Afdeling F: Gelowiges se Toekomsverwagting

Dit is nodig dat ons Bybelse profesieë reg sal verstaan, sodat ons seker kan maak dat ons ook reg daarop reageer. Baie mense vergeestelik omtrent alle profesieë en ontneem hulleself sodoende van verskeie konkrete beloftes wat die Here aan sy dissipels gemaak het. Die gevaar is dat sulke mense Bybelse werklikhede oor die eindtyd wegredeneer en dan hulle eie beskouings in die plek daarvan stel. Binne hulle alternatiewe scenario jaag hulle ’n ander, mensgemaakte koninkryk na en erken glad nie die feit dat die wêreld al hoe slegter word en op die openbaring van die Antichris en die begin van die verdrukking afstuur nie.

Te midde van al die slegte nuus oor eindtydse oordele wat gaan lei na ’n groot verdrukking soos wat daar nog nooit was nie, is daar ook goeie nuus oor die uitredding en beveiliging van Christus se bruidsgemeente (Tit. 2:13; Luk. 21:36). Ware gelowiges is nie vir die oordele bestem nie, daarom sal hulle dit ontvlug en heeltemal daarbuite bly. Die Here gaan nie net ingryp om die goddeloses te oordeel nie, maar ook om diegene wat aan Hom behoort, weg te neem voordat Hy die dwalendes en rebelle straf.

Die finale bestemming en ewige tuiste van alle gelowiges is in die Nuwe Jerusalem. ’n Helder bewussyn van die wonderlike plek waarheen ons op pad is, moet ons motiveer om in die huidige, goddelose wêreld geestelik staande te bly en aan die geloof vas te hou. Die goeie nuus van Bybelse profesieë is dat Jesus Christus ons kom haal en deelgenote van sy ewige hemelse koninkryk sal maak. Die slegte nuus het betrekking op diegene wat nie die goeie nuus aanvaar het nie, en dan as gevolg van hulle eie nalatigheid die voorwerpe van God se toorn sal word.

 

18. Die Toekoms: Wat Kan Ons Verwag?

Daar is twee uiteenlopende benaderings tot die verklaring van Bybelse profesieë, naamlik die vergeestelikte en die letterlike verklarings. Dit lei na totaal verskillende en selfs botsende toekomsverwagtings, daarom is dit noodsaaklik dat elke Christen groter duidelikheid hieroor sal verkry. Ons moet beslis weet wat op ons wag as ons daarvoor gereed wil wees.

Valse verwagtings oor die toekoms lei na ontnugtering, verwarring en ook twyfel oor hoe ons die Bybel moet verstaan. Om geen uitdruklike verwagting te hê nie, lei na geestelike louheid en onbetrokkenheid by die Here se profetiese program. Net ’n suiwer, Bybelse toekomsverwagting help ons om waaksaam te bly en die tekens van die tye reg te vertolk (Luk. 12:54-56).

Die vergeesteliking van profesieë

Die metode tot die vergeesteliking en hervertolking van Bybelse profesieë is subjektief, verwarrend en heeltemal onsistematies. Dit is totaal uit voeling met belangrike profetiese temas soos die herstel van die volk Israel, die opkoms van ’n antichristelike nuwe wêreldorde en die vestiging van ’n letterlike, duisendjarige vrederyk van Christus op aarde. Die vergeesteliking en wegverklaring van ’n vrederyk ná die wederkoms word amillennialisme of antichiliasme genoem (chilios is die Griekse term vir ’n duisend, en mille die Latynse term). Ondersteuners hiervan spreek hulleself uit teen die belofte van ’n letterlike millennium as ’n laaste bedeling in die mens se heilsgeskiedenis.

Hoewel antichiliaste die idee van ’n letterlike duisendjarige vrederyk van Christus ná sy wederkoms verwerp, beteken dit nie dat hulle die openbaring van God se koninkryk op aarde in beginsel verwerp nie. Hulle dwaling kom daarby in dat hulle die koninkryksdispensasie verkeerd vertolk deur dit met die kerkbedeling gelyk te stel. Hulle erken nie die chronologiese orde in die ontvouing van God se profetiese plan nie, en sien gevolglik nie die sistematiese, dispensasionele opeenvolging in die vervulling van Bybelse profesieë raak nie. As gevolg van hulle vooropgestelde dogmatiese oriëntasie maak hulle foutiewe aannames oor wanneer en hoe sekere profesieë vervul gaan word.

Hierdie oordeelsfout lei na ’n baie groot dilemma, want niks wil reg uitwerk wanneer die konsep van God se koninkryk – en spesifiek die fisiese openbaring daarvan – verkeerd verklaar word nie. Die grootste probleme waarmee antichiliaste in hulle eskatologiese beskouings te kampe het, is die volgende:

·        Die toekomstige koninkryksbedeling sal volgens Openbaring 20:4 en 6 ’n duisend jaar lank duur, maar die kerkbedeling waarmee hulle die koninkryk gelykstel, is nou al byna tweeduisend jaar aan die gang. Op watter punt begin en eindig die millennium dan?

·        Christus sal tydens die koninkryksbedeling op die troon van Dawid uit Jerusalem regeer (Luk. 1:32; Hand. 15:16-17; Jes. 9:6), maar hierdie troon is steeds vervalle met niemand wat daarop regeer nie. Antichiliaste neem nie die feit in ag dat die fisiese openbaring van God se koninkryk op aarde slegs kan geskied in assosiasie met ’n ten volle herstelde Israel in die Heilige Land nie. Israel moet dus eers vir Jesus as Messias en Koning aanvaar voordat hulle eie koninkryk én die Messias se koninkryk geopenbaar kan word.

·        Jerusalem sal tydens die koninkryksbedeling die godsdienstige en politieke hoofstad van die wêreld wees, en die Here sal daar deur die nasies geraadpleeg en gedien word (Jes. 2:2-3; Jer. 3:17; Sag. 8:22). In skrille kontras met hierdie situasie is Jerusalem tydens die kerkbedeling bestem om deur die nasies vertrap te word (Luk. 21:24), en kon dit nie in enige opsig die hoofsetel van die Messias se koninkryk gewees het nie.

·        Die fisies en geestelik herstelde Israel sal in die vrederyk die Here se spesiale getuies op aarde wees en almal van hulle sal Hom dien (Jes. 27:6; Jer. 31:34; Sag. 8:23). Tans verwerp die groot meerderheid Jode nog steeds vir Jesus as Messias, en sal hulle eers die knie voor Hom moet buig voordat hulle volkome sy volk sal word wat Hom ook geestelik van harte sal dien (Sag. 12:10; 13:9). Voordat dit gebeur, kan hulle geen rol in die koninkryk van die Messias speel nie.

·        Die kerkbedeling eindig nie met groot herlewings as ’n manifestasie van God se koninkryk op aarde nie, maar met groot geestelike misleiding en ’n groot verdrukking onder die beheer van die Antichris (Matt. 24:21, 29-30; 2 Thess. 2:3-4). Die slag van Armagéddon sal die einde van die verdrukking meebring, wanneer Christus sy vyande sal verdelg (Op. 16:16; 19:19-21). Daar is geen Bybelse aanduiding van groot herlewings reg aan die einde van die kerkbedeling nie.

·        In die koninkryksbedeling sal die duiwel gebind en in ’n put verseël wees sodat hy die nasies nie kan verlei nie. Die name van die afgode sal uitgeroei word (Sag. 13:2), die nasies sal almal in vrede leef en geen oorloë voer nie (Jes. 2:4; Jer. 3:17), die kennis van die Here sal die hele aarde oordek (Jes. 11:9) en Jerusalem sal ’n lof op aarde wees (Jes. 62:6-7). Dit is totaal onrealisties en onbybels om te verwag dat toestande van hierdie aard gedurende die kerkbedeling op aarde sal heers.

Wat doen antichiliaste om die onmoontlikheid van hulle eie profetiese scenario te probeer regverdig, en wat doen hulle om die talle teenstrydighede daarin te verklaar? Hulle wend hulle tot vergeesteliking en allegorisering, sodat hulle van die letterlike implikasies van ’n groot aantal profesieë kan wegkom. Wanneer hulle nie hierin kan slaag nie, verskuif hulle sekere eindtydse profesieë na die verre verlede en sê dat dit eeue gelede (bv. in die tyd van Nero) finaal vervul is. Die volgende misleidende standpunte word onder andere deur antichiliaste ingeneem in ’n poging om hulle onsistematiese eskatologie te probeer regverdig:

·        Hulle aanvaar nie dat Christus se vrederyk ’n duisend jaar lank sal duur nie, ten spyte van die feit dat die lengte van die vrederyk ses keer in Openbaring 20 as ’n duisend jaar aangedui word. Volgens hulle is “duisend” ’n simboliese begrip wat bloot as ’n “lang tyd” vertolk moet word. Geld dit vir alle getalle in die Bybel, soos bv. ook vir die 70 jaar van die Babiloniese ballingskap? (Jer. 25:11.)

·        Die belofte dat Christus die troon van Dawid sal herstel en die wêreld van dié troon af sal regeer, word ook nie letterlik aanvaar nie. Daar word geredeneer dat Christus nou uit die hemel oor sy koninkryk regeer. Van wanneer af is die troon van Dawid in die hemel (Luk. 1:32), en hoe kan die nasies nou na die Koning in Jerusalem optrek om deur Hom onderrig te word? (Jes. 2:2-3; Sag. 8:22.)

·        Die belofte dat al die heiliges opgewek sal word en vir ’n duisend jaar lank saam met Christus in sy koninkryk sal regeer (Op. 5:9-10; 20:6), word ook vergeestelik. Daar word beweer dat die ontslape heiliges nou in die hemel saam met Christus regeer. Hoe vervul mense hierdie funksie as hulle nog nie eers ’n opstandingsliggaam het nie? In Openbaring 20:4 sê Johannes die martelare van die verdrukking “het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank.” Daar is tans nog nie sulke martelare nie, want die Antichris is nog nie geopenbaar nie en sy bewind het dus nog nie eers begin nie. Die eindtydse martelare kan slegs in ’n toekomstige regering saam met Christus regeer.

·        Die honderde beloftes oor die herstel van die volk Israel in hulle land (vgl. Eseg. 36:22-28; 37:21; Jes. 11:11-12; Rom. 11:25-26), word vergeestelik en op die kerk toegepas. Na watter land toe word Christene in die eindtyd herstel? Die Here sê tog duidelik net ten opsigte van Israel: “Ek sal julle bymekaarmaak uit al die volke en julle versamel uit die lande waarin julle verstrooi is, en Ek sal aan julle die land Israel gee” (Eseg. 11:17). Dit is totaal uit pas met die bedoeling van die Bybel om beloftes soos dié op die kerk toe te pas. Net so ook word profesieë oor die tyd van benoudheid vir Jakob, wat na Israel se ervarings in die komende verdrukking verwys (Jer. 30:7), vergeestelik of histories verklaar.

·        Antichiliaste beweer dat ons nou in die koninkryksbedeling leef en dat die duiwel tans gebind is “sodat hy die nasies nie kan verlei nie” (Op. 20:1-3). Hierdie profesie sal eers vervul word nadat Christus teruggekom, die Antichris en die valse profeet verdoem, hulle misleide volgelinge geoordeel en die duiwel in ’n put laat bind het. Die duiwel sal tydens die hele duur van die vrederyk gebind bly, en dié tydperk het nog nie eers begin nie. Wat die huidige situasie betref, sê die Bybel dat die hele wêreld in die mag van die Bose lê (1 Joh. 5:19) en dat ons die volle wapenrusting van God moet aantrek om staande te kan bly teen die liste van die duiwel (Ef. 6:11-12). Hy word as “die owerste van hierdie wêreld” beskryf (Joh. 14:30), asook “die god van hierdie wêreld” (2 Kor. 4:4). Dit is die rede waarom Christene tydens die kerkbedeling in ’n oorwegend goddelose wêreld leef waarin hulle verdruk word (Joh. 6:33), en juis daarom ’n geestelike oorlog teen boosheid moet voer. Ons leef duidelik nie in die vrederyk nie en ervaar daagliks dat die duiwel nie gebind en van die wêreld uitgesluit is nie.

·        Antichiliaste glo glad nie dat die kerkbedeling in ’n tyd van ongekende geestelike en morele afvalligheid sal eindig as ’n voorspel tot die groot verdrukking nie. Hulle aanvaar ook nie die letterlike vervulling van profesieë oor ’n persoonlike Antichris wat tydens die verdrukking oor die wêreld sal regeer nie. As gevolg van hierdie siening glo hulle ook nie in die belofte van ’n wegraping net voor die Antichris se verskyning nie, want volgens hulle gaan daar nie ’n Antichris op die toneel verskyn nie. Hulle beweer dat al die donker profesieë oor die verdrukking in die eerste eeu tydens die bewind van die Romeinse diktator Nero vervul is. Hy was na bewering die Antichris. Wat dan van al die profesieë wat dit duidelik stel dat die Antichris ’n lewende persoon op aarde sal wees wanneer Christus kom? (2 Thess. 2:6-12; Op. 19:19-20.) Wie is sy teëhouer wat weggeneem moet word sodat hy geopenbaar kan word? Daar is tog duidelik ’n “ontvlugting” vir gelowiges voor die uitstorting van Goddelike toorn op die aarde, en hulle moet waak en bid om hiervoor waardig te wees (Luk. 21:36).

·        As gevolg van hulle besondere koninkryksbeskouing kan antichiliaste nie aanvaar dat die kerkbedeling in ’n Laodicése toestand van mislukking en afvalligheid sal eindig nie (Op. 3:15-17), gevolg deur die openbaring van die Antichris en sy wêreldregering (Op.13:3-7). Vir hulle is dit meer aanvaarbaar dat daar nou groot herlewings sal uitbreek, waardeur ’n wêreldwye Christelike transformasieproses aan die gang gesit kan word. Dit is die visie wat hulle huldig, en baie van hulle is selfs bereid om ekumeniese bande met ander gelowe aan te knoop sodat hulle vredesplanne verder uitgebrei en wêreldwyd toegepas kan word.

Transformasie

Dit is merkbaar so dat antichiliaste ’n mensgemaakte, ekumeniese koninkryk najaag waarin die volgende Bybelse eienskappe van die toekomstig geopenbaarde koninkryk van Christus ontbreek: die volk Israel speel geen rol daarin nie; die stad Jerusalem was nooit gedurende die kerkbedeling eers naastenby ’n wêreldhoofstad nie; die troon van Dawid waarop Christus as Koning moet regeer, is steeds vervalle; die duiwel is allesbehalwe gebind en loop steeds rond soos ’n brullende leeu om te kyk wie hy kan verslind (1 Pet. 5:8); die nasies leef nie in vrede nie en het nog nie begin om van hulle swaarde pikke te smee nie; hulle eer ook nie die volk Israel as God se spesiale gesante nie (Sag. 8:23; Jes. 60:10-12), maar vervolg en benadeel hulle op alle moontlike maniere.

Ten spyte van al die verskille tussen die mensgemaakte koninkryk van die hemel en die werklike koninkryk van die hemel, gaan antichiliaste voort met hulle pogings om die hele wêreld in ’n Christelike koninkryk te probeer omskep. Die feit dat hulle dit op ’n onbybelse, ekumeniese manier probeer doen, is ’n klinkklare bewys dat hulle nie in hulle doel sal slaag nie. Hulle gaan egter voort met hulle planne, waaronder ook transformasiebyeenkomste wat jaarliks in verskeie lande gehou word.

Die volgende is een van die tekste wat hulle graag by transformasiebyeenkomste gebruik: “As my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ek uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees” (2 Kron. 7:14). Hierdie belofte is aan Israel gegee – die volk oor wie die Naam van die Here uitgeroep is. Hulle was egter die meeste van die tyd ongehoorsaam aan die Here en het as gevolg daarvan sy seën verbeur. In Nuwe-Testamentiese tye is hulle uit hulle land verdryf omdat hulle geestelik blind was en nie die gunstige tyd toe God hulle deur die Messias besoek het, opgemerk het nie (Luk. 19:41-44).

Is daar vandag volke oor wie die Naam van die Here Jesus uitgeroep is, wat die Drie-enige God in hulle grondwette erken, parlementsittings deur gebed open, Christelike onderwys aan die jong geslag bied, Christelike moraliteit handhaaf en gepaste Bybelse strawwe vir ernstige misdadigers oplê? Daar is nie sulke lande nie, en juis daarom sê die Bybel dat die hele wêreld in die mag van die Bose lê.

Dit is altyd goed en reg om mense tot bekering op te roep, maar dit moet primêr gedoen word met die oog op die redding van siele – nie in nietige pogings om hele volke te probeer red nie. Die getalle wat positief op die oproep tot bekering reageer, sal nooit so hoog wees dat dit die geestelike karakter van die hele samelewing dramaties sal verander nie. Die Here Jesus het gewaarsku dat net ’n minderheid mense onder evangeliese prediking tot bekering sal kom. Die breë weg sal steeds die drukste verkeer dra, ongeag hoe graag ons die situasie ook sou wou verander (Matt. 7:13-14; Luk. 13:23-24).

Dit help nie om onrealistiese verwagtings te koester dat hele stede en selfs hele lande hulle in sak en as tot God sal bekeer en sodoende ’n algehele transformasie na Christelike standaarde sal ondergaan nie. Strategiese geestelike oorlogvoering en die gepoogde neerwerp van bose vestings in die lug is onbybels, onuitvoerbaar en skep net valse verwagtings. Ons moet eerder aanvaar dat daar in die eindtyd swaar tye oor die aarde sal kom (2 Tim. 3:1), en uiteindelik ’n groot verdrukking soos wat daar van die begin van die wêreld af nog nooit was nie (Matt. 24:21). Hierdie scenario is op die punt om vervul te word.

Die Bybel berei ons beslis voor op grootskaalse verval in die eindtyd: “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af” (2 Tim. 3:1-5). Kerkgangers wat net ’n uiterlike gedaante van godsaligheid het sonder dat hulle geestelik wederbaar is, stuur op die oordele van God af.

Mense moet nou teen die naderende oordele gewaarsku word, sodat hulle waaksaam kan wees en toesien dat hulle nie saam met die sterker wordende stroom van geestelike en morele verval afdryf nie. Ongereddes moet soos brandhout uit die vuur geruk word. Dit sal nie help om nou ’n hele goddelose land soos Suid-Afrika te probeer salig spreek in die hoop dat almal van hulle van harte tot bekering sal kom nie. Al wat hulle wel van harte en in eensgesindheid ná die wegraping sal doen, is om die Antichris na te volg en te aanbid: “En die hele wêreld het verwonderd agter die dier aan gegaan ... en die dier aanbid en gesê: Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer? ... En aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie” (Op. 13:3-4, 7).

Tot watter nut is dit om nou ’n nasionale transformasie as ideaal voor te hou, terwyl die hele land, hele gemeenskappe en selfs groot kerke op die sand van geestelike misleiding, profetiese onkunde en morele opportunisme gebou is? Valse hoop kan nie die rampspoed wat aan die kom is, afweer nie. Gelowiges moet eerder geleer word om te waak en te bid sodat hulle waardig sal wees om die komende oordele en verdrukking te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan (Luk. 21:36).

In plaas van transformasiebyeenkomste moet basiese evangelisasie gedoen en groot klem op die vervulling van Bybelse profesieë gelê word. Daar moet vir alle ongereddes gebid word, asook in die besonder vir die volk Israel, in die hoop dat sommige van hulle gered sal word. Baie van hulle sal egter steeds die verkeerde besluite neem, soos in die eerste eeu toe die Here Jesus gesê het: “Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle neem My nie aan nie. As ’n ander een in sy eie naam kom, hóm sal julle aanneem” (Joh. 5:43).

Mense verwerp nog steeds die ware Christus en sy Woord, en maak daardeur van hulleself kandidate om die komende Antichris te aanvaar, na te volg en te aanbid. Een van sy ideologieë waarteen mense nou gewaarsku moet word, is dié van globalisme. Op grond daarvan word daar na wêreldeenheid op drie terreine gestreef: ’n wêreldregering, ’n alliansie van wêreldgodsdienste waarin alle misleide gelowe die valse Christus sal aanbid, en ’n wêreldekonomie wat aan die Antichris die geleentheid sal bied om alle mense ten volle te kan beheer.

Antichiliaste se foutiewe vertolking van Bybelse profesieë veroorsaak egter dat hulle nie oor hierdie gevare ingelig is nie en gevolglik ook nie andere kan waarsku teen die moeilike tye wat aan die kom is nie. Hulle verkeerde koninkryksbeskouing is juis die groot rede waarom hulle onwetend besig is om deur middel van ’n moderne toring van Babel aan die Antichris se eindtydse wêreldryk te bou.

Hoe en wanneer kan profesieë vergeestelik word?

Daar is beslis beeldspraak in die Bybel, maar dit word altyd deur die Bybel self verklaar. Dit moet egter uit die konteks en beeldende taal self baie duidelik wees dat ’n letterlike vertolking onvanpas is. Indien ’n stelling logies is, moet dit altyd letterlik vertolk word: “If the plain sense of the word makes common sense, then seek no other sense.” Wanneer die Bybel bv. van Israel en Jerusalem praat, asook die 144 000 geredde Jode van Openbaring 7, moet hierdie begrippe nie vergeestelik en op die kerk toegepas word nie. Dieselfde geld vir getalle en tydperke soos ’n duisend jaar, sewe jaar, 42 maande en 1 260 dae.

Wanneer daar wel kontekstueel van beeldspraak gebruik gemaak word, word dit gewoonlik gedoen met die oog op die beklemtoning van sekere kenmerke van ’n persoon of ’n groep mense. Die beeld het dus nie ’n abstrakte, allegoriese betekenis wat ver van die fisieke werklikheid af verwyderd is nie, maar het in die meeste gevalle ’n letterlike teëbeeld. Die Lam van God dui bv. op Christus, die slang en draak op die duiwel (Op. 12:3, 15) die sterre wat Satan tydens sy val uit die hemel saamgesleep het, verwys na gevalle engele, terwyl die dier met die sewe koppe ’n beskrywing van die Antichris is (Op. 13:1-2). Net so ook moet die Antichris se toekomstige wêreldekonomie waarin koop- en verkooptransaksies deur ’n nommerstelsel beheer sal word, letterlik opgeneem word (Op. 13:16-18).

Die slag van Armagéddon wat as ’n groot wêreldoorlog tydens die wederkoms van Christus gevoer sal word, word as ’n letterlike, fisiese konfrontasie beskryf en nie bloot as ’n geestelike oorlog iewers in die lug nie (Op. 16:13-16; 19:19-21; Sag. 14:1-13). Selfs ’n abstrakte, geestelike begrip soos “die verborgenheid van die ongeregtigheid” word aan ’n persoon gekoppel, nl. die Antichris of “die mens van sonde”, en hy sal in die eindtyd, kort voor die wederkoms van Christus, sigbaar op aarde geopenbaar word (2 Thess. 2:3-8). Net so ook moet daar nie slegs na die duiwel as ’n metafoor van boosheid verwys word nie. Hy is ’n bose god wat ná die wederkoms van Christus in ’n put gebind en daarna geoordeel sal word oor al die bose dade wat hy gepleeg het (Op. 20:1-3, 10). ’n Onpersoonlike bose ideologie kan tog nie in ’n put gebind word nie!

Met die oog op al hierdie duidelike profetiese feite moet ons aanvaar dat ons in ’n bose wêreld leef en nie nou in die geopenbaarde koninkryk van God is nie. Die Here Jesus het na die aarde gekom “sodat Hy ons kan uitred uit die teenwoordige bose wêreld” (Gal. 1:4). Wanneer Hy weer kom, kom Hy om sy diensknegte te beloon, die sondaars te straf en die demoniese driemanskap – die duiwel, die Antichris en die valse profeet – te oordeel (Op. 11:18). Hoe gouer ons die wesenlike betekenis van die Bybel aanvaar, hoe beter sal ons op die toekoms voorbereid wees.

Ons wag vir ’n koninkryk wat nou nog nie geopenbaar is nie, want die Koning van die konings het nog nie gekom om die vestings van boosheid te vernietig nie. Wanneer Hy gekom het, sal die tyd van ons vreemdelingskap in ’n bose wêreld verby wees, en sal ons saam met Hom as konings op aarde regeer (Rom. 8:17; 2 Tim. 2:12; Op. 5:9-10).

’n Finale waarskuwing

Die integriteit van die profetiese woord in die Bybel moet ten alle tye eerbiedig word. In die heel laaste hoofstuk van die Bybel word ons gewaarsku om niks daarvan weg te neem of enigiets daarby te voeg nie (Op. 22:18-19). Mense wat hulleself hieraan skuldig maak, het geen plek in die koninkryk van die hemel nie.

Daar is in die eindtyd talle selfaangestelde profete en profetesse wat daarop aanspraak maak dat die Here deur middel van drome, visioene en ander maniere profetiese inligting oor die toekoms, wat aanvullend is tot dit wat in die Bybel staan, aan hulle bekend gemaak het. Sulke profesieë is vals! Hierdeur word ’n regstreekse aanval op Bybelse openbarings gemaak, as sou dit nie volledig en genoegsaam wees vir ons onderrig nie. Profetiese bylaes moet dus volgens moderne sieners aan die einde van die Bybel ná Openbaring bygevoeg word. Al hierdie addisionele profesieë word egter met die verloop van tyd as vals geopenbaar, vandaar die Here se streng waarskuwing teen die aanmatigende persone wat hulleself hieraan skuldig maak.

Aan die ander kant word Bybelse profesieë ook ondermyn deur dele daarvan weg te neem. Dit kan gedoen word deur sekere profetiese uitsprake te ontken, bv. dat daar ’n persoonlike duiwel is wat saam met die sondaars in die hel gegooi sal word, dat daar ’n eerste opstanding vir die regverdiges sal wees, ens. Die mees algemene metode van die wegneem van Bybelse beloftes en waarskuwings, is om dit deur middel van vergeesteliking weg te redeneer en totaal buite hulle konteks te verklaar. Hierdie aanmatigende houding het reeds daartoe gelei dat baie mense die eindtydse vervulling van Bybelse profesieë oor die volgende sake ontken: die groot afval in die laaste dae, die opkoms van ’n antichristelike nuwe wêreldorde, die herstel van Israel in hulle land, die wegraping, die verskyning van ’n persoonlike Antichris, die verdrukking van sewe jaar onder sy tweemanregering saam met die valse profeet, die slag van Armagéddon en ’n letterlike duisendjarige vrederyk daarna.

Persone wat die profetiese woord deur vergeesteliking en allegorisering van sy grondbetekenis ontneem, gaan gewoonlik verder om ook ander konkrete stellings in die Bybel te ontken of deur vergeesteliking van hulle betekenis te beroof. Dit is die rede waarom baie van hulle nie meer in die Goddelike inspirasie en foutloosheid van die Bybel glo nie. As gevolg hiervan word die Bybelse verlossingsleer nie ernstig opgeneem nie, en so ook nie Bybelse waarskuwings oor die komende oordele nie. Mense wat teen hulle beterwete sondig deur Bybelse begrippe af te water of te verwerp, onderwerp hulleself aan swaarder strawwe. Hoe sal hulle ontvlug as hulle so ’n groot saligheid verontagsaam? (Heb. 2:1-4).

 

19. Redes vir die Wegraping

In enige boodskap, studie of boek oor die eindtyd moet daar baie duidelike melding gemaak word van die wegraping, omdat hierdie gebeurtenis ’n voorvereiste is vir die openbaring van die Antichris  en die uitgiet van Goddelike toorn oor die goddeloses. Soos in die tyd van Noag en Lot, moet daar skeiding gemaak word tussen die gelowiges en ongelowiges voordat die goddeloses geoordeel kan word. Die belofte van die wegraping gee aan Christene ’n positiewe en onbetwisbare toekomsverwagting – ’n konkrete hoop op Goddelike ingryping en seën om na uit te sien in ’n andersins donker toneel van komende oordele oor ’n goddelose wêreld. Die ongereddes word gewaarsku dat daar uiters moeilike tye op hulle wag indien hulle nie gereed en waardig is om van die planeet aarde af weggevoer te word nie.

Die volgende redes vir die wegraping word in die Bybel genoem:

1. Dit is ’n ontmoeting met Christus

Wanneer die Here Jesus sy bruidsgemeente kom haal, sal dié wat in Christus gesterf het uit hulle grafte opgewek word, en diegene wat nog lewe in ’n oogwink met verheerlikte liggame beklee word (1 Kor. 15:51-53). Daarna sal die ware gelowiges saam in wolke weggevoer [of weggeraap] word, die Here tegemoet in die lug:

“Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde” (1 Thess. 4:16-18).

Die grootste verwagting wat ons met betrekking tot die wegraping behoort te hê, is nie om weg te kom van die sondedeurdrenkte wêreld af waarin ons as vreemdelinge en bywoners woon nie, maar eerder die wonderlike vooruitsig om ons finale bestemming in die hemel te bereik! Die verlangende bruid sien daarna uit om met die hemelse Bruidegom verenig te word. Op daardie dag sal “Hy kom om verheerlik te word in sy heiliges en bewonder te word in almal wat glo” (2 Thess. 1:10). Hulle sal Hom sien en straal van vreugde.

Mense wat nie in die wegraping glo nie, moet vir hulleself uitmaak hoe anders as net deur die wegraping alleen hulle van die aarde af weggeruk kan word om die Here Jesus in die lug te ontmoet. Só is Jesus ná sy eerste koms na die hemel “weggeruk” (Op. 12:5); só is Paulus tot in die derde hemel “weggeruk” (2 Kor. 12:2); en só sal ons ook aan die einde van die kerkbedeling “weggevoer” word. In al hierdie gevalle word dieselfde werkwoord gebruik, naamlik “wegvoer” of “wegruk” (Gr. harpazo) wat beteken “om vinnig weggeruk te word”.

Die hemelse Bruidegom kom by hierdie geleentheid soos ’n dief in die nag om sy bruid te kom haal (Op. 16:15). Sy openbare koms wanneer elke oog Hom sal sien, sal eers plaasvind aan die einde van die sewe jaar lange verdrukking wat ná die wegraping verloop (Op. 1:7). Tydens die wegraping sal Hy nie tot op die aarde kom nie, maar sy bruid in die lug ontmoet en haar daarna saamneem hemel toe. Diegene wat agterbly, sal met ’n skok ontdek dat al die ware Christene skielik spoorloos verdwyn het! Dissipels van Jesus sal dan in die hemel wees, in die heilige teenwoordigheid van die Koning van konings, en eers ná die donker dae van die verdrukking saam met Hom terugkeer (Sag. 14:4-5).

2. Dit bevorder ’n Christus-verwagting

Dit is belangrik om daarop te wys dat ’n voorverdrukking-wegraping by gelowiges ’n Christus-verwagting skep en nie ’n Antichris-verwagting nie. Ons wag vir die hemelse Bruidegom en nie vir die mens van sonde nie. Die hele 70ste jaarweek van Daniël 9 is deel van Israel se heilsgeskiedenis, en sal ingelui word deur ’n verbond wat Israel en die nasies met die valse messias sal sluit. Christene wat verkeerdelik in ’n wegraping in die middel of na aan die einde van die verdrukking glo, verskuif hulle aandag weg van die Here Jesus af en bestee soms baie geld, tyd en energie om strategieë in plek te kry vir oorlewing gedurende die komende verdrukking. Sommige van hulle ruim selfs ontvlugtingsplekke in weg van die groot stede af, omdat hulle nie in ’n wegraping voor die uitstorting van Goddelike toorn glo nie. Die Bybel sê egter dat ons die Seun van God uit die hemele moet verwag, naamlik “Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos” (1 Thess. 1:10).

Die belofte van die wegraping vestig ons aandag op die skielike en onverwagte koms van Christus vir sy bruid. Daar is geen uitdruklike tekens wat hierdie gebeurtenis direk voorafgaan nie – minste van alles die verskyning van die Antichris. Ons moet onsself besig hou met voorbereidings wat daarop ingestel is om ’n heilige lewe voor die Here te lei, terwyl ons voortgaan om mense te nooi om die lank bestaande uitnodiging na die bruilof van die Lam te aanvaar. Wanneer die huis van die Here vol is, sal Hy uit die hemel neerdaal met geklank van die basuin van God. Daarna sal al die tekens van die tye wat op Christus se sigbare verskyning aan die einde van die verdrukking dui, finaal in vervulling gaan. Dit sal ’n tyd van natuurrampe en oorloë wees soos nooit tevore nie (Matt. 24:6-7).

3. Dit is ’n ingryping deur God

“Die Here self sal van die hemel neerdaal … en ons sal … in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug” (1 Thess. 4:16-17). Die bonatuurlikheid van die wegraping, naamlik die wegvoering van miljoene Christene, sal só duidelik ’n Goddelike ingryping wees dat geen wetenskaplike verklarings daarvoor gevind sal kan word nie. Daar sal waarskynlik absurde teorieë vir hierdie verskynsel aangebied word, maar dit sal in dieselfde kategorie wees as die evolusieteorie waardeur agnostici probeer om God se skeppingswerk weg te verklaar. Die Here kan inderdaad deur sy almag al sy kinders in ’n enkele oomblik opwek, verander en van die aarde af wegvoer. Hy sal diegene wat aan Hom behoort wegneem en al die ander op die aarde agterlaat:

“In daardie nag sal daar twee op een bed wees; die een sal aangeneem en die ander verlaat word. Twee vroue sal saam maal; die een sal aangeneem en die ander verlaat word. Twee sal op die land wees; die een sal aangeneem en die ander verlaat word” (Luk. 17:34-36). Die “aanneem” van sommiges sal tydens die wegraping plaasvind. Die “verlaat” van die ander dui daarop dat ongelowiges en misleide mense sal agterbly om die donker dae van die Antichris se skrikbewind in die groot verdrukking te beleef.

Die skokeffek van die wegraping kan nouliks oorbeklemtoon word. In die vernietigende tekens hierna sal die Here se hand ook duidelik gesien kan word, veral in die groot oordele oor ’n afvallige mensdom (Op. 6:12-17). Deur die dramatiese effek van die wegraping sal die Here ’n ernstige boodskap aan ’n multigodsdienstige en afvallige mensdom rig, naamlik dat hulle enigste hoop daarin geleë is om weer na sy Woord terug te keer en dit ernstig op te neem. Die wegraping sal die mat heeltemal uittrek onder die moderne vergeestelikingsteologie waarin Bybelse uitsprake nie letterlik opgeneem word nie maar as vae beeldspraak, allegorie of simboliek afgemaak word.

Ná die wegraping sal die meerderheid mense weens die verhardheid van hul harte wél deur die krag van die dwaling mislei word, maar miljoene ander sal nuwe begrip kry vir die waarheid van die Bybel en die Here soek, ongeag die verwerping en vervolging wat hulle getuienis in ’n antichristelike nuwe wêreldorde tot gevolg sal hê.

4. Dit is die verkryging van ’n opstandingsliggaam

Die wegraping staan duidelik in verband met die eerste opstanding wanneer al die ware gelowiges verheerlikte liggame sal verkry. Miljoene van dié wat weggeraap gaan word, is reeds dood, daarom moet hulle eers onverganklike nuwe liggame kry. Op daardie selfde oomblik sal die lewende gelowiges verheerlikte liggame kry en sonder die dood van verganklikheid tot onverganklikheid verander word. Paulus verduidelik hierdie belofte só aan ’n Christelike gemeente:

“Kyk, ek deel julle ’n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ’n oomblik, in ’n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word. Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word” (1 Kor. 15:51-53).

Aan die Filippense word gesê: “Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus, wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam” (Fil. 3:20-21; vgl. 1 Joh. 3:2).

Die eerste opstanding word as “die opstanding van die regverdiges” beskryf (Luk. 14:14), en ook as “die opstanding van die lewe” (Joh. 5:29). Johannes sê: “Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank” (Op. 20:6).

Dit verwys na die duisendjarige vrederyk wanneer die opgestane en verheerlikte Christene saam met Jesus Christus sal regeer. Die goddeloses sal nie deel hê aan die eerste opstanding en die wegraping nie, daarom sê Johannes ook: “En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie” (Op. 20:5). Hulle sal deel hê aan die tweede opstanding, wat ook genoem word “die opstanding van die veroordeling” (Joh. 5:29), en voor die groot wit troon tot die ewige dood veroordeel word (Op. 20:11-15).

5. Dit is ’n skeiding tussen nominale en ware Christene

Behalwe die skeiding wat die wegraping sal teweegbring tussen geredde en ongeredde mense in die wêreld, sal dit ook binne die verband van die Christelike kerk self ’n skeiding tussen wedergebore en vormgodsdienstige lidmate tot gevolg hê. Die dwase maagde sal agtergelaat word wanneer die Bruidegom kom, al het hulle ook hulleself as ’n deel beskou van die groep wat aan die Bruidegom behoort, en selfs op sy koms gewag. Die afwesigheid van die olie van die Heilige Gees in hulle lewe dui op die feit dat hulle nie weergebore en Geesvervuld is nie (Matt. 25:6-10).

Baie van hulle sal eers ná die wegraping ’n eerlike ondersoek na hulle geestelike status doen, en dan agterkom dat daar geen aanduiding van die Heilige Gees se wederbarende krag in hulle lewens is nie. Hoewel hulle tydens die verdrukking steeds hulle lewens aan die Here kan oorgee, sal die Bruidegom nie by wyse van ’n tweede wegraping die deur vir hulle oopmaak nie – selfs al bid hulle daarvoor en begeer dit met hulle hele hart. Hulle sal buite in die koue moet bly, die donker dae van die verdrukking in die gesig staar en bereid moet wees om as martelare vir hulle geloof te sterf – dit alles weens hulle eie nalatigheid.

Hoeveel miljoene kerklidmate bevind hulleself nie in die bootjie van ’n selfmisleidende, dooie vormgodsdiens nie! Hulle redeneer dat aangesien hulle uitverkies is, en d.m.v. die doop in ’n ewige verbond aan God verbind is, hulle nie ’n ondervinding van wedergeboorte hoef te hê nie. Die Here Jesus het egter aan een van hierdie uitverkore verbondskinders gesê: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (Joh. 3:3). Dit is net die herskeppingswerk van die Here wat jou lewe kan verander – nie kerklike ritualisering nie!

Maak seker dat jy nie tydens die wegraping die slagoffer van ’n dooie vormgodsdiens sonder wedergeboorte is nie, want dan sal jy beslis agterbly wanneer die Here Jesus sy bruidsgemeente kom haal (Joh. 14:2-3; Heb. 4:1). ’n Voorwaarde vir redding is ’n eerlike belydenis van jou sonde (1 Joh. 1:9), tesame met geloof in Jesus Christus as jou Verlosser en Saligmaker (Hand. 16:31).

6. Dit is die einde van ’n dispensasie

Die wegraping beëindig die bedeling van die kerk op aarde, omdat die ware kerk dan van die aarde af na die hemel toe weggevoer sal word. Net die valse kerk en die valse godsdienste wat deur die gees van die Antichris mislei is (1 Joh. 4:1-6), sal in die wêreld agterbly. Ons is tans baie naby aan die einde van die kerkbedeling op aarde. Die Bybel beskryf hierdie tydperk as ’n tyd van groot afvalligheid en demoniese aktiwiteite (1 Tim. 4:1). Satan werp alles in die stryd om die kerk te vervals en die maagde wat op die koms van die Bruidegom ingestel moet wees, te mislei en aan die slaap te sus.

Terselfdertyd word die allesinsluitende eenheidsideologie van die komende antichristelike bedeling (holisme) aktief verkondig en strukture vir die wêreldregering, wêreldgodsdiens en wêreldekonomie van die Antichris geskep. Uiteindelik sal daar ook ’n valse Christus aan die wêreld gebied word. Dit was met die oog op die openbaring van die intensiewe, eindtydse misleiding dat die eerste waarskuwing in die Here Jesus se profetiese rede gewy is aan ’n beskrywing van sataniese misleiding wat sal uitloop op die verskyning van ’n valse wêreldleier: “Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei” (Matt. 24:4-5). Moenie meegesleur word deur die stroom van postmoderne denke waardeur die verdorwe beginsels van ’n antichristelike nuwe wêreldorde bevorder word nie.

Dit is belangrik om die wegraping in sy korrekte dispensasionele plek te plaas, naamlik aan die einde van die kerkbedeling, net voor die begin van die Antichris se openbaring en die instelling van sy wêreldregering. Ons moet die tydgees van verval in die Christelike kerk teëstaan, asook die opmars van die komende Antichris (2 Thess. 2:7). Doen jy dit? Die hemelse Bruidegom sê dat terwyl dié wat vuil is nóg vuiler word, moet die regverdiges nóg regverdiger en heiliger word (Op. 22:11). Hulle moet besef dat die aanvegtinge teen die koninkryk van God in die eindtyd groter word, en dat hulle nie in die minste aan die druk van die vyand moet toegee nie.

Prediking oor die wegraping is in ’n tyd soos hierdie van kardinale belang. Ons is in die posisie van ’n atleet wat aan ’n langafstandwedloop deelneem en reeds die klok vir die laaste rondte hoor lui het. Dit moet hom motiveer om nie in sy poging te verslap nie, maar tot die einde toe te volhard. Petrus sê: “Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? – julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas” (2 Pet. 3:11-12). Ons moenie in die vinnig veranderende wêreld perspektief verloor en kompromie maak nie. Stry die goeie stryd van die geloof en bied vasberade weerstand teen alle vorms van boosheid en misleiding.

7. Dit skep die geleentheid vir die Antichris om geopenbaar te word

Die wegraping word regstreeks met die openbaring van die Antichris in verband gebring: “… julle weet wat hom teëhou sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word. Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan” (2 Thess. 2:6-10).

Die ware kerk van Christus wat ’n tempel van die Heilige Gees is, staan die openbaring van die Antichris teë; daarom kan hy eers ná hulle wegname geopenbaar word. Die Heilige Gees in die kerk is sterker as die gees van misleiding wat in die wêreld werk (1 Joh. 4:4). Wanneer die evangeliese Christene skielik weggeneem word, verdwyn die lig van die wêreld en breek die uur van die duisternis aan. Dan kan die mens van sonde sonder teëstand geopenbaar word. Die wegraping móét dus plaasvind voordat die Antichris sy verskyning kan maak!

Om mense dus op die wegraping voor te berei, behels ’n geestelike ingesteldheid van getrouheid aan die ware Christus en ook die aktiewe verwerping van die komende Antichris. Jy moet ’n teëhouer wees wat standpunt teen antichristelike ideologieë en hulle humanistiese strukture inneem.

8. Dit is ’n motivering vir standvastigheid in ’n tyd van afvalligheid

Die koms van die Bruidegom vind plaas in ’n tyd waarin dit geestelik gesproke donker is. Die einde van die kerkbedeling is ’n tyd van groot afvalligheid en goddeloosheid. Die relatief klein groepie Christene sal skyn soos ligte te midde van ’n krom en verdraaide geslag. Soos in die dae van Noag en Lot sal die aarde vol gewelddadigheid, materialisme en seksuele perversie wees.

Ongelukkig sal hierdie gees van sondigheid en immoraliteit ook sy tol onder Christene eis. Hulle sal in hulle waaksaamheid verslap deur geestelike standaarde aanhoudend afwaarts aan te pas: “En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel” (Matt. 24:12). Baie sal so ’n lae profiel hou dat hulle in algehele passiwiteit verval. Die Here Jesus het hierteen gewaarsku en aan gelowiges die verwagting van sy skielike koms as ’n motivering vir standvastigheid gegee: “Waak dan, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis kom nie: in die aand of middernag of met die haangekraai of vroeg in die môre nie; dat hy nie miskien skielik kom en julle aan die slaap vind nie. En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Waak!” (Mark. 13:35-37).

Onaktiewe Christene verflou in hulle liefde teenoor die Here Jesus. Die verskynsel van geestelike afkoeling manifesteer op twee maniere: enersyds ontwikkel daar ’n liefde vir die wêreld en wêreldse partytjies waar drank gebruik word, en andersyds lei dit tot bekommernis en depressie. Hierteen waarsku die Here Jesus ook, en Hy hou weer eens die wegraping as ’n positiewe motivering voor om te volhard tot die einde toe: “Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie. Want soos ’n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon” (Luk. 21:34-35).

Moenie jou eerste liefde verlaat deurdat jy van Jesus Christus vervreemd raak nie, want dit kan jou duur te staan kom! Die Here het sy Gees aan die afvallige kerk in Éfese onttrek en die gemeente het daarna agteruitgegaan en uiteindelik doodgeloop (Op. 2:4-5).

9. Dit is ’n ontvlugting uit die rampgebied van Goddelike oordele

Die teks in Lukas 21:36 stel dit onomwonde dat die wegraping ’n ontvlugting uit oordele is. Die Here sê: “Waak dan, en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.” Die woord ontvlug beteken om buite die rampgebied te bly – nie om behoue déúr dit te gaan soos die Nuwe Afrikaanse Bybel sê nie.

Net soos in die dae van Noag en Lot, móét die regverdiges eers in ’n plek van veiligheid gestel word voordat die Goddelike toorn oor ’n Christusverwerpende wêreld uitgestort sal word. Die Here het self die ark se deur agter Noag toegemaak voordat die watervloed begin het. In die geval van Lot en sy gesin het die engele aangedring dat hulle die stad moes verlaat, omdat die vuur en swael nie kon neerdaal terwyl hulle nog daar was nie. Hulle was nouliks weg toe word die oordele van die Here oor die sondaars uitgestort.

Net so sal die wegraping vir ons ook ’n uitkoms wees. Dit is ’n salige hoop, soos ’n helder lig wat aan die einde van ’n donker tonnel skyn. Baie mense sê die chiliaste het ’n ontvlugtingsindroom, en dat hulle net hier wil wegkom sonder om hulle plig te doen terwyl hulle nog op aarde is. Die teendeel is eerder waar. Chiliaste besef juis dat hulle min tyd oor het om vir die Here te werk, daarom is hulle dalk meer as andere gemotiveer om te doen wat hulle hand vind om te doen. Hulle besef dat daar ’n verdrukking kom soos wat daar nog nooit op aarde was nie (Matt. 24:21). As die Here ons daaruit wil verskoon, soos wat Hy ook met Noag en Lot gedoen het, waarom sal ons nie die wonderlike belofte van die wegraping aangryp en waak en bid om daarvoor waardig te wees nie?

Mense wat sinies oor die belofte van die wegraping is en nie geestelik voorbereid is om die komende oordele te ontvlug nie, openbaar ’n baie onverskillige houding. Wat sou jy daarvan sê indien Noag soos volg geredeneer het: “Ek glo nie werklik dat die Here die aarde deur ’n watervloed sal oordeel nie, daarom gaan ek nie ’n ark bou om verdelging in die vloed te ontvlug nie”? Of wat sou van Lot en sy gesin geword het as hy gesê het: “Ek dink die oordele oor Sodom en Gomorra moet metafories verklaar word, daarom hoef ek en my gesin nie te vlug vir ons lewe nie. Indien Goddelike wraak wél uitgestort word, dan sal die Here ons net hier te midde van die vlamme bewaar”?

Die komende oordele van die verdrukking is ’n vaste Bybelse feit wat letterlik in vervulling sal gaan, en net so letterlik sal daar vir die kinders van God ’n ontvlugting uit die oordele wees. Ons moet dié belofte aanvaar en hiervoor gereed wees. Die verdrukking van sewe jaar moet nie verwar word met die verdrukking wat Christene nog altyd in ’n sondige wêreld as gevolg van hulle geloof ervaar het nie. Die eindtydse verdrukking is God se oordele oor ’n Christusverwerpende wêreld. Die ware gelowiges is glad nie hiervoor bestem nie: “Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus” (1 Thess. 5:9; vgl. Joh. 5:24).

10. Dit is ’n oproep om voor die regterstoel van Christus te verskyn

Die behoefte om vir die wegraping gereed te wees, spruit uit die vaste afspraak wat alle gelowiges het om rekenskap van hulle lewens te gee voor die regterstoel van Christus. Dit sal gebeur direk nadat ons ons finale bestemming in die hemel bereik het. Die vooruitsig op die wegraping konfronteer gelowiges baie duidelik met die verantwoordelikheid om te verskyn voor dieselfde Here wat aan sy dissipels die opdrag gegee het om die evangelie van redding te verkondig en daardeur hulle plig te vervul om die lig van ’n donker wêreld en die sout van ’n bedorwe aarde te wees. Ons Verlosser sal ook ons Koning en Regter wees.

Een van die uitdruklike redes vir die wegraping sal dus wees om ons op te roep om voor die regterstoel in die hemel te verskyn. Paulus sê: “Ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad” (2 Kor. 5:10). Aan die kerk in Rome sê hy: “So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee” (Rom. 14:12). Die Here Jesus sê: “En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees” (Op. 22:12).

Hierdie oordeel is nie daarop ingestel om die gelowiges van die ongelowiges te skei nie, want slegs gelowiges sal voor Christus verskyn sodat hulle plig m.b.t. dissipelskap beoordeel kan word – m.a.w. wat hulle gedoen het nadat hulle tot bekering gekom het. Suksesvolle dissipels sal beloon word terwyl lui, vleeslike diensknegte betig sal word (Luk. 19:20-23).

In die lig van die belangrike afspraak voor die regterstoel moet ons nooit op ’n eng manier aan die wegraping dink as bloot ’n wonderlike reis na die hemel toe, sonder inagneming van dit wat aan die einde van die reis op ons wag nie. ’n Inherente deel van die hele ondervinding rondom die wegraping is die verpligting om rekenskap van ons aardse lewens aan Jesus Christus te gee. Om dus basies vir die wegraping te kwalifiseer, vereis ’n suiwer getuienis van wedergeboorte. Om egter ook volkome gereed te wees vir die wegraping in terme van dit wat in die hemel op ons wag, moet ons ook van heiligmaking en toewyding aan die diens van die Here kan getuig.

Omdat slegs Christene deel sal hê aan die wegraping, sal net hulle voor die regterstoel verskyn sodat hulle werke getoets kan word met die oog op genadeloon: “... elkeen sal sy eie loon volgens sy eie arbeid ontvang ... want ons is medewerkers van God. ... Maar elkeen moet oppas hoe hy op [die fondament] bou. Want niemand kan ’n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels – elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen” (1 Kor. 3:8-15).

Ons word hoegenaamd nie deur ons werke gered nie, maar deur geloof. Jakobus beklemtoon egter die feit dat geloof sonder werke dood is (Jak. 2:26). In ’n ware Christen se lewe sal daar werke wees wat by die bekering pas. Genadeloon sal voor die regterstoel in die hemel toegeken word vir werke wat deur die instaatstellende krag van die Heilige Gees gedoen is. Sommige diensknegte het hulle talente goed gebruik en sal baie loon ontvang. Ander het dit minder produktief gebruik en sal minder loon ontvang; en daar sal selfs diegene wees wat hulle talente begrawe het en met leë hande voor die Here sal staan – gered asof deur vuur heen! Die volgende is die vyf krone waarvoor Christene hulleself in die diens van die Here kan beywer:

·      Die onverwelklike kroon vir ’n heilige en diensbare lewenswandel (1 Kor. 9:24-25);

·      die kroon van roem vir sielewenners (1 Thess. 2:19);

·      die kroon van heerlikheid vir getroue herders wat nie deur hoogmoed en hebsug gemotiveer was nie (1 Pet. 5:2-4);

·      die kroon van die lewe vir Christenmartelare en almal wat swaar beproef is tydens hulle aardse lewe (Op. 2:10; Jak. 1:12); en

·      die kroon van geregtigheid vir dié wat Christus se koms liefgehad het, in die lig daarvan geleef het en nie ’n mensgemaakte koninkryk nagejaag het nie (2 Tim. 4:8; Heb. 11:10).

11. Dit is ’n reis na die hemelse bruilof

Ná haar verskyning voor die regterstoel van Christus word die bruid met haar hemelse Bruidegom verenig om nooit weer van Hom geskei te word nie. Die brandende begeerte na die wegraping is dus terselfdertyd ’n verlange om by die bruilof van die Lam te wees en in ’n hemelse ivoorpaleis na Hom toe gelei te word in veelkleurige gewade wat met gouddraad geborduur is (Ps. 45:10, 14-16), “toeberei soos ’n bruid wat vir haar man versier is” (Op. 21:2).

Jesus Christus is nie net ons verlossing nie, maar ook ons heiligmaking: “Christus [het] ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees” (Ef. 5:25-27). Het jy Christus al vir heiligmaking vertrou? Dit is aan die bruid van die Lam “gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges” (Op. 19:8).

12. Dit is ’n reis na ons ewige tuiste

Die Here Jesus het beloof dat Hy sal terugkom om sy bruid te kom haal en na haar hemelse tuiste te neem. Voor sy hemelvaart het Hy gesê: “Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is” (Joh. 14:2-3).

Hierdie woning in die hemel is só wonderskoon dat dit nie in menslike woorde beskryf kan word nie. Die Bybel sê: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van die mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet” (1 Kor. 2:9). Johannes sê die nuwe Jerusalem het pêrelpoorte, strate van deurskynende goud, en ’n muur rondom wat van die kosbaarste edelgesteentes gebou is (Op. 21:9-21). Om na só ’n plek weggevoer te word, is inderdaad ’n blye vooruitsig!

13. Dit lei na die aanvaarding van ons regterlike en koninklike posisie

Die verheerlikte Christene sal ná die wegraping saam met Christus die wêreld oordeel in geregtigheid en daarna as konings saam met Hom hier op aarde regeer. In Openbaring 4 en 5 word die verheerlikte kerk voorgestel as 24 ouderlinge met krone op hulle hoofde: “Toe sing hulle ’n nuwe lied en sê: U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Op. 5:9-10).

14. Dit is ’n vaste versekering van seën vóór die oordele

’n Finale argument ten gunste van ’n voorverdrukkingwegraping, is die feit dat die boek Openbaring dispensasioneel en chronologies geskryf is. Eers word die kerkbedeling in Openbaring 2 en 3 beskryf, dan word die toneel in Openbaring 4 en 5 na die hemel verskuif waar ons die verheerlikte kerk aantref net ná hulle wegvoering van die aarde af. Hulle word as 24 ouderlinge uit alle nasies voorgestel. In Openbaring 6 tot 19 word die sewe jaar lange verdrukking beskryf wat deur die sigbare koms van Christus beëindig sal word. In Openbaring 20 word die duisendjarige vrederyk van Christus beskryf, en in Openbaring 21 en 22 die nuwe hemel en aarde wat ná die eindoordeel aan die einde van die millennium geskep sal word.

Ons is tans in Openbaring 3 in die sewende en laaste kerkperiode, kort voor die einde van die kerkbedeling. Die geestelik lou, afvallige en materialistiese kerk van Laodicéa is tans oorheersend in die wêreld. Binnekort sal die ware kerk deur middel van basuingeklank opgeroep word hemel toe. Dit is net die getroue dissipels van die Here Jesus wat die belofte gekry het dat Hy hulle sal kom haal nadat Hy in die hemel vir hulle plek gaan berei het (Joh. 14:2-3). Nie almal wat hulleself as Christene beskou is waarlik gered nie, daarom kan nie almal van hulle op die belofte van die wegraping aanspraak maak nie.

Die volgorde van eindtydse gebeure, waarin gelowiges eers beveilig en geseën word voordat die goddeloses geoordeel word, word ook deur Christus in ’n gelykenis bevestig. In Lukas 19:11-27 sê Hy dat wanneer Hy as Koning terugkeer, Hy sy diensknegte sal versamel om aan hulle loon vir hulle arbeid te gee. Nadat Hy dit gedoen het, sal Hy Hom tot sy vyande wend en hulle oordeel omdat hulle geweier het om Hom as Koning en Verlosser te aanvaar.

’n Belofte om jou geestelik op te hef!

Besef jy hoe aktueel die wegraping vir elke Christen is, hoe dramaties die gebeure is wat daarmee saamhang, en hoe oor en oor die moeite werd dit is om hiervoor gereed te wees? Die Christendom sal geestelik verarm raak as hierdie belofte, en al die verantwoordelikhede wat dit meebring, nie met groot oortuiging verkondig word nie. Sonder die Bybel se profetiese perspektief op die eindtyd sal ons onseker wees oor wat die toekoms inhou, in die duisternis van onkunde rondtas en nie ons prioriteite reg bepaal nie (2 Pet. 1:19).

Terwyl ons die naderende voetstappe van die Here Jesus kan hoor, moet ons baie seker maak dat ons inderdaad aan Hom behoort, anders sal Hy by ons verbygaan wanneer Hy sy kinders kom haal. Die ongeredde naamchristene wat nooit ’n ontmoeting met die Here Jesus gehad het nie, en net ’n gedaante van godsaligheid het, sal tevergeefs eendag voor die groot wit troon op hulle kerklike ampte, wonderwerke en bevrydingsbedienings roem:

“Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here, sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam duiwels uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie? Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree” (Matt. 7:21-23 NAB). Baie van hierdie misleiers is ongeredde predikante wat selfs in Jesus se naam gepreek het.

Dit hoef egter nie so te wees nie. As ons harte deur die wedergeboorte verander is en ook deur die vervulling met die Heilige Gees brandend vir die Here is, sal ons waardig wees om die hemelse Bruidegom te ontmoet wanneer Hy aan die einde van die kerkbedeling kom. Hy het aan sy dissipels gesê: “Laat julle heupe omgord wees en julle lampe aan die brand. En julle moet wees soos mense wat op hulle heer wag. … Gelukkig is daardie diensknegte vir wie die heer wakker sal vind as hy kom. Voorwaar Ek sê vir julle, hy sal hom omgord en hulle aan tafel laat gaan en hulle kom bedien. En as hy in die tweede of die derde nagwaak kom, en dit so vind – gelukkig is daardie diensknegte” (Luk. 12:35-38). Wees elke dag gereed vir sy skielike koms!

 

20. Die Nuwe Jerusalem

Die Nuwe Jerusalem sal die ewige tuiste van die Messias se verloste skare mense uit Israel en die nasies wees. Johannes sê die volgende oor die glansryke voorkoms van hierdie wonderstad:

“En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ’n bruid wat vir haar man versier is. Een van die sewe engele ... het na my gekom en met my gespreek en gesê: Kom hierheen, ek sal jou die bruid toon, die vrou van die Lam. En hy het my in die gees weggevoer op ’n groot en hoë berg en my die groot stad getoon, die heilige Jerusalem, wat uit die hemel van God neerdaal; en dit het die heerlikheid van God gehad, en sy lig was soos ’n baie kosbare steen, soos die kristalhelder jaspissteen. En dit het ’n groot en hoë muur met twaalf poorte gehad, en by die poorte twaalf engele, en name daarop geskrywe, naamlik dié van die twaalf stamme van die kinders van Israel. ... En die muur van die stad het twaalf fondamente gehad, en daarop was die name van die twaalf apostels van die Lam. ... En ’n tempel het ek nie daarin gesien nie, want die Here God, die Almagtige, is sy tempel, en die Lam is sy lamp. En die stad het die son of die maan nie nodig om in hom te skyn nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp” (Op. 21:2, 9-14, 22-23).

 

 

Uit die verband van die beskrywing is dit duidelik dat die Nuwe Jerusalem die verpersoonliking van sy inwoners is – dit is die tuiste van die Lam se bruid. Die stad se verhewe status moet in die lig van sy Oprigter se teenwoordigheid en die verheerlikte posisie van sy inwoners verstaan word, en nie net in terme van die fisiese strukture van die stad nie. Die skoonheid van die stad is slegs ’n weerspieëling van sy inwoners se heiligheid, want die stad is toeberei sóós ’n bruid wat vir haar man versier is – dit is nie die bruid self nie!

Dit is ’n bekende Bybelse gebruik om na ’n sekere groep mense te verwys na aanleiding van hulle woonplek. Dit verklaar waarom ’n stad soms die verpersoonliking van sy inwoners is. Die Here Jesus het agnostiese Jode só aangespreek: “Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig die wat na jou gestuur is ...” (Matt. 23:37). Hoewel Hy die stad aangespreek het, was sy gesprek tog duidelik op Jerusalem se leiers en inwoners gerig.

Die Nuwe Jerusalem is die eindbestemming van alle gelowiges van alle tye, m.a.w. weergebore persone uit Israel én die kerk. Die 12 poorte van die stad het die name van die 12 stamme van Israel, daarom is die stad onder andere die tuiste van die ware Israel van God (Op. 21:12). Verder het die muur van die stad 12 fondamente, met die name van die 12 apostels van die Lam daarop (Op. 21:14). Hierdie stad is dus ook die finale bestemming van Nuwe-Testamentiese gelowiges, want die 12 apostels is uitgestuur om die evangelie aan alle nasies te verkondig.

Die Here Jesus het die volgende belofte aan ’n nie-Joodse gemeente in Klein Asië gemaak (in die huidige Turkye): “Wie oorwin, Ek sal hom ’n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal daar nooit weer uitgaan nie; en Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, van die nuwe Jerusalem, wat uit die hemel van my God neerdaal, en my nuwe Naam” (Op. 3:12). As lede van die bruidsgemeente is ons beelddraers van Christus en die Nuwe Jerusalem is ons ewige tuiste – daarom is dit ook ons stad.

Die Lam is vir sondaars van alle tye geoffer

’n Belangrike beginsel wat in verband met die inwoners van die Nuwe Jerusalem in ag geneem moet word, is dat dit nie net alle gelowiges uit alle nasies insluit nie, maar van alle tye. Ou-Testamentiese gelowiges het vir die Messias gewag, en hulle sonde is op grond van die voorlopige, skaduagtige offers van die ou verbond vergewe, hangende die koms en soendood van die Messias. Christus het die voorafgaande tipologiese offers bekragtig, want deur sy kruisdood het Hy die belofte vervul wat in al daardie offers vervat is. Diereoffers kon nie self reiniging bewerkstellig nie, “want die bloed van stiere en bokke kan onmoontlik die sonde wegneem” (Heb. 10:4). Hierdie offers het vooruit gewys na hulle vervulling in die kruisdood van die vlekkelose Lam van God.

Toe die Seun van God die losprys vir die wêreld se sonde betaal het, het alle gelowiges uit die Ou Testament ook in die volle sin van die woord Messiaanse gelowiges geword, en gevolglik lede van die verlostes van die Lam. In Ou-Testamentiese tye is Israel metafories die vrou van God genoem omdat hulle deur die geloof aan Hom verbonde was (Jes. 54:5; Hos. 2:15). Hulle verhouding met die Messias sal die vervulling van hierdie intieme band met God wees, daarom sal hulle ook as sy bruid of vrou beskryf word.

Daar gaan dus in die Nuwe Jerusalem ’n samevoeging van Ou-Testamentiese en Nuwe-Testamentiese gelowiges in een liggaam plaasvind. Ou-Testamentiese gelowiges het die belofte van die Messias aangegryp, maar nie in hulle leeftyd verkry nie: “In die geloof het hulle almal gesterwe sonder om die beloftes te verkry, maar hulle het dit uit die verte gesien en geglo en begroet, en het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was” (Heb. 11:13). Abraham, die stamvader van Israel, het saam met duisende ander gelowiges “die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is” (Heb. 11:10).

Weens hulle geloof in God is Ou-Testamentiese gelowiges ná hulle dood in die Paradys in die onderste dele van die aarde bewaar totdat die Messias gekom het om hulle verlossing te bevestig. Tussen die Paradys en die ongeredde dode was daar ’n groot kloof gevestig (Luk. 16:26). Ná Christus se kruisdood het Hy “neergedaal in die onderste dele van die aarde” (Ef. 4:9), waar Hy Homself in die Paradys aan die gelowiges vertoon het as die vervulling van die belofte waarop hulle gewag het, en aan die ongelowiges as die verlossing van God wat deur hulle verwerp is.

Die ongelowige dode is steeds in Sjeool (Gr. “Hades”), maar Ou-Testamentiese gelowiges in die Messias kon in daardie stadium hulle hemelse erfenis verkry en kon uit die Paradys in die onderste dele van die aarde na die hemel toe geneem word. Sedertdien is die Paradys in die hemel. Paulus sê in 2 Korinthiërs 12:2-4 dat hy tot in die derde hemel weggeruk is, en noem dit “die Paradys”. Dit is ook die plek waarheen die Here Jesus 40 dae ná sy opstanding uit die dood opgevaar het (Hand. 1:9-11). Hier, in die Vaderhuis met sy baie wonings, is Hy besig om vir almal wat aan Hom behoort, plek te berei (Joh. 14:2-3).

Daar gaan ’n gesamentlike verheerliking wees van die bruid van Christus uit Israel en die nasies (Ou Testament sowel as Nuwe Testament), daarom word daar van die Ou-Testamentiese gelowiges gesê: “En alhoewel hulle almal deur die geloof getuienis ontvang het, het hulle die belofte nie verkry nie, omdat God iets beters oor ons beskik het, sodat hulle nie sonder ons volmaak sou word nie” (Heb. 11:39-40). Ons en hulle gaan saam in die nuwe Jerusalem verheerlik word.

Daar is dus ’n eenvoudige en logiese definisie vir die bruid van die Lam – sy verteenwoordig alle ware gelowiges van alle tye. Die Nuwe-Testamentiese kerk, en daarmee word net weergebore mense bedoel, is deel van die bruid van Christus. Paulus sê aan een van die gemeentes: “Ek het julle aan een Man verbind om julle as ’n reine maagd aan Christus voor te stel” (2 Kor. 11:2). Hy het Homself oorgegee aan die kruisdood sodat ons gered én geheilig kan word om verheerlik en sonder vlek of rimpel voor Hom te verskyn (Ef. 5:25-27).

Die heerlikheid van die bruid

Jesus Christus se bruid, met wie Hy by die bruilof van die Lam verenig gaan word, bestaan uit weergebore mense wat met die Heilige Gees vervul is. Hulle maak erns daarmee om hulleself met Christus te beklee deur elke besoedeling van die vlees en die gees af te lê en die heiligmaking in die vrees van God te volbring (Rom. 13:14; 2 Kor. 7:1). Die vrug van die Gees in hulle lewe verleen aan hulle ’n vlekkelose bruilofskleed: “Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak. En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges” (Op. 19:7-8).

 

 

’n Lewe van heiligmaking vereis dat ons onder die leiding van die Heilige Gees met goud, silwer en kosbare stene op die fondament van bekering sal bou (1 Kor. 3:11-14), want alleen dié werke is die vrug van die Gees. Dit sal nie net aan ons ’n gepaste bruilofskleed verleen nie, maar ook verseker dat ons met vrymoedigheid voor die regterstoel van Christus sal verskyn, waar genadeloon toegeken sal word aan diegene wat vrugbare lewens van diens aan die Here gelei het.

In die Bruilofslied van die Messias word die huwelik tussen Christus en sy bruid só beskryf: “Uit ivoorpaleise maak snarespel U bly. ... Die koningin staan aan u regterhand in goud van Ofir. ... Louter heerlikheid is die Koning se dogter daarbinne; van gouddraad is haar kleding. In veelkleurige gewade word sy na die Koning gelei. ... Hulle word gelei met vreugde en gejuig; hulle gaan in die Koning se paleis in” (Ps. 45:9-16).

Die gouddraad en kosbare stene waarmee haar bruilofskleed versier is, is deel van “die regverdige dade van die heiliges” (Op. 19:8). Dit is die goud, silwer en kosbare stene waarmee sy in haar lewe van toewyding aan die Messias op die fondament van haar bekering gebou het. Diegene wat nie deur die vervulling met die Heilige Gees na ’n hoër vlak van toewyding gestreef het nie, het nie ’n versierde bruidskleed nie en sal met leë hande voor Christus verskyn, gered asof deur vuur heen (1 Kor. 3:15). Hulle sal ook in die koninkryk van die Here wees, maar word in Psalm 45:15 as die “vriendinne” van die bruid beskryf.

Motivering vir volkome toewyding

Ons moet deur die belofte van ons hemelse erfenis gemotiveer word, sodat ons met die oog daarop skatte in die hemel sal bymekaarmaak waar mot of roes nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie. Die regverdige dade van die heiliges op aarde het ’n regstreekse invloed op die mate van genadeloon en heerlikheid wat hulle in die Nuwe Jerusalem te beurt sal val. Is jy op ’n ondubbelhartige wyse aan die opdrag tot heiligmaking toegewy, sodat die Here jou in sy diens kan gebruik? “... [E]lke loot wat vrug dra, die maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra. ... Bly in My, soos Ek in julle” (Joh. 15:2-4). Dit is ’n opdrag wat uitgevoer moet word, en nie ’n vanselfsprekende gevolg van Christenskap nie.

Ons volle samewerking is in die proses van reiniging nodig, want ons moet alle vleeslike werke bely en laat staan en ’n volle oorgawe aan die Here maak: “As iemand hom dus hiervan deeglik reinig, sal hy ’n voorwerp tot eer wees, geheilig en bruikbaar vir die Here, toeberei vir elke goeie werk” (2 Tim. 2:21).

Indien dit die hoogste doel van jou lewe is om die Here met ’n volkome hart te dien en lief te hê, sal jy eendag verbaas staan oor dit wat Christus in die huis van sy Vader gaan berei het. Die skoonheid van die Nuwe Jerusalem kan nie eers deur sterflike mense bedink of in woorde uitgedruk word nie. Soos Paulus sê, kan dit net beskryf word as: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ’n mens nie opgekom het nie ...” (1 Kor. 2:9).

 

21. Oestyd: Die Finale Skeiding

Ons kom nou vinnig nader aan die tyd wanneer miljoene mense wat tans op die smal of breë pad is, hulle ewige bestemming gaan bereik – die een groep in die Nuwe Jerusalem en die ander groep in die poel van vuur. Die Bybel beskryf hierdie skeiding as oestyd:

“’n Ander gelykenis het Hy hulle voorgehou en gesê: Die koninkryk van die hemele is soos ’n man wat goeie saad in sy land gesaai het; maar terwyl die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid onder die koring gesaai en weggegaan. En toe die spruitjies opgeskiet en vrug gevorm het, toe verskyn die onkruid ook. En die diensknegte van die huisheer het gekom en vir hom gesê: Meneer, het u dan nie goeie saad in u land gesaai nie? Waar kry dit dan die onkruid vandaan? En hy antwoord hulle: ’n Vyandige mens het dit gedoen. Toe sê die diensknegte vir hom: Wil u dan hê dat ons dit moet gaan bymekaarmaak? Maar hy antwoord: Nee, dat julle nie miskien, as julle die onkruid bymekaarmaak, die koring daarmee saam uittrek nie. Laat altwee saam groei tot die oes toe, en in die oestyd sal ek vir die maaiers sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring bymekaar in my skuur” (Matt. 13:24-30).

Die evangelie van Jesus Christus is die goeie saad wat in die saailand van die wêreld gesaai word, en die vrug daarvan is die geredde mense wat dit aangeneem het. Hulle bevind hulleself egter in ’n oorwegend goddelose wêreld waarin die meeste mense die duisternis liewer het as die lig (Joh. 3:19). Die ongereddes is kinders van die duiwel wat geestelik deur hom verblind word (Joh. 8:44; 2 Kor. 4:4).

Daar is geestelik gesproke net twee groepe mense op aarde – die kinders van God wat op die smal pad hemel toe is, en die kinders van die duiwel wat op die breë pad na die verderf is. Omdat dit ’n geestelike verdeling is, kan die smal pad en breë pad nie altyd sigbaar van mekaar onderskei word nie, want geredde en ongeredde mense woon en werk saam in die wêreld. Hulle is soos koring en onkruid wat saam in dieselfde land groei. Dikwels gaan hulle ook saam kerk toe, maar met verskillende motiewe. Ongeredde mense streef soms na ’n misleidende gedaante van godsaligheid net om sosiaal meer aanvaarbaar te wees.

Aan die einde van die kerkbedeling sal daar egter skielik en dramaties ’n skeiding tussen die twee groepe kom wanneer die Here sal ingryp om die Christene te kom haal en in die hemel by Homself te versamel (1 Thess. 4:16-17). Die ander groep sal op aarde agtergelaat word en weens hulle ongeloof deur God geoordeel en ook aan die gesag van die Antichris uitgelewer word. Dit word geïmpliseer deur die verbranding van die onkruid. Relatief min mense sal die tyd van Goddelike toorn oorleef (Jes. 24:3-6; Matt. 24:21-22).

Hierdie skielike verdeling van die mensdom wanneer die Here sy kinders kom haal, sal in sekere samelewings waar daar min of geen Christene is, feitlik nie eers waargeneem word nie. In samelewings waar daar meer Christene is, en gewoonlik ook baie naamchristene wat misleidend voorgee om Christene te wees, sal die gevolg van die wegvoering dramaties en ook skokkend wees. Hierdie skeiding sal selfs regdeur gesinne loop: “In daardie nag sal daar twee op een bed wees; die een sal aangeneem en die ander verlaat word” (Luk. 17:34). Ook by die werksplekke sal daar ingegryp word wanneer die regverdiges weggeneem word en diegene wat ongered was of net ’n gedaante van godsaligheid gehad het, agtergelaat sal word (Luk. 17:35-36).

Die naamchristene sal dalk die ergste geskok word, want hulle is meesal lidmate van kerke en word deur mense salig gespreek net omdat hulle gedoop is, kerk toe gaan en geldelike bydraes gee. Indien hulle egter nie aan die eis van wedergeboorte voldoen nie, is hulle nie waarlik Christene nie (Joh. 3:3). Hulle is die dwase maagde wat ook uitgaan om die Bruidegom te ontmoet, maar op die laaste oomblik eers agterkom dat die lig van hulle getuienis uitgedoof geraak het (Matt. 25:1-13). Hierdie groep sal skielik van die ware Christene afgeskei word en agtergebly.

Die ongeredde en teruggevalle Christene wat agterbly, sal in die donker dae van die verdrukking steeds gered kan word, maar onder uiters moeilike omstandighede. Die Antichris se vermoë tot misleiding sal so groot wees dat hy die meeste mense by sy valse, multigodsdienstige ideologie sal intrek sodat hulle geestelik nog meer verblind kan raak. Hulle sal in vervoering wees oor sy nuwe idees, hom van harte aanvaar en hom selfs ook aanbid (Op. 13:3-4, 8).

Diegene met die nodige profetiese kennis van die Bybel, sal egter weet dat hy ’n valse messias is wat deur die duiwel gestuur is. Hulle sal hom verwerp en dan deur bekering in die regte verhouding teenoor die ware Messias kom. Onder hierdie groot groep mense uit alle nasies, wat in die verdrukking gered sal word, sal daar ook 144 000 Jode wees (Op. 7:1-17). Hulle sal egter steeds ’n minderheid wees teenoor die groot groep verwonderde volgelinge van die Antichris.

Wanneer ’n persoon die Antichris erken, ’n verbond met hom sluit, sy nommer aanvaar en ook sy beeld aanbid, sal hy die moontlikheid van versoening met die ware Christus vernietig. Al wat dan vir hom oorbly, is om die Antichris se oordeel in die poel van vuur met hom te deel (Op. 14:9-11). Wanneer groot oordele van God in die verdrukking oor hulle uitgestort word, sal hierdie verharde en onbekeerlike sondaars God laster oor die plae (Op. 16:9, 11, 21).

Die Here Jesus gaan al die geredde mense wat aan Hom behoort, in sy koninkryk verwelkom en hulle ook beloon vir hulle arbeid in die Here. Die ongereddes wat hulleself by sy vyande geskaar het, sal weggewys word na ’n plek van ewigdurende smarte. Dieselfde sal gebeur met valse naamchristene wat voorgegee het om aan Christus te behoort, maar ten spyte daarvan steeds verduister is in hulle harte (Matt. 7:22-23).

Die veel meer uitnemende weg is om nou in die regte verhouding met Jesus Christus te kom en deur sy Heilige Gees vervul te word sodat Hy jou in die hele waarheid kan lei. “Aanbid God. Want die getuienis van Jesus is die gees van die profesie” (Op. 19:10b).