Die koninkryk van die duisternis is ’n werklikheid waarvan elke mens kennis moet neem. Satan en sy demone – dit is die gevalle engele wat weens hulle rebellie uit die hemel gewerp is – is in ’n hewige stryd teen God en sy koninkryk gewikkel. Hulle streef na verering en mag. Satan is by uitstek ’n nabootser wat soos God wil wees omdat hy in die plek van God aanbid wil word en oor die heelal wil regeer. In ’n navolgingspoging van die drie-enige God, staan Satan se koninkryk onder die hoofleiding van ’n driemanskap – Satan self, die Antichris, en die vals profeet. Satan stel homself in die plek van God; sy toekomstige wêreldleier, die Antichris, sal in die plek van Christus gestel word; terwyl die vals profeet die bediening van die Heilige Gees sal probeer namaak deur groot tekens en wonders te doen.
Aanvanklik was Satan as Lucifer bekend. Lucifer is as ’n goeie, wyse en wonderskone engel deur God geskape, maar hy het as gevolg van hoogmoed en magsbeheptheid verdorwe geraak. Dit het daartoe gelei dat hy homself met God probeer gelykstel het en sodoende teen sy gesag in opstand gekom het. In Eségiël 28 word die aardse koning van Tirus beskryf, asook Lucifer wat hom aangehits het en dus die werklike mag agter hom was. Altwee van hulle het as gevolg van hoogmoed tot ’n val gekom. Van Lucifer, die ware koning van Tirus, sê die Here:
“Jy was die seëlring van eweredigheid, vol wysheid en volmaak in skoonheid. Jy was in Eden, die tuin van God; allerhande edelgesteentes was jou bedekking … en van goud was die werk van jou kassies en groewe aan jou; op die dag toe jy geskape is, is hulle berei. Jy was ’n gérub met uitgespreide vlerke wat beskut, en Ek het jou gestel op ’n heilige berg; ’n god was jy; jy het gewandel tussen vurige gesteentes. Jy was volkome in jou weë van die dag af dat jy geskape is, totdat daar ongeregtigheid in jou gevind is … Jou binneste [is] met geweld gevul, en jy het gesondig; daarom het Ek jou as onheilige van die godeberg afgedrywe, en Ek het jou tussen die vurige gesteentes uit vernietig, o gérub wat beskut! Hoogmoedig het jou hart geword oor jou skoonheid; jy het jou wysheid verderwe weens jou glans. Ek het jou op die grond gewerp” (Eseg. 28:12-17).
Dit is om die volgende vier redes voor die hand liggend dat daar in hierdie verse van Lucifer gepraat word, en nie van die aardse koning van Tirus nie:
· Hy het in die Tuin van Eden verskyn;
· hy was ’n engel wat beskut;
· hy het vrye toegang tot God se heilige berg gehad;
· hy was sondeloos vanaf die tyd dat hy geskape is totdat hy tot ’n val gekom het.
Die engele wat deur Lucifer mislei is om aan sy rebellie deel te neem en sodoende ook te sondig, is saam met hom uit die hemel gewerp. Hulle ongeregtigheid het hulle ook, net soos vir Lucifer, wesenlik verdorwe en haatlik gemaak. Ná sy val is Lucifer beskryf as Satan, wat God se Teëstander is.
In Jesaja 14 gebruik die Here die val van die koning van Babel om Lucifer, die môrester, se val uit die hemel te beskryf. Babilon is ’n bekende simbool van Satan se koninkryk op aarde, daarom het Satan tydens die aanvanklike vestiging van Babilon in Nimrod gevaar, hom beïnvloed om ’n geweldenaar te word, en in sy grootheidswaan ’n stad en ’n toring te bou waarvan die spits tot aan die hemel reik. Só kon die gevalle mens oor die hele aarde heers, na die hemel opklim en homself met God gelykstel (Gen. 11:4-8).
In die later geskiedenis van Babilon was die stad steeds die simbool van ’n magtige koninkryk wat vyandig teenoor God se koninkryk was, en volgens Openbaring 18 sal dit in die eindtyd weer herbou word en sy goddelose heerskappy oor die nasies van die wêreld voer. Die demoniese konnotasie van hierdie bose stad blyk duidelik uit profesieë oor sy finale val: “Geval, geval het die groot Babilon, en dit het geword ’n woonplek van duiwels en ’n versamelplek van allerhande onreine geeste” (Op. 18:2).
Deur al die eeue heen was Lucifer die werklike koning van Babel, asook van die verborge, geestelike Babilon van vals gelowe. Die menslike tiranne wat in Babilon regeer het, was almal verpersoonlikings van hom en het sy rebellie, geweld, godsdienstige selfverheffing en afgodediens tot groot uiterstes gevoer. Dit is paslik dat Lucifer se val uit die hemel met die val van Babel se koning vergelyk word, omdat sy koninkryk gedoem is om onder te gaan. Uit die konteks is dit feitelik afleibaar dat Lucifer hier ter sprake is, omdat die aardse koning van Babilon nooit die môrester (lucifer) was wat op die berg van samekoms in die hemel gesit en homself met God gelykgestel het nie:
“Hoe het jy uit die hemel geval, o môrester, seun van die dageraad! Hoe lê jy teen die aarde neergeslaan, oorweldiger van nasies! En jý het in jou hart gesê: Ek wil opklim in die hemel, en my troon verhef bo die sterre van God en sit op die berg van samekoms in die uithoeke van die Noorde. Ek wil opklim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste! Ja, in die doderyk sal jy neergewerp word, in die diepste plekke van die kuil! Die wat jou sien, beskou jou, hulle let op jou en sê: Is dit die man wat die aarde laat sidder het, koninkryke laat beef het? Die wêreld soos ’n woestyn gemaak en sy stede verwoes het?” (Jes. 14:12-17).
Dit moes ’n dramatiese en skielike gebeurtenis gewees het toe Lucifer en sy engele deur God uitgewerp is. Johannes sê hy het ’n derde van die sterre van die hemel met hom saamgesleep (Op. 12:4), wat daarop dui dat hy aansienlike mag het. Die gevolge van Lucifer se uitwerping uit die hemel was geweldig. Hy het op God en sy koninkryk wraak gesweer deur God se skeppingswerk oral aan te val en te verwoes. Hierdie oorlogsverklaring het finaal van hom Satan gemaak wat homself in regstreekse opposisie teenoor God gestel het. Hy wil veral die mens wat na die beeld van God geskape is, in sy mag kry en uiteindelik verwoes, daarom beskryf die Here hom as ’n mensemoordenaar van die begin af (Joh. 8:44).
Ná sy uitwerping uit die hemel is hy in die posisie gestel om sy ware karakter ten volle te ontbloot en sodoende die maat van sy ongeregtigheid vol te maak. Dit het hy deur middel van sy verleidings- en verwoestingswerk onder mense gedoen. Die natuurlike skepping ly ook as gevolg van die sondeval en die vernielsugtige dade van die duiwel en sy menslike trawante (Rom. 8:20).
Tydens die sewe jaar lange bewind van die Antichris sal Satan sy grootste aanslag op die mensdom loods: “Wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het” (Op. 12:12). Baie mense sal as gevolg van oorloë, pessiektes, hongersnode en ander onleefbare toestande sterf, en die aarde sal in ’n woesteny omskep word.
Satan se val, soos in Eségiël en Jesaja beskryf, vind in verskillende stadiums plaas. Dit sal ’n verdere dimensie verkry wanneer hy aan die einde van die groot verdrukking, tydens die wederkoms van Christus, vir ’n duisend jaar lank in ’n put gebind word (Op. 20:1-3). Dan sal van hom gesê kan word: “Is dit die man wat die aarde laat sidder het, koninkryke laat beef het? Die wêreld soos ’n woestyn gemaak en sy stede verwoes het?” Aan die einde van die duisend jaar, nadat hy vir ’n kort tydjie losgelaat is, sal Satan en al sy aanhangers vir ewig in die poel van vuur gewerp word.
Dit is belangrik om daarop te let hoe Satan progressief in die Bybel geopenbaar word, en hoe dit tot ’n hele paar beskrywende name van hom aanleiding gegee het. Hierdie name is ’n verdere aanduiding van sy motiewe, werkswyse en bose karakter. Satan en sy demone werk uit mistiese sfere, uit die onderwêreld (Luk. 8:31), of uit die lug bokant die aarde (Ef. 6:12), en verkies om ter wille van groter aanvaarbaarheid onder die mensdom hulle ware identiteit te verberg. Aanvanklik het hulle die identiteit van verskeie afgode, en selfs voorouergeeste, aangeneem om te verseker dat mense hulle onwetend sou aanbid en dien deur aan hulle te offer. Hierdie gebruik het deur die eeue heen groot inslag gevind, en in Nuwe-Testamentiese tye is Christene ook ernstig gewaarsku om niks hiermee te doen te hê nie (1 Kor. 10:19-21). Of die misleide mensdom dit besef of nie, hulle dien die duiwel deur hulle vals godsdienstige gebruike.
In die Ou Testament het die heidene ’n groot aantal Baäls (vreemde gode), Astartes (godinne) en ook ander afgode aanbid (Rigt. 2:11-13; 1 Sam. 12:10), en Israel is dikwels verlei om hieraan mee te doen. Die afgodediens is dikwels beoefen saam met okkultiese aktiwiteite soos spiritisme, waarsêery, goëlery en towery, wat alles werke van die duisternis is waarmee die duiwel mense mislei. Israel is ernstig teen hierdie dinge gewaarsku:
“Daar mag niemand by jou gevind word wat … met waarsêery, goëlery of met verklaring van voortekens of towery omgaan nie, of wat met besweringe omgaan, of wat ’n gees van ’n afgestorwene vra of ’n gees wat waarsê, of wat die dooies raadpleeg nie. Want elkeen wat hierdie dinge doen, is vir die Here ’n gruwel … Want hierdie nasies wat jy uit hulle besitting verdrywe, luister na goëlaars en waarsêers; maar wat jou aangaan, die Here jou God het jou nie so iets toegelaat nie” (Deut. 18:10-14).
Sterrewiggelary word ook saam met ander okkultiese aktiwiteite as werke van die duisternis verbied (Jes. 47:12-14).
Daar is in die Ou Testament ook begrippe wat meer regstreeks met die duiwel en sy demone in verband staan, en selfs voorbeelde van openlike Satanisme. Die Hebreeuse woord “sa-ir” beteken “duiwel” en word in Levítikus 17:7 en 2 Kronieke 11:15 as “veldduiwel” vertaal. Die King James Bybel vertaal dit as “devil”. “Sa-ir” kan egter ook as ’n “harige bok” vertaal word. In ’n bekende Hebreeuse woordeboek word “sa-ir” as “hairy demon in shape of he-goat” vertaal (Holladay, 1988). In die lig hiervan is dit duidelik dat die duiwel ook as ’n harige bokram voorgestel kan word. In Satanistekringe word die duiwel as ’n swart bok of ’n menslike wese met die kop van ’n bok uitgebeeld. In sommige voorstellings is hy ’n afskuwelike wese wat menslike én dierlike trekke het, maar altyd met bokhorings op sy kop.
Die Ou Testament gebruik ook die woord “sjed” vir “duiwel” (vgl. Deut. 32:17). In Psalm 106:37-38 word ’n antieke vorm van Satanisme beskryf waarin mense hulle kinders aan die duiwels geoffer het: “Bowendien het hulle hul seuns en hul dogters aan die duiwels geoffer en onskuldige bloed vergiet – die bloed … wat hulle aan die afgode van Kanaän geoffer het.” In hierdie geval word afgode en duiwels met mekaar gelykgestel.
As ’n baie duidelike en regstreekse openbaring van die Bose kom sy naam, “Satan” (wat “Teëstander of “Vyand” beteken), net op enkele plekke in die Ou Testament voor. Twee ander beskrywende name van hom wat ook in die Ou Testament voorkom, is “aanhitser” en “aanklaer.” In 1 Kronieke 21:1 lees ons: “Toe het Satan teen Israel opgetree en Dawid aangehits om Israel te tel.” In Sagaría 3:1 word gesê dat Satan aan die regterhand van die hoëpriester, Josua, gestaan het om hom aan te kla. Moontlik verwys Leviátan, die seeslang, of monster in die groot water, ook na Satan (Jes. 27:1).
In die Nuwe Testament word beide die name “Satan” en “duiwel” gebruik. “Duiwel” is afgelei van die Griekse woord “diabolos”, wat “lasteraar” beteken. Ander name wat vir die duiwel in die Nuwe Testament gebruik word, is die Bose (Matt. 13:19), Mammon, die geldgod (Luk. 16:13), die engel van die lig (2 Kor. 11:14), die verleier (Op. 12:9), die vader van die leuens (Joh. 8:44), Apóllion, die vernietiger (Op. 9:11), Beëlsebul, die god van die vlieë (Matt. 12:24), Bélial, die nuttelose of hopelose (2 Kor. 6:15), die aanklaer (Op. 12:10), die mensemoordenaar (Joh. 8:44), die owerste van die mag van die lug (Ef. 2:2), die owerste van hierdie wêreld (Joh. 12:31), die versoeker (1 Thess. 3:5), die slang (Op. 12:9), die draak (Op. 12:9), die brullende leeu (1 Pet. 5:8), en die god van hierdie wêreld (2 Kor. 4:4).
As hoof van die koninkryk van die duisternis het Satan baie bose geeste, of duiwels, onder sy beheer. Sedert die sondeval oorheers en manipuleer hy ook die ongeredde mense wat geestelik in sy mag is. Uit hierdie bose mag verlos die Here ons: “Hy wat ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde” (Kol. 1:13).
Die duiwel probeer alles moontlik om die beheer oor God se skepping oor te neem en dit te verwoes. Hy wil ook die beeld van God in mense vernietig deur hulle geestelik te verblind en van hulle slawe van die sonde te maak. Sy einddoel is om in die plek van God deur alle mense vereer, aanbid en gedien te word. Ook wil hy die Antichris in die plek van Christus in ’n posisie van heerskappy op aarde plaas. In die plek van die Heilige Gees se werk probeer hy om mense deur verleidende geeste te mislei en te laat dwaal. Is jy geestelik toegerus om hierdie stryd te kan stry? Die Bybel sê: “Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel” (Ef. 6:11).
Die geestelike magsposisie wat Satan op aarde verkry het, is die gevolg van die sondeval. Alle mense word met ’n sondegeneigde natuur gebore en rebelleer saam met die duiwels teen God. Hulle is geestelik dood en moreel verdorwe (Rom. 3:10-18). Selfs ná die koms van Jesus Christus verkies die meeste van hulle die duisternis bó die lig omdat hulle werke boos is (Joh. 3:19). Dit is die rede waarom die duiwel die owerste en ook die god van hierdie gevalle, bose wêreld genoem word (Joh. 14:30; 2 Kor. 4:4). Johannes sê dat die hele wêreld in die mag van die Bose lê (1 Joh. 5:19). Satan se invloed is dus enorm, en hy gebruik ’n groot verskeidenheid metodes om die mensdom geestelik te mislei.
Hoewel Satan aan die kruis deur die Here Jesus oorwin is, is hy nog glad nie in ’n put gebind en van die stryd uitgeskakel nie. Sy werke kan deur Jesus Christus in ons lewe verbreek word, en ons kan deur die krag van die Heilige Gees teen die Bose se versoekings en aanvegtinge oorwin. Ons móét egter waaksaam bly en die wapens van die lig aangord. Eers by die wederkoms van Christus sal die duiwel ontneem word van sy magsposisie as die owerste oor ’n gevalle wêreld en in ’n put gebind word. Tot dan sal die stryd voortduur.
Aan die einde van die duisendjarige Vrederyk sal hy vir ’n kort tydjie losgelaat word om die mense van daardie tyd geestelik te toets. Indien hulle nie waarlik weergebore is en aan die Here behoort nie, sal hulle dadelik in Satan se mag val en saam met hom ’n hernude aanval op die koninkryk van God loods (Op. 20:7-10). Dit sal die voorspel tot die eindoordeel wees, wanneer Satan en al sy miljoene volgelinge vir ewig in die poel van vuur gewerp sal word. Indien ons nie sy eindbestemming met hom wil deel nie, moet ons hom en sy bose werke vasberade weerstaan en geen plek vir hom in ons lewe gee nie (Jak. 4:7; Ef. 4:27).
Die veelvuldige openbarings van Satan tydens sy gevalle toestand lewer opmerklike bewyse van sy voortgesette pogings om ’n oorlog teen God en sy koninkryk te voer. Hierdeur probeer hy om groter steun te werf vir sy alternatiewe koninkryk van die duisternis en om homself uiteindelik as alleenheerser oor die heelal te vestig. Hy beskik dus steeds oor aansienlike mag, en dit sal tot ons voordeel strek om sy koninkryk se strukture en werkswyse van nader te ondersoek.
Doelgerigte pogings is reg van die begin van die menslike geskiedenis af deur die duiwel aangewend om mense van God afvallig te maak en vals godsdienste aan hulle te bied waardeur afgode (demone) vereer word. Deur met die sondeval ’n sondige natuur in alle mense se lewens te vestig het hy ’n groot slag geslaan. Hierdeur het hy sy taak om hulle verder te mislei aansienlik vergemaklik.
Tydens die eerste koms van God se Seun na die aarde het Satan ook verskeie kere ’n regstreekse aanslag op Hom geloods in verbete pogings om Hom dood te maak, geestelik te mislei, en ook deur sy eie volk én die wêreld te laat verwerp. Indien die duiwel daarin sou kon slaag om Jesus by sy koninkryk van rebelle in te lyf, sou hy ’n kortpad na sy einddoel van alleenbeheer en wêreldheerskappy verkry het. Die feit dat Jesus in die gedaante van ’n nederige dienskneg gekom het, het die duiwel verkeerdelik laat meen dat Hy dalk ’n sagte teiken vir aanvalle en misleiding sou wees.
Vir die misleiding van Jesus het Satan ’n fyn beplande strategie gevolg wat volgens Lukas 4:1-13 op drie vals argumente gebaseer was. Die feit dat hy nie in sy doel kon slaag nie, het hom nog meer vasberade gemaak om hierdie leuens in die eeue daarna saam met ander misleidingstegnieke vir die Christelike kerk en die hele gevalle wêreld op te dis. Dit is dus nodig om met verskerpte aandag kennis te neem van sy poging om Christus te mislei. Die drie sake wat hy aangespreek het, is die volgende:
’n Voorspoedsevangelie wat op aardse behoeftes ingestel is. Die Here Jesus het 40 dae lank gevas, en toe Hy baie honger was het die duiwel sy grootste fisieke behoefte aangespreek en gesê: “As U die Seun van God is, sê vir hierdie klip dat dit brood moet word” (Luk. 4:3). Jesus het hierdie versoeking dadelik verwerp deur daarop te wys dat die mens se lewe nie net uit die vervulling van sy materiële behoeftes bestaan nie, maar in geestelike vervulling: “Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God” (Luk. 4:4). Ons moet eers die koninkryk van God en sy geregtigheid soek (Matt. 6:33), dan sal ons nie slagoffers wees van Mammon se koninkryk van aardse rykdom en voorspoed nie. As ons God se koninkryk soek, sal Hy die tydelike behoeftes vir ons byvoeg.
’n Onbybelse koninkryksteologie tesame met die aanbidding van ’n vals god. Satan het ’n openlike poging aangewend om Jesus by sy alternatiewe koninkryk in te skakel, mits Hy bereid sou wees om vir Satan as God te aanbid. Die belofte van groot aardse mag en heerskappy is aan Hom gemaak indien Hy tot hierdie drastiese stap sou oorgaan: “Toe bring die duiwel Hom op ’n hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld in ’n oomblik se tyd. En die duiwel sê vir Hom: Ek sal U al hierdie mag gee en hulle heerlikheid, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil. As U my dan aanbid, sal alles aan U behoort” (Luk. 4:5-7).
Die Here Jesus het nie ontken dat Satan weens sy misleiding van bykans die hele mensdom mag oor die aardse koninkryke verkry het nie, daarom het Hy na hom verwys as “die owerste van hierdie wêreld” (Joh. 14:30). Hy het egter tydens sy versoeking pertinent aangedui dat nie Hy of enige van sy volgelinge ’n aardse koninkryk mag aanhang wat vyandig teenoor God se koninkryk is nie, en allermins ook nie die god van hierdie renegaat-koninkryk mag aanbid nie: “Gaan weg agter My, Satan, want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien” (Luk. 4:8).
’n Godsdiens van bonatuurlike tekens en wonderwerke. ’n Finale poging is deur die duiwel aangewend om Jesus te laat afsien van sy rol as nederige Kneg van die Here wat verwerp, vervolg en uiteindelik gekruisig sou word. Om daarvan vry te kom, is voorgestel dat Hy van die hoogste plek op die tempel se dak afspring sodat die volk na aanleiding van hierdie skouspelagtige teken kon sien dat Hy die beloofde Messias is wat deur God gestuur is (Luk. 4:9-12). Jesus Christus het die duiwel weerstaan deur te sê dat ’n mens jou nie aan grootheidswaan moet oorgee deur God te versoek om bonatuurlike kragte aan jou te gee sodat jy jouself daarmee kan verhef en verheerlik nie.
In die lig van hierdie persoonlike aanslag op Christus is dit duidelik dat Satan ’n omvattende plan van aksie het om met alle mag sy oorlog teen God en sy koninkryk voort te sit. Eerstens is dit vir hom ’n oorlewingstryd om sy verdere vernedering en ewige verdoemenis wat in die Bybel voorspel word ongedaan te maak, en tweedens probeer hy die bordjies verhang deur as oorwinnaar uit die stryd te tree en in God se plek heerser van die heelal te word. Met die oog hierop brei hy steeds sy ondersteuningsbasis uit deur onophoudelike pogings om beheer oor alle mense te verkry.
Wanneer Christus aan die einde van die groot verdrukking na die aarde terugkeer, sal die duiwel weer sy visier op Hom persoonlik rig en tydens die slag van Armagéddon teen Hom en sy hemelse leër veg (Op. 16:13-16; 19:19-20). Dit sal egter ’n dag van finale afrekening vir hom en sy miljoene meelopers wees.
Soos wat die einde van die kerkbedeling vinnig nader kom, is dit merkbaar dat Satan ook besef dat die tyd vir hom min geraak het om sy planne uit te voer. Dit is opvallend dat hy die strategieë van verleiding wat Hy in die woestyn op Christus toegepas het, veral nou in die eindtyd intensief op alle mense toespits sodat dit die grondslag vir die openbaring van die Antichris se wêreldryk kan wees:
Kerkgangers word mislei deur ’n voorspoedsteologie van aardse rykdomme te verkondig, en sodoende hulle geestelike denke heeltemal te vervlak. Met hierdie ingesteldheid sal hulle vatbaar wees vir die vestiging van ’n aardse koninkryk nog voordat Christus as Koning van die konings gekom het. Hulle word mislei om ter wille van die realisering van hierdie koninkryk met ander gelowe kompromie te maak op grond van die misleidende veronderstelling dat ons almal dieselfde God aanbid. Hulle besef egter nie dat die duiwel die universele God van alle vreemde (onbybelse) gelowe is nie, en hulle vergeet ook dat daar geen kompromie tussen God en die afgode moontlik is nie (2 Kor. 6:14-18). Wanneer die misleiding so ver gevorder het dat daar ’n alliansie van wêreldgodsdienste tot stand gekom het as deel van ’n sataniesgedrewe, humanistiese wêreldkoninkryk, sal die misleide mensdom wat saam aan die moderne toring van Babel gebou het, ook na kosmiese kragte soek om tekens en wonderwerke te doen.
Al hierdie vals godsdienstige manifestasies sal kenmerkend wees van die Antichris wanneer hy gedurende die laaste sewe jaar voor Christus se wederkoms in ’n magsposisie op aarde sal opstaan. Hy sal aardse skatte en aansien najaag, politieke én godsdienstige beheer oor alle mense verkry, en ook opspraakwekkende okkultiese tekens doen. Sy koms sal wees “volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan” (2 Thess. 2:9-10).
Paulus voeg by dat mense wat deur die Antichris mislei is, doelbewus hulle rug op Bybelse waarhede (en op die ware Christus) sal draai, “en daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid” (2 Thess. 2:11-12).
Dit is vir alle mense van alle tye kernbelangrik om van Satan se verleiding en misleiding kennis te neem, want sonder hierdie kennis kan hulle maklike slagoffers van subtiele leuens word. Die strategieë wat deur die koninkryk van die duisternis gevolg word is almal daarop gerig om God se koninkryk skade aan te doen deur mense van die waarheid afvallig te maak (Heb. 3:12). Hoe meer begrip daar vir hierdie duistere koninkryk en sy beginsels en werkswyse is, hoe beter kan mense hulleself daarteen verweer.