word, gesê het: “Sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid” (Miga 5:1). Die skrifgeleerdes moes tog hiervan geweet het en verwag het dat ’n baie besondere, goddelike persoon in Betlehem gebore sou word. Dit was nie so ’n vreemde gedagte nie, omdat Jesaja gesê het: “Want ’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors – tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid” (Jes. 9:5-6). Die titel “Ewige Vader” word nie hier gebruik in die sin van om te verwek of genereer nie, maar in die sin van om te skep, en is n verwysing na Christus as die Vader (die Oorsprong of Bewerker) van die skepping – die Een wat alles gemaak het (Joh. 1:10). Wanneer Hy as Koning geopenbaar word, sal daar geen einde aan sy koninkryk van geregtigheid wees nie, omdat dit vir ewig sal voortgaan op die nuwe aarde en in die nuwe Jerusalem.

Waarom was die godsdiensleiers dan so verbaas toe die Here Jesus Homself met die Vader gelykgestel het en ook verduidelik het dat Hy bestaan het lank voordat Abraham, die stamvader van Israel, gebore is? (Joh. 8:58). Christus is voor sy menswording, in Sagaría 13:7, deur die Here van die leërskare beskryf as “my herder, ... die man wat my metgesel is” [“My Shepherd, ... the Man who is My companion” - MKJV). Dit is ’n verdere bewys dat Hy ’n ewige, goddelike Persoon was voordat Hy mens geword het, en dit sal vir altyd so bly. Duane Lindsey (1985:1569) verklaar hierdie teks só: “In Sagaría 13:7 sê die Here dat Hy in natuur en wese een is met sy Herder, en hierdeur word die godheid van die Messias duidelik bevestig.”

Die Joodse skrifgeleerdes kon egter nie die feit van die Messias se godheid en ewige selfbestaan verstaan nie, daarom het Hy aan hulle gevra: “Wat dink julle van die Christus? Wie se seun is Hy? Hulle antwoord Hom: Dawid s’n. Hy sê vir hulle: Hoe is dit dan dat Dawid Hom in die gees Here noem? ... As Dawid Hom dan Here noem, hoe is Hy sy seun? En niemand kon Hom ’n woord antwoord nie” (Matt. 22:41-46). In Psalm 45:7-8 word die Messias-Koning van Israel ook “God” genoem.

Selfs die Here Jesus se eie dissipels was traag om te verstaan dat Hy nie net hulle leermeester was nie, maar hulle God wat een met die Vader is (Joh. 14:9-10). Hulle het al sy verbysterende wonderwerke gesien, dat Hy mag oor lewe en dood het, en steeds nie besef wie Hy werklik was nie. Selfs die kragte van die natuur was tot hulle verbasing aan Hom onderworpe. Hulle het hardop gewonder: “Wie is Hy tog, dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam is!” (Mark 4:41).

Eers ná die Here Jesus se hemelvaart en die uitstorting van die Heilige Gees het sy dissipels ten volle begryp dat Hy ook Here en God is. Petrus het gesê: “Ons het nie kunstig verdigte fabels nagevolg toe ons julle die krag en koms van onse Here Jesus Christus bekend gemaak het nie, maar ons was aanskouers van sy majesteit” (2 Pet. 1:16). Petrus het ongetwyfeld teruggedink aan die verheerliking op die berg, toe hy en twee ander dissipels vir Jesus in sy majesteit aanskou het (Matt. 17:1-8). ’n Week voor hierdie gebeurtenis het die Here Jesus aan sy dissipels gesê: “Voorwaar, Ek sê vir julle, daar is sommige van die wat hier staan, wat die dood sekerlik nie sal smaak voordat hulle die Seun van die mens in sy koninkryk sien kom het nie” (Matt. 16:28). Op die sewende dag nadat Hy dit gesê het, het ’n paar dissipels ’n voorskou van sy toekomstige openbaring in heerlikheid gehad:

“En ná ses dae het Jesus vir Petrus en Jakobus en Johannes, sy broer, saamgeneem en hulle op ’n hoë berg in die eensaamheid gebring. En Hy het voor hulle van gedaante verander, en sy aangesig het geblink soos die son, en sy klere het wit geword soos die lig. En kyk, daar verskyn aan hulle Moses en Elía in gesprek met Hom” (Matt. 17:1-3).

Hierdie stelling is profeties belangrik, want in die week van menslike heilsgeskiedenis verloop daar sewe dae van omtrent eenduisend jaar elk – tweeduisend jaar tussen Adam en Abraham, tweeduisend jaar tussen Abraham en Jesus, en daarna volg daar omtrent tweeduisend jaar van kerkgeskiedenis voordat die sewende duisend jaar van die millennium aanbreek. Aan die begin van die sewende duisend jaar sal Jesus as Koning van die konings in sy heerlikheid geopenbaar word en sy vrederyk op aarde instel.

Die onkunde oor die Here Jesus duur egter nog tot ’n groot mate voort. Dit is ’n verstommende verskynsel dat baie van die moderne skrifgeleerdes onder Israel én die nasies steeds volhou dat Hy net ’n doodgewone mens was wat verkeerdelik deur sy dissipels en volgelinge tot God verklaar is. Hulle doen dit ten spyte van die feit dat hulle die volle openbaring van die Here Jesus se godheid in sy Woord het, asook ’n wolk van historiese en kontemporêre getuies wat almal van die waarheid hiervan getuig. Al hulle agnostiese redenasies maak van hulle dwase voor God. Paulus, ’n skrifgeleerde wat later tot insig en bekering gekom het, konfronteer hulle oor die Here Jesus:

“Waar bly die wyse? Waar bly die skrifgeleerde? Waar die redetwister van hierdie eeu? Het God nie die wysheid van hierdie wêreld dwaas gemaak nie?” (1 Kor. 1:20). Hy voeg dan by dat hierdie wêreldse geleerdes deur hulle wysheid nie vir God geken het nie. Volgens hulle humanistiese rasionalisering is die boodskap van Jesus se kruisiging dwaasheid omdat hulle nie die betekenis daarvan kan, of wil, verstaan nie. Die Jode het na ’n magtige koning gesoek om hulle militêr van die Romeinse oorheersing te bevry, terwyl die Grieke na ’n geleerde filosoof gesoek het wat nuwe insigte in die verheerliking en verdere ontwikkeling van die mens kon bring. “Maar”, sê Paulus, “ons verkondig Christus wat gekruisig is, ’n struikelblok vir die Jode en dwaasheid vir die Grieke; maar vir die wat geroep is, Jode sowel as Grieke: Christus, die krag van God en die wysheid van God” (1 Kor. 1:23-24).

Alle mense word geroep om in die Here se wysheid en heerlikheid te deel (Hand. 17:30; Kol. 2:2-3), maar die pad na sy verlossing gaan by Gólgota verby waar die volmaakte Lam van God die straf vir ons sonde betaal het. Net by Hom is die oorsprong van ’n wonderlike nuwe lewe, maar vir die agnostiese en selfregverdigende skrifgeleerdes is hierdie goddelike lewe ’n illusie en ontwykende droom wat net deur dwase geglo word. Vir almal wat egter glo, het Christus geword “wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing” (1 Kor. 1:30).

Die liefde van die Messias

Die agapé liefde van God is die groot saak waaroor dit in die Bybel gaan. Omdat God liefde is en ook vir ons in ons sondige toestand liefgehad het, het Hy sy Seun gegee om vir ons te sterwe sodat ons gered kan word: “Hy wat ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde, in wie ons verlossing het deur sy bloed, naamlik die vergifnis van die sonde” (Kol. 1:13-14).

Jesus Christus is die sigbare vergestalting van God se liefde en genade vir ’n sondige mensdom. Dit maak ’n geloofsverhouding met God moontlik, en dit gee ook aan ons hoop vir hierdie lewe én die toekomstige lewe. Ons lewens moet hiervan getuig; ons moet in die liefde van God gewortel en gegrond wees; ons moet daarin opgroei, dit moet sy stempel op ons karakter afdruk en sy goddelike invloed in ons hele lewenswandel laat geld. Ja, ons moet volmaak word in die liefde (1 Joh. 2:5).

Hoe beleef jy hierdie liefde wat deur die Heilige Gees in ons harte uitgestort word? (Rom. 5:5). Almal van ons moet kan sing: “Breed, breed soos die aarde, hoog soos die hemel daarbo, diep, diep soos die diepste see, is sy liefde vir my.” Die liefde van God is nie net grensloos nie, dit is ook onvernietigbaar. “Liefde is sterk soos die dood, ... ’n vlam van die Here. Groot waters kan die liefde nie uitblus en riviere dit nie oorstroom nie” (Hoogl. 8:6-7). Dit is onvernietigbaar en hou vir ewig stand. Geen dood of lewe, of verdrukking of benoudheid, kan ons skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus is nie (Rom. 8:35-39).

Die vlam van die liefde is onuitbluslik, en ’n stortvloed van haat en negatiewe emosies kan dit nie uitwis nie. Hierdie liefdesband is baie sterk en selfs die dood kan dit nie oorweldig nie: “Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee” (Joh. 15:13). Paulus sê: “God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was” (Rom. 5:8).

Die liefde van God wat deur die Messias ons deel geword het, vergaan nooit nie (1 Kor. 13:8). Dit is al wat standhoudend is in ’n verganklike wêreld waarin alles stadig maar seker besig is om te verouder en te vergaan. As ons dit ons deel gemaak het, sal ons ook die verganklikheid rondom ons oorleef: “Die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig” (1 Joh. 2:17).

In die tyd van die Here Jesus se aardse bediening, soos ook vandag nog, was daar vormgodsdienstige predikante en teoloë wat vir hulleself ’n verlossingsleer uit die Bybel geformuleer het waarvan die liefde van die Messias nie deel was nie. Hulle het hulleself op die verbond beroep wat God met Abraham gesluit het, en dan op verbondstekens en wetsnakoming geroem, eerder as om na die Here te kom vir die vergifnis van hulle sonde. Hulle eensydige Skrifkennis was egter vir hulle ’n struikelblok omdat hulle nie besef het dat al die offers en verbonde in die nuwe verbond met die Messias vervul is nie. Hy het vir hulle gesê: “Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe het; en dit is dié wat van My getuig. En julle wil nie na My kom om die lewe te hê nie. ... Ek ken julle, dat julle die liefde van God nie in julle het nie” (Joh. 5:39-42).

Die dissipels van Jesus het ’n duidelike voorskrif gekry om in sy liefde te bly: “Soos die Vader My liefgehad het, het ek julle ook liefgehad. Bly in hierdie liefde van My” (Joh. 15:9). Dit was die Nuwe Testamentiese gebod van die liefde wat hulle moes onderhou, soos ook almal van ons vandag. Liefde vir Jesus Christus behels ’n diepe dankbaarheid vir die groot offer wat Hy namens ons gebring het, en die bereidwilligheid om liefdesdiens in sy koninkryk te verrig. Dit lei ook na ’n liefdesband teenoor ons nuwe broers en susters in die Here – hulle wat saam met ons lede van sy liggaam is, en saam met wie ons die taak het om die wêreld te evangeliseer. Verder lei dit na liefde vir ’n verlore wêreld. Ons moet vir die ongereddes bid en hulle evangeliseer, sodat baie van hulle ook uit die duisternis van sonde kan oorkom na die wonderbare lig van die Messias se koninkryk.

Ons skuld die liefde van Christus aan almal rondom ons, en moet dit in woord en daad uitleef. “Die verstandiges sal glinster soos die glans van die uitspansel, en die wat baie tot regverdigheid lei, soos die sterre vir ewig en altoos” (Dan. 12:3).

Ons sien met reikhalsende verlange uit na die wederkoms van die Here Jesus wat gesê het: “Kyk, Ek maak alles nuut. ... Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde. Aan die dorstige sal Ek gee uit die fontein van die water van die lewe, verniet” (Op. 21:5-6). Het jy al met jou geestelike dors na Hom toe gegaan? Sy uitnodiging bly nog steeds staan: “As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo” (Joh. 7:37-39).

Evangeliese belydenis

Dit is belangrik dat elkeen van ons in hierdie tyd van groot afvalligheid die Here Jesus opnuut in sy uniekheid, godheid en heerlikheid sal ken en voor mense bely:

·        Ek glo dat Jesus Christus as mens deur die Heilige Gees in die maagd Maria verwek is (Matt. 1:20) en dat Hy daarom die Seun van God én die Seun van die mens is. Die engel Gabriël het vir Maria gesê dat die Kind wat gebore sou word, groot sou wees en die Seun van die Allerhoogste genoem sou word (Luk. 1:32). Tydens sy geboorte uit die geslag van Dawid het Hy net tydelik sy hemelse heerlikheid afgelê, maar nie van sy wesenlike godheid afstand gedoen nie (Kol. 2:9). Met sy hemelvaart is Hy uitermate verhoog en het ’n Naam gekry wat bo elke naam is (Fil. 2:9-11). Tydens sy wederkoms sal Hy in mag en majesteit as Koning van die konings en Here van die here geopenbaar en erken word (Op. 19:16).

·        Ek glo dat Jesus Here en God is. Elke tong sal bely dat Hy die Here is (Fil. 2:11). Johannes sê: “Hy is die waaragtige God en die ewige lewe” (1 Joh. 5:20). Paulus sê: “Hy is die grote God en ons Verlosser (Tit. 2:13), en Thomas het in verwondering uitgeroep: “My Here en my God!” (Joh. 20:28). Hy is waarlik Emmánuel – God met ons.

·        Ek glo dat die Here Jesus ’n ewige selfbestaan as God het. Eers toe Hy as mens gebore is, het Hy Homself ontledig en die gestalte van ’n dienskneg aangeneem (Fil. 2:7-8). As God bestaan Hy van alle ewigheid af, daarom kon Hy sê: “Voordat Abraham was, is Ek” (Joh. 8:58). Hy is die ewige EK IS (Ex. 3:14), wat ook vir die Jode gesê het: “As julle nie glo dat dit Ek Is nie, sal julle in jul sondes sterwe” (Joh. 8:24).

·        Ek glo dat Jesus Christus een met die Vader en die Heilige Gees is. Hy het self gesê: “Ek en die Vader is een” (Joh. 10:30). Johannes het gesê: “Daar is drie wat getuig in die hemel: Die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een” (1 Joh. 5:7). Ek glo dat Jesus die Woord is wat beide God én mens is. “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. ... En die Woord het vlees geword en onder ons gewoon” (Joh. 1:1, 14).

·        Ek glo dat die Here Jesus, die Woord, die Skepper is wat saam met die Vader en die Heilige Gees die wêreld (of heelal) geskape het (Heb. 1:2). “Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie” (Joh. 1:3). Paulus sê: “Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping; want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op aarde is” (Kol. 1:15-16).

·        Ek glo dat die Here Jesus ook die herskepper is omdat Hy verlore sondaars wat Hom as Verlosser aanneem, geestelik lewend maak deur hulle te wederbaar. Ons is lewend vir God deur Christus Jesus, onse Here (Rom. 6:11). By sy koms vir die gemeente sal Hy ook aan alle gelowiges onverganklike opstandingsliggame gee (1 Kor. 15:22; Fil. 3:20-21). Ná die eindoordeel sal Hy ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde skep, daarom sê Hy: “Kyk, Ek maak alle dinge nuut” (Op. 21:5).

·        Ek glo dat Jesus Christus se offer aan die kruis ’n losprys vir die sondes van die hele mensdom was, m.a.w. alle stamme, tale, volke en nasies op aarde, en dat dit die enigste moontlikheid tot versoening met God bied (Joh. 1:29; Ef. 1:7). Slegs diegene wat die aanbod van verlossing in die geloof aanvaar, word deelgenote van die nuwe lewe in Christus. Die saligheid is in niemand anders nie, want daar is geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie (Hand. 4:12). Ek glo ook dat Jesus Christus ná sy kruisdood uit die dode opgestaan en na die hemel opgevaar het om vir ons in te tree en vir ons plek in sy Vaderhuis te gaan berei (Joh. 14:2-3; Heb. 7:25).

·        Ek glo dat die Here Jesus weer kom om ons te kom haal en die ewige heerlikheid van sy koninkryk deelagtig te maak. Dan sal ons by die bruilofsmaal van die Lam saam met Hom Nagmaal hou om opnuut sy kruisdood in herinnering te roep en lof en eer aan Hom te bring omdat Hy ons siele uit genade gered het. As ons nóú saam met Christus die kruisweg bewandel deur onsself te verloën, ons kruis op te neem en Hom in ’n vyandige wêreld te volg, sal ons eendag in sy ryk saam met Hom regeer (Rom. 8:17; 2 Tim. 2:12). Dan sal die stryd verby wees en sal Christus se getroue getuies in sy triomfantelike openbaring deel.

Indien ons sou nalaat om die Here Jesus só te ken en te bely, loop ons gevaar om van Hom net een van baie messiasse van menslike oorsprong te maak, sy godheid te verloën, die betekenis van sy kruisdood af te maak, en dan verder mislei te word om ’n valse christus in sy plek te aanvaar (Joh. 5:43). In die snel ontwikkelende nuwe wêreldorde waarin alle gelowe gelykgestel word, word die godheid en unieke posisie van die Here Jesus ontken. Deur hierdie benadering gee mense aan die god van hierdie wêreld, Satan, die geleentheid om hulle sinne te verblind, “sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie” (2 Kor. 4:4).

Indien ons aan die Bron van ons lewe getrou bly en in die lig van sy Woord wandel, hoef ons nie misleiding van hierdie aard te vrees nie. “In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense. En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie” (Joh. 1:4-5). As ons altyd naby aan Hom bly, sal sy teenwoordigheid ons lewenspad verlig. Almal wat nie in die lig wandel nie, is op gevaarlike dwaalweë: “Terwyl die pad van die regverdiges is soos die lig van die môreglans, wat al helderder word tot die volle dag toe, is die weg van die goddelose soos duisternis: hulle weet nie waaroor hulle sal struikel nie” (Spr. 4:18-19).

Dissipels van Christus onder alle nasies

Laat ons altyd onthou dat Jesus Christus na die aarde gekom het om vir Homself ’n gevolg van Christene onder elke nasie op te bou. Hy het die hele wêreld lief en het die deur vir alle mense oopgemaak om tot sy koninkryk toe te tree. Die uiteindelike gevolg hiervan sal wees dat daar ’n ontelbare menigte uit elke volk, taal, stam en nasie sal wees wat deel van hierdie hemelse koninkryk sal uitmaak. Christus wil Homself verheerlik in sy kerk, wat die werk van sy herskeppende genade is, en bewonder word deur elkeen wat glo (2 Thess. 1:10). Ons moet sy Naam groot maak en sy lof verkondig.

Hoewel die Christendom wêreldwyd in omvang is, handhaaf die Here Jesus deur sy Heilige Gees ’n persoonlike verhouding met elkeen van ons individueel. Hierdie verhouding word mooi in ’n Engelse lied uitgedruk: “On the Jericho road there’s room for just two; just Jesus and you.” Hy is die Barmhartige Samaritaan wat Hom oor jou ontferm het nadat jy op die lewenspad deur die groot Rower (Satan) oorval en vir dood agtergelaat is. Nadat Hy jou opgerig het, bewandel jy die pad saam met Hom – Hy dra jou (Ps. 68:20) en voorsien in elke behoefte van jou na die rykdom van sy genade.

Dit is egter wonderlik om te weet dat daar miljoene ander mense reg oor die wêreld is wat ook van ’n persoonlike verhouding met die Here Jesus kan getuig. Saam met hulle vorm ons die liggaam van Christus, en saam met hulle reik ons uit na ’n verloregaande wêreld. Soos Christus Hom oor ons ontferm het, behoort dit ’n groot begeerte by ons te wees dat ander mense, wat sonder hoop en sonder God in die wêreld is (Ef. 2:12), ook die wonder van wedergeboorte en die begin van ’n nuwe lewe sal ervaar.

Die evangelie is vir alle mense bestem, omdat dit vir elke mens op aarde van kritieke belang is om van die Persoon en heilswerk van Jesus Christus kennis te neem. Om dit in die geloof te aanvaar en Christus as jou Saligmaker aan te neem, maak van jou ’n Christen, m.a.w. iemand wat aan Christus behoort. Die Woord Christen kom drie keer in die Nuwe Testament voor, en word gebruik naas ander benaminge soos dissipels, gelowiges, heiliges, en lede van die liggaam van Christus. Die drie verwysings na Christene laat elke keer die klem op ’n ander aspek van Christenskap val:

In Handelinge lees ons: “... en die dissipels is in Antiochië vir die eerste keer Christene genoem” (Hand. 11:26). Die plaaslike gemeenskap het hulle as volgelinge van Jesus Christus erken, en as sodanig duidelik van die Judaïste en die aanhangers van alle ander gelowe onderskei. Kan die mense in jou lewe sien dat jy aan Jesus Christus behoort omdat jy Hom van harte volg en dien? Benewens dit wat ons sê, moet ons lewe ’n brief van Christus aan die wêreld wees wat deur die Heilige Gees op die tafels van ons harte geskryf is (2 Kor. 3:2-3), en wat deur ons optrede en gesprekke deur almal gelees kan word.

Ons lees oor Christenskap verder van ’n hooggeplaaste persoon wat die evangelie gehoor het, maar vir wie die kosteberekening vir ’n oorgawe te groot was. “En Agrippa sê vir Paulus: Jy beweeg my byna om ’n Christen te word” (Hand. 26:28). Hy het verkies om liewer as ’n koning en ’n gesiene burger van die Romeinse Ryk bekend te staan, as ’n Christen wat sy sonde moes versaak om ’n volgeling van die Here Jesus in sy verborge koninkryk te word. Baie mense oorweeg dit vandag nog ernstig om Christene te word, maar sien nie kans om hulle sonde te bely en te laat staan sodat hulle deur die nou poort kan ingaan nie (Luk. 13:24).

’n Derde verwysing na Christen vind ons in Petrus se eerste sendbrief: “Maar wanneer iemand as ’n Christen ly, moet hy hom nie skaam nie, maar God verheerlik in hierdie opsig” (1 Pet. 4:16). Christus het die weg van lyding en verwerping bewandel, en gewaarsku dat dit ook vir sy volgelinge op die weg lê (Joh. 15:19-20; Hand. 14:22; Fil. 1:29; 1 Pet. 4:12-13). Indien ons egter hierdie verwerping te bowe kom en nogtans volhard op die pad van die Here, sal ons onder die leiding van die Heilige Gees werke kan doen wat ewigheidswaarde het.

Ons moet onsself op die proef stel of ons werklik in die geloof is (2 Kor. 13:5). Kan die Persoon en werke van Jesus Christus in ons lewe gesien word? As die samelewing vir Jesus in ons lewe kan sien, dan het ons daarin geslaag om volgelinge en waardige verteenwoordigers van Hom te wees. Indien ons verder ook aktief met sy werke besig is, sal ons suksesvolle getuies vir Christus wees wat eendag met vrymoedigheid voor Hom sal verskyn.

Ons moet saam met die Here Jesus kan sê: “Ek moet die werke doen van Hom wat My gestuur het, so lank as dit dag is; die nag kom wanneer niemand kan werk nie” (Joh. 9:4). Daar kom ’n einde aan alles. Die Here Jesus se openbare bediening het met sy kruisiging tot ’n einde gekom. Daarna is die opdrag aan sy dissipels gegee om die evangelie tot by die eindes van die aarde uit te dra. Genadetyd sal egter ook vir die wêreld verbygaan wanneer die tyd van rekenskap aanbreek en God se oordele oor die onbekeerdes uitgestort word.

Intussen moet ons in vaste vertroue voortgaan met ons missie: “Laat ons die belydenis van die hoop onwankelbaar vashou, want Hy wat dit beloof het, is getrou; en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor” (Heb. 10:23-24). Dit is die houding wat getroue volgelinge van Jesus Christus moet inneem, terwyl hulle daagliks na Hom opsien vir krag, hulp en bewaring: “Aan Hom nou wat magtig is om julle vir struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig, aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe die heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou en tot in alle ewigheid!” (Jud. 1:24-25).