Baie Christene leef in ’n toestand van vleeslikheid voort deurdat hulle nie streef na ’n lewe van oorwinning in die krag en onder leiding van die Heilige Gees nie. Die gevolg hiervan is dat die eienskappe van die vlees oorheersend in hulle lewe bly en alle moontlikheid van geestelike groei uitskakel. Hulle bly klein kindertjies in die Here wat as gevolg van hulle beperkings en tekortkomings onbevoeg is om geestelike werk te doen. Hulle vertoon nie die vrug van die Gees nie en word deur verdorwe menslike emosies soos selfgesentreerdheid, twis, jaloersheid en tweedrag gekenmerk. Hierdie ernstige probleem word deur Paulus aangespreek in sy uiteensetting van drie kategorieë van mense.
Wat die eerste twee kategorieë betref, onderskei Paulus só tussen ongelowiges en gelowiges: “Die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word. Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge …” (1 Kor. 2:14-15; my beklemtoning).
Uit 1 Korinthiërs 2:14-15 kan dit gesien word dat daar basies twee groepe mense op aarde is. Die eerste groep is die natuurlike mense wat nog ongered is en volkome deur hulle gevalle natuur en verduisterde gemoed oorheers word. Hierteenoor is daar die geestelike mense wat gered is en ook deur die Gees van God vervul en gelei word. Volgens 1 Korinthiërs 2:16 het hulle die sin van Christus, met ander woorde geestelike insig en verligte oë van die verstand om die dinge van die Here te kan verstaan (Ef. 1:17-18).
Hierbenewens identifiseer Paulus egter ook ’n tussengroep in die gemeente: “En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike [mense], soos met klein kinders in Christus. Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spys nie, want julle was nog nie daartoe in staat nie, en julle is nou nog nie daartoe in staat nie, omdat julle nog vleeslik is; want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens nie?” (1 Kor. 3:1-3; my beklemtoning).
Wanneer Paulus hom spesifiek tot die gemeente in Korinthe rig, spreek hy hulle nie as natuurlike mense aan nie omdat hulle, met die uitsondering van ’n paar vals broeders, wel ’n getuienis van redding gehad het. Hy beskryf hulle as ‘broeders in Christus’. Paulus spreek hulle egter ten spyte van hulle Christenskap nie as geestelike mense aan nie, maar as vleeslike mense. Hulle het nog nie die geestelike beginsels van die nuwe lewe verstaan en uitgeleef nie. Hulle val in die derde kategorie.
Hoe moet hierdie derde kategorie van vleeslike Christene beoordeel word? Dit is ’n baie groot probleem hierdie, want in die Nuwe Testament word vleeslike mense meesal as sondaars beskryf wat op pad is hel toe.
Die vlees is ongetwyfeld die gevalle, sondegeneigde natuur van die mens. Dit is tot in sy kern verrot en kan glad nie gerehabiliteer word nie, maar moet doodgemaak word. In Bybelse taal moet die vlees gekruisig word (Gal. 5:24). Die mag daarvan moet gebreek word, sodat die persoon deur die Gees gelei en beheer kan word.
Hoe is dit dan moontlik dat Christene onder die mag van die vlees kan leef? Dit is ’n aanduiding van een van twee probleme in hulle lewe: Hulle het óf nagelaat om ’n volle oorgawe te maak waarin die ou natuur vir kruisiging oorgelewer word sodat hulle met die Heilige Gees vervul kan word, óf hulle het, soos die Galásiërs, teruggeval deur in die Gees te begin en in die vlees te eindig (Gal. 3:3). Hulle is dus óf gestagneerde óf teruggevalle Christene. Die Korinthiërs het duidelik in ’n vroeë stadium geestelik gestagneer.
Die feit dat hierdie Christene vleeslik was, was ’n groot hindernis vir die praktiese uitleef van hulle getuienis na buite. Dit het hulle daarvan weerhou om geestelike mense, met ander woorde Geesvervulde Christene, te wees.
Die hele kerkbedeling is gekenmerk deur groot getalle vleeslike Christene wat ’n lae profiel gehou het deurdat hulle nie die vrymoedigheid gehad het om getuies vir Christus te wees nie. As gevolg hiervan was hulle nie by evangelisasie betrokke nie en dus nie ’n geestelike bate vir die gemeentes waaraan hulle behoort het nie. Op morele gebied het hulle ook nie aan Bybelse standaarde voldoen nie en het daarom nie in alle opsigte voorbeeldige lewens gelei nie. Hulle het verdeelde harte gehad wat as vleeslik of lou beskryf kan word.
Een van die bekendste heiligheidspredikers in Suid-Afrika was dr. Andrew Murray. In sy boek, Algehele oorgawe (sesde druk, 1972:27-41), is daar onder andere ’n boodskap getiteld Vleeslik en geestelik. Hy het hierdie boodskap in die herlewingstyd gebring, en dit het baie mense in Suid-Afrika en Engeland gehelp om die oorwinnende lewe onder die leiding van die Heilige Gees deelagtig te word en uit te leef. Die kern van Murray se boodskap oor vleeslikheid word onder die volgende vier hoofpunte weergegee:
Paulus het gevrees dat sy prediking in Korinthe sonder vrug sou wees indien hy met mense wat nie geestelik was nie, oor geestelike sake sou praat. Hierdie gemeentelede was Christene, ware Christene, maar soos klein kinders in Christus. Daar was ’n ernstige gebrek in hulle geestelike lewe, want hulle was vleeslik. Paulus het gesê dat hy nie geestelike waarhede aan hulle kon verkondig nie, want hulle sou dit nie begryp nie. Dit was nie omdat hulle dom was nie; hulle was denkende mense en het baie kennis gehad, maar hulle was nie in staat om geestelike onderrig te begryp nie omdat hulle vleeslik was.
Murray (1972:32-33) brei só oor die gevolge van vleeslikheid uit:
“Daar is honderde Christene wat honger en dors na die Woord, wat daarna luister en sê: ‘Watter heerlike waarhede, watter duidelike leerstellings, watter wonderlike uiteensettings van God se Woord!’, en tog word hulle nie een enkele tree vorentoe gehelp nie; of hulle word vir twee of drie weke gehelp, en dan verdwyn die seën weer. Wat is die rede hiervoor? Daar sit ’n kwaad aan die wortel: die vleeslike toestand verhinder die siel om geestelike waarhede in te neem en uit te leef. Ek is bevrees dat ons dikwels in ons kerke ’n groot fout begaan om aan vleeslike Christene te verkondig wat alleen vir geestelike mense geskik is. Hulle vind dit baie mooi, vat dit met hulle verstand en verlustig hulle daarin, en nogtans bly hulle lewens onveranderd in weerwil van die geestelike onderrig wat hulle ontvang. As daar een ding is wat elkeen van ons God gedurig voor moet bid, dan is dit: “Here, verhoed tog dat ek geestelike onderrig in ’n vleeslike hart sal opneem.” Die enigste bewys dat u ’n seën ontvang, is dat u uit die vleeslike toestand oorgebring sal word in die geestelike. God is gewillig om dit te doen. Laat ons daarom bid en dit in die geloof aanneem.”
Die gebrek aan geestelike insig en onderskeidingsvermoë word ook deur Paulus aan die gemeente in Éfese verduidelik. Vir hulle sê hy dat ons almal uit die wankelende en onkundige kinderstadium moet opgroei “tot ’n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus; sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering” (Ef. 4:13-14). Ons moet dus nie passief terugsit ná ons bekering nie, maar deur ernstige Bybelstudie die dieper waarhede in God se Woord ontdek en in ons lewens toepas. Daar is ’n hoë roeping in Christus.
Baie mense is lank gelede gered en moes nou al ’n jong man of vrou in Christus gewees het, maar hulle is nog steeds klein kindertjies in Christus. Paulus sê: “Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spyse nie, want julle was nog nie daartoe in staat nie.” ’n Klein kindjie is baie mooi, maar as hy na ’n paar maande nie groter word nie, sal sy ouers onraad merk en vermoed dat hy ’n ernstige kwaal het. Kindskap op sy regte tyd is die mooiste ding in die wêreld, maar kindskap wat te lank duur, word ’n las en ’n oorsaak tot droefheid – ’n teken van siekte. Dit was die toestand van baie van daardie Christene in Korinthe – hulle het babas gebly in die geloof.
Murray (1972:29) sê: “’n Kenmerk van ’n baba is dat hy homself nie kan help nie en dus ook nie andere kan help nie. Dit is die lewe van baie Christene. Hulle maak van die predikante geestelike verpleegsters van babas. Dit is ’n ernstige saak dat daardie geestelike babas hulle predikante al die tyd besig hou om hulle te versorg en te voed, en nooit help hulle hulself nie. Hulle weet nie hoe om hulleself uit die Woord van Christus te voed nie, en nou moet die predikant hulle voed. Hulle weet nie wat dit is om met God in aanraking te kom nie, en die predikant moet vir hulle bid. Hulle weet nie wat dit beteken om te lewe soos mense wat ’n God het om hulle te help nie, en wil maar altyd net versorg word. Pas op dat dit nie die rede is waarom u na ’n konferensie of ’n kerk toe gaan, sodat u verpleegsters vir u geestelike voedsel moet voorsit nie. Prys die Here vir die verkondiging van die evangelie en vir die gemeenskap van die gelowiges, maar daar moet groei en ontwikkeling wees sodat ons ook andere kan help.
“As ’n klein kindjie, ’n geestelike baba van drie maande, vleeslik is en nie heeltemal goed weet wat sonde is, en nog nie oorwinning daaroor het nie, dan is dit nie iets om oor verwonderd te wees nie. As ’n man egter jaar ná jaar in dieselfde toestand voortleef en altyd deur die sonde oorheers word, dan is daar iets radikaal met sy geestelike lewe verkeerd. Niks kan ’n kindjie in voortdurende kindskap hou as net een of ander soort kwaal nie. As ons gedurig moet sê: ‘O God, ek is nie geestelik nie,’ laat ons dan tog liewer sê: ‘O God, ek is vleeslik. Ek verkeer in ’n sieklike toestand en wil graag daaruit verlos word’.”
In die brief aan die Hebreërs word hierdie tipiese onvolwasse geestelike toestand raak beskryf (lees Heb. 5:12-6:1). Ons wat Christus leer ken het, moenie ná ons redding stagneer nie, maar opgebou word in die geloof.
Watter bewyse voer Paulus aan dat hierdie mense vleeslik was? Hy beskuldig hulle van verkeerde gesindhede en dade: “Want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie?” Hulle tree net soos die ander mense op en nie soos mense wat nuut gemaak is en in die liefde en krag van die Heilige Gees lewe nie.
Ons weet dat God ons liefhet, dat Hy in die lig woon en dat liefde die groot gebod is. Die kruis van Christus is die bewys van God se liefde, en liefde is ook die eerste en belangrikste vrug van die Heilige Gees. Wanneer mense toegee aan hulle humeur, hoogmoed, jaloersheid en tweedrag, en wanneer hulle kwaadspreek en nie ander volkome kan vergewe nie, is dit alles die vrugte van die vlees. Elke stukkie liefdeloosheid is niks anders nie as die vlees. Die vlees is selfsugtig, hoogmoedig en liefdeloos, daarom is elke sonde teen die liefde niks anders as ’n bewys dat die persoon vleeslik is nie.
Jy sê: “Ek het dit probeer oorwin, maar ek kan nie.” Dit is juis die saak wat ek wil beklemtoon. Moenie probeer om geestelike vrugte te dra solank jy nog in ’n vleeslike toestand is nie. Jy sal dit nie kan doen nie, “want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar sodat julle nie kan doen wat julle wil nie” (Gal. 5:17).
Ons vleeslike natuur is nie alleen die oorsaak van liefdeloosheid nie, maar ook van so baie ander sondes. Dink maar aan wêreldgesindheid en die liefde vir geld: wat mense alles sal doen om ryk te word; en ook die najaag van weelde, genot en ’n hoë posisie. Wat is al hierdie dinge anders as die vlees? Dit bevredig die vlees en is presies waarin die wêreld hom verlustig. Die vleeslike toestand word deur sinlikheid en die krag van die sonde in mense se lewens bewys.
Murray (1972:31) sê: “’n Persoon het my oor sy gebrek aan liefde vir gebed geraadpleeg. Hy wou weet hoe hy die beoefening van liefdevolle gemeenskap met God deelagtig kon word. My antwoord was: ‘My broeder, dit kan hoegenaamd nie bereik word nie, totdat u ontdek dat dit buite die vleeslike toestand moet geskied. Die vlees kan hom nie in God verlustig nie; dit is u probleem. U moet nie ’n besluit neem, of in u dagboek skryf: ‘Ek gaan meer bid’ nie. U kan dit nie forseer nie. Lê die byl aan die wortel van die boom en kap die vleeslike siel uit. U kan dit nie self uitkap nie, maar laat die Heilige Gees van God met die veroordeling van sonde kom en gee uself oor om saam met Christus gekruisig te word, dan sal die Gees van God volle beheer van u oorneem. Hy sal u leer om God lief te hê, om gebed lief te hê, om u naaste lief te hê, en u sal dan nederig en hemelsgesind wees.’ Die vleeslike toestand is die wortel van elke sonde.”
Geestelike groei vind slegs plaas nadat die struikelblok van vleeslikheid geïdentifiseer en uit die weg geruim is. Moenie met hierdie toestand vrede maak en so voortleef nie.
Onthou, daar is ’n groot verskil tussen geestelike gawes en geestelike gesindhede, en dit is wat baie mense nie verstaan nie. Onder die Korinthiërs was daar baie wonderlike geestelike gawes aanwesig. Paulus prys hulle dat hulle in geen enkele genadegawe tekort skiet nie. In 1 Korinthiërs 13 praat hy van die gawes van profesie, en van die geloof wat berge kan versit, en van kennis, maar hy sê vir hulle dat hierdie dinge hulle niks sal baat as hulle nie die liefde het nie. Hulle het hulle in die gawes verlustig maar hulle nie oor gesindhede bekommer nie. Paulus wys aan hulle ’n nóg uitnemender weg: om te leer om lief te hê en nederig te wees, want liefde is die uitnemendste van alle dinge.
’n Baie ernstige saak om oor na te dink, is dat iemand die gawe van profesie mag besit, dat hy ’n getroue en suksesvolle werker in een of ander werkkring mag wees, en dat hy tog deur sy skerp oordeel en die hoogmoed wat hy vertoon, asook op ander maniere, bewys mag lewer dat hy ten spyte van al sy gawes nog ’n gebrek aan geestelike gesindhede het. O, pas tog op dat Satan jou nie deur dié gedagte bedrieg nie: “Maar ek werk vir God en Hy seën my. Ander mense sien na my op en ek is die persoon deur wie hulle gehelp word.”
Die feit dat ’n vleeslike Christen sekere gawes mag hê en sukses bereik, behoort ons tot ernstige nadenke te stem. Die voorspoedigste persoon moet homself afvra: “Gee ek nie miskien, ná alles wat God se Gees as ’n gawe in my gewerk het, deur my gebrek aan nederigheid of liefde of reinheid of heiligheid toe aan die vlees nie?” Mag God ons om sy Naam ontwil deursoek en toets.
Die oplossing vir die probleem van vleeslikheid begin daar waar ’n mens tot die besef kom dat daar oorwinning is oor sonde en vleeslikheid. Dit ís vir ons moontlik om elke dag onder die leiding van die Heilige Gees te lewe. Die Here sê in sy Woord dat sy liefde in ons harte uitgestort word deur die Heilige Gees. Hy beveel ons ook om met die Heilige Gees vervul te word en dit die krag van ons hele lewe te maak: “Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie” (Gal. 5:16). Dit is die lewe waartoe God ons roep en waarvoor Christus ons vrygekoop het. Nadat Hy sy bloed aan die kruis gestort het, het Hy na die hemel toe gegaan om die Heilige Gees in sy volheid oor ons uit te stort.
Glo in die krag van die bloed van Christus om jou te reinig, en ook in die krag van die verheerlikte Christus om sy Gees in jou hart te gee; dan het jy die eerste stap in die regte rigting gegee. Al voel jy ook hoe ellendig, hou aan die Here Jesus vas. Hy kan jou met sy Gees vervul, want sy Woord het jou gebied: “Moenie dronk word van wyn nie – daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul” (Ef. 5:18).
Die vervulling met die Heilige Gees is ’n dieper genadewerk. By ’n mens se bekering oortuig die Heilige Gees jou van jou verlore toestand, van die afskuwelikheid van sonde, en veral van die skuld van die sonde en die straf daarvoor. In daardie stadium is daar maar ’n geringe besef van jou verborge, innerlike sondes en van die ou natuur wat as die oorsaak daarvan gekruisig moet word. Die volle besef hiervan kom meesal eers ’n tyd ná ’n persoon se bekering baie sterk by hom op.
Wanneer die innerlike stryd tussen die vlees en die Gees die Christen tot teleurstelling en wanhoop dryf oor sy vleeslikheid, kom hy noodwendig voor die uitdaging te staan om die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede oor te lewer om gekruisig te word. In die plek daarvan word hy deur die Heilige Gees met die natuur van die Here Jesus beklee. Wanneer hy hierdie stap doen, word hy ’n geestelike Christen.
Daar is ongelukkig baie wanopvattings oor hoe om van ’n vleeslike na ’n geestelike Christen oor te gaan. Sommige mense meen dit is ’n geleidelike proses waardeur almal van ons gaandeweg na ’n toestand van geestelikheid opgroei. Dit is egter nie so nie. Eers moet die probleem van vleeslikheid uit die weg geruim word, en dan sal daar groei na geestelike volwassenheid plaasvind.
Die oorgang van vleeslikheid tot geestelikheid behels ’n geloofstap wat gedoen moet word. Die Christen moet sy vleeslikheid voor God bely, asook al die manifestasies daarvan, soos sondegeneigdheid, hoogmoed, liefdeloosheid, biddeloosheid, dubbelhartigheid, ens. Vra die Here om dit te vergewe, jou van alle ongeregtigheid te reinig, en ook die verdorwe vlees in jou lewe te kruisig. Gereinig deur die bloed van die Lam, moet jy jouself ook oorgee om saam met Hom gekruisig te word vir die wêreld en die sonde (Gal. 6:14). Dan sal die pad oop wees om met die opstandingslewe van die Here Jesus beklee en deur sy Heilige Gees vervul te word. Hierna sal vinnige groei na geestelike volwassenheid plaasvind, omdat die struikelblok na ware geestelikheid uit die weg geruim is.
Voorts moet jy daagliks jou kruis van selfverloëning opneem en sorg dat die vlees nie weer ’n vastrapplek in jou lewe verkry nie. Jesus sê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg” (Luk. 9:23). Hoe doen ons dit? Paulus sê: “Beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie” (Rom. 13:14).
Dit is die pad van geestelike oorwinning waartoe die Here elkeen van ons roep. Het jy die oorwinning oor sonde, die wêreld en die vlees al deelagtig geword? Vertrou die Here hiervoor en ervaar ’n wonderlike nuwe krag, blydskap, en godvrugtigheid in jou geestelike lewe. “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees” (Rom. 8:1).