Christene het ’n opdrag om die goeie stryd van die geloof te stry deur die duiwel se misleiding, versoekings en aanvalle te weerstaan. Ons moet al die geestelike wapens wat tot ons beskikking is gebruik – veral geloof in die gekruisigde en opgestane Here Jesus, gebed, en die swaard van die Gees (1 Joh. 5:4-5; Op. 12:11; Jak. 5:16; Ef. 6:17; Heb. 4:12). Baie van die gelowiges aanvaar egter nie hierdie metodes vir geestelike weerbaarheid nie, en wend hulle eerder tot onbybelse vorms van bevryding, soos onder andere duiweluitdrywing en die verbreking van bloedlynvloeke. Hulle is van mening dat kompulsiewe slegte gewoontes in ’n Christen se lewe deur demone veroorsaak word, en dat die mag van hierdie gewoontes slegs verbreek kan word deur die binding of uitwerping van demone wat na bewering vir hulle sondige gedrag verantwoordelik is.
Die getuienis van die Skrif is egter geheel en al teen die idee gekant dat ’n Christen ’n demoon in hom kan hê. Dit grens aan godslastering om te beweer dat ’n Christen wat uit die Gees gebore is, in wie Christus kom woon het, terselfdertyd ’n demoon kan hê. “As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees” (Joh. 8:36). Slegs ongeredde mense kan duiwelbesete raak. Christene kan beslis deur demone mislei word, veral wanneer hulle onkundig is omtrent sekere Bybelse waarhede, maar hulle kan nie deur demone beset word nie.
Demone word soms verkeerdelik aan sekere sondes gelykgestel, en dit lei selfs daartoe dat hulle die naam van die betrokke sonde kry. Wanneer die Skrif egter na bv. ’n “leuengees” verwys (vgl. 2 Kron. 18:22), verwys dit na die aard van daardie gees en nie die naam daarvan nie. Alle demone is leuengeeste omdat hulle van Satan af uitgaan wat die vader van alle leuens is (Joh. 8:44). Daar is geen Bybelse bewyse van die bestaan van demone van leuens, demone van verleiding, demone van hebsug, demone van begeerlikheid, of enige ander demone wat die verpersoonliking van sekere sondes is nie. “Mammon” is nie ’n uitsondering nie, omdat dit een van die beskrywende name vir Satan self is.
Satan en sy demone werk vanuit ’n buitesintuiglike, geestelike sfeer vanwaar hulle hul besoedelde gedagtes en bose voorstelle soos vurige pyle op hulle slagoffers rig (Ef. 6:16). Hierdie gedagtes of invloede kry toegang tot ’n persoon op die vlak van sy onderbewussyn. Wanneer hulle egter op die bewussynsvlak opdoem, openbaar hulle nie hul oorsprong nie en doen hulleself as die persoon se eie gedagtes voor. Wanneer daar aan hulle toegegee word, is die slagoffer suksesvol mislei om aan geestelike leuens te glo, of word hy in assosiasie met sy eie begeerlikhede verlei om morele sondes te doen.
As gevolg van hierdie groot gevaar moet elke gedagte wat by ’n gelowige opkom, gevange geneem word tot gehoorsaamheid aan Christus (2 Kor. 10:4). Indien die gedagte nie aan Bybelse beginsels voldoen nie, moet dit weerstaan en verwerp word. Dit is die manier waarop idees wat uit ’n geestelike sfeer kom, getoets moet word (1 Joh. 4:1). Gedagtes wat van God af kom deur sy Woord en die werking van die Heilige Gees, sal aan jou verligte oë van die verstand gee en jou op die weg van geregtigheid lei (Ef. 1:17-19). Gedagtes wat egter van die duiwel af kom sal jou sinne verblind, jou beïnvloed om Christus en sy evangelie te verwerp, en sal ook bose hartstogte in jou aanwakker.
Paulus sê dat die verstand van ongeredde mense volkome verduister word deur Satan (2 Kor. 4:3-4). Satan is die heerser van die duisternis (Ef. 6:12) en hy verkies om in geestelike duisternis op te tree waar mense baie min of geen onderskeidingsvermoë kan beoefen tussen die waarheid en die leuen nie. Deur die toegang wat hy en sy demone tot mense se gedagtes het, streef hy daarna om hulle in die duister te hou oor die waarheid van die evangelie. Hy weerhou hulle daarvan om die lig te sien.
Op ’n baie listige manier probeer hy ook om die verstand te verduister van gelowiges wat reeds gered is en in die lig wandel. Die oomblik wanneer hulle sekere van Satan se misleidende leerstellings begin glo, tree geestelike verduistering by hulle in. Paulus het ’n hele gemeente teen hierdie baie werklike gevaar gewaarsku: “Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus” (2 Kor. 11:3).
Die vurige pyle van Satan het toegang tot die gedagtes van ’n gelowige, en dus ook tot sy “hart” waar hy verskillende gedagtes bedink, oortuigings vorm en besluite neem oor hoe om sy lewe te lei. Besluite wat uit Satan se sondige voorstelle voortvloei, gee uiteraard tot sondige dade aanleiding. Petrus het vir Ananías gesê: “Waarom het die Satan jou hart vervul om vir die Heilige Gees te lieg?” (Hand. 5:3). Satan het hom beïnvloed om te lieg, maar dit was nie ’n demoon wat hom beset het nie. Indien dit die geval was, sou Petrus die demoon uitgedryf het. Satan het bloot Ananías se begeerte na rykdom uitgebuit deur sy hart te vervul met die idee om vir die Heilige Gees te lieg, en hy het geredelik hieraan toegegee. Ananías het sy eie besluit geneem en sy eie woorde gespreek, wat voortgevloei het uit die drif van begeerlikheid wat Satan in sy hart gevestig het.
Selfs al kan demone Christene nie beset nie, hou hulle nogtans ’n werklike bedreiging in omdat hulle aktief besig is om ons aan te val en te probeer beïnvloed. Reg Bendixen (1974) sê:
“Ons impliseer nie vir ’n oomblik dat demone onwerklik is nie, of dat hulle Christene nie aanval nie. Ons moet egter duidelik verstaan dat hulle aanvalle op ons slegs geleë is in hulle vermoë om ons te kan mislei of verlei. Hulle aanslag is beide van ’n algemene en spesifieke aard. Elke keer wanneer ons ’n koerant of tydskrif lees, na ’n film kyk of na die radio luister, word ons deur die sataniese meesterbrein gebombardeer. Efésiërs 2:2 beskryf hierdie situasie wanneer dit verwys na die werksaamheid van ‘die owerste van die mag van die lug’. Die lug of atmosfeer waarbinne ons beweeg is gelaai deur die bose teenwoordigheid van Satan, en ons sou onsself heeltemal uit die wêreld moes onttrek indien ons sy invloed wou ontsnap. Daar is bv. op die oomblik ’n algemene neiging tot immoraliteit en permissiwiteit waardeur mense aangespoor word om te glo dat slegs oudmodiese en eksentrieke mense volgens streng morele standaarde leef, en almal van ons word gedurig aan hierdie druk blootgestel. Dan is daar egter ook die persoonlike aanvalle wanneer ’n demoon, soos ’n skerpskutter in oorlogtyd, op ’n spesifieke teiken aanlê met die uitdruklike doel om hom te mislei of te treiter. ’n Demoon is in staat om ’n individuele gelowige se gedrag te beheer of te manipuleer tot dié mate waartoe hy hom kan mislei. Demone kan ons reaksies en gedragspatrone manipuleer. Indien die duiwel ons kan oortuig dat ons nie gereinig is deur die bloed van Jesus Christus nie, sal ons deur skuldgevoelens oorkom word en dienooreenkomstig optree. Ons sal ontmoedig wees en ons verhouding met Jesus sal vertroebel raak. Satan tree op in die sfeer van leuens en misleiding, en wanneer ons in sy leuens glo, verkry hy beheer oor ons gedrag. ... Die Bybel toon duidelik aan dat alle probleme van gelowiges slegs in verband staan met hulle geestelike verduistering, onkunde en ongeloof, m.a.w. op die terrein waarin hulle nie die waarheid van die werk van Christus in hulle erken nie.”
Paulus verwys na die sleutelrol van vals leraars wat deur verleidende geeste gebruik word om leuens te verkondig en daardeur mense se geloof te vernietig: “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang deur die geveinsdheid van leuenaars wat gebrandmerk is in hulle eie gewete” (1 Tim 4:1-2). In sy kommentaar op hierdie gedeelte sê Duane Litfin (1983:739):
“As die draer en bewaarder van die waarheid, moet die kerk bewus wees van die strategieë wat gevolg word deur die vyande van die waarheid. Dit is dus van kardinale belang vir die kerk om te verstaan wat God oor hierdie vyande geopenbaar het. ... Volgens hierdie Skrifgedeelte sal die situasie kort voor die wederkoms van Christus baie versleg. In die laaste dae sal sommige mense van die geloof afvallig raak (vgl. 1 Tim. 1:19) en die vals leerstellings van verleidende geeste en demone navolg. Geestelike dwalings is selde die gevolg van onskuldige foute, want dit word meesal veroorsaak deur die berekende strategieë van God se vyande (vgl. Ef. 6:12). Die leerstellings van duiwels is vals leerstellings wat verkondig word deur misleide persone wat deur demone aangehits is. God se geestelike vyande konfronteer egter nie hulle slagoffers regstreeks met dwalings nie, maar benader hulle deur middel van skynheilige leuenaars – dit is Satan se standaard metode (vgl. 2 Kor. 11:13-15). Hy identifiseer geskikte verteenwoordigers en skroei hulle gewete heeltemal dood, soos met ’n brandyster (vgl. Ef. 4:19). In hierdie toestand is hulle gereed om Satan se werk te doen.”
Die Bybel gee duidelike raad aan gelowiges oor hoe om sonde, versoekings en misleiding te oorkom. Indien hierdie riglyne gevolg word, sal sonde nie gedoen word nie, en gevolglik sal die duiwel en sy medewerkers nie in hulle doel met ons slaag nie.
Kruisig die vlees: Die ou, sondige natuur van gelowiges moet afgelê en gekruisig word indien ons ten volle met die nuwe mens in Christus beklee wil word (Ef. 4:22-24; Luk. 9:23; Gal. 6:14). ’n Volle oorgawe van hierdie aard staan ook as “heiligmaking” bekend en dit is die enigste manier waarop ons onsself van sonde kan weerhou: “Want dit is die wil van God: julle heiligmaking; dat julle jul moet onthou van die hoerery ... Want God het ons nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligmaking. Daarom, hy wat dit verwerp, verwerp nie ’n mens nie, maar God wat ook sy Heilige Gees aan ons gegee het” (1 Thess. 4:3, 7-8). Die “oue mens” of die “vlees” is geneig tot bose gedagtes en dade, en daarom ’n natuurlike bondgenoot van die duiwel. Indien die vlees nie gekruisig word nie, sal dit die werk van die Heilige Gees in ’n gelowige teëstaan (Gal. 5:17). Dit sal hom geestelik kragteloos en onvrugbaar in die diens van die Here maak, en gevolglik sal hy nie in staat wees om teen die vlees met sy hartstogte te kan oorwin nie. Die sleutel tot ’n regverdige en oorwinnende wandel met God is nie die uitwerping van demone nie, maar die afsterf van die vleeslike natuur met sy begeertes.
Word met die Gees vervul: Die teenoorgestelde van ’n lewe onder die invloed en beheer van die vlees, is ’n lewe wat met die Heilige Gees vervul is: “Moenie dronk word van wyn nie – daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul” (Ef. 5:18). Die vervulling met die Heilige Gees is die tweede aspek van heiligmaking – die eerste is die kruisiging van die vlees. Hierdie opdrag is aan Christene gegee wat reeds die Heilige Gees ontvang het omdat hulle deur Hom wederbaar is, maar hulle was nog nie met die Gees vervul nie. Ons moet almal onsself ondersoek, op die Here wag, en Hom vertrou om ons toe te rus met krag uit die hoogte (Luk. 24:49; Hand. 1:8). Mense wat nalaat om oor te gaan tot hierdie stap van volle oorgawe is soms verkeerdelik daartoe geneig om duiwels uit hulleself te laat dryf ten einde versoekings, sonde en bose begeerlikhede te oorkom.
Wandel deur die Gees: Ons daaglikse lewe moet onder die leiding van die Heilige Gees gelei word. As dit die geval is, sal ons nie struikel nie: “Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie” (Gal. 5:16). Om dit te kan doen, moet ons streng in die voetspore van die Here Jesus volg: “Beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie” (Rom. 13:14). Elke besluit wat ons neem, moet eers biddend oorweeg word om te verseker dat dit aan Bybelse riglyne voldoen.
Toets die geeste: Elke idee of leerstelling wat na ons toe kom, moet eers vir die egtheid daarvan getoets word. Elke ware stelling word deur die Gees van die waarheid ondersteun, terwyl elke misleidende idee gedryf word deur ’n gees van dwaling wat van Satan af uitgaan. Omdat ons slegs ten dele ken (1 Kor. 13:12), moet ons baie versigtig wees om nie iets te aanvaar wat selfs net in die geringste mate van God se Woord afwyk nie. Daar is dikwels ’n fyn lyn tussen die waarheid en die leuen. Hoe meer ons onkundig is oor Bybelse waarhede, hoe makliker kan ons mislei word. Ons moenie op ’n naïewe wyse elke lering aanvaar nie, “maar die geeste op die proef stel of hulle uit God is” (1 Joh. 4:1). Alle opinies en uitsprake van mense moet eers getoets word deur dit noukeurig met Bybelse waarhede te vergelyk, en ook deur aanhalings uit die Bybel in hulle volledige konteks te lees. Vals profete haal dikwels tekste uit die Bybel aan, maar verklaar dit buite hulle verband om by vals leerstellings aan te pas.
Weerstaan boosheid: Alle bose gedagtes en dade moet weerstaan word sonder om op enige manier daarmee kompromie te maak: “En hou nie gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis nie, maar bestraf dit liewer” (Ef. 5:11). Alles wat met die koninkryk van die duisternis geassosieer is moet streng verwerp word, omdat bose werke die vrug is van ’n lewe wat op pad is na die verderf. Ons moet goed verstaan dat ’n lewe onder die heerskappy van sonde ons sal uitsluit van die koninkryk van God (1 Kor. 6:10). Daar moet geen goedkeuring of regverdiging vir die werke van die duisternis wees nie – net verwerping.
Waak en bid: Dit is ’n bekende feit dat die duiwel en sy bose geeste by ’n volskaalse oorlog teen die heiliges betrokke is. Terwyl ons steeds in ons menslike liggame is, is ons gedurig blootgestel aan versoekings en verleiding deur ons sintuie. Die Here Jesus het aan sy dissipels gesê: “Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak” (Matt. 26:41). Ons moet bid om van die Bose bewaar te word (Matt. 6:13), terwyl ons hom in die geloof teëstaan: “Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug” (Jak. 4:7; vgl. 1 Pet. 5:8-9).
Bly in Christus: Ons het ’n uitdruklike opdrag om in Christus te bly, en dit impliseer ’n besliste moontlikheid dat gelowiges as gevolg van swak toewyding, weens ’n ongekruisigde vlees, of misleiding deur Satan, kan nalaat om reg op te tree. Christus het gesê: “Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie ... As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand” (Joh. 15: 4, 6). Sommige van die misleide, vleeslike Christene raak heeltemal “van die geloof afvallig” wanneer hulle aan vals leerstellings blootgestel word (1 Tim. 4:1). Paulus sê dat sulke gelowiges in goddeloosheid verval “en aan die geloof skipbreuk ly” (1 Tim. 1:19). Joodse gelowiges wat nie in Christus gebly het nie, het in ’n toestand beland waar hulle “bose en ongelowige” harte gehad het deurdat hulle “van die lewende God afvallig geword het” (Heb. 3:12-14). Diegene wat nalaat om aan hulle getuienis van redding vas te hou, bly nie in Christus nie en kan hulleself mettertyd weer onder die misleide ongelowiges bevind. Eers dan is hulle weer aan die moontlikheid van demoniese besetting blootgestel. Wanneer hulle egter nog gelowiges is, moet hulle net waak teen die beïnvloeding deur demone en sondige werke – nie teen demoniese besetting nie.
Wandel in die lig: Daar moet geen verkeerde gedagtes of skandelike dade wees wat ons in die geheim beoefen nie, want dit sal ons beslis geestelik laat veragter: “As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie. Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde” (1 Joh. 1:6-7). Toegewyde en volhardende gelowiges leef voortdurend onder die versoening, en stel dadelik weer die saak reg indien hulle sondig. Johannes sê: “My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ’n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige. En Hy is ’n versoening vir ons sondes” (1 Joh. 2:1-2).
Trek die volle wapenrusting van God aan: “Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel” (Ef. 6:10-11). Die geestelike wapens staan in verband met die oorwinning wat in Christus aan ons belowe word, ’n sterk geloof in Hom, die krag van gebed, en ’n onwankelbare vertroue in die beloftes in sy Woord. Indien ons suksesvol is in hierdie oorlog, sal ons nie deur die vyand teruggedryf word nie, maar onder die oorwinnaars wees wat eendag saam met Christus sal regeer: “Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom. En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee” (Op. 2:25-26).
Hoop volkome op die genade van Christus: Paulus sê: “So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here. Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie. En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God. Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade” (Rom. 6:11-14). Gelykvormigheid aan die dood van Jesus Christus open die weg tot gelykvormigheid aan sy oorwinnende opstandingslewe. In Christus Jesus is ons nie meer onder die wet (of mag) van die sonde waardeur mense aan Satan se koninkryk van die duisternis verbind word nie – en ons is ook nie onder die Ou-Testamentiese wet wat slegs kennis van die sonde bring maar geen verlossing daarvan nie. Ons word geroep om onder die bevrydende krag van Christus se genade te leef (1 Pet. 1:13-16; Tit. 2:11-14).
Gelowiges moet hulle oë gevestig hou op die hemelse Verlosser. In die nabye toekoms sal daar op aarde ’n groot konfrontasie plaasvind tussen die komende vals christus van Satan se koninkryk, en die komende ware Christus van God se koninkryk. Die huidige geestelike oorlog tussen hierdie twee koninkryke sal dan dramatiese fisiese manifestasies hê, en uitloop op die veroordeling en vernietiging van miljoene van Satan se misleide volgelinge. Hulle voorland is die poel van vuur, want “die loon van die sonde is die dood” (Rom. 6:23).