Afdeling B: Die Groot Teken van Israel en Jerusalem

Die herstel van Israel is ’n baie belangrike teken dat die laaste dae van die kerkbedeling aangebreek het. In sy profetiese rede het die Here Jesus gesê dat die tye van die nasies (dit is die tyd van wêreldevangelisasie) sou voortduur solank as wat die vertrapping van Jerusalem deur die nasies voortduur (Luk. 21:24). Die fisiese herstel van Israel in 1948, die herowering van Bybelse Jerusalem (die Ou Stad) in 1967, asook die staatkundige herstel van Jerusalem as Israel se hoofstad in 1980, is belangrike profetiese bakens wat op die naderende einde van die kerkdispensasie dui.

Daar is egter ’n ander, meer belangrike aspek van Israel se herstel wat nie oor die hoof gesien moet word nie, en dit is hulle geestelike herlewing. Die vyeboom (Israel) moet nie net bot en tot nuwe lewe kom in die land Israel nie, maar hierdie boom moet ook in die komende somer van God se koninkryk vrugte dra terwyl Israel hulle roeping as ’n Messiaanse volk vervul. Dit kan slegs gebeur as hulle almal met die Messias versoen is (Jer. 31:34). Hoe verder die Messiaanse beweging onder die Jode uitbrei, hoe nader kom die bereiking van hierdie ideaal.

Israel en hulle hoofstad, Jerusalem, is in die middelpunt van eindtydse gebeure, want dit is hierheen dat die Messias terugkeer om sy vrederyk op aarde te vestig. Dit is ons taak om te bid vir die vrede van hierdie stad, maar dit sal eers gebeur wanneer die Vredevors van die troon van Dawid af regeer. Dit is Christene se taak om saam met die ondersteuning aan Israel ook te bid dat die Here Jerusalem sal bevestig en tot ’n lof op aarde maak (Jes. 62:6-7).

Die beste metode om Israel se geestelike herlewing in die hand te werk, is om deur middel van die vervulling van Ou-Testamentiese profesieë aan hulle te bewys dat Jesus die beloofde Messias is. Hierdie boodskap kan baie doeltreffend uit die oogpunt van Israel se jaarlikse feeste aan hulle oorgedra word, aangesien die Messias histories én profeties sentraal staan in die vervulling van al sewe die feeste.

 

7. Die Geestelike Geboorte van ’n Volk

Daar is groot afwagting vir die tyd wanneer Israel as volk met die Messias versoen sal word, want dit sal die formele afsluiting van die tye van die nasies wees wat van Israel se Babiloniese ballingskap af tot aan die einde van die Antichris se regering strek. In daardie hele tyd het daar geen koning op die troon van Dawid regeer nie. Ná Israel se geestelike ontwaking sal hulle koninkryk onder die persoonlike leiding van die Messias herstel word. Dit sal ’n tydperk in die wêreldgeskiedenis inlui wanneer die kennis van die Here, asook eerbied vir sy Naam en sy Woord, die hele aarde sal vervul soos die waters die seebodem oordek (Jes. 11:9). Enige studie oor Israel se eindtydse herstel moet dus op sowel die volk se fisiese en staatkundige herstel as hulle geestelike ontwaking ingestel wees. Die Messias sal hulle Verlosser én Koning wees.

Israel se huidige hervestiging in die land van hulle vaders is slegs ’n voorbereidende stap vir hulle geestelike herstel wanneer hulle in die ware sin van die woord God se volk sal word. Hulle harte moet besny word, en dit kan net die Messias alleen deur die Heilige Gees doen (Rom. 2:28-29). Dit is presies wat sal gebeur wanneer Jesus terugkom om sy voete op die Olyfberg te sit en ’n herontmoeting met die Joodse volk te hê. Hierdie keer sal dit met absolute positiewe gevolge wees, omdat al die oorlewende Jode met gebroke harte vir redding en begenadiging na Jesus sal opsien en Hom ten volle as hulle Koning en Messias sal aanvaar (Sag. 12:10).

Toe Jesus tydens sy eerste koms deur Israel en hulle godsdienstige leiers verwerp is, het Hy geweet dat dit nie die einde van sy verhouding met Israel as volk sal wees nie, want Hy het vir hulle gesê: “Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23:39). Hierdie tweede ontmoeting kom vinnig nader, en slegs dit kan Israel geskik en waardig maak om die beloofde Messiasryk te beërf en almal diensknegte van die Messias te wees.

Daar was in elke geslag Jode sedert die eerste koms van Jesus ’n klein oorblyfsel in Israel wat met die Messias versoen was en ’n verhouding met Hom gehandhaaf het. Die ballingskap van die volk het egter voortgeduur weens die ongeloof van die meerderheid. Tydens Israel se herstel in 1948 was die volk se geestelike toestand nog onveranderd. Messiaanse gelowiges word deur die meerderheid ortodokse Jode verag omdat hulle nie hulle redding aan die navolging van die Tora verbind nie, maar “agter die God van die heidene aanloop”. Ten spyte van hulle negatiewe ervarings is die getalle van die Messiaanse Jode besig om dramaties toe te neem, en hierin kan ons duidelik die begin van Israel se geestelike ontwaking raaksien. Dit is ’n belangrike eskatologiese ontwikkeling, want hierdie groep is ’n vroeë aanduiding van dit wat die hele volk in die toekoms sal wees.

Messiaanse Jode noem hulleself “vervulde Jode” en ervaar glad nie ’n neiging om dislojaal teenoor hulle eie volk te wees nie. Die teendeel is eerder waar, want hulle het ’n groot liefde vir hulle volk en is diep besorg oor die geestelike blindheid van die meerderheid. n Vervulde Jood (a completed Jew) is n Jood wat die hoop van Israel, naamlik die Messias, ontmoet en sy lewe aan Hom oorgegee het – hy is dus n Messiaanse Jood. In sy getuienis, A completed Jew, sê Jeff Miller: “I accepted  Jesus into my life and He completed me” (www.precious-testimonies.com/BornAgain).

In n artikel oor Messiaanse Jode sê Wikipedia: “Messiaanse Judaïsme glo dat Jesus nie slegs n gewone mens was nie, maar die Joodse Messias en God die Seun (een van die persone in die Drie-eenheid), en dat redding slegs verkry kan word deur Jesus as jou Saligmaker aan te neem. Enige Joodse wette en gebruike wat daarna nog gevolg word, is kultureel van aard en dra nie tot n persoon se saligheid by nie.”

Ortodokse Jode beskou n “vervulde Jood” uit die Messiaanse beweging egter as n “verlore Jood” omdat hy n Messias bely wat nie deur hulle erken word nie, en ook omdat hy nie meer sy geloofsekerheid aan wetsonderhouding verbind nie. Die gevolg is dat die moderne Joodse dissipels van die Messias net soveel stryd en teenkanting van die ortodokse Jode af kry as wat die geval met die dissipels in die eerste eeu was.

Wat hulle getalle betref is die Messiaanse beweging nog gering teenoor die groot meerderheid ortodokse en ongelowige (“nie-praktiserende”) Jode, maar hulle maak nogtans goeie vordering en brei vinnig uit. Daar is verskeie groot, internasionale sendingorganisasies, asook koördinerende liggame vir Messiaanse gemeentes, waarvan enkeles hier onder genoem word. Hulle stel hulleself só bekend, en op sommige van hulle webwerwe kan meer inligting oor hulle standpunte en visie verkry word, asook getuienisse van Messiaanse Jode:

Die Caspari-sentrum vir Bybelse en Joodse Studies (www.caspari.com)

“Die Caspari-sentrum is ’n netwerk van mense oor die hele wêreld, Jode én nie-Jode, wat saamwerk om inligting te versprei oor Joodse gelowiges in Jesus, en om ook die uitbreiding van gemeentes in Israel te ondersteun. Dit is ons passie om opkomende leiers te ondersteun wat Israel sal verander deur leiding te neem in die vestiging van groeiende, geestelik volwasse Messiaanse gemeenskappe. ... Ons het na ons nuwe perseel verhuis in HaNevi’im (Profete) St. 55 in Jerusalem. ... Die boek, Jewish Believers in Jesus: The Early Centuries, is die eerste in ’n reeks boeke wat deur die Caspari-sentrum geredigeer is. Dit handel oor die eerste vyf eeue van Christelike geskiedenis, soos ervaar deur Jode wat Jesus Christus as hulle Verlosser bely het.”

Unie van Messiaanse Joodse Gemeentes (www.umjc.net)

Hierdie organisasie huldig die volgende geloofsbelydenis:

1.    Ons glo in die Bybel as die geïnspireerde, foutlose en gesaghebbende Woord van God.

2.    Ons glo dat daar een, ewige God is wat in drie Persone bestaan – Vader, Seun en Heilige Gees.

3.    Ons glo in die Godheid van die Here Jesus (Jeshua), die Messias, in sy maagdelike geboorte, in sy sondelose lewe, in sy wonderwerke, in sy plaasvervangende versoeningsdood deur die storting van sy bloed, in sy liggaamlike opstanding, in sy hemelvaart na die regterhand van sy Vader, en in sy persoonlike wederkoms in krag en heerlikheid.

4.    Ons glo dat wedergeboorte deur die Heilige Gees absoluut noodsaaklik is vir verlore en sondige mense.

5.    Ons glo in die huidige bediening van die Heilige Gees, deur wie se inwoning die gelowige in staat gestel word om ’n Goddelike lewe te lei.

6.    Ons glo in die opstanding van verloste én verlore mense – dié wat verlos is vir die opstanding van die lewe, en dié wat verlore is vir die opstanding van die veroordeling.

7.    Ons glo in die geestelike eenheid van alle gelowiges in die Here Jesus, die Messias.

8.    Ons glo in die proses van dissipline en die oplossing van geskille wat in Matthéüs 18:15 en verder geleer word, en dat dit van toepassing is op alle lidmate en leierspersone.

9.    As Joodse volgelinge van Jeshua is ons geroepe om ons Joodse Bybelse erfenis in stand te hou, om deel te bly van ons volk in Israel en terselfdertyd ook deel te bly van die wêreldwye liggaam van gelowiges. Dit is deel van ons identiteit, asook ’n getuienis van die getrouheid van God.

Britse Messiaanse Joodse Alliansie (www.bmja.net)

“Dit is met groot besorgdheid dat ons kennis neem van die wêreldwye toename in anti-Semitisme, wat in hierdie tyd ook die gedaante van anti-Sionisme aanneem. Ons is bekommerd omdat anti-Joodse sentiment so dikwels in die Britse samelewing voorkom. Ons doen ’n beroep op die kerk om dit teë te staan. As Jode wat deel van die kerk is, is ons ontsteld om te hoor dat anti-Joodse uitsprake selfs in die kerk en in die naam van die Christendom gemaak word. Ons doen ’n beroep op ons medegelowiges in alle lande om te erken dat Jesus ’n Jood was, en om alle vorms van rassisme teen Jode binne én buite die staat van Israel af te wys. Ons versoek die kerk om openlik te erken dat God ’n voortgaande verhouding met die Joodse volk het, en sal aanhou om met hulle bemoeienis te maak omdat Hy hulle nie verwerp het nie. Dit is ondenkbaar en beledigend om te beweer dat die Verbondsgod sy eerste keuse sou laat vaar ter wille van ’n ander. Wanneer ons hoor dat mense in kerke beweer dat God se beloftes aan die Jode van nul en gener waarde is, dan is ons bekommerd – nie net oor dit wat daar van ons gesê word nie, maar ook oor dit wat van God gesê word, asof Hy veranderlik is. Ons bestaan as ’n volk in die 21ste eeu spreek vanself. Ons is deel van die groot, diverse en lewenskragtige Messiaanse Joodse beweging wat bely dat Jeshua [die naam van Jesus in sy Hebreeuse vorm] Messias, Verlosser en Here is.”

The Messianic Times (www.messianictimes.com)

The Messianic Times is ’n leidende internasionale Messiaanse Joodse koerant wat al sedert 1990 bestaan. Dit word tweemaandeliks uitgegee en berig oor die wêreldwye Messiaanse beweging, huidige gebeure in Israel en ook oor ander sake van belang. Die sentrale uitgangspunt van die koerant is dat Jeshua die Messias van Israel is.

Jews for Jesus (www.jewsforjesus.org)

Op hierdie organisasie se webtuiste maak hulle die volgende stellings oor hulle roeping om die evangelie onder Jode te verkondig, asook die probleme wat daarmee gepaard gaan:

“Jode verwerp die metodes en publikasies wat algemeen vir evangelisasie gebruik word, omdat dit in ’n soort Christelike taal en onder omstandighede aangebied word waarby hulle uitgesluit voel. Ons moet hierdie aanname vermy, daarom moes ons vernuwe om die Jode meer sinvol te kan bereik. Ons plaas volblad beskrywings van die evangelie as betaalde advertensies in leidende koerante en tydskrifte soos Newsweek, Parade en The New York Times. Ons probeer om die Messiasskap van Jesus in die sekulêre media ’n onvermybare saak vir Jode te maak. Ons hou ook in groot stede in die VSA, Brittanje, Frankryk en Rusland byeenkomste waar Messiaanse Jode hulle getuienisse gee.

“Dit is moeilik om selfs in ’n sendingorganisasie skerp gefokus te bly op die opdrag om Christus met die ongereddes te deel. Joodse evangelisasie is moeilik. Die Jode het ’n lang tradisie van ongeloof, en sien dikwels neer op diegene wat probeer om die evangelie met hulle te deel. Die gevoel van weerloosheid en die pyn van verwerping wat noodwendig met doeltreffende evangelisasie gepaard gaan, kan sy tol eis indien dit nie reg hanteer word nie. Indien ons nie hierdie weerloosheid en emosionele pyn in die regte perspektief sien nie, kan ons natuurlike neiging om dit te vermy, stadig maar seker ons geesdrif vir regstreekse evangelisasie ondermyn.

’n Tweede probleem in die handhawing van jou fokus op evangelisasie is die feit dat daar so baie dinge is wat jou aandag aftrek. Ongeag of dit betrokkenheid by die lei van toere na die Heilige Land is, die reël van profetiese konferensies, of pogings om steun vir die staat van Israel te verkry, kan nie een van hierdie waardige pogings die taak van Joodse evangelisasie vervang nie. Geen Joodse sendingorganisasie kan bekostig om sulke take te onderneem ten koste van sy primêre doel om regstreeks met die ongereddes te praat nie. Dit is waarom jy ons by Jews for Jesus op die strate en op universiteitskampusse sal aantref, besig om traktaatjies uit te deel. Ons maak ook telefoonoproepe en reël persoonlike ontmoetings met Jode. Dit is alles deel van Jews for Jesus se verbintenis om sigbaar en beskikbaar te wees, asook bereidwillig om kritiek te verduur, terwyl ons regstreekse Joodse evangelisasie as ’n prioriteitstaak uitvoer.”

Trumpet of Salvation to Israel (www.trumpetofsalvation.com)

“Die wedergeboorte van Jacob Damkani het gepaard gegaan met ’n roeping om Jeshua aan die verlore skape van die huis van Israel te verkondig, ongeag wat die koste daarvan sou wees. Deur die verspreiding van traktaatjies wat hy self geskryf het, het hy evangelisasie in die strate van Israel gedoen, ongeag die weerstand van sy eie familielede, asook die vyandigheid van ortodokse Jode. Trumpet of Salvation to Israel is in 1984 gevestig. Sedertdien het Jacob sy lewe voltyds aan sy roeping gewy. Die outobiografie van Jacob Damkani, Lama Davka Ani? (Why Me?), het baie Israeli’s gehelp om tot geloof in Jeshua te kom, en ook aan baie Christene beter insig in die oorsprong van hulle geloof gegee. Hierdie boek is beskikbaar in Hebreeus, Russies, Nederlands, Engels, Fins, Frans, Duits, Hongaars, Italiaans, Koreaans, Portugees, Spaans en Sweeds.”

Die begin van die volk se herlewing

Die eindtydse Messiaanse beweging in die wêreld is ten nouste by die herstel van die Joodse staat betrokke, en het n sterk profetiese verwagting op die wederkoms van die Messias. Sommige van hulle verhuis na Israel, terwyl ander hulle kinders stuur om op kibboetse te werk, in die Israeli-weermag te dien of enige sekulêre werk in Israel te doen. Hulle is bewus van die Here se plan met die herstel van sy volk in hulle land, naamlik Israel se geestelike lewendmaking deur die nasionale aanvaarding van die Messias, Jeshua.

Die eerste fase van Israel se herstel is fisies en staatkundig, terwyl hulle geestelike ontwaking eers daarna sal volg. Die eerste fase is nietemin baie belangrik, want die Here bring hulle terug na n land wat deur Homself “Israel” genoem word en nie “Palestina” nie: “So spreek die Here Here: Ek sal julle bymekaarmaak uit die volke en julle versamel uit die lande waarin julle verstrooi is, en Ek sal aan julle die land Israel gee” (Eseg. 11:17).

Hier sal die Here ongelowige Israel in benoudheid bring totdat hulle hul verwerpte Messias sal soek, vind en voor Hom neerbuig (Eseg. 22:18-20; Jer. 30:7; Hos. 5:15). Die Messiaanse Jode doen alles moontlik om hulle volksgenote nou by Jeshua uit te kry, sodat hulle die ewige oordeel kan ontvlug en ook nie die tyd van benoudheid vir Jakob hoef te beleef nie (Jer. 30:7).

Hulle hou ook vas aan die belofte dat Israel nie in die komende uur van benoudheid sal ondergaan nie, maar dat die Here sal ingryp om ’n oorblyfsel van sy volk te red en op ’n dinamiese wyse as sy getuies te gebruik. Hy sal ook twee spesiale getuies opwek om tydens die valse messias se regering ’n sterk Messiaanse getuienis te laat uitgaan (Op. 11:3-12). Ná die beëindiging van die kerkbedeling sal daar dus nuwe getuies opgewek word om Israel as volk verder op hulle geestelike ontwaking voor te berei.

Getuienis van die bruilof

Tydens die wegvoering van ware Christene, insluitend die Messiaanse gelowiges, sal daar veral vir Israel ’n duidelike aanduiding wees dat die hemelse Bruidegom gekom het. Jode weet baie goed dat die bruidegom in tradisionele Joodse huweliksgebruike sy bruid onverwags in die nag kom haal en dan saam met hom weggeneem het na sy vaderhuis toe. ’n Gebeurtenis wat hiermee ooreenstem, behoort dus sigbaar aan hulle die boodskap oor te dra dat Jesus die Messias is en dat Hy sy bruid kom haal het.

Die Here Jesus het in Matthéüs 25:1-13 aan eindtydse Israel juis so ’n situasie beskryf, naamlik dat die hemelse Bruidegom sy getroue dissipels in ’n donker tyd sal kom haal. Tydens Jesus se eerste koms was daar groot aanvegtinge teen Hom en sy klein groepie ware dissipels. Die nag voor sy kruisiging het Hy egter die volgende gerusstellende belofte aan hulle gemaak: “Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is” (Joh. 14:1-3).

Hierdie belofte is na analogie van die tradisionele Joodse huweliksgebruike in Bybelse tye gemaak. Die eerste belangrike stap in die Joodse huwelik was die verlowing, wat die sluiting van ᾿n huweliksverbond behels het. In die tyd van Jesus was dit gebruiklik dat só ᾿n verbond gesluit is op grond van die inisiatief wat deur die voornemende bruidegom geneem is. Vir hierdie doel het hy van sy vaderhuis af na die woning van sy voornemende bruid gereis. Daar het hy met haar vader oor die bruidsprys (mohar) onderhandel wat hy vir haar moes betaal. Nadat die bruidegom die koopprys betaal het, is die huweliksverbond tussen hulle gesluit. Van daardie oomblik af is die bruid as toegewy of geheilig verklaar, en slegs vir haar bruidegom afgesonder. As ᾿n simbool van die verbond wat tussen hulle gesluit is, het die bruidegom en die bruid gedrink uit ᾿n beker ongegiste wyn waaroor die verlowingseën uitgespreek is.

In die bestudering van die analogie is die eerste stelling wat gemaak moet word, dat die geheiligde kerk van Christus sy bruidsgemeente is (Ef. 5:22-33). Net soos die Joodse bruidegom die inisiatief in die huwelik geneem het deur sy vaderhuis te verlaat en na die woning van sy voornemende bruid te reis, het Jesus 2 000 jaar gelede sy vaderhuis verlaat en na die aarde gekom wat die woonplek van sy voornemende bruid is. Hier het Hy deur sy kruisdood die volle prys betaal om sy bruid los te koop sodat sy net aan Hom kan behoort. Paulus sê vir die gemeente: “Julle is duur gekoop” (1 Kor. 6:20), en Petrus bevestig ook dat ons losgekoop is deur die kosbare bloed van die Lam (1 Pet. 1:18-19).

In dieselfde nag waarin Jesus die belofte aan die vroeë dissipels gemaak het dat Hy vir ons plek gaan berei, het Hy die Nagmaal ingestel. Hy het die beker met die wyn aan sy dissipels gegee met die woorde: “Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed” (1 Kor. 11:25). Dit is ter herinnering aan die vaste en ewige verbintenis wat ons deur sy kruisdood met Hom het.

Nadat die huweliksverbond gesluit is, het die bruidegom die woning van die bruid verlaat en na sy vaderhuis teruggekeer. Daar het hy, afgesonderd van sy bruid, vir omtrent ’n jaar lank gebly. Hierdie jaar het aan die bruid die geleentheid gebied om haar bruidsuitrusting gereed te kry en haar op die getroude lewe voor te berei. Die bruidegom het homself besig gehou met die inrig van woonkwartiere in sy vader se huis, waarheen hy sy bruid kon bring.

Aan die einde van die jaar van afsondering het die Joodse bruidegom sy bruid gaan haal om by hom te kom woon. Hy, sy strooijonkers en ander manlike reisgenote het ᾿n fakkeloptog na die omgewing van die bruid se huis onderneem. Dit het gewoonlik in die nag gebeur omdat dit ᾿n geheime ontmoeting met haar was, en by hierdie geleentheid het hy homself nie aan die res van haar gesinslede vertoon nie. Hy het haar buitekant op die pad ontmoet. Hoewel die bruid hom aan die einde van die tyd van afsondering verwag het, het sy nie die presiese nag van sy aankoms geken nie. As gevolg hiervan is die bruidegom se aankoms deur ᾿n geroep voorafgegaan. Deur hierdie geroep is die bruid gewaarsku om vir die koms van die bruidegom gereed te wees (Matt. 25:6).

Op ᾿n soortgelyke wyse sal die hemelse Bruidegom aan die einde van die kerkdispensasie sy bruid in die geheim kom haal. Hy sal haar buitekant die aarde in die lug ontmoet, en Homself nie by hierdie geleentheid aan die res van die wêreld openbaar nie. Sy koms sal ook met ᾿n geroep aangekondig word (1 Thess. 4:16-18).

Wanneer die huisgenote van die bruid die volgende oggend gemerk het dat sy en haar vriendinne verdwyn het, het hulle geweet dat die bruidegom daardie nag gekom het. Hulle het dan ook as ᾿n afsonderlike groep na die huis van die bruidegom vertrek om die huweliksfees by te woon.

Wanneer die Messiaanse Jode saam met al die ander lede van Jesus se bruidsgemeente skielik tydens die wegraping verdwyn, sal baie van die Jode besef dat die hemelse Bruidegom hulle kom haal het. Dit sal vir hulle ᾿n sterk bewys wees dat Jesus die Messias van Israel en Verlosser van die wêreld is, en op grond daarvan sal daar ᾿n groot herlewing in Israel wees waarin 144 000 Jode kort ná die wegraping gered sal word (Op. 7:1-8). Die meerderheid van die volk sal egter geestelik verblind wees en met die valse messias ᾿n verbond sluit om sodoende deel van sy valse bruid van misleide aanbidders te word (Op. 17:3).

Dieselfde ontdekking van die skielike verdwyning van evangeliese Christene sal ook met ᾿n groot skok oral in die wêreld gemaak word, waar dit baie opsigtelik sal wees dat sommige mense spoorloos uit hul huise en van hulle werksplekke af verdwyn het (Matt. 24:40-42; Luk. 17:34-36). Hiervoor sal daar net een Bybelse verklaring wees, en dit is dat die hemelse Bruidegom sy bruid kom haal het!

Wanneer die Joodse bruidegom en sy geselskap by sy vaderhuis aangekom het, was sy bruid steeds gesluierd en het hy haar na die bruidsvertrek (huppah) geneem waar hulle vir sewe dae lank alleen saam was en die huwelik finaal volvoer is. Intussen het die gaste aangekom om die voltrekking van die huwelik te vier. Ná die sewe dae het die bruidegom sy bruid ongesluierd aan die gaste voorgestel sodat almal van hulle haar kon sien. Dit het tot groot blydskap en uitbundige feesviering gelei.

Op ᾿n soortgelyke wyse sal die bruid van die Messias weggeneem en verborge gehou word op ᾿n plek waar die res van die wêreld haar nie sal kan sien nie. Die sewe dae van die huppa dui profeties op ᾿n jaarweek, wat die sewe jaar is wat sal verloop tussen die wegraping en die sigbare openbaring van Jesus Christus en sy bruid aan die hele wêreld. Ná die vereniging tussen Christus en sy bruid sal daar inderdaad sewe jaar verloop voordat die bruilofsmaal van die Lam (die onthaal ná die troue) hier op aarde gevier sal word.

Jesus en sy bruid sal by sy wederkoms aan die hele wêreld geopenbaar word: “Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word” (Kol. 3:4). Hierna sal die bruilofsfees plaasvind, waar die oorblyfsel van Israel wat eers tydens die Messias se wederkoms gered sal word, onder die gaste sal tel: “Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak. En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges” (Op. 19:7-8). Sy sal in ᾿n vlekkelose kleed voor die Messias verskyn.

Die 144 000 verseëldes

’n Baie belangrike gebeurtenis wat aan die begin van die verdrukking net ná die openbaring van die Antichris sal plaasvind, is die redding van 144 000 Jode en hulle afsondering vir die diens van die Here. Die 144 000 sal ’n aanduiding van die begin van die volk se nasionale geestelike ontwaking wees, omdat hulle verteenwoordigend van die hele volk sal wees: “En ek het die getal van die verseëldes gehoor: 144 000 verseëldes uit al die stamme van die kinders van Israel” (Op. 7:4).

Daar is geen onduidelikheid omtrent hierdie stelling nie, en dit is eksegeties totaal onregverdigbaar om die 144 000 Joodse evangeliste op die kerk of enige ander groep mense buite Israel van toepassing te maak. In hierdie gedeelte word daar glad nie van simboliese taal gebruik gemaak nie. Die 12 stamme van Israel is ’n bekende historiese feit wat nie ’n simboliese of allegoriese voorstelling van die kerk of enige ander groep mense is nie.

So ook is die getal 144 000 nie simbolies nie, maar letterlik. Die komponente van die getal is nie 3 X 4 X 12 X 1 000 soos soms beweer word nie, maar 12 000 X 12: dit is 12 000 uit elk van die 12 stamme van die kinders van Israel! Volgens Eségiël 48 gaan die land Israel (die Beloofde Land, wat veel wyer grense as die huidige Israel sal hê) in die vrederyk onderverdeel en aan die twaalf stamme van Israel toegeken word.

Dit is uit ’n dispensasionele oogpunt ook baie duidelik waarom die 144 000 Jode gered en in die diens van die Here gestel gaan word. Wanneer die Here Jesus sy bruidsgemeente kom haal het, sal die dispensasie van die kerk beëindig wees. Hy sal dan die geestelike potensiaal van die herstelde Israel benut om sy lig in die donker nag van die verdrukking te laat skyn. Toe Elía weggeraap is, het sy mantel en profetiese bediening op Elisa geval. Ook in die komende uur van die duisternis sal die Here Homself nie onbetuig op die aarde laat nadat sy bruid weggeneem is nie, maar Joodse getuies opwek om hierdie taak voort te sit.

Openbaring 7 sluit aan by ’n lang reeks profesieë in die Bybel waarin die waarborg gegee word dat die Here sy volk Israel in die laaste dae na hulle land sal terugbring, sodat hulle ook geestelik kan herleef: “Daarom, sê vir die huis van Israel: ... Ek sal julle uit die nasies gaan haal en julle uit al die lande bymekaar laat kom, en Ek sal julle in jul land bring. Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word. ... En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen. En julle sal woon in die land wat Ek aan jul vaders gegee het; en julle sal vir My ’n volk en Ek sal vir julle ’n God wees” (Eseg. 36:22-28; vgl. Jer. 31:31-33).

Redding van die hele oorblyfsel van Israel

Die oomblik wanneer die Messias sy verskyning op die planeet aarde maak, sal die Olyfberg in twee gesplits word en ᾿n groot dal vorm waarin die vlugtelinge skuiling teen die vyand sal soek (Sag. 14:4-7). Die duisternis van God se oordele sal oordag toesak soos wat dit meer as 2 000 jaar gelede gebeur het toe sy oordeel vir die sonde van die wêreld deur Jesus aan die kruis buite Jerusalem gedra is (Matt. 27:45).

Op die hoogtepunt van sy oordele oor sondaars sal die genade van die Here nog steeds aangebied word aan dié wat hulle toevlug tot Hom neem. Die oorlewende Jode wat deur die magte van die valse Messias omsingel is, sal sien hoedat die Olyfberg in twee verdeel wanneer die Messias kom. Hulle sal in die geopende rotsskeure in die berg vlug terwyl die duisternis toesak. Daar, letterlik aan die voete van Jesus, die Messias, sal hulle veilig wees.

In hierdie beslissende oomblikke sal daar groot verwarring onder die vyande van Israel heers terwyl hulle deur Goddelike oordele getref en verdelg word. Hulle sal mekaar ook begin doodmaak (Sag. 14:13). Die valse Messias en die valse profeet, as die twee leiers van die wêreldwye rebellie teen God en sy volk, sal gevang en lewendig in die poel van vuur gegooi word (Op. 19:19-20).

Wanneer dit weer begin lig word, sal die oorblyfsel van Israel vol verwondering en aanbidding voor die Messias neerval. Wanneer hulle na Hom opkyk, sal hulle verbasing baie groot wees om wonde in sy hande te sien. Hulle eerste vraag aan Hom sal wees: “Watter wonde is daar tussen u hande?” Dan sal Hy aan hulle sê: “So is Ek geslaan in die huis van my vriende” (Sag. 13:6).

Hoe verklaar Israel die feit dat die Messias, volgens die profeet Sagaría, wonde in sy hande sal hê wanneer Hy op die Olyfberg neerdaal? Waar het Hy die wonde opgedoen? Dit kan tog nie in die hemel wees nie! Onder die leiding van die Heilige Gees sal hulle besef dat dit die gekruisigde Here Jesus is wat tot hulle redding gekom het. In ’n Messiaanse profesie sê Hy:

“Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ’n mens rouklaag oor ’n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ’n mens bitterlik ween oor ’n eersgebore kind” (Sag. 12:10). Hulle nasionale rouklag sal waarskynlik 30 dae lank duur, soos wat gebruiklik in Israel was (Num. 20:29; Deut. 34:8).

Op hierdie oomblik sal die geestelike herstel van die hele Israel afgehandel en onomkeerbaar wees (Jer. 31:34). Paulus sê: “... en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend” (Rom. 11:26).

Hulle toekomstige rol

Ná hulle volkome versoening met die Here Jesus, sal Israel gered en gereed wees vir hulle toekomstige rol in die Messiasryk, waarin die volgende omstandighede sal heers:

·        “En hulle sal My tot ’n eiendom wees, sê die Here van die leërskare, op die dag wat Ek skep, en Ek sal met hulle medelye hê soos ’n man medelye het met sy seun wat hom dien” (Mal. 3:17).

·        “In dié dag sal die Here van die leërskare wees tot ’n sierlike kroon en ’n pragtige krans vir die oorblyfsel van sy volk” (Jes. 28:5).

·        “So sê die Here van die leërskare: In dié dae sal tien man uit al die tale van die nasies die slip van ’n Joodse man gryp en dit vashou en sê: Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is” (Sag. 8:23).

·        “Dan sal julle weet dat Ek die Here julle God is, wat woon op Sion, my heilige berg; dan sal Jerusalem ’n heiligdom wees” (Joël 3:17).

·        “In dié dag sal hierdie lied gesing word in die land Juda: ’n Sterk stad het ons; God stel heil tot mure en skanse. Maak oop die poorte, dat die regverdige nasie kan ingaan wat die trou bewaar!” (Jes. 26:1-2).

·        “En julle sal in dié dag sê: Dank die Here, roep sy Naam aan, maak sy dade onder die volke bekend, verkondig dat sy Naam hoog is!” (Jes. 12:4).

·        “In die dae wat kom, sal Jakob wortel skiet, Israel sal bloei en uitbot, sodat hulle die wêreld vol vrugte sal maak” (Jes. 27:6).

Om begryplike redes is dit ’n situasie hierdie wat die groot vyand van God én van Israel en die kerk van Christus, ten alle koste sal wil vermy. Hy gaan ’n laaste eindpoging aanwend om alle volgelinge van God op aarde te verdelg of te mislei om die verkeerde messias aan te hang.

 

8. ’n Demoniese Strategie vir die Misleiding van Israel

Ons is om verskillende redes dank verskuldig aan Israel, maar hoofsaaklik omdat hulle die Woord van God ontvang en opgeteken het, en dit tot ons beskikking gestel is deur die bediening van eerste geslag Joodse evangeliste – veral Paulus. Die verbondsvolk Israel is egter, net soos die nie-Joodse volke, blootgestel aan intensiewe, demoniesgeïnspireerde misleiding om ons almal van ons geestelike erfenis in die Messias, Jesus Christus, te beroof. Alle volgelinge van Christus behoort dit as hulle hoogste roeping te aanvaar om: (a) die ware evangelie met sy vrymakende krag aan alle volke te verkondig, beginnend by die Jode (Rom. 1:16); en (b) om alle mense te waarsku, maar veral ook vir Israel, teen die vernietigende gevolge van geestelike misleiding.

In hierdie hoofstuk word die duiwel se strategie vir die geestelike verblinding van Israel bespreek. Slegs die lig van die ware evangelie kan die duisternis van misleiding verdryf. Die Messias is vol van genade en waarheid (Joh. 1:14) en sy Woord is die enigste tydlose en universele standaard vir Goddelike waarheid.

Die doel met misleiding

Geestelike misleiding is ’n baie algemene kenmerk van die laaste dae in die kerkbedeling. Een van die belangrike redes vir hierdie verskynsel is dat die wêreld deur godsdienstige bedrog voorberei word om ’n valse Messias in plaas van die ware Messias te aanvaar. Sodoende onderwerp onnadenkende mense hulleself, sonder dat hulle dit besef, aan oorheersing deur die valse teologie van die renegaatkoninkryk van “die god van hierdie wêreld” (2 Kor. 4:4). Dié soort misleiding vind plaas onder alle nasies, en spesifiek ook onder die volk Israel.

Foutiewe idees oor die persoon en identiteit van die Messias is baie populêr onder oningeligte, postmoderne samelewings waarin mense van die Woord van God vervreem geraak het. Volgens alle aanduidings sal godsdienstige misleiding uiteindelik na ’n wêreldwye beweging lei waarin feitlik alle mense verwonderd agter die Antichris sal aangaan en hom ook as die “verlosser” van die wêreld sal aanbid (Op. 13:3-4).

Die Joodse volk, by uitstek, word aan intensiewe demoniese misleiding blootgestel omdat ’n gelowige oorblyfsel van hulle volgens die Bybel bestem is om met die ware Messias versoen te word, en daarna as God se volk ’n belangrike rol in die duisendjarige vrederyk te vervul. Die sinistere doel met die veldtog van misleiding is dat die Jode steeds die ware Messias, Jesus Christus, sal verwerp en hardkoppig sal aanhou om te wag vir ’n ander Messias, wat Satan se vervalsing is.

Die ernstige implikasies daarvan om Hom as Messias en Verlosser te verwerp, is deur die Here Jesus aan Israel uitgewys, naamlik dat hulle geestelik ’n verkeerde weg sou inslaan wat sou lei tot die navolging van valse profete en valse christusse, en uiteindelik ook van die valse Messias: “Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle neem My nie aan nie. As ’n ander een in sy eie naam kom, hóm sal julle aanneem” (Joh. 5:43).

Die duiwel se oogmerk is om saam met Israel ook die ganse Christelike kerk van die ware Christus afvallig te maak, sodat hy die hele misleide wêreld onder die gesag van sy valse Christus kan plaas (2 Kor. 11:2-4). In hierdie hoofstuk kyk ons egter spesifiek na die misleiding waaraan Israel onderwerp word, omdat dié volk volgens ’n groot aantal profetiese beloftes ’n sentrale rol in die openbaring en funksionering van God se koninkryk op aarde gaan speel. Die volgende is die vier belangrikste beloftes wat in die eindtyd in verband met Israel in vervulling sal gaan:

·        Die hele oorblyfsel van Israel sal gered word wanneer Christus aan die einde van die verdrukking na Jerusalem terugkeer en sy voete op die Olyfberg sit (Sag. 14:4-5; Rom. 11:26; Sag. 12:10; 13:9; Jer. 31:31-34).

·        Die geredde Israel sal almal in hulle eie land herstel word en veilig daar woon (Jes. 11:11-12; Jer. 23:6; 31:7-8; Eseg. 39:25-29).

·        Israel sal die Here se spesiale getuies onder die nasies wees en die wêreld vol vrugte maak vir God se koninkryk (Jes. 27:6; Rom. 11:12).

·        Die troon van Dawid sal in Jerusalem herstel wees, die Messias sal daar regeer en al die nasies sal daarheen optrek om deur Hom geleer te word (Hand. 15:16-17; Jes. 2:2-4; Jer. 3:17; Sag. 8:22-23; 14:16).

Bogenoemde is almal belangrike kenmerke van die geopenbaarde koninkryk van God op aarde, en dit is duidelik dat Israel ’n sentrale rol daarin sal speel. Dit sal alles ten koste van die Antichris se vals koninkryk tydens die sewe jaar lange verdrukking gebeur, en dit is die groot rede waarom die duiwel alles moontlik in werking stel om die vervulling van die beloftes oor Israel se herstel en Christus se wederkoms te voorkom. Hy besef baie goed dat as hy Israel se fisiese én geestelike herstel in hulle land kan verhoed, en ook hulle Messias kan oorwin en doodmaak wanneer Hy weer kom (Op. 19:19), hy die Bybel verkeerd sal bewys en dan die Antichris se sataniese koninkryk onbepaald sal kan voortsit. Ons nader nou ’n baie intensiewe en deurslaggewende fase in Satan se rebellie teen die koninkryk van God.

’n Tweeledige aanslag

Daar word duidelik twee verskillende strategieë in die stryd teen Israel gebruik.

Die eerste een is op hulle fisiese vernietiging ingestel, en met die oog hierop hits die duiwel Israel se vyande aan om hulleself te bewapen en Israel as volk te verdelg. Ons lees oor hierdie bose plan in Psalm 83:5: “Kom, laat ons hulle vernietig, dat hulle geen volk meer is nie, sodat aan die naam van Israel nie meer gedink word nie.” Israel is onophoudelik by vyandighede en oorloë teen die volke rondom hulle gewikkel. Dit is inderdaad ’n stryd om oorlewing, en as gevolg van hierdie bedreiging het hulle ’n verhoogde verwagting op die koms van die Messias sodat Hy hulle finaal kan verlos.

Die tweede strategie is baie subtiel maar net so vernietigend vir die voortbestaan van die volk. Hierdie strategie het betrekking op geestelike misleiding en is daarop gerig dat Israel nie geestelik moet ontwaak om gered te word sodat hulle hul roeping as God se volk kan vervul nie. Op hierdie terrein benader die duiwel Israel nie as ’n wraakgierige vyand nie, maar kom soos ’n engel van die lig om ’n (valse) messias aan hulle te bied, saam met die herhalende beoefening van uitgediende godsdienstige gebruike. Op hierdie manier, hoop hy, sal hulle sy valse messias aanvaar en aanbid en sodoende totaal van die ware God vervreemd raak.

’n Omvattende program is ingestel vir die geestelike misleiding van Israel. Dit behels die volle herlewing van hulle Ou-Testamentiese, wettiese godsdiens, want dit sal verseker dat die meerderheid Jode nie Jesus Christus se evangelie van genade wat in die plek van die wet gekom het, sal aanvaar nie. Die volgende is aspekte van Israel se tradisionele geloof wat wel op die koms van die Messias ingestel is, maar Jesus Christus word glad nie as die vervulling van Messiaanse profesieë erken nie:

Die tempeldiens

Israel se tradisionele godsdiens is rondom die tempeldiens gebou en kan nie tot sy reg kom sonder dat daar ’n ten volle funksionerende tempel in Jerusalem is nie. Moderne Israel is op die drumpel van die herlewing van hulle Ou-Testamentiese tempelkultuur en die terugkeer na hierdie gebruike sal verreikende gevolge hê vir die hele Joodse volk – insluitend hulle regeringsvorm. Die volgende hervormings word deur die leiers van die tempelprojek in die vooruitsig gestel:

·       Die wortels van die Joodse kultuur moet volgens godsdiensleiers na die tempeldiens herlei word, daarom móét daar ’n tempel in die voorgeskrewe plek op die Tempelberg in Jerusalem wees. Die eindtydse herstel van Israel in hulle eie land word nie as volledig beskou voordat die tempel as die hoogste politieke, godsdienstige en kulturele instelling herbou en in bedryf gestel is nie. Die tempel word as die hart van Bybelse Jerusalem en die hele volk beskou. Hierdie sentiment word deur baie Jode gedeel, soos onder andere uit ’n groot aantal Joodse Facebook-inskrywings blyk.

·       Volgens die ortodokse Joodse geloof kan daar geen versoening tussen God en die mens wees sonder dat daar gereelde offers in die tempel vir die vergifnis van die volk se sondes gebring word nie: “Sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie” (Heb. 9:22; Lev. 17:11). Ortodokse Jode wat nie die finale offer van die Messias as die Lam van God aanvaar nie (vgl. Joh. 1:29; Heb. 10:1-18), sien vir hulleself geen alternatief as om na die Ou-Testamentiese offerdiens terug te keer nie. Jode wat nie hierdie siening met hulle deel nie, word as afvalliges en selfs vyande van Israel beskou. Dit sluit al die Messiaanse gemeentes in waarin Jesus Christus as Messias en Verlosser verkondig word, en hulle ervaar groot teëstand van ortodokse Jode.

·       ’n Nuwe vorm van internasionale verhoudings word deur die tempeldiens en sy geassosieerde teokratiese regeringsvorm in die vooruitsig gestel. Jesaja 2:2-4 word dikwels ter ondersteuning van hierdie visie aangehaal, omdat Jerusalem in dié gedeelte as ’n wêreldhoofstad beskryf word waarin ’n regering van geregtigheid vir alle nasies gevestig sal word. God sal regeer en dit sal daartoe lei dat alle vyandigheid tussen nasies gestaak word. Die bou van die sogenaamde “derde tempel” word met die koms van die Messias geassosieer en Hy sal Israel tot ’n seën vir alle nasies maak. Ortodokse Jode ontken egter dat Jesus die Messias is, daarom wag hulle noodwendig vir die valse Messias.

Voorbereidings vir die herbouing van die tempel is in ’n gevorderde stadium, en dit lei na groot verwagtings vir die spoedige koms van die Messias – dié een wat volgens ortodokse Jode die tempeldiens en die wet in ere sal herstel. Verskeie godsdienstige liggame wat tydens Israel se verstrooiing in onbruik geraak het, herleef nou om die tempelkultuur te help herstel.

Die nuwe Sanhedrin

Die Sanhedrin is ’n tradisionele Joodse raad van godsdiensleiers wat in Bybelse tye in Israel die hoogste regsplegende liggaam binne die raamwerk van die Tora was. Op 13 Oktober 2004, ná byna twee millennia, is daar weer ’n Sanhedrin in moderne Israel saamgestel. Hierdie liggaam geniet egter nie amptelike status in die land nie en word net deur ortodokse Jode erken. Die nuwe Sanhedrin bestaan uit 71 vooraanstaande rabbi’s en ander Joodse geleerdes.

Die stigters van die moderne Sanhedrin sê hulle doen net hulle plig om só ’n raad saam te stel. Gedurende die tyd van die tweede tempel (die tempel van Herodes in die eerste eeu) was daar ’n Sanhedrin wat in verband met Joodse regspraak uit ’n godsdienstige oogpunt, met die hoogste gesag beklee was. Die 71 lede van die Raad het in ’n spesiale vertrek op die tempelterrein in die vorm van ’n halwe sirkel gesit.

Op byeenkomste van die huidige Sanhedrin word onder andere die moontlikheid van die herbouing van die tempel in Jerusalem bespreek. Rabbi Chaim Richman, een van die uitvoerende raadslede, het gesê dit is paslik dat die nuwe Sanhedrin met besinning oor die tempel begin, omdat die tempel van groot belang vir die kulturele en godsdienstige identiteit van die Joodse volk is. Hy het dit betreur dat die Joodse regering uit sekere gedeeltes van Israel se grondgebied onttrek en sodoende van Israel se droom van volle herstel afgesien het. Die Sanhedrin soek egter na maniere om die wortels van die Joodse geloof te versterk en Israel weer as die uitverkore volk rondom die tempeldiens en die Tora te verenig.

Die Sanhedrin erken glad nie die huidige demokratiese regering van Israel nie, en het dit vir hulleself ten doel gestel om vir die land ’n koning te kies. Dit plaas hierdie ortodokse leiers op ’n gevaarlike pad, omdat die valse messias homself as ’n afstammeling van koning Dawid sal voordoen en op Israel se koninklike troon aanspraak sal maak.

Hulle terugkeer na die eise van die Tora het die Raad vroeg in 2007 daartoe gelei om briewe aan alle regerings te skryf waarin hulle aandui dat die wêreld op ’n rampspoedige koers is. Hulle stel voor dat die tempel na aanleiding van Jesaja 2:2-4 in Jerusalem herbou word sodat God se teenwoordigheid weer ervaar kan word om vrede op aarde te verseker.

Om begryplike redes sal die Sanhedrin baie bly wees wanneer die valse messias op die toneel verskyn, want hy sal homself as die ware Messias voordoen en tot hulle harte spreek deur aan Israel die reg te gee om die tempel te bou. Groot ontnugtering sal egter hierop volg.

Die Tempelinstituut

Rabbi Chaim Richman van die Sanhedrin is ook hoof van die Tempelinstituut in Jerusalem. Hierdie Instituut is besig met die versameling en vervaardiging van meubelstukke, altare, en spesiale toerusting en kledingstukke vir priesters, wat vir die hervatting van die tempeldiens nodig is. Hulle het reeds ’n goue kandelaar en koperwaskom laat maak, asook ’n goue kroon vir die hoëpriester. Die kleed en hoofbedekking van die hoëpriester is gereed, asook uitrustings vir 120 van die gewone priesters.

Al hierdie items moet nog gereinig word deur dit met spesiaal voorbereide reinigingswater te besprinkel (vgl. Num. 19:1-9). Hiervoor is dit nodig om eers ’n rooi vers te vind waaraan geen haar van ’n ander kleur is nie. Die vers moet dan geslag en verbrand word, sodat daar telkens ’n bietjie van die as vir die bereiding van heilige water gebruik kan word. Die probleem is egter dat die oorblyfsels van die vorige rooi vers se as eers gevind moet word en ter wille van kontinuïteit bo-op die huidige vers geplaas moet word wanneer dit ritueel verbrand word.

Argeoloë soek steeds na ’n houer met as uit die tyd van die tweede tempel, asook na die ark van die getuienis (die verbondsark) wat op ’n onbekende plek versteek is. Indien die as van die vorige rooi vers nie betyds gevind word nie, en daar ook nie in Israel ’n rooi vers gebore word wat aan die voorskrifte van die wet voldoen nie, kan die tempeltoerusting nie gereinig word nie.

Chaim Richman sê: “Die tempeltoerusting is in ’n toestand van onreinheid vervaardig, omdat almal van ons tans onrein is. Ons sal ook onrein bly totdat ons ’n rooi vers kry waarvan die as op die wyse wat deur die Tora voorgeskryf is, vir reinigingseremonies gebruik kan word. Indien geen rooi vers gevind kan word nie, beteken dit dat die hoëpriester op die Groot Versoendag die Allerheiligste in ’n toestand van onreinheid sal betree.”

Watter groot voordeel het ons nie in die Nuwe Testament nie, om deur die bloed van die Lam gereinig te word wanneer ons deur die geskeurde voorhangsel na die genadetroon van die Here toetree. Ons het nie aardse priesters as middelaars nodig nie, omdat ons ’n groot Hoëpriester het wat vir ons die weg berei het (Heb. 10:19-22). Ortodokse Jode verbeur deur hulle eie toedoen die voorreg om deur die bloed van die Lam besprinkel en van sondes gereinig te word.

Priesterskole

Verskeie Jode uit die stam van Levi word as priesters in spesiale priesterskole in Jerusalem en New York opgelei. Daar is 613 Ou-Testamentiese wette waarvan hulle kennis moet dra. In Julie 2007 is daar ’n groot konferensie vir priesters en Leviete in Jerusalem gehou. Jode met die van Cohen stam almal af van die heel eerste priester, Aäron, en mag dus as priesters opgelei word.

Nuwe brandofferaltaar

Die moderne Sanhedrin is só sterk ingestel op versoening met God deur middel van Israel se Ou-Testamentiese offerdiens, dat hulle in November 2009 volgens Bybelse voorskrifte met die oprigting van ’n brandofferaltaar begin het. Ná die voltooiing daarvan is uitnodigings aan Jode oral in die wêreld gestuur om die Paasfees van 29 en 30 Maart 2010 (’n rabbynse datum) in Jerusalem by te woon wanneer paaslammers geslag en offers op die nuwe altaar gebring sou word. Genoeg lammers sou aan Jode voorsien word om hierdie offers in ooreenstemming met Exodus 12 te bring.

Die Israelse regering het egter nie toestemming vir hierdie beplande offers verleen nie, uit vrees dat dit kon lei na hernude onluste onder die Palestyne wat steeds beheer oor die Tempelberg het en sterk teen die herbouing van die Joodse tempel gekant is.

’n Nuwe benadering

Die opspraakwekkende nuus vanaf die Sanhedrin uit Jerusalem is dat die derde tempel ’n huis van gebed sal wees vir al die monoteïstiese gelowe, waarvan Judaïsme, die Christendom en Islam die belangrikste is. Die Here se woorde in Jesaja 56:7 word as regverdiging hiervoor aangehaal: “... want my huis sal ’n huis van gebed genoem word vir al die volke.” Hierdie stelling word verkeerdelik op ’n multigodsdienstige manier vertolk om ook erkenning aan die groot nie-Bybelse gelowe soos Islam te gee.

Daar is ’n Joodse webtuiste wat die idee van “God se heilige berg” vir alle gelowe aktief bevorder, naamlik www.godsholymountain.org/. Volgens huidige beplanning sal die tempeldiens met godsdienstige aktiwiteite in nabygeleë moskees en Rooms-Katolieke aanbiddingsplekke verenig word. Die uitvoerende direkteur van die Tempelinstituut, Jehuda Glick, sê dat daar op die koms van die Messias gewag word, want net Hy kan aan Israel toestemming verleen om die tempel te bou.

Die multigodsdienstige denke wat ten grondslag lê van die veldtog vir die herbouing van die  tempel in Jerusalem, is presies in ooreenstemming met dit wat die Bybel oor die tempel van die komende verdrukking sê. Volgens Johannes sal daar in die eindtyd ’n valse messias op die toneel verskyn wat deur alle gelowe nagevolg en aanbid sal word: “En die hele wêreld het verwonderd agter die dier aan gegaan ... en die dier aanbid en gesê: Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer? ... En aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie” (Op. 13:2-7).

Die belofte in Haggai 2:9 word ook oor die herboude tempel aangehaal: “Die toekomstige heerlikheid van hierdie huis sal groter wees as die vroeëre ... en op hierdie plek sal Ek vrede gee, spreek die Here van die leërskare.” Hierdie belofte word deur die Sanhedrin aan alle nasies voorgehou, maar sonder dat hulle van hul eie geloofsvorm afstand hoef te doen. Vooraanstaande ortodokse Jode het die multigodsdienstige idee van ’n tempel vir alle gelowe aanvaar. Dit is baie duidelik dat die valse Messias een of ander tyd sal opdaag om toestemming vir die bou van die derde tempel te verleen.

Regering van die Antichris

Die Antichris sal nie net deur Israel as hulle Messias-Koning erken word nie (vgl. Joh. 5:43), maar ook deur al die nasies van die wêreld. Hierdie valse vredevors sal internasionaal aanvaar en deur middel van formele verbonde as godsdienstige en politieke wêreldleier erken word. Die verbond met hom sal geldig wees vir ’n tydperk van sewe jaar, wat in Israel as ’n jaarweek bekend is. “Hy sal een week lank met baie ’n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ’n verwoester wees” (Dan 9:27).

Die verdrukking van sewe jaar word duidelik in twee helftes verdeel. Die eerste helfte word deur ’n valse vrede gekenmerk, wanneer al die misleide gelowe die Antichris as hulle gemeenskaplike Messias sal erken. Die tweede helfte van die verdrukking word deur ’n militêre diktatuur gekenmerk, asook die gedwonge aanbidding van die Antichris as die God van hierdie wêreld. Alle nasies sal aan die begin van die jaarweek toegelaat word om met hulle eie godsdiens voort te gaan, op voorwaarde dat almal van hulle die nuwe wêreldleier as hulle gemeenskaplike messias erken, aanbid en navolg. Die Antichris sal dus die Messias vir die Jode wees, Christus vir die misleide Christene, Krisjna vir die Hindoes, die vyfde Boeddha vir die Boeddhiste, en die Imam Mahdi vir die Moslems.

Al die groot godsdienste sal hulle agter hierdie selfverklaarde God-mens skaar – insluitend die vervalste Christelike kerke wat ná die wegraping nog feitlik teen volle sterkte sal funksioneer. Dit is dié kerke wat voor die tyd reeds die maagdelike geboorte, Godheid en opstanding van die ware Christus ontken en saam met baie ander fundamentele Christelike leerstellings verwerp het. As gevolg van hulle geestelike verraad teen die evangeliese Christendom sal hulle ywerige navolgers van die valse Christus van alle gelowe wees en hulleself ten volle in sy wêreldwye sondekultuur uitleef. Die Bybel beskryf hierdie valse Christus in terme van sy werklike karakter as “die Antichris” (1 Joh. 2: 18) en “die mens van sonde” (2 Thess. 2:3).

Die bou van die derde tempel in Jerusalem sal 100% by die valse Messias se plan van aksie inskakel, omdat hy daardeur twee van sy doelwitte sal bereik: Eerstens sal hy verseker dat ortodokse Jode deur die herinstelling van diere-offers daarvan weerhou sal word om hulle toevlug na Christus en reiniging deur die bloed van die Lam te neem. Tweedens sal hy die Allerheiligste in die tempel gebruik om homself in die middel van die verdrukking tot God te verklaar en sodoende die finale stadium van sy rebellie teen God te bereik.

Die Antichris sal só sterk aangevuur word deur sy neiging tot selfvergoddeliking, dat hy homself uiteindelik as die onbetwiste God van alle mense sal verklaar. Hy sal homself dus bokant alle godsdienste verhef om nie net ’n messias vir hulle te wees nie, maar God self. Paulus beskryf hom as “die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thess. 2:4).

By hierdie geleentheid, ná 3½ jaar van verdrukking, sal die Antichris nie net Israel se daaglikse slagoffers en spysoffers in die herboude tempel verbied nie, maar ook alle ander godsdienste afskaf en selfs hulle aanbiddingsplekke laat afbreek of verbrand. Die dier en die konings wat saam met hom oor die wêreld regeer, “sal die hoer haat en haar verlate maak en naak, en haar vlees eet en haar met vuur verbrand” (Op. 17:16).

Die herlewing van Israel se ortodokse geloof tydens die bou van die derde tempel sal dus net 3½ jaar lank voortduur en in ’n groot tragedie vir hulle eindig. Die Here Jesus het duidelike raad aan Israel gegee oor wat om te doen op daardie onheilspellende dag wanneer die Antichris homself tot God verklaar en ’n afgodsbeeld van homself in die Allerheiligste van die tempel laat plaas. Israel sal onmiddellik besef dat hy ’n valse messias is en hulle verbond met hom verbreek. Hulle sal dan baie haastig uit Jerusalem en omstreke moet vlug, want die Antichris sal almal wat hom as God en Messias verwerp, met die banvloek probeer tref. Die ware Messias het hierdie vlug só beskryf:

“Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting [dit is die afgodsbeeld van die Antichris], waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom – laat hy wat lees, oplet – dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug; wie op die dak is, moet nie afkom om iets uit sy huis weg te neem nie; en wie op die land is, moet nie omdraai om sy klere weg te neem nie. Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog, in daardie dae. En bid dat julle vlug nie in die winter of op die Sabbat mag plaasvind nie. Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie” (Matt. 24:15-22).

Daniël het lank gelede reeds na hierdie eindtydse diktator verwys en gesê: “Deur hom sal leërs op die been gebring word en die heiligdom, die vesting, ontheilig, en hulle sal die voortdurende offer afskaf en die ontsettende gruwel (die afgodsbeeld van die dier) opstel. ... En dié koning sal doen net wat hy wil en homself verhef en groot hou bo enige god. ... [Hy sal] met groot woede uittrek om baie mense te verdelg en met die banvloek te tref” (Dan. 11:31, 36, 44).

Israel se voortgesette nasionale verwerping van Jesus se Godheid en Messiasskap baan die weg vir die sluiting van ’n verbond met die Antichris. Hulle sal eers in ’n laat stadium agterkom dat hulle weens hul eie leiers se verkeerde raad en keuse ’n baie duur fout gemaak het. Foutiewe godsdienstige persepsies kom natuurlik in die eerste plek van die vader van die leuen af (Joh. 8:44), maar mense wat hierdie leuens onnadenkend aanvaar, sal self die gevolge daarvan moet dra. Vir misleides in Israel wag daar die tyd van benoudheid van Jakob (Jer. 30:7) wanneer hulle selfaangestelde Messias hulle met die onmoontlike eis sal konfronteer om hom as God te aanbid.

Die ware Messias sal eers aan die einde van hierdie tyd van groot benoudheid kom en sy voete op die Olyfberg sit (Sag. 14:4-5). Op daardie dramatiese dag sal Israel opsien na Hom vir wie hulle deurboor het en bitterlik ween oor hulle sondes wat geslagte lank gepleeg is deur Jesus te verwerp (Sag. 12:10). Hy het hulle gewaarsku dat hulle huis (Jerusalem) woes gelaat sou word totdat hulle tydens sy wederkoms vir Hom sal sê: “Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23:39; vgl. Ps. 118:26). Eers dan sal die name van al die afgode en valse profete uit hulle land uitgeroei en slegs die ware Messias gedien word (Sag. 13:2).

 

9. Ons Plig ten Opsigte van Jerusalem

Die Here verwag van Christene om begrip te hê vir die stryd waarin Israel verkeer, en ook vir die geestelike blindheid waardeur hulle steeds geteister word. Terwyl ons aanhou om Jesus as die enigste Verlosser van Israel én die hele wêreld te verkondig, moet ons ook toekomsgerig dink en bid vir die verdere vervulling van God se raadsplan vir Israel en ook vir die belangrike rol wat hulle hoofstad, Jerusalem, in die komende Messiasryk sal vervul:

“Bid om die vrede van Jerusalem; mag hulle wat jou liefhet, rustig lewe” (Ps. 122:6).

“O Jerusalem, Ek het wagte op jou mure uitgesit wat gedurigdeur die hele dag en die hele nag nie sal swyg nie. o Julle wat die Here herinner aan sy beloftes – moenie rus nie en laat Hom nie met rus nie, totdat Hy Jerusalem bevestig en maak tot ’n lof op aarde! (Jes. 62:6-7).

Waarom word daar net een stad in die hele wêreld uitgesonder waarvoor Christene van alle tye ernstig moet bid, totdat die heerlikheid van die Here op dié stad neerdaal sodat almal, van alle eindes van die aarde af, dit sal kan sien en in die vreugde van Jerusalem kan deel?

Die feit dat Jerusalem vir hierdie eer uitgesonder word, vereis van alle Christene om ten volle bewus te wees van die diep geestelike betekenis van hierdie stad, want dit alleen verklaar die feit waarom Jerusalem veral in die eindtyd op die voorpunt staan van die stryd tussen lig en duisternis. Sonder hierdie kennis kan ons nie sinvol vir Jerusalem bid nie, kan ons nie Jerusalem se vyande duidelik genoeg waarsku nie, en sal ons ook nie genoegsame profetiese insig hê in die wonderlike toekoms van die stad van die Groot Koning nie!

Volgens die Bybel gaan Jerusalem deur die volgende tien stadiums totdat die Here se finale doel daarmee bereik sal wees. Ons is tans in die vyfde fase van hierdie merkwaardige stad se heilsgeskiedenis, en die Here verwag van ons om waardige ondersteuners van Jerusalem te wees en die geestelike belange van hierdie stad en sy inwoners altyd op die hart te dra.

1. Die stad wat God gekies het om Homself daarin te openbaar

Jerusalem se heilsgeskiedenis het begin toe die Here ’n besluit geneem het om sy Naam vir altyd aan hierdie stad te verbind. Nadat Salomo die eerste tempel in Jerusalem gebou het, het die Here gesê: “Ek het hierdie huis wat jy gebou het, geheilig deur my Naam daar te vestig tot in ewigheid” (1 Kon. 9:3). Jerusalem is deur God genoem: “Die stad wat Ek vir My verkies het om my Naam daar te vestig” (1 Kon. 11:36).

God se Naam is vir ewig aan Jerusalem verbonde. Min het Israel besef watter groot en wonderlike openbarings die Here in toekomstige eeue in Jerusalem sou doen. Die verskeie lang onderbrekings in die uitvoering van hierdie plan was te wyte aan Israel se ongeloof, maar nooit het die Here van sy aanvanklike voorneme met betrekking tot Jerusalem afgesien nie, en Hy sal dit ook nooit doen nie. In die Ou Testament het Hy Homself dikwels deur middel van die tempeldiens in Jerusalem aan die volk geopenbaar, maar dit het nie tot ’n blywende hartsverandering by hulle gelei nie.

2. Die stad van Christus se openbarings aan die mensdom

Die grootste openbaring van God aan Israel – en die hele mensdom – het plaasgevind tydens die koms van sy Seun, Jesus, na die aarde. In ’n Messiaanse profesie in Jesaja 49 het God van Jesus gesê: “Dit is te gering dat U my Kneg sou wees om op te rig die stamme van Jakob en terug te bring die gespaardes in Israel: Ek het U gemaak tot ’n lig van die nasies, om my heil te wees tot aan die einde van die aarde” (Jes. 49:6). Johannes die Doper het na Hom gewys en gesê: “Daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Joh. 1:29).

God het Homself deur sy Seun aan Jerusalem se inwoners openbaar, maar hulle het dit ten spyte van talle duidelike Messiaanse profesieë nie raakgesien nie, en Hom verwerp. Jesus is in ’n proses van beplande verraad gevange geneem, in die stad verhoor en onskuldig veroordeel. Die Here Jesus is net buite Jerusalem by Gólgota, in die steengroewe van Salomo, gekruisig. Hier is die groot soenoffer vir die sondes van ’n verlore mensdom aan God betaal. Vir ewig sal Gólgota uitstaan as die uitdrukking van God se neerbuigende liefde en vergewensgesindheid, en as die enigste poort tot die ewige lewe. Daar is geen ander naam onder die hemel gegee waardeur mense gered kan word nie – net Jesus Christus en Hom as die gekruisigde.

Jesus is net buite die stadsgebied van Jerusalem begrawe en het drie dae later uit die dood opgestaan. Op die Sondag van sy opstanding het Hy die eerste preek van die Christelike bedeling in Jerusalem aan sy dissipels gelewer, en ’n week later die tweede een (Joh. 20:19-29). Veertig dae ná sy opstanding het Jesus van die Olyfberg af na die hemel opgevaar. Nét voor dit het Hy die opdrag van wêreldevangelisasie aan sy dissipels gegee. Dit sou egter eers gebeur nadat nóg ’n belangrike heilsgebeurtenis in Jerusalem plaasgevind het.

3. Die stad waar die Heilige Gees se wêreldwye werk begin het

Die Christelike kerk het sy ontstaan in Jerusalem gehad, waar die Heilige Gees op Pinksterdag oor 120 getroue dissipels uitgestort is. Hulle het ’n duidelike opdrag gekry om hiervoor te wag, want sonder die krag van die Heilige Gees sou hulle nie in ’n vyandige wêreld getuies vir die verwerpte Christus kon wees nie:

“En Hy sê vir hulle: So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan, en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder. En julle is getuies van hierdie dinge. En kyk, Ek stuur die belofte van my Vader op julle. Maar julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte” (Luk. 24:46-49).

Dit was die belofte van die Heilige Gees: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde” (Hand. 1:8). Op Pinksterdag, toe die Heilige Gees oor die dissipels uitgestort is, het die proses van wêreldevangelisasie begin. Op daardie dag is drieduisend siele gered en het die kerk van Christus sy geboorte in Jerusalem gehad. Daarvandaan sou die boodskap in die hele wêreld verkondig word.

4. Die vertrapte stad tydens Israel se ongeloof en die wêreldwye sendingopdrag

Waarom was Jerusalem regdeur die Nuwe-Testamentiese bedeling ’n vertrapte stad, en in hierdie betreurenswaardige toestand baie ver daarvandaan om aan sy roeping te beantwoord as die stad van God? Omdat Israel nie hulle Messias aangeneem het nie, en dus nie hulle roeping as God se volk kon vervul om vanuit Jerusalem die boodskap van die Messias se reddende genade na die wêreld uit te dra nie. Die Here Jesus het Jerusalem en sy inwoners geoordeel weens hulle ongeloof:

“Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ’n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie! Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat! Want Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23:37-39). Op ’n vraag oor hierdie profesie het die Here Jesus gesê dat daar in Jerusalem nie een klip op die ander gelaat sou word wat nie afgebreek sou word nie (Matt. 24:2).

Israel is uit hulle stad verdryf en die bedeling van wêreldevangelisasie het begin – ’n taak wat hoofsaaklik deur nie-Joodse Christene uitgevoer word. Die Here Jesus het in sy profetiese rede gesê: “Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:24). Uit die formulering van hierdie stelling kan ons onomwonde aflei dat die Here se plan met Israel en Jerusalem nie gekanselleer is nie, want Jerusalem sou net vertrap word totdat die tye van die nasies vervul is. Die tye van die nasies dui op die tyd van wêreldevangelisasie. Aan die einde van die kerkbedeling móét Israel en Jerusalem dus herstel word om hulle belangrike toekomstige rol te vervul.

Paulus sluit ook hierby aan wanneer hy sê: “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het; en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en die goddelooshede van Jakob afwend” (Rom. 11:25-26).

Soos reeds aangedui, het Jesus vir die Jode in Jerusalem gesê dat hulle Hom nie weer sou sien nie totdat hulle sal sê: “Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” Wanneer Hy weer kom, sal Israel Hom sekerlik as Messias-Koning aanvaar!

Niemand kan teen die waarheid stry dat Israel net tydelik verhard geraak en verstrooi is nie, want in die onlangse geskiedenis is daar oorvloedige bewyse van die eindtydse herstel van Israel en Jerusalem. Die volk is in 1948 in hulle land herstel na byna 2 000 jaar van verstrooiing onder die nasies. Die ou deel van Jerusalem is in 1967 van Jordanië verower en het toe weer onder Joodse beheer gekom. In 1980 is Jerusalem tot die ewige en onverdeelbare hoofstad van Israel verklaar, en was dit vir die eerste keer sedert die Babiloniese ballingskap weer die hoofstad van ’n onafhanklike Israel. Tydens die Here Jesus se eerste koms was die stad onder die beheer van die Romeine. Tans is die stad volledig onder Joodse beheer, maar sy politieke en geestelike herstel sal eers finaal wees wanneer die Messias gekom en die troon van Dawid herstel het.

5. Die stad waarin Israel te midde van groot vyandigheid herstel word

Die huidige herstelproses van Israel is nog net gedeeltelik, en die meerderheid van die volk is nog steeds geestelik dood. Die Here laat om twee redes vyandighede teen Israel en Jerusalem toe:

Die eerste rede is om sy volk in benoudheid te bring sodat hulle gelouter en ’n oorblyfsel gered kan word. In ’n profesie oor hulle eindtydse loutering sê Hy: “Daarom, so sê die Here Here: Omdat julle almal skuim geword het, kyk, daarom sal Ek julle binne-in Jerusalem bymekaarmaak. Soos silwer en koper en yster en lood en tin binne-in ’n smeltoond bymekaargemaak word om daarteen ’n vuur aan te blaas en dit te smelt, so sal Ek julle bymekaarmaak in my toorn en in my grimmigheid en julle ingooi en smelt” (Eseg. 22:19-20). Israel se huidige probleme gaan nog veel erger word terwyl hulle afstuur op die tyd van benoudheid van Jakob, waaruit net ’n oorblyfsel gered sal word (Jer. 30:7). In Hoséa 5:15 sê die Messias: “In hulle nood sal hulle My soek.”

Die tweede rede waarom vyandighede teen Jerusalem eskaleer, is omdat die Here die nasies in Israel gaan versamel om by die slag van Armagéddon met hulle in die gerig te tree weens hulle sondes wat onder andere ook met Jodehaat gepaard gaan. In Sagaría 12:3 en 14:2 sê die Here dat al die nasies teen Jerusalem vergader sal word en dat Hy daar met hulle in gerig sal tree. Volgens Sagaría 14:12-13 sal dit verskriklik wees om te val in die hande van die lewende God. Joël 3:2 bevestig ook die feit dat die Here die nasies sal oordeel omdat hulle die volk Israel verstrooi en hulle land verdeel het.

6. Die stad van die Antichris se sewe jaar lange regering

Daar wag in die nabye toekoms ’n baie donker tydperk van sewe jaar vir Jerusalem en die hele wêreld. Volgens Johannes 5:43 gaan Israel die Antichris as Messias aanvaar, en volgens Daniël 9:27 gaan al die nasies ook dieselfde fout maak. Dit gaan daartoe lei dat die Antichris Jerusalem gedurende die sewe jaar van die verdrukking een van die hoofkwartiere van sy goddelose wêreldregering gaan maak.

Met sy toestemming sal die tempel hier herbou word, maar hy gaan self die tempel ontheilig deur homself daarin tot God te verklaar (2 Thess. 2:4). Eers dan sal die Jode besef dat hulle ’n valse aanspraakmaker op die troon van Dawid aanvaar het, en hulle verbond met hom verbreek. Die Antichris sal daarop ’n Joodse volksmoord gelas en hulle sal so vinnig as moontlik uit Jerusalem moet vlug na ’n skuilplek iewers in die berge (Matt. 24:15-22).

’n Messiaanse Jood, Arthur Katz, waarsku ook sy volksgenote oor die groot aanslag wat die valse messias en sy wêreldmagte op hulle gaan maak. Hy sê: “Ek sou liewer verkeerd bewys wou word, maar ek glo dat die huidige geslag Jode vernietiging op ᾿n wêreldwye skaal gaan ervaar wat veel erger as die Nazi-era sal wees. Ons gaan geweldig gehaat, vervolg en skielik verdryf word sodat ons sal moet vlug met net die klere aan ons lyf – sonder om te weet waarheen ons gaan. Die Here het gesê Hy sal met ons in die gerig tree, maar Hy sal ook herstel” (The Holocaust – Where was God?) Aan die einde van hierdie donker tonnel van die groot verdrukking sal die lig van die Messias se koms op die oorblyfsel van Israel skyn.

7. Die stad waar Christus Homself in heerlikheid gaan openbaar

Jerusalem is onteenseglik die toneel vir Christus se wederkoms: “En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot ’n baie groot dal. … En julle sal vlug in die dal van my berge. Dan sal die Here my God kom, al die heiliges met U!” (Sag. 14:4-5). By hierdie geleentheid sal die Messias die oorblyfsel van Israel red, maar hulle vyande veroordeel. Die Here sê die volgende oor die nasionale redding van Israel:

“Oor die huis van Dawid en die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ’n mens rouklaag oor ’n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ’n mens bitterlik ween oor ’n eersgebore kind. … In dié dag sal daar ’n geopende fontein wees vir die huis van Dawid en vir die inwoners van Jerusalem teen sonde en onreinheid. … Hulle sal my Naam aanroep, en Ek sal hulle verhoor. Ek sê: Dit is my volk! En hulle sal sê: Die Here, my God!” (Sag. 12:10; 13:1, 9).

Nadat die volk met die Here Jesus versoen is, sal Hy ook die troon van Dawid in Jerusalem herstel. Dan sal ’n belofte vervul word wat die engel van die Here reeds voor Jesus se geboorte aan Maria gemaak het: “Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee” (Luk. 1:32). Jesus het nog nooit van die troon van Dawid af regeer nie, maar ná sy wederkoms sal Hy dit wel doen: “Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawid weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herstel, sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek, en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat al hierdie dinge doen” (Hand. 15:16-17).

8. Die stad van die groot Koning tydens die Vrederyk

’n Wonderlike toekoms wag op Jerusalem wanneer die stad in die duisendjarige vrederyk die hoofstad van die wêreld sal wees vanwaar die Messias sal regeer: “Skoon deur sy verhewenheid, die vreugde van die hele aarde is die berg Sion, aan die noordekant, die stad van die groot Koning” (Ps. 48:3). Almal sal hulle in Jerusalem en Sion verbly:

“Baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jes. 2:3-4).

“In dié tyd sal hulle Jerusalem noem die troon van die Here; en al die nasies sal daarheen saamkom vanweë die Naam van die Here in Jerusalem; en hulle sal nie meer wandel na die verharding van hul bose hart nie” (Jer. 3:17). Die duiwel sal in ’n put gebind wees sodat hy nasies nie sal kan verlei nie.

Israel sal in hierdie tyd hoog in aansien wees: “So sal dan baie volke en magtige nasies kom om die Here van die leërskare in Jerusalem te soek en die aangesig van die Here om genade te smeek. So sê die Here van die leërskare: In dié dae sal tien man uit al die tale van die nasies die slip van ᾿n Joodse man gryp en dit vashou en sê: Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is” (Sag. 8:22-23).

9. Die stad waarop Satan se laaste rebellie gerig sal wees

Ná die Messiasryk gaan daar nog een groot, finale aanslag teen Jerusalem wees wanneer die duiwel uit sy gevangenis losgelaat word. Sy hernude geestelike teenwoordigheid op aarde sal duidelik aan die lig bring wie in daardie stadium waarlik gered is en wie nie. Klaarblyklik gaan daar aan die einde van die vrederyk ten spyte van die positiewe omstandighede op aarde ’n baie groot aantal vormgodsdienstiges wees wat net ’n gedaante van godsaligheid het. Hulle sal maklik deur die duiwel mislei kan word om aan sy laaste groot rebellie deel te neem:

“En wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan uit sy gevangenis ontbind word; en hy sal uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is, die Gog en die Magog, om hulle te versamel vir die oorlog; en hulle getal is soos die sand van die see. En hulle het opgekom oor die breedte van die aarde en die laer van die heiliges en die geliefde stad omsingel, en vuur het van God uit die hemel neergedaal en hulle verslind. En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid” (Op. 20:7-10).

Dit sal die einde van Sataniesgeïnspireerde aanslae teen Jerusalem en die koninkryk van God wees. Die duiwel en al sy meelopers sal dan in die poel van vuur wees.

10. Die stad wat die enigste poort na die nuwe Jerusalem is

Die heilswerk wat die Here Jesus in aardse Jerusalem gedoen het, is die enigste poort na die hemelse Jerusalem, daardie wonderstad wat die Here Jesus as ’n ewige tuiste vir ons gaan berei het (Joh. 14:2-3). Wanneer die nuwe aarde geskape is, sal die nuwe Jerusalem uit die hemel neerdaal en op die aarde rus. Johannes sê:

“En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ’n bruid wat vir haar man versier is. En ek het ’n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan. En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut” (Op. 21:2-5).

Voordat die heerlikheid van die ewigheid in die nuwe Jerusalem aanbreek, is daar op hierdie donker wêreld egter nog ’n stryd om te stry en oorwinning te verkry. Daar is belangrike aspekte van aardse Jerusalem se wêreldhervormende rol wat nog nie vervul is nie.

Hoedanig is jy en ek ingeskakel by die stryd ter ondersteuning van Jerusalem? Besef ons die intensiteit van die Sataniesgedrewe stryd teen Jerusalem en neem ons genoegsaam standpunt hierteen in? Besef ons regtig die groot en wonderlike openbarings van God wat nog in hierdie stad gaan plaasvind? Ons het nog soveel te meer as die Joodse ballinge in Babel rede om aan Jerusalem te dink, en te bid dat God se vrede opnuut sal neerdaal op hierdie stad wat so dikwels in die verlede as gevolg van sy inwoners se ongeloof en onkunde beleër, verwoes, vertrap en verlate was. Die Israelse ballinge in Babel het die volgende Sionslied gesing:

“As ek jou vergeet, o Jerusalem, laat my regterhand dan homself vergeet! Laat my tong kleef aan my verhemelte as ek aan jou nie dink nie, as ek Jerusalem nie verhef bo my hoogste vreugde nie” (Ps. 137:5-6).

Op die oomblik is Jerusalem ’n stad waarin grootskaalse ongeloof in die ware Messias heers, en ook ’n stad wat weens die vyande van Israel deur fisiese, godsdienstige en politieke verdeling bedreig word. Vir ons wat so nou by Jerusalem se verlede, hede en toekoms betrokke is, is dit ’n onaanvaarbare situasie en rede vir ernstige voorbidding totdat die Here Jerusalem bevestig en tot ’n lof op aarde maak.

 

10. Die Letterlike Vervulling van Israel se Sewe Feeste

Daar is wêreldwyd onder Christene ’n toenemende belangstelling in die vervulling van Israel se sewe groot feeste, en dit is die rede waarom duisende van hulle jaarliks die Christelike viering van die sewende fees, naamlik die Loofhuttefees, in Jerusalem bywoon. Baie mense ondersoek nou die dieper betekenis en profetiese toepassing van hierdie feeste en verkry só nuwe insig in Bybelse waarhede.

Die siklus van die sewe groot godsdienstige feeste wat volgens Levítikus 23 jaarliks deur Israel gevier word, werp spesifieke lig op die raadsplan van die Here vir die redding en geestelike toekoms van Israel en die nasies. Ons kan hierin die heilsweg volg wat by die kruis en die eerste reiniging van ons sonde begin, na die opstandingslewe en die vervulling met die Heilige Gees voortgaan, en daarna deur die lang pad van wêreldevangelisasie tot aan die einde van die kerkbedeling lei. Hierna vind die wegvoering van die ware kerk plaas, dan die verdelging van die goddelose koninkryke tydens die verdrukking van sewe jaar, gevolg deur die openbare koms van Christus en die vestiging op aarde van sy koninkryk van vrede en geregtigheid.

Die Here bevestig in sy Woord dat hierdie feeste nie menslik in oorsprong is nie, maar deur Homself ingestel is om sy plan vir die verlossing van die verlore mensdom bekend te maak. Met die oog op die toekomstige vervulling daarvan, moet die feeste jaarliks in die regte volgorde gevier word: “Dit is die feestye van die Here … wat julle moet uitroep op hulle bepaalde tyd” (Lev. 23:4). Die sistematiese opeenvolging van die sewe feeste weerspieël ’n waarneembare profetiese program.

Omdat hierdie feeste op ’n finale vervulling in die Messias dui, is hulle in hul oorspronklike vorm “’n skaduwee van toekomstige dinge; maar die liggaam [m.a.w. hulle profetiese substansie] behoort aan Christus” (Kol. 2:16-17). Al sewe is Christusfeeste wat in Hom konkrete gestalte verkry. Die feeste is in twee groepe verdeel – die eerste groep van vier is almal vervul tydens gebeure rondom Christus se eerste koms, tot en met die uitstorting van die Heilige Gees, terwyl die laaste drie op gebeure rondom sy wederkoms dui. Die lang tydsverloop tussen die twee groepe feeste dui profeties op die kerkbedeling wat tussen die Here Jesus se eerste en tweede koms verloop.

’n Baie belangrike aspek van hierdie feeste wat in ag geneem moet word, is dat hulle in hul oorspronklike, skaduagtige vorm, aan Israel gegee is om te onderhou sodat hulle op die koms van die Messias voorberei kon word. In die feeste se vervulde, Nuwe-Testamentiese vorm is hulle egter vir alle mense op aarde ter sake omdat dit ’n bloudruk bevat van God se verlossingsplan vir die hele mensdom. Die oomblik toe die eerste van die sewe feeste vervul is, het die perspektief vanaf Israel na die hele wêreld verskuif, en was dit die Here se opdrag aan sy dissipels dat alle mense daarvan moes kennis neem omdat God se verlossingsplan vir hulle almal bedoel is – niemand word uitgesluit nie. Die sewe feeste en hulle toepassings is die volgende:

1. Die Pasga (Paasfees)

Die Pasga word in Nisan gevier, wat die eerste maand op Israel se godsdienstige kalender is. Dit is die lentemaand in die noordelike halfrond – dan is dit gewoonlik Maart op die Gregoriaanse kalender. Israel het ’n maankalender waarin elke maand met die nuwemaan begin. Benewens die godsdienstige kalender het hulle ook ’n siviele kalender wat ses maande later, tydens die herfsmaand op 1 Tisjri begin (meesal in September). Hulle noem daardie dag die Rosh Hashanah, of Nuwejaar. Op die godsdienstige kalender is Tisjri die sewende maand. Volgens Exodus 12:2 het die Here die orde van die maande op Israel se kalender tydens hulle uittog uit Egipte verander sodat Nisan die eerste maand geword het. Die lentemaand simboliseer die begin van ’n nuwe lewe van bevryding ná vier eeue van Egiptiese ballingskap en slawerny aan sonde. Israel het egter nie hulle siviele kalender wat op Rosh Hashanah begin laat vaar nie en gebruik vandag nog steeds albei kalenders.

Die eerste van die jaarlikse feeste begin met die volmaan in Nisan (twee weke ná die nuwemaan is dit altyd volmaan): “In die eerste maand, op die veertiende van die maand, teen die aand, is die pasga van die Here” (Lev. 23:5). Met die instelling van die pasga is die eerste formele riglyne gelê waarvolgens God se verlossingsplan vir die mens 1 500 jaar later sy finale vervulling met die kruisdood van Jesus Christus sou verkry. Moses het aan Israel gesê: “Julle moet ’n lam hê sonder gebrek, ’n jaaroud rammetjie. … En julle moet dit in bewaring hou tot die veertiende dag van hierdie maand; en die hele vergadering van die gemeente van Israel moet dit slag teen die aand. En hulle moet van die bloed neem en dit stryk aan die twee deurposte en aan die bo-drumpel. … Want Ek sal in hierdie nag deur Egipteland trek en al die eersgeborenes in Egipteland tref. … Maar die bloed sal vir julle ’n teken wees … as Ek die bloed sien, sal Ek by julle verbygaan. En daar sal geen verderflike plaag onder julle wees nie” (Ex. 12:5-7,12-13).

Die sewe feeste begin by die slag van ’n lam. Die vervulling van die Pasga was tydens die kruisiging van die vlekkelose Lam van God wat in die volheid van die tyd mens geword het om vir ons sy lewe af te lê. Petrus het na die groot offer van die Lam verwys toe hy gesê het: “…julle weet dat julle nie deur ... silwer of goud losgekoop is uit julle ydele lewenswandel ... nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ’n lam sonder gebrek en vlekkeloos” (1 Pet. 1:18-19). Paulus voeg hierby: “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade” (Ef. 1:7).

Jesus is op Vrydag die 14de Nisan (11 April 32) gekruisig, op die dag van die Pasgaviering van daardie jaar. Hy het op die negende uur (3 nm.) die asem uitgeblaas (Mark. 15:34-37), op presies dieselfde uur toe die lam tydens die eerste Pasga in Egipte geslag is. Pilatus was verwonderd dat Jesus so gou gesterf het, en het toestemming vir sy begrafnis verleen (Mark. 15:42-45). Dit is nog voor die Vrydagaand 6-uur afgehandel toe die Sabbat sou begin en niemand dan begrawe mag word nie (Luk. 23:52-54; Joh. 19:31). Volgens die Jode se stelsel van inklusiewe tydsberekening word ’n gedeelte van ’n dag ook as ’n volle dag beskou, daarom hoef daar nie 72 uur te verloop tussen Christus se kruisiging op ’n Vrydagmiddag en sy opstanding vroeg op die Sondagoggend nie.

Van die oomblik af dat Christus die losprys vir ons sonde betaal het, is die vervulling van die sewe feeste direk ter sake vir alle mense op aarde. Johannes die Doper het nog voor Jesus se kruisiging na Hom gewys en gesê: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Joh. 1:29). Hy sou nie net vir Israel se sonde sterf nie, maar ook vir dié van die hele wêreld. Ná sy soendood sou Hy Homself verder deur die oorblywende ses feeste openbaar.

2. Die Fees van die Ongesuurde Brode

Die tweede fees volg sonder onderbreking op die eerste een en is ’n direkte uitvloeisel daarvan: “… en op die vyftiende dag van hierdie maand is die fees van die ongesuurde brode van die Here; sewe dae lank moet julle ongesuurde brode eet” (Lev. 23:6).

Volgens Johannes 19:31 was die Sabbat wat direk op Christus se kruisiging gevolg het, ’n groot dag. Die rede hiervoor was dat dit tegelyk die weeklikse Sabbat en die belangrike eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brode was. Vir die ortodokse Jode is die betekenis van hierdie fees in selfondersoek en verootmoediging geleë. Suurdeeg is ’n beeld van sonde, daarom simboliseer die eet van ongesuurde brood die nastreef van ’n heilige lewe. Tydens die volle duur van die fees moes suurdeeg, en selfs ook krummels van gesuurde brood, uit hulle huise verwyder en seremonieel verbrand word (Ex. 12:15). Daar word ook van die Messias se volgelinge verwag om hulleself geestelik te reinig van die suurdeeg van sonde en ongeregtigheid.

Ons moet onsself ook só met Christus as die ongesuurde brood van die lewe vereenselwig dat ons alle suurdeeg van sonde sal aflê. Paulus sê: “Weet julle nie dat ’n bietjie suurdeeg die hele deeg suur maak nie? Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle ’n nuwe deeg kan wees – soos julle inderdaad ongesuurd is – want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus. Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van ondeug en boosheid nie, maar met die ongesuurde brode van reinheid en waarheid” (1 Kor. 5:6-8).

Soos die Jode van ouds hulle huise op hul knieë in kerslig deursoek het om elke krummel brood wat met suurdeeg gebak is, uit te werp, moet ons ook op ons knieë in die lig van God se Woord ons lewens deursoek en van alle ondeug en boosheid afstand doen. Sonde moet bely en laat staan word (Spr. 28:13). Selfondersoek en hertoewyding aan die Here moet gereelde aktiwiteite in ons geestelike lewe wees. Dawid het gebid: “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ’n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!” (Ps. 139:23-24).

3. Die Fees van die Eerstelinge

Die verdere feeste is almal aan verskillende stadiums van die jaarlikse insameling van die oes in Israel gekoppel, en telkens word daar ’n diep geestelike toepassing daarvan gemaak. Die derde fees staan as die Fees van die Eerstelinge bekend: “Spreek met die kinders van Israel en sê aan hulle: As julle in die land kom wat Ek julle gee en sy opbrings oes, moet julle die eerstelingsgerf van julle oes na die priester bring. En hy moet die gerf voor die aangesig van die Here beweeg, sodat julle welgevallig kan wees; die dag ná die Sabbat moet die priester dit beweeg” (Lev. 23:10-11).

Israel is ’n winterreënvalgebied en gedurende die lente word die eerstelingsgerf van die gars as ’n beweegoffer voor die Here gebring. Dit moes uitdruklik op ’n Sondag geskied (die dag ná die Sabbat), en sou ook die besonder gewigtige betekenis hê om die volk vir God welgevallig te maak. Met hierdie fees is dus iets veel meer op die spel as net die jaarlikse insameling van die oes, want iets belangrik moet gebeur wat die volk geestelik aanneemlik maak vir God.

Omdat die Pasga ook in die lentemaand gevier word, is die Fees van die Eerstelinge in sy tydsbepaling én betekenis baie nou aan die Pasga verbonde. Tydens die uittog uit Egipte was die gars, wat effens vroeër as die koring ryp word, reeds in die aar (Ex. 9:31). In die lentemaand is Israel uit Egipte bevry en het aan die begin van ’n nuwe lewe gestaan. ’n Ontmoeting met die Lam van God wat ons sondes wegneem, is ook vir ons die begin van ’n nuwe lewe in die Here. Ons moet aan sy dood én opstanding gelykvormig word (Rom. 6:5).

In die jaar toe Jesus gekruisig is, is die beweegoffer van die eerstelingsgerf op die Sondagoggend gebring toe Hy uit die graf opgestaan het. Dit was die dag ná die Sabbat, m.a.w. die eerste dag van die week: “… nadat Hy opgestaan het, vroeg op die eerste dag van die week, het Hy eers verskyn aan Maria Magdalena” (Mark. 16:9).

Die koringkorrel wat in die grond geval en gesterf het, het op hierdie Sondagoggend sy eerste vrug opgelewer. Dit het die oesseisoen ingelui en die hele oes wat daarna ingesamel sou word, geheilig. Net Jesus alleen kon die eerstelingsgerf wees wat aan God geoffer is om die hele oes wat in sy Naam ingesamel word, te heilig en vir God welgevallig te maak. Hy is die eersteling wat uit die dood opgestaan het, en het dit sodoende vir baie mense moontlik gemaak om uit die dood van die ou lewe op te staan en deel van die groot oes vir die koninkryk van die hemel te word.

Dit is belangrik om te let op die bepaling dat hierdie fees spesifiek op ’n Sondag gevier moes word. Dit verteenwoordig profeties ’n oorgang van die ou verbond na die nuwe verbond. Sondag is die eerste dag van ’n nuwe week, of dispensasie, in God se raadsplan vir die mens. In hierdie bedeling word die opstanding van Jesus spontaan elke week op Sondae as die dag van die Here gevier. Die fees van die eerstelingsgerf in Levítikus 23 is die vroegste aanduiding in die Ou Testament van ’n toekomstige Sondagviering as ’n Christusfees. Op dié dag verkondig ons die boodskap: Hy het opgestaan, Hy leef! Die Here Jesus self het op die Sondag van sy opstanding die eerste byeenkoms van die  nuwe bedeling toegespreek, asook ’n week later, weer op ’n Sondag, die tweede een (Joh. 20:19-29). Daarna het die dissipels spontaan op Sondae bymekaargekom (vgl. Hand. 20:7 en 1 Kor. 16:1-2), terwyl die uitstorting van die Heilige Gees as die geestelike toerusting vir wêreldevangelisasie, ook op ’n Sondag plaasgevind het.

4. Die Pinksterfees

Die Pinksterfees staan ook as die Fees van die Weke bekend omdat dit presies sewe weke ná die Fees van die Eerstelinge gevier word: “Dan moet julle tel van die dag ná die Sabbat, van die dag af as julle die beweegoffergerf bring – sewe volle weke moet dit wees; tot die dag ná die sewende sabbat moet julle vyftig dae tel; dan moet julle ’n nuwe spysoffer aan die Here bring” (Lev. 23:15-16).

Dit is betekenisvol dat hierdie fees ook op ’n Sondag gevier word – die dag ná die sewende Sabbat. Daar is vyftig dae in hierdie sewe weke. Volgens die gebruik van inklusiewe berekening is daar agt Sondae omdat beide die eerste en die laaste Sondag as volle dae getel word. Die fees van die vyftigste dag word die Pinksterfees genoem, afgelei van die Griekse woord “pentecoste” wat “vyftigste” beteken.

Op hierdie dag herdenk die Jode die formele begin van die bedeling van die wet. Hulle glo dat die bevryde Israeliete op die 50ste dag ná die viering van die Pasga en hulle uittog uit Egipte by die berg Sinai was waar Moses die tien gebooie ontvang het (Ex. 19:1-3). Dit was vir só ’n ortodokse Pinksterfees dat Jode uit verskillende lande in Jerusalem bymekaar was op daardie besondere Sondagoggend toe die Heilige Gees uitgestort is, soos in Handelinge 2 beskryf.

Die Christelike Pinksterfees is dus vervul op die dag waarop die Ou-Testamentiese Pinksterfees gevier is. Die 50 dae tussen die beweegoffer van die eerstelingsgerf en die Pinksterfees het aan die begin van die Nuwe Testament tussen die opstanding van Jesus en die uitstorting van die Heilige Gees verloop. Ná die Sondag van Jesus se opstanding het 40 dae tot by sy hemelvaart verloop (Hand. 1:2-3), en ’n verdere tien dae tot by die uitstorting van die Heilige Gees. Ná die Donderdag van die hemelvaart het die dissipels hulleself tien dae lank in die bovertrek verootmoedig en gebid om die belofte van die Heilige Gees te ontvang. Op die dag ná die sewende Sabbat sedert Paasnaweek is die Heilige Gees oor hulle uitgestort.

Die ortodokse Jode wat vir hulle Pinksterfees van die wet byeen was, het glad nie gemerk dat die wet oorgegaan het in die genade en dat die bedeling van die kerk onder alle nasies op daardie dag begin het nie. Hulle was geestelik verblind omdat hulle nie vir Jesus as die beloofde Messias en Lam van God wou aanvaar nie; daarom het hulle aan die skaduagtige Ou-Testamentiese feeste bly vashou en dit voortgesit tot vandag toe. Dit is net die Messiaanse Jode, asook Christene uit alle nasies, wat die vervulde Christusfeeste vier.

Wanneer die vervulling van die Pasga deur die kruisdood van Jesus nie erken word nie, bly die verlossingsplan van die Here vir die betrokke persoon ’n verborgenheid. Sulke mense gaan voort om die skaduagtige gebruike van die Ou Testament voort te sit, insluitend die viering van die weeklikse Sabbat op die sewende dag. ’n Christen mag geen deel hê aan hierdie onvervulde feeste wat net van waarde was in die tyd voor die koms van Christus nie. Almal wat die vervulling van die eerste vier feeste ontken, verloën by implikasie ook die Messias wat dit vervul het.

Gelowiges het egter ter wille van  die bevestiging en versterking van hulle geloof alle rede om die belangrike gebeurtenisse wat tydens Jesus se eerste koms plaasgevind het, te herdenk. Ons vier so dikwels as wat ons wil Nagmaal, maar veral ook tydens Paasnaweek, om die soendood en opstanding van die Lam van God in herinnering te roep. Hiermee saam gaan ook die selfondersoek en hertoewyding wat kenmerkend van die Fees van Ongesuurde Brode is (1 Kor. 5:6-8). Ons moet ten volle met Jesus Christus as die brood van die lewe identifiseer sodat ons sy heiligheid deelagtig kan word.

Die feit dat die Pinksterfees deur ’n aftelling van 50 dae aan die Paasfees gekoppel is, is ’n aanduiding dat dit wesenlik deel daarvan is. Dit staan in verband met die geestelike toerusting wat Christene nodig gehad het, en nog steeds nodig het, om getuies vir Jesus te kan wees wat geroep is om die wêreld te evangeliseer: “En Hy sê vir hulle: So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan, en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder. En julle is getuies van hierdie dinge. En kyk, Ek stuur die belofte van my Vader op julle. Maar julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte” (Luk. 24:46-49).

Die dissipels het hulleself inderdaad vir tien dae lank in Jerusalem verootmoedig voordat hulle met die Heilige Gees vervul is. Toe eers het hulle die krag ontvang om getuies vir Jesus te kon wees. Hy het net voor sy hemelvaart gesê: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde” (Hand. 1:8).

Op die dag toe die Heilige Gees uitgestort is, het die dissipels in ’n aantal bekende tale gepraat wat deur hoorders uit vyftien verskillende lande of volke verstaan is, hoewel die dissipels self nie al dié tale en dialekte geken het nie (Hand. 2:6-12). Dit was duidelik ’n transisionele gawe tydens die oorskakeling van ’n Israelgeoriënteerde evangelie na ’n evangelieboodskap wat op die geestelike behoeftes van alle volke en tale op aarde ingestel is. Die vervulling van die sewe feeste het ten nouste met die redding van alle mense te doen, daarom moet almal in hulle eie taal oor die hele raad van God vir die redding van ’n verlore mensdom ingelig word.

Die insameling van die oes

Ná die Pinksterfees volg daar ’n onderbreking van vier maande waarin die oes ingesamel word. Aan die einde hiervan, in die sewende maand op Israel se godsdienstige kalender, word die oorblywende drie feeste kort ná mekaar gevier. Die lang periode tussen die twee groepe feeste dui profeties op die bedeling van die kerk, waartydens ’n oes vir die koninkryk van die hemele ingesamel word. Dit is ’n tyd waarin volgehoue arbeid in die oeslande verrig moes word sodat die opgelegde taak binne die toegelate genadetyd afgehandel kon word. Jesus het sy dissipels só tot aksie aangespoor: “Sê julle nie: Dit is nog vier maande dan kom die oes nie? Kyk, Ek sê vir julle, slaan julle oë op en aanskou die lande dat hulle al wit is vir die oes” (Joh. 4:35).

Jesus het vir agnostiese Jode gesê wat Hom tydens sy eerste koms verwerp het: “Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23:39). Die voegwoord “totdat” beteken “tot op die oomblik dat ...”, en impliseer dus baie duidelik ’n einde aan die lang tydperk van Israel se nasionale ongeloof. Wanneer Christus terugkom, sal Hy sy voete op die Olyfberg in Jerusalem sit (Sag. 14:4-5), en dit veronderstel dat die Bybelse inwoners van Jerusalem (die Jode) terug moet wees in hulle land. Tydens hierdie tweede ontmoeting sal hulle Hom nie weer verwerp nie, maar ten volle aanvaar. Hulle sal opsien na Hom vir wie hulle deurboor het, en bitterlik oor Hom ween (Sag. 12:10). Die hele oorblyfsel van Israel sal dan met Hom versoen word.

Die Here Jesus het weer die woord “totdat” gebruik toe Hy vir die Joodse volksleiers gesê het: “Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:24). Wanneer Hy aan die einde van die verdrukking, ná die bedeling van wêreldevangelisasie, op die Olyfberg neerdaal, sal die herstel van Israel en Jerusalem ’n finale stadium bereik. Hy sal deur die Kidronvallei en die oospoort wat tans nog toegebou is, na die Tempelberg – wat tans onder die beheer van Moslems is – opgaan en die vervalle koninkryk van Dawid weer oprig (Luk. 1:32; Hand. 15:16-17). Dan sal die vertrapping van Jerusalem finaal beëindig word.

Paulus het ook na Israel se lang tyd van geestelike verharding verwys, en aangetoon dat dit met die bedeling van wêreldevangelisasie sou saamval, waarna Israel as volk gered sal word: “... die verharding het ten dele oor Israel gekom totdat die volheid van die heidene [dit is die nie-Joodse volke] ingegaan het; en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en die goddelooshede van Jakob afwend” (Rom. 11:25-26).

Israel se progressiewe eindtydse herstel is vir ons ’n vaste aanduiding dat die tye van die nasies, m.a.w. die tyd van wêreldevangelisasie, na sy einde spoed. Daarna sal die laaste drie feeste vervul word, waarna die koninkryk van God as ’n sigbare werklikheid op aarde gevestig sal word.

5. Die Fees van Basuingeklank

Die sewende maand (gewoonlik in September) is die einde van die oesseisoen en dit word ingelui deur ’n heilige dag van basuingeklank: “Spreek met die kinders van Israel en sê: In die sewende maand, op die eerste van die maand, moet dit vir julle ’n rusdag wees, ’n gedenkdag deur basuingeklank, ’n heilige vierdag” (Lev. 23:24). Die ortodokse Jode blaas op hierdie dag, asook op die 2de Tisjri, op verskillende tye van die dag die ramshoring (shofar) in hulle sinagoges. Op die tweede dag, teen die aand, blaas die laaste basuin om die finale insameling van die oes aan te kondig. Dit is nie die laaste van alle basuine nie, maar die laaste basuin van die oesfees.

Die fees van die basuine sal vervul word wanneer Jesus Christus die hemelse oes onder alle nasies insamel. Paulus sê: “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees” (1 Thess. 4:16-17).

In Israel se feesprogram volg daar ná die 1ste en 2de Tisjri die sogenaamde “sewe verskriklike dae” waarin gelowige Jode hulleself verootmoedig, vas, hulle sondes bely en goed aan andere doen sodat hulle die guns van die Here kan wen. Dit word gedoen as voorbereiding vir die Groot Versoendag wat op die 10de van Tisjri gevier word, sodat die Here hulle moet seën en nie verwerp en veroordeel nie.

Hierdie sewe dae dui profeties op die sewe jaar van die verdrukking, wat Daniël se 70ste jaarweek sal wees (Dan. 9:27). In tye van groot benoudheid sal Israel en die nasies óf die ware Messias soek en aanneem, óf tot hulle eie ondergang ’n verbond met die valse Messias sluit.

6. Die Groot Versoendag

Die Groot Versoendag (Yom Kippur) is die belangrikste godsdienstige feesdag in Israel, en dit was tradisioneel die enigste dag van die jaar waarop die hoëpriester die Allerheiligste agter die voorhangsel kon binnegaan om versoening vir die volk se sondes te doen: “Op die tiende van hierdie sewende maand is dit die versoendag. ’n Heilige vierdag moet dit vir julle wees; dan moet julle jul verootmoedig en aan die Here ’n vuuroffer bring” (Lev. 23:27).

Hierdie fees sal profeties vervul word wanneer die Messias met sy wederkoms sy voet op die Olyfberg sit en elke oog Hom sal sien, ook hulle wat Hom deursteek het. Op daardie dag sal Hy met Israel as volk versoen word. Dan sal daar, volgens Daniël 9:24, ewige geregtigheid vir Israel aanbreek, en dit sal ook in die heerlikheid van die ten volle herstelde Jerusalem gesien kan word. Op hierdie baie dramatiese dag ná die groot verdrukking sal daar ook ’n oorblyfsel van die nasies met Christus versoen word. Volgens Matthéüs 24:29-30 sal al die stamme van die aarde rou bedryf oor hulle sonde wanneer hulle die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel.

Vir ons as Christene is die kruisiging die Groot Versoendag, maar talle ongereddes in Israel en die nasies sal eers tydens Jesus se wederkoms sy soenoffer aanvaar en ween oor hulle sonde. Hulle grootste sonde sal wees dat hulle Hom as Verlosser van die wêreld verwerp het.

7. Die Loofhuttefees

“Op die vyftiende dag van hierdie sewende maand is dit sewe dae lank die huttefees vir die Here. … Sewe dae lank moet julle in hutte woon; almal wat in Israel gebore is moet in hutte woon, sodat julle geslagte kan weet dat Ek die kinders van Israel in hutte laat woon het toe Ek hulle uit Egipteland uitgelei het. Ek is die Here julle God” (Lev. 23:34, 42-43).

Hierdie is ’n vreugdefees wat ná die finale insameling van die oes gevier word om die Here vir al sy weldade van daardie betrokke jaar te bedank, insluitend die oes wat ingebring is. Tweedens het dié fees ’n terugwaartse verwysing na die uittog uit Egipte toe die kinders van Israel in hutte in die woestyn gebly het. Ter herinnering hieraan slaap baie mense nou ook tydens die fees in hutte of onder takskerms in hulle tuine en dank die Here dat Hy hulle voorvaders veilig deur die gevaarlike woestyn gelei en na die Beloofde Land gebring het. Derdens het die fees ’n toekomsgerigtheid deurdat dit duidelik met die koms van die Messias verbind word. Dan sal die oes onder Israel en die nasies ingesamel wees en die Messias op aarde uit Jerusalem regeer.

Met die koms van Christus sal die Loofhuttefees in volle vervulling gaan. Dan sal ons saam die Here loof vir ons verlossing uit die slawerny van sonde, en ook omdat Hy ons in moeilike tye in ons pelgrimsreis op aarde deurgedra het totdat ons ons ewige tuiste bereik het. Daar sal eer en danksegging aan Hom gebring word vir die groot oes van gelowiges wat ingesamel is. Hierdie fees sal dus ook ’n wêreldwye vervulling hê.

Persoonlike belewenis

Wat is jou persoonlike belewenis van hierdie Christusfeeste? Elke geredde mens se geestelike pelgrimsreis begin by die Lam wat vir ons geoffer is, m.a.w. by die kruis van Jesus waar die straf vir ons sonde betaal is. Ná die belydenis en aflegging van ons sondes, staan ons saam met Christus in ᾿n nuwe lewe op. Hierna gaan ons voort om deur verootmoediging en ᾿n volle oorgawe op die vervulling met die Heilige Gees te wag. Die toerusting met krag uit die hoogte stel ons in staat om getuies vir Jesus te wees en betrokke te raak by die insameling van die oes vir die koninkryk van die hemele. Hiermee wil die Here ons besig vind wanneer die basuin vir die ontmoeting met Hom weldra sal blaas.

Diegene wat agterbly wanneer die Here sy kinders kom haal, sal die grootste verdrukking van alle tye onder die tirannie van die Antichris in die gesig staar. Wanneer die heiliges ná sewe jaar saam met Christus terugkeer aarde toe, word die Antichris se ryk by die slag van Armagéddon verdelg en die Messiasryk op aarde gevestig. Om in die finale triomf van die Here Jesus te deel, moet ons die hele pad saam met Hom loop en ook ondervind wat dit is om deur die wêreld verdruk en verwerp  te word. Dit is slegs as ons saam met Hom ly, dat ons ook saam met Hom verheerlik sal word en saam met Hom sal regeer (Rom. 8:17; Fil. 1:28-29; 2 Thess. 1:5; 2 Tim. 2:12; 1 Pet. 5:10).

Omdat die volgelinge van Jesus ᾿n moeilike en smal paadjie moet bewandel, is baie van hulle nie bereid om hulle kruis op te neem en as dissipels van Christus hulle lig in ᾿n bose wêreld te laat skyn nie (Luk. 9:23). Hulle skuif liewer die swaarkry, opofferings en lyding eenkant toe en eis nou reeds die voordele van probleemvryheid, koningskap en oorvloed op wat eers in die vrederyk ons deel sal wees. Die waarheid is dat hulle nie regtig die kruis waaraan hulle vir die wêreld gekruisig is en die wêreld vir hulle, wil opneem nie. Die koste om die dikwels eensame paadjie van diensbaarheid en stryd saam met die Here Jesus te bewandel, is vir hulle té hoog.

In Egipte was daar slegs redding vir diegene wat onder die bloed van die lam geskuil het. Hulle het met ᾿n reis begin wat ná baie toetse en beproewings uiteindelik na die Land van Belofte gelei het. Is jy ook op hierdie reis, en maak jy vordering in jou geestelike lewe? Die jaarlikse feeste, as uitdrukkings van ons geloof in Christus, is bedoel om tye van verkwikking voor die aangesig van die Here te wees (Hand. 3:19). Dit versterk jou visie en toewyding, en jy word opnuut met krag uit die hoogte toegerus om jou roeping as Christen in ᾿n bose wêreld te kan vervul.

’n Getuienis vir Israel

Benewens ons eie geestelike verryking deur die vervulling van die sewe feeste, moet ons ook na Israel uitreik en vir hulle wys hoedat Jesus van Nasaret deur sy koms na die aarde, asook die uitstorting van die Heilige Gees kort ná sy hemelvaart, die eerste vier feeste vervul het. Dit is dus Messiaanse feeste en Israel is deur God geroep om ’n Messiaanse volk te wees. Die Messias is per slot van sake in die koninklike familie van Israel gebore, in die geslag van Dawid, en was algemeen as die Seun van Dawid bekend. Wanneer Hy weer kom, sal Hy van die troon van Dawid af uit Jerusalem regeer en sodoende ook die laaste drie van die sewe feeste vervul.

Selfs al maak Messiaanse Jode hulleself in Israel onpopulêr deur die Messias te bely en te verkondig, móét dit nogtans gedoen word. Moses het die Messiaanse roeping van Israel goed begryp, en was in daardie vroeë jare al bereid om ter wille van die Messias te ly: “Deur die geloof het Moses, toe hy grootgeword het, geweier om die seun van Farao se dogter genoem te word, omdat hy verkies het om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om ’n tyd lank die genot van die sonde te hê, en die smaad van Christus groter rykdom geag het as die skatte van Egipte, want hy het uitgesien na die beloning” (Heb. 11:24-26).

Die Here Jesus sê spesifiek ook vir Israel: “Ek is die wortel en die geslag van Dawid, die blink môrester” (Op. 22:16). Hy is die Alfa en die Oméga, hulle begin en einde. Hulle oorsprong is aan Hom te danke, en so ook sal die finale vervulling van Israel se hoë roeping in God se koninkryk net kan gebeur nadat hulle ten volle met Hom versoen is.