1. God Wat Mens Geword Het

Te midde van al die valse godsdienste wat uit die koninkryk van die duisternis voortkom, die ander Jesusse wat die vyand se subtiele pogings tot nabootsing van die Here Jesus is, die dooie tradisies en lewelose vormgodsdiens waardeur die waarheid van God se Woord verberg en verduister word, en te midde van ’n wêreldwye aanslag van verleidende geeste op die kerk van die Here, staan Jesus Christus en sy verlossingsboodskap onmiskenbaar uit as ’n helderskynende lig in ’n donker wêreld. Hy is die enigste oplossing vir ’n mensdom wat in die mag van die Bose is:

·      Hy is die Weg, die Waarheid en die Lewe vir almal wat hulleself op die dwaalweë van Satan bevind, en weens die verduistering van hulle gemoed op die pad van die dood voortbeweeg.

·      Hy is die Lam van God wat die sondes van die wêreld wegneem. Dit is glad nie nodig om jou laste van sonde en ongeregtigheid te dra en tevergeefse pogings aan te wend om self daarvan ontslae te raak nie.

·      Hy is die ewige en onwankelbare Rots van die Eeue waarop ook nasies in hierdie onseker en vervallende wêreld hulle regering, maatskaplike orde, onderwysstelsel en morele beginsels kan bou.

Dit is belangrik dat ons die Here Jesus persoonlik sal ken – nie net as ons Verlosser nie, maar ook as ons Heiligmaking, ons Herder, ons Bruidegom en in al die ander wonderlike hoedanighede waarin Hy Homself aan ons openbaar. Ná die blye dag waarop ons Hom ontmoet en in ons harte en lewens ingenooi het, moet ons voortdurend toeneem in die genade en kennis van Hom, ons Here en Saligmaker, Jesus Christus (2 Pet. 3:18).

Dit was die groot doel van Paulus se lewe, en hiervoor het hy alles prysgegee om Christus as wins te verkry (Fil. 3:8). Dit moet die groot dryfkrag in ’n Christen se lewe wees: “… totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ’n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus; sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering” (Ef. 4:13-14).

Die Here Jesus openbaar Homself op ’n besondere wyse deur al die persoonlike en beskrywende name van Hom wat in die Bybel opgeteken is. Indien ons Hom reeds as Verlosser ontmoet het, sal ons deur ’n studie van die betekenisse van sy wonderlike name vir ’n nuwe ontmoeting met Hom voorberei word. Nie alleen sal dit ons geestelike lewe meer vervullend en dinamies maak nie, maar ons sal nuwe inspirasie verkry om Hom liewer te hê en met ’n volkome hart te dien.

Vertaling van Bybelse name

Voordat die name van die Here Jesus bespreek word, moet die vraag oor die wenslikheid en/of korrektheid van die vertaling van die oorspronklike Hebreeuse name wat op die Godheid betrekking het, eers beantwoord word omdat dit ook teologiese implikasies het. ’n Beweging terug na hierdie name gaan meesal ook gepaard met ’n beweging terug na ou Testamentiese gebruike wat reeds vervul is en nie op die Nuwe Testamentiese kerk betrekking het nie.

Hierdie beweging, waarna onder andere ook as die Sacred Name-beweging verwys word, is openlik op die Judaïsering van die Christendom ingestel. Hulle neem sterk standpunt in vir die eksklusiewe gebruik van Hebreeuse name vir God en die Here Jesus. Hulle argumente is egter grootliks op onkunde en valse aannames gebaseer. Sommige onder hulle gaan selfs so ver om te beweer dat die Griekse name vir God en Jesus Christus, wat in bykans alle Bybelvertalings gebruik word, op afgode dui. Daar word bv. gesê dat Jesus afgelei is van Je-Zeus, wat beteken: Seun van Zeus (’n bekende afgod in die Griekse mitologie). Om duidelikheid oor hierdie omstrede saak te kry, sal ons kortliks die gebruik van verskillende tale in Bybelse tye moet ondersoek.

Tydens die Assiriese en latere Babiloniese ballingskap van Israel, en ook daarna, het die meeste Jode verleer om Hebreeus te praat. Hulle het Aramees en Grieks aangeleer en as omgangstale gebruik. Aramees was ’n omgangstaal wat in die hele Midde-Ooste deur baie volke gepraat is. Dit was ’n mengsel van Siries en Hebreeus. “Aram” is die Bybelse naam vir Sirië. In die tyd van Jesus was Aramees ook die omgangstaal in Israel. Jesus en sy dissipels het ’n Galilese dialek van Aramees gepraat. Die kennis van Hebreeus was beperk tot geleerde Jode, bv. die rabbi’s en skrifgeleerdes.

In Aramees is daar na Jesus Christus verwys as Eashoa Msheekha, in Hebreeus as Jashua (of Jeshua) Ha Mashiach, en in Grieks as Iesous Christos (Iesous met die ongeaspireerde “i” word as Jesous uitgespreek). Al die boeke van die Nuwe Testament is oorspronklik deur die inspirasie van die Heilige Gees in Grieks ingegee (vgl. 2 Tim. 3:16; 2 Pet. 1:21), en hierin word na God as Theos, Here as Kurios, en Jesus Christus as Iesous Christos verwys. Dit is lasterlik om te beweer dat dit name van afgode uit ’n nie-Joodse kultuur is. Die Griekse name vir God (Theos en Kurios) was toe al vir meer as twee eeue lank gevestig en ook in Israel algemeen in gebruik. Dit was nooit omstrede nie.

Die naamwoorde God of gode kan egter as generiese terme ook na afgode verwys, afhangende van die konteks waarin dit gebruik word. So bv. word die duiwel as die god (theos) van hierdie wêreld beskryf (2 Kor. 4:4). Dieselfde reël geld ook in Hebreeus, waar Elohim na sowel God as afgode kan verwys. In Exodus 20:2-3 staan daar: “Ek is die Here (Jahweh) jou God (Elohim) ... . Jy mag geen ander gode (elohim) voor my aangesig hê nie.” Beide die Griekse en Hebreeuse naamwoorde én eiename is oorspronklik deur die Heilige Gees gebruik toe Hy die Bybelskrywers geïnspireer het, en dit is foutief om te beweer dat die Griekse name swak vertalings van die Hebreeuse name is.

In die tyd van Jesus was Aramees die algemene omgangstaal in Israel. Die stelling in Handelinge 21:40 dat Paulus die volk in Hebreeus toegespreek het, behoort meer korrek vertaal te word as “in ’n Hebreeuse dialek” – in hierdie geval Aramees. Die Amplified Bible asook die Modern King James Version sê: “... he spoke to them in the Hebrew dialect.” Die NIV vertaal dit só: “... he said to them in Aramaic”. Stanley Toussaint (1983:417) sê: “When Paul was granted permission to speak to the mob, he addressed them in Aramaic, the common language of Palestinian Jews, used throughout the Middle East at that time.” Baie van hulle was ook Grieks magtig.

Die Septuagint is ’n Griekse vertaling van die Ou Testament, wat in die 3de eeu voor Christus vir gebruik deur Griekssprekende Jode in Alexandrië, Egipte, opgestel is. Dit is baie algemeen gebruik deur Hellenistiese Jode wat oral in die Griekse ryk verspreid geraak en gaandeweg verleer het om Hebreeus te praat. Hierdie geskrif het ook aan nie-Jode insae in Israel se geskiedenis, kultuur en godsdienstige ontwikkeling gegee. Septuaginta is die Latyns vir 70 en verwys na 70 Joodse geleerdes wat die vertaling gedoen het; daarom word dit ook as LXX afgekort. Sommige bronne beweer dat daar 72 vertalers was – ses uit elk van die 12 stamme van Israel.

In aansluiting hierby is alle boeke van die Nuwe Testament aanvanklik in Grieks geskryf. Dit is waarom ons op verskeie plekke die woorde vind: “… as dit vertaal word …” (kyk Matt. 1:23; Mark. 5:41; 15:22; 15:34; Joh. 1:39; 1:42; Hand. 4:36; 9:36). Dit dui op sekere Aramese en Hebreeuse woorde wat in Grieks vertaal is. Die skrywers het meesal uit die Septuagint aangehaal en met enkele uitsonderings uit die Hebreeus en Aramees. Daar is ruim bewyse in die evangelies dat aanhalings uit die Septuagint gedoen is, en nie uit die Hebreeuse teks van die OT nie.

Hebreeuse teks toon geen vokale aan nie en is eers baie later gevokaliseer. Dit is onder andere waarom die sg. “Bybelkodes” nie kan werk nie. Aramese woorde word ook in die NT gevind, soos Fariseër en Abba. Skrywers het uit die Griekse Septuagint aangehaal, want dit was die voertaal tydens die skryf van die NT.

Daar is algemene konsensus onder kenners van die oorspronklike tale dat skrywers van die NT hoofsaaklik uit die Septuagint aangehaal het. Die Ou Testamentiese gedeeltes waaruit Romeine 3:13-18 en Hebreërs 1:6 aanhaal, verskyn nie eers in die Hebreeuse tekste nie, maar het alleenlik in die Septuagint behoue gebly. Toussaint (1983:782) sê onder andere die volgende oor Hebreërs 1:6: “The reference is to the Second Advent when the kingly prerogatives of the Son will be recognized with open angelic worship (cf. Ps. 97:7 where the LXX rendering ‘angels’ correctly renders the text).”

In die lig van hierdie feite is dit onmoontlik dat die Godsnaam net in Hebreeus gebruik behoort te word. Niemand weet in elk geval presies hoe die Godsnaam in Hebreeus uitgespreek word nie. Die Tetragram (vierletterwoord, JHWH), kan in gevokaliseerde vorm op baie verskillende maniere uitgespreek word, o.a. Jahweh, Jehowah, Jahwuh en Jahuweh. Daar is ook nie eenstemmigheid oor hoe Jesus se Naam in Hebreeus uitgespreek word nie – Jeshua, Jahshua of Jahushua.

Dit is dus nie nodig om nou ’n revolusie oor die name van God te ontketen nie. Ons moet wel seker maak oor hóé ons hierdie name gebruik en eerbiedig, en dit teen enige semantiese veranderings of vervalsings beskerm. Alles hang af van die inhoud wat aan ’n generiese term gekoppel word soos blyk uit die konteks waarin dit gebruik word. God kwalifiseer Homself dikwels in die Bybel as die Almagtige God, die Skepper van die hemel en aarde, die God van Abraham, Isak en Jakob, die Ewige Ek Is, ens. Jesus word ook gekwalifiseer as Here, Christus, Lam van God, ens. Wanneer ’n naam of begrip swak gekwalifiseer word, kan dit van sy oorspronklike betekenis verloor; dan kan selfs Jesus ’n ander Jesus word, en Christus ’n valse Christus. Om hierdie rede is dit so belangrik om van al die name en attribute van God en die Here Jesus kennis te neem, want dan kan ons teen verskralings en vervalsings daarvan waak.

Persone of Christelike groepe wat ten spyte van hierdie feite voortgaan om net Hebreeuse weergawes van eiename en plekname te gebruik, en selfs die Bybel so oor te vertaal (bv. Woord en Getuienis deur Elim Bedieninge, 2004), is met ’n onnodige aksie van hebraïsering besig. Daar is verskeie slaggate op hierdie pad, waaronder ’n wettiese verlossingsleer en lewenswyse volgens die Tora, die onderhouding van Joodse feesdae (insluitend die Ou Testamentiese Sabbat), en selfs die ontkenning van die Drie-eenheidsleer.

God die Seun

Voordat die name en ampte van die Here Jesus bespreek word, sou dit raadsaam wees om eers ’n baie duidelike, Nuwe Testamentiese stelling te maak oor sy godheid en ewige selfbestaan. Die uiteensetting in Hebreërs 1 is baie nuttig vir hierdie doel. Die Sendbrief aan die Hebreërs is  heelwaarskynlik deur Paulus geskryf aan Joodse gelowiges, wat onder sterk druk van ander Jode was om hulle Christelike belydenis te laat vaar en na die geloof van hulle voorvaders terug te keer. Onder die ortodokse Jode was geloof in Jesus Christus as God die Seun en ook Koning van Israel, een van die aansprake wat hoogs omstrede en vir hulle totaal verwerplik was. Dit is vandag nog so. Met die oog op die toenemende weerstand wat die groeiende aantal Messiaanse Jode daardie tyd ervaar het, is hierdie goddelik-geïnspireerde sendbrief geskryf om hulle geloof te versterk.

Zane Hodges (1983:777) sê: “Die Sendbrief aan die Hebreërs is ’n ryk gedeelte van die Nuwe Testamentiese kanon. Op ’n unieke wyse verhoog dit die persoon en werke van die Here Jesus Christus. In die proses maak dit ’n geweldige belangrike bydrae tot die leerstellings van sy menswording, sy plaasvervangende dood en sy priesterskap. ... Die kerk sou onberekenbaar armer gewees het sonder die lering van hierdie geïnspireerde boek.” In die eerste hoofstuk word daar groot waarhede genoem wat in die res van die brief meer volledig behandel word:

“Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het. Hy, wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese en alle dinge dra deur die woord van sy krag, nadat Hy deur Homself die reiniging van ons sondes bewerk het, het gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoogte, terwyl Hy soveel uitnemender geword het as die engele namate Hy 'n voortrefliker naam geërf het as hulle. Want aan wie van die engele het Hy ooit gesê: U is my Seun, vandag het Ek U gegenereer? en weer: Ek sal vir Hom ’n Vader wees, en Hy sal vir My ’n Seun wees? En wanneer Hy weer die Eersgeborene in die wêreld inbring, sê Hy: En al die engele van God moet Hom aanbid. En van die engele sê Hy wel: Hy wat van sy boodskappers winde maak en van sy dienaars vuurvlamme; maar van die Seun: U troon, o God, is tot in alle ewigheid, die septer van u koninkryk is ’n regverdige septer; U het geregtigheid liefgehad en ongeregtigheid gehaat; daarom het, o God, u God U gesalf met vreugde-olie bo u metgeselle; en: U, o Here, het in die begin die aarde gegrondves en die hemele is werke van u hande. Hulle sal vergaan, maar U bly; en hulle sal almal soos 'n kleed verslyt, en soos ’n mantel sal U hulle toerol, en hulle sal verander word, maar U is dieselfde, en u jare het geen einde nie” (Heb. 1:1-12).

Die volgende is sleutelstellings in hierdie hoofstuk:

Die Drie-enige God se finale openbaring aan die mensdom deur die Seun (v. 1-2). Hodges (1983:780) sê: “In ’n verhewe openingsparagraaf stel die skrywer sy lesers onmiddellik bekend aan die onoortreflike grootheid van die Here Jesus Christus. Hy verklaar dat die Seun die uitnemende kanaal van goddelike openbaring is.” Wat die profete in die Ou Testament gesê het, was ’n geleidelike ontplooiing van God se openbarings, om die mensdom voor te berei vir die Goddelikbepaalde oomblik wanneer Hy deur sy Seun, die Messias, mens sou word. Die Seun is die aangewese erfgenaam van alle dinge, en sal vir altyd as Koning regeer. Hy het die wêreld gemaak, en bestaan dus van alle ewigheid af.

Die Seun is die afskynsel van die Drie-enige God se wese (v. 3-4). Hy is ver bokant die engele verhewe omdat Hy nie, soos hulle, net ’n dienskneg van God is nie, maar die uitdruklike beeld van God. Deur sy goddelike krag onderhou Hy die hele skepping. Nadat Hy die reiniging van ons sondes bewerk het, het Hy na die hemel opgevaar en aan die regterhand gaan sit van die Majesteit in die hoogte.

n Vader-Seun-verhouding het van sy menswording af bestaan (v. 5-6). Op ’n sekere oomblik in tyd het een lid van die Drie-enige God deur inkarnasie God die Seun geword. Om hierdie rede verwys ons na “die Seunskap van Jesus sedert sy menswording” (vgl. Joh. 1:1, 14), en nie na sy “ewige Seunskap” nie. Hy is nie ’n geskape wese wat aan die begin deur die Vader gegenereer is nie, maar van ewig af die selfbestaande God en Skepper van die hemel en aarde. Van ’n bepaalde oomblik af in tyd het Hy egter die Seun geword, en van daardie tyd af verwys die Bybel na ’n Vader-Seun-verhouding in die Drie-eenheid.

Die Seun is God én Koning (v. 8-9). Onweerlegbare getuienis word gegee dat die Seun ook God is: God sê van die Seun: “U troon, o God, is tot in alle ewigheid, ... daarom het, o God, u God U gesalf met vreugde-olie bo u metgeselle.” Zane Hodges (1983:782) sê: “Die aanhaling in verse 8-9 kom uit Psalm 45:7-8, waarin die finale oorwinning van God se Messias-Koning beskryf word. In hierdie Messiaanse Psalm word die naam God (Heb. Elohim) ten opsigte van beide die Vader en die Seun gebruik.

Die Seun is die selfbestaande Here wat vir ewig lewe (v. 10-12). In hierdie verse sê God van sy Seun: “U, o Here, het in die begin die aarde gegrondves en die hemele is werke van u hande. Hulle sal vergaan, maar U bly; en hulle sal almal soos ’n kleed verslyt, en soos ’n mantel sal U hulle toerol, en hulle sal verander word, maar U is dieselfde, en u jare het geen einde nie.” Hierdie aanhaling kom uit Psalm 102:26-28, en Jesus word hier beskryf as Here (Heb. Jahweh). Selfs wanneer die huidige skepping verslete raak soos ’n ou kleed en dan in ’n nuwe een verander moet word, sal die Seun onveranderd bly voortbestaan. Aan die einde van die Sendbrief word die onveranderlikheid van die Seun herhaal: “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid” (Heb. 13:8).

Name van die Here Jesus Christus

Die name van die Here Jesus kan in die volgende vier kategorieë ingedeel word:

·      Sy eienaam as vleesgeworde Verlosser.

·      Die name wat op sy godheid dui.

·      Sy ampsnaam asook die tien ampte wat Hy beklee.

·      Sy beskrywende name.

Sy Eienaam

Die naam Jesus (Die Here [Jahweh] is Verlossing; Heb. Jeshua) is deur God self aan sy Seun gegee. ’n Engel het in ’n droom aan Josef verskyn en gesê: “Josef, seun van Dawid, wees nie bevrees om Maria, jou vrou, by jou te neem nie, want wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees; en sy sal ’n seun baar, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos” (Matt. 1:20-21). 

Om volgens God se standaarde die Verlosser van die volk Israel én van die hele wêreld te wees, moet Jesus die volmaakte God-mens wees. Hy moes in ’n menslike geslag (die koninklike linie van Dawid in die stam van Juda) gebore word om Seun van die mens te kan wees. Nogtans moes ’n man Hom nie verwek nie, sodat Hy nie enige deel aan die menslike ras se erfsonde sou hê nie. Hy moes dus deur die beskikking van God uit ’n maagd gebore word sodat Hy ook Seun van God kan wees: “... die naam van die maagd was Maria. ... En die Engel antwoord en sê vir haar: Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom sal ook die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word” (Luk. 1:27, 35).

Sy Naam as God

In die Ou Testament het die Here God (Jahweh Elohim, die Drie-enige God) Homself verklaar as die selfbestaande “EK IS” (Ex. 3:14). In Johannes 8:58 het Jesus Christus verklaar: “Voordat Abraham was, is Ek” (Eng: “... before Abraham was, I AM” – NKJV). Hy is die selfbestaande God, gelyk aan die ewig-selfbestaande God die Vader en God die Heilige Gees, en moet ook as Here en God aangespreek word. Die apostel Johannes bevestig hierdie stelling: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God” (Joh. 1:1). Uit liefde vir ’n sondige mensdom het Hy sy heerlikheid en krag as God se Skepper ter syde geskuif, en Homself verneder om ’n mens te word sodat Hy versoening vir ons sondes kon doen deur aan die kruis op Gólgota te sterf.

Hoewel Christus op aarde al die beperkings van menswees aanvaar het, was daar tog aanduidings van sy goddelike heerlikheid. Paulus sê: “Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping; want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is ... . En Hy is voor alle dinge” (Kol. 1:15-17). Die Drie-enige God het tot ons gespreek deur die Seun, “Hy, wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese en alle dinge dra deur die woord van sy krag, nadat Hy deur Homself die reiniging van ons sondes bewerk het, het gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoogte” (Heb. 1:3). Sy godheid het ook geblyk toe Hy as mens gesê het: “Ek en die Vader is een” (Joh. 10:30).

In Johannes 5 word die gelykheid tussen Jesus en die Vader op ’n sewevoudige wyse bevestig. Hulle is: gelyk in werke (v. 19), gelyk in kennis (v. 20), gelyk in opwekkingskrag (v. 21), gelyk in oordele (v. 22), gelyk in eerbiedwaardigheid (v. 23), gelyk in herskeppingskrag (v. 24), en gelyk in selfbestaanheid (v. 26).

Hoewel Jesus, die Woord, mens geword het, is Hy inderdaad Here (Kurios – Hand. 10:36) en God (Theos – Rom. 9:5). Dit is belangrik om Hom in hierdie hoedanigheid aan te spreek wanneer ons bid of oor Hom praat. Voor sy opstanding, hemelvaart, en die uitstorting van die Heilige Gees, is Jesus as meester (didaskalos, kathegetes, rabbi of epistates) aangespreek, terwyl net enkele van sy dissipels besef het dat Hy die Messias (Christus) is (Matt. 16:13-17). Met sy verheerliking het ook die volle openbaring van sy godheid gekom, en word Hy nie meer net as leermeester of meester nie, maar as Here en God aangespreek.

Petrus verwys na Jesus as “Here” en “Christus” (1 Pet. 1:3) en ook as “God” en “Saligmaker” (2 Pet. 1:1). Johannes sê: “Ons is in die Waaragtige ... Jesus Christus. Hy is die waaragtige God en die ewige lewe” (1 Joh. 5:20). Paulus praat dikwels van die “Here Jesus” (Ef. 1:15), en beskryf Hom met groot ontsag as “die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus” (Tit. 2:13).

Ons behoort nie net van Jesus te praat sonder om sy eienaam te koppel aan sy godheid (Here Jesus) of aan sy ampsnaam (Jesus Christus) of selfs aan albei nie (Here Jesus Christus). As gevolg van die groot aanslag op die maagdelike geboorte en godheid van die Here Jesus, moet ons Hom uitdruklik as God of Here aanbid en verkondig.

Dit is ook eensydig om voortdurend net van Christus te praat omdat dit Jesus se ampsnaam is wat Gesalfde beteken. Dit is nie verkeerd nie, maar mense praat soms van “Christus” en ’n “Christelike lewenswyse” op ’n ietwat formele en selfs abstrakte wyse. Wanneer ’n mens die Here Jesus regtig persoonlik ken, behoort jy nie huiwerig te wees om sy eienaam te gebruik nie.

Jy moet onthou dat daar net een naam onder die hemel gegee is waardeur mense gered kan word, en dit is die naam Jesus (Hand. 4:12). Roep Hom deur hierdie Naam aan en gee ook erkenning aan sy gesag as Christus, Here en God. Nuwe Testamentiese gelowiges wat onder die leiding van die Heilige Gees Bybelstudie doen, het die voordeel van ’n voller openbaring van die Here Jesus. Die Heilige Gees gee aan ons meer insig in die onnaspeurlikheid van sy almag, grootheid, reddende genade, en die volle omvang van sy liefde. Ons hoef dus nie in onkunde oor sy godheid en al sy ander voortreflike hoedanighede te leef nie.

Sy Ampsnaam

Die Here Jesus is ook die Gesalfde [Heb. Mashiach (Messias); Grieks Christos (Christus)] wat vir sy sending na die aarde afgesonder en toegerus is. In ’n messiaanse profesie stel Jesaja dit só: “Die Gees van die Here Here [Adonai Jahweh] is op My, omdat die Here [Jahweh] My gesalf het om die blye boodskap te bring ...” (Jes. 61:1).

Christus is ’n oorkoepelende ampsnaam van die Here Jesus omdat Hy vir tien ampte of take afgesonder is wat net deur Homself vervul kan word.

Ampte van Jesus Christus

Die tien ampte waarvoor Christus gesalf is, asook die besondere titels wat daaraan verbonde is, is die volgende:

1.  Lam van God

Die heel belangrikste rede waarom die Here Jesus gesalf en afgesonder is om na die aarde te kom, was om ’n gevalle mensdom uit die mag van die sonde los te koop. Om dit te kon doen, moes Hy die gestalte van ’n mens aanneem sodat hy Homself as ’n offer vir ons sondes kon aanbied deur sy bloed te stort en fisies aan die kruis te sterf. Hy moes God se Offerlam word:

“... die bloed van stiere en bokke kan onmoontlik die sonde wegneem. Daarom sê Hy, as Hy in die wêreld inkom: Slagoffer en spysoffer wou U nie hê nie, maar U het vir My ’n liggaam berei. ... Toe het Ek gesê: Kyk, Ek kom – in die boekrol is dit van My geskrywe – om u wil te doen, o God. ... Deur hierdie wil is ons geheilig deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, net een maal” (Heb. 10:4-5, 7, 10).

Die godgegewe wet dat daar “sonder bloedvergieting geen vergifnis plaasvind nie” (Heb. 9:22; Lev. 17:11), is vir 1 500 jaar voor die koms van die Messias by die volk Israel ingeskerp. Duisende offerdiere moes volgens die Ou Testamentiese wette geslag word sodat die Levitiese priesters versoening vir die volk se sonde kon doen.

Dit alles was egter maar net heenwysings na die eenmalige slag van die Lam van God in die volheid van die tyd. Dit was met hierdie belangrike saak in gedagte dat Johannes die Doper vir Jesus só aan die volk voorgestel het as die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem (Joh. 1:29; Heb. 7:27).

Jesaja het die volk lank tevore reeds op die groot offer van die Lam van God voorberei: “Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. ... Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe was, en Hy het sy mond nie oopgemaak nie; soos ’n lam wat na die slagplek gelei word ...” (Jes. 53:5, 7).

Gee jy die nodige erkenning aan die versoeningswerk van die Lam wat Hy deur die aflegging van sy lewe en die stort van sy bloed vir ons bewerk het? Aanvaar jy dit volkome in die geloof en het dit jou lewe grondig verander? Dink aan wat dié offer vir elkeen van ons behoort te beteken:

By die instelling van die Nagmaal het Jesus gesê dat dit ’n herinneringsmaal is vir sy liggaam wat vir ons gebreek en die bloed van die Nuwe Testament wat vir ons gestort is (Luk. 22:19-20). Ervaar jy in die Nagmaal die Here Jesus in die konteks van die offer wat Hy gebring en sy bloed wat Hy vir die versoening van jou sonde gestort het? Geen voorstelling van Christus is volledig sonder die aspek van die bloed nie. “Hom het God voorgestel in sy bloed as ’n versoening deur die geloof, ... sodat Hy regverdig  (kan) maak wie uit die geloof in Jesus is” (Rom. 3:25-26).

Ons redding en wedergeboorte is op die bloed gebaseer:

·      Ons is geregverdig deur sy bloed en op grond daarvan gered van die toorn (Rom. 5:9).

·      “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade” (Ef. 1:7).

·      Ons is losgekoop “deur die kosbare bloed van Christus, soos van ’n lam sonder gebrek en vlekkeloos” (1 Pet. 1:18-19).

·      Jesus Christus het ons liefgehad en ons van ons sondes gewas in sy bloed (Op. 1:5).

Ons voortgesette reiniging is ook op die bloed gebaseer:

·      “As ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar;” en die bloed van die Here Jesus Christus reinig ons voortdurend van alle sonde en ongeregtighede (1 Joh. 1:7).

·      Die bloed van Christus reinig ons gewete “van dooie werke om die lewende God te dien” (Heb. 9:14).

·      Toe Jesus Homself as slagoffer vir die sondes gebring het, “het Hy vir altyd volmaak die wat geheilig word” (Heb. 10:12, 14). Deur sy eenmalige offer hou Hy aan om ons te vervolmaak mits ons in Hom bly (Joh. 15:2, 4).

·      ’n Bietjie suurdeeg (sonde) maak die hele deeg suur. “Suiwer dan die ou suurdeeg uit, ... want ook ons Paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus” (1 Kor. 5:6-7). Reiniging deur die bloed van die Lam is altyd tot ons beskikking wanneer ons van sonde bewus word en dit bely.

Die bloed is ook ’n magtige wapen teen die aanslae van die vyand:

·      Die martelare van die verdrukking sal die Antichris “oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis” (Op. 12:11). Ook vir ons is daar krag in die bloed in die hewige stryd teen die sielevyand. Die krag van die bloed verwys na geloof in die soendood van Christus.

Die hoedanigheid van Christus as die Lam van God wat sy lewe vir sondaars afgelê het, is die grondslag vir al sy ampte. Omdat Hy die losprys betaal het, kan Hy as Hoëpriester, Middelaar en Herder optree, Hoof van sy vrygekoopte gemeente wees, en as Koning oor sy erfdeel regeer. Hy kan Regter oor sy diensknegte wees, en uiteindelik ook oor almal wat nie sy versoeningswerk wou aanvaar nie.

Dit is juis die Lam, wat in die Boek Openbaring 26 keer deur hierdie naam bekend gestel word, wat in die verdrukking die wêreld weens hulle rebellie teen Hom sal oordeel. Die konings sal saam met hulle onderdane na die berge vlug, in spelonke wegkruip en in hulle benoudheid na die rotse en die berge uitroep: “Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Op. 6:16-17).

Aan die ander kant sal daar diegene wees wat aan die Lam gehoorsaam was en in dankbaarheid teenoor Hom sal uitroep: “U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Op. 5:9-10). Is die evangelie wat jy bely werklik die bloedevangelie van die Lam, of bou jy dalk wat jou saligheid betref op valse fondamente? Maak baie seker dat jy nie jou hoop in een van die volgende drie valse evangelies stel nie, want dan sal die Regter jou weeg en te lig bevind:

Sakramentsevangelie. Dit het betrekking op mense wat op die doop vertrou vir redding en op die Nagmaal vir voortgesette reiniging, sonder dat hulle ’n persoonlike ontmoeting met die Here Jesus gehad en ’n oorgawe aan Hom gemaak het. Hulle wandel nie met die Here nie, omdat hulle nog net by die kerk uitgekom het, maar nog nie by die Here Jesus nie.

Morele evangelie. Dit is die beskouing dat ’n mens op grond van jou goeie lewe gered word. Kerkbesoek verseker voortgesette moralisering om jou te help om op die regte pad te bly. Jy word geleer dat jy jou nie te buite moet gaan nie, en as jy ’n ‘matige sondaar’ is, hoef jy nie te twyfel aan jou redding nie. Die Bybel leer egter dat daar buite Christus nie een mens is wat regverdig is nie, selfs al dink hy of sy ook so (Ef. 2:12-13; 1 Joh. 5:12).

Werke-evangelie. Die geloof in werkeheiligheid word nie alleen in die Rooms-Katolieke Kerk gehuldig nie, maar ook in vervalle Protestantse Kerke. Lidmate meen dat hulle hul saligheid kan koop deur groot bydraes aan die kerk te gee en vir die Here te werk. Saligheid kan egter nie deur werke verdien word nie (Ef. 2:8-9). Persone wat rééds deur die geloof gered is, werk uit dankbaarheid vir die Here. Hulle weet dat hulle ’n lewende God dien en dat geloof ook lewendig moet wees en na ’n lewe van toewyding aan die Here móét lei (Ef. 2:10). ’n Geloof sonder werke is ’n dooie geloof (Jak. 2:14-17), maar so ook is werke sonder geloof nutteloos. Jesus Christus is die fondament van bekering, en deur ons werke van toewyding bou ons onder die leiding van die Heilige Gees daarop voort (1 Kor. 3:11-13; Matt. 3:8).

Dit is tot die eer van die Lam van God as ons aan Hom erkenning gee vir die vergifnis van sondes, en ook ná ons redding die voortgesette reiniging deur sy bloed ervaar.

2.  Profeet

’n Profeet is ’n bekendmaker of aankondiger van die wil en plan van God met die mens, m.a.w. ’n prediker. Dít was Jesus Christus by uitnemendheid. Van sy bekendste preke is die bergpredikasie, die gelykenisse en die profetiese rede. Baie van die waarhede oor God se heilsplan is tydens genesings verkondig, by ete-afsprake, in onderrig aan sy dissipels, en ook in antwoord op vrae wat mense aan Hom gestel het. Jesus het groot waarhede oor God se raadsplan bekend gemaak, wat nog nooit tevore deur profete gedoen is nie. Hy het gesê: “Ek sal my mond open deur gelykenisse; Ek sal uitspreek dinge wat verborge was van die grondlegging van die wêreld af” (Matt. 13:35).

’n Ou Testamentiese reël vir profete was dat hulle nét woorde uit God se mond aan die volk moes verkondig. Hulle kon niks weggelaat of bygevoeg het nie; daarom is Bybelse profesieë 100% akkuraat en is valse profete gestenig: “Die profeet wat so vermetel is om ’n woord in my Naam te spreek wat Ek hom nie beveel het om te spreek nie, of wat in die naam van ander gode spreek, dié profeet moet sterwe” (Deut. 18:20).

Jesus Christus het in sy hoedanigheid as profeet nét woorde uitgespreek wat van die Vader kom: “Ek het nie uit Myself gespreek nie; maar die Vader wat My gestuur het, Hy het My ’n gebod gegee wat Ek moet sê en wat Ek moet spreek. En Ek weet dat sy gebod die ewige lewe is. Wat Ek dan spreek – net soos die Vader vir My gesê het, so spreek Ek” (Joh. 12:49-50; vgl. Joh. 17:8).

3.  Hoëpriester

In die Ou Testament moes die hoëpriester benewens al sy ander funksies een maal per jaar op die Groot Versoendag die Allerheiligste betree om ’n bloedoffer vir die sondes van die volk te bring. Dit was verbode vir ander mense om agter die voorhangsel tot by die verbondsark in te gaan.

Jesus Christus is die Hoëpriester van die Nuwe Testament (Heb. 8:1-2). Om hierdie amp te kon beklee, moes Hy eers mens word en ook versoek word soos mense, sodat Hy met ons medelye kon hê: “Daarom moes Hy in alle opsigte aan sy broeders gelyk word, sodat Hy ’n barmhartige en getroue hoëpriester kon wees ... om die sondes van die volk te versoen. Want deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy dié help wat versoek word. ... Want ons het nie ’n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word” (Heb. 2:17-18; 4:15-16).

Jesus het nie ’n Levitiese priesterskap beklee nie, omdat die Leviete sterflik was en mekaar opgevolg het, en ook sondig was en eers vir hulle eie sondes versoening moes doen, en dán vir dié van die volk. Jesus het ’n ewige en volmaakte priesterskap:

“Die Here het gesweer en dit sal Hom nie berou nie: U is priester vir ewig volgens die orde van Melgisédek – in sover het Jesus van ’n beter verbond borg geword. En hulle het wel priesters geword in ’n groot aantal, omdat hulle deur die dood verhinder is om aan te bly; maar Hy, omdat Hy vir ewig bly, besit ’n priesterskap wat nie op ander oorgaan nie. Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree. Want so ’n hoëpriester was vir ons gepas, een wat heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars is, en wat hoër as die hemele geword het; wat nie elke dag nodig het, soos die hoëpriesters, om eers vir sy eie sondes offers te bring en dan vir dié van die volk nie. Want dit het Hy net een maal gedoen toe Hy Homself geoffer het” (Heb. 7:21-27).

Ken jy hierdie getroue Hoëpriester wat medelye met jou swakhede het en altyd leef om by God vir jou in te tree? Besef jy jou verantwoordelikheid om in sy voetspore te volg, heilig en afgesonderd te leef en vir ander by die genadetroon in te tree? Tree jy deur die bloed van Jesus toe op die nuwe en lewende weg wat Hy deur die geskeurde voorhangsel tot by die genadetroon ingewy het? (Heb. 10:19-20). Is jy ’n gereelde besoeker aan die genadetroon?

Ons is tot ’n koninklike priesterdom geroep om die deugde te verkondig van Hom wat ons uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig (1 Pet. 2:9). ’n Priester moet namens God met die volk praat (preek) en ook namens die volk met God praat (bid). ’n Priester moet heilig leef omdat God heilig is, en nougeset teen sonde waak. Indien hy tóg sondig, weet hy waar om genade te vind: “My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ’n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus die Regverdige. En Hy is ’n versoening vir ons sondes” (1 Joh. 2:1-2).

4. Middelaar

Jesus Christus tree op as Middelaar tussen die mensdom en God die Vader. Hy is vir hierdie amp gesalf omdat net Hy, op grond van sy kruisdood, verlore mense met God kan versoen. Vergeleke met die Ou Testamentiese hoëpriesters wat as tussengangers tussen die volk en God opgetree het, het Christus “’n voortrefliker bediening verkry vir sover Hy ook Middelaar is van ’n beter verbond wat op beter beloftes wettelik gegrond is” (Heb. 8:6).

Die offers onder die ou verbond was onvolledig omdat hulle net skaduagtige heenwysings na die finale offer van die Lam van God was (Heb. 10:1-10). Ons het die beter en wettige belofte verkry dat ons geheilig word deur die offer van Christus, wat die Middelaar van die nuwe verbond is. Net sy offer voldoen aan die eise van God se geregtigheid en regverdigheid (Ef. 1:7; 1 Pet. 1:18-19).

5.  Kneg

Jesus is die Kneg van die Here wat na die aarde gekom het om ’n groot verlossingswerk te doen. Messiaanse profesieë in die Ou Testament kondig dit só aan: “En nou sê die Here wat My van die moederskoot af geformeer het om sy Kneg te wees ... : Dit is te gering dat U my Kneg sou wees om op te rig die stamme van Jakob en terug te bring die gespaardes in Israel: Ek het U gemaak tot ’n lig van die nasies, om my heil te wees tot aan die einde van die aarde” (Jes. 49:5-6). “Wie is daar onder julle wat die Here vrees, wat na die stem van sy Kneg luister?” (Jes. 50:10).

Die eienskappe van ’n kneg is nederigheid en diensbaarheid. Die Here Jesus het sy dissipels ernstig teen hoogmoed en selfverheffing gewaarsku:

“Julle weet dat die wat gereken word as owerstes van die nasies, oor hulle heers, en dat hulle groot manne oor hulle gesag uitoefen; maar so moet dit onder julle nie wees nie, maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees. En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet almal se dienskneg wees. Want die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys vir baie” (Mark. 10:42-45).

6.  Herder

Christus het as die Herder van sy kudde ’n absolute verbintenis tot hulle welsyn omdat Hy hulle duur gekoop het met sy kosbare bloed. “Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape” (Joh. 10:11). Hy het die vaste versekering gegee: “Ek is die deur van die skape. ... [As] iemand deur My ingaan, sal hy gered word ...” (Joh. 10:7, 9). Dit is te begrype dat, as Hy sy lewe vir die skape afgelê het, Hy ook voortdurend na hulle belange sal omsien; daarom het Hy bygevoeg: “Ek het gekom dat hulle lewe en oorvloed kan hê” (Joh. 10:10). Hy sê ook elders: “Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie” (Heb. 13:5).

Die Herder neem leiding deurdat Hy voor sy skape uit loop, die weg aanwys, en hulle Hom getrou navolg (Joh. 10:4). Dit is in hulle eie belang om die Herder te volg en naby Hom te bly, anders dwaal hulle van sy weë af en word dan deur die duiwel uitmekaar gejaag en in wanorde en verwarring gebring (Joh. 10:12).

Daar is net een pad uit ’n toestand van afgedwaaldheid, en dit is terug na die Here Jesus: “Want julle was soos dwalende skape, maar nou het julle teruggekeer na die Herder en opsiener van julle siele” (1 Pet. 2:25). Die Herder bly ten alle tye getrou en Hy sal altyd sy verpligtinge teenoor sy kudde nakom:

“Die Here is my Herder; niks sal my ontbreek nie. Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen. ... Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, sal ek geen onheil vrees nie; want U is met my” (Ps. 23:1-4).

Ons moet begryp dat ons in ’n wêreld woon wat in die mag van die Bose lê (1 Joh. 5:19). Versoekings, beproewings, aanvegtinge van die Satan, en selfs ook doodsgevare, word dikwels op die lewensweg ervaar. Die Here weet watter soort teëspoed vir die toetsing en loutering van ons geloof nodig is, en Hy laat dit toe. Ons moet net in sulke tye ’n nuwe en volle oorgawe aan “die groot Herder van die skape” maak (Heb. 13:20).

Daar moenie enige bitterheid in ons harte kom as dinge nie altyd volgens ons eie beplanning verloop nie, omdat die Herder se weë hoër as ons weë is. Ons moet weet dat Hy alles, ook die onaangename ervarings, vir ons ten goede sal laat meewerk as ons ons lewens opnuut aan Hom toewy en toevertrou.

Die Here het ook bekwame persone in sy kudde geroep en toegerus om herderlike funksies onder die toesig van die Opperherder te verrig: “En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars” (Ef. 4:11). Die leraar van ’n gemeente, in medewerking met kerkraadslede en ander ampsdraers, is ook die herder. Hy gee dus nie net onderrig in die Woord van die Here nie, maar hy het ’n pastorale plig om aan lidmate leiding te gee, berading te doen, vir die siekes te bid, die onordelikes te vermaan, die gemeente te beskerm, en teen die gevare te waarsku waardeur hulle en hulle kinders bedreig word:

“Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle is, nie uit dwang nie, maar gewilliglik; nie om vuil gewin nie, maar met bereidwilligheid; ook nie as heersers oor die erfdeel nie, maar as voorbeelde vir die kudde. En wanneer die Opperherder verskyn, sal julle die onverwelklike kroon van heerlikheid ontvang” (1 Pet. 5:2-4).

7.  Hoof van die kerk

Jesus Christus se amp as Hoof van die gemeente is ’n verborgenheid wat eers ná die stigting van die kerk geopenbaar is. Dié eenheidsband word in die Bybel met ’n huweliksverhouding vergelyk: “Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; ... Hierdie verborgenheid is groot maar ek sê dit met die oog op Christus en die gemeente” (Ef. 5:23, 32). Vir ’n deeglike uiteensetting van Bybelse standaarde vir die funksionering van die kerk, sowel as al die implikasies van Christus se Hoofskap, kyk Bosch (2007) – onder Verwysings.

Uit Efésiërs 5:25-27 is dit duidelik dat Christus eers die gemeente gereinig en daarna geheilig het, sodat sy rein en sonder vlek of rimpel voor Hom gestel kan word. Hy is ons Hoof en Bruidegom, en ons moet met ’n rein kleed voor Hom verskyn.

Die begrip heilig beteken ook afgesonder vir die diens van die Here. In hierdie opsig word die gemeente as die lede van die liggaam van Christus voorgestel. Hulle vervul almal aanvullende funksies in die verwesenliking van die oorhoofse doelwit van die kerk van Christus op aarde: “Want soos ons in een liggaam baie lede het en die lede nie almal dieselfde werking het nie, so is ons almal saam een liggaam in Christus en elkeen afsonderlik lede van mekaar. En ons besit genadegawes wat verskil volgens die genade wat aan ons gegee is” (Rom. 12:4-6). [Vir ’n uiteensetting van die funksies van die lede, kyk Rom. 12:7-8 en 1 Kor. 12:12-31.]

Beoefen jou taak en roeping slegs in die krag en onder leiding van die Heilige Gees, omdat ons as lede van die liggaam van Jesus Christus almal deur een Gees deurdronge is (1 Kor. 12:13). Jy moet ook begryp dat die outoriteit van jou geestelike roeping in Christus gesetel is, en dat jy op oorwinningsgrond staan wanneer jy dit beoefen:

“Hy [God, die Vader van die heerlikheid] het gewerk in Christus toe Hy Hom uit die dode opgewek het en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele, bo alle owerheid en mag en krag en heerskappy en elke naam wat genoem word, nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in die toekomstige. En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee, wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul” (Ef. 1:17-23).

8. Bruidegom

’n Baie persoonlike, intieme en verhewe verhouding met Christus word deur sy hoedanigheid as Bruidegom moontlik gemaak. Ons is nie bestem om net diensknegte en dissipels in sy koninkryk te wees nie, maar het ’n hoë roeping om ook lede van sy bruidsgemeente te wees. Dit bring egter meer verpligtinge vir ons mee.

Paulus wys daarop dat alle Christene hulleself moet beywer om as rein maagde aan Christus voorgestel te word wanneer Hy weer kom (2 Kor. 11:2). Hulle moenie vervreemd raak van die opregtheid teenoor Christus nie, maar met toewyding voorbereidings tref vir hulle ontmoeting en vereniging met Hom. Hierdie geestelike voorbereidings sal verseker dat hulle op ’n waardige wyse hulle rol as die bruid en latere vrou van die Lam sal kan vervul (Op. 19:7-8).

9.  Koning

Omdat die Here Jesus alle mag in die hemel en op aarde het, beklee Hy ook die amp van Koning. Die nasies van die wêreld rebelleer egter in hierdie bedeling teen sy gesag. Dié toedrag van sake is te wyte aan die feit dat alle mense op aarde ’n vrye wil het ten opsigte van wie hulle wil dien. Die praktyk het bewys dat die meeste van hulle die duisternis liewer het as die lig omdat hulle werke boos is (Joh. 3:19). Die god van hierdie wêreld [die duiwel] het hulle sinne verblind (2 Kor. 4:4), daarom is die groot meerderheid van die aarde se bevolking in die mag van die Bose en leef in geestelike duisternis (1 Joh. 5:19).

Ons leef in ’n bose wêreld waarin Christene dikwels gehaat, onderdruk en verwerp word ter wille van hulle geloof (Joh. 15:18-19; 16:33; Luk. 6:22-23, 26). In ’n baie werklike sin is ons vreemdelinge en bywoners in ’n wêreld wat grootliks die ware God verwerp (Heb. 11:13; 1 Pet. 2:11). In hierdie situasie is dit soveel te meer belangrik om waaksaam, toegewyd en standvastig in die diens van die Here te bly (1 Kor. 15:58). As verlostes is ons nie onder die beheer van Satan nie, maar hy is ons vyand wat aanhoudend die ware gelowiges aanval en probeer mislei. Dit is die rede waarom ons die volle wapenrusting van God moet aantrek, sodat ons staande kan bly teen die liste van die duiwel (Ef. 6:11).

Ons is lede van ’n verborge koninkryk wat nie van hierdie wêreld is nie (Joh. 18:36; Fil. 3:20). Die Here Jesus is Koning van ons lewens en ons ervaar sy vrede in ons harte. Ons lewe in die wêreld word egter deur stryd gekenmerk (Matt. 10:34). In ons verhoudinge met wêreldlinge is daar konflik omdat ons norme en beginsels radikaal van hulle s’n verskil.

Hierdie toestand gaan spoedig drasties verander wanneer Jesus Christus se verborge koninkryk fisies en sigbaar op aarde geopenbaar sal word by sy wederkoms aan die einde van die groot verdrukking: “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Op. 11:15).

Uit die oogpunt van Jesus se koningskap gaan daar drie belangrike gebeurtenisse tydens sy wederkoms plaasvind:

Verdelging van die vyande van God tydens die slag van Armagéddon

“Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ’n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid. En sy oë was soos ’n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone ... . En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here. ... En ek het die dier [die Antichris] en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër. En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees” (Op. 19:11-21).

Die herstel van die troon van Dawid in Jerusalem

“Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawid weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herstel, sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek, en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat al hierdie dinge doen” (Hand. 15:16-17).

Vestiging van die duisendjarige Vrederyk op aarde

“En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die Here vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en die volke sal daarheen toestroom. En baie nasies sal heengaan en sê: Kom, laat ons optrek na die berg van die Here en na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons in sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen baie volke en regspreek vir magtige nasies tot in die verte; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Miga 4:1-3).

“En hy [’n engel] het die draak gegryp – die ou slang wat die duiwel en die Satan is – en hy het hom gebind duisend jaar lank, en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. ... Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank” (Op. 20:2-3, 6).

Om in die vrederyk as konings saam met Christus te regeer, moet ons Hom nóú as die Lam van God aanvaar en in sy verborge koninkryk op aarde dien.

10.  Regter

Hierdie amp van die Here Jesus is in die eerste plek ter sake vir die Christene, omdat ons almal voor die regterstoel van Christus moet verskyn om loon vir ons arbeid in die Here te kry (2 Kor. 5:10; kyk ook Rom. 14:10).

Die eerste opstanding is slegs vir die gelowiges; dan kom die hemelse Bruidegom om sy bruidsgemeente [die ware kerk van Christus] te kom haal om met Hom verenig te word (1 Thess. 4:16-17). Ons eerste afspraak ná hierdie ontmoeting is voor die regterstoel (Grieks bema). Die bema was in Bybelse tye die rostrum waarop die beoordelaars gesit het wat lourierkranse aan die oorwinnaars toegeken het by sportbyeenkomste soos die antieke Olimpiese Spele.

Wanneer gelowiges voor die regterstoel verskyn, gaan die Here Jesus hulle lewens beoordeel en krone toeken. Almal wat dan voor Hom sal staan, is uit genade gered sonder eie verdienste, en staan daar as gelowiges wat aan Hom behoort. Hy gaan hulle dus nie oor geloof en redding uitvra nie, maar oor hoedanig hulle hul vermoëns gebruik en die werk gedoen het wat Hy aan hulle gegee het.

Sommige mense huldig die siening dat, omdat ons uit genade gered is, ons nie onder die verpligting is om vir die Here te werk nie. Die feit is dat ons duur gekoop is deur die bloed van die Lam, dat ons aan Hóm behoort en die opdrag het om God te verheerlik deur onder die leiding van die Heilige Gees ’n diensbare lewe te lei (1 Kor. 6:19-20).

Die Here sal hoegenaamd nie daarmee tevrede wees as ons ná ons redding ’n doellose en onaktiewe bestaan in sy koninkryk voer, terwyl ons in afwagting van die tyd wanneer ons hemel toe gaan, onsself besig hou met ’n aardse lewe van eiebelang nie. Gelowiges wat hulleself na hulle redding hoofsaaklik met tydelike en verganklike dinge besig hou, sal bedroë daarvan afkom voor die regterstoel. Werke van dié aard sal verbrand word:

“Elkeen sal sy eie loon volgens sy eie arbeid ontvang. ... Niemand kan ’n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus [dit is redding uit genade op grond van die werk van Christus, sonder eie werke]. En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels – elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur [van Christus se regterstoeloordeel] sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen” (1 Kor. 3:8, 11-15).

Kom ons neem die volgende opdragte van die Here aan sy kerk op aarde ernstig op, en streef sodoende na ’n lewe van gehoorsaamheid en godsvrug:

·      “Soos die Vader My gestuur het, so stuur Ek julle ook” (Joh. 20:21).

·      “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees” (Hand. 1:8).

·      “Word met die Gees vervul” (Ef. 5:18).

·      “Verkondig die Woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf [en] vermaan” (2 Tim. 4:2).

·      “Julle is die sout van die aarde” en “die lig van die wêreld.” ... “Laat julle lig [dan] skyn” (Matt. 5:13-16).

·      “Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie” (Matt. 26:41).

·      “Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel” (Ef. 6:10-11).

Hierdie en talle ander Bybelse opdragte is in die bevelsvorm geskryf en is dus nie opsionele ekstras vir Christene nie. Behalwe dat ons in elk geval die Here moet verheerlik in alles wat ons doen, is dit ook in ons eie belang om aktief in die diens van die Here te wees. Dit maak ons lewens vrugbaar en gelukkig, dit maak vir ons ’n skat in die hemel bymekaar sodat ons nie met leë hande voor die Here hoef te verskyn nie, en vir die eerste keer besef ons dat ons werklik iets sinvols vir ons medemens kan beteken sonder om iets terug te verwag.

Dit plaas ons ook op oorwinningsgrond omdat die krag en genade van die Here aan almal beloof word wat Hom met ’n onverdeelde hart wil dien. Verder laat dit alle bekommernis oor ons aardse behoeftes verdwyn. Die Here het beloof as ons die koninkryk van God en sy geregtigheid soek, sal Hy al die ander dinge vir ons byvoeg.

Die Here het nie slawe of huurlinge in sy diens nie, maar diensknegte wat bevoorreg is om Hom te kan dien. As die gesindheid van jou hart nog nie reg is nie, moet jy die vlees kruisig en ’n volle oorgawe maak sodat die Heilige Gees absolute beheer oor jou lewe kan kry. Die Here kan ons harte reinig en van ons skoon kanale maak waardeur Hy kan werk. Geen vleeslike werke is vir Hom aanvaarbaar nie – slegs die vrug van die Heilige Gees in ’n oorgegewe lewe. Dan sal ons ook met vrymoedigheid voor die regterstoel van Christus kan verskyn.

Die krone wat by die regterstoel aan oorwinnaars toegeken sal word, is:

·      Die kroon van roem vir mense wat deur hulle getuienis en prediking siele gewen het (1 Thess. 2:19).

·      Die onverwelklike kroon vir ’n heilige en diensbare lewenswandel (1 Kor. 9:24-27).

·      Die kroon van die lewe vir Christenmartelare en ander swaar beproefdes (Op. 2:10; Jak. 1:12).

·      Die kroon van heerlikheid vir getroue herders en opsieners oor die Here se kudde (1 Pet. 5:2-4).

·      Die kroon van geregtigheid vir ’n wederkomsgerigte lewe wat op die hemel ingestel is (2 Tim. 4:8).

Christus se amp as Regter het ook verskeie ander implikasies. Ná sy wederkoms sal Hy die nasies oordeel:

“En wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit; en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei” (Matt. 25:31-32). Diegene uit alle nasies wat die groot verdrukking oorleef het, sal voor hierdie troon verskyn.

Aan die einde van die vrederyk wanneer die tweede opstanding plaasvind, sal al die knieë van die verlorenes van alle eeue ook voor Jesus moet buig en sal hulle moet erken dat hy die Lam van God is wat deur hulle verwerp is (Hand. 17:31; Op. 20:11-15). Dan sal die goddeloses die ewige straf tegemoet gaan en die regverdiges die ewige hemelse koninkryk beërf.

’n Ontmoeting met die Here Jesus kan deur geen mens op aarde ontwyk word nie. Óf jy ontmoet en aanvaar Hom nou as jou Verlosser, óf jy sal eendag voor Hom moet verskyn as jou Regter wat jou na die plek van ewige verdoemenis sal stuur. Die keuse is joune!

Beskrywende name

Daar is verder ook ’n groot aantal beskrywende name van die Here Jesus in die Bybel. Hierdeur word die klem op bepaalde aspekte van sy Persoon en werke geplaas, sodat ons Hom nóg beter kan ken, verstaan en liefhê. Die volgende is nie ’n volledige lys beskrywende name nie, maar slegs ’n aantal van die bekendstes:

Lig van die wêreld

Een van die mees sprekende simbole van die koninkryk van die hemele is dié van lig. God self bewoon ’n ontoeganklike lig wat deur geen mens aanskou kan word nie (1 Tim. 6:16). In sy volmaakte heiligheid is Hy baie ver verhewe bo die sondige en verganklike orde van die gevalle mens op aarde.

Jesus het as “die opgaande Lig uit die hoogte” (Luk. 1:78) van die hemel af na ’n geestelik donker aarde neergedaal en ons op ons dwaalweë kom opsoek; daarom kon Hy sê: “Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê” (Joh. 8:12).

Brood en water van die lewe

“Die brood van God is Hy wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld die lewe gee. Toe sê hulle vir Hom: Here, gee ons altyd hierdie brood. En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie” (Joh. 6:33-35).

Ons is nie net vir die wedergeboorte van die Here Jesus afhanklik nie, maar ook vir die daaglikse versterking en opbouing van die nuwe lewe. Hy self wil vir ons dag na dag soos vars manna uit die hemel wees, sodat ons opgebou kan word in die allerheiligste geloof. Geestelike voedsel is om die wil te doen van ons Vader in die hemel. Die kennis van sy wil kry ons onder die leiding van die Heilige Gees in die Bybel. Soek daarna en word vervul met die kennis van sy wil.

Rots en Fondament

Christus is die ewige Rots wat vir ons geklief is. Sy gebroke liggaam het die stroom van God se genade na ons toe laat vloei. Hierdie Rots is ook die enigste fondament waarop ons ons lewens kan bou (1 Kor. 3:11). Dit gee aan ons vastigheid en onwankelbaarheid in die storms van die lewe wat oor ons mag toesak (Matt. 7:24-27).

Kan jy saam met die psalmis getuig dat die Here jou lewe van ondergang en vernietiging gered en ook op hierdie vaste rots geanker het? “Hy het my uit die kuil van vernietiging, uit die modderige slyk opgetrek en my voete op ’n rots gestel; Hy het my gange vasgemaak” (Ps. 40:3).

Die weg, die waarheid en die lewe

Jesus is die enigste weg na die hemel, omdat niemand na die Vader kan kom behalwe deur Hom nie (Joh. 14:6). Hy is die waarheid, sy woord is die waarheid, en die Gees van die waarheid getuig van Hom. Hy is ook die opstanding en die lewe (Joh. 11:25-26). Slegs deur Hom kan iemand wat dood is in sy sonde en misdade in ’n nuwe lewe opgewek word (Ef. 5:14). Alle sondaars is die straf van die ewige dood skuldig (Rom. 6:23), en net Jesus het hierdie doodstraf namens sondaars gedra, daarom kan net Hy aan hulle die ewige lewe skenk. Hy het gesterwe sodat ons kan lewe.

Die ware wynstok

“Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder my kan julle niks doen nie” (Joh. 15:5). Die wynstok word as die simbool van die mees heilige dinge gebruik: die sap van sy vrugte is tiperend van die bloed van Christus, terwyl sy stam en lote die volmaakte beeld van die verborgenheid van goddelikheid is – Christus se vereniging met sy volgelinge.

Die uitdrukking “in My” verwys na ons regverdigmaking en vereniging met Christus wanneer ons in die wynstok ingeënt word. Die uitdrukking “Ek in hom” verwys na ons dieper vereniging met Christus in heiligmaking, wanneer Hy ons hele lewe word. Die hoofdoel met heiligmaking is inderdaad Christus in al sy volheid.

’n Ander waarheid wat hier beklemtoon word, is gemeenskap met Christus: “Bly in My, soos Ek in julle” (v. 4). Ons moet ’n noue verhouding met Hom handhaaf – dit moet nie ’n los en vas verhouding wees nie, maar ’n oomblik tot oomblik afhanklikheid van Hom. Paulus sê: “Soos julle dan Christus Jesus, die Here, aangeneem het, wandel so in Hom” (Kol. 2:6). Om in Hom te bly, hang van ons gehoorsaamheid af: “As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly ... en [sal] julle blydskap volkome kan word” (Joh. 15:10-11).

Heiligmaking

Die Here Jesus is nie net ons Verlossing nie, maar ook ons Geregtigheid en Heiligmaking (1 Kor. 1:30). Israel is sedert die uittog uit Egipte al geleer dat hulle ná die Pasga vir ’n week lank die fees van die ongesuurde brode moes vier, wat ’n tydperk van heiliging en selfondersoek is. Paulus sê: “Ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus. Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van ondeug en boosheid nie, maar met die ongesuurde brode van reinheid en waarheid” (1 Kor. 5:7-8).

Ons moet gereeld onsself ondersoek om vas te stel of daar nie moontlik suurdeeg van sonde in ons lewe ingekom het nie. “Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring” (2 Kor. 7:1). Daar is geen ander lewe wat vir die Here aanvaarbaar is nie: “Want dit is die wil van God: julle heiligmaking ... . Daarom, hy wat dit verwerp, verwerp nie ’n mens nie, maar God wat ook sy Heilige Gees aan ons gegee het” (1 Thess. 4:3, 8).

Terwyl ons toeneem in kennis van onse Here en Saligmaker, moet ons ook in genade en heiligmaking toeneem. Gelykvormigheid aan sy beeld van heiligheid moet steeds ons groot ideaal wees, daarom moet daar geen skaduwees van sonde oor ons lewe val nie. Hoe kan ons seker maak dat sonde nie weer heerskappy oor ons lewens verkry nie? “Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie” (Gal. 5:16).

Die wortel en geslag van Dawid

Jesus Christus het gesê: “Ek is die wortel en die ge­slag van Dawid” (Op. 22:16). Die ‘wortel’ van Dawid bevestig Jesus se godheid – Hy is die Here van Dawid! Deur die ‘geslag’ van Dawid word sy mensheid aangedui – Hy is die Seun van Dawid (Luk. 20:41-44). Hy is die be­loofde Messias wat in die huis van Dawid uit die stam van Juda gebore is, die saad van Abraham deur wie al die nasies geseën sou word (Gen. 22:18).

Deur die eeue heen het Satan die volk Israel gehaat en vervolg weens die beloftes van die komende Messias wat aan hulle gemaak is (vgl. Op. 12:4-5). In die lig hiervan moet Herodes se kindermoord in Israel gesien word (Matt. 2:13-18). Dit was een van die eerste pogings van Satan om Jesus om die lewe te bring en sodoende die vestiging van sy koninkryk te probeer ver­ydel. Verskeie demonies-geïnspireerde pogings is ook daarna aangewend; die mees onlangse hiervan was die Joodse Slagting van die Tweede Wêreldoorlog.

Blink Môrester

Die Here Jesus sê: “Ek is ... die blink môrester” (Op. 22:16). Petrus voeg hierby: “En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ’n lamp wat in ’n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte” (2 Pet. 1:19).

Die môrester is by uitstek die simbool van hoop – die verwagting van ’n nuwe dag wat weldra sal aanbreek. In Jesus Christus het ons ’n hoopvolle toekoms. Ons kan verby die spanning van die huidige lewe kyk na die strale van ’n helder nuwe dag wat met sy wederkoms oor hierdie donker wêreld sal aanbreek. Deur die tekens van sy koms kan ons ook in die  ontwrigtende omstandighede van die huidige tyd sy naderende voetstappe herken. Diegene sonder ’n Christelike toekomsverwagting is nie in staat om wêreldgebeure geestelik te vertolk nie, en word deur al die slegte nuus en donker vooruitsigte tot wanhoop gedryf.

Wysheid

Alle wysheid buite God is dwaasheid en nietige misleiding (Kol. 2:8). Vir ’n mensdom wat vervlak het in sy denke en dwaas geword het in die oorlegginge van sy hart, het Christus met sy koms ’n nuwe bron en dimensie van kennis gebring en daardeur vir ons geword “wysheid uit God” (1 Kor. 1:24, 30). Hy het nie alleen aan die mens sy onkunde en die verduisterde toestand van sy hart geopenbaar nie, maar deur sy kruisdood die weg vir almal gebaan om tot wyse en verstandige kinders van God herskep te word.

Deur Jesus Christus gee God aan ons die Gees van wysheid sodat ons die rykdomme kan begryp wat Hy aan ons skenk (Ef. 1:17-18). Ons moet daarna streef om in wysheid toe te neem deur die Here Jesus beter te leer ken, “in wie alle skatte van wysheid en kennis verborge is” (Kol. 2:3). Hy is ’n wonderbare Raadsman (Jes. 9:5) wat die regte raad vir elke probleem het. “As iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid … en dit sal aan hom gegee word” (Jak. 1:5).

Raadpleeg eers die Here en ken Hom in al jou weë voordat jy ’n besluit neem. Hy sal jou deur sy Woord en Gees onderrig soos ’n vader sy seun onderrig. Moenie eers volgens eie insig handel en ernstige foute maak voordat jy ’n saak aan die Here voorlê en sy leiding afbid nie.

Ons moet die Bybel deursoek vir riglyne en dit toepas, want “die beginsel van die wysheid is die vrees van die Here, en kennis van die Heilige is verstand” (Spr. 9:10). Hy sal jou antwoord en jou paaie gelyk maak! Eers as jy vrede in jou hart oor ’n saak het, dan weet jy dat jy in die geloof daarmee kan voortgaan.

Oorwinnaar

Jesus Christus het die duiwel, die dood en die hel oorwin! Hy het “die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer” (Kol. 2:15). Hy is ’n magtige Verlosser wat elke sondaar se bande kan verbreek en hom van die mag van die vyand kan bevry. “As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees” (Joh. 8:36).

Word jy nog deur sondes, swakhede en vuil gewoontes geteister? Kom na die enigste Verlosser vir vergifnis en vrymaking (1 Joh. 1:8-9). “Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie” (Gal. 5:1). Leef as ’n oorwinnaar en gee aan die Here die eer vir wat Hy in jou lewe gedoen het. Reken volkome op sy krag en genade om staande te kan bly teen die liste van die duiwel: “Maar God sy dank wat ons altyd laat triomfeer in Christus en wat die reuk van sy kennis deur ons oral versprei” (2 Kor. 2:14).

Die groot belangrikheid van Christus se godheid

Baie van die name en titels van die Here Jesus wat in hierdie hoofstuk genoem is, het op sy menswording betrekking. Omdat sy godheid deesdae egter so hewig aangeval word, mag dit van waarde wees om ’n duidelike, samevattende stelling oor sy ewige selfbestaan as God te maak. Die Bybel beskryf Hom in sy godheid onder andere soos volg:

·         Die “EK IS”, die onnaspeurlike, tydlose, selfbestaande Een (Joh. 8:58; vgl. Ex. 3:14-15).

·         “Die Woord” wat nie net aan die begin by God was nie, maar God self was wat vlees geword het in die Persoon van Jesus Christus (Joh. 1:1, 14; vgl. Op. 19:13).

·         “Elohim”, een van die wonderlike, goddelike Persone in die Drie-enige Godheid, die Here God, Jahweh Elohim, wat self ook Jahweh, die ewigbestaande Een, is (1 Joh. 5:7).

·         “Die Skepper” (Joh. 1:1-12; Kol. 1:16-17; Heb. 1:2) en “Leidsman tot die lewe” (Hand. 3:15).

·         “Die Here” (Matt. 22:41-46; Ps. 110:1). Elke tong sal bely dat Jesus Christus die Here is (Fil. 2:11). Thomas se twyfel het verdwyn toe hy die opgestane Christus gesien het, en in ’n opregte belydenis van geloof uitgeroep het: “My Here en my God!” (Joh. 20:28).

·         “Sterke God” (Gibbor El). “Want ’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee ... en Hy word genoem ... Sterke God” (Jes. 9:5). In Génesis 17:1 het dieselfde Here (Jahweh) aan Abraham gesê: “Ek is God, die Almagtige (El Shaddai), daarom is die Woord self die Almagtige God (vgl. Tit. 2:13) aan wie alle gesag in die hemel en op aarde gegee is.

·         “Dieselfde”, dit is die selfbestaande Een wat nooit verander nie. “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid” (Heb. 13:8; vgl. Ps. 102:28). “U is dieselfde, en u jare het geen einde nie” (Heb. 1:12).

·         “Die Alfa en die Oméga, die Begin en die Einde, die Eerste en die Laaste” (Op. 22:13). Sy ewige selfbestaan word hier beskryf, en daar kan nie binne tyd of ruimte ’n meer beperkte rol of bestaan aan Hom toegeskryf word nie.

Ons leef in die eindtyd, kort voor die wederkoms van Christus, en Satan, “wat die hele wêreld verlei” (Op. 12:9), saam met al sy bose magte, verskerp hulle aanvalle teen die Christelike geloof en, veral, op die Here Jesus Christus self. Satan se pogings om Hom aan die kruis te vernietig, is deur die opstanding en hemelvaart van Christus ongedaan gemaak. Spoedig daarna het Satan egter begin om die waarhede oor die Persoon van Christus te verdraai, in ’n poging om wydverspreide twyfel oor sy maagdelike geboorte en godheid te laat ontstaan.

Sowat 700 jaar voor die geboorte van Jesus het die profeet Jesaja geprofeteer: “Kyk, die maagd sal swanger word en ’n seun baar en Hom Immánuel noem” (Jes. 7:14). Dit is bevestig deur die engel wat aan Josef verskyn het om die geboorte van Jesus aan te kondig, want hy het hierdie profesie aangehaal en ook bygevoeg dat dit beteken: “God met ons” (Matt. 1:23). Dit bewys in ’n enkele stelling die godheid en maagdelike geboorte van Jesus – twee belangrike leerstellings wat die afgelope twee eeue toenemend aangeval is. Die Bybel bevestig egter: “Hy is die Beeld van die onsienlike God” (Kol. 1:15).

In Händel se wonderlike werk, “Die Messias”, sing die koor hierdie betekenisvolle woorde: “Sê aan die stede van Juda: Hier is julle God!” (Jes. 40:9). Jesaja het só oor die koms van die Messias geprofeteer: “Hy sal die dood vir ewig vernietig, en die Here Here sal die trane van alle aangesigte afvee ... . En hulle sal in dié dag sê: Kyk, dit is onse God op wie ons gewag het, dat Hy ons kan verlos; dit is die Here (Jahweh) op wie ons gewag het: laat ons juig en bly wees oor sy hulp” (Jes. 25:8-9). Dit is verdere bevestiging (indien dit nog nodig is) dat die Messias self God is!

Ons sal óf vir ewig saam met Hom wees as Verlosser, Here, Koning en God, óf vir ewig weg van Hom af in die buitenste duisternis. Hy is die onvergelyklike Christus wat gesê het: “Wie in My glo, het die ewige lewe” (Joh. 6:47). Net Hy is ons vertroue waardig. Die Engelse digteres, Frances Havergal, beklemtoon sy uitnemendheid só: “Why will you do without Him? Is He not kind indeed? Did He not die to save you? Is He not all you need?” (Havergal, 2011).