5. Oorwinning Oor die Vlees: Die Stap van Heiligmaking

Die leerstelling oor heiligmaking behels twee duidelik onderskeibare aspekte, naamlik die aflê van die ou, sondegeneigde natuur, en die vervulling met die Heilige Gees waardeur ons met ’n nuwe natuur beklee word. Indien hierdie stap nie gedoen word nie, bevind ’n Christen homself in ’n tweestryd waarin die vlees en die Gees teenoor mekaar staan. Dit weerhou hom daarvan om die Here heelhartig en met oorgawe te dien, omdat hy by herhaling die Heilige Gees deur sy vleeslike gedrag bedroef en teëstaan. Só ’n persoon wandel nie deur die Gees nie, maar deur die vlees.

Die Bybel spreek hierdie probleem pertinent aan en sê ook in ondubbelsinnige taal wat die oplossing daarvoor is: “… as julle ten minste van Hom gehoor het en in Hom onderrig is soos die waarheid is in Jesus: dat julle, wat die vorige lewenswandel betref, die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding ten gronde gaan, en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid. Daarom, lê die leuen af en spreek die waarheid, elkeen met sy naaste, want ons is mekaar se lede. Word toornig en moenie sondig nie; laat die son nie ondergaan oor julle toorn nie; en gee aan die duiwel geen plek nie. Laat elkeen wat steel, nie meer steel nie; maar laat hom liewer arbei deur met sy hande te werk wat goed is, sodat hy iets kan hê om mee te deel aan die een wat gebrek het. Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie, maar net ’n woord wat goed is vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor. En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing. Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word, saam met alle boosheid. Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het” (Ef. 4:21-32).

In die kerkgeskiedenis van die 18de en 19de eeue was heiligmaking ’n leerstelling wat die grondslag was vir herlewing in verskeie lande. In ons tyd ontbreek die ervaring van heiligheid,  oorwinning en ware dissipelskap in die meeste Christene se lewens. Weens onkunde, laksheid of misleiding ontwyk die seën van die volheidslewe die grootste deel van die eindtydse kerk. Talle moderne kerke het in oppervlakkigheid, teologiese dwalings, vleeslikheid en wêreldgesindheid verval omdat hulle nie deur die Gees van God wandel nie.

Omdat baie predikante, teoloë en belydende lidmate nie Geesvervuld is nie, weet hulle nie wat dit is om geestelik op te groei, onder die leiding van die Heilige Gees Bybelstudie te doen en in die dieper dinge van God se Woord onderrig te word nie (1 Kor. 2:10). Baie van hulle berus by hierdie toestand van vleeslikheid en geestelike onvolwassenheid, terwyl ander weer hulle gebreke en tekortkomings probeer aanvul deur vals herlewings te soek wat op ekstatiese tekens en wonderwerke gebaseer is (die ervaringsteologie).

’n Christen wat van wedergeboorte kan getuig (aanvanklike heiligmaking), moet besef dat dit net die begin is van ’n pad wat na geestelike volwassenheid, insig en diensbaarheid moet lei. Sulke mense moet hulle beywer om in kennis en genade toe te neem sodat hulle geestelik volkome toegerus kan wees: “En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak …” (1 Thess. 5:23).

Uit die aangehaalde Skrifgedeelte (Ef. 4:21-32) is dit baie duidelik dat ’n Christen die oue mens moet aflê. Dit behels die verloëning of kruisiging van die vlees en sy sondige gewoontes en begeerlikhede. Verskeie werke van die vlees word hier genoem, soos leuens, woede, bitterheid, vuil taal en diefstal. In die volgende hoofstuk word dronkenskap ook bygevoeg (Ef. 5:18). ’n Persoon wat homself hieraan skuldig maak, bedroef die Heilige Gees en kan uit die aard van die saak nie ’n Geesbeheerde lewe lei nie. Die opdrag is egter om die hindernis van die vlees op grond van die Here Jesus se kruisdood af te lê. In die plek daarvan moet ons met ’n lewe van  heiligheid en godsvrug beklee word en daadwerklik daarin opgroei tot geestelike volwassenheid.

Die Gees en die vlees

Romeine 8:1 sê dat ons nie deur die vlees moet wandel nie, maar deur die Gees. Om dit te kan doen, behels meer as ’n blote oorskakeling van ’n vleeslike na ’n geestelike gedragspatroon. Die oue mens, wat in beginsel reeds gekruisig is, moet ook prakties afgelê word sodat ons met die nuwe mens beklee kan word. As ons dit nie doen nie, behou die vlees sy heerskappy en staan vierkantig in ons pad “omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie” (Rom. 8:7). Dit is teen sy natuur om die Gees se gesag te aanvaar (Rom. 8:13).

Daar is geen sprake daarvan dat die vlees makgemaak, of dalk net geïgnoreer of onderdruk kan word nie. Omdat die oue mens onrehabiliteerbaar sleg is, sê die Bybel, moet hy sterf: “… aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie” (Rom. 6:6). Paulus sê hy roem in die kruis van die Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir hom gekruisig is en hy vir die wêreld (Gal. 6:14). Christus het nie net vir Paulus gesterf nie; Paulus moes ook vir die sondige wêreld sterf (Rom. 6:6, 11).

Volkome heiligmaking

Ons moet baie goed verstaan dat ons sonde tydens die stap van bekering vergewe word (regverdigmaking) en dat die nuwe lewe van die Here Jesus deur die wedergeboorte aan ons geskenk word (die eerste stap in heiligmaking). Die ervaring van volkome heiligmaking, of hartsreiniging, beteken dat ons met die krag van die Heilige Gees beklee word om die geregtigheid van Christus ’n sigbare werklikheid in ons lewens te maak. Hiervoor is die aktiewe samewerking en gehoorsaamheid van die kind van die Here nodig, want:

·       Ek moet by ’n punt kom waar ek myself ook in my verstand en gemoed dood reken vir die sonde (Rom. 6:11). Ek moet dus ophou om in die sondes van die ou lewe te wandel en geheel en al daarmee breek. Dit beteken dat ek die werke van die vlees moet aflê. Hoewel ek reeds vergewe is en in beginsel saam met Christus gekruisig is, moet ek nou doelbewus met Hom saamgroei deur die gelykvormigheid aan sy dood. Ek moet ’n oorgawe maak waarná ek saam met Paulus sal kan sê: “Ek is met Christus gekruisig, en ék [die ou, eie-ek] leef nie meer nie, maar Christus leef in my” (Gal. 2:20).

·       Ek moet die volle beheer van my lewe aan die Heilige Gees oorgee. Deur in die nuwe lewe met Hom saam te werk, vereis dat ek deur die Gees die werke van die vlees sal doodmaak. As ek deur die Gees wandel sal ek nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie. Hy sal my volkome heilig maak sodat ek deur my gees, siel en liggaam onberispelik kan wandel (1 Thess. 5:23-24). Dan kan die sonde nie oor my heers nie.

·       By die ondervinding van heiligmaking, wat ’n volle oorgawe behels, moet die nuwe lewe wat by my bekering al begin het, sigbaar en prakties begin uitwerk. Ek moet my daarmee beklee en daarin opgaan. Alle struikelblokke moet oorwin en uit die weg geruim word. Toegerekende heiligheid moet ondervindelike heiligheid word, met ander woorde innerlike heiligheid moet daadwerklik in uiterlike heiligheid oorgaan. ’n Heilige ingesteldheid is nie genoeg nie – dit moet ook in ’n heilige lewenswandel sigbaar word. Die nuwe lewensbeginsels moet deur geloof, gebed, getuienis, volharding en selfverloëning versterk word.

Ons roem vir die volle oorwinning oor die Adamiese sondenatuur is geleë in die kruis van die Here Jesus. Die bloed van Christus reinig my van alle sonde, maar sy kruisdood verlos my ook  van daardie ou, sondegeneigde natuur. Ek moet só met sy kruisdood identifiseer dat die oorwinningskrag daarvan daagliks in my lewe werksaam is en ek as ’n geestelike lewenswyse die kruis van selfverloëning sal opneem waaraan ek vir die wêreld en die wêreld vir my gekruisig word. In die plek van die ou natuur moet ek beklee word met die natuur van die tweede (laaste) Adam (Jesus Christus), want hierdie natuur is na God geskape in ware geregtigheid en heiligheid.

Baie Christene maak nie erns met die opdrag tot heiligmaking nie. Hulle skuif die morele verantwoordelikheid vir ’n heilige lewe van hulle af weg, en sê dat die Here Jesus namens hulle daaraan voldoen het. Christus het wel namens jou die straf vir die sonde gedra om jou tot ’n nuwe mens te kan herskep. Deur jou aktiewe toewyding aan Hom moet jy egter heilig leef, vrug dra en tot volwassenheid opgroei. Die Here Jesus skenk aan jou deur die Heilige Gees die krag en genademiddels om dit te kan doen, maar Hy doen dit nie namens jou nie en onthef jou nie van jou verantwoordelikheid om heilig te leef nie!

Mense wat die verantwoordelikheid vir en opdrag tot heiligmaking van hulleself af wegskuif, maak daardeur implisiet vrede met hulle “sondetjies” en gaan met ’n lewe van wêreldgesindheid voort. Paulus het goeie raad vir hulle:

·       “Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word? Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe?” (Rom. 6:1-2).

·       “Moenie dronk word van wyn nie – daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul” (Ef. 5:18).

·       “Dit is die wil van God: julle heiligmaking … Want God het ons nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligmaking. Daarom, hy wat dit verwerp, verwerp nie ’n mens nie, maar God wat ook sy Heilige Gees aan ons gegee het” (1 Thess. 4:3, 7-8).

Kragteloosheid

Deur te versuim om aan die opdrag tot heiligmaking te voldoen, ontneem ’n Christen homself die beloofde krag tot oorwinning, diensbaarheid en geestelike groei. Hy minag daardeur die belofte van die Here Jesus aan sy geredde volgelinge, naamlik dat hulle krag sal ontvang wanneer die Heilige Gees oor hulle kom. Hulle moet hulleself ondersoek, toewy en in ernstige gebed op hierdie belofte wag totdat hulle dit ontvang het. Het jy dit al gedoen en die toerusting met krag uit die hoogte ontvang? Daarsonder wag daar vir jou die swakheid en geestelike neerlae wat vir Petrus voor Pinksterdag geteister het. Hy het ook tot sy groot droefheid voor dié aanslae geswig.

Die Here se opdrag in die Bybel is: “Wees heilig, want Ek is heilig” (1 Pet. 1:16). Dit sluit alle aspekte van ons bestaan in: “Soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word” (1 Pet. 1:15). Hoewel heiligmaking ’n proses is, het dit ’n beginpunt by die stap van volle oorgawe.

Christene wat nie dié saak ernstig opneem nie, leef onder die oorheersing van die swakhede van hulle ou lewe voort, kom dadelik weer onder die mag daarvan, en bevind hulleself in ’n vleeslike toestand wat deur geestelike kragteloosheid en onvolwassenheid gekenmerk word. Dit is ’n besliste resep vir geestelike rampspoed, daarom waarsku Paulus hulle baie ernstig oor hulle sonde en onkunde ten opsigte van heiligmaking: “Weet julle nie dat julle liggaam ’n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort” (1 Kor. 6:19-20).

Dit is vandag ’n baie algemene verskynsel dat mense by evangelisasiedienste tot bekering kom, maar dat die meeste van hulle ná ’n ruk weer in die ou lewe terugval. Tot ’n groot mate is dit die skuld van predikers en kerke wat nie ’n duidelike leer oor heiligmaking verkondig nie. Die groot herlewingsprediker, Charles Finney (1988:267-268), het die volgende oor hierdie ernstige probleem gesê: “Dit is duidelik waarom daar so baie gelowiges is wat terugval – hulle kry nie tydige en behoorlike onderrig oor heiligmaking en dissipelskap nie. Om geldig te kan wees, moet sulke onderrig onder die salwing van die Heilige Gees aangebied word, sodat mense met krag uit die hoogte beklee kan word (Luk. 24:49). Dit is die enigste manier om met Christus vervul te word deur sy Gees, en doeltreffende diens in sy koninkryk te verrig.”

Wedergeboorte en ’n lewe van heiligmaking loop hand aan hand. Dit is soos ’n nuwe takkie wat in ’n ou boom ingeënt word. Die nuwe lewe kan nie gedy as die ou takke nie teruggesnoei en die lewensap na die nuwe loot gevoer word nie. Uit die gelykenis van die wynstok is dit ook duidelik dat die loot skoongemaak moet word sodat dit meer vrug kan dra. ’n Loot wat nie vrug dra nie, word afgekap en verbrand. Geloof sonder werke is dood. ’n Dooie geloof kan ’n mens tog nie red nie! ’n Christen wat nie heiligmaking najaag en vrugte dra wat by die bekering pas nie, is soos ’n onvrugbare loot wat gevaar loop om afgekap te word omdat dit nie aan sy doel beantwoord nie.

Ontwaakte sondaars

Baie naamchristene in kerke kom nooit by die stap van heiligmaking uit nie omdat hulle nog nie werklik gered is nie. Dit is soos die saad wat op die vlak grond of tussen die dorings beland het. Daar is nooit enige vrug nie. Hierdie naamchristene is soos die ontwaakte maar ongeredde mens van Romeine 7. Hulle het wel die woord van die Here gehoor en wil ook graag daaraan voldoen. Soos die oppervlakkige hoorders van die saad in die vlak grond, neem hulle die boodskap met blydskap aan. Dit is egter net ’n emosionele reaksie en ’n kopbekering, en by die eerste versoeking val hulle heeltemal terug. Hulle beskou hulleself as Christene, maar tot hulle eie ondergang moet hulle erken: “Ek is vleeslik, verkoop onder die sonde … Die goeie wat ek wil, doen ek [voortdurend] nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek [voortdurend]” (Rom. 7:14, 19).

Romeine 7 is kennelik nie ’n beskrywing van ware Christenskap nie. Paulus verwys hier terug na sy lewe as wetgeleerde voor sy bekering. Die wet het wel die kennis van die sonde gebring, maar kon nie die mag van die inwonende sonde breek nie. Nogtans het die wet ’n positiewe rol gespeel omdat dit die kennis van die sonde gebring het; dus is dit ’n tugmeester na Christus toe. Paulus sê: “Ek sou die sonde nie anders as deur die wet geken het nie; want ek sou ook die begeerlikheid nie geken het nie as die wet nie gesê het: Jy mag nie begeer nie” (Rom. 7:7). Deur die kennis van die wet ontwaak die sondaar en kom tot die kennis van sy sonde en verlorenheid.

Net ’n ontwaakte sondaar kan in sy nood uitroep: “Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood? Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here!” (Rom. 7:24-25). Hy moet grondig tot bekering kom en uit die dood opstaan sodat Christus oor hom kan skyn (Ef. 5:14). Hierna sal hy deur die krisis van die volle oorgawe gekonfronteer word en besef dat sy vleeslike natuur afgelê moet word, sodat die opstandingslewe van Christus deur die krag van die Heilige Gees ’n sigbare werklikheid in sy lewe kan word.

Die eerste werk ná sy bekering moet wees dat hy onbeskroomd van sy nuwe lewe getuig, want “met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding” (Rom. 10:10). Die eerste belydenis met ons mond is wanneer ons ons sondes teenoor die Here bely om vergifnis daarvan te kry en Hom as Verlosser aan te neem (1 Joh. 1:9). Hierna moet ons teenoor ander mense van ons verlossing getuig. As ’n persoon dit nie met vrymoedigheid kan doen nie, moet hy soek na ’n aanraking met krag uit die hoogte. Die belofte van die Here Jesus is: “Julle sal krag ontvang as die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees …” (Hand. 1:8).

Die volle raad van God

Prediker, verkondig die volle raad van God en sien toe dat die kinders van God deur hulle heiligmaking, geestelike groei en Skrifkennis volkome is, vir elke goeie werk volkome toegerus (2 Tim. 3:17). Hiervoor is ’n volle oorgawe tot heiligmaking en diensbaarheid onontbeerlik. Voordat dit sal gebeur, moet heiligheidsprediking weer tot sy reg kom. Dit kan alleen gedoen word deur manne wat self die dieper genadewerk van heiligmaking deelagtig geword het. Andrew Murray (1969a:62) het gesê: “Dit is in die intieme, persoonlike omgang met God self dat ons heilig word.” Dit is ’n saak van heelhartige toewyding, wat só deur Murray verduidelik word:

“Heiligheid is meer as reinheid. Ons sien in die Skrif dat heiligheid deur reiniging voorafgegaan word (2 Kor. 7:1; Ef. 5:26-27; 2 Tim. 2:21). Reiniging is die wegneming van dit wat verkeerd is – die verlossing van sonde. Heiligheid is die vervulling met dit wat goed en Goddelik is – die natuur van Jesus. Heiligheid is gelykvormigheid aan Hom. Dit behels afskeiding van die gees van die wêreld en vervulling deur die teenwoordigheid van die heilige God. Die tabernakel was heilig omdat God daar gewoon het. As God se tempel is ons heilig omdat ons God gevra het om in ons te kom woon. Christus se lewe in ons is ons heiligheid. ... Die Gees heilig ons deur Christus in ons te openbaar en te verheerlik. Hy kruisig die vlees en werk in ons om te wil sowel as om te werk volgens God se welbehae” (Murray, 1982:68-69).

Heiligmaking is ’n ondervinding waartydens ons sodanig met die lewe van Jesus beklee word dat ons deur die Heilige Gees in staat gestel word om ’n persoonlike verhouding met Hom te handhaaf en in sy voetspore te volg. Dit vereis ’n goeie kennis van die Here Jesus, sy genadewerk en ook al sy opdragte aan ons (Malan 2012(a); Simpson, 1896). Heiligheid en diensbaarheid is die kern van hierdie opdragte.

Dit is opvallend hoe baie boeke daar in die herlewingstyd oor die onderwerp van heiligmaking en ’n volkome toewyding aan die Here Jesus geskryf is. Predikers het self heilig geleef, hulle was nederige manne van gebed en geloof, daarom het hulle die noodsaaklikheid van heiligheid vir alle Christene besef. Die groot predikers het almal getuig van heiligmaking as ’n verdere genadewerk in hulle lewens (Edman, 1960). In hierdie boek, They found the secret: twenty transformed lives that reveal a touch of eternity, word daar onder meer verwys na die getuienisse van Hudson Taylor, John Bunyan, Oswald Chambers, Charles Finney, Dwight Moody en Andrew Murray.  Soms het die ondervinding van heiligmaking en geestelike verdieping eers lank ná hierdie predikers se bekering plaasgevind. John Rice (1945) sluit sy preek oor heiligmaking só af: “D.L. Moody sê hy het twee jaar hiervoor gewag. Ek weet dat ek sekere salwings gehad het, maar ek het gedurig ’n nuwe toerusting nodig met krag uit die hoogte.”

Dwight Moody was baie sterk daarop gesteld dat jong bekeerlinge aan heiligheidsprediking blootgestel moes word sodat hulle die ondervinding van vervulling met die Heilige Gees deelagtig kon word. Hy het ’n reëling met R.A. Torrey gehad om ’n reeks dienste oor heiligmaking te hou op plekke waar daar vooraf evangeliese dienste gehou en siele na die Here gelei is. Torrey se boodskappe (The Holy Spirit: Who He is and what He does) is later gepubliseer en word nog steeds herdruk (Torrey, 2008). Ander herlewingspredikers het dieselfde benadering gevolg, bv. John Wesley wat Bybelstudiegroepe gestig het vir jong bekeerlinge, en Andrew Murray wat ’n groot aantal boeke oor heiligmaking die lig laat sien het.

In ons tyd ontbreek heiligheidsprediking tot ’n groot mate. Daar is nog net enkele skrywers wat volledige boodskappe oor vervulling met die Heilige Gees publiseer, bv. Kenneth Fay (2003). Kitsevangelisasie vind wel plaas en verskeie groot saamtrekke word in sportstadions of op plase gereël, maar sonder die opvolgwerk wat in herlewingstye gedoen is. Soms word pogings aangewend om ekstatiese tekens en wonders te doen, en ook op ’n buite-Bybelse wyse te profeteer, maar dit is geen plaasvervanger vir die Bybelse leer oor heiligmaking en vervulling met die Heilige Gees nie.

As jy ’n ernstige soeker na die volheid van God is, sal Hy Hom deur jou laat vind, jou uit genade red, aan jou oorwinning oor die ou lewe gee en jou ook met sy Heilige Gees vervul.