(Openbaring 4 en 5)
Die volgende toneel van Openbaring speel in die hemel rondom die troon van God af. Die inleidingswoorde van Openbaring 4 is: Ná hierdie dinge. Dit kom dikwels in die boek voor en is ‘n verdere bevestiging daarvan dat die inligting chronologies aangebied word. Wanneer Johannes in Openbaring 4:1 sê: “Ná hierdie dinge...” dui hy uitdruklik daarmee aan dat wat hy nou gaan beskryf, ná Openbaring 2 en 3 se beskrywing van die kerk op aarde volg.
Ons het dus van hoofstuk 4 af te doen met “die dinge wat gaan gebeur” (Op. 1:19) nadat die bedeling van die kerk op aarde afgesluit is. Dit word as twee parallelle reekse gebeure beskryf, nl. gebeure rondom die troon in die hemel waar die verheerlikte kerk ook is (Op. 4 en 5), en die verskrikking van God se oordele op aarde tydens die verdrukking van sewe jaar (Op. 6 tot 19).
Johannes is in sy visioen na die hemel opgeroep om ‘n kykie in die heerlike bestemming van die kerk te kry. Hy het ‘n stem soos ‘n basuin met hom hoor spreek, wat gesê het: “Kom op hierheen, en Ek sal jou toon wat ná hierdie dinge moet gebeur” (Op. 4:1).
Dit is ‘n soortgelyke geklank van die basuin van God wat ware weergebore gelowiges sal hoor wanneer die Here Jesus weldra sal kom om hulle te kom haal:
Hierdie wegvoering of wegraping geskied “in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin, want die basuin sal weerklink en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word” (1 Kor. 15:52). Die wegraping is die wyse waarop die kerk van sy aardse bestaan in Openbaring 2 en 3 af na sy verheerlikte posisie rondom die troon in Openbaring 4 en 5 verander en verplaas sal word.
Die belofte van die wegraping is van kardinale belang vir die verstaan van die boek Openbaring, omdat doemprofesieë nie vir die ware kerk bedoel is nie. Die wegraping het in die moderne hermeneutiek ‘n hoogs omstrede onderwerp geword wat meestal deur die liberale en agnostiese teoloë wegverklaar en selfs wegvertaal word. Om hierdie rede moet dié belofte net weer op suiwer Bybelse gronde herbevestig word. Die woord weggevoer in 1 Thessalonicense 4:17 (harpazo in Grieks) beteken om vinnig weggeruk te word van een plek na ‘n ander. Die bewering deur sommige teoloë dat die woord wegraping nie in die Bybel voorkom nie, is dus hoogs misleidend. Die begrip harpazo kan vertaal word as: wegvoer, wegraap, of vinnig wegruk. Hierdie woord kom onder andere ook in Openbaring 12:5 voor:
Hierdie teks verwys na die hemelvaart van die Here Jesus. Hy is dus weggeruk of weggeraap na God en sy troon.
Behalwe die heerlike bestemming waarna die bruidsgemeente deur middel van die wegraping geneem word, moet hierdie belofte ook aanvaar word in die lig van ons beloofde ontvlugting uit die oordele van die verdrukking. Soos in die geval van Noag en Lot, sal die ware gelowiges uit die rampgebied van God se oordele verwyder word kort voordat die uur van die duisternis aanbreek:
Bogenoemde teks is uit die 1933/53 vertaling aangehaal. Die vertalers van die Nuwe Afrikaanse Bybel (1983) glo klaarblyklik as gevolg van hulle vrysinnige teologiese denke nie in ‘n wegraping nie en het Lukas 21:36 só verdraai dat die belofte van ontvlugting nie meer daaruit blyk nie.
In die Greek English Lexicon of the New Testament and Other Early Christian Literature, deur W.F. Arndt en F.W. Gingrich, word die woord ontvlug (ekfeugo in Grieks) vertaal as: na veiligheid ontsnap, ontvlug, vermy of ontwyk. Lukas 21:36 se betekenis van ekfeugo word spesifiek in dié woordeboek as ‘escape tribulations’ (ontvlugting uit die verdrukking) aangedui.
Hierdie vers se betekenis is nie dat die Here ons in die verdrukking sal bewaar nie, maar buite die verdrukking. Noag en Lot het nie God se beloftes verwerp en gereed gemaak om in die vloed of in die vuur en swael saam met die sondaars te probeer oorleef nie!
Die Here bied beslis aan u ontvlugting uit die komende oordele. Die groot verdrukking is ‘n tyd van goddelike toorn. Wanneer die kragte van die hemele geskud word en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom, sal hulle paniekbevange na die berge roep en sê:
In Noag en Lot se tyd het die groot meerderheid van die mense die belofte van ‘n ontvlugting verwerp en geen ag daarop geslaan nie. Hulle het aangegaan met hulle lewe van eet, drink, losbandigheid en materialisme, en glad nie die donker wolke van die naderende oordele raakgesien nie. Mattheus sê hulle het dit “nie verstaan nie voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie; so sal ook die koms van die Seun van die mens wees” (Matt. 24:39).
In sy dolle gejaag na plesier, bandeloosheid en rykdom sien die eindtydse wêreld ook glad nie die tekens van naderende oordele raak nie. Christene wat waak en bid, is egter hierop bedag en sal geestelik waardig wees om die oordele te ontvlug! “In daardie nag sal twee op een bed lê; die een sal aangeneem en die ander verlaat word. Twee vroue sal saam maal; die een sal aangeneem en die ander verlaat word...” (Luk. 17:34-35).
Die Bybel bevestig ook die feit dat die Antichris nie geopenbaar kan word totdat hy wat hom teëhou, uit die weg geruim is nie:
“...hy wat hom teëhou” is die liggaam van Christus, wat die gemeente van die weergeborenes is. Die Gees van die waarheid wat in ons is, staan die gees van die dwaling teë wat in die kinders van die ongeregtigheid werk (1 Joh. 4:1-6). Hierdie teëhouding verklaar die feit waarom die koninkryk van die duisternis en sy groot eindtydse leier, die Antichris, nie volle beheer oor die wêreld kan oorneem solank as wat die koninkryk van God deur die kerk van Christus nog hier gevestig is nie.
Geen naasbestaan is tussen die ware kinders van die Here en die Antichris as geopenbaarde wêreldleier moontlik nie. Daar is dus geen sprake van ‘n wegraping in die middel van die verdrukking nie, want dit sou dan beteken dat die liggaam van Christus as die teëhouer van die Antichris nie weggeneem hoef te word voordat hy verskyn nie. Dit is onbybels! Die ontvlugting in die middel van die verdrukking, wat dikwels met die wegraping verwar word, is wanneer Israel sy verbond met die Antichris sal verbreek en dan inderhaas vir oorlewing na die berge in die woestyn vlug (Matt. 24:15-21; Op. 12: 13-14). Dit is egter nie die wegraping nie!
Indien ons ‘n suiwer Bybelse toekomsverwagting het, dan wag ons vir die Here Jesus wat soos ‘n dief in die nag sal kom op ‘n uur wanneer niemand dit verwag nie. Voorbereiding vir sý koms is ‘n heilige en godvrugtige lewenswandel. In hierdie laat stadium van genadetyd moet siele gered en soos brandhout uit die vuur geruk word, sodat die bruilofsaal kan vol word.
Mense wat eers vir die Antichris wag vóórdat die Here Jesus kom, hou hulleself hoofsaaklik met oorlewingstrategieë besig as voorbereiding vir die donker tydperk waardeur hulle moet gaan. Die blye vooruitsig op die koms van Christus word vir hulle deur die vreesaanjaende afwagting van die Antichris se verskyning vervang. Sodoende word hulle harte beswaar deur vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom (Luk. 21:26), en dit demp die blydskap van die ontvlugting wat daar vir die kinders van die Here is (Luk. 21:36).
Dit is baie belangrik om te begryp dat die kerk van Jesus Christus ‘n teëhouende rol ten opsigte van die verskyning van die Antichris het. Ons mag nooit ophou om die lig van ‘n donker wêreld en die sout van ‘n bedorwe aarde te wees nie. Ons kan dus nie maar gelate toekyk hoedat antichristelike strukture geskep en goddelose lewenswyses gevestig word nie. Nie net moet Christene hierteen gewaarsku word nie, maar ook die staat, die media, die vermaaklikheidswêreld en enige instansie wat vir antichristelike praktyke verantwoordelik is, moet ernstig gewaarsku word: “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai” (Gal. 6:7).
Die boek Openbaring bevestig ook die sewe jaar lange afwesigheid van die gemeentes van Jesus Christus van die aarde af. Dit is opvallend dat daar in Openbaring 2 en 3 verskeie kere na die gemeentes verwys word:
Daarna verdwyn die gemeentes misterieus van die toneel af en tref ons die verheerlikte kerk in Openbaring 4 en 5 in die hemel aan. In die donker dae van die verdrukking word daar geen melding van die bruidsgemeente op aarde gemaak nie – wél van heiliges, maar nie in gemeenteverband nie. Ons lees eers in Openbaring 19:7-14 weer van die bruidsgemeente wanneer sy saam met Christus terugkom aarde toe.
Kinders van die Here wat gered én gereed is, het niks om te vrees in verband met die komende oordele van die verdrukking nie. Soos in die dae van Noag en Lot, is ons ook nie vir God se oordele en toorn bestem nie:
Paulus beklemtoon ook die feit dat die Christene nie vir die oordele van God bestem is nie, wanneer hy aan die Thessalonicense sê:
Een van die belangrikste redes waarom mense verwar word as hulle die boek Openbaring lees, is omdat hulle die eenvoudige waarheid van die wegraping vóór die donker dae van die verdrukking miskyk. Daar is geen aanduiding in die Bybel dat die kerk tydens enige deel van die verdrukking op aarde sal wees nie. Net so seker as wat die ware gelowiges in die tyd van Noag en Lot die goddelike oordele ontvlug het, sal die ware gelowiges ook die oordele van die verdrukking ontvlug en voor die Seun van die mens staan.
Onmiddellik ná die basuingeklank van Openbaring 4:1 was Johannes in die Gees in die hemel, waar hy die verheerlikte kerk aangetref het:
Dit wat Johannes gesien het, was onuitspreeklik mooi. Die naaste wat hy aan ‘n beskrywing van die Here se glansryke voorkoms kon kom, was om dit met skitterende edelgesteentes te vergelyk. Hy het soos die glans van die jaspis- en sardiusstene gelyk. In Openbaring 21:11 word gesê dat jaspis ‘n kristalhelder steen is, en dié beskrywing dui veel eerder op ‘n diamant. Die vlekkelose heiligheid van God word hierdeur uitgebeeld. Sardius het ‘n dieprooi skynsel, en dit wys heen na die kosbare bloed van die Lam. Die groen reënboog rondom die troon versinnebeeld die ewige lewe wat daar in Christus Jesus is. Die sirkel is die simbool van oneindigheid, en die groen kleur stel lewe voor.
Die 24 ouderlinge met die krone op hulle hoofde is ‘n voorstelling van die verheerlikte kerk van Christus ná die wegraping. Hulle identifiseer hulleself bo enige twyfel wanneer hulle in aanbidding voor die Lam neerval en Hom as Verlosser bely:
Hulle is die bloedgewaste kinders van die Here uit alle volke, en het deur die opstanding van die regverdiges hulle verheerlikte liggame ontvang. As lede van die liggaam van Christus sit hulle rondom die troon om saam met Hom die wêreld in die verdrukking te oordeel (1 Kor. 6:2).
Die simboliek wat hier gebruik word om die bruidsgemeente van die Here Jesus mee uit te beeld, is baie paslik. Ouderling is ‘n Nuwe Testamentiese amp en veronderstel nie alleen iemand wat deur die genadewerk van Christus verlos is nie, maar ook iemand wat die opdrag tot dissipelskap en arbeid in die oeslande van die Here ernstig opgeneem het.
Die getal 24 is ook betekenisvol. In 1 Kronieke 24 het koning Dawid 24 familiehoofde aangewys om die priesterlike dienswerk in die tempel te verrig. Elke groep sou in ‘n vaste siklus vir twee weke per jaar aan diens wees. Die 24 families het dus al die priesters ingesluit wat die Here gedien het. In 1 Petrus 2:9 word alle gelowiges in die Nuwe Testament tot ‘n heilige priesterdom geroep “om te verkondig die deugde van Hom wat ons uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig.” Geloof moet dus tot diensbaarheid lei omdat geloof sonder werke dood is.
Die 24 ouderlinge sluit al die ‘priesters’ van die Here uit elke stam en taal en volk en nasie in. Hulle het goue krone op hul hoofde, en dit is ‘n aanduiding van hulle Christelike dienswerk wat deur die Here beloon is (Op. 22:12). Om met leë hande voor die Here te staan, dui daarop dat jy jou talente begrawe het en dan op die dag van die wederkoms beskaamd voor Hom staan (1 Joh. 2:28).
Ouderlingskap is soos dissipelskap, waarin geloof en werke hand aan hand gaan. Dit moet egter nie vleeslike werke wees wat uit die mens se eie vernuf en insig voortspruit nie, maar dit wat onder die inspirasie en leiding van die Heilige Gees gedoen word. Geen wonder nie dat so baie Christene gedurig probleme ondervind en sê dat hulle geestelike lewe wisselvallig is. Ons is almal tot diensbaarheid geroep. Baie mense wil egter nie vir die Here werk nie, daarom dryf hulle weer van Hom af weg en gaan met hulle lewe van eiebelang voort. Hoe wil hulle as ouderlinge en konings saam met Christus in sy koninkryk regeer indien hulle nie dié ryk as arbeiders van die Here help bou het nie?
In Openbaring 5:1-5 vind ons die voorspel tot ‘n dramatiese bevrydingsproses wat gedurende die sewe jaar van die verdrukking gaan plaasvind. Dit word as die beoefening van die lossingsreg voorgestel waarin die aarde en sy inwoners deur middel van groot oordele uit die hand van die Berower [Satan] en sy tiranne bevry en op ‘n volkome en absolute wyse aan die gesag van sy regmatige eienaar, Jesus Christus, onderwerp gaan word:
In die boek Rut is ‘n goeie voorbeeld van die lossingsreg opgeteken. ‘n Vergelyking tussen Rut se omstandighede en dié van ons sal veel lig op die toneel in Openbaring 5 werp:
Naomi, haar man en twee seuns het tydens ‘n groot droogte en hongersnood van hulle grond naby Betlehem weggetrek om as vreemdelinge in die velde van Moab te vertoef. Op ‘n soortgelyke wyse is die stamvader en stammoeder van die ganse mensdom, Adam en Eva, tydens ‘n geestelike droogte in die sondeval van hulle regte op hulle erfdeel ontneem, en moet ons as gevolg hiervan vandag nog as vreemdelinge en bywoners in ‘n bose wêreld vertoef.
In Naomi en haar gesin se ballingskap is drie van die gesinslede dood en nog een het besluit om in Moab agter te bly. Twee sou egter genade in die oë van die Here vind en na hulle erfdeel terugkeer. By wyse van toepassing kan gesê word dat baie mense in hulle afgedwaalde toestand as sondaars sterf, maar vir dié wat die Here met hulle hele hart soek, is daar herstel en redding.
Terug op hulle grond in Betlehem het Naomi en haar skoondogter, Rut, ‘n enorme probleem gehad. Die opgehoopte skuldlas op die familie-eiendom was só groot dat hulle dit glad nie kon betaal nie. Hulle sou ‘n ryk familielid moes vind wat as losser kon optree sodat die grond behoue kon bly. Hy sou ook vir Rut as vrou moes neem sodat die familie van die oorledene nie sou uitsterf nie, maar voortleef. Só ‘n persoon het hulle in Boas gevind. Hy het die lossingsreg beoefen deur die skuld te betaal en ook vir Rut, die Moabitiese, wat onder die vleuels van die God van Israel kom skuil het, as vrou geneem. Rut en Naomi was vol vreugde en diepe dankbaarheid teenoor Boas, want as hy nie tot hulle hulp en redding gekom het nie, sou hulle eiendom in die hande van hulle skuldeisers beland en hulle familienaam in Israel ook uitgesterf het.
Ons Losser is Jesus Christus. Hy het die skuldlas van ons sonde op Hom geneem en die volle prys daarvoor betaal. Hierdeur het ons mede-erfgename van Hom geword en sal ons ook saam met Hom oor ons erfdeel regeer. Meer nog – Hy het vir ons, wat soos Rut uit ‘n heidenwêreld afkomstig is, as sy bruid geneem omdat ons by Hom kom skuil het. Wat ‘n vreugde dat ons só ‘n naasbestaande kon vind wat Hom oor ons ontferm het, ons skuld vereffen, ons die ewige lewe geskenk en vir altyd onder sy persoonlike beskerming en sorg geneem het.
Die ouderlinge se vreugde het geen perke geken toe hulle besef dat hulle Redder, Jesus Christus, die Losser is wat nie alleen hulle sondeskuld betaal het nie, maar ook die hele aarde van die mag van die Bose gaan bevry. Hierdeur sal hulle weldra die goddelike gesag van Génesis 1:28 oor hulle erfdeel terugkry en saam met Christus as konings daaroor heers:
Wanneer dít aan die begin van die duisendjarige vrederyk gebeur, sal die tydperk ná die sondeval waarin “die hele wêreld in die mag van die Bose lê” (1 Joh. 5:19), finaal beëindig wees.
Dit was die gebruik in Israel om die bemaking van eiendom in ‘n boekrol op te skryf, en elke keer nadat sekere inskrywings gemaak is, is die betrokke deel verseël. Die testament waarin die erfreg en heerskappy oor die aarde beskryf word, is met sewe seëls verseël. Christus alleen is waardig om die testament se seëls te breek en dit te open. Hy is nie alleen die wettige eienaar van die aarde en sy mense nie, maar het ook al die skuld wat uit Satan se berowing van die menslike beheer oor die eiendom voortgespruit het, betaal.
Wanneer die seëls een vir een gebreek word, word die geweldigste oordele van alle tye oor die aarde uitgestort. Hierdeur sal ‘n sondige mensdom tot verantwoording geroep word en die mag van Satan en sy trawante stelselmatig afgebreek word totdat daar niks van sal oorbly nie.
Die ouderlinge in die hemel kyk in afwagting toe vir die breek van die eerste seël van God se oordele. Wanneer hierdie seël gebreek word, maak die Antichris skielik sy verskyning op aarde, waarna die dramatiese gebeure van Openbaring 6 ‘n aanvang neem. Die kerk van Christus sal dan saam met Hom rondom sy troon wees en telkens die regverdigheid van sy oordele oor ‘n goddelose wêreld bevestig.
Jy sal weet of jou bestemming by die Here Jesus is, en of jou lewe dalk sodanig is dat jy glad nie ‘n toonbeeld van sy liefde en reddende genade is nie. Dan stuur jy op die verdrukking af, en op die misleiding en tirannie van die Antichris wat die groot rebel en mens van sonde sal wees. Daar is egter ‘n meer uitnemende weg, en dit is die weg wat by die kruis van die Here Jesus begin. As jy bereid is om op die pad van sonde om te draai en na die Here te gaan, dan sal Hy jou sonde vergewe en jou tot ‘n kind van Hom herskep. Wanneer Hy sy kerk kom haal, sal jy dan saam met Hom in hemelse plekke wees terwyl miljoene mense op aarde aan die skrikbewind van die Antichris onderwerp sal word.
Diegene wat nie erns met die Bybel en die roepstem van die Here maak nie, se lewenspad gaan deur ‘n donker dal van verskrikking loop wat by Openbaring 6 begin en gaandeweg al hoe erger sal word na die einde toe. Die meeste van hulle sal glad nie eers hierdie geweldige rampe en oordele oorleef nie. Miljoene mense sal só deur die krag van die dwaling oormeester word dat hulle die Antichris blindelings sal navolg onder die illusie dat hulle die regte ding doen. Kom liewer nóú oor uit die duisternis tot die lig en ontvlug só die komende oordele!
Die kinders van God word skielik met die aanvang van die gebeure van Openbaring 4 na die hemel verplaas, terwyl die uur van die duisternis op aarde aanbreek. Eers in Openbaring 19 maak die bruidsgemeente saam met Christus in triomf haar opwagting op aarde om saam met Hom in sy vrederyk te regeer.