3. Profetiese Raamwerk in die Evangelies

Mattheus en Lukas het dieselfde evangelie-boodskap verkondig, maar dit op verskillende groepe mense toegepas. Kennis van hierdie verskille en aanvullende perspektiewe sal ons help om die kenmerke en profetiese rolle van Israel en die kerk van mekaar te kan onderskei.

Jesus Christus is die grootste profeet wat hierdie aarde ooit betree het. In sy onderrig en gelykenisse het Hy duidelike uiteensettings van die geestelike toestand van mense gedoen en ondubbelsinnig die weg tot vergifnis en verlossing aangetoon. Hy het ook dramatiese onthullings oor die nabye én verre toekoms gedoen, en dikwels na die eindtyd nét voor sy wederkoms verwys. Die laaste week voor sy kruisiging het Hy sy dissipels verbyster deur ‘n verklaring dat Jerusalem vernietig en van die indrukwekkende tempelgebou nie een klip op die ander gelaat sal word wat nie afgebreek sal word nie. Angstig het hulle Hom uitgevra: Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld? (Matt. 24:3; die Griekse teks gebruik die term aioon wat op bedeling dui, eerder as op wêreld, en verwys dus na die einde van die kerkbedeling net voor die wederkoms van Jesus Christus).

In die rede wat op hierdie vraag gevolg het, word verskillende belangrike gebeurtenisse van onmiddellike belang vir Jerusalem en die Joodse volk behandel, asook ‘n oorsig oor wêreldtoestande net voor die wederkoms. Ten einde die volgorde van die gebeure reg te kan vertolk, asook die groep(e) op wie dit betrekking het (Jode, nasies of die kerk), is dit nodig om die profetiese rede uit die oogpunt van die drie sinoptiese Evangelies te bestudeer.

Daar is grondige redes vir die verskillende aanbiedings van die profetiese rede deur Mattheus en Lukas (Markus se weergawe is feitlik dieselfde as dié van Mattheus). Die inagneming van hierdie verskille sal ons daarvan weerhou om net die tipies Joodse scenario van Mattheus te lees en dan verkeerdelik die toekoms van die kerk daarin te sien.

Die perspektief van Mattheus

Hierdie Evangelie is hoofsaaklik uit ‘n Joodse oogpunt geskryf, en dit is opvallend dat die eerste plek in die koninkryk van God dikwels aan Jode toegesê word. Uit die eerste sendingopdrag aan die twaalf apostels blyk dié voorkeurposisie duidelik. In die tyd voor die nasionale verwerping van Jesus deur die Jode, is die opdrag aan die dissipels gegee om nie na die Samaritane (heidene) met die evangelie te gaan nie, maar net na “die verlore skape van die huis van Israel” (10:5-6). Jesus het in noue aansluiting hierby gesê dat Hy net na die verlore skape van die huis van Israel gestuur is (15:24; vgl. ook 19:28).

In Mattheus word ‘n positiewe standpunt ten opsigte van die wet gestel en die toepaslikheid daarvan as goddelike riglyne vir geestelike en morele norms bevestig (5:18-19). Jesus sê dat Hy nie gekom het om die wet te ontbind nie, maar te vervul (5:17). Die wet is in die Messias se Nuwe Testamentiese wet van liefde teenoor God en liefde teenoor ons naaste vervul (22:36-40). “Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete” (22:40; vgl. ook Rom. 13:8-10).

Die skrywer van hierdie Evangelie is sterk daarop ingestel om die verband tussen die Ou- en die Nuwe Testament aan te toon, en veral die wyse waarop die oue in die nuwe vervul is. Om hierdie rede verwys Mattheus dikwels na die Ou Testament deur onder meer 43 woordelikse aanhalings, benewens nog 22 sinspelings, om sodoende aan ‘n ongelowige en skeptiese volk die bewyse te lewer dat die lewe en werk van Jesus in die fynste besonderhede die vervulling van Ou Testamentiese profesieë is.

Dit is die rede vir die besondere aanbieding van feite oor die maagdelike geboorte en naamgewing van Jesus, sy tydelike verblyf in Egipte en vestiging daarna in Nasaret, die feit dat Hy siekes gesond gemaak, in gelykenisse gespreek, Jerusalem op ‘n esel binnegery en uiteindelik deur sy dissipels verlaat is, “sodat vervul kon word wat God deur die profete gespreek het” (1:22; 2:15, 23; 8:17; 12:17; 13:35; 21:4; 26:54). Ander belangrike besonderhede soos sy geboorte in Betlehem, die ongeloof van die Joodse volk, die aanstoot wat mense aan Hom sou neem en die feit dat Hy vir 30 silwerstukke verkoop sou word, word telkens aan Ou Testamentiese profesieë gekoppel (2:5; 13:14-15; 26:31; 27:9). Hierdie aanhalings van bewysplase uit die Ou Testament is nie naastenby so prominent in die ander Evangelies nie.

As ‘n oorwegend Judaïstiese werk hou Mattheus vir Jesus baie duidelik as Messias van die Jode voor. Sy geslagsregister word aangehaal tot by Abraham wat die eerste Hebreër was, en nie tot by Adam soos wat Lukas dit doen nie. Sterk klem word op sy afkoms van Dawid gelê (1:1, 20; 9:27; 12:23; 15:22; 20:30-31; 21:9, 15; 22:42-45). Verder dien Jesus se geslagsregister as afdoende bewys daarvan dat Hy op die troon van Dawid aanspraak kan maak (kyk ook 2:2). In elk geval vervul Jesus as gevolg van sy wonderbaarlike verwekking deur die Heilige Gees in die maagd Maria die meer verhewe Ou Testamentiese verwagtings met betrekking tot die Messias, deurdat dit Hom in ‘n baie unieke sin die Seun van sy hemelse Vader maak. Omdat Hy God die Seun is (11:27) kan Hy regmatiglik die titel ‘Emmanuel’ (‘God met ons’) op Homself toepas (1:23). Hy is die bonatuurlike ‘Seun van die mens’ wie se koms baie duidelik deur die profeet Daniël voorspel is (Dan. 7:13-14), en wat in die tyd van die einde (Dan. 12:4) op sy heerlike troon sal sit om die nasies te oordeel (16:27; 24:30; 25:31; 26:64).

Die Messias se koninkryk is ‘n baie algemene onderwerp in dié Evangelie. God die Vader vertrou die heerskappy oor sy koninkryk aan sy Seun, die Messias, toe wat met sy wederkoms op die troon sal sit (25:34, 40). Dit word dus baie duidelik as ‘n eskatologiese koninkryk beskryf wat in die eindtyd geopenbaar sal word wanneer die Messias op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid sal kom (24:30).

Ooreenkomstig die algemene benadering in die Evangelie van Mattheus word die profesieë só bespreek dat hulle primêr op die toekoms van die (ongeredde) Joodse volk betrekking het. Die tydsraamwerk wat vir hierdie profesieë gebruik word, is twee geslagte: die eerste is die geslag wat op die verwerping van Jesus as Messias gevolg het (23:34-36), en die ander een die geslag wat direk voor sy wederkoms verloop (24:32-34).

Die eerste geslag het begin met Jerusalem (die setel van regering en kern van die Joodse volk) wat vir Jesus as Messias verwerp het, en hierdie geslag het met die vernietiging van Jerusalem geëindig (23:37-38). Profesieë wat in die eerste geslag vervul is, is die vernietiging van Jerusalem en die tempel deur Israel se vyande – tot só ‘n mate dat nie een klip op die ander gebly het wat nie afgebreek is nie (23:37; 24:1-2). Aan die einde van hierdie gelsag sou Jerusalem verlate en sy inwoners óf dood óf verstrooid wees (23:38). Hierdie profesieë is in 70 n.C. met die beleg en inname van Jerusalem deur ‘n Romeinse mag, letterlik vervul. Dit het byna 40 jaar ná die begin van die kerkbedeling gebeur, en dien as ‘n bewys dat God steeds met Israel as ‘n afsonderlike volk handel – hulle is nie deur die kerk vervang nie. Hoewel geredde Jode in hierdie bedeling lede van die kerk van Christus word, verander dit geensins aan die feit van Israel se unieke profetiese toekoms as ‘n volk nie.

Die laaste geslag sou met die herstel van Jerusalem na Joodse beheer begin, in voorbereiding op nóg ‘n geleentheid wat Israel as volk sal hê om Jesus as Messias te aanvaar. Nadat Hy tydens sy eerste koms deur die Jode verwerp is, het Jesus gesê dat Hy sou weggaan, maar wanneer Hy weer terugkom, sal Israel Hom as hulle beloofde Messias-Koning aanvaar: “Want Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (23:39). Die Jode spreek hierdie aanhaling uit Psalm 118:26 elke jaar in ‘n liturgiese gebed tydens die loofhuttefees uit, sonder om te besef dat dit in werklikheid op Jesus as Messias betrekking het.

Jesus het aan die ongelowige Jode gesê dat hulle voor sy wederkoms deur die groot verdrukking sou gaan (24:21). Hierdie tyd van verdrukking sal deur die opkoms van valse christusse (valse messiasse) en valse profete gekenmerk word (24:4-5, 11, 24) wanneer ‘n valse messias na hulle toe sal kom en voorgee dat hy die ware Messias is (24:23-27). Dit sal ook ‘n tyd van oorloë, hongersnode, pessiektes, aardbewings en die hewige vervolging van Israel wees (24:6-7, 9).

Mattheus wy ‘n lang gedeelte aan die eindtydse vlug van die Jode uit Judea na die berge (24:15-22). Hy koppel die vertrekpunt van hierdie gebeurtenis duidelik aan die ontheiliging van die tempel in Jerusalem deur die valse messias: “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom… dan moet die wat in Judea is, na die berge vlug” (24:15-16). Daniel (9:27) sê dat hierdie gebeurtenis in die middel van ‘n jaarweek (‘n periode van 7 jaar) sal plaasvind. Die valse messias sal dus ‘n sewe jaar lange verbond met Israel sluit, maar in die middel van hierdie tyd sal hy die tempel ontheilig deur homself tot God te verklaar en ‘n afskuwelike beeld van homself in die Allerheiligste te laat oprig.

Die Jode wat sal weier om die valse messias in sy hoedanigheid as selfverklaarde God te aanvaar, sal vinnig voor sy leërs uit moet vlug. Volgens Jesus moet hulle bid dat hulle vlug nie in die winter of op die Sabbat is nie (hulle sal dus ortodokse Jode wees), “want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af… nie gewees het nie” (24:20-21).

Die Here sal dié vlug toelaat om die Jode van totale uitwissing deur die valse messias te red. Die voortvlugtendes sal steeds geweldige benoudheid en swaarkry ervaar omdat hulle in die “tyd van benoudheid vir Jakob” sal wees (Jer. 30:7). Aan die einde van hierdie jaarweek van verdrukking sal die Messias tydens sy wederkoms na Jerusalem terugkeer (24:29-30; uit Sag. 14:4 weet die Jode dat die Messias na Jerusalem kom). Die oorlewende Jode sal aan Hom sê: “Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (23:39).

Die perspektief van Lukas

Hierdie Evangelie wat aan Theofilus, ‘n hooggeplaaste amptenaar in Rome, opgedra en daarna ook in Antiochië versprei is, is hoofsaaklik vir ‘n nie-Joodse leserskring bedoel. Vir Lukas is die strekking van die evangelieboodskap opvallend meer universeel omdat dit vir alle mense ongeag hulle volksverband, klas of stand bedoel is. In hierdie wye perspektief misken hy nie die Joodse konnotasies van die evangelie nie, maar trek die lyne aansienlik breër om ook die wêreldwye doelstellings daarvan te beklemtoon.

So byvoorbeeld verstrek Lukas nie slegs ‘n Joodse geslagsregister vir Jesus, soos wat Mattheus doen nie, maar hy voer dit terug tot by Adam. Christus spreek dus alle nasate van Adam aan – nie slegs dié van Abraham, Isak en Jakob nie – omdat Hy vir ons almal mens geword het “om te soek en te red wat verlore was” (19:10).

Hierdie benadering blyk duidelik uit die gelykenis van die barmhartige Samaritaan (10:25-37), asook uit die teregwysings aan die Jode vir hulle onverdraagsaamheid teenoor die Samaritane (9: 51-56). In Lukas 17:11-19 word daarop gewys dat ná die genesing van die tien melaatses slegs een, ‘n Samaritaan, omgedraai het om God te verheerlik. In Lukas 10:1-24 word 70 dissipels uitgestuur om die evangelie nie net na die Joodse inwoners van die omliggende dorpe uit te dra nie, maar ook na die heidene.

In sy profetiese oorsig bespreek Lukas nie slegs die lotgevalle van die ongelowige Joodse volk nie, maar ook van die Messiaanse gelowiges, die nie-Joodse Christene en die nasies. Die Messiaanse gelowiges se beloofde ontvlugting voor die vernietiging van Jerusalem in die eerste geslag, word deur Lukas beskryf (21:20-22) maar nie deur Mattheus nie. Lukas gaan dan voort om “die tye van die nasies” te noem (21:24) wat vanaf die eerste geslag tot diep in die laaste geslag van die huidige dispensasie strek. Mattheus het nie hierdie lang tydperk genoem nie, omdat hy hom net met die heilsgeskiedenis van Israel bemoei het (dieselfde benadering word ook deur ander Joodse profete gevolg, bv. Daniël (9:24-27), wat geen aanduiding van die lang tydsgaping van nie-Joodse geskiedenis tussen die 69ste en 70ste jaarweke in sy profesie oor Israel gegee het nie.

Die herstel van Jerusalem sou die einde van die tye van die nasies inlui omdat “Jerusalem vertrap sal word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (21:24). Lukas gaan hierna voort om ‘n tyd van wêreldwye benoudheid onder die nasies te beskryf, wat op die wederkoms van Christus sal uitloop (21:25-27). Die groot verdrukking word nie in enige detail deur Lukas beskryf nie – hy noem ook nie die vlug van die Jode ná die ontheiliging van die tempel in die middel van die verdrukking, soos wat Mattheus doen nie. Lukas bied net ‘n kort opsomming van die groot benoudheid en kosmiese tekens van die verdrukking, en bied dan ‘n sekere manier aan om dit te ontvlug: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (21:36). Mattheus maak nie van die belofte van ontvlugting voor die verdrukking melding nie, omdat die Joodse volk as gevolg van hulle geestelike blindheid deur die tyd van die benoudheid van Jakob moet gaan.

Uit die verskillende perspektiewe van Lukas en Mattheus is dit baie duidelik dat die belofte van ontvlugting voor die verdrukking net aan Jesus se dissipels gemaak word (21:36). Dit is verder ook duidelik dat sy dissipels in die eindtyd hoofsaaklik nie-Jode sal wees (24:47). Hulle word aangemoedig om waaksaam en biddend te wees sodat hulle waardig sal wees om die tyd van oordele te ontvlug en in die geseënde teenwoordigheid van die Seun van die mens te wees!

Deur ‘n ontsnappingsroete aan eerste geslag- én laaste geslag-gelowiges te bied (21:20-21; 36), bevestig Jesus die feit dat die gelowiges nooit saam met die ongelowiges geoordeel word nie. Soos in die dae van Noag en Lot, moet die gelowiges eers uit die rampgebied van goddelike oordele verwyder word voordat die toorn van God oor die ongelowiges uitgestort word.

‘n Finale vergelyking

In Lukas word die eindtydse scenario duidelik aan die beëindiging van die vertrapping van Jerusalem deur die nie-Joodse nasies verbind (21:24). Dit dien hier vermeld te word dat Bybelse Jerusalem (die Ou Stad, wat ook as die Stad van Dawid bekend staan) in die Sesdaagse Oorlog in Junie 1967 fisies deur Israel herower is, terwyl die politieke herstel van die stad tot sy eertydse status as hoofstad van Israel in Augustus 1980 plaasgevind het. Hierdie gebeurtenisse het die laaste geslag voor die wederkoms van Christus ingelui (Matt. 24:34; Luk. 21:32).

Volgens Mattheus en Lukas se profetiese perspektiewe is die begin- en eindpunte van die twee kritieke geslagte in die huidige bedeling tussen die eerste en tweede koms van Jesus soos volg:

Die eerste geslag: Hierdie geslag het met die verwerping en kruisiging van Jesus as Israel se Messias-Koning begin, en is deur die beleg en vernieting van Jerusalem beëindig. Baie Jode is in die aanval deur ‘n groot Romeinse mag dood, terwyl die oorlewende inwoners van Jerusalem krygsgevange geneem is en na baie nasies verstrooid geraak het. Gedurende die eerste geslag het Israel en die kerk saam bestaan, maar Israel is weens die verwerping van die Messias as instrument vir wêreldevangelisasie uitgefaseer, terwyl die kerk van Christus onder alle nasies ingefaseer is om hierdie opdrag uit te voer.

Die tye van die nasies: Die lang tydperk tussen die eerste en laaste geslag word as “die tye van die nasies” beskryf (21:24). In hierdie tyd kry die ganse nie-Joodse wêreld (insluitende die verstrooide Jode) die geleentheid om lede van die koninkryk van God te word deur vir Jesus as Messias en Verlosser aan te neem en weergebore te word (Mt. 28:18-20; Lk.24:45-49).

Die laaste geslag: Hierdie geslag het met die herowering en politieke herstel van Jerusalem deur Israel begin. Gedurende hierdie geslag bestaan Israel en die kerk aanvanklik saam, maar voor die finale sewe jaar van hierdie geslag (die 70ste jaarweek van Daniël) sal die kerk by wyse van die wegraping uitgefaseer word (Luk. 21:36) terwyl Israel geleidelik as die geestelik herstelde volk van God ingefaseer sal word. Die eerste fase van hulle geestelike herstel sal die redding van 144 000 Jode vroeg in die verdrukking wees, terwyl die hele oorblyfsel van die volk aan die einde van die verdrukking gered sal word wanneer die Messias na die Olyfberg in Jerusalem terugkeer (kyk Sag. 14:4-5). Op daardie dag sal die oorblyfsel van Israel aan Hom sê: “Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23:39; kyk ook Sag. 12:10; 13:1, 9).