Jesus Christus en ons Lewe in Hom

Johan Malan, Mosselbaai (2012)

Alle Skrifaanhalings is uit die 1933/53 vertaling van die Afrikaanse Bybel.

Navorsingsverslae oor die godheid en seunskap van die Here Jesus is goedgunstiglik aan skrywer verskaf deur Bernard Reeves van Londen, terwyl vrugbare gesprekke ook met hom gevoer is tydens sy besoeke aan Suid-Afrika in die laat 1990’s.

’n Joodse uitgewer in Jerusalem, Victor Smadja, het aan skrywer ’n kopie geskenk van ’n boek deur Risto Santala (1992), waarin daar ’n deeglike uiteensetting van Messiaanse profesieë in die oorspronklike Hebreeuse teks van die Ou Testament is. In daardie stadium was die Hebreeuse uitgawe van hierdie boek reeds in sy vyfde druk. Hierdie inligting was veral waardevol uit die oogpunt van die vervulling van Ou Testamentiese profesieë oor die koms van die Messias.

Nonna Gordon word bedank vir redigering van die konsepmanuskrip.

 

Inhoudsopgawe

Anbeveling

Voorwoord

1. God wat Mens Geword Het

2. Die Here Jesus se Seunskap en Godheid

3. Soendood van die Lam van God

4. Die Middelpunt van ons Bestaan

5. Liefde as ’n Lewensbeginsel

6. Opdragte en Beloftes

7. Ons Lewe in Christus

8. Die Koning wat weer Kom

9. Bruilof van die Lam

10. Voortreflikheid van die Messias

 

Afkortings

NT.      -   Nuwe Testament

OT.      -   Ou Testament

Heb.    -   Hebreeus

Gr.       -   Grieks

Eng.     -   Engels

NKJV. -   New King James Version

MKJV. – Modern King James Version

NAB.   -  Nuwe Afrikaanse Bybel

 

 

Aanbeveling deur Anton Bosch

Toe Jesus die eerste keer aarde toe gekom het, het die godsdiensleiers Hom nie erken nie en Hom gevolglik as ’n bedrieër gekruisig. Dit was nie omdat hulle Hom nie verwag en nie die Messias wou ontvang het nie, maar omdat hulle Hom nie kon erken nie, ten spyte daarvan dat Hy duidelik aan hulle gesê het wie Hy was.

Hierdie situasie was die gevolg van ’n onvolledige begrip oor wie Hy was. Hulle het gemeen dat die Messias ’n politieke verlosser sou wees wat die heerlikheid van Israel se koninkryk sou herstel. Hulle het egter nie kennis geneem van die baie Skrifuitsprake wat verklaar dat Hy ’n lydende Messias sou wees wat aan die kruis sou sterf vir die sondes van die wêreld nie. Hulle het wel sekere waarhede verstaan, maar nie die hele waarheid nie, en dit het ewige gevolge ingehou vir hulle en hulle volk.

Dieselfde situasie heers vandag nog. Sekere waarhede oor Jesus Christus word deur vele mense bely. Baie predikers en kerke hou Hom voor as die een wat seën, genees en voorsien. Ander praat van sy groot liefde, genade en barmhartigheid, terwyl ander weer in vrees lewe vir sy oordele. Maar ’n gedeeltelike begrip van wie Jesus is, is net so gevaarlik as geen begrip nie omdat dit na die verering van ’n valse Jesus lei (2 Kor. 11:4). Dit wil nie sê dat mense se opregtheid betwyfel word nie. Die Samaritaanse vrou was heeltemal opreg, en sy was ’n aanbidder wat in die volle waarheid wou staan. Jesus se opmerking aan haar was egter: “Julle aanbid sonder om te weet wat julle aanbid” (Joh. 4:22).

Klaarblyklik sal baie mense vandag ook nie die ware Christus erken nie, selfs al staan Hy voor hulle, want hulle weet nie wat (of Wie) hulle aanbid nie.

Dit is hierdie behoefte wat aangespreek word in prof. Malan se jongste boek, Jesus Christus en ons lewe in Hom. Die boek gee ’n gebalanseerde en volledige oorsig van wie Jesus werklik is en wat Hy deur sy werk op aarde bereik het. Die skrywer lig al die belangrike fasette van die lewe en werke van Jesus Christus toe. Niemand wat hierdie boek gelees het, sal die ware Jesus verwar met enige van die valse Jesusse wat uitvindsels van mense is nie.

Net soos wat die skrywer hom dit ten doel stel om ’n deeglike verduideliking te gee van wie Jesus is, bied hy ook ’n omvattende uiteensetting aan van wat Jesus gedoen het. Ook op hierdie terrein is daar baie verskillende evangelies wat verkondig word, en baie mense beklemtoon een of ander aspek daarvan ten koste van die volle geheel. Malan poog, en slaag ook daarin, om die hele evangelie oor hoe Jesus red, bewaar, heilig en bemagtig, uiteen te sit. Ook in hierdie opsig slaag hy in die moeilike taak om aangeleenthede op ’n nie-tegniese manier toe te lig sonder om waarheid en leerstellige korrektheid ter wille van eenvoud in te boet.

Alhoewel die boek nie ’n akademiese verhandeling is nie, in die sin dat dit volkome verstaanbaar en toeganklik is vir enigeen wat Afrikaans kan lees, bied dit nogtans ’n deeglike Bybelstudie oor die Persoon en werke van Jesus Christus. Dit is omvattend, Bybels, betroubaar en behoudend, en sal die denke van mense op alle vlakke uitdaag. Maar dit is ook geestelik opheffend en niemand sal die boek lees sonder om aangespoor te word tot ’n groter liefde, toegeneentheid en verering vir ons wonderlike Here en Verlosser, Jesus Christus, nie.

Die boek is gerig op enigeen wat regtig wil weet wie Jesus is. Die ongelowige soeker sal hierin ’n duidelike uiteensetting vind van wie Jesus werklik is en wat geloof in Hom alles behels. Die vleeslike Christen sal opgeroep word tot ’n dieper wandel met die Here, terwyl die toegewyde volgeling tot hoër vlakke van gehoorsaamheid aangemoedig sal word. Selfs die geloofsvolwasse leier sal inligting kry wat hy dalk al vergeet het of waaraan hy nooit tevore blootgestel was nie.

Ek weet van geen ander boek wat doen wat hierdie boek doen, en dit ook so goed doen nie. Ek is persoonlik geseën, bemoedig en uitgedaag terwyl ek dit gelees het.

Anton Bosch

www.antonbosch.org

NS. Dr. Bosch, vroeër van Pietermaritzburg, RSA, is leraar van die Sun Valley Community Church in Los Angeles, Kalifornië, en ook verbonde aan die Theological College of Southern Africa. Hy het ’n meestersgraad in teologie aan ’n Suid-Afrikaanse Universiteit verwerf en ʼn Ph.D in Amerika.

 

Voorwoord

Hierdie boek het sy oorsprong by ’n aantal artikels van die skrywer wat oor verskeie jare heen verskyn het. Die beweegrede vir die huidige publikasie is om ’n sistematiese, evangeliese leerstelling oor die Persoon en werke van die Here Jesus aan te bied. Dit word eerstens gedoen om eer te bring aan die Naam bo alle name; tweedens om gelowiges te help om aan die hand van beter kennis weerstand te bied teen die stygende  vloedgolf van teologiese dwalinge oor wie Jesus Christus werklik is; en derdens om lesers te help om die ware Christus van die Skrifte te ontmoet, as hulle Verlosser aan te neem, en ’n persoonlike verhouding met Hom op te bou.

Ons moet daarna streef om saam met Paulus te kan sê: “Wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag. Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ... [sodat] ek in Hom gevind kan word, nie met my  geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, ... sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word” (Fil. 3:7-10).

Watter belangrike ontdekking het Paulus nie gemaak nie! Die uitnemendheid van die kennis van Christus is so groot dat niks daarmee vergelyk kan word nie – geen aardse skatte nie, geen vorm van eiegeregtigheid nie, en geen morele regverdiging wat op ’n wettiese lewe gebaseer is nie. Hy het die geheim ontdek dat ons Christus se vryspraak moet aanvaar, en saam met Hom vir die wêreld en die sonde moet sterf, sodat ons ook deelgenote van sy opstandingslewe kan wees. Hoe meer ons die ou lewe afsterf, hoe meer sal ons met Christus se lewe kan identifiseer en groei in die nuwe lewe in Hom.

Daar is geen ander geheim vir ’n suksesvolle Christelike lewe nie. Ons moet daagliks in die kruis van Christus roem, onsself dood reken vir die sonde en die wêreld (Rom. 6:11), en ons ook doelbewus met Christus se heilige, oorwinnende lewe beklee. Die Heilige Gees sal ons in die volle waarheid lei indien ons ’n oorgawe van hierdie aard maak (Joh. 16:13-14). Hy sal Jesus Christus verheerlik en Hom ’n groter werklikheid in ons lewens maak.

As daar een belangrike gevolgtrekking is waartoe ek na ’n jarelange studie van die Bybel gekom het, dan is dit dat alle Bybelse leerstellings voortvloeiend uit die kennis van Jesus Christus is. Hoe meer duidelikheid ons oor sy Persoon en werke het, hoe duideliker verstaan ons ook alle ander geloofsake. In sy lig sien ons die lig. Wanneer Hy egter nie meer die sentrale fokus van ons geestelike lewe en bediening is nie, verloor ons ’n groot mate van ons onderskeidingsvermoë, is dan geneig om van bysake hoofsake te maak, en kom ook nie regtig uit by sinvolle en blywende oplossings vir individue en volke se geestelike probleme nie.

Onderwerpstudies het ’n populêre benadering in verskeie Christelike bedienings geword, veral ook via die internet. Baie van hierdie skrywers hou hulleself feitlik uitsluitlik besig met die bestudering en ontbloting van geestelike dwalings, maar hulle behaal min sukses om dwalendes tot ander insigte te bring. Waarom? Omdat apologete te veel aandag aan die leuen gee en te min aandag aan die waarheid.

Ons het beslis ’n probleem as ons meer oor die Antichris as oor Christus skryf, meer oor sonde as oor geregtigheid, meer oor ’n humanistiese nuwe wêreldorde as oor Christus se koninkryk, meer oor die kerkvaders en hulle leer as oor die Hoof van die kerk en sy leer, meer oor godsdienstige rituele en ekstatiese ervarings as oor wedergeboorte en ’n lewenswandel met Christus, meer oor ’n wettiese lewe as oor ’n lewe van heiligheid en vryheid in die Here Jesus, en ook meer oor Israel en hulle herstel in die land as oor die gevolge van hulle gebroke verhouding met die Messias. Sommige van die bedienings onder Israel het besluit om, ter wille van goeie verhoudings met ortodokse Jode, nie eers te noem dat Jesus die Messias en Koning van Israel (én die hele wêreld) is nie. Hierdie benadering is ’n doodloopstraat, want dit lei nie na die enigste Bybelse oplossing vir Israel nie, naamlik om in die ware sin van die woord ’n Messiaanse volk te word.

Jesus Christus is die Weg, die Waarheid en die Lewe. Indien ons Hom met groter ywer verkondig, sal alle dwalings duidelik in die lig van sy waarheid geopenbaar word: “Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak. ... As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees” (Joh. 8:32, 36). As die waarheid oor Jesus Christus en sy leer in sy volle omvang bekend gemaak word, sal alles wat daarvan afwyk baie duidelik as versinsels onthul word. Die basiese waarhede oor Hom, as die vleesgeworde Woord, het ’n vrymakende krag en sal elke dwaling weerlê.

In ons nadenke oor Jesus Christus moet ons noodwendig ook by die geestelike lewe van sy volgelinge uitkom, want hulle is die werk van sy hande wat as die lede van sy liggaam beskryf word. Paulus sê vir die gemeente: “... [J]ulle is die liggaam van Christus en lede afsonderlik” (1 Kor. 12:27; vgl. Rom. 12:5). Dit is ons taak en roeping om hierdie liggaam onder die leiding van Jesus Christus, sy Gees en sy Woord, goed te laat funksioneer tot eer van ons Here en die opbouing van sy liggaam. Dit sal slegs gebeur indien Hy ten alle tye ons eerste en hoogste liefde is.

Die liefde van die Here Jesus dring ons om Hom met ons hele hart lief te hê, en ook ons naaste soos onsself. Gee ons werklik genoeg vir ander Christene om? Reeds in Ou Testamentiese tye het die Here gesê: “... [V]ertrou my seuns en die werk van my hande aan My toe!” (Jes. 45:11). Ons moet mekaar in die Here bedien en geestelik opbou: “Namate elkeen ’n genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien soos goeie bedienaars van die veelvuldige genade van God” (1 Pet. 4:10).

Mag die lees van hierdie boek vir jou ’n reis van geestelike vervulling in Christus Jesus wees.  As ons Hom in onverganklikheid liefhet, ter wille van die belange van sy ewige koninkryk, sal daar ongekende waarde tot ons lewe en Christelike getuienis toegevoeg word.

                                                                                                                         Johan Malan