2. Dispensasies in die Bybel

Die mens se heilsgeskiedenis op aarde word binne die raamwerk van sewe dispensasies beskryf. Dit begin by die skepping van Adam en Eva in die paradys en eindig in die nuwe hemel en op die nuwe aarde waar die volmaaktheid van die ewige lewe vir die kinders van God sal aanbreek.

Die volgende is die sewe bedelings wat in die Bybel ter sprake is:

1.    Die bedeling van onskuld in die paradys.

2.    Die bedeling van die gewete ná die sondeval.

3.    Die bedeling van die wet in die Ou Testament.

4.    Die bedeling van die kerk, of die Heilige Gees, in die Nuwe Testament.

5.    Die bedeling van die Antichris se regering van sewe jaar ná die wegraping.

6.    Die bedeling van die koninkryk (die 1000-jarige vrederyk van Christus) ná die wederkoms.

7.    Die bedeling van volmaaktheid in die ewigheid in die nuwe hemel en op die nuwe aarde.

Die begin en die einde van ‘n bedeling gaan altyd met dramatiese gebeure en ‘n nuwe ontplooiing van God se raadsplan gepaard. Dit word ook deur verskerpte demoniese aktiwiteite gekenmerk omdat Satan dan op ‘n buitengewone en besonder listige en verwoede wyse alles in die stryd werp om God se raadsplan te ontwrig of ongedaan te probeer maak.

Die belangrikste kenmerke van die sewe dispensasies is, in breë trekke, die volgende:

1. Die bedeling van onskuld

Die heel eerste bedeling waarin Adam en Eva in die paradys was, was die bedeling van onskuld. Hulle het geen kennis van goed en kwaad gehad nie, daarom was hulle nie eers van hulle naaktheid bewus nie. Die Here het aan hulle sekere opdragte gegee, wat ook ‘n verbod op die vrugte van die boom van die kennis van goed en kwaad ingesluit het. As hulle hiervan eet, sou hulle sekerlik sterwe (Gen. 2:17).

            Satan het vir Adam en Eva egter op ‘n listige wyse verlei om God se opdrag te oortree en van die boom se vrugte te eet (Gen. 3:1-5). Hulle het hierdeur nie net van die onderskeid tussen goed en kwaad bewus geword nie, maar self slagoffers van die kwaad geword. Omdat hulle teen God gerebelleer en na die duiwel geluister het, het hulle ‘n sondige natuur gekry en geestelik gesterwe. Ook het hulle fisies sterflike mense geword. Die bedeling van onskuld is dus deur die sondeval beëindig, en Adam en Eva is uit die paradys weggedryf.

2. Die bedeling van die gewete

Vir ‘n lang tyd ná die sondeval het die mens d.m.v. die stem van sy gewete tussen goed en kwaad onderskei. Hy het geen ander voorskrifte gehad om na te volg nie. Verskeie mense het na aanleiding van hulle innerlike oortuigings geregtigheid nagestreef, en getuienis ontvang dat hulle God behaag het. Die Here het Homself ook aan hierdie mense geopenbaar en selfs met hulle gepraat. Baie van hulle het predikers van geregtigheid geword. Voorbeelde van sulke manne was Abel, Henog, Noag, Abraham, Isak, Jakob en Josef.

3. Die bedeling van die wet

Aan die einde van die bedeling van die gewete, toe Israel in Sinai op die punt gestaan het om die wet van die Here te ontvang en sodoende ‘n nuwe dispensasie te betree, het Satan weer met al sy mag toegeslaan om die verdere ontplooiing van God se raadsplan te voorkom. Terwyl Moses op die berg was, het die duiwel die volk tot afgodediens verlei sodat hulle geestelik nie gereed was om die wet van die Here te ontvang nie. As gevolg van hierdie geweldige afvalligheid en rebellie teen God het Moses die kliptafels van die wet stukkend gegooi. Die Here het egter ná ernstige gebed deur Moses die volk hulle sonde vergewe en weer sy wette aan hulle gegee.

            Hiermee het die bedeling van die wet aangebreek, waarin die onderskeid tussen goed en kwaad baie meer eksplisiet uitgespel is. Nie net in die Tien Gebooie nie, maar ook deur ‘n groot aantal verordeninge het God aan sy volk opdragte gegee oor wat hulle móét doen en nié mag doen nie. Satan het volgehoue pogings aangewend om die volk ontrou aan God en sy wette te maak.

4. Die bedeling van die kerk

Dit word ook die bedeling van genade en die bedeling van die Heilige Gees genoem. Met die koms van Jesus as voorbereiding vir die aanbreek van die bedeling van genade, het die duiwel met groot woede toegeslaan om Jesus in onguns te bring, te probeer doodmaak, en ook om die apostels en die vroeë Christelike kerk deur geweld uit te roei. Sy planne het egter misluk en die bedeling van die kerk het gevestig geraak.

            Ná die kruisdood, opstanding en hemelvaart van Jesus, is die Heilige Gees uitgestort om mense te wederbaar en in die hele waarheid te lei. Deurdat Hy hulle van sonde en geregtigheid oortuig, verkry hulle nog veel dieper insig in die onderskeid tussen goed en kwaad. Die kwaad sluit nie net sondige dade in nie, maar ook sondige gesindhede. Ten spyte van die dieper insig, leef ons in ‘n gebroke werklikheid waarin ons nog steeds net ten dele ken. Ons moet waak teen geestelike onkunde en aktief na die dinge van die Here soek. Ons moet toeneem in genade en kennis van ons Here Jesus, terwyl ons ook ‘n groter sensitiwiteit en afkeur vir die sonde ontwikkel.

            Nou staan ons aan die einde van die bedeling van die kerk, en is dit weer eens ‘n tyd van groot afvalligheid en demoniese aktiwiteite. Satan werp alles in die stryd om die kerk te vervals en die maagde wat op die koms van die Bruidegom moet wag, aan die slaap te sus. Dit is nie sonder rede dat die Here sê dat ons moet vas staan teen die aanslae, en moet waak en bid om vir sy skielike koms gereed te wees nie.

5. Die bedeling van die Antichris

Wanneer die teëhouer, naamlik die ware kerk van Christus, d.m.v. die wegraping uit die weg geruim is, sal die Antichris geopenbaar word (2 Thess. 2:6-12). Dit sal ‘n hele nuwe bedeling inlui waarin die massas deur die krag van die dwaling mislei sal word. Hulle sal ook verslaaf, verdruk en doodgemaak word. Die kwaad sal dan tot sy volle ontplooiing kom. In teenstelling hiermee sal die kerk wat weggeraap is, verheerlik word om die goeie ten volle te ken.

            Aan die einde van die sewe jaar lange verdrukking, wanneer Satan sal weet dat die dae vir die Antichris se wêreldregering min geraak het, sal hy met dubbele woede toeslaan om mense dood te maak. Hy sal alle magte tot sy beskikking in die slag van Armagéddon teen die komende Christus monster. Dit sal egter vir hom geheel-en-al ‘n verlore stryd wees, want die Antichris en die valse profeet sal lewend in die hel gewerp word terwyl Satan ‘n duisend jaar lank in ‘n bodemlose put gebind sal word (Op. 19:19–20:3).

6. Die bedeling van die koninkryk

In die duisendjarige vrederyk sal die ware gelowiges van alle tye saam met Christus in sy koninkryk regeer (Op. 5:10; 20:6). As verheerlikte wesens sal hulle nie meer aan pyn, droefheid, ellende en die dood onderworpe wees nie, en ook nie meer deur ander vorms van onvolmaaktheid geteister en beperk word nie. Hulle sal ten volle ken, soos wat hulle ook ten volle geken is.

            Aan die einde van die bedeling van die vrederyk sal Satan vir ‘n kort tydjie losgelaat word om sy laaste groot aanslag teen die koninkryk van God te loods. Dit sal na sy ewige verdoemenis in die poel van vuur lei (Op. 20:7-10).

7. Die bedeling van die ewigheid

In die ewigheid, in die nuwe hemel en op die nuwe aarde, sal daar nooit weer iets inkom wat verontreinigend of sondig is nie (Op. 21:27). Volmaakte vrede en vreugde sal heers wanneer die gelowiges vir altyd in die teenwoordigheid van God leef.

            Die poel van vuur sal ook vir ewig bestaan, waar Satan, sy demone, en alle misleides van alle eeue vir ewig die straf vir hulle rebellie teen God sal ondergaan (Op. 14:9-11; 20:15; Dan. 12:2).

Die gevolge van dispensasionele verwarring

Indien die dispensasies in die Bybel nie duidelik van mekaar onderskei word nie, kan dit tot groot teologiese verwarring en verkeerde sienings lei. Twee van die dispensasies wat dikwels saamgegooi word, is die huidige kerkbedeling en die toekomstige koninkryksbedeling van die duisendjarige vrederyk. Dit het ernstige gevolge, wat gesamentlik as verskillende manifestasies van die koninkryksteologie beskryf word: Die belangrikste hiervan is die volgende:

·      Die ontkenning van ‘n toekomstige vrederyk en die vereniging daarvan met die kerkdispensasie lei na ‘n koninkryksteologie waarin voorspoed, mag en ekumeniese bande nagestreef word. Mense wil as konings en groot profete regeer. Hulle maak op onverifieerbare, twyfelagtige, buite-Bybelse openbarings aanspraak en dit vorm die grondslag van ‘n groeiende groep aanmatigende profete en apostels wat deur hulle magspel die wêreld wil oorneem. Christelike én multigodsdienstige ekumene word beoefen, en ter wille van groter eenheid en mag word die eis van leerstellige suiwerheid goedsmoeds ingeboet.

·      Die binding van Satan gedurende die vrederyk word na die huidige kerkdispensasie verskuif. Dit het twee gevolge: (1) Baie kerke het feitlik geen demonologie en begrip vir ons stryd teen die Bose nie, en bied net sielkundige berading teen die werke van Satan aan. Volgens hulle is Satan al tydens die eerste koms van Jesus gebind en leef ons nou in die koninkryksbedeling. (2) In ander kringe word weer erken dat die duiwel en sy ryk groot mag het, maar daar word verkeerdelik beweer dat die kerk deur die Here bemagtig is om Satan en sy sogenaamde “gebiedsdemone” nóú al te bind, te onttroon en te verdryf sodat hulle hul gesag in dorpe, stede én in hele lande verloor. Dié metode is dispensasioneel uit plek en dus ook onbybels, omdat Satan eers met die wederkoms van Christus van sy magsposisie in die wêreld ontneem en vir ‘n duisend jaar in ‘n put gebind sal word. Geestelike oorlogvoering moet in hierdie bedeling op individue toegespits word, en nie op ‘n territoriale of wêreldvlak nie. Individue moet geleer word om in ‘n bose wêreld te oorwin en geestelik staande te bly; maar die wêreld, in ‘n breë verband, sal ‘n bose plek bly totdat die Here Jesus kom om die magte van die Antichris te verdelg en Satan te laat bind.

·      Die vergeesteliking van Bybelse profesieë, en die ontkenning van beloftes soos dié oor die wegraping, lei tot geestelike uitsigloosheid onder die Christene omdat dit hulle toekomsverwagting oor die wederkoms omtrent heeltemal wegneem. Die gebrek aan Bybelse kennis oor die dispensasie waarin ons nou leef, asook ‘n gebrek aan kennis oor die ontluikende bedeling van die Antichris, lei tot verwarde denke. Die gevolg hiervan is dat mense nie ‘n ingryping van die Here deur die wegname van sy gemeente verwag nie, en ook nie onderwerping van die agtergeblewenes aan die diktatuur van die Antichris nie. Die plek van hierdie profetiese ingesteldhede word deur sekulêre ideale en vooruitsigte vervang, bv. sosio-ekonomiese transformasie, asook die eenheidsindroom van die nuwe wêreldorde.

            Indien ons wél die kerkbedeling en die toekomstige vrederyk van mekaar onderskei, vrywaar ons onsself só van die probleme wat hierbo genoem word:

·      Ons sal nie Satan se mag onderskat of wegredeneer deur te beweer dat hy nóú gebind is nie. Tydens die kerkbedeling loop hy rond soos ‘n brullende leeu om te soek wie hy kan verslind (1 Pet. 5:8). In die vrederyk sal hy volkome gebind wees (Op. 20:1-3). Die stryd teen die Bose in die huidige dispensasie maak dus ‘n wesenlike deel van ons praktiese Christenskap uit. Sy strategieë sluit die misleiding van Christelike kerke d.m.v. valse profete in (2 Kor. 11: 13-15; Matt. 7:15-23; 24:11, 24).

·      Ons sal realisties wees oor die feit dat ons in “die teenwoordige bose wêreld” leef (Gal. 1:4) waarin die Christene ‘n minderheidsgroep is, en dus vreemdelinge op geestelike gebied wat moet skyn soos ligte te midde van ‘n krom en verdraaide geslag (Fil. 2:15). Die meerderheid mense het die duisternis liewer as die lig omdat hulle werke boos is (Joh. 3:19).

·      Ons sal nie die dwalings van die koninkryk-nou teologie en die voorspoedsevangelie ten prooi val nie, omdat ons nie nou in die probleemvrye en oorvloedige toestand van die komende vrederyk leef en soos konings regeer nie.

·      Ons sal nie die valse vredesinisiatiewe en ongekwalifiseerde eenheidsdenke van die huidige, antichristelike nuwe wêreldorde aanvaar nie, omdat ons in ‘n tyd van konflik en stryd leef. Die koninkryke van God en dié van Satan is onverenigbaar, daarom is groter polarisasie en spanning onafwendbaar.

            Die volgende tabel bied ‘n vergelykende studie tussen die huidige kerkdispensasie en die toekomstige bedeling van die vrederyk op aarde aan. ‘n Duidelike onderskeid tussen dié twee dispensasies sal baie help om die geestelike gedisoriënteerdheid van ons tyd uit te skakel:

Die Huidige Kerkbedeling

Die Duisendjarige Vrederyk

Verborge koninkryk. Die koninkryk van die Here is tans verborge omdat dit nie deel van hierdie bose wêreld is nie. Dit is ‘n onsigbare, geestelike realiteit vir gelowiges. Jesus het gesê: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie” (Joh. 18:36). Aan sy dissipels het Hy gesê: “Dit is aan julle gegee om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken” (Matt. 13:11). Paulus het gesê: “Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan” (Hand. 14: 22). Ons is nie nou konings nie, maar soldate vir die kruis wat ‘n geestelike wapenrusting moet aantrek om staande te bly teen die liste van die duiwel (Ef. 6:10-12). Ons wag nog vir die openbaring van die hemelse koninkryk: “Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus, wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam” (Fil. 3:20-21). In die geopenbaarde koninkryk van die hemel sal ons verheerlikte liggame hê, en dus in heerlikheid geopenbaar word (Kol. 3:4).

Geopenbaarde koninkryk. ‘n Teokratiese wêreldregering sal ná Christus se wederkoms gevestig word. Die engel het aan Maria gesê: “Jy sal ‘n seun baar en jy moet Hom Jesus noem. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee” (Luk. 1:31-33). Ná die kerkbedeling kom Jesus as Koning terug: “Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawid weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herstel, sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek, en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat al hierdie dinge doen” (Hand. 15: 16-17). Met sy wederkoms sal Hy die koningskap aanvaar: “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Op. 11:15). “Hy sal die nasies met ‘n ysterstaf regeer” (Op. 19:15) en ons sal saam met Hom in hierdie regering van geregtigheid deel (Op. 2:26-27).

Christus die Middelaar en Hoëpriester op sy Vader se troon. Tydens sy fisiese afwesigheid van die aarde af is Jesus ons Hoëpriester wat op die Vader se troon vir ons intree. “[Stefanus] was vol van die Heilige Gees en het die oë na die hemel gehou en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat staan aan die regterhand van God” (Hand. 7:55). Jesus het gaan sit aan die regterhand van die troon van die majesteit in die hemele (Heb. 8:1). Christus is ons Middelaar en Hoëpriester wat in hierdie bedeling net leef om mense te red en vir ons in te tree (Heb. 4:15; 7:24-27; 8:1).

Die troon van Christus in Jerusalem. In die vrederyk sal Jesus op die troon van Dawid in Jerusalem regeer. “Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke” (Jes. 2:3-4).  “So sal dan baie volke en magtige nasies kom om die Here van die leërskare in Jerusalem te soek en… om genade te smeek” (Sag. 8: 22). “In dié tyd sal hulle Jerusalem noem die troon van die Here; en al die nasies sal daarheen saamkom vanweë die Naam van die Here in Jerusalem” (Jer. 3:17).

Satan beklee ‘n magsposisie op aarde. Die Here Jesus noem Satan “die owerste van hierdie wêreld” (Joh. 14:30). Paulus sê hy is “die god van hierdie wêreld” wat die sinne van die ongelowiges verblind (2 Kor. 4:4). Johannes sê dat die hele wêreld in die mag van die Bose lê (1 Joh. 5:19). Hy sê ook dat die duiwel die hele wêreld verlei (Op. 12:9). Dit is waarom die Here Jesus ons wil uitred uit die teenwoordige bose wêreld (Gal. 1:4). Petrus sê: “Julle teëstander, die duiwel, loop  rond soos ‘n brullende leeu en soek wie hy kan verslind. Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof” (1 Pet. 5:8-9). Dit is ‘n baie werklike stryd waarin ons teen hierdie bose vyand staan: “Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug” (Ef. 6:11-12). “Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug” (Jak. 4:7). God is oppermagtig, maar Hy het Satan toegelaat om mense te mislei sodat hy én sy misleides wat ook vir God verwerp, geoordeel kan word. Baie mense is kinders van die duiwel (Joh. 8:44).

Satan sal gebind wees. Hy sal glad nie die nasies tot sonde kan verlei en ook nie revolusies, militêre optrede en oorloë kan aanhits nie. “Hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle  sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jes. 2:4). “[Die nasies] sal nie meer wandel na die verharding van hul bose hart nie” (Jer. 3:17). Só 'n toestand het nog nooit op aarde geheers nie. Aan die einde van die vrederyk sal Satan losgelaat word en onmiddellik weer die nasies tot sonde en oorlogvoering aanhits: “En ek het ‘n engel uit die hemel sien neerdaal …en hy het die draak gegryp – die ou slang wat die duiwel en die Satan is – en hy het hom gebind duisend jaar lank… en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. Daarna moet hy dan ‘n kort tydjie ontbind word… En wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan… uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is… om hulle te versamel vir die oorlog; en hulle getal is soos die sand van die see… en vuur het van God uit die hemel neergedaal en hulle verslind. En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp” (Op. 20:1-3, 7-10).

‘n Wêreld vol ongeregtigheid. In die huidige bedeling voer sonde en ongeregtigheid die botoon: “Wee hulle wat die ongeregtigheid nader trek met koorde van goddeloosheid, en die sonde soos met wa-toue… Wee hulle wat helde is om wyn te drink en wakker manne om sterk drank te meng; wat vir ‘n omkoopgeskenk die skuldige regverdig verklaar en die reg van die regverdige hom ontneem” (Jes. 5:18, 22-23). “Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense” (Rom. 1:18). Nasies én individue is besig om die maat van hulle ongeregtigheid vir die komende oordele vol te maak.

Christus sal ‘n regering van geregtigheid instel. Reg en geregtigheid sal oral op aarde geskied. Vir Israel sê die Here: “Ek sal jou weer regters gee soos vroeër en raadsmanne soos in die begin” (Jes. 1:26). Die Messias sal ‘n Regter wees wat die reg soek en gou is in geregtigheid (Jes. 16:5). “En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem” (Jes. 2:3). Die inwoners van baie stede sal die Here om genade gaan smeek en sy wette eerbiedig (Sag. 8:21).

Vreemdelinge en bywoners. Weens die boosheid op aarde is die regverdiges tans soos vreemdelinge: “Geliefdes, ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel” (1 Pet. 2:11). Die geloofshelde en martelare het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was (Heb. 11:13). Hulle is vervolg en doodgemaak, maar met die oog op die opstanding en die toekomstige openbaring van die koninkryk het hulle getrou aan die Here gebly (Heb. 11:35-40). Hulle loon is nog toekomstig, ná Christus se wederkoms (Op. 22:12).

Regeer as konings. In die vrederyk sal die gelowiges wat in die eerste opstanding opgewek is, saam met Christus as konings regeer (Op. 20:6). Hulle sal die Lam toesing: “U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak en ons sal as konings op die aarde heers” (Op. 5: 9-10). Hulle sal dissipline handhaaf en die nasies met ‘n ysterstaf regeer (Op. 2:26-27). In die bedeling wat kom is daar geen sprake van die vervolging van gelowiges nie – hulle sal as konings regeer en deur almal geëer word!

Valse vrede, haat en konflik heers op aarde. Daar is geen ware en bestendige vrede nie. Konflikte en oorloë is aan die orde van die dag. Die werkers van ongeregtigheid spreek van vrede met hulle naaste, maar daar is kwaad in hulle hart (Ps. 28:3). Hulle sê: Vrede, vrede! terwyl daar geen vrede is nie (Jer. 6:14). “Julle pleeg moord en is naywerig en julle kan niks verkry nie. Julle veg en maak oorlog, en julle het nie omdat julle nie bid nie” (Jak. 4:2). Ons kan vrede in ons harte hê, maar sal stryd in die wêreld hê (Matt. 10:34).

‘n Sigbare vrede sal op aarde heers. ‘n Sigbare, uiterlike vrede sal tussen mense en volke heers, sodat geen oorlogvoering tussen hulle sal plaasvind nie: Christus sal die Vredevors wees, “tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig” (Jes. 9:5-6). Hy sal “die oorloë laat ophou tot by die einde van die aarde, die boog verbreek en die spies stukkend slaan, die strydwaens met vuur verbrand” (Ps. 46:10; vgl. ook Hos. 2:17). Vrede sal op alle terreine heers.

Israel as volk geestelik verblind en vervolg. Die meerderheid Jode verwerp Jesus as die beloofde Messias en het as gevolg hiervan in ballingskap onder die nasies gegaan, waar hulle erg vervolg is. Jerusalem het God se profete én die Messias verwerp, daarom is hulle land en stad verwoes (Matt. 23:37-38). “[Julle] sal deur die skerpte van die swaard val en as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk 21:24). Tans het Israel as volk nog skille oor hulle oë en aanvaar dus nie vir Jesus as Messias nie. Dit is waarom hulle nie vrede het en ook nie in aansien onder die nasies is nie.

Israel ten volle in hulle land herstel. Alle lede van die volk sal gered wees en die Messias voluit dien. Hulle sal die lof van Jesus oral verkondig en groot seëninge geniet: “Juig en jubel, o inwoners van Sion! Want die Heilige van Israel is groot in julle midde” (Jes. 12:6). “In die dae wat kom, sal Jakob wortel skiet, Israel sal bloei en uitbot, sodat hulle die wêreld vol vrugte sal maak” (Jes. 27:6). “In dié dae sal tien man uit al die tale van die nasies die slip van ‘n Joodse man gryp en dit vashou en sê: Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is” (Sag. 8:23). Hulle sal dan die belangrikste verkondigers van die Messias se lof op aarde wees, en sal oral op die hande gedra word.

Geestelike duisternis en onkunde op aarde. Die meeste mense leef in geestelike duisternis, onkunde, sonde en rebellie teen God: “En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig, want hulle werke was boos” (Joh. 3:19). “Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind” (Matt. 7:13-14).

Die Here word oral geken. Die valse godsdienste sal nie bestaan nie, en almal op aarde sal die Here ken en eer: “Want die aarde sal vol word met die kennis van die heerlikheid van die Here soos die waters die seebodem oordek” (Hab. 2:14). Oor Israel sê die Here: “En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die Here; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die Here. Want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hul sonde nie meer dink nie” (Jer. 31:34).

Siekte is algemeen. Siekte, pyn en lyding tref alle mense: “En daar is in Jerusalem ‘n bad wat… Betésda genoem word. Daarin het ‘n groot menigte siekes gelê, blindes en kreupeles en lammes, wat op die roering van die water gewag het” (Joh. 5:2-3). Benoudhede, swakhede en liggaamlike teistering was ook Paulus se deel en hy moes leer om daarmee saam te leef (2 Kor. 12:7-10). Nie almal word genees nie.

Geen siekte. Mense sal nie siek word nie. Indien wél, sal daar genesing wees. “Geen inwoner sal sê: Ek is siek nie” (Jes. 33:24). “En by die stroom sal aan altwee kante allerhande bome groei om van te eet, waarvan die blare nie sal verdor en die vrugte nie sal opraak nie… en hulle vrugte sal wees om te eet en hulle blare om te genees” (Eseg. 47:12). Almal sal hierin deel en niemand sal siek bly nie. Die Here sal hiervoor sorg.

Kort lewensverwagting. ‘n Mens se lewe in dié bedeling is kort: “Die dae van ons jare – daarin is 70 jaar, of as ons baie sterk is, 80 jaar; en die uitnemendste daarvan is moeite en verdriet; want gou gaan dit verby en ons vlieg daarheen” (Ps. 90:10).

Hoë ouderdomme. ‘n Honderdjarige sal in daardie tyd nog as ‘n seun beskou word: “Want ‘n seun sal sterwe honderd jaar oud… want die dae van my volk sal wees soos die dae van die bome” (Jes. 65:20, 22). Mense sal honderde jare oud word.

Disharmonie in die diereryk. Die diere is vyandig op mekaar omdat die een deur die ander verslind word. Hulle is voortdurend op die vlug vir vyande. As ‘n jong leeu onder die troppe klienvee deurtrek, dan vertrap en verskeur hy sonder dat iemand red (Miga 5:7). “En Paulus het ‘n klomp droë hout bymekaargemaak en op die vuur gesit, en ‘n adder het weens die hitte uitgekom en aan sy hand vasgebyt” (Hand. 28:3). Roofdiere moet beheer word. Volgens Openbaring 6:8 sal hulle in die komende verdrukking baie mense aanval en doodmaak.

Harmonie in die diereryk. Volgens Hosea 2:17 sal die Here ‘n nuwe verbond met die diere sluit en hulle natuur verander. “Dan wei die wolf by die lam, en die luiperd gaan lê by die bokkie, en die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee bymekaar, en ‘n klein seuntjie sal hulle aanja. Die koei en die berin wei, en hulle kleintjies lê bymekaar; en die leeu eet strooi soos die os; en die suigling speel by die gat van ‘n adder… Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie” (Jes. 11:6-9; kyk ook Jes. 65:25).

Natuurrampe. Die natuur is as gevolg van die sondeval aan uitputting, uiterste toestande en onvolkomenheid onderworpe. Droogtes, oorstromings, aardbewings, ens. kom voor. “Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe.. in die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God” (Rom. 8:20-21).

Harmonieuse skepping. Die natuur sal oral op aarde na volkomenheid herstel word: “Ek sal riviere op die kaal heuwels oopmaak en fonteine in die laagtes; Ek sal die woestyn ‘n waterplas maak en die dor land waterbronne. Ek sal in die woestyn gee die seder, die akasia en die mirt en die wilde olyfboom; Ek sal in die woestyn plant die sipres, die plataan en die denneboom, dié almal” (Jes. 41:18-19). Die aarde sal 'n lushof wees.

Misoeste en teëspoed is algemeen. Dorings, distels en uiterste klimaatstoestande lei dikwels tot misoeste: “Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, en die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie – nogtans sal ek jubel in die Here” (Hab. 3:17-18). Dit is ‘n tyd van toetsing en konflik.

Voorspoed en goeie oeste. Oeste sal konstant  en ook uitermate groot wees, met geen droogtes, skadelike onkruid en plae wat verwoes nie: “Kyk, die dae kom, spreek die Here, dat die ploeër die maaier inhaal, en die druiwetrapper die saadsaaier; en dat die berge van mos sal drup, en al die heuwels daarvan oorvloei sal wees” (Amos 9:13). “Vir ‘n doringboom sal ‘n sipres opgaan; vir ‘n distel sal ‘n mirteboom opgaan” (Jes. 55:13).

Die opeenvolging van drie dispensasies

In verband met bogenoemde vergelyking moet onthou word dat die bedeling van die Antichris se regering op aarde nog tussen die kerkdispensasie en die vrederyk inpas, soos uit onderstaande tabel blyk:

Kerkbedeling

Verdrukking (7 jaar)

Millennium (1000 jaar)

Die wêreld lê in die mag van die Bose.

Christene moet die volle wapenrusting van God aantrek om teen Satan se liste staande te bly.

Ons is vreemdelinge en bywoners in hierdie bedeling en het nog nie die aarde beërf nie.

Israel word verstrooi maar aan die einde van die kerkbedeling weer herstel

Nie-Christelike gelowe floreer in die hele wêreld.

Die meeste mense het sonde lief, verkies die duisternis bo die lig en bewandel die breë pad hel toe.

Christelike kerke word deur valse profete mislei wat okkultiese tekens en wonders doen.

Onheilspellende tekens van die tye dui die naderende dag van die Here se openbaring aan.

Die Antichris sal ‘n nuwe wêreldorde van universele politieke, godsdienstige en ekonomiese eenheid instel en vir sewe jaar oor die wêreld regeer.

Valse vrede en eenheid sal vir die eerste 3½ jaar heers terwyl ‘n verenigde mensdom in sy eie prestasies roem.

Ná 3½  jaar sal die Antichris homself in die herboude tempel in Jerusalem tot God verklaar.

‘n Ongekende skrikbewind van terreur sal deur hom ingestel word.

Christene en Jode sal erg deur hierdie sataniese diktator en sy militêre magte vervolg word.

Die Here se oordele sal in dié 7 jaar oor ‘n rebelse wêreld uitgestort word soos nooit tevore nie.

Christus sal die wêreld vanaf die herstelde troon van Dawid as Koning van die konings uit Jerusalem regeer.

Die hele oorblyfsel van Israel sal in hulle land herstel word en grootliks deur die Here geseën en gebruik word om sy lof te verkondig.

Die duiwel sal vir ‘n duisend jaar lank in ‘n bodemlose put gebind word.

Ware vrede en geregtigheid sal op aarde heers, en daar sal nie meer oorloë gevoer en  word nie.

Die Christene sal verheerlikte liggame hê en as konings in die millennium regeer.

Die herstelde Israel sal evangelisasiewerk oral op aarde doen, en só hulle roeping as volk van God vervul.