3. God se Seun

God het Homself op ‘n besondere wyse deur sy Seun aan die mensdom geopenbaar. Dit is egter nodig om die inkarnasie en rol van Jesus as die Seun van God in die lig van sy ewige selfbestaan as een van drie Persone in die Godheid te verstaan.

Die ewige, gelyke en mede-selfbestaande Persone in die Drie-enige God (Elohim) druk in die Ou Testament hulle eenheid deur die gebruik van die persoonlike voornaamwoord “Ek” uit, maar soms word God se meervoudigheid deur die voornaamwoord “Ons” uitgedruk, soos in die volgende gevalle: “En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld” (Gen. 1: 26)… “Kom, laat Ons neerdaal en hulle taal daar verwar” (Gen. 11:7)… “Daarop hoor ek die stem van die Here wat sê: Wie sal Ek stuur? En wie sal vir Ons gaan?” (Jes. 6:8). Sedert die inkarnasie (die menswording) van Jesus ken ons Jahweh Elohim as die Vader, die Seun en die Heilige Gees.

Tydens die inkarnasie het ‘n groot verandering ingetree: Een van die goddelike Persone het Homself ontledig om as Christus Jesus mens te word, die Heilige Gees het neergedaal om in gelowige mense te woon, terwyl God die Vader voortgegaan het om al die mag en gesag van die Drie-enige Godheid te beoefen. Die feit dat twee van die drie Persone in die Godheid genadiglik neergedaal het om in die goddelike plan van verlossing ondergeskikte rolle ten opsigte van die Vader te vervul, doen in geen opsig aan hulle selfbestaan, ewigheid en gelykheid met die Vader in die Drie-enige Godheid afbreuk nie. Jesus is die God-mens. Sy titel as “Seun van die mens” verwys na sy menslikheid, lyding en werk as die volmaakte mens. Sy titels as “God” en “Seun van God” dui op sy Godheid en eenheid met die Vader en die Heilige Gees.

Dit was vir Israel in Ou Testamentiese tye al belangrik om te weet dat die Seun wat vir hulle gebore sou word, ook God (El) en Vader (Ab) genoem sou word: “Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors – tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk” (Jes. 9:5-6). Hy sou dus nie net ‘n mens (Seun van die mens) wees nie, maar ook God en Vader. Die term Vader word nie hier in ‘n verwantskapshoedanigheid gebruik soos ‘n vader wat ‘n seun het nie, maar in ‘n skeppende sin deurdat Christus voor sy inkarnasie die Vader van die skepping was. Hy het die wêreld gemaak en niks het sonder Hom ontstaan nie (Joh. 1:3,10; Kol. 1:16-17). Dit is die enigste plek in die Ou Testament waar een van die drie goddelike Persone “Vader” genoem word. Voor die menswording van Jesus was daar nog nie ‘n Vader-Seun-verhouding nie, daarom word daar in die Ou Testament net op enkele plekke na ‘n toekomstige Vader en Seun verwys.

Dit is baie belangrik om te weet dat Jesus tydens sy menswording sy hemelse heerlikheid as God net tydelik afgelê het om die gestalte van ‘n nederige dienskneg aan te neem en aan die kruis vir ons sondes te sterf (Fil. 2:6-7). Hy het net sy heerlikheid as God en nie sy status en gesag as God afgelê nie, daarom was Hy Emmánuel (“God met ons”). Hy het toe twee nature gehad – ‘n menslike en ‘n goddelike. Om volgens God se standaarde die Verlosser van die volk Israel én van die hele wêreld te kon wees, moes Jesus die volmaakte God-mens wees. Hy moes in ‘n menslike geslag (die koninklike linie van Dawid in die stam van Juda) gebore word om Seun van die mens te kon wees. Nogtans moes ‘n man Hom nie verwek nie, sodat Hy nie enige deel aan die menslike ras se erfsonde sou hê nie. Hy moes dus deur die beskikking van God uit ‘n maagd gebore word sodat Hy ook Seun van God kon wees: “...die naam van die maagd was Maria... En die Engel antwoord en sê vir haar: Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom sal ook die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word” (Luk. 1:27,35).

In Jesus se hoedanigheid as Seun van die mens is die Vader groter as Hy, en het die Vader Hom gestuur om as mens gebore te word. Jesus het Homself ook uitdruklik aan die wil van sy Vader onderwerp (Matt. 26:39). In sy hoedanigheid as God is Hy egter een met en gelyk aan die Vader, daarom kon Hy sê: “Ek en die Vader is een” (Joh. 10: 30). Aan die dissipels het Hy gesê: “Hy wat My gesien het, het die Vader gesien” (Joh. 14:9). Jesus is dus ‘n openbaring van God die Vader. “Hy is die Beeld van die onsienlike God” (Kol. 1:15; 2 Kor. 4:4).

Jesus is Here (Heb. Jahweh; Gr. Kurios) én God (Heb. Elohim; Gr. Theos) genoem. Paulus het Hom op die pad na Damaskus aangespreek: “Wie is U Here [Jahweh]? En die Here antwoord: Ek is Jesus wat jy vervolg” (Hand. 9:5). In Romeine 9:5 sê Paulus van Jesus: “Hy… is God [Elohim], lofwaardig tot in ewigheid.” Jahweh en Elohim verwys dus na die Drie-enige God, maar ook, ná die menswording van Jesus en die uitstorting van die Heilige Gees, na God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees.

Geen misverstand kan oor die belangrike aspekte van Jesus se godheid en ewige selfbestaan bekostig word nie. Indien Hy net ‘n gewone mens was wat self aan die gevolge van die sondeval blootgestel was, sou Hy nie die volmaakte Lam van God kon wees wat die straf vir ons sonde betaal het nie. Mense wat nie glo dat die titel Here of Jahweh (die ewige Ek is) op Jesus van toepassing is nie, se sonde kan nie vergewe word nie. Hy het vir die ongelowige Joodse leiers gesê: “As julle nie glo dat dit Ek is nie, sal julle in jul sondes sterwe… Wanneer julle die Seun van die mens verhoog het, sal julle weet dat dit Ek is… voordat Abraham was, is Ek” (Joh. 8:24,28,58). Die Amplified Bible verwoord Johannes 8:58 só: “Jesus replied, I assure you, I most solemnly tell you, before Abraham was born, I AM. [Exod. 3: 14].” Hy was nie net ‘n menslike profeet nie, maar God wat in ‘n menslike gedaante na die aarde toe gekom het.

Mense wat ‘n probleem met die Bybelse begrip van die Drie-eenheid het, beskou gewoonlik net vir Jesus in terme van sy menslike natuur as minderwaardig teenoor God, en besef nie dat Hy in terme van sy goddelike natuur een met en gelyk aan die Vader en die Heilige Gees is nie. As gevolg van hierdie onderlinge eenheidsband kan Jesus, die Vader én die Heilige Gees “Here” (Jahweh) en “God” (Elohim) genoem word. Die gelykheid tussen Jesus en die Vader word duidelik in Johannes 5 bevestig:

Hulle is gelyk in werke: “Want alles wat Hý [die Vader] doen, dit doen die Seun ook net so” (v. 19).

        Hulle is gelyk in lewendmakende krag: “Want soos die Vader die dode opwek en lewend maak, so maak ook die Seun lewend wie Hy wil” (v. 21).

        Hulle is gelyk in oordele. Die Vader het sy funksie om te oordeel aan die Seun oorgedra: “Want die Vader oordeel ook niemand nie, maar het die hele oordeel aan die Seun gegee” (v. 22).

        Hulle is gelyk in goddelike eerbiedwaardigheid: “…sodat almal die Seun kan eer net soos hulle die Vader eer” (v. 23).

        Hulle is gelyk in selfbestaan: “Want soos die Vader lewe het in Homself, so het Hy aan die Seun ook gegee om lewe in Homself te hê” (v. 26).

Jesus is slegs in sy hoedanigheid as Seun van die mens ‘n geskape wese, daarom bestaan die Vader-Seun-verhouding ook net van sy menswording af: “Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou” (Gal. 4:4). Jesus is as mens in die bedeling van tyd geskape: “U is my Seun, vandag het Ek self U gegenereer” (Ps. 2:7; Hand. 13:33; Heb. 1:5). Op ‘n bepaalde tydstip in die geskiedenis, net meer as 2000 jaar gelede, is Jesus as mens geskape. Hiervan moet beslis nie die foutiewe afleiding gemaak word dat Hy tydens die grondlegging van die wêreld as Seun geskape is nie, want dit sou van Hom ‘n geskape wese maak wat ‘n trappie laer as God die Vader is, omdat Hy dan nie ‘n ewige selfbestaan sou hê nie. Dit sou ook sy godheid in die gedrang bring.

Verskeie kerkvaders deur die eeue heen het Origenes se dwaling verkondig dat die pre-geïnkarneerde Christus ‘n geskape wese is wat saam met die Heilige Gees deur God die Vader gebruik is om die res van sy skeppingswerk te doen. Origenes was sterk onder die invloed van die Griekse filosofie van Plato. Hiervan het hy sy idee verkry van ‘n enkelvoudige Skeppergod wat ander, mindere gode geskape het om sy doel deur hulle te bereik. Dit is totaal in botsing met die Bybel, maar hierdie dwaling het nog nie stoom verloor nie want daar is ook talle moderne teoloë wat die Here Jesus as ‘n geskape wese sien. Hulle verwerp sy ewige selfbestaan en gelykheid met die Vader, en tans verwerp baie van hulle ook sy godheid. Soos vir die Joodse Fariseërs en skrifgeleerdes van ouds, sê die Here Jesus dat ook húlle in hul sondes sal sterwe as hulle nie glo dat Hy die ewige “Ek is” (Jahweh) is nie. Hy is die Alfa en die Omega, die begin en die einde, die eerste en die laaste (Op. 22:13).

Die Woord wat by God was en self ook God was, het vlees geword en is as Seun van die mens gesalf sodat Hy Christus, die Gesalfde genoem kon word om die blye boodskap van God se reddende genade aan die ganse mensdom te verkondig (Jes. 61:1; 49:5-6). Hy is vir die volgende agt ampte gesalf:

1. Die Lam van God. Die heel belangrikste rede waarom die Here Jesus gesalf en afgesonder is om na die aarde te kom, was om ‘n gevalle mensdom uit die mag van die sonde los te koop. Om dit te kon doen, moes Hy die gestalte van ‘n mens aanneem sodat Hy Homself as ‘n offer vir ons sondes kon aanbied deur sy bloed te stort en aan die kruis te sterf. Hy moes God se Offerlam word. Dit was met hierdie belangrike saak in gedagte dat Johannes die Doper vir Jesus só aan die volk voorgestel het: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Joh. 1:29; Heb. 7:27).

2. Profeet. ‘n Profeet is ‘n bekendmaker of aankondiger van die wil en plan van God met die mens, m.a.w. ‘n prediker. Dit was Christus by uitnemendheid. Van sy bekendste preke is die bergpredikasie, die gelykenisse en die profetiese rede. Hy het dinge uitgespreek wat verborge was van die grondlegging van die wêreld af (Matt. 13:35).

3. Hoëpriester en Middelaar. Jesus Christus is die Hoëpriester en Middelaar van die Nuwe Testament (Heb. 8:1-6, 9:15). Om hierdie amp te kon beklee, moes Hy eers mens word en ook versoek word soos mense, sodat Hy met ons medelye kan hê en voortdurend by die Vader vir ons intree: Paulus sê: “Hy [moes] in alle opsigte aan sy broeders gelyk word, sodat Hy ‘n barmhartige en getroue hoëpriester kon wees... om die sondes van die volk te versoen. Want deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy dié help wat versoek word... Hy is in alle opsigte versoek net soos ons, maar sonder sonde” (Heb. 2:17-18; 4:15).

4. Kneg. Jesus is die Kneg van die Here wat na die aarde gekom het om ‘n groot verlossingswerk te doen. “Wie is daar onder julle wat die Here vrees, wat na die stem van sy Kneg luister?” (Jes. 50:10). Die eienskappe van ‘n kneg is nederigheid en diensbaarheid. Die Here Jesus het sy dissipels ernstig teen hoogmoed en selfverheffing gewaarsku: “Elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet almal se dienskneg wees. Want die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie” (Mark. 10:42-45). “Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was. Hy, wat in die gestalte van God was, het... Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem” (Fil. 2:5-7).

5. Herder. Christus het as die Herder van sy kudde ‘n absolute verbintenis tot hulle welsyn omdat Hy hulle duur gekoop het met sy kosbare bloed. “Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape” (Joh. 10:11). Hy het sy kudde met sy eie bloed gekoop, Hy bewaar hulle teen gevare en lei hulle daagliks in groen weivelde na waters waar rus is.

6. Hoof van die gemeente. “Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente... Hierdie verborgenheid is groot maar ek sê dit met die oog op Christus en die gemeente” (Ef. 5:23, 32). God het alle dinge onder Christus se voete onderwerp “en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee, wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul” (Ef. 1:22-23).

7. Koning. Omdat die Here Jesus alle mag in die hemel en op aarde het, beklee Hy ook die amp van Koning. Alle mense het egter die keuse of hulle Hóm wil navolg, of die god van hierdie wêreld, Satan. Die huidige verborge koninkryk van Christus op aarde sal by sy wederkoms sigbaar geopenbaar word (Op. 11:15; 19:11-16). Dan sal Satan in ‘n put gebind en sy mede-regeerders, die Antichris en die valse profeet, in die poel van vuur gewerp word (Op. 19:19–20:4).

8. Regter. Die Here Jesus beklee ook die amp van Regter. Eers sal Hy by sy regterstoel die werke van sy diensknegte beoordeel en genadeloon toeken (Rom. 14:10,12). Daarna sal Hy in die groot verdrukking die toorn van God oor die onbekeerlike nasies uitstort (Op. 6:16-17). Ná sy wederkoms sal Jesus ook die nasies oordeel, en aan die einde van die vrederyk alle ongelowiges van alle eeue oordeel.

Benewens Christus se ampte is daar ook verskeie beskrywende name van Hom in die Bybel. Hierdeur word die klem op bepaalde aspekte van sy Persoon en werk geplaas, sodat ons die ewige Ek Is nóg beter kan ken, verstaan en liefhê. Deur die volgende name, waarvan daar nog meer is, maak Hy verder bekend wie Hy werklik is:

Die lig van die wêreld. Jesus het gesê: “Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê” (Joh. 8:12).

Die brood en water van die lewe. “Die brood van God is Hy wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld die lewe gee. Toe sê hulle vir Hom: Here, gee ons altyd hierdie brood. En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie” (Joh. 6:33-35).

Die Rots en fondament. Paulus sê: “Niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus” (1 Kor. 3:11). Dit is die enigste rots waarop ons lewens gebou kan word.

Die weg, die waarheid en die lewe. Jesus is die enigste weg na die hemel, omdat niemand na die Vader kan kom behalwe deur Hom nie (Joh. 14:6). Hy is die waarheid, sy woord is die waarheid, en die Gees van die waarheid getuig van Hom. Hy is ook die opstanding en die lewe (Joh. 11:25-26).

Die ware wynstok. “Ek is die ware wynstok en my Vader die landbouer. Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg; en elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra... Wie in My bly en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie” (Joh. 15:1,2,5). Ons moet in Hom bly en elke dag ons lewenskrag van Hom verkry.

Die blink môrester. Jesus sê: “Ek is die… blink môrester” (Op. 22:16). Petrus voeg hierby: “En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte” (2 Pet. 1:19). Die môrester is die simbool van hoop – die verwagting van ‘n nuwe dag wat weldra sal aanbreek. In Jesus Christus het ons ‘n hoopvolle toekoms. Ons kan verby die spanning van die huidige lewe na die strale van ‘n helder nuwe dag kyk wat met sy wederkoms oor hierdie donker wêreld sal aanbreek.

Die Bruidegom. Die koms van die hemelse Bruidegom is voor die deur! Is jy hiervoor gereed? Met die geklank van die basuin van God sal die bruidsgemeente na hemelse plekke weggevoer word vir daardie wonderlike geleentheid van die bruilof van die Lam (1 Thess. 4:16-17; 1 Kor. 15:51-52). Dan sal ons Hom in al sy heerlikheid sien soos Hy is en self ook in sy heerlikheid deel (1 Joh. 3:2-3).