Die Antichris sal in noue assosiasie met die vals profeet regeer, en dit sal die sterk mistiese grondslag van sy leierskapsposisie beklemtoon. Hierdie groot profeet sal instrumenteel wees in die misleiding van die mensdom. Hy sal alle mense (en gelowe) oortuig om die Antichris as hulle gemeenskaplike verlosser en wêreldmessias te erken, en hulle uiteindelik dwing om sy nommer te aanvaar en hom as God te aanbid. Die Bybel sê die volgende oor die openbaring van die vals profeet:
“En uit die aarde het ek ’n ander dier sien opkom, en hy het twee horings gehad soos ’n lam en het gepraat soos ’n draak. En hy oefen al die mag van die eerste dier uit voor sy oë, en hy maak dat die aarde en die wat daarop woon, die eerste dier aanbid, waarvan die dodelike wond genees is. En hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense” (Op. 13:11-13).
Die vals profeet sal ’n ander dier wees – ’n ander een van dieselfde soort as die eerste dier – en sal ook uit dieselfde koninkryk as die eerste dier wees. Hy sal lyk soos ’n lam maar praat soos ’n draak. Hy sal dus ’n onskuldige voorkoms hê, soos dié van ’n godsdiensleier wat homself ten doel stel om die wêreld te verenig en in ’n tydperk van vrede in te lei. Wanneer hy praat, sal dit egter duidelik wees dat hy oor al die misleidingskrag en bonatuurlike magte van die draak beskik. Een van sy skouspelagtigste wonderwerke sal wees dat die Antichris in die middel van die verdrukking uit die dood opgewek sal word nadat hy vermoor is (Op. 13:3, 12).
Die vals profeet sal volkome onverdraagsaam teenoor die ware Christene wees. Hy sal lasterlike dinge van hulle sê, die dier ten koste van Christus verheerlik, en die wêreld deur middel van sy wonderwerke verbyster. Soos die Antichris, sal hy deur sy duiwelse slimheid met groot welslae bedrog pleeg (Dan 8:25). Sodoende sal mense se sinne en oordeelsvermoë deur die god van hierdie wêreld verblind word (2 Kor. 4:4).
Volgens Openbaring 13 sal die vals profeet die Antichris se staatmaker en regterhand in sy regering wees. Satan weet dat twee beter is as een. Mense sal soveel makliker agter die Antichris aanloop wanneer die vals profeet hom aanprys en ophemel. As die Antichris se hoofpropagandis wat alles in die stryd sal werp om mense te beïnvloed en te mislei, sal die vals profeet die massamedia soos die radio, televisie, die pers en internet optimaal aanwend. Hy sal alle meningsvormers vir die diens van die Antichris mobiliseer. Hieronder sal die vermaaklikheidswêreld, onderwys, en godsdiens wees.
Misleide kerke, die nie-Christelike gelowe, sowel as die ekumeniese beweging, sal as belangrike wapens in sy hand gebruik word om ’n inklusiewe alliansie van gelowe te skep. Die vals profeet gaan godsdiens dus as ’n handige hulpmiddel vir massamisleiding gebruik. Die evangeliese Christendom sal egter weens die eksklusiewe en nie-ekumeniese aard daarvan verbied word.
Beide die Antichris en die vals profeet sal van die gees en die mag van Satan deurdronge wees en dit vrylik manifesteer. Die vals profeet sal die werk van die Heilige Gees op die volgende tien terreine naboots en teëstaan in ’n berekende poging om alle mense by sy vals wêreldgodsdiens in te trek:
· Soos wat die Heilige Gees ons aan Christus voorstel en ons leer om Hom te aanbid, sal die vals profeet die Antichris aan die mensdom voorstel en hulle leer om hóm te aanbid.
· Die Heilige Gees versamel en reinig ’n bruid vir Christus, wat die enigste ware kerk is. Die vals profeet sal deur misleiding en afvalligheid ’n geestelik ontugtige bruid vir die Antichris versamel, wat al die vals gelowe van die wêreld sal insluit.
· Die Gees van God is die Gees van heiligheid wat ons van sonde oortuig. Die vals profeet het ’n onrein gees waardeur mense aangemoedig sal word om in sonde te leef.
· Die Heilige Gees verkondig die rein woorde van God aan ons sodat ons na Hom toe getrek kan word met koorde van liefde. Uit die vals profeet se mond sal ’n onrein gees kom om die nasies te verlei om met Satan se koning ’n verbond te sluit.
· Die Heilige Gees is die Gees van waarheid wat ons in die hele waarheid lei. Die vals profeet sal mense mislei en bedrieg om hulle sodoende op ’n dwaalspoor van leuens te plaas.
· Die Gees skenk aan ons geloof in God en sy Seun. Die vals profeet sal mense mislei sodat hulle in Lucifer en die Antichris glo.
· Die Heilige Gees vertroos ons, en bemoedig en versterk Christene om geregtigheid te doen. Die vals profeet sal mense verskrik, en ook aanhits en bemagtig om ongeregtigheid te pleeg.
· Die Heilige Gees skenk goddelike gawes aan mense om die Here beter te kan dien. Die vals profeet sal okkultiese magte aan mense skenk om wonderwerke te doen en ander te mislei.
· Die Heilige Gees leer ons om God te aanbid en sodoende lewe te verkry. Die vals profeet sal mense dwing om die dier se beeld te aanbid en sodoende hulle eie verdoemenis te bewerk.
· Die Heilige Gees verseël elkeen wat in Jesus glo as ’n kind van God. Die vals profeet sal die mense mislei om hulleself met die merk van die dier te laat verseël en sodoende sy volle eienaarskap oor hulle lewens te erken.
Die vals profeet sal die ideologiese en godsdienstige breinspoeling van die mensdom namens die Antichris onderneem. Hy sal of uit die alliansie van vals wêreldgodsdienste kom, of in ’n kort tydjie volle beheer oor hulle verkry. Die godsdienste van die wêreld sal dan ingespan word om al hulle volgelinge aan die regering van die Antichris dienstig te maak en ook die dier te aanbid. Openbaring 13:14-18 stel dit onomwonde dat die vals profeet die wêreld sal mislei om die dier te aanbid én sy nommer op hulle regterhand en voorkop te ontvang. Die wêreld moet dus staatkundig, godsdienstig én ekonomies onder die vaandel van die Antichris verenig word.
Die denkwyses in die koninkryke van God en Satan moet duidelik van mekaar onderskei word, sodat ons goed kan begryp met watter denkrigting die sataniese gees van dwaling al eeue lank besig is om mense te beïnvloed en in leuens te laat glo. Die vals profeet sal hierdie verdorwe filosofie wêreldwyd afdwing sodat dit ten volle kan manifesteer.
Die denkwyse wat onderliggend aan die Antichris se wêreldryk sal wees, is monisme – alles is een. Die vals profeet sal die ideologie van “alles is een” tot in sy uiterste konsekwensies toepas, sodat alle ideologieë kan saamgroei binne ’n breë raamwerk van kosmiese holisme. Dit beteken dat alle gelowe ook een is, dat daar net een Messias vir die hele wêreld is, naamlik die Wêreldmessias (volgens die Bybel die Antichris), en dat daar geen teenpool van ’n duiwel en ’n hel is nie. Lucifer gaan dus as ’n engel van die lig in die plek van God gestel en aanbid word.
’n Christelike lewens- en wêreldbeskouing is lynreg in botsing met die Antichris se monistiese filosofie. Die Bybel leer ons nie monisme nie, maar dualisme – alles is twee. Die mens kom dus te staan voor twee groot en onverenigbare koninkryke wat geheel en al gepolariseerd en onversoenlik is, want in dié twee koninkryke staan God teenoor Satan, Christus teenoor die Antichris, die Heilige Gees teenoor Satan se gees van dwaling, lig teenoor duisternis, die hemel teenoor die hel, die waarheid teenoor die leuen, die ware godsdiens teenoor al die vals godsdienste, die smal weg teenoor die breë weg, en redding teenoor verlorenheid.
In die koninkryk van God word daar teenstellend gedink, met die gevolg dat grense getrek en dinge konseptueel van mekaar onderskei word. Dit is dus ingestel op ’n skerp onderskeidingsvermoë tussen reg en verkeerd. In die koninkryk van Satan word daar integrerend gedink, met die gevolg dat grense verwyder en alles in een, groot, kosmiese geheel verenig word. In hierdie koninkryk is daar nie ’n onderskeid tussen reg en verkeerd nie, en is alles toelaatbaar – alle lewenstyle, bv. homoseksualiteit, en ook alle gelowe, is aanvaarbaar. Die grens tussen die natuurlike en bonatuurlike word glad nie in Satan se ryk erken nie, sodat wonderwerke, die gebruik van verborge kragte soos towery, selfgenesing, Oosterse meditasie en die oproep van geeste, asook kosmiese wysheid vir waarsêery, as alledaagse verskynsels aangemoedig en beoefen word. Hierdie kategorie van magte is duidelik okkulties en satanies van aard.
Die vals profeet se koms sal, soos dié van die Antichris, wees “volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan” (2 Thess. 2:9-10). Hy sal sy duiwelse magte gebruik om mense te mislei om die Antichris as God te aanbid, en ook sy nommer op hulle regterhand of voorkop te ontvang. Johannes sê:
“Hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense. En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat hom gegee is om voor die oë van die dier te doen, deur aan die bewoners van die aarde te sê dat hulle ’n beeld moet maak vir die dier wat die swaardwond ontvang en lewend geword het. En dit is hom gegee om ’n gees aan die dier se beeld te gee, sodat die dier se beeld ook sal praat en maak dat almal gedood word wat die dier se beeld nie aanbid nie. En hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe ’n merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word; sodat niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het. Hier kom die wysheid te pas. Wie die verstand het, laat hom die getal van die dier bereken, want dit is die getal van ’n mens; en sy getal is seshonderd-ses-en-sestig” (Op. 13:11-18).
Die wêreld gaan soos nooit tevore nie aan godsdienstige misleiding blootgestel word om die antichristelike nuwe wêreldorde te aanvaar en uiteindelik vir Satan saam met die Antichris as God te aanbid. Die voorlopers van die vals profeet is nou al intensief met geestelike misleiding en breinspoeling van hierdie aard besig. Daar is in Suid-Afrika verskeie teoloë wat klaar onder die mag van Satan se monistiese en integrerende denkwyse vasgevang is. Hulle kan nie meer onderskeid tref tussen konsepte soos die hemel en die hel nie, daarom ontken sommige van hulle die bestaan van beide. Hulle kan nie tussen die enigste ware godsdiens en al die vals godsdienste onderskei nie, daarom raak hulle by intergeloofsekumene betrokke waarin met alle gelowe geassosieer word. Hulle kan ook nie tussen Christus en die Antichris onderskei nie, daarom ontken hulle profesieë oor die koms van die Antichris en sal hom gevolglik as Christus aanvaar wanneer hy wél kom.
Volgens die Bybel sal die monistiese ideologie van “alles is een” ná die verskyning van die Antichris op alle vlakke van die samelewing gepropageer en afgedwing word. Dit sal beskou word as die enigste grondslag vir moreel korrekte waardes en ’n lewensinstelling van kompromie deur middel van sosiale, kulturele en godsdienstige vermenging en eenwording onder alle nasies op aarde. Daar sal geen ruimte wees vir afsonderlike groepregte nie – allermins vir die hoogs eksklusiewe Christelike godsdiens. Die Christelike geloof word nou al reeds in die tradisioneel Christelike wêreld sy plek as die enigste ware godsdiens in die samelewing ontsê.
Reeds vanaf die aanvang van die verdrukking sal diegene wat ’n besluit vír die ware Christus en téén die Antichris neem, hulleself moet distansieer van die snelontwikkelende neo-Babiloniese wêreldsamelewing, sy kultuur, ideologie, waardes en mistiese godsdienspraktyke. Dit sal egter nie vir hulle om selfbehoud alleen moet gaan nie. Hulle sal dit as hulle taak behoort te aanvaar om die teenstellende Bybelse beginsels en waardes onder die verwarde en misleide slagoffers van die Antichris, die vals profeet en hulle nuwe wêreldorde te verkondig. Al is die risiko’s groot, sal daar geen ander eerbare weg wees om te volg nie.
Menselewens sal soos nooit tevore nie op die spel wees, en hulle sal dringend gewaarsku moet word teen geestelike misleiding, verbondsluiting met die duiwel deur die aanvaarding van die Antichris se nommer, asook die ewige verderf daarna. Satan probeer eers om mense se sinne deur misleiding te verblind (2 Kor. 4:4), en daarna gebruik hy hulle om sy vuil werk te doen deur miljoene ander te mislei. Hulle enigste loon hiervoor sal die ewige verderf wees.
Nadat die vals profeet miljoene mense deur geestelike en ideologiese misleiding aan die Antichris dienstig gemaak het, sal diegene wat hardkoppig weier om die knie voor die eindtydse Baäl te buig, summier om die lewe gebring word. Die vals godsdienste was nog altyd hatig en vyandig teenoor die Christendom, en in die groot verdrukking sal hulle die mag én die reg kry om onder die leiding van die vals profeet volle uiting te gee aan hulle haatveldtog teen die ware gelowiges. Die Antichris sal saam met die vals profeet alle geestelike opposisie uit die weg ruim. Openbaring 13:7 sê: “Dit is ook aan hom gegee om oorlog te voer teen die heiliges en hulle te oorwin.”
Hierna sal onrein geeste wat tekens doen, na die konings van die aarde uitgestuur word om hulle vir ’n oorlog teen die komende Christus in Israel, en spesifiek in die stad Jerusalem, te mobiliseer. Dit sal die sataniese driemanskap se laaste daad van massamisleiding wees (Op. 16:13-16). Wanneer die Here Jesus tydens die hoogtepunt van die slag van Armagéddon kom, sal daar geen gesprek met Satan se regeerders gevoer word nie. Hulle sal lewendig gevang en onmiddellik in die hel gegooi word. Dit sal ook die laaste oomblik vir hulle ideologies- en geestelikmisleide wêreldmag wees:
“En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees” (Op. 19:20-21).
Aan die einde van die groot verdrukking sal die sataniese driemanskap se dae getel wees. Hulle bestemming: die poel van vuur. Aanvanklik sal net die Antichris en die vals profeet in die vuurpoel gegooi word terwyl Satan vir eers in ’n bodemlose put gebind word waar hy vir die volle duur van Christus se duisendjarige Vrederyk ingeperk sal bly. Daarna sal hy volgens Openbaring 20:7-10 vir ’n kort tydjie losgelaat word om sy laaste groot rebellie op aarde te stig. Dit sal ’n siftingsproses wees vir die mense wat dan op die aarde sal wees, omdat Satan se misleidingswerk sal aantoon wie waarlik aan Jesus Christus behoort en wie nie.
Diegene wat nie weergebore is nie, sal dadelik in die losgelate Satan se mag val en saam met Hom teen Christus rebelleer. Hierdie laaste rebellie sal misluk en Satan, die hoof van die sataniese driemanskap, sal in die poel van vuur met die Antichris en die vals profeet herenig word: “En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid” (Op. 20:10).
Die verlore mense van alle eeue, insluitend die eindrebelle, sal dan voor die groot wit troon verskyn en as gevolg van hulle ongeredde toestand en bose werke tot dieselfde vuurpoel verdoem word: “En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp” (Op. 20:15). Hulle ewige eindbestemming is saam met die sataniese driemanskap en hulle groot horde demone.
Die einde van die pad van sonde en rebellie teen God is die dood. God het egter geen behae in die dood van die sondaars nie, daarom moet hulle tot bekering opgeroep word voordat dit te laat is (Eseg. 33:11). Voor die groot wit troon sal dit te laat wees om jou saak met die Here reg te maak. Daar sal die verlore sondaars net die volgende woorde uit die Here se mond hoor: “Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele” (Matt. 25:41).