Stryd teen...

Die Koninkryk van Satan

Johan Malan

Augustus 2012

“Die Gees sê uitdruklik dat in die eindtyd sommige afvallig sal word van die geloof. Hulle sal misleidende geeste navolg en die leerstellings van duiwels aanhang” (1 Tim. 4:1; NAB).

 

Inhoudsopgawe

Voorwoord

1. Die Val van Satan

2. Die Koninkryk van Satan

3. Verskillende Geestelike Omgewings

4. Demoniese Aanvalle op Geloof

5. Slawe van Sonde

6. Die Werkswyse van Demone

7. ’n Dertienpuntplan vir Wêreldoorname

8. Opkoms van die Antichris

9. Die Vals Profeet

10. Geestelike Oorlogvoering

Verwysings

Oor die Outeur

Skrifaanhalings kom uit die 1933-vertaling van die Afrikaanse Bybel soos in 1953 hersien, tensy anders vermeld. Aanhalings uit die Nuwe Afrikaanse Bybel word as NAB aangetoon, uit die King James Version as KJV, uit die New King James Version as NKJV, en uit die New International Version as NIV.

 

Voorwoord

Demonologie het ’n omstrede en wyd gedebatteerde onderwerp geword in die sekulêre wêreld sowel as in verskeie kerke en Christelike organisasies. Baie Christene verstaan die Bybelse weergawe van ’n bose koninkryk onder die leiding van Satan (die duiwel) letterlik. Hulle besef die belangrikheid daarvan om teen hom en sy werke weerstand te bied. Aan die ander kant is daar ’n groeiende aantal teoloë en lidmate wat alle Bybelse verwysings na Satan en sy koninkryk as metafories beskou en dus nie in die letterlike bestaan van so ’n koninkryk glo nie. Vir hulle is daar nie ’n duiwel, bose geeste of ’n hel nie, en hulle sien boosheid as vorms van menslike wangedrag wat sosiaal, polities, of sielkundig verklaar moet word.

Onder diegene wat wel die Bybelse beskrywing van ’n sataniese (duiwelse) koninkryk glo, is daar uiteenlopende menings oor presies hoe hierdie koninkryk funksioneer. Sommiges voer aan dat net ongeredde mense duiwelbesete kan wees, terwyl andere meen dat Christene wat tekens toon dat hulle deur sekere sondes gebind is, ook duiwelbesete kan wees en dus van die hulp van duiweluitdrywers afhanklik is. Daar is verskeie sulke “bevrydingsbedienings” wat beweer dat hulle demone uit Christene dryf en ook sogenaamde “bloedlynvloeke” verbreek. Aansprake van hierdie aard sal in die lig van Skrifuitsprake beoordeel word ten einde die baie misleidende idees wat hieromtrent in omloop is uit te wys.

Die mees ekstreme vorm van geestelike verval en die verduistering van mense se ingesteldheid en morele waardes, is die aanbidding en verering van Satan as ’n rebelse en wettelose wêreldheerser. Persone wat hierby betrokke is, word Sataniste genoem. Hulle vertoon ’n onbeheerste neiging tot boosheid, gewelddadigheid en uiterste vorms van immoraliteit; en hulle neem deel aan okkultiese aktiwiteite soos die oproep van demone, asook rituele moorde en bloedoffers aan Satan.

Satan, die duiwel, maak gebruik van ’n breë spektrum van ‘harde’ en ‘sagte’ metodes waardeur hy sy doel van magsbeheer oor die mensdom probeer bereik. Hy wil hulle in sonde laat leef. “Sonde” dui op alle gesindhede en dade wat in stryd is met God se heiligheid en geregtigheid. Die duiwel is die oorsprong en outeur van sonde, daarom is hy die groot teëstander van God. Om sy werke te doen, beteken om met hom saam te span in sy stryd teen God. As gevolg van die sondeval is die hele mensdom tot die duiwel se bose werke geneig: “Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie” (Rom. 3:10).

Alle mense is dus in ’n mindere of meerdere mate betrokke by sonde, op grond van regstreekse of onregstreekse invloede wat vanaf Satan se koninkryk op die hele mensdom inwerk. Trouens, feitlik die hele wêreld het in die slawerny van sonde vasgevang geraak, en dit alleen is vir ons n vaste en onomstootlike bewys van Satan se alternatiewe koninkryk van die duisternis wat in n verborge, geestelike sfeer werksaam is.

Om die bestaan van hierdie koninkryk te ontken, kom daarop neer om ook die bestaan van alle boosheid te ontken. Die feit dat daar in alle kulture en gelowe ’n konkrete begrip en verklaring vir boosheid is, is genoegsame bewys dat omtrent alle mense van een of ander vorm van bose werkinge bewus is, en in terme van hulle eie beskouings en tradisies na ’n oplossing hiervoor soek (vgl. Wikipedia 2012c).

Ook uit ’n Christelike oogpunt word die realiteit herken dat daar in die wêreld n bose mag aan die werk is wat God se skepping probeer verwoes en van alle mense slawe van die verdorwenheid en volgelinge van “die god van hierdie wêreld” wil maak (vgl. 2 Kor. 4:4). Ons groot opdrag is om geen plek vir die duiwel te gee nie (Ef. 4:27), en dit vereis dat ons selfs ten bloede toe weerstand sal bied in ons stryd teen die sonde (Heb. 12:4).

Johannes sê: “Hy wat die sonde doen, is uit die duiwel, want die duiwel sondig van die begin af” (1 Joh. 3:8). Diegene wat aanhoudend in sonde leef, verkeer onder die mag van Satan en vertoon sy bose karakter in hulle optrede. Die duiwel versterk ook voortdurend sy greep op sy slagoffers.

In hierdie boek word die ontstaan, werkswyse en doelstellings van Satan se koninkryk in oënskou geneem – asook die verweer wat ons daarteen het. Die sonde wat uit die koninkryk van die duisternis voortvloei is die heel eerste saak waarvan die Heilige Gees ons oortuig wanneer ons vir redding na Jesus Christus gelei word, sodat ons daarvan verlos kan word. Die geregtigheid van Christus word teenoor ons sonde gestel, en behels ’n totaal nuwe lewe waarmee ons in die plek van ons sondige verlede beklee moet word (Joh. 16:8).

Die Here Jesus het gekom om die werke van die duiwel te verbreek (1 Joh. 3:8). Hy het “Homself gegee vir ons sondes, sodat Hy ons kan uitred uit die teenwoordige bose wêreld, volgens die wil van onse God en Vader” (Gal. 1:4). Hoe kan ons uit die duisternis van verlorenheid verlos word indien ons nie die volle omvang van ons probleem begryp nie, en dalk nie eers van die bestaan van die Verleier van die nasies bewus is nie? (Vgl. Op. 20:3.)

Alle mense word met n sondige natuur gebore en het dus van jongs af ’n ingesteldheid om te sondig. Indien hierdie neiging nie verbreek word nie, kan dit lei na groter oorheersing deur die sonde, asook die aanleer van verdere en meer verslawende sondes. In sekere gevalle lei dit ook tot ’n obsessie met okkultiese aktiwiteite. Ons word egter gewaarsku om nie op die pad van sonde voort te gaan en “die dieptes van Satan” te leer ken nie (Op. 2:24). Die New International Version verwys na “Satan’s deep secrets” waarvan ons so ver as moontlik moet wegbly.

Afgesien van die meer algemene vorms van geestelike en morele verdorwenheid is daar ook diep geheimenisse en kragte van Satan waarin mense nie uit nuuskierigheid of ter wille van okkultiese vermoëns moet delf nie. Satan kan wel sy volgelinge bemagtig om sekere bonatuurlike dinge te doen, maar wanneer hy hulle klaar gebind en gebruik het, vernietig hy hulle gewoonlik. Sy dissipels dobbel met die dood.

Die opdrag om die duiwel te weerstaan en aan hom geen plek te gee nie (Jak. 4:7; Ef. 4:27), geld vir alle Christene. Ons is in n lewenslange stryd teen hom en sy koninkryk gewikkel, en net deur Jesus Christus kan ons as oorwinnaars uit hierdie stryd tree. Om dit te kan doen, moet ons ons terdeë vergewis van die vyand en sy planne, sodat ons ons geestelike weerbaarheid kan verhoog.

Paulus het gesê dat hy en sy medereisigers alles moontlik gedoen het “sodat ons nie deur die Satan bedrieg sou word nie; want ons is met sy planne nie onbekend nie” (2 Kor. 2:10-11). Ons moet altyd demonies-geïnspireerde teëstand verwag wanneer ons met die werk van die Here besig is, soos wat Paulus deurgaans ervaar het: “Want n groot en kragtige deur het vir my oopgegaan, en daar is baie teëstanders” (1 Kor. 16:9).

Neem kennis van die volle omvang van hierdie stryd sodat jy ook “die goeie stryd van die geloof kan stry” (1 Tim. 6:12). Judas vermaan ons “om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is” (Jud. 1:3). In Christus kan ons meer as oorwinnaars wees (Rom. 8:37), want Hy is die Groot Oorwinnaar oor die duiwel en sy magte.

Onkunde oor dié stryd is ’n seker manier om die knie voor Baäl te buig. Ongelukkig besef relatief min mense dat ons ’n teëstander het, en dat ons die volle wapenrusting van God moet aantrek om teen sy liste te kan staande bly. Hulle weet nie regtig hoe hy te werk gaan nie, en weet gevolglik nie hoe om hulle geestelike weerbaarheid te verhoog nie. As gevolg hiervan is hulle nie in staat om sy aanvalle en verleiding raak te sien nie – veral nie as hy in ’n onskuldige gedaante soos ’n engel van die lig kom nie. Dit is tot die eer van die Here én in die direkte belang van ons eie siele om hierdie stryd met insig te stry sodat ons vir die duiwel en sy werke geen plek in ons lewe sal gee nie.

Hierdie boek sal jou help om presies dit te doen.

Johan Malan