13. Die Wegraping

As gevolg van die sterk inslag van antichiliasme in die meeste gereformeerde kerke, is die konsep van die wegraping vir baie mense vreemd. Dit is dus nodig om hierdie profetiese belofte duidelik in sy profetiese konteks te beskryf.

Belofte van die Wegraping

Ons leef in ‘n tyd waarin daar talle Bybelse profesieë in vervulling gaan, en dit dui op die spoedige wederkoms van Jesus Christus. Soos wat mense die profetiese woord ter harte neem en bestudeer, verkry hulle ook meer duidelikheid oor toekomstige gebeure. Hulle sien ‘n wêreldtoneel ontvou wat enersyds baie donker is en op geweldige oordele afstuur, en andersyds vlam ‘n verblydende hoop in die harte van gelowiges op dat hulle die komende oordele kan ontvlug as hulle saak met die Here waarlik reg is. Die belofte van ontvlugting is die goeie nuus-element in die profesieë en is die salige hoop waaraan elke Christen in hierdie donker dae moet vashou (Titus 2:13).

Twee fases

Om die wederkoms reg te kan verstaan moet die twee fases daarvan duidelik onderskei word, naamlik Christus se koms vir sy heiliges en sy koms met sy heiliges. Gedurende die eerste fase kom die hemelse Bruidegom baie onverwags, soos ‘n dief in die nag, om sy bruid te kom haal. Hy ontmoet haar in die lug en voer haar vinnig na hemelse plekke weg (Joh. 14:2-3; 1 Thess. 4:16-17; 1 Thess. 5:2). Gedurende die tweede fase kom Hy in die openbaar sodat elke oog Hom sal sien. Hy word vergesel van sy bruid, asook ‘n hemelse leërskare, en sit sy voet op die Olyfberg neer (Sag. 14:4-5; Op. 19:11-15).

Die twee fases van die wederkoms blyk ook duidelik uit die verskillende Griekse terme wat in die oorspronklike taal gebruik is. Die eerste fase, wanneer die Here Jesus skielik in die midde van sy bruidsgemeente sal verskyn, word parousia genoem. Dit dui op sy fisiese teenwoordigheid, en hierna sal Hy nooit weer van sy bruidsgemeente geskei word nie. Hy het nou “verskyn aan die wat Hom verwag tot saligheid” (Heb. 9:28) en hulle sal daarna altyd by Hom bly.

Die tweede fase van die wederkoms staan as Christus se apokalipse of faneros bekend – dit is sy openbaarmaking of sigbaarwording. Hy kom nie nou in die geheim net om aan sy bruidsgemeente te verskyn nie, maar Hy word as Regter en Koning aan die hele wêreld geopenbaar. Dit is die “wederkoms van onse Here Jesus Christus met al sy heiliges” (1 Thess. 3:13). Christus en sy heiliges word dus gelyktydig in heerlikheid aan die wêreld geopenbaar:

“Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word” (Kol. 3:4).

Dit is tog duidelik dat die Christene nie saam met die Here Jesus kan kom en in hulle verheerlikte liggame geopenbaar word, as hulle nie vooraf reeds met Hom verenig is nie. Op hierdie openbaarmaking wag die hele skepping ook, omdat daar tydens die regering van Christus en sy heiliges harmonie en gunstige omstandighede in die hele wêreld sal heers:

“Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God” (Rom. 8:19).

Die Bruidegom kom sy bruid haal

Tydens die wegraping, wat noodwendig die sigbare koms voorafgaan, kom die hemelse Bruidegom net om sy bruid te kom haal. By hierdie geleentheid vertoon Hy Homself glad nie aan die miljoene ander mense op aarde nie.

In die Bybelse tyd het die Joodse bruidegom ná sy verlowing vir ‘n lang tyd weggegaan om vir hom en sy bruid ‘n woonplek by sy vaderhuis te gaan berei. Daarna het hy haar in die geheim in die nag kom haal sonder dat selfs haar huismense op daardie oomblik daarvan bewus was, en haar saam met hom na sy vaderhuis geneem. Jesus Christus het sy hemelvaart na analogie van hierdie gebruik aan sy dissipels verduidelik:

“In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is” (Joh. 14:2-3).

Wanneer Jesus Christus dus met sy parousia kom, sal Hy skielik in die midde van sy bruidsgemeente verskyn. Dit sal ook die vervulling van ‘n belofte wees wat tydens die hemelvaart aan volgelinge van Jesus gemaak is:

“Galilése manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het” (Hand. 1:11).

Jesus is ná sy opstanding slegs deur gelowiges gesien. Hy is deur sy hemelvaart van hulle geskei en sal tydens die wegraping met hulle verenig word. Die ander mense sal op aarde agtergelaat word omdat hulle deur hul eie toedoen nie lede is van die groep wat aan Jesus behoort en met wie Hy ‘n spesiale afspraak het nie:

“In daardie nag sal daar twee op een bed wees; die een sal aangeneem en die ander verlaat word” (Luk. 17:34).

Verheerliking

Die verheerliking van Christene begin op daardie oomblik wanneer die basuin van God sal blaas. Die ontslape heiliges sal dan uit die dode opgewek en die lewende heiliges in ‘n oomblik verander word om almal saam hulle verheerlikte liggame te ontvang:

“Kyk, ek deel julle ‘n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word. Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word” (1 Kor. 15:51-53).

Wanneer dit gebeur, sal ons met betrekking tot ons verheerlikte liggame aan Christus gelyk wees (in rang bly Hy steeds by verre ons meerdere omdat Hy die Hoof van die gemeente is):

“Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees” (1 Joh. 3: 2).

Wanneer Hy skielik in ons midde verskyn, word ons in ‘n oomblik met onverganklike hemelse liggame beklee en sodoende in onsterflike hemelse wesens verander. ‘n Nuwe dimensie van bestaan word dan betree:

“Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus, wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam” (Fil. 3: 20-21).

Die wegvoering

Onmiddellik nadat die ontslape én lewende heiliges met verheerlikte liggame beklee is, word hulle van die aarde af weggevoer na die hemel om vir ewig in die teenwoordigheid van die Here Jesus te wees:

“Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie. Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde” (1 Thess. 4:15-18).

Let daarop dat bogenoemde ontmoeting in die lug sal plaasvind en dat slegs Christene daarby betrokke is. Die Here Jesus sit nie in hierdie stadium sy voet op die Olyfberg neer nie, maar keer onmiddellik met sy bruid wat Hy kom haal het, na sy Vaderhuis in die hemel terug.

Die woord weggevoer in 1 Thessalonicense 4: 17 (harpazo in Grieks) beteken om vinnig weggeruk te word. Hierdie woord word ook gebruik om die aksie te beskryf wanneer ‘n arend sy prooi gryp en vinnig daarmee wegvlieg.

Die bewering deur sommige van die kritici dat die woord wegraping nie in die Bybel voorkom nie, is dus van alle waarheid ontbloot. Die woord harpazo kan vertaal word as:

·        wegvoer,

·        wegraap, of

·        vinnig wegruk.

In sy internasionaal erkende Studies in the Vocabulary of the Greek New Testament, sê K.S. Wuest die volgende oor dié woord:

“HARPAZO. This is a Greek word which has various meanings. It is not translated by one uniform English word. The meanings are as follows: ‘to seize’, ‘to carry off by force’, ‘to claim for one’s self eagerly’, ‘to snatch out or away’. It was used proverbially in the sense of ‘to rescue from the danger of destruction’. It was used also of ‘divine power transferring a person marvellously and swiftly from one place to another... Pay especial attention to 1 Thessalonians 4:17, and see how much new truth you obtain regarding the Rapture of the Church.”

Die volgende is ‘n paar voorbeelde van tekste waarin die begrip harpazo in die Nuwe Testament gebruik word, en waaruit die betekenis daarvan duidelik blyk:

·         “En toe hulle uit die water opklim, het die Gees van die Here Filippus skielik weggevoer, en die hofdienaar het hom nie meer gesien nie” (Hand. 8:39).

·         “Ek weet van ‘n man in Christus, veertien jaar gelede – of dit in die liggaam was, weet ek nie... dat so iemand weggeruk is tot in die derde hemel” (2 Kor. 12:2).

·         “En toe daar ‘n groot twis ontstaan het en die owerste oor duisend gevrees het dat Paulus deur hulle verskeur sou word, het hy die soldate bevel gegee om te gaan en hom met geweld weg te neem onder hulle uit en in die kamp te bring” (Hand. 23:10).

·         “…maar ander moet julle met vrees red deur hulle uit die vuur te ruk” (Judas v. 23).

·         “En [die vrou] het 'n manlike kind gebaar, wat al die nasies met 'n ystersepter sou regeer; en haar kind is weggeruk na God en sy troon” (Op. 12:5).

Laasgenoemde teks verwys na die hemelvaart van die Here Jesus. Hy is van die aarde af weggeruk of weggeraap na God en sy troon. Volgens Handelinge 1:11 is Hy in die hemel opgeneem.

Ontvlugting

Uit die oogpunt van omstandighede op aarde sal die wegraping vir Christene ‘n ontvlugting uit dreigende oordele wees. Dit sal ‘n donker tyd van geweldige geestelike misleiding wees. Die evangeliese Christene sal as onbybels en liefdeloos bestempel en geminag word. Hulle sal as doemprofete beskou word omdat hulle die naderende oordele van God verkondig, wat in die groot verdrukking oor die aarde sal kom. Hulle sal ook as rebelle beskou word omdat hulle nie die hervormings van die nuwe wêreldorde wil aanvaar nie. Namate die dag vir die openbaring van die Antichris nader kom, sal hierdie mense aan geweldige druk, intimidasie en dreigemente onderwerp word. Indien hulle egter aan die Here getrou bly, sal die Here Jesus hulle saam met die ander ware gelowiges kom haal en sodoende die verdrukking op aarde laat ontvlug:

“Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36).

Die aanhangers van die Nuwe Era Beweging se valse vrede sal nie die oordele van die verdrukking ontvlug nie:

“Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid – dan oorval ‘n skielike verderf hulle soos die barensnood van ‘n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie” (1 Thess. 5:3).

Uit die bogenoemde twee tekste is dit duidelik dat daar in die eerste geval ‘n groep is wat die komende oordele sal ontvlug, en in die ander geval ‘n groep wat onverhoeds betrap gaan word en dit sekerlik nie sal ontvlug nie.

Die woord ontvlug (Grieks ekfeugo) beteken beslis om buite die verdrukking te wees, en volgens die uitspraak in Lukas 21:36 in die teenwoordigheid van die Seun van die mens. Die voorvoegsel ek beteken in die Grieks altyd buite, daarom is die Nuwe Vertaling heeltemal verkeerd as dit beweer dat ons deur die verdrukking moet gaan. Die King James vertaling is volkome korrek as dit hierdie aksie van ontvlug as escape vertaal. Ons sal nie hier wees nie.

As gevolg van die omstredenheid van die begrip ontvlug is dit raadsaam om ook hier die uitspraak van ‘n hoogs gesaghebbende Griekse woordeboek aan te haal, naamlik A Greek English Lexicon of the New Testament and Other Early Christian Literature, deur W.F. Arndt en F.W. Gingrich. Hierin word die grondbetekenis van ekfeugo (ontvlug) met die vermelding van verskeie voorbeelde van die gebruik daarvan aangedui. Die woord ekfeugo kan vertaal word as:

·        na veiligheid ontsnap,

·        ontvlug, en

·        vermy of ontwyk.

Lukas 21:36 se betekenis van ekfeugo word spesifiek in dié woordeboek as ‘escape tribulations’ (ontvlugting uit die verdrukking)  aangedui.

In die Nuwe Afrikaanse Bybel (1983 vertaling) is daar ‘n doelbewuste poging deur die vertalers aangewend om as gevolg van hulle eie teologiese siening, waarin daar geen plek vir ‘n wegraping is nie, die begrip ontvlug uit die Bybel uit te vertaal. In Lukas 21:36 het hulle dus die grondteks ‘aangepas’ sodat die kerk nou deur die verdrukking moet gaan. Daar is geen ander gevolgtrekking as dat hierdie teks op ‘n berekende wyse volgens antichiliastiese eksegetiese beginsels vertaal is nie.

Die vertalers is egter nie konsekwent nie en kan ook nie dié fout aan onkunde toeskryf nie, want hulle het die woord ekfeugo in Handelinge 16:27 as ontsnap, in Handelinge 19:16 as gevlug, in 1 Thessalonicense 5:3 as ontkom en in Hebreërs 2:3 ook as ontkom vertaal. In Lukas 21:36 word dit egter op ‘n totaal teenstrydige wyse as behoue deurkom vertaal. In die eersgenoemde vier gevalle het die woord telkens die betekenis dat mense uit ‘n bepaalde plek of probleemsituasie wegkom, maar in Lukas 21:36 moet hulle deur die verdrukking gaan!

Die Here bied egter aan u ontvlugting uit die komende oordele. Die groot verdrukking is beslis ‘n tyd van goddelike toorn. Wanneer die kragte van die hemele geskud word en mense se harte beswyk van vrees en verwagting, sal hulle paniekbevange na die berge roep en sê: “Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Op. 6:16-17).

As u waak en bid en geestelik waardig is, sal u hierdie oordele ontvlug!

“In daardie nag sal daar twee op een bed wees; die een sal aangeneem en die ander verlaat word. Twee vroue sal saam maal; die een sal aangeneem en die ander verlaat word. Twee sal op die land wees; die een sal aangeneem en die ander verlaat word” (Luk. 17:34-36).

‘n Dramatiese uitredding

Die wegraping sal ‘n baie besondere en hoogs dramatiese gebeurtenis wees omdat dit ‘n ingryping deur God vir die fisiese uitredding van die gelowiges onder uiters moeilike omstandighede op aarde sal wees. Hoewel die wegraping as gevolg van sy aard en omvang uniek sal wees, was daar al verskeie goddelike ingrypinge vir die behoud van gelowiges in tye van oordeel.

In die dae van Noag het God sy oordele oor ‘n bose, gewelddadige en moreel verdorwe geslag mense aangekondig (Gen. 6:5-14). Pas voor die uitstorting van goddelike toorn is die gelowiges deur middel van die ark in ‘n plek van veiligheid gestel. Die Here het self die deur agter hulle toegesluit voordat Hy Homself in oordeel tot die sondaars gewend het (Gen. 7:16-23).

In die tyd van Lot het daar ook ‘n uitreddingsaksie plaasgevind. Hulle het in die nag voordat Sodom en Gomorra deur die gloed van God se toorn vernietig is, ‘n dringende opdrag gekry om die rampgebied te ontruim. Die twee engele het ook gesê dat hulle niks kon doen solank Lot en sy gesin nog daar was nie. Kort nadat hulle vertrek het, het vuur en swawel op die goddeloses gereën (Gen. 19:13-17, 22-25).

Daar is ‘n duidelike korrelasie tussen hierdie gebeure en God se handelswyse met die eindtydse gelowiges nét voor die sewe jaar lange verdrukking:

“En soos dit gebeur het in die dae van Noag, so sal dit ook wees in die dae van die Seun van die mens: hulle het geëet en gedrink, hulle het getrou en is in die huwelik gegee tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het, en die sondvloed gekom en almal vernietig het. Net soos dit ook gebeur het in die dae van Lot: hulle het geëet en gedrink, gekoop en verkoop, hulle het geplant en gebou. Maar op die dag toe Lot van Sodom uitgaan, het vuur en swawel van die hemel af gereën en almal vernietig. Net so sal dit wees in die dag wanneer die Seun van die mens geopenbaar word” (Luk. 17:26-30. Lees ook Génesis 6 en 19 oor die boosheid van daardie geslag mense).

Die lyn kan só na ons tyd deurgetrek word:

·         In die tyd van Noag en Lot was daar grootskaalse geestelike en morele verval omdat feitlik almal vrye teuels aan hulle verdorwe natuur gegee het. Die versinsels in mense se harte was altyddeur net sleg, en bandelose gemeenskappe was die gevolg hiervan. Dit sal weer so wees…

·         In die tyd van Noag en Lot het anargie geheers en mense het in dié wettelose samelewings gedoen net wat hulle wou. Geweld was die mees algemene metode waardeur konflikte en meningsverskille besleg is. Dit sal weer so wees…

·         In die tyd van Noag en Lot was mense totaal materialisties en hulle wou glad nie die gevare verbonde aan hul korrupte lewenswyse insien nie. Die sekulêre dinge soos koop en verkoop, en die sensuele dinge soos partytjies, drank en verhoudings met die teenoorgestelde geslag (asook met lede van dieselfde geslag!) het hulle denke en lewe totaal oorheers. Dit sal weer so wees…

·         In die tyd van Noag en Lot het die algemene publiek met die manne van God gespot en hulle glad nie aan profetiese waarskuwings oor die oordele van God gesteur nie. Hulle het dit as belaglike en vergesogte stories afgemaak en met hulle roekelose lewenswyse van vleeslike genietinge en hebsug voortgegaan. Dit sal weer so wees…

·         In die tyd van Noag en Lot het die Here die vervalle sondaars ‘n billike tyd gegee om hulle van hul bose weë te bekeer. Hulle wou dit egter nie doen nie en het daardeur hulle eie lot verseël. Niemand anders behalwe hulself kan vir hulle ondergang en ellende geblameer word nie. Dit sal weer so wees…

·         In die tyd van Noag en Lot het God op ‘n kritieke oomblik aan die gelowiges ontvlugting gebied deur hulle in ‘n plek van veiligheid te stel voordat Hy die sondaars geoordeel het. Die volgorde is dus: profetiese waarskuwings van naderende oordele, daarna die beveiliging van die gelowiges wat op die herhaalde oproepe tot bekering gereageer het, en dan die oordele oor die sondaars. Dit sal weer so wees…

·         In die tyd van Noag en Lot was daar onder die gelowiges nie plek vir vormgodsdienstige meelopers wie se harte nog aan wêreldse belange verknog was nie. Lot se vrou is ‘n tipe van dié soort mense, en dit het op die laaste oomblik haar lewe gekos. Dit sal weer so wees…

·         In die tyd van Noag en Lot het daar kort ná die beveiliging van die gelowiges ‘n skrikwekkende toneel afgespeel toe God se genadetyd vir dié groep sondaars verbygegaan het. Dood en verwoesting is gesaai. Dit sal weer so wees…

·         In die tyd van Noag en Lot het die sondaars nie besef hoeveel voorregte hulle geniet het as gevolg van die teenwoordigheid van ‘n paar gelowiges in hulle midde nie. Die Here was bereid om ‘n stad te spaar as daar net tien regverdiges in was. Toe hierdie mense wat soos ligte te midde van ‘n krom en verdraaide geslag geskyn het, skielik weggeneem is, het dit vir die goddelose wêreld waarin hulle gewoon het, nag geword. Dit sal weer so wees…

·         In die tyd van Noag het die spottende wêreldlinge vir die bouers aan die ark gelag en in die verhardheid van hul harte voortgegaan “en dit nie verstaan voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal die koms van die Seun van die mens wees” (Matt. 24: 39).

Die vyande van God is verduister in hulle gemoed en gaan in eiewaan voort totdat hulle skielik tot ‘n val kom. Dan is daar vir hulle geen redder nie.

Wil u nie liewer vandag na God se kant oorkom en deur sy Seun se kruisdood met Hom versoen word nie? Hy alleen kan u waardig maak om die komende verdrukking, wat ‘n oordeel van God oor ’n sondige wêreld is, te ontvlug en saam met Jesus Christus in die veiligheid en vreugde van sy vaderhuis te wees wanneer die uur van die duisternis oor die aarde aanbreek.

Teëhouers

Noag en Lot moes die goddelose mense van hulle tyd aanspreek en deur ernstige en volgehoue waarskuwings tot hulle sinne probeer bring. Die Christene van die Nuwe Testament moet soveel te meer in hierdie kort rukkie voor die wegraping en die verdrukking hulle rol as die sout van ‘n bedorwe aarde en die lig van ‘n donker wêreld vervul. Te midde van die opmars van die magte van die Antichris het hulle die uitdruklike opdrag om as teëhouers op te tree:

“En nou, julle weet wat hom teëhou, sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word. Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen” (2 Thess. 2:6-9).

As u bostaande gedeelte in 2 Thessalonicense 2 noukeurig lees, sal u uself van verskeie populêre maar onskriftuurlike sienings oor die aard en volgorde van eindtydse gebeure vrywaar. Let veral op die rol van die teëhouer, soos ook in Hoofstuk 10 verduidelik. Die volgende waarhede oor die persoon van die Antichris en die voorwaardes vir sy verskyning op aarde aan die begin van die verdrukking blyk duidelik hieruit:

Die Antichris is ‘n eindtydse figuur

Sy bewind word deur die openbare verskyning van Jesus Christus aan die einde van die groot verdrukking beëindig (vgl. Op. 19:19-20). Historiese figure soos Nero was dus net voorlopers of tipes van die Antichris.

Die wegraping vind voor die verskyning van die Antichris plaas

Die Antichris kan nie geopenbaar word totdat hy wat hom teëhou, uit die weg geruim is nie. Moet dus nie die teorie aanvaar dat die wegraping in die middel van die verdrukking plaasvind nie. In die middel van die sewe jaar lange verdrukking verbreek die Antichris sy verbond met Israel, ontheilig die tempel en verklaar homself tot God (Dan. 9:27, 11:36-37; Matt. 24:15-21; 2 Thess. 2:4). Direk hierna is dit nie die ontvlugting van die Christene nie, maar die vlug van Israel na die woestyn (Matt. 24:16; Op. 12:14). Ons moenie hierdie twee gebeurtenisse met mekaar verwar nie.

Dwalings en onskriftuurlike verwagtings lei na ‘n valse perspektief en verkeerde prioriteite. Deur die beskouing van ‘n wegraping in die middel van die verdrukking word die Christus-verwagting van gelowiges deur ‘n Antichris-verwagting vervang. Hulle prioriteite kom dan onmiddellik as gevolg hiervan in die gedrang. In plaas daarvan om heiligmaking en diensbaarheid in afwagting op die spoedige koms van die hemelse Bruidegom na te streef, begin hulle nou planne te maak oor hoe om in die verdrukking te oorleef en uit die strukture van die Antichris te bly. Dadelik is die werke onvanpas omdat die perspektief en visie onbybels is.

Ons opdrag is om vir Jesus te wag en met sy werke besig te bly totdat Hy kom. Indien ons dit doen, sal ons nie hier wees wanneer die Antichris geopenbaar word nie. Mense wat dink dat hulle maar eers vir die Antichris kan wag en dan 3½ jaar aftel totdat die Here kom, kyk ‘n baie kardinale aspek van die profesieë mis. Om gebeurlikheidsbeplanning te doen in plaas van voorbereidings om die rampgebied te ontvlug, kan tot ‘n groot ontnugtering lei.

Die Heilige Gees word nie weggeneem nie

Hy wat teëhou (2 Thess. 2:7) verwys na die ware kerk as die liggaam van Christus. Dit is waar dat dié mense almal ‘n tempel van die Gees van God is, maar die Heilige Gees verdwyn nie tydens die wegraping van die aarde af nie omdat Hy ‘n belangrike rol het om in die verdrukkingsperiode te vervul. Daar gaan trouens in hierdie tyd ‘n nuwe uitstorting van die Heilige Gees oor die volk Israel plaasvind (Sag. 12:10). Pas ná die wegraping sal daar ‘n groot herlewing onder hulle wees waarin 144 000 Jode gered, verseël en as evangeliste uitgestuur sal word (Op. 7:1-8).

Daar word verder ook na ‘n menigte mense verwys wat in die verdrukkingstyd gered sal word (Op. 7:9-17). Geen siel kan sonder die bemiddeling van die Heilige Gees gered word nie, omdat Hý die genadewerk van Jesus Christus aan mense bedien.

Aktiewe teëhouers

Christene moet die verborge werkinge van ‘n antichristelike gees in die wêreld identifiseer en teëstaan, sodat die werk van God kan voortgaan en mense nie sonder waarskuwing in die mag van die dwaling beland nie. Op ‘n gegewe oomblik sal die Here ons wegneem, dan sal die uur van die duisternis aanbreek en die mens van sonde geopenbaar word.

Voorbereidings vir ‘n spoedige terugkeer

die wegraping verskyn die gelowiges voor die regterstoel van Christus om genadeloon te ontvang (Rom. 14:10; 2 Kor. 5:10). Hulle sal in dié tyd ook saam met die Here Jesus die wêreld oordeel in die verdrukking (1 Kor. 6:2). Terwyl hulle as ouderlinge rondom die troon van die Lam is, koester hulle die vooruitsig om as oorwinnaars terug te keer aarde toe:

“Toe sing hulle ‘n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Op. 5:9-10).

Die ouderlinge sien daarna uit om saam met Christus na die aarde terug te keer en aanskouers van die groot oorwinning oor die Antichris en sy magte te wees. Dan sal hulle saam met Christus in heerlikheid geopenbaar word:

“Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ‘n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid. En sy oë was soos ‘n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone… Sy Naam is: Die Woord van God. En die leërs van die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne. En uit sy mond gaan daar ‘n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer” (Op. 19:11-15).

Die plek van Christus se toetrede tot die wêreldtoneel, is Jerusalem:

“En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die Oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot ‘n baie groot dal… Dan sal die Here my God kom, al die heiliges met U!… En die Here sal Koning wees oor die hele aarde” (Sag. 14:4-5, 9).

Redes vir die Wegraping

Die wegraping is ‘n baie geïgnoreerde onderwerp in moderne prediking, en sal opnuut in die Bybel ontdek en aan Christene verkondig moet word. Dit is ‘n belangrike belofte hierdie, wat om goeie redes by profesieë oor die eindtyd ingesluit is. Om hiervan kennis te neem, gee aan Christene ‘n vaste toekomsverwagting en iets konkreets om na uit te sien in ‘n andersins donker toneel van komende oordele oor ‘n goddelose wêreld.

Uit die Bybel blyk daar ten minste 12 redes waarom die belofte van die wegraping aan ons gemaak is:

1. Dit is ‘n ontmoeting met Christus

“Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde” (1 Thess. 4: 16-18).

Wanneer die Here Jesus sy bruidsgemeente kom haal, sal dié wat in Christus gesterf het, uit hulle grafte opgewek word en diegene wat nog lewe, in ‘n oogwink met verheerlikte liggame beklee word (1 Kor. 15:51-53). Daarna sal die ware gelowiges saam in wolke weggevoer word, die Here tegemoet in die lug.

Die grootste verwagting wat ons met betrekking tot die wegraping het, is nie om hier weg te kom nie, maar om aan die anderkant aan te kom. Die verlangende bruid wil met die hemelse Bruidegom verenig word. Mense wat nie in die wegraping glo nie, moet vir hulleself uitmaak hoe anders as net deur die wegraping alleen hulle van die aarde af weggeruk kan word om die Here Jesus in die lug te ontmoet. Só is Jesus ná sy eerste koms na die hemel weggeruk (Op. 12:5); só is Paulus tot in die derde hemel weggeruk (2 Kor. 12:2); en só sal ons ook aan die einde van die kerkbedeling weggeruk word. Die hemelse Bruidegom kom by hierdie geleentheid nie in die openbaar sodat elke oog Hom sal sien nie, maar soos ‘n dief in die nag net om sy bruid te kom haal.

2. Dit is ‘n ingryping deur God

“Die Here self sal van die hemel neerdaal… en ons sal… in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug” (1 Thess. 4:16-17). Die bonatuurlikheid van die wegraping, nl. die wegvoering van miljoene Christene, sal só duidelik ‘n goddelike ingryping wees dat daar geen wetenskaplike verklarings voor sal wees nie, slegs absurde teorieë deur agnostici en bygelowiges. Dit is net die Here self wat deur sy almag al sy kinders in ‘n enkele oomblik kan verander en van die aarde af wegvoer.

“In daardie nag sal daar twee op een bed wees; die een sal aangeneem en die ander verlaat word. Twee vroue sal saam maal; die een sal aangeneem en die ander verlaat word. Twee sal op die land wees; die een sal aangeneem en die ander verlaat word” (Luk. 17:34-36).

Die “aanneem” van sommiges sal tydens die wegraping plaasvind. Die “verlaat” van die ander dui daarop dat hulle sal agterbly om die donker dae van die Antichris se skrikbewind in die groot verdrukking te beleef.

Die skok-effek van die wegraping kan nouliks oorbeklemtoon word. In die dinge wat hierna gebeur, sal die Here se hand ook duidelik gesien kan word, veral in die oordele oor ‘n afvallige mensdom. Deur die dramatiese effek van die wegraping sal die Here ‘n ernstige boodskap aan ‘n multigodsdienstige en afvallige mensdom rig, naamlik dat hulle enigste hoop daarin geleë is om weer na sy Woord terug te keer en dit ernstig op te neem. Die wegraping sal die mat heeltemal onder die moderne vergeestelikingsteologie uittrek, waarin Bybelse uitsprake nie letterlik opgeneem word nie maar as vae beeldspraak of simboliek afgemaak word.

Ná die wegraping sal die meerderheid weens die verhardheid van hulle harte wél deur die krag van die dwaling mislei word, maar miljoene mense sal nuwe begrip vir die waarheid van die Bybel kry en die Here soek, ongeag die verwerping en vervolging wat dit in ‘n antichristelike nuwe wêreldorde vir hulle sal meebring.

3. Dit is die verkryging van ‘n opstandingsliggaam

Die wegraping staan duidelik in verband met die eerste opstanding wanneer al die ware gelowiges verheerlikte liggame sal verkry. Miljoene van dié wat weggeraap gaan word, is reeds dood, daarom moet hulle eers onverganklike nuwe liggame kry. Op daardie selfde oomblik sal die lewende gelowiges ook verheerlikte liggame kry en sonder die dood van verganklikheid na onverganklikheid verander word. Paulus verduidelik hierdie belofte só aan ‘n Christelike gemeente:

“Kyk, ek deel julle ‘n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word. Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word” (1 Kor. 15:51-53).

Aan die Filippense word gesê:

“Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus, wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam” (Fil. 3:20-21).

Na hierdie eerste opstanding word as “die opstanding van die regverdiges” verwys (Luk. 14:14), asook na “die opstanding van die lewe” (Joh. 5:29). Johannes sê:

“Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank” (Op. 20:6).

Dit verwys na die duisendjarige vrederyk wanneer die opgestane en verheerlikte Christene saam met Jesus Christus sal regeer. Die goddeloses sal nie deel aan die eerste opstanding en die wegraping hê nie, daarom sê Johannes ook: “En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie” (Op. 20:5). Hulle sal deel hê aan die tweede opstanding, wat ook genoem word “die opstanding van die veroordeling” (Joh. 5:29). [Kyk artikel deur Spurgeon hierna].

4. Dit is ‘n skeiding tussen nominale en ware Christene

Behalwe die skeiding wat die wegraping tussen geredde en ongeredde mense in die wêreld teweeg sal bring, sal dit ook binne die verband van die Christelike kerk self ‘n skeiding tussen wedergebore en vormgodsdienstige lidmate tot gevolg hê. Die dwase maagde gaan agtergelaat word wanneer die Bruidegom kom, al het hulle ook hulself onder die groep gereken wat aan die Bruidegom behoort, en selfs op sy koms gewag. Die afwesigheid van die olie van die Heilige Gees in hulle lewe dui op die feit dat hulle nie weergebore en geesvervuld was nie.

Hoeveel miljoene kerklidmate bevind hulleself nie in die bootjie van ‘n selfmisleidende, dooie vormgodsdiens nie! Hulle redeneer dat aangesien hulle uitverkies is, en d.m.v. die doop in ‘n ewige verbond aan God verbind is, hulle nie ‘n ondervinding van wedergeboorte hoef te hê nie. Die Here Jesus het egter aan een van hierdie uitverkore teoloë gesê: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (Joh. 3:3). Dit is net die herskeppingswerk van die Here wat jou lewe kan verander!

Maak seker dat jy tydens die wegraping nie geweeg en té lig bevind word nie, want dan sal jy beslis agterbly wanneer die Here Jesus sy bruid kom haal (Heb. 4:1).

5. Dit is die einde van ‘n dispensasie

Die wegraping beëindig die bedeling van die kerk op aarde, omdat die ware kerk dan van die aarde af na die hemel toe weggevoer sal word. Net die valse kerk en die valse godsdienste wat deur die gees van die Antichris mislei is (1 Joh. 4:1-6), sal op aarde agterbly. Ons is tans baie naby aan die einde van die bedeling van die kerk op aarde. Die Bybel identifiseer hierdie tydperk as ‘n tyd van groot afvalligheid en demoniese aktiwiteite (1 Tim. 4:1). Satan werp alles in die stryd om die kerk te vervals en die maagde wat op die koms van die Bruidegom moet wag, te mislei en aan die slaap te sus.

Terselfdertyd word die allesinsluitende eenheidsideologie van die komende antichristelike bedeling aktief verkondig, en ook strukture vir die wêreldregering, wêreldgodsdiens en wêreldekonomie van die Antichris geskep. Dit is nie sonder rede dat die Here sê dat ons moet vas staan teen die aanslae, en moet waak en bid om ten alle tye vir die wegraping waardig te wees nie.

Dit is dus belangrik om die wegraping in sy dispensasionele verband te sien, nl. aan die einde van die bedeling van die kerk, en net voor die begin van die Antichris se regering. Ons moet met die oog hierop die tydsgees van verval in die Christelike kerk teëstaan, asook die opmars van die komende Antichris. Doen u dit? Die hemelse Bruidegom sê dat terwyl dié wat vuil is nóg vuiler word, moet die regverdiges nóg regverdiger en heiliger word (Op. 22:11). Hulle moet besef dat hulle in ‘n terminale situasie is, en nie in die minste aan die druk van die vyand moet toegee nie.

Prediking oor die wegraping is in ‘n tyd soos hierdie van kardinale belang. Dit is soos iemand wat aan ‘n langafstand wedloop deelneem, en wat die klok vir die laaste rondte hoor. Dit motiveer hom om nie te verslap nie, en tot die einde toe te volhard. Petrus sê: “Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? – julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas” (2 Pet. 3:11-12). Ons moet nie deur die onsekerhede van ‘n snel veranderende wêreld perspektief verloor en kompromie maak nie. Ons moet die goeie stryd van die geloof end-uit stry en teen alle boosheid weerstand bied.

6. Dit skep die geleentheid vir die Antichris om geopenbaar te word

Die wegraping word direk met die openbaring van die Antichris in verband gebring:

“…julle weet wat hom teëhou sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word. Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan…” (2 Thess. 2:6-10).

Die Christene staan die openbaring van die Antichris teë, en dit is eers ná hulle wegname dat hy geopenbaar kan word. Die Heilige Gees in die kerk is sterker as die gees van misleiding wat in die wêreld werk. Wanneer die ware kerk egter skielik weggeneem word, dan verdwyn die lig van die wêreld en breek die uur van die duisternis aan. Dan kan die mens van sonde sonder teëstand geopenbaar word. Die wegraping móét plaasvind voordat die Antichris sy verskyning kan maak!

Om mense dus op die wegraping voor te berei, behels ‘n geestelike ingesteldheid van getrouheid aan die ware Christus en ook die aktiewe verwerping van die komende Antichris. Jy moet ‘n teëhouer wees wat standpunt teen antichristelike ideologieë en hulle humanistiese eenheidstrukture inneem.

7. Dit is ‘n motivering vir standvastigheid in ‘n tyd van afvalligheid

Die koms van die Bruidegom vind plaas in ‘n tyd waarin dit geestelik gesproke donker is. Dit is ‘n tyd van groot afvalligheid en goddeloosheid. Die relatief klein groepie Christene sal skyn soos ligte te midde van ‘n krom en verdraaide geslag. Soos in die dae van Noag en Lot sal die aarde vol gewelddadigheid, materialisme en seksuele perversie wees. Ongelukkig sal hierdie gees van sondigheid en immoraliteit ook sy tol onder Christene eis. Hulle waaksaamheid sal verslap en hul geestelike standaarde afwaarts aangepas word: “En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel” (Matt. 24:12). Baie sal só ‘n lae profiel hou dat hulle in totale passiwiteit verval. Hierteen het die Here Jesus gewaarsku, en aan gelowiges die verwagting van sy skielike koms as ‘n motivering vir standvastigheid voorgehou:

“Waak dan, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis kom nie: in die aand of middernag of met die haangekraai of vroeg in die môre nie; dat hy nie miskien skielik kom en julle aan die slaap vind nie. En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Waak!” (Mark. 13:35-37).

Onaktiewe Christene verflou in hulle liefde teenoor die Here Jesus. Die verskynsel van geestelike afkoeling manifesteer op twee maniere: Enersyds ontwikkel daar ‘n liefde vir die wêreld en wêreldse partytjies waar drank gebruik word, en andersyds lei dit tot bekommernis en depressie. Hierteen waarsku die Here Jesus ook, en Hy hou weer eens die wegraping as ‘n positiewe motivering voor om te volhard tot die einde toe:

“Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie. Want soos ‘n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon” (Luk. 21:34-35).

Moenie in hierdie tyd jou eerste liefde verlaat en sodoende van Jesus Christus afvallig word nie (Op. 2:4).

8. Dit is ‘n ontvlugting uit die rampgebied van goddelike oordele

Die teks in Lukas 21:36 stel dit onomwonde dat die wegraping ‘n ontvlugting uit oordele is. Die Here sê: “Waak dan, en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.” Die woord ontvlug beteken om buite die rampgebied te bly – nie om behoue déúr dit te gaan soos die Nuwe Vertaling sê nie.

Net soos in die dae van Noag en Lot, móét die regverdiges eers in ‘n plek van veiligheid gestel word voordat die goddelike toorn oor ‘n Christus-verwerpende wêreld uitgestort kan word. Die Here het self die ark se deur agter Noag toegemaak voordat die watervloede begin het. In die geval van Lot en sy gesin het die engele aangedring dat hulle die stad moes verlaat, omdat die vuur en swael nie kon neerdaal terwyl hulle nog daar was nie. Hulle was nouliks weg toe word die oordele van die Here oor die sondaars uitgestort.

So is die wegraping vir ons ook ‘n uitkoms. Dit is ‘n salige hoop. Dit is soos ‘n helder lig aan die einde van ‘n donker tonnel. Baie mense sê die chiliaste het ‘n ontvlugtingsindroom, en dat hulle net hier wil wegkom sonder om hulle plig te doen terwyl hulle nog hier is.

Die teendeel is eerder waar. Chiliaste besef juis dat hulle min tyd oor het om vir die Here te werk, daarom is hulle dalk meer as andere gemotiveer om te doen wat hulle hand vind om te doen. Hulle besef dat daar ‘n verdrukking kom soos wat daar nog nooit op aarde was nie (Matt. 24:21). As die Here ons daaruit wil verskoon, soos Hy ook met Noag en Lot gedoen het, waarom sal ons nie die wonderlike belofte van die wegraping aangryp en waak en bid om daarvoor waardig te wees nie?

Mense wat sinies oor die belofte van die wegraping is en nie geestelik voorbereid is om die komende oordele te ontvlug nie, openbaar ‘n baie onverskillige houding. Wat sou u daarvan sê as Noag soos volg geredeneer het: “Ek glo nie werklik dat die Here die aarde deur ‘n watervloed sal oordeel nie, daarom gaan ek nie ‘n ark bou om verdelging in die vloed te ontvlug nie”? Of wat sou van Lot en sy gesin geword het as hy gesê het: “Ek dink die oordele oor Sodom en Gomorra moet simbolies opgeneem word, daarom hoef ek nie te vlug vir my lewe nie. As dit wél gebeur, dan moet die Here ons maar hier, te midde van die vlamme, bewaar”?

Die komende oordele van die groot verdrukking is ‘n vaste Bybelse feit wat letterlik in vervulling sal gaan. Net so letterlik sal daar ‘n ontvlugting vir die kinders van God wees. Ons moet dié belofte aanvaar en hiervoor gereed wees. Die groot verdrukking van sewe jaar moet nie verwar word met die verdrukking wat Christene in ‘n sondige wêreld as gevolg van hulle geloof ervaar nie. Die groot verdrukking is God se oordele oor ‘n Christus-verwerpende wêreld. Die ware gelowiges is glad nie hiervoor bestem nie (Joh. 5:24; 1 Thess. 5:9).

9. Dit is ‘n oproep om voor die regterstoel van Christus te verskyn

Om vir die wegraping gereed te wees met betrekking tot dit wat aan die eindpunt van die reis op ons wag, behels verskeie sake. Een daarvan is om voor die regterstoel van Christus te verskyn. Die vooruitsig op die wegraping konfronteer jou baie duidelik met die verantwoordelikheid om rekenskap van jou lewe ná bekering voor Jesus Christus te gee. Paulus sê:

“Ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad” (2 Kor. 5:10).

“So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee” (Rom. 14:12).

Ons moenie aan die wegraping in isolasie, as net ‘n reis, dink nie. Dit is ‘n middel tot ‘n baie heerlike doel. Ons weet nou waarom ons van die aarde af weggeneem gaan word, maar ons moet ook grondig voorberei word vir dit wat aan die einde van die reis in hemelse plekke op ons wag. Die heel eerste afspraak wat ons het nadat ons die Here Jesus in die lug ontmoet het, is om voor die regterstoel van Christus te verskyn.

Omdat net Christene deel aan die wegraping sal hê, is dit ook net Christene wat voor die regterstoel sal verskyn. In 1 Korinthiërs 3:11-15 lees ons dat die Here ons lewe bekering gaan beoordeel en genadeloon volgens ons werke toeken. Ons is sy diensknegte, en Hy gaan kyk of ons ons werk behoorlik gedoen het.

Ons word duidelik nie deur ons werke gered nie, maar dit vorm die basis vir genadeloon. Sommige diensknegte het hulle talente goed gebruik en sal baie loon ontvang. Ander het dit minder produktief gebruik en sal minder loon ontvang; en daar sal selfs diegene wees wat hulle talente begrawe het en met leë hande voor die Here sal staan – gered asof deur vuur heen!

Die volgende is die vyf krone waarvoor Christene hulleself in die diens van die Here kan beywer:

·         Die onverwelklike kroon vir ‘n heilige en diensbare lewenswandel (1 Kor. 9:24-25);

·         die kroon van roem vir sielewenners (1 Thess. 2:19);

·         die kroon van heerlikheid vir getroue herders wat nie deur selfsug gemotiveer was nie (1 Pet. 5:2-4);

·         die kroon van die lewe vir Christenmartelare en almal wat swaar beproef is (Op. 2:10); en

·         die kroon van geregtigheid vir dié wat sy koms liefgehad en in die lig daarvan geleef het (2 Tim. 4:8).

10. Dit is ‘n reis na die hemelse bruilof

Ná die verskyning voor die regterstoel van Christus word die bruid met haar hemelse Bruidegom verenig om nooit weer van Hom geskei te word nie. Die brandende begeerte na die wegraping is dus terselfdertyd ‘n begeerte om by die bruilof van die Lam te wees en met veelkleurige gewade wat met gouddraad geborduur is, na Hom gelei te word in ivoorpaleise (Ps. 45:10, 14-16). Deur die wegraping word jy ook vir hierdie heerlike geleentheid weggeneem. Volgens die gelykenis van die tien maagde kan diegene wat té laat wakker skrik, nog steeds hulle saak met die Here regmaak, maar hulle sal die feit in die gesig moet staar dat hulle die wegraping misgeloop het. Vir hulle sal die donker nag van die groot verdrukking wag, waarin hulle as martelare vir hulle geloof sal moet sterf.

11. Dit is ‘n reis na ons ewige tuiste

Die Here Jesus het beloof dat Hy sal terugkom om sy bruid te kom haal en na haar hemelse tuiste te neem. Voor sy hemelvaart het Hy gesê:

“Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is” (Joh. 14:2-3).

Hierdie woning in die hemel is só wonderskoon dat dit nie in menslike woorde beskryf kan word nie. Die Bybel sê: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van die mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet” (1 Kor. 2:9).

Die nuwe Jerusalem het pêrelpoorte, strate van deurskynende goud, en ‘n muur rondom wat van die kosbaarste edelgesteentes gebou is. Om na só ‘n plek weggevoer te word, is inderdaad ‘n blye vooruitsig!

12. Dit lei na die aanvaarding van ons regterlike en koninklike posisie

Die verheerlikte Christene sal ná die wegraping saam met Christus die wêreld oordeel in geregtigheid en daarna as konings saam met Hom hier op aarde regeer. In Openbaring 4 en 5 word die verheerlikte kerk as 24 bekroonde ouderlinge voorgestel:

“Toe sing hulle ‘n nuwe lied en sê: U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Op. 5:9-10).

Gevolgtrekking

Sien u hoe aktueel die wegraping vir elke Christen is, hoe dramaties die gebeure is wat daarmee saamhang, en hoe oor en oor die moeite werd dit is om hiervoor gereed te wees? Die Christendom sal geestelik verarm word as hierdie belofte, en al die verantwoordelikhede wat dit meebring, nie duidelik verkondig word nie. Sonder die Bybel se profetiese perspektief op die eindtyd sal ons in die duisternis van onkunde rondtas en nie ons prioriteite reg bepaal nie (2 Pet. 1:19).

Terwyl ons die naderende voetstappe van die Here Jesus kan hoor, moet ons baie seker maak dat ons inderdaad aan Hom behoort, anders sal Hy by ons verbygaan wanneer Hy sy kinders kom haal. Die ongeredde naamchristene wat nooit ‘n ontmoeting met die Here Jesus gehad het nie, en net ‘n gedaante van godsaligheid het, sal tevergeefs eendag voor die groot wit troon op hulle kerklike ampte, wonderwerke en ‘bevrydingsbedienings’ roem. Selfs die Nuwe Afrikaanse Bybel met sy baie verdraaiings en weglatings (waarin die belofte oor die wegraping uit Lukas 21:36 wegvertaal is), laat hierdie waarskuwing oor valse godsdiens baie duidelik deurkom. Dit is veral teen valse leraars gerig:

“Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die konninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. Baie sal in daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam duiwels uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?’ Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree” (Matt. 7:21-23 NAV).

Dit hoef egter nie so te wees nie. As ons harte deur die wedergeboorte verander is en ook deur die vervulling met die Heilige Gees brandend vir die Here is, sal ons waardig wees om die hemelse Bruidegom te ontmoet wanneer Hy in die middernaguur kom. Hy het aan sy dissipels gesê: “Laat julle heupe omgord wees en julle lampe aan die brand. En julle moet wees soos mense wat op hulle heer wag… Gelukkig is daardie diensknegte vir wie die heer wakker sal vind as hy kom. Voorwaar Ek sê vir julle, hy sal hom omgord en hulle aan tafel laat gaan en hulle kom bedien. En as hy in die tweede of die derde nagwaak kom, en dit so vind – gelukkig is daardie diensknegte” (Luk. 12:35-38). Wees elke dag gereed vir sy skielike koms!

Betekenis van die Wegraping

Die belofte van die wegraping is uit verskillende oogpunte hoogs betekenisvol:

Goeie nuus in die profesieë

Die wegraping is die goeie nuus in ‘n andersins donker toneel van eindtydse profesieë oor rampe en oordele wat met die dag van die Here gepaard sal gaan. Indien die belofte van die wegraping verswyg word, sou Christene net donker vooruitsigte oor die Antichris en die sewe jaar lange verdrukking gehad het. Só ‘n situasie sou vergelyk kon word met die sondvloed sonder die ark, of die vernietiging van Sodom en Gomórra sonder ‘n ontsnappingsroete vir Lot en sy gesin. Mense wat die belofte van die wegraping verwerp, openbaar ‘n baie onverskillige houding. Wat sou jy daarvan sê as Noag soos volg geredeneer het?: “God is ‘n liefdevolle God en ek kan nie glo dat Hy die mensdom deur ‘n watervloed sal ombring nie, daarom gaan ek nie ‘n ark bou om verdelging in die vloed te ontvlug nie.” Of wat sou van Lot en sy gesin geword as hy gesê het: “Ek dink dat die oordele oor Sodom en Gomorra simbolies opgeneem moet word, daarom hoef ek nie te vlug vir my lewe nie. As die oordele wél kom, dan moet die Here ons maar te midde daarvan bewaar.”

‘n Situasie van hierdie aard sou nie alleen hoogs demoraliserend wees nie, maar ook in stryd met die duidelike Bybelse beginsel dat gelowiges nooit die voorwerpe van God se toorn is nie: “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie” (Rom. 8:1). Die wegraping is deel van die goeie nuus van die evangelie van Jesus Christus. Hy het na die sonde-deurdrenkte wêreld gekom om die volle prys vir die redding van sondaars te betaal. Daarna is Hy terug hemel toe om ‘n plek vir ons te gaan berei. Hy het beloof om weer terug te kom en ons te kom haal en na ons hemelse tuiste te neem. As ons in Hom bly, sal ons waardig wees om die gruwels van die komende verdrukking deur middel van die wegraping te ontvlug. Ons hoef dus nie tot wanhoop gedryf te word deur die kennis van dit wat oor die wêreld gaan kom nie. Vir die ware gelowiges is daar ‘n wonderlike boodskap van goeie nuus in die profesieë!

Diegene wat nie hierdie goeie nuus ter harte neem en vir die wegraping gereed maak nie, sal alles verloor en vreesbevange in die groot verdrukking na die berge en rotse uitroep: “Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam, want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Op. 6:16-17). Hulle sal tevergeefs vir die toorn van God probeer wegvlug as hulle weier om tot bekering te kom.

‘n Korrekte toekomsverwagting

Die geloof in ‘n voor-verdrukking-wegraping gee aan jou die versekering dat jy ‘n korrekte, Bybelse toekomsverwagting het. Dit word deur geen ander Bybelse waarhede weerlê nie. Hierdie ingesteldheid eer die Here Jesus en erken Hom as die sleutelpersoon in die profesieë, “want die getuienis van Jesus is die gees van die profesie” (Op. 19:10). Christene se aandag moet op Hom gevestig bly. Hulle moet sý skielike verskyning verwag, en nie dié van die Antichris nie. Diegene wat Hom verloën, sal almal met die wegraping agterbly. Die enigste rede waarom hulle aan die diktatuur van die Antichris oorgelewer sal word, sal wees omdat hulle die verlossing wat die ware Christus aan hulle gebied het, geminag en verwerp het. Wat hulle op aarde sal beleef, sal die direkte gevolg wees van die seëls van God se oordele wat die Lam in die hemel sal breek. Moet dus nooit Jesus Christus se sentrale plek in die Bybelse profesieë misken nie. Om sy spoedige koms te verwag en jou lewe dienooreenkomstig in te rig, is ‘n opdrag wat bedoel is om ‘n positiewe motivering aan Christene van alle eeue te verleen.

Die regte bepaling van werke

Die verwagting van die koms van die Here Jesus voor die verdrukking, rig jou werke en optrede in die regte rigting. Jy berei vir sý koms voor, en nie vir dié van die Antichris nie. Die konsep van die wegraping konfronteer jou uitdruklik met die verantwoordelikheid om direk ná die wegvoering rekenskap van jouself voor die regterstoel van Christus in die hemel te gee (2 Kor. 5:10; Rom. 14:12). Indien jy die moontlikheid van Christus se spoedige koms uit die gesig verloor en nie meer daarvolgens leef nie, kan jy in oorgerustheid, geestelike passiwiteit en selfs in sonde verval (Matt. 24:48-51).

Beveiliging teen materialisme

Die feit dat ons werke ná die wegraping beoordeel gaan word, en net dít met ewigheidswaarde beloon sal word, is ‘n belangrike feit om in gedagte te hou. Dit help ons om doelstellings na te streef wat hoër as die materialistiese en verganklike dinge van hierdie wêreld is. Paulus sê dat nadat die fondament van bekering in ons lewens gelê is, ons die vrug van die Heilige Gees moet dra en nie nuttelose, materialistiese werke moet doen nie (1 Kor. 3:10-15). Ons moet dus oppas dat ons nie met leë hande voor die Here verskyn nie.

Christene wat aan ‘n voor-verdrukking-wegraping glo, hou hulleself nie met oorlewingstrategieë besig in voorbereiding op die verdrukking onder die bewind van die Antichris nie. Hulle hou hulleself met die Groot Opdrag besig, soos wat die Here Jesus self gedoen het: “Ek moet die werke doen van Hom wat My gestuur het, so lank as dit dag is; die nag kom wanneer niemand kan werk nie” (Joh. 9:4). Genadetyd gaan verby en ons moet nou alles in die stryd werp.

‘n Motivering vir heiligheid

Een van die sterkste motiverings wat die belofte van die wegraping in ‘n Christen se lewe vestig is dié van heiligmaking. As lede van die bruidsgemeente moet ons onsself toewy aan die uitdaging om as rein maagde aan die hemelse Bruidegom voorgestel te word (2 Kor. 11:2-3). Dit plaas ‘n duidelike verantwoordelikheid van waaksaamheid op ons sodat die Bose nie toegelaat sal word om ons gedagtes en lewens te besoedel nie. Ons verkry nie die standaard van heiligmaking deur menslike pogings nie, want Christus is ons heiligmaking: “Christus het ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee om dit te heilig… sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees: (Ef. 5:25-27).

Ons moet onsself heelhartig hieraan oorgee en die heiligmaking in die vrees van God volbring (2 Kor. 7:1). Die Here Jesus het dit alles vir ons aan die kruis en deur die uitstorting van die Heilige Gees moontlik gemaak, maar ons moet dit aanvaar, daarin wandel, ons in die godsaligheid oefen, ten bloede toe teen die sonde weerstand bied en met volharding die wedloop loop wat voor ons is, die oog gevestig op Jesus wat die Leidsman en voleinder van ons geloof is. Dan sal ons nooit veragter in die genade, ons visie en roeping verloor en van die weë van die Here afvallig raak nie.

Hoop in toetse en beproewings

In die skadu’s van toetse, beproewings en vervolging, wanneer die hoop op ‘n gelukkige aardse lewe vervaag, is die vooruitsig op die wegraping altyd ‘n lig aan die einde van ‘n donker tonnel. Deur ontelbare sorge en lyding het miljoene mense in die geloof aan die belofte van die wegraping en ons vereniging met die Here vasgehou. Dit het aan hulle krag gegee om te volhard terwyl hulle die dinge van hierdie wêreld, en selfs hulle eie lewe, as niks beskou het om Christus en die ewige lewe as wins te verkry. Skep dus moed, rig jou neergeboë gees op, verwag die Here en weet dat jou toekoms in veilige hande is. Hy sal ons kom haal om sy ewige heerlikheid te beërf. Dáár ”sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan” (Op. 21:4).

‘n Bestemmingsbewustheid

Soos Abraham en ander geloofshelde moet ons onsself as vreemdelinge en bywoners in hierdie donker wêreld beskou wat in die mag van die Bose lê. Ons toekoms is nie hier nie, daarom moet ons altyd ‘n vergesig hê van die stad wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is (Heb. 11:10). In ons pelgrimsreis deur die wêreld moet ons altyd ‘n sterk bestemmingsbewustheid hê omdat ons na die nuwe Jerusalem op pad is. Wanneer die Here met die wegraping uit die hemel neerdaal, sal ons Hom tegemoet gaan in die lug en na ons ewige tuiste in die Godstad weggevoer word.

Ons moet waak daarteen om oormatiglik met hierdie wêreldstelsel te identifiseer en in sy materialisme en geestelike verdorwenheid een daarmee te word. Dit beteken nie dat ons swak gemotiveerde mense sonder doelstellings is terwyl ons hier is nie. Inteendeel – ons moet produktiewe lewens lei en die Here verheerlik in alles wat ons doen. Die wêreld moet ons as hardwerkende mense met integriteit ken, daarom moet ons ‘n verskil ten goede in ons omgewing maak. Ons hoofdoel bly egter om die lof te verkondig van Hom wat ons uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig. Die meeste mense wandel weens hulle vormgodsdiens steeds in geestelike duisternis, daarom moet ons toesien dat ons altyd deur ons getuienis vir hulle die lig van ‘n donker wêreld is.

Terwyl ons ons plig as getuies van Christus uitvoer, moet ons voortdurend die blink môrester verwag wat nét voor die einde van die nag bokant die donker horison van ‘n troebel en onrus-geteisterde wêreld sal verskyn. Die boodskap van die môrester is dat die nag ver gevorder het en dat dit amper dag is. Voordat die Here Jesus met sy sigbare wederkoms as die Son van Geregtigheid sal kom wanneer elke oog Hom sal sien, sal Hy onopsigtelik as die Blink Môrester kom om sy bruidsgemeente in die lug te ontmoet.