Johan Malan, Mosselbaai (September 2014)
Skriflesing: ʼn Man wie se behae in die Woord van die Here is, “sal wees soos ʼn boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit” (Ps. 1:3).
“Geseënd is die man wat op die Here vertrou, en wie se vertroue die Here is. Want hy sal wees soos ʼn boom wat by die water geplant is en sy wortels uitskiet by die stroom en nie vrees as daar hitte kom nie, maar sy blad bly groen; en in ʼn jaar van droogte is hy nie besorg nie en hou nie op om vrugte te dra nie” (Jer. 17:7-8).
ʼn Christen word vergelyk met ʼn vrugteboom wat by ʼn waterstroom geplant is. Dit is baie duidelik wat die rede vir hierdie boom se sukses is – dit is nie in homself geleë nie, maar in die feit dat hy in die verborgene, diep onder die grond waar niemand kan sien nie, sy wortels uitgeskiet het tot in ’n stroom. Dit is die rede waarom droogtes, hitte en moeilike uiterlike omstandighede hom nie kan vernietig nie. Sy blare bly groen en sy voortbestaan is ten alle tye seker en gewis. Dit is ook die geheim van ’n toegewyde Christen – hy is soos ’n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nooit verwelk nie.
Die waterstroom verwys na die Here Jesus, na reiniging deur sy bloed en na sy voortdurende, lewegewende krag wat deur die Heilige Gees na ons toe vloei. Dié water les ons geestelike dors, stel ons in staat om vrugte te dra wat by die bekering pas, en gee aan ons krag om sterk te word in die Here en oor al die aanslae teen ons te oorwin. Die lewe en versterking wat ons uit hierdie stroom kry, is ewigdurend. Jesus het vir die vrou by die put gesê: “[E]lkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ʼn fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe” (Joh. 4:14).
Die genade van Jesus Christus vir redding is gratis tot die beskikking van enigeen wat bereid is om dit in die geloof aan te neem. Wanneer ons ons geestelike dors besef, moet ons net na Hom toe gaan sodat Hy ons van sonde kan reinig, ons siele kan verkwik en ons met sy Heilige Gees vervul. Sy uitnodiging word aan almal gerig: “As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo” (Joh. 7:37-39). Aan die einde van Openbaring herhaal Hy weer sy aanbod van vrye genade: “Aan die dorstige sal Ek gee uit die fontein van die water van die lewe, verniet” (Op. 21:6).
Word jou lewe ook deur die verborge kragbron van die Here Jesus se genadewerk gekenmerk? Dan sal jy daarbuite in ’n agnostiese en vyandige wêreld vas staan vir jou oortuigings. Selfs al is daar ʼn geestelike droogte in die wêreld waarin duisende mense van die geloof afvallig raak, sal jy self nooit deel van die probleem word nie. Jeremia sê die boom wat by die waterstroom geplant is, “vrees [nie] as daar hitte kom nie, maar sy blad bly groen; en in ʼn jaar van droogte is hy nie besorg nie en hou nie op om vrugte te dra nie” (Jer. 17:8).
In die natuur kry ons ’n praktiese demonstrasie van só ’n lewe. Die witstamboom (Boscia albitrunca) is ʼn beskermde immergroen boom wat in groot gebiede van Suidelike Afrika voorkom – ook in die heel droogste Kalahari- en semi-woestyngebiede. Ongeag veranderende weersomstandighede bly dié boom altyd groen, ook in die ergste droogtetye. Die geheim is dat sy wortels baie diep onder die grond indring totdat dit ʼn onderaardse wateraar bereik. Dit is die boom met die diepste wortelstelsel waarvan ons weet, en daar is in die Kalahari een aangetref waarvan die wortels 68 meter diep ingedring het totdat dit by water uitgekom het. Wanneer daar ernstige droogtes en hitte kom en die ander bome rondom hierdie boom kwyn en selfs doodgaan, bly die Boscia albitrunca groen. Daar word dikwels van sy takke afgekap sodat die blare as veevoer kan dien wanneer dit baie droog is en daar geen ander voer vir die vee is nie.
Ons moet ook diepte in ons geestelike lewe hê en onafgebroke in verbinding bly met die fontein van lewende water, dan sal ons nooit geestelik verdroog en ’n slagoffer van allerlei negatiewe omstandighede word nie. Ons geloof moet deur ons verhouding met die Here Jesus bepaal word en nie deur uiterlike omstandighede in die wêreld, of deur ander mense se wisselende opinies nie. Dit is waarom Paulus kon sê, selfs toe hy hom in die moeilikste denkbare omstandighede bevind het: “Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou” (2 Tim. 4:7). Hy het nie ondergegaan in die stryd nie, al het hy as ʼn martelaar vir sy geloof in Rome gesterf. Sy geloof het nie opgehou nie maar is inteendeel versterk, en hy het die bediening wat hy van die Here ontvang het, voltooi. Die Here was sy krag en sterkte, en dit het hom deur elke krisis gedra – hoe bomenslik die uitdagings ook al was.
Die belangrikste voorwaarde vir sukses in ons geestelike lewe is om in noue kontak met Jesus Christus te bly. Die verbindingskanaal na Hom moet altyd oop wees. Jesus het sy dissipels voorberei om in ʼn vyandige wêreld geestelik sterk te staan en deurgaans oorvloedige vrug te dra. Die voorwaarde hiervoor is om altyd in Hom te bly (Eng.: the abiding life). Hy het gesê: “Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie. Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie” (Joh. 15:4-5).
Die beeld van die boom wat sy vrugte gee op sy tyd, vestig die aandag op die feit dat die Here vrugte in ons lewens verwag. Dit dui egter nie op menslike werke wat ons uit eie krag vír Hom doen nie, maar op die vrug van die Heilige Gees – m.a.w. werke wat Hy déúr ons doen. Voordat dit sal gebeur, moet ons hele persoonlikheid en karakter eers deur die Heilige Gees verander word, sodat ons die regte ingesteldheid sal hê om die Here te kan behaag. Wanneer ons motiewe suiwer is, sal die Here deur ons werk en ʼn groot doel met ons lewe bereik. Die gesindhede en lewensbeginsels wat die Here in ons harte wil vestig, word beskryf as die vrugte van die Heilige Gees: “[D]ie vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing” (Gal. 5:22).
Hierdie beginsels bepaal die diepste begeertes van ʼn persoon se hart, dit skep die waardes wat hy nastreef, en beïnvloed sy hele lewenswandel asook die aard van sy optrede na buite. Die nege vrugte van die Gees is duidelik verdeelbaar in drie groepe, wat ʼn uitbeelding is van die gelowige se ingesteldhede en verhoudings op drie vlakke. Die eerste drie beskryf die gesindhede wat jou verhouding met God kenmerk, die volgende drie bepaal die aard van jou verhouding met jou medemens, en die laaste drie is ʼn beskrywing van jou persoonlike karaktertrekke.
Die eerste drie vrugte is liefde, blydskap en vrede. God is liefde. Tydens en ná jou wedergeboorte word sy liefde deur die Heilige Gees in jou hart uitgestort (Rom. 5:5). Jy word daarin gewortel en gegrond en dit word deel van jou hele lewe. Jy het die Here innig lief omdat Hy jou siel gered en jou as sy kind aangeneem het. Jy is nie meer in rebellie teen Hom weens jou sonde nie, daarom minag, belaster en vermy jy Hom nie meer nie. Inteendeel – jy soek sy teenwoordigheid op, besing sy lof, eer Hom en roep sy Naam aan. Daar is ʼn groot blydskap in jou hart oor wat die Here Jesus reeds vir jou gedoen het toe Hy jou naam in die boek van die lewe geskryf het, en wat Hy in die eeue hierna nog vir jou gáán doen. Onder alle omstandighede, selfs in tye van droefheid en beproewing, verbly jy jou in die Here en strek jou uit na ʼn wonderlike nuwe toekoms. In jou hart is daar ʼn vrede wat alle verstand te bowe gaan, want die Here Jesus is jou vrede. Hy het gesê: “[M]y vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie” (Joh. 14:27). Sy vrede is ʼn diep, innerlike wete dat jou sonde vergewe is omdat jy met God versoen is. Jy hoef niks te vrees nie omdat jy nie in die oordeel van sondaars gaan kom nie. Jy weet ook dat geen vyandige magte, benoudheid, vervolging of enige probleme en aanslae jou ooit sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus is nie (Rom. 8:35-39).
Hierdie eerste drie vrugte, naamlik liefde, blydskap en vrede teenoor God, moet ook in aksie gestel word in jou verhouding met ander mense. Dit is presies wat gebeur wanneer God se agape-liefde wat uitreik na ʼn wêreld in sy nood, jou hart en gedagtes vervul met die kenmerkende vrugte van die tweede groep, naamlik lankmoedigheid, vriendelikheid en goedheid. Jy is nie meer haatdraend en veroordelend nie, maar lankmoedig teenoor mense. Jy kry hulle jammer en bid vir hulle redding, selfs jare lank, sonder om moedeloos te word en hulle af te skryf. Jy is ʼn vriendelike en gasvrye mens wat nie net vir jouself lewe nie, maar tyd het vir ander en ook na hulle uitreik. Jy doen goed aan hulle deur die evangelie met hulle te deel, en ook te doen wat jy kan om in hulle tydelike nood te voorsien. Paulus sê: “Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof” (Gal. 6:10).
Die derde groep vrugte, naamlik getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing, is persoonlike karaktertrekke wat jy met die Heilige Gees se hulp en deur selfdissipline ontwikkel. Jy is getrou in al jou verantwoordelikhede, bowe-al in jou stiltetye, en nie ʼn agtelosige en gedisorganiseerde mens wat jou pligte versuim nie. Jy is ook sagmoedig, wat beteken dat jy ʼn sagte gemoed het. Jy is nie hard en ongenaakbaar nie, maar ʼn meelewende mens wat vol deernis is vir ander in hulle nood en probleme. Sagmoedigheid beteken ook dat jy nie ʼn onbuigsame en hardvogtige hart het wat hom teen die Here se Woord verhard nie. Jy het ʼn leerbare gees en laat jou deur die Woord van die Here én deur ander mense vermaan. Laastens beskik jy deur die Here se genade ook oor selfbeheersing. Dit beteken dat jy nie impulsiewe dinge doen of sê waaroor jy later verskoning hoef te vra nie. Jy sê nie in ʼn oomblik van drif lelike dinge wat uit ʼn ongekruisigde vlees kom nie, want dit is beslis nie die vrug van die Gees nie. Hoe ken mense jou in die alledaagse lewe? Salomo sê: “Die lankmoedige is beter as ʼn held; en hy wat sy gees beheers, as een wat ʼn stad inneem. … Wie sy woorde inhou, besit kennis; en hy wat kalm is van gees, is ʼn man van verstand” (Spr. 16:32; 17:27). In die Nuwe Testament word hierdie kosbare gesindheid, saam met die ander wat genoem is, as die vrugte van die Heilige Gees beskryf. Jy het die Here se genade nodig om die vrugte van die Gees in jou lewe te kan vertoon, omdat dit nie in eie krag verkry word nie, maar deel is van die natuur van Christus waarmee ons beklee moet word. “Beklee julle met die Here Jesus Christus” (Rom. 13:14; vgl. Gal. 3:27).
Is dit ʼn beskrywing van jou lewe as Christen? Indien nie, bely die feit dat jy die Heilige Gees so dikwels deur jou gedagtes, begeertes, gesindhede, woorde en dade bedroef. Maak die saak met die Here reg en onderwerp jou volkome aan die gesag van die inwonende Gees van God. Hy sal jou in die weë van geregtigheid lei. Wanneer hierdie verhouding reg is, dan is jy soos die boom wat sy wortels uitskiet na die stroom. Jy bly in Christus, en sy Heilige Gees vervul en beheer jou lewe. Wanneer hierdie verhouding versteur word, sal die Heilige Gees jou oortuig van enige verkeerde gesindheid, voorneme of optrede in jou lewe. Stel die saak dadelik reg deur gebed en belydenis, sodat jy onafgebroke vrugte kan dra wat by die bekering pas.
Om deur die Heilige Gees vervul te word en versadig te word by die fontein van lewende water, is nie slegs ʼn eenmalige ondervinding in ʼn Christen se lewe nie, want dit moet dikwels tydens krisistye hernuwe word. Die dissipels wat in Handelinge 2 deur die Heilige Gees vervul is met krag uit die hoogte, is in Handelinge 4:29-31 en Handelinge 13:50-52 opnuut met die Heilige Gees vervul. Telkens wanneer daar ʼn groot krisis en hewige vyandigheid was, het hulle ernstig tot die Here geroep en Hy het opnuut hulle geloof versterk en aan hulle vrymoedigheid gegee om met hulle taak van evangelisasie voort te gaan.
Soms is daar sonde en vleeslikheid in ʼn mens se lewe wat jou verhouding met die Here versteur. Dit veroorsaak ʼn blokkasie sodat die stroom van lewende water nie meer vryelik deur jou na ander kan vloei nie. Verootmoediging en selfondersoek is nodig om die probleem te identifiseer en uit te skakel. Bid saam met Dawid: “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ʼn weg is van smart, en lei my op die ewige weg!” (Ps. 139:23-24). ʼn Weg van smarte is ʼn weg van sonde. Volgens die Engelse weergawe sê die Psalmis: “And see if there is any wicked way in me.” Die teruggevallene moet van hierdie verkeerde afdraaipad af teruggelei word na die Here se pad van geregtigheid, dan sal daar opnuut godsvrug in sy lewe wees. Sy gebroke verhouding met die Here moet herstel word.
Israel het ná hulle uittog uit Egipte by Ráfidim in die woestyn aangekom, waar die dors hulle oorval het. Moses het die rots geslaan, dit het oopgebreek en ʼn stroom water het daaruit gevloei sodat die hele volk daarvan kon drink. Die gekliefde rots was ʼn simboliese heenwysing na Christus wat geslaan en gekruisig is sodat die stroom van God se genade deur Hom na ons kon vloei. Paulus sê Israel “het gedrink uit ʼn geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus” (1 Kor. 10:4). Soos wat Israel by die gekliefde rots neergebuig het om te drink, kan ons dit ook doen: “Ewige Rots geklief vir my, laat my veilig by U bly ... .”
Selfverootmoediging gaan met toegewyde gebed gepaard. Ons het nie omdat ons nie bid nie (Jak. 4:2). As ons in die gebed neerbuig by die gekliefde Rots, sal ons tye van verkwikking voor die Here se aangesig hê. Die Here sal Homself aan ons openbaar, ons van alle ongeregtigheid reinig en aan ons krag tot oorwinning skenk. Dawid het in ʼn gebed aan die Here gesê: “U sal my die pad van die lewe bekend maak; versadiging van vreugde is voor u aangesig, lieflikhede in u regterhand, vir ewig” (Ps. 16:11).
Om in Christus te bly, voortdurend te drink uit die stroom van sy genade en daagliks in die lig van sy aangesig te wandel, vereis dat ons Hom goed sal ken. Ons moet presies weet wie en wat Hy is, want ʼn vae en onvolledige kennis van Hom kan nie die grondslag vir ʼn hegte verhouding wees nie. Dit is belangrik dat elkeen van ons in hierdie tyd van groot afvalligheid die Here Jesus opnuut in sy uniekheid, Godheid en heerlikheid sal ken en voor die wêreld sal bely. As gevolg van baie mense se gebrekkige kennis bely hulle in werklikheid ʼn “ander Jesus” wat vreemd is aan die Skrifte. Volgens Paulus is onkunde en skewe sienings die gevolg van demoniese misleiding: “Want ek is jaloers oor julle met ʼn goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind, om julle as ʼn reine maagd aan Christus voor te stel. Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. Want as iemand kom en ʼn ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ʼn ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ʼn ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval” (2 Kor. 11:2-4). Sulke mense dink hulle word uit die fontein van lewende water gevoed, maar dit wat hulle sê en doen is veel eerder afkomstig van die gees van dwaling.
Dit is in die kerk van Christus gebruiklik om by sekere geleenthede ʼn Christelike geloofsbelydenis af te lees. Belydenisse van hierdie aard is egter meesal so kort, gebrekkig en onvolledig dat dit nie reg laat geskied aan die Persoon en basiese attribute van die wonderlike Verlosser wat ons dien nie. As gevolg hiervan het baie mense glad nie ʼn goeie begrip van die Here Jesus nie. Die volgende is ʼn meer volledige evangeliese belydenis:
· Jesus het uit die hemel neergedaal om mens te word. Ek glo dat Jesus Christus as mens deur die Heilige Gees in die maagd Maria verwek is (Matt. 1:20) en dat Hy daarom die Seun van God én die Seun van die mens is. Die engel Gabriël het vir Maria gesê dat die Kind wat gebore sou word, groot sou wees en die Seun van die Allerhoogste genoem sou word (Luk. 1:32). Met sy geboorte uit die geslag van Dawid en tydens sy lewenswandel op aarde het Hy net tydelik sy hemelse heerlikheid afgelê, maar nie van sy wesenlike Godheid afstand gedoen nie (Kol. 2:9). Met sy hemelvaart is Hy uitermate verhoog en het ’n Naam gekry wat bo elke naam is (Fil. 2:9-11). Tydens sy wederkoms sal Hy in mag en majesteit as Koning van die konings en Here van die here geopenbaar en erken word (Op. 19:16).
· Hy is God. Ek glo dat Jesus Here en God is. Elke tong sal bely dat Hy die Here is (Fil. 2:11). Johannes sê: “Hy is die waaragtige God en die ewige lewe” (1 Joh. 5:20). Paulus sê Hy “is die grote God en ons Verlosser” (Tit. 2:13), en Thomas het in verwondering uitgeroep: “My Here en my God!” (Joh. 20:28). Hy is waarlik Immánuel – God met ons.
· Sy ewige selfbestaan. Ek glo dat die Here Jesus ’n ewige selfbestaan het as God. Eers toe Hy as mens gebore is, het Hy Homself ontledig en die gestalte van ’n dienskneg aangeneem (Fil. 2:7-8). As God bestaan Hy van alle ewigheid af, daarom kon Hy sê: “[V]oordat Abraham was, is Ek” (Joh. 8:58). Hy is die ewige EK IS (Ex. 3:14), wat ook vir die Jode gesê het: “[A]s julle nie glo dat dit Ek is nie, sal julle in jul sondes sterwe” (Joh. 8:24).
· Die Drie-eenheid. Ek glo dat Jesus Christus een met die Vader en die Heilige Gees is. Hy het self gesê: “Ek en die Vader is een” (Joh. 10:30). Johannes het gesê: “... daar is drie wat getuig in die hemel: Die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een” (1 Joh. 5:7). Ek glo dat Jesus die Woord is wat beide God én mens is. “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. ... En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon” (Joh. 1:1, 14).
· Mede-skepper. Ek glo dat die Here Jesus, die Woord, die Skepper is wat saam met die Vader en die Heilige Gees die wêreld en die heelal geskape het (Heb. 1:2). “Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie” (Joh. 1:3). Paulus sê: “Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping; want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is” (Kol. 1:15-16).
· Die Herskepper van alle dinge. Ek glo dat die Here Jesus ook die Herskepper is omdat Hy verlore sondaars wat Hom as Verlosser aanneem, geestelik lewend maak deur hulle te wederbaar. Ons is lewend vir God deur Christus Jesus, onse Here (Rom. 6:11). By sy koms vir die gemeente sal Hy ook aan alle gelowiges onverganklike opstandingsliggame gee (1 Kor. 15:22; Fil. 3:20-21). Ná die eindoordeel sal Hy ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde skep, daarom sê Hy: “Kyk, Ek maak alles nuut” (Op. 21:5).
· Sy soendood en Middelaarskap. Ek glo dat Jesus Christus se offer aan die kruis ’n losprys vir die sondes van die hele mensdom was, m.a.w. alle stamme, tale, volke en nasies op aarde, en dat dit die enigste moontlikheid tot versoening met God bied (Joh. 1:29; Ef. 1:7). Slegs diegene wat die genadeaanbod van verlossing in die geloof aanvaar, word deelgenote van die nuwe lewe in Christus. Die saligheid is in niemand anders nie, want daar is geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie (Hand. 4:12). Ek glo ook dat Jesus Christus ná sy kruisdood uit die dood opgestaan en na die hemel opgevaar het om vir ons in te tree en vir ons plek in sy Vaderhuis te gaan berei (Joh. 14:2-3; Heb. 7:25).
· Sy wederkoms. Ek glo dat die Here Jesus weer kom om ons te kom haal en die ewige heerlikheid van sy koninkryk deelagtig te maak. Dan sal ons by die bruilofsmaal van die Lam saam met Hom Nagmaal hou om opnuut sy kruisdood in herinnering te roep en lof en eer aan Hom te bring omdat Hy ons siele uit genade gered het. As ons vandag saam met Christus die kruisweg bewandel deur onsself te verloën, ons kruis op te neem en Hom in ’n vyandige wêreld te volg, sal ons eendag in sy ryk saam met Hom regeer (Rom. 8:17; 2 Tim. 2:12). Dan sal die stryd verby wees en sal Christus se getroue getuies in sy triomfantelike openbaring deel.
Kan u sien hoe kosbaar en Goddelik is die fontein van lewende water wat vryelik tot ons beskikking gestel word? In die heel laaste hoofstuk van die Bybel word die vriendelike uitnodiging aan alle geestelik sterwende mense herhaal om uit hierdie fontein te kom drink: “[L]aat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet” (Op. 22:17).
Ons moet nooit hierdie fontein verlaat nie, want die Here sê ons moet soos bome wees wat by ʼn waterstroom geplant is. Daar, in die skadu van die kruis digby die gekliefde Rots, moet ons hele lewe gelei word. Om van ons Verlosser af weg te dwaal en nie in Hom te bly nie, is soos om op duistere dwaalweë te wandel waar jy gou deur ʼn geestelike dors oorval sal word. Om egter naby aan Hom en in Hom te bly, is lewe en oorvloed van lewe. Die stroom van lewende water moet in ons eie harte opborrel sodat ons met die genade van Christus en die boodskap van verlossing na ʼn sterwende wêreld kan uitreik.