Johan Malan, Mosselbaai (Oktober 2015)
Skriflesing: “En soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hę. Want so lief het God die węreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hę. Want God het sy Seun in die węreld gestuur nie om die węreld te veroordeel nie, maar dat die węreld deur Hom gered kan word. Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie. En dit is die oordeel: dat die lig in die węreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos. Want elkeen wat kwaad doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, dat sy werke nie bestraf mag word nie. Maar hy wat die waarheid doen, kom na die lig, sodat sy werke openbaar kan word, dat hulle in God gedoen is” (Joh. 3:14-21).
Johannes 3:16 is een van die mees wyd aangehaalde verse in die Bybel. Hierdie bekende vers word ook “die evangelie in ʼn neutedop” genoem omdat dit beskou word as ʼn opsomming van die basiese Nuwe-Testamentiese leerstelling oor verlossing:
“Want so lief het God die węreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hę.”
Vyf kernwaarhede in verband met ons saligheid word in dié vers genoem, wat al vyf Goddelike wonders is. Dit is die wonder van Goddelike liefde, die wonder van ʼn hemelse Verlosser, die wonder van geloof in God, die wonder van redding uit verderf, en die wonder van die ewige lewe. Die Bybel bied ʼn volledige verklaring van hierdie bonatuurlike werke van God aan, en beklemtoon die feit dat Jesus Christus die enigste Verlosser van die węreld is en dat geen mens homself uit sy toestand van geestelike doodsheid en morele verdorwenheid kan red nie:
God is liefde, en dit is een van sy belangrikste morele attribute (1 Joh. 4:16). Die agape liefde van God is heeltemal anders as die selfgerigte, begeerlike liefde van die gevalle mens. Sy liefde het ʼn uitwaartse gerigtheid en is daarop ingestel om te voorsien in die behoeftes van hulle wat in geestelike duisternis is. Alle mense op aarde is slawe van sonde en ongeregtigheid (Rom. 3:10-12). God wil egter nie hę dat hulle verlore moet gaan nie maar dat almal tot bekering kom (2 Pet. 3:9). In sy neerbuigende liefde en reddende genade het Hy ʼn verlossingsplan voorsien wat dit vir almal in die węreld moontlik maak om gered te word – selfs die mees geharde sondaar.
Die verdorwe mensdom het ʼn magtige Verlosser uit die hemel nodig om hulle uit hulle verlore toestand te kan loskoop. God het self bepaal dat die doodstraf op elke sondaar val, “want die loon van die sonde is die dood” (Rom. 6:23; Eseg. 18:20). ʼn Volmaakte en sondelose persoon moes dus gevind word om plaasvervangend namens verlore sondaars te sterf en hierdie straf uit te dien. Daar was nie so ʼn persoon onder die sondige mense wat ʼn losprys vir medesondaars kon betaal nie: “Niemand kan ooit ʼn broer loskoop nie; hy kan aan God sy losprys nie gee nie (want die losprys van hulle lewe is te kosbaar en vir ewig ontoereikend), dat hy vir ewig sou voortlewe, die vernietiging nie sou sien nie” (Ps. 49:8-10).
God se volmaakte en sondelose Seun kon egter hierdie prys betaal. Maar dan moes Hy bereid wees om sy hemelse heerlikheid te verlaat, die gestalte van ʼn dienskneg aan te neem en die vernederende dood van ʼn sondaar aan die kruis te sterf (Fil. 2:6-8). Die selfopofferende liefde van God het Hom gedring om dit te doen. “Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee” (Joh. 15:13). “God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was” (Rom. 5:8).
Moses het aan Israel ʼn simboliese voorstelling van die Messias se toekomstige verlossingswerk gegee toe hulle in die woestyn deur giftige slange gebyt is (Num. 21:6-9). Moses moes ʼn koperslang maak en aan ʼn paal ophang. Elkeen wat in die geloof na hierdie “offer” gekyk het, is genees. Dié wat nagelaat het om dit te doen, het van die gif van die slange gesterf. In ʼn geestelike sin het die slang, Satan, alle mense deur die oorerflike sondeval vergiftig (Rom. 5:12), en dit verklaar die sondige natuur waarmee almal van ons gebore word. Daar is net een oplossing vir hierdie geestelike krankheid wat na ʼn gewisse dood lei, en dit is om in die geloof op te sien na Hom wat ons sondes op Hom geneem en daarvoor gesterf het. Petrus sę: “Christus [het] ook vir julle gely. ... Hy wat geen sonde gedoen het nie, en in wie se mond geen bedrog gevind is nie; ... wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het ... deur wie se wonde julle genees is” (1 Pet. 2:21-24). Ons geestelike krankheid word deur sy offer genees.
Geloof in God deur Jesus Christus is ʼn gawe van die Here wat net deur sy Heilige Gees aan ons verleen kan word. Dit gebeur wanneer ons die evangelie van verlossing hoor: “Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God” (Rom. 10:17). In die Bybel word alle mense wat nie ʼn Godgegewe geloof het nie, as “ongelowiges” beskryf, al “glo” hulle ook in enige afgod. Hulle beoefen ʼn valse geloof (eintlik ʼn bygeloof) wat nie hulle siele kan red nie. Die ongereddes is almal “ongelowiges in wie die god van hierdie węreld [Satan] die sinne verblind het” (2 Kor. 4:4). Ongelukkig is daar baie mense wat die duisternis liewer het as die lig, daarom kom hulle nie na die Here Jesus om gered te word nie. Die tydelike genot van die sonde hou hulle van die Here se reddende genade af weg, daarom verkeer hulle weens hulle eie dwaasheid onder die oordele van God.
ʼn Ware geloof kom net van die Here af. Elkeen wat die Here Jesus in die geloof as Verlosser aanneem, word in ʼn geestelike sin ʼn kind van God (Joh. 1:12). Hy gaan oor uit die dood in die lewe (Joh. 5:24) en geniet al die seëninge wat aan gelowige volgelinge van Jesus Christus belowe word. Terselfdertyd vrywaar dit hom van God se oordele oor die ongelowiges: “Hy wat in [Christus] glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie” (Joh. 3:18).
Ons leef in ʼn verganklike węreld waarin alles wat lewe verouder, sterf en tot niet gaan. Die mens is op twee maniere onderworpe aan die mag van die dood: hy het nie net ʼn sterflike liggaam nie maar het ook geestelik gesterf weens die sondeval (Gen. 2:17; 1 Kor. 15:22). Daar wag dus op hom die eerste dood van die liggaam én die tweede dood vir ewig in die hel weens sy sonde. Op grond van die soendood van Christus word bekeerlinge van albei hierdie vorms van die dood gered. Tydens bekering word ons onmiddellik geestelik lewend gemaak en sodoende van die dreigende gevaar van die tweede dood in die hel verlos: “En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes” (Ef. 2:1; vgl. Kol. 2:13).
Wat die liggaam betref, woon ons onsterflike siele nog steeds in sterflike liggame wat aan die eerste dood onderworpe is. Ons het egter geen vrees vir die dood nie, omdat die Here aan ons onsterflike opstandingsliggame belowe het wat ons tydens die opstanding van die regverdiges aan die einde van die kerkbedeling sal ontvang (dit is die eerste opstanding): “Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank” (Op. 20:6). Die ongeredde dode sal nie herleef tot die duisend jaar voleindig is nie (Op. 20:5), waarna hulle liggaamlik in die poel van vuur gegooi sal word waar die smarte van die ewige dood op hulle wag – dit is die twee dood (Op. 20:14).
Het jy al in die geloof voor die Here neergebuig om deur Hom gered te word? Hy bied sy genade aan almal, want lede van alle volke wandel in geestelike duisternis en het nodig om verlos te word. Hy nooi hulle: “Wend julle tot My en laat julle red, alle eindes van die aarde!” (Jes. 45:22).
Gelowiges word nie net uit die mag van die dood gered nie, maar hulle verkry ook ʼn nuwe lewe in Christus wat ewig en volmaak is. Hy het gesę: “Voorwaar, voorwaar Ek sę vir julle, wie in My glo, het die ewige lewe” (Joh. 6:47). Die mens het ʼn keuse tussen net twee eindbestemmings: óf hy aanvaar die vergifnis en ewige lewe wat Christus aan hom bied, óf hy bly in sy sonde en stuur op die ewige dood af: “Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here” (Rom. 6:23). Alle mense sal uiteindelik die knie voor Christus as Regter moet buig, wanneer Hy die goddeloses se straf sal bekragtig en die ewige lewe van die regverdiges bevestig: “En hulle [die ongereddes] sal weggaan in die ewige straf, maar die regverdiges in die ewige lewe” (Matt. 25:46).
Ons kan nou reeds absolute sekerheid oor ons eindbestemming verkry, want ná ons wedergeboorte ontvang ons die getuienis van die Heilige Gees in ons harte dat ons gered is: “En dit is die getuienis: dat God ons die ewige lewe gegee het, en dié lewe is in sy Seun” (1 Joh. 5:11). Die ongereddes word deur die Heilige Gees van hulle sonde en verlorenheid oortuig (Joh. 16:8), maar hulle gaan nie daartoe oor om hulle sondes aan Christus te bely en Hom vir redding te vertrou nie. Hulle leef fatalisties saam met ʼn slegte gewete wat hulle aankla weens hulle sonde, maar dit is nie nodig nie want daar is vergifnis, redding en ʼn nuwe lewe vir alle sondaars.
Die vyf wonders wat die grondslag vir ons wedergeboorte vorm, plaas ons aan die begin van ʼn nuwe lewe waarin ons die opdrag het om God se heiligheid deelagtig te word deur aan die beeld van sy Seun gelykvormig te word. Al vyf die Goddelike wonders wat in Johannes 3:16 genoem word, moet in ʼn toenemende mate kenmerke van ons nuwe lewe as Christene word. Ons geestelike lewe moet dus nie net in beginsel verander tydens redding nie, maar ook kwalitatief ontwikkel terwyl ons na hoër hoogtes van toewyding streef. Die Heilige Gees lei ons op die pad van heiligheid en geestelike groei sodat ons meer diensbaar kan word aan die Here. Die vyf wonders van redding moet dus ook prakties uitgeleef word:
Dieselfde agape liefde wat God daartoe beweeg het om sy Seun as Verlosser na die węreld te stuur, word ook aan ons geskenk as die grondslag van die nuwe lewe wat ons ontvang. Deur die wedergeboorte kry ons veranderde harte wat volgens die beginsels van Goddelike liefde funksioneer. Paulus sę”... die liefde van God [is] in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is” (Rom. 5:5). Daarmee saam maak die Heilige Gees ook woning in ons harte om ons van sonde te oortuig wanneer ons nie in die lig van hierdie liefde wandel nie. Hy oortuig ons van Christus se geregtigheid sodat ons kan weet hoe om volgens die riglyne van agape liefde te leef, en verleen ook aan ons die krag en genade om praktiese uitvoering aan ons nuwe natuur te gee. Ons word voor die uitdaging gestel om vervul te word tot al die volheid van God, sodat sy liefde ten volle in al ons gedagtes, woorde en werke eerbiedig sal word.
Tot watter mate is jou lewe in ooreenstemming met die aard en beginsels van Goddelike liefde? Jou optrede sal duidelik wys waar jy staan, want die volgende handelings en houdings is basiese kenmerke van hierdie liefde: “Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. Die liefde vergaan nimmermeer. ... En nou bly geloof, hoop en liefde – hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde” (1 Kor. 13:4-8, 13).
Goddelike liefde is nie opgeblase en selfgesentreerd nie, maar soek die belange van ander. Dit is nie verbitterd en onvergewensgesind nie, maar daarop ingestel om gebroke en gespanne verhoudings reg te stel. Dit het geen behae in enige vorm van valsheid of leuens nie, maar vereis dat die volle waarheid oor God én oor sonde aan die lig sal kom. Dit verwys nie terug na ou sondes wat vergewe is nie, maar vestig die aandag op die beginsels van ʼn rein lewe, asook die salige hoop op Christus se wederkoms. Is jy in hierdie liefde gewortel en gegrond, en begryp jy saam met al die heiliges wat die breedte, lengte, diepte en hoogte daarvan is? (Ef. 3:17-19). God se agape liefde is wonderbaarlik in sy wese en onpeilbaar in sy diepte. ʼn Christen-letterkundige het by geleentheid gesę die mooiste en mees betekenisvolle gedeelte wat sy ooit in enige boek gelees het, staan in die Bybel, en is net vyf woorde vervat: “Die liefde vergaan nooit nie” (1 Kor. 13:8; NAB). Wat ʼn aangrypende gedagte – alles rondom ons vergaan, maar God se liefde vir ons hou vir ewig stand. Niks kan dié liefde in ons harte vernietig nie, daarom kan geen vyandige magte in hierdie węreld of in die geesteswęreld ons skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus is nie (Rom. 8:31-39). Bly net elke oomblik in Hom (Joh. 15:4-6).
Ons het slegs een basiese gebod in die Nuwe Testament, en dit is om Goddelike liefde op alle vlakke van ons bestaan uit te leef. Dit moet uitdrukking vind in ons liefde teenoor God én liefde teenoor ons naaste. As jy God waarlik liefhet, sal jy geen ander gode voor sy aangesig bring of op enige manier oneerbiedig teenoor Hom optree nie. Jy sal ook nie jou naaste enige kwaad aandoen nie, daarom het jy nie Ou-Testamentiese wette nodige om jou menseverhoudings te reël nie. “Wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hę; hy wat ʼn ander liefhet, het die wet vervul. ... Die liefde doen die naaste geen kwaad nie, daarom is die liefde die vervulling van die wet” (Rom. 13:8, 10). Leef hiervolgens, dan sal jy nooit struikel nie.
Die vraag is of ons volle uitvoering aan die gebod van die liefde gee? Dit moet veral duidelik uit die onderlinge verhoudinge tussen Christene blyk. Die Here Jesus het aan sy dissipels gesę: “’n Nuwe gebod gee Ek aan julle, dat julle mekaar moet liefhę; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhę” (Joh. 13:34). Gelowiges moet ook Goddelike liefde aan ʼn verloregaande węreld betoon omdat dit die beweegrede moet wees vir die verkondiging van die evangelie aan alle volke en nasies. Die kosbare geskenk van verlossing mag van niemand weerhou word nie, daarom word ons beveel om selfs ons vyande lief te hę – nie met ʼn humanistiese liefde wat slegs na humanitęre hulp en intergeloofskompromie lei nie, maar met ʼn Goddelike liefde wat ons motiveer om die boodskap van bekering en vergifnis aan alle sondaars te verkondig.
Jesus Christus is die magtige Verlosser wat uit die hemel neergedaal het na die gevalle mensdom. Ons moet Hom nie alleen as Redder in ons lewe ontvang nie, maar ook geestelik groei totdat Hy volle gestalte in ons lewe aanneem. Ons moenie by die begin van ons geestelike lewe vassteek en geestelik stagneer nie, maar opgroei tot die volwasse man of vrou in Christus. Kan ander mense vir Christus in jou lewe sien? Ons is geroep om getuies te wees vir Christus, die Verlosser van die węreld. ʼn Persoonlike verhouding met Hom, eerder as godsdienstige wette en rituele, is die sleutel tot redding (Hand. 4:12).
Paulus was benoud oor die Galásiërs omdat hulle meer in ʼn verhouding met die wet en die viering van Joodse feeste belang gestel het as in ʼn verhouding met Christus. Sy begeerte was dat Christus in hulle lewens gestalte sou aanneem, en dat sy liefde deur hulle sou skyn (Gal. 4:9, 19). ʼn Lewe in die Messias is die enigste oplossing vir ʼn lewe van vleeslikheid en sonde, daarom sę Paulus vir die gemeente in Rome: “Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie” (Rom. 13:14).
Die gawe van geloof sal in ons binneste versterk word as ons ernstig is in ons verhouding met God. Die dissipels is dikwels deur die Here Jesus “kleingelowiges” genoem (Matt. 16:8). Hulle het hierdie swakheid erken en aan Hom gevra: “Gee ons meer geloof” (Luk. 17:5). Ons moet daarna streef om in ons allerheiligste geloof opgebou te word (Jud. 1:20), sodat ons nie in ons geestelike lewe kinders sal wees wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering nie (Ef. 4:14).
Die pad van geloof is ʼn lewe van voortdurende stryd teen ʼn ongelowige węreld. As gelowiges moet ons leef soos mense wat die onsienlike sien en die Here Jesus se teenwoordigheid op ʼn geestelike vlak ervaar. Ons moet daarvan getuig en ook uitsien na die dag wanneer Christus se koninkryk sigbaar op aarde geopenbaar sal word: “Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe, waartoe jy ook geroep is en die goeie belydenis voor baie getuies afgelę het” (1 Tim. 6:12). Daar is ʼn stryd om in ʼn geestelik vyandige węreld te stry, en oorwinning te verkry.
Daar is Christene wat nie die goeie stryd van die geloof stry nie, en nie ernstig is om die leiding van die Heilige Gees te ervaar wat ons deur ons gewete én deur die Woord teen boosheid waarsku nie. Sommige mense distansieer hulle selfs van ʼn lewe van geloof. Paulus sę vir Timótheüs dat hy “aan die geloof en ʼn goeie gewete [moet] vashou. Sommige het dit van hulle weggestoot en aan die geloof skipbreuk gely” (1 Tim. 1:19). Ons moet egter nie agteruitgaan en terugval in ons geestelike lewe nie, maar die goeie stryd van die geloof met volharding voortsit. Paulus het aan wankelende Joodse gelowiges gesę: “Want ons het deelgenote van Christus geword, as ons net die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou” (Heb. 3:14). Vir die Kolossense sę hy: Die Here het julle gered “om julle heilig en sonder gebrek en onberispelik voor Hom te stel; as julle ten minste gegrond en vas bly in die geloof en julle nie laat afbring van die hoop van die evangelie nie” (Kol. 1:22-23). Waak teen verval.
Ons geloof moet nie geestelik verswak raak nie, maar opgebou en versterk word. Die hoop om eendag voor Christus te verskyn en deel van sy koninkryk te wees, is ʼn reinigende hoop en motiveer ons om nou reeds heilig en onberispelik te leef. Johannes sę: “En elkeen wat hierdie hoop op Hom [Christus se verskyning] het, reinig homself soos Hy rein is” (1 Joh. 3:3).
In sy liefde en reddende genade roep die Here ons uit die duisternis van sonde tot in sy wonderbare lig. Hy red ons uit ʼn verdorwe węreld wat op oordele en vernietiging afstuur. Deur die geloof is ons voortdurend aan Hom verbonde. Ons is nie meer deel van die verloregaande węreld nie, omdat ons gered is en van breë weg van sonde en ongeregtigheid af oorgeplaas is na die smal weg van God se geregtigheid. Dit lę ʼn geestelike én morele verantwoordelikheid op ons, want ons moet in Christus se voetspore volg, wandel soos kinders van die lig en geen gemeenskap hę met die onvrugbare werke van die duisternis nie – ook nie met valse gelowe nie (Ef. 5:1-11). Ons getuienis en standpunte kan tot konfrontasie met die sondige en verloregaande węreld rondom ons lei, en selfs vervolging vir die minderheid gelowiges meebring.
Hoewel ons na die innerlike mens reeds vrygespreek en van die mag van die ewige dood verlos is, leef ons steeds in verganklike liggame wat deel is van die natuurlike siklus van groei, veroudering en die dood. Ons wag nog steeds op die verlossing van ons fisiese liggame, maar dit sal eers gebeur wanneer Christus ons tydens die wegraping en opstanding van die regverdiges kom haal en met onverganklike, verheerlikte liggame beklee (1 Kor. 15:51-53). Ons het nou nog ons verganklike, aardse liggame nodig om die Here te kan dien (Rom. 6:11-13), maar hierdie liggame skep ook ʼn band met die verdorwe węreld, daarom kan ons deur ons sintuie versoek word om sonde te doen. Weens die onvolmaaktheid van ons gevalle liggame, ervaar ons ook dikwels pyn en lyding. Soos wat hierdie liggaam oud en verswak raak, word ons hoop al hoe meer op die hemelse liggaam gevestig wat ons sal kry wanneer Christus weer kom:
“Daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe. Want ons ligte verdrukking wat vir ʼn oomblik is, bewerk vir ons ʼn alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid; omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig. Want ons weet dat as ons aardse tentwoning [ons tydelike liggaam] afgebreek word, ons ʼn gebou het van God, ʼn huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele [ons verheerlikte liggaam]. Want om hierdie rede sug ons ook en verlang om met ons woning uit die hemel oorklee te word” (2 Kor. 4:16–5:2).
Met die ewige lewe reeds in ons gees en siel gevestig, moet ons elke dag leef soos mense wie se bestemming ver verby die tydelike bestaan van ons sterflike liggame strek. Hierdie visie en toekomsverwagting verbind ons daartoe om verkondigers en ambassadeurs vir die ewige lewe in Christus te wees. Ons moenie murmureer en vrae vra oor waarom ons nog ʼn tyd lank in hierdie verbygaande en geestelik donker węreld moet aanbly nie, want ons is aangestel met die uitdruklike doel om die lig van die węreld te wees en aan verlorenes nuwe hoop te gee. Dit is juis hier, te midde van die ongereddes, waar die Here ons nodig het sodat baie van hulle ook die nuwe lewe in Christus deelagtig kan word. Ons is dit aan elke sterwende siel verskuldig om die goeie nuus aan hom mee te deel dat God nie sy Seun gestuur het om die węreld te oordeel nie, maar dat die węreld deur Hom gered kan word. Die oordele is net bestem vir hulle wat die boodskap van verlossing versmaai het omdat hulle die duisternis liewer het as die lig.
Moet egter nie haastig wees om die ongereddes te veroordeel nie, want baie van hulle besef nie regtig wat alles op die spel is in hulle geestelike lewe nie. Die boodskap van die ewige lewe moet op ʼn baie duidelike en oorredende wyse aan hulle verkondig word, sodat hulle kan begryp dat sondaars in hulle ongeredde toestand sonder God en sonder hoop in die węreld is. Net Jesus Christus is die weg, die waarheid en die lewe. Die ewige lewe wat Hy aan ʼn verlore mensdom bied, kan op geen ander manier verkry word as net in gebed en in geloof voor sy genadetroon nie. Die geleentheid hiertoe moet nou aangegryp word, want daar is geen tweede kans vir bekering uit ʼn sondige lewe ná die dood nie.