Dean Sherman Verkondig ook Koninkryksteologie

Prof. Johan Malan

Dean Sherman is een van die baie voorstanders van koninkryksteologie (ook bekend as ‘koninkryk-nou’ teologie). In sy boek Spiritual Warfare for Every Christian (YWAM Publishing, Seattle, 1995) skenk hy spesiale aandag aan hierdie onderwerp in hoofstuk 8, Using Your God-given Authority. Volgens sy siening moet goddelike gesag deur Christene gebruik word om die koninkryk van Satan te onttroon en daarna die węreld namens Christus te regeer.

In hoofstuk 8 verduidelik Sherman dat God aan die mens ‘n vrye wil gegee het, asook heerskappy, of gesag, en dat Hy dit nooit teruggeneem het nie (bl. 118). Hy wys dan verder daarop dat hierdie gedelegeerde gesag as gevolg van die ongehoorsaamheid van Adam en Eva in die hande van Satan beland het (bl. 119).

Onder die opskrif, “Jesus het teruggegee wat ons weggegee het,” sę Sherman: “Jesus het ook aan ons gesag gegee om te beoefen: ‘Kyk, Ek gee aan julle die mag om op slange en skerpioene te trap, en oor al die mag van die vyand; en niks sal julle ooit skade doen nie’ (Luk. 10:19)... Elke duiwel, elke heks, elke kultus en godsdiens, alle werke van enige aard, is ondergeskik aan die mag wat Jesus aan ons gegee het... Heerskappy het weer eens wettiglik verander en behoort nou weer aan die mens... As ons die duiwel nie bestraf nie, dan word hy nie bestraf nie. As ons hom nie terugdryf nie, dan sal hy nie weggaan nie. Dit hang van onsself af... ons moet net tot die stap oorgaan om ons godgegewe gesag in die naam van Jesus te beoefen” (bl. 130-132).

Die skrywer baseer ‘n groot deel van sy argument op 1 Johannes 4:4, wat lui: “Hy wat in julle is, is groter as hy wat in die węreld is.” Hy verkwalik Christene omdat hulle nie hierdie groot mag en gesag gebruik nie: “Baie Christene het sedert hulle redding nog nie minuut lank in oorwinning of vrede geleef nie... Hoe sal ons ooit die geestelike owerhede oor nasies kan konfronteer as ons self nie oorwinnend leef nie?” (bl. 128). Hy beklemtoon dit sterk dat ons verantwoordelikheid nie by persoonlike oorwinnings oor sonde en versoekings ophou nie, omdat ons, volgens hom, bemagtig is om die bose owerhede oor nasies aan te val en te verdryf. Dit is strategiese geestelike oorlogvoering wat daarop gerig is om die vestings van Satan oral in die węreld neer te werp. Sherman gaan só ver om te beweer dat ‘n enkele soldaat van Christus enigiets kan vermag:

“Glo ons werklik dat Jesus en een Christen sterker as enige mag in die heelal is? Is daar enige plek waarheen ek kan gaan waar die magte rondom my sterker is as Jesus wat in my is? ... Hierdie sekulęre, humanistiese en selfs sataniese samelewing is minder as dit wat in elke Christen is” (bl. 129). Hy sę dat indien ons nie tot die stryd toetree nie, ons vir die voortsetting van Satan se ryk op aarde verantwoordelik sal wees: “Ons moet die vyand konfronteer. Hy is oorwonne, maar hy sal voortgaan om sy bose werk te doen solank as wat ons nalaat om ons goddelike gesag teen hom te gebruik” (bl. 134).

Sherman haal ook Romeine 8:35-39 aan as bewys dat daar geen mag in die węreld is wat ons van die liefde van God kan skei nie. Hy is daarvan oortuig dat ons met ‘n vertroue ‘n geestelike oorlog kan voer om die węreld vir God te verower en ook ons posisie as mede-regeerders met Christus in te neem.

Beoordeling

‘n Oppervlakkige beoordeling van Dean Sherman se boek mag tot die verkeerde gevolgtrekking lei dat hy ‘n man is wat Bybelse beloftes verstaan en reg toepas, en dat hy ‘n gelowige is wat homself daartoe verbind het om sy goddelike gesag tot sy volle potensiaal in die stryd teen Satan te gebruik. Sy visie om die mensdom van die onderdrukkende invloede van bose magte te verlos, mag dalk vir baie mense baie braaf klink. Indien hierdie ideaal van hom verwesenlik word, sou dit inderdaad tot ‘n dramatiese manifestasie van God se koninkryk op aarde lei.

Duidelike bewyse van groot oorwinnings teen Satan se koninkryk ontbreek egter in Amerika én elders in die węreld. Moet Christene se swakheid en gebrek aan visie vir hierdie toestand geblameer word, of het Sherman dalk ons goddelike mandaat om Christus in die węreld te verkondig, verkeerd vertolk? By nadere ondersoek toon sy leerstelling ‘n gevaarlike gebrek aan die korrekte dispensasionele verstaan van die Bybel. Hy vertolk sleutelaspekte van die stryd tussen geregtigheid en boosheid gedurende die kerkbedeling verkeerd. Hy maak ook ‘n bespotting van ons voortgesette geestelike oorlogvoering teen die owerhede, magte en węreldheersers van hierdie bedeling, omdat hierdie owerhede volgens hom reeds sedert die eerste koms van Christus wetlik hulle mag verloor het. Hy leer dat hierdie magte vinnig verwyder kan word, selfs deur individuele Christene wat dapper genoeg is om hulle te verdryf.

Watter skriftuurlike bewyse bied hy vir die vinnige uitwissing van boosheid aan? Die gedeelte in Romeine 8:35-39 beskryf in werklikheid ‘n heel ander scenario as dit wat Sherman in gedagte het. Hierin word aangetoon dat Christene in ‘n verlengde stryd betrokke is waarin hulle verdrukking, benoudheid en vervolging deur bose magte in die gesig sal staar. Hulle kan selfs as martelare vir Christus sterf. Nie een van hierdie ervarings kan egter hulle geloof vernietig nie. Om geestelik te kan oorwin, beteken beslis nie dat hulle die mag het om vestings van Satan in die samelewing neer te werp en oor die vyand te regeer nie. Dit beteken bloot dat selfs al word hulle teëgestaan, vervolg of doodgemaak in die stryd, kan niemand hulle uit die hand van die Here ruk nie. Hierdie belofte verwys nie eers vaagweg na die aanname dat Christene bemagtig is om die węreld oor te neem en daaroor te regeer nie. Hulle is vreemdelinge en bywoners in die huidige bose węreld (1 Pet. 2:11; Gal. 1:4).

Die belofte wat in Lukas 10:19 aan die 72 dissipels gegee is dat hulle mag sou hę om op slange en skerpioene te trap, en ook oor al die krag van die vyand sou heers, is in ‘n spesifieke situasie aan hulle gegee. Dit het dieselfde doel gedien as die buitengewone tekens wat op die prediking van die vroeë apostels gevolg het, soos in Markus 16:17-18 aangedui. Proff. John. F. Walvoord en Roy B. Zuck (The Bible Knowledge Commentary, bl. 196) sę:

“In hierdie verse word vyf soorte tekens genoem wat sou plaasvind onder dié wat glo. Tekens is bonatuurlike gebeurtenisse wat van die goddelike oorsprong van die apostels se boodskap getuig het (vgl. Mark. 16:20). Die tekens was die waarmerk of bekragtiging van die geloof wat deur die vroeë apostels verkondig is, en nie die gevolg van hulle persoonlike geloof nie. In die lig hiervan, en ook in die lig van historiese feite, is dit redelik om te aanvaar dat hierdie bekragtigingstekens slegs normatief vir die apostoliese tydperk was” (vgl. 2 Kor. 12:12; Heb. 2:3-4).

Indien Christene inderdaad ‘n opdrag gehad het om Satan van sy magsbasisse te ontneem, sou die Bybel nie sulke duidelike stellings gemaak het oor die feit dat ons deurgaans gedurende hierdie bedeling met bose magte te doen sou hę, en dat boosheid in die eindtyd sou toeneem as ‘n voorspel tot die groot verdrukking onder die leierskap van die draak (Satan), die Antichris en die valse profeet nie. Satan sal eers tydens die wederkoms van Christus as heerser onttroon word, waarna hy vir ‘n duisend jaar lank in ‘n bodemlose put gebind sal word (Op. 20:1-3).

Ten spyte van hierdie duidelike skriftuurlike feite is daar verskeie Christelike leermeesters soos Dean Sherman, George Otis, Cindy Jacobs, Ted Haggard en Peter Wagner wat ander sienings hieroor huldig. Hulle het węreldwyd ‘n groot gevolg, maar duidelike suksesverhale in terme van hulle eie doelstellings ontwyk hulle steeds. In Suid-Afrika was daar ook verskeie koninkryk-nou eksperimente. ‘n Christen in een van die Wes-Kaapse dorpe het die volgende voorval beskryf: “’n Sekere broeder het baie ernstig in die naam van die Here Jesus gekom om die duiwel in ons dorp te bind en sy vernietigende werk hier te beëindig. Kort hierna is die broeder weer weg, maar hy het die duiwel in ons dorp agtergelaat – net so los soos altyd! Ander broeders het sy voorbeeld gevolg en ook probeer om Satan te bind en sy vestings neer te werp, maar weer eens sonder enige sukses.”

Dieselfde kan van talle soortgelyke pogings gesę word wat deur groepe Christene aangewend is om Satan en sy territoriale demone uit lande soos Amerika, Turkye en Israel te verdryf, of vanaf stede soos Jerusalem, Tel Aviv, New York, Washington, Londen en Kaapstad. Gebedswandelinge wat onderneem word sonder om Jesus aan die verlorenes te verkondig, is aan die orde van die dag. Sendelinge wat nie aan hierdie opspraakwekkende maar misleidende metodes meedoen nie, loop gevaar om hulle geloofwaardigheid en finansiële ondersteuning onder koninkryk-nou groepe te verloor.

Die Bybel belowe aan elke gelowige persoonlike oorwinning in die stryd teen die duiwel. Die meerderheid mense sal egter na die einde toe moreel verder verval soos wat sonde in ‘n Christus-verwerpende węreld toeneem. Dit sal na die groot verdrukking onder die bose bewind van die Antichris lei (Matt. 24:21). Ons moet die goeie stryd van die geloof stry totdat Christus kom om ons te kom haal (1 Tim. 6:12; Luk. 21:36). Sy koninkryk sal slegs geopenbaar word wanneer Hy as Koning van die konings kom – nie voor die tyd nie.