In die lig van die fenomenale invloed wat Satan en sy demone op menselewens uitoefen, is dit uiters belangrik hoe ons hierdie probleem hanteer ten einde die aanslag op ons eie lewe af te weer en te kan oorwin in die stryd. Die Here het aan ons verskeie opdragte oor geestelike weerbaarheid in sy Woord gegee, bv. dat ons aan die duiwel en sy idees geen plek moet gee nie (Ef. 4:27), dat ons hom, sy versoekings en pogings tot misleiding deur sy medewerkers moet weerstaan (Jak. 4:7; Matt. 24:4), dat ons moet besef dat dit ’n geloofstryd is waarin ons van geestelike wapens gebruik moet maak (1 Pet. 5:8-9; 2 Kor. 10:3-5), dat ons soos soldate moet wees wat ’n volle wapenrusting aantrek, en dat ons boweal deur die Heilige Gees bekragtig moet word om die goeie stryd van die geloof suksesvol te kan stry (Ef. 6:10-11; 1 Tim. 6:12).
Daar is ongelukkig nie eenstemmigheid onder Christene oor hoe hierdie stryd gestry moet word nie, omdat nie almal van hulle die Bybel dispensasioneel reg verstaan nie. Daar is bv. ’n groot groep Christene wat nie besef nie dat die koninkryksbedeling in God se raadsplan vir die mens eers ná Christus se wederkoms sal aanbreek nie, omdat Hy eers as Koning van die konings moet terugkeer om die Antichris se koninkryk te vernietig, die duiwel te laat bind, en die troon van Dawid in Jerusalem te herstel.
Diegene wat nie die futuristiese beskouing oor die openbaring van God se koninkryk huldig nie, meen verkeerdelik dat die duiwel nou reeds in ’n put gebind is, dat die kerk bemagtig is om alle oorblyfsels van hierdie bose koninkryk uit samelewings te verwyder, en dat Christene groot magte moet beoefen en nou soos konings moet regeer. Hulle maak van onbybelse metodes van strategiese geestelike oorlogvoering gebruik om, veral tydens transformasiebyeenkomste en gebedsmarse, die duiwel en sy demone uit ’n stad of land te probeer verdryf. Daar word eers kortliks na hierdie misleidende gebruik verwys voordat die Bybelse vorm van geestelike oorlogvoering, wat primêr op die behoeftes van die individu gerig is, beskryf word.
Daar is ’n groeiende beweging onder Christene wat daarop ingestel is om deur gebed en strategiese geestelike oorlogvoering die vestings van Satan bokant dorpe, stede of selfs hele lande te verbreek en die duiwel te verdryf. Hierdie vestings word verbind aan sg. gebiedsdemone, of te wel territoriale demone (Otis, 1997). Spesifieke gemeenskapsondes word aan dié vestings gekoppel, bv. vreemde gelowe, towery, voorvaderaanbidding of misdaad. Daar word geglo dat wanneer hierdie bose vestings neergewerp en hulle mag verbreek is, die geestelike verblinding oor mense sal verdwyn en ’n groot Christelike herlewing sal uitbreek waarin omtrent alle mense in die betrokke gebied tot bekering sal kom. Die hele samelewing sal dan ’n Christelike transformasie ondergaan, bygeloof en armoede sal verdwyn, tronke leegloop, ens.
Die vaders van die Transformasiebeweging is George Otis van die Sentinel-groep in Amerika (Malan 2000), asook Peter Wagner van die”World Prayer Center” in Colorado Springs (Wagner, 2000). Peter Wagner het rondom die draai van die eeu ’n gebedsgroep na Turkye geneem om die vestings van Islam daar neer te werp en het daarna die land vry van onderdrukkende demoniese invloede verklaar. Sedertdien het die geestelike ingesteldheid en die houvas van Islam geensins in dié land verander nie en die verwagte herlewing en Christelike transformasie het nooit plaasgevind nie. Soortgelyke aksies is ook al sonder sukses in Suid-Afrika en verskeie ander lande in die wêreld onderneem, en daardeur is net valse verwagtings geskep.
As ’n eerste stap word geestelike kartering gedoen waarin die tipiese sondes van die gemeenskap beskryf word. Dit word as bose vestings beskou wat in die geloof afgebreek moet word sodat die gemeenskap bevry kan word. Nadat die vestings van boosheid afgebreek is, word hekwagters (Eng. gatekeepers) aangestel om op die belangrikste toegangsroetes, asook by lughawens, stelling in te neem om te voorkom dat die demone na die bevryde gebiede terugkeer en weer beheer daaroor verkry.
Strategiese geestelike oorlogvoering is een van verskeie vorms van die sg. koninkryksteologie. Hierdie mense neem beloftes wat betrekking het op die geopenbaarde koninkryk van Christus ná sy wederkoms (m.a.w. die duisendjarige Vrederyk), en pas dit dan verkeerdelik toe op die kerkdispensasie. Sommige van hierdie beloftes is dat die duiwel gebind sal wees sodat hy die nasies nie kan verlei nie (Op. 20:2-3), sonde, misdaad en oorlogvoering sal verdwyn (Jer. 3:17; Jes. 2:4), die aarde sal vol wees van die kennis van die Here (Jes. 11:9), hele stede en lande sal die Here dien (Sag. 8:20-21; Jes. 19:23-25), en Christene sal saam met die Here Jesus as konings op aarde regeer (Op. 5:9-10; 20:6).
Sekere kerkvaders en teoloë het die verkeerde siening verkondig dat die koninkryksbedeling wanneer die duiwel gebind sal wees, nie ná die wederkoms van Jesus eers sal aanbreek nie, maar betrekking het op die tydperk tussen sy eerste en tweede koms (die kerkbedeling). Volgens hulle is die duiwel nóú gebind en wil die Here die wêreld deur middel van sy kerk oorneem en regeer. Ons moet slegs deur hierdie visie aangespoor word en begin om die duiwel van die planeet aarde af te verdryf sodat ons ’n Christelike wêreld tot stand kan bring. Vir hierdie doel sal die Here profete en apostels opwek wat die Christendom sal verenig en groot tekens en wonders sal doen om daardeur hulle bonatuurlike krag te vertoon.
As gevolg van hulle onbybelse sienings oor geestelike oorlogvoering het verskeie van hierdie beweging se leiers in ekstreem-charismatiese denke en gebruike vasgevang geraak. Hulle herlewingsvisie is op ’n dramatiese vertoon van buite-Bybelse openbarings en tekens gebaseer, en dit het as gevolg hiervan heeltemal in ’n ervaringsteologie ontaard. Dit is ook uitgesproke ekumenies, omdat die einddoel daarvan is om verenigde stadskerke tot stand te bring. Peter Wagner verwys selfs na die post-denominasionele kerk van die 21ste eeu, waarin alle denominasies sal saamvloei. Hy praat ook van die “apostoliese herlewing” waarin apostels en profete deur die Here opgewek en met spesiale magte beklee sal word om oor die verenigde kerk te regeer. Om hierdie rede moet daar gereeld massabyeenkomste in stadions gehou word, sodat Christene kan leer om saam te werk en van hulle teologiese verskille te vergeet. Die hele beweging is dus op kompromie gebou, ter wille van die visie dat die verenigde kerk van Christus nóú die wêreld moet oorneem en regeer. (Vir meer inligting oor die Nuwe Apostoliese Reformasie, kyk Simpson, 2012).
Die feit is egter dat ons in hierdie bedeling vreemdelinge en bywoners is in ’n wêreld wat in die mag van die Bose lê (1 Joh. 5:19). Ons sal nie die wêreld oorneem en regeer nie, maar inteendeel deur die wêreld gehaat en vervolg word (Joh. 15:19). Die Bybelse weergawe van geestelike oorlogvoering wat in hierdie hoofstuk bespreek word, het ’n persoonlike toepassing deurdat die Here individue van sonde en versoekings verlos en hulle toerus om in die stryd staande te bly. Hulle sal nie die wêreld oorneem nie, maar onder moeilike omstandighede ’n behoudende rol in ’n verdorwe wêreld vervul (Fil. 2:15). Ons is nie konings en heersers nie, maar soldate vir die kruis. Terwyl ons heiliger word, sal die wêreld al hoe boser word (Op. 22:11).
Elke ware Christen wat deur die wedergeboorte van die heerskappy van Satan bevry is, is in ’n geestelike stryd teen die mag van die Bose gewikkel. Nie een Christen is van dié stryd gevrywaar nie. Om hierin te kan oorwin, moet daar doelbewus in die krag van die Here teen die Bose weerstand gebied word:
“Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly” (Ef. 6:10-13).
Die wapenrusting van God is standaard toerusting vir alle gelowiges om die goeie stryd van die geloof te kan stry. Paulus verwys nie na spesiale toerusting wat slegs vir diegene bedoel is wat met demoniese besetenheid te doen het nie. Hy het die gewone, alledaagse stryd van die gelowige in gedagte.
Hoewel hierdie stryd op ’n geestelike vlak gevoer word, is dit ’n baie werklike stryd teen ’n groot en gedugte mag van demone onder die aanvoering van Satan. Die omvangrykheid van die geestelike oorlog blyk uit die feit dat dit van vyf fronte af teen gelowiges gemonster word. In elke geval neem die vyand ’n ander gedaante aan en pas ’n verskillende strategie toe om sy verleidings- en ondermyningswerk te kan doen. In die vyf hoedanighede kom Satan of een van sy trawante as: teëstander, verleier, misleier, berower, of aanklaer.

Op elk van hierdie vyf terreine moet ons die gedaante en werkswyse van die vyand korrek kan identifiseer sodat daar doeltreffend teen hom weerstand gebied kan word.
In die eerste en belangrikste opsig van die stryd word die duiwel beskryf as die Christen se teëstander, wat sy ondergang of skade op alle lewensterreine soek: “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu en soek wie hy kan verslind. Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof” (1 Pet. 5:8-9).
Hierdie posisie van konfrontasie is onvermydelik: die duiwel is ons teëstander wat ons op allerlei wyses beveg en struikelblokke in ons weg werp. Ons opdrag is om hom in die geloof te weerstaan en dus ook sý teëstander te wees. Ons moet nie ons oë sluit vir sulke situasies deur dit weg te redeneer nie. Baie mense skryf probleme van dié aard aan omstandigheidsfaktore of ander oorsake toe, en sien nie die aandeel van die vyand van hulle siele raak nie. Sulke mense soek ook nie na geestelike oplossings vir hulle probleme nie. Hulle hoop maar vir die beste en aanvaar neerlae op ’n fatalistiese wyse. Hulle is by voorbaat verloorders in die stryd.
Die intensiteit van Satan se teëstand ken geen perke nie, want as mensemoordenaar streef hy daarna om mense dood te maak. Oorloë, gevegte, noodlottige ongelukke, selfmoord, bakleiery en verskeie ander metodes word deur hom gebruik om sy moorddadige motiewe ten uitvoer te bring. Hy het nie onbeperkte mag oor mense nie, maar binne sy beperkte beweegruimte werk hy met groot lis om sy doel te bereik. Satan en sy demone gebruik ook ’n groot aantal langsame metodes waardeur hulle mense se lewens verwoes, soos bv. drank, dwelmmiddels en tabak.
Baie vorms van teëstand word in dié oorlog aangewend om Christene moedeloos te maak, van hulle planne in die diens van die Here te laat afsien, die stryd gewonne te gee en in ’n donker put van depressie te laat wegsink. Hieronder is konflik tussen gesinsgenote, vriende, kollegas en andere. Die bitsige en knaende vyandskap van andersdenkendes, bv. diegene wat godsdienstig en ideologies van iemand verskil, kan ook tot moedeloosheid lei. Sulke persone lê dan óf die strydbyl neer óf handhaaf ter wille van goeie verhoudings en verminderde vyandighede ’n lae profiel.
Die duiwel kan ook aanvalle doen op ’n mens se ekonomiese belange en materiële besittings om jou skade te berokken en moedeloos te maak. Al die veelvuldige wyses waarop hy jou aanval, hetsy deur mense of deur omstandighede, moet in die naam van die Here weerstaan en die stryd teen hom voortgesit word. Volg die voorbeeld van die Here Jesus in hierdie opsig, en stry in sy krag teen die magte van die Bose wat ook deur ander mense werk:
“Want julle moet ag gee op Hom wat so ’n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie. Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie” (Heb. 12:3-4).
Satan is aktief besig om mense tot morele sondes te verlei. Die vleeslike hartstogte en begeerlikhede van die ou natuur word vir hierdie doel uitgebuit. Deur sondige suggesties en die aanwakkering van die sondige natuur word mense tot sondige dade verlei. Hieronder is die volgende:
|
onsedelikheid hoerery owerspel brassery dronkenskap |
toorn twis wraak moord hoogmoed |
eiewaan gierigheid afguns roof diefstal |
omkopery leuens vals getuienis bedrog hebsug |
Die oplossing teen sondes van vleeslike verleiding is waaksaamheid, selfbeheersing en gebed: “Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak” (Matt. 26:41).
Ons moet met groot vrymoedigheid in die gebed tot die genadetroon nader, want die Here Jesus is die Oorwinnaar wat meer as bereid is om ons te help om in die stryd teen versoekings te kan oorwin. Hy weet wat versoekings is, en deur sy krag en outoriteit kán dit oorwin word:
“Deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy dié help wat versoek word” (Heb. 2:18).
“Want ons het nie ’n Hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word” (Heb. 4:15-16).
Ons word ook telkens vermaan om onsself te verloën en die ou natuur te kruisig, anders is ons ’n oop teiken vir morele sondes (Luk. 9:23; Gal. 6:14). Trouens, as ons nié die ou natuur aflê en oorgee om gekruisig te word nie, sal oorwinning oor versoekings ons sekerlik ontwyk:
“Wat die vorige lewenswandel betref, [moet julle] die oue mens aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding ten gronde gaan, en vernuwe word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid” (Ef. 4:22-24). Sonder ’n volle oorgawe van hierdie aard sal jy nog ’n innerlike stryd teen jouself voer en nie die verleidinge van die versoeker suksesvol kan weerstaan nie.
’n Verdere gedaante waarin die Satan teen gelowiges veg, is dié van misleier. Dit het met godsdienstige misleiding en bedrog te doen. Hy buit mense se onkunde uit en dis allerlei godsdienstige leuens aan hulle op om hulle op ’n dwaalspoor te bring. Geestelike verval is die noodwendige gevolg hiervan: “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang” (1 Tim. 4:1).
Verval van hierdie aard is aan die orde van die dag in Christelike kerke (2 Tim. 4:1-4), terwyl geestelike bedrog en leuens ook die grondslag van al die nie-Christelike godsdienste in die wêreld vorm. In die eindtyd sal die gees van dwaling besonder aktief wees om die mensdom te mislei om die Antichris en sy vals profete te vereer en te aanbid: “Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei” (Matt. 24:4-5).
Petrus sê: “Daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ’n vinnige verderf oor hulleself bring; en baie sal hulle verderflikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word” (2 Pet. 2:1-2).
Verderflike ketterye word in baie van die vooraanstaande universiteite se teologiese fakulteite ingevoer, en sodoende word predikante al in hulle studiejare bedrieg en mislei. Dit is vandag algemeen dat Jesus se maagdelike geboorte en Godheid, sy opstanding uit die dood en die belofte van sy persoonlike wederkoms, asook die goddelike inspirasie van die Bybel, openlik en blatant deur ’n groot aantal teoloë ontken word. ’n Ander leuen wat toenemend gehoor word, is dat alle godsdienste dieselfde God aanbid en dus vir dieselfde Wêreldmessias wag. Hierdie leuen kom ook van die vader van die leuens en is daarop gemik om die weg voor te berei vir die koms van die Antichris as die universele Messias vir alle gelowe.
’n Gebrek aan kennis oor wat in die Skrifte staan, is die teelaarde vir godsdienstige misleiding. Dit is egter nie nodig om in onkunde voort te leef nie, omdat die volle waarheid oor geestelike sake in die Bybel opgeteken is: “Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Joh. 8: 32). As ons Hom maar net wil toelaat, sal die Heilige Gees ons in die hele waarheid lei en ook die toekomstige dinge aan ons verkondig (Joh. 16:13).
Die eindtydse vormgodsdienstiges is deur Satan verblind en het deur hulle eie toedoen en onkunde die stryd teen godsdienstige bedrog en leuens verloor. Hulle het vir hulleself leuenpredikers versamel, die oor afgekeer van die waarheid en hulle gewend tot fabels (2 Tim. 4:3-4). Hulle voer dus nie ’n geestelike oorlog teen die leuengees van dwaling nie, maar is reeds as buit weggevoer deur die vyand (1 Joh. 4:1-6).
Een van die belangrike strategieë van Satan is om Christene te beroof. Hy wil hulle geestelik én materieel verarm. In plaas daarvan dat mense geestelik groei en volwasse word in die Here, wil hy hulle verbitterd en moedeloos maak en laat terugval: “Pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie” (Heb. 12:15).
As die duiwel ’n mens van jou sielerus beroof en jou geloof verswak, raak jy verbitterd teen jou omstandighede, teen ander mense en selfs teen God. Dit kan daartoe lei dat jy terugval, jou geestelike bediening staak, en ook die genadeloon verloor wat jy volgens die beloftes in 2 Korinthiërs 5:10 en Openbaring 22:12 vir ’n toegewyde lewe van diensbaarheid by die Here kon gekry het: “Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie” (Op. 3:11; vgl. Op. 2:25).
Johannes waarsku ook dat ons op ons hoede moet wees teen die Berower wat ons van ons genadeloon wil beroof: “Wees op julle hoede, dat ons nie verloor wat ons deur arbeid verkry het nie, maar ’n volle loon ontvang” (2 Joh. v. 8).
Behalwe vir die geestelike skade wat die Berower ’n mens kan aandoen, is hy ook daarop ingestel om jou van jou geld, besittings, gesondheid en baie ander dinge te beroof. Hy weet dat wanneer hy dit doen, jy beperk sal word in die mate waartoe jy die Here kan dien en sy werk op aarde finansieel en andersins sal kan ondersteun.
Die duiwel is inderdaad ’n dief wat kom om in te breek en te steel, en mense op allerlei wyses van hulle erfenis te beroof. Jesus het gesê: “Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê” (Joh. 10:10).
Is jy waaksaam genoeg teen die listige strategieë en verborge planne van die Berower? Besef jy watter groot skade jy jouself én andere kan aandoen deur nie ’n lewe van waaksaamheid en nougesetheid te lei nie? As jy permissief begin leef en ’n agterdeur of venster vir die Berower ooplaat, sal hy inkom en verwoesting saai in jou persoonlike lewe, huishouding, huwelik én werk. Dit kan jou duur te staan kom en in ’n woestyn van neerlaag en moedeloosheid laat beland.
In ’n besondere opsig tree Satan ook as aanklaer op in die geestelike oorlog wat hy teen Christene voer.
In die eerste plek kla hy hulle by die troon van God aan nadat hy hulle suksesvol verlei of mislei het. Satan het dus toegang tot die troon van God, en sal dit hê tot in die middel van die verdrukking wanneer hy finaal neergewerp sal word: “... die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle aankla voor onse God dag en nag” (Op. 12:10).
Wat hierdie aanklagte betref, gee die Bybel aan ons die volgende versekering: “Ons het ’n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige. En Hy is ’n versoening vir ons sondes” (1 Joh. 2:1-2). Ons moet natuurlik sorg dra dat ons in die lig wandel en alle sondes wat ons gedoen het onmiddellik bely (1 Joh. 1:7). Daardeur word Satan weer ontneem van enige invloedsfeer wat hy in jou lewe verkry het.
In die tweede plek kla Satan die Christene ook aan by die ongeredde wêreld waarna Paulus as “die teenwoordige bose wêreld” verwys (Gal. 1:4). Hier word ons gehaat en vervolg. Jesus het gesê: “In die wêreld sal julle verdrukking hê” (Joh. 16:33). Dit is die gevolg van Satan se aanklagte teen die kinders van God. Die doel hiermee is om die Christene in onguns te bring en voorregte soos Christelike onderwys en godsdiensvryheid van hulle te ontneem.
Derdens kla Satan die broeders by mekaar aan in ’n poging om broedertwiste aan te blaas en ’n wig tussen medegelowiges in te dryf. Daar moet geensins aan griewe en wraakgedagtes van hierdie aard toegegee word nie, want dan kry die sielevyand sy sin en benadeel sodoende die werk van die Here. Weerstaan al die onrusstokery van die vyand en bewaar die vrede tussen die broeders: “Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ’n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen” (Kol. 3:13).
Jy moet ’n broeder wat in een of ander opsig struikel “reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie” (Gal 6:1). Ons moet wél weerlê, bestraf en vermaan as dit nodig is, maar dit moet in alle lankmoedigheid en lering geskied (2 Tim. 4:2). Moenie dat die duiwel jou beïnvloed om die broeders te verwerp, te haat en selfs te vervolg nie. Sodoende verswak Satan die Christendom en hou hulle met binnegevegte besig. Só sal ons onsself oneindige skade aandoen en nooit die stryd waartoe ons verbind is, kan wen nie.
In die vierde plek kla die duiwel Christene ook by hulleself aan. Hierdeur poog hy om hulle aan ’n skuldkompleks te laat ly. Hy kla hulle nie net oor hul onlangse sondes aan nie, maar ook oor dit wat lank gelede gedoen is en reeds volkome vergewe is. Deur hierdie ou koeie uit die sloot te grawe probeer hy om ou probleme, griewe en sondes weer te laat herleef en jou op grond daarvan te verdoem en verwerplik te laat voel.
Op hierdie manier takel Satan die vertroue en geloof van ’n persoon af en vestig ’n minderwaardigheidskompleks by hom. Die persoon moet dink dat hy so baie sondes gedoen het dat die Here hom nie meer sal vergewe nie. Ook moet hy dink dat hy so ’n mislukking is dat hy niks vir God kan doen nie. Die suggestie word dan by hom geplant dat hy hom van alle aktiwiteite moet onttrek en ’n lae profiel hou sodat meer bekwame mense die werk kan doen. Wanneer die ongelukkige slagoffer dít doen, het die aanklaer van die broeders in sy doel geslaag. Dan is daar nog ’n soldaat wat uit die linies van die Christendom onttrek het om homself iewers af te sonder en op sy mislukkings, swakhede en verontregting in die lewe te konsentreer. In sy hart is daar ’n wortel van bitterheid wat deur hernude vleeslikheid en negatiewe herinneringe gevoed word.
Ons moet die dinge wat agter is vergeet, die geloofsoog op die Oorwinnaar, Jesus Christus, gevestig hou en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, terwyl ons alle laste aflê én die sonde wat ons so maklik omring. Dit is die pad van oorwinning!
Verkeerde gedagtes is dikwels die oorsprong van sonde in ’n mens se lewe, en dit verleen aan Satan ’n vastrapplek:
“Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie; want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot gehoorsaamheid aan Christus” (2 Kor. 10:3-5; my beklemtoning).
Elke weergebore Christen is by ’n geestelike oorlog teen sonde, vleeslikheid, wêreldgesindheid en ’n dooie vormgodsdiens betrokke. Al hierdie dinge is vestings van Satan waardeur hy werk om sy koninkryk te bevorder.
Die vier teikens wat in 2 Korinthiërs 10:4-5 genoem word, is ten nouste aan mekaar verbonde. Wanneer ’n vesting van sonde val, dan val daarmee saam die planne (strategie), skanse teen die waarheid (morele regverdiging) én die rebelse gedagtes (verkeerde idees) waaruit dit ontstaan het. Christene wat die oprigting van sondige vestings in hulle lewens wil voorkom, moet dus by die vertrekpunt van sonde weerstand bied, naamlik op die gedagtevlak. Hierdie vier vlakke is só met mekaar geskakel:
Verkeerde idees en voornemens is die vertrekpunt vir sondige dade. Hierdie gedagtes en slegte begeertes kan uit die mens se eie onderbewussyn en vleeslike natuur na vore kom, want: “... elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde” (Jak. 1:14-15).
Dit wat ek met my oë sien, is dikwels die oorsaak van sonde (Matt. 5:28; 1 Joh. 1:15-16). Verleidende gedagtes kan ook uit verkeerde leesstof en opruiende of moreel afbrekende gesprekke voortspruit: “Moenie dwaal nie; slegte gesprekke bederf goeie sedes” (1 Kor. 15:33).
’n Ander bron van sondige gedagtes is regstreekse beïnvloeding deur die duiwel. Hy kan vurige pyle op jou afstuur (Ef. 6:16) waardeur hy jou gedagtes verwar en onchristelike suggesties by jou plant. Soms kan hierdie gedagtes selfs goed of onskuldig voorkom, maar dan is dit in werklikheid ’n bedekte aanval op jou Christelike waardes. Om hierdie rede moet alle gedagtes ondersoek en tot gehoorsaamheid aan Christus onderwerp word. Die duiwel slaag dikwels daarin om Christene se gedagtes geweldig te laat dwaal wanneer hulle bid of na ’n goeie boodskap luister.
Omdat sonde by gedagtes begin, moet elke gedagte gevange geneem word tot die gehoorsaamheid aan Christus (2 Kor. 10:5). Indien dit nie gedoen word nie, raak hierdie verkeerde gedagtes gevestig en word ’n oorsaak tot sonde.
Indien daar nie teen sondige gedagtes weerstand gebied word nie, beteken dit dat hulle stilswyend aanvaar en mettertyd in jou hart en verstand gevestig raak. Vervolgens soek jy dan morele regverdiging om uitvoering daaraan te gee. Jy beredeneer die saak dan na alle kante toe en begin om jou sondige voorneme goed te praat.
In die proses bou jy ’n skans vir die leuen in jou lewe. Jy gebruik en verdraai selfs die Bybel om morele en godsdienstige regverdiging vir jou beplande dade te kry. Die duiwel het ’n Bybelteks aangehaal toe hy die Here Jesus versoek het (Luk. 4:9-11), en hy gebruik nog steeds hierdie metode om die Bybel te verdraai om ’n skans teen die ware kennis van God op te bou. Só ‘help’ hy jou om in ’n leuen te lewe en jou deur misleiding teen die basiese waarhede in God se Woord te verset.
Sodra die sondige gedagte gevestig én ‘geregverdig’ is moet ’n strategie, of plan van aksie, vir die implementering daarvan uitgewerk word. Daar is geen einde aan die vindingrykheid, bose planne, skelmstreke, geheime ontmoetings en knoeiery waarmee mense vorendag kom om uitvoering aan sondige idees te gee nie. As hierdie planne nie verbreek word nie, word hulle ten uitvoer gebring en kom die sonde tot volle verwerkliking.
Wanneer die sondige daad gepleeg word, word ’n oorwinning vir die magte van die duisternis in die persoon se lewe behaal. ’n Vesting word dan vir die betrokke sonde opgerig waarin dit ingegrawe en verskans word. Die persoon word dan ’n slaaf van daardie sonde en doen dit oor en oor. Dit maak nie saak of dit tabak- of drankverslawing, gewelddadigheid, owerspel, materialisme, leuens, diefstal of wat ook al is nie, maar hierdie sonde kry beheer oor sy slagoffer en regeer hom as’t ware vanuit die vesting wat in sy lewe opgerig is: “... want waar ’n mens deur oorwin is, daarvan het hy ook ’n slaaf geword” (2 Pet. 2:19; kyk ook Joh. 8:34). Met verloop van tyd word die verslawing erger, die vesting van Satan word versterk en nuwe vestings kom by.
Die ontwikkelingspad van sonde wat hierbo bespreek is, volg ’n logiese patroon. Dit begin by die gedagtes wat ongehoorsaam aan Christus is, dan word dit geregverdig, daarna word planne beraam om dit uit te voer, en uiteindelik word die sondige dade gedoen en raak gevestig in jou lewe.
’n Klassieke voorbeeld van hierdie pad van verleiding is die geval van koning Dawid. Hy het ’n mooi vrou gesien bad en haar begeer. Hy het nie hierdie gedagte in die lig van God se Woord beoordeel nie, anders sou hy dit dadelik verwerp het omdat dit strydig is met die wet van die Here: “Jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie” (Ex. 20:17).
Hy was oop vir die ‘voorstel’ wat aan hom gemaak is, en het dadelik na fase 2 oorgegaan. Hierin het hy regverdiging vir die gedagte gevind deur ’n leuenagtige skans teen die kennis van God op te rig en te redeneer dat hy as die koning van Israel enige vrou kon neem wat sy hart begeer.
In fase 3 het hy ’n bose plan beraam om van die vrou se man ontslae te raak en haar dan vir homself te neem. In fase 4 het hy die plan laat uitvoer, die man se dood op die slagveld bewerkstellig en sy vrou gevat. Hierdie vesting van sonde het egter nie lank in Dawid se lewe gebly nie, want hy het hom grondig daarvan bekeer:
“Verberg u aangesig vir my sondes en delg uit al my ongeregtighede. Skep vir my ’n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my ’n vaste gees. Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie. Gee my weer die vreugde van u heil en ondersteun my deur ’n gewillige gees. Ek wil die oortreders u weë leer, dat die sondaars hulle tot U kan bekeer. Red my van bloedskuld, o God, God van my heil!” (Ps. 51:11-16).
Dawid kon homself baie verdriet en ellende gespaar het as hy in ’n vroeë stadium teen sondige gedagtes en begeerlikhede weerstand gebied het.
Baie mense het vestings van sonde in hulle lewens. Vestings van vals godsdienste word op allerlei bedenklike maniere geregverdig, selfs uit die Bybel. Die sonde van materialisme word goedgepraat op grond van die stelling dat ons koningskinders is en alles behoort te hê wat ons oë sien. Sodoende word daar vir die geldgod, Mammon, plek in mense se lewens gegee. Een bose vesting berei die weg vir ’n ander, en almal van hulle word deur subtiele sondige gedagtes aanvaarbaar gemaak.
Die stryd waarin ons gewikkel is teen die sonde, die vlees en die wêreld (almal kanale wat deur Satan gebruik word), word primêr op die geestelike vlak gevoer: “Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie; want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp ...” (2 Kor. 10:3-4).
Daar is ’n magtige arsenaal van ten minste vyf van hierdie wapens van die lig wat vir geestelike oorlogvoering tot ons beskikking is. Ons moet nie net daarvan kennis neem nie, maar ook vaardig word in die gebruik daarvan:
My geloofsverhouding met die Here moet baie sterk en onwankelbaar wees, sodat ek my vertroue onder alle omstandighede volkome in Hom sal stel om van my meer as ’n oorwinnaar in die Here Jesus te maak. Ek moet weet en glo dat Hy wat in my is, groter en sterker is as hy wat in die wêreld is (1 Joh. 4:4).
Sonder geloof in die Oorwinnaar is ek weerloos in die stryd teen sonde en ongeregtigheid. Die volgende Skrifaanhalings onderstreep die feit dat ons in ’n geestelike stryd is waarin ons geloof in die Here ’n kragtige oorwinningswapen teen die Bose en al sy planne is:
· “Want alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof. Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?” (1 Joh. 5:4-5).
· “... neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus” (Ef. 6:16).
· “Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe waartoe jy ook geroep is en die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het” (1 Tim. 6:12).
· “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu en soek wie hy kan verslind. Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof” (1 Pet. 5:8-9).
Blus jy die vurige pyle van die Bose met die skild van jou geloof in die Here Jesus uit, of staan jy oop en bloot as teiken vir al die verwarrende, verleidende en onrein gedagtes wat die Bose op jou afvuur? Verskans jou in Christus teen die aanvalle van die sielevyand: “Die Naam van die Here is ’n sterk toring; die regverdige hardloop daarin en word beskut” (Spr. 18:10). Onthou dat jy net in die Here meer as ’n oorwinnaar kan wees – nooit in jou eie krag nie.
Dit is belangrik om te begryp dat ons oorwinning op die kruisdood van die Here Jesus gebaseer is. Hy het ’n menslike liggaam aangeneem “sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het – dit is die duiwel” (Heb. 2:14).
Die bloed wat Jesus aan die kruis gestort het toe Hy sy lewe afgelê het, het mag oor al die versoekings en planne van Satan. Op grond hiervan kan alle sondes vergewe en die bande daarvan verbreek word: “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade” (Ef. 1:7).
Gedurende die groot verdrukking, wanneer die duiwel met dubbele woede onder mense op aarde werksaam sal wees (Op. 12:12), sal die Christene van daardie tyd wel almal fisies as martelare sterf, maar geestelik sal hulle die Antichris “oorwin deur die bloed van die Lam” (Op. 12:11). Soek jy geestelike beskerming onder die bloed van Christus wanneer die duiwel jou aanval, en bid jy hierdie beskutting ook oor jou geliefdes en andere af vir wie jy intree? Hulle het almal geestelike beskerming dringend nodig.
Die bloed van Christus is geestelik lewegewend (Joh. 6:53-56), dit reinig ons voortdurend van sonde (1 Joh. 1:7), en verleen ook krag in die stryd teen die Bose (Op. 12:11).
Om jou op die Here Jesus en sy oorwinningswerk aan die kruis te beroep, gaan hand-aan-hand met die vrymoedigheid om in die openbaar daarvan te getuig, asook die bereidwilligheid om vir sy Naam te ly: “En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie” (Op. 12:11; kyk ook Heb. 10:35 en 13:13; Matt. 5:14-16).
Getuienis speel ’n uiters belangrike rol in die lewe van die Christen. Daardeur bevestig hy sy geloof en doen ’n basiese geestelike werk waarsonder sy geloof as dood beskou sou kon word (Jak. 2:14-26). Paulus verduidelik die noue verband tussen geloof en getuienis só: “As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding” (Rom. 10:9-10).
Ons het ’n vasstaande opdrag om die Here Jesus se getuies in ’n donker en goddelose wêreld te wees (Joh. 20:21; Hand. 1: 8). Hierdeur is al baie oorwinnings vir die kruis behaal en is die koninkryk van die hemele op ’n kragtige wyse in baie wêrelddele uitgebrei. Sonder Christelike getuienis en prediking sou miljoene mense voortgeleef het in geestelike duisternis, met hulle sinne wat deur die god van hierdie wêreld [die duiwel] verblind word (2 Kor. 4:4).
Nog ’n magtige geestelike wapen wat die Here aan ons gegee het, is gebed: “Die vurige gebed van ’n regverdige het groot krag” (Jak 5:16). Gebed werk saam met geloof: “... hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ’n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word. Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie” (Jak. 1:6-7).
Om oorwinnende gebede te kan bid, moet ons “toetree met ’n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ’n slegte gewete” (Heb. 10:22). Ons moet dus rein en heilig leef. Ons moet ook in die Bybel vasstel wat die wil van die Here is, en in ooreenstemming daarmee bid: “En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil” (1 Joh. 5:14).
Wanneer ek tot die genadetroon nader en myself in gebed aan die genade en almag van God onderwerp, dan vlug die duiwel van my af weg: “Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug” (Jak. 4:7).
Wanneer ek sy aanslae ignoreer, as ’n illusie wegredeneer, dit deur eie krag of slegs met mediese en sielkundige hulp probeer uitskakel, verdiep die probleem en word dit later monsteragtig groot. As ek egter ’n gebedsaak daarvan maak, en ook andere se voorbidding verkry, neem ek my toevlug tot die Here en dan verswak die vyand se greep op my dadelik. Deur volhardende gebed sal ek volkome bevryding verkry, en die sielevyand sal op die vlug slaan. Hy sal later weer terugkom, maar dan behoort ek te weet waar my krag en my sterkte is: in gebed neem ek my toevlug tot die Here wat my altyd sal uitred. As hulp in benoudheid is Hy in hoë mate beproef (Ps. 34:16; 46:2; 65:3).
Die Bybel is ’n belangrike deel van die Christen se geestelike wapenrusting, daarom sê Paulus: “Neem die swaard van die Gees op – dit is die woord van God” (Ef. 6:17). Dit is ’n lewende en kragtige woord wat tot diep in my lewe indring en sy oortuigingswerk daar doen: “Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ’n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart” (Heb. 4:12; kyk ook Joh. 6:63 en Jer. 23:29).
Die Bybel is die finale maatstaf vir die waarheid, en in die lig daarvan beoordeel ek gedagtes as goed of kwaad. Omdat die Woord soos ’n skerp swaard is wat tot in die dieptes van my siel indring, kan dit die aard van my gedagtes en motiewe ten volle openbaar. Dit werk saam met my gewete om aan my te toon wat reg en verkeerd is.
Die evangelie van Jesus Christus is ’n dinamiese krag tot redding vir elkeen wat glo (Rom. 1:16). Dit het die vermoë om elke ongeredde persoon uit Satansmag te verlos as hy daaraan glo. Die Woord het ’n outoriteit en krag wat deur die Here self onderskryf en gewaarborg word: “Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle ja en in Hom amen” (2 Kor. 1:20). Maak seker dat jy elke dag die vrymakende krag van die Woord in jou lewe ervaar en in die lig daarvan wandel: “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Joh. 8:32).
Is jou voetstappe in die Woord van God geanker? “Maak my voetstappe vas in u Woord, en laat geen ongeregtigheid oor my heers nie” (Ps. 119:133).
Ons kán meer as oorwinnaars in die stryd teen die magte van die duisternis wees as ons nie links of regs van die pad van die Here afwyk nie. Verlustig jou in die Here, dan sal Hy jou die begeertes van jou hart gee (Ps. 37:4).
Onthou altyd dat van die veelvuldige bedieninge van die Heilige Gees, daar twee grondliggende redes is waarom Hy jou met krag uit die hoogte wil beklee. Die eerste rede is om jou te bekragtig om ’n getuie vir Christus te kan wees (Hand. 1:8). Die tweede rede is om jou vir Skriftuurlike geestelike oorlogvoering toe te rus en bekwaam te maak, daarom sê Paulus: “… word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel” (Ef. 6:10-11).
Dit is net vanuit die posisie van ’n Geesvervulde lewe dat ons kragtige getuies kan wees wat die Bose oorwin.