Politieke Stelsels in ʼn Verdorwe Węreld

Johan Malan, Mosselbaai (Maart 2016)

Die bewering word dikwels gemaak dat die Here regerings aanstel en ontbind. Politieke stelsels en besluite tydens verkiesings spruit egter voort uit menslike keuses, in terme van hulle tradisies, voorkeure en vrye wil. Aangesien die meeste mense op aarde geestelik gesproke as misleides op die breë pad is, is hulle in ʼn gunstige posisie om in ʼn demokratiese verkiesing die duiwel se agenda te laat geld. Daar is verskeie politieke ideologieë wat gedeeltelik of geheel en al in botsing is met Christelike beginsels, bv. die volgende:

·         Humanisme, waarin valse beloftes gemaak word oor ʼn goeie lewe vir almal, asook onbeperkte menslike vryhede op elke lewensterrein.

·         Oorheersing deur ʼn menslik bedinkte en kultuurgebonde godsdiensstelsel, bv. Islam, ʼn liberale en humanistiese vorm van Christelike bevrydingsteologie, of selfs ook ʼn intergeloofsbenadering wat eklekties en toeganklik vir almal is.

·         Die aanvaarding van ʼn antichristelike ideologie soos Marxisme, waarvan die voormalige Sowjetunie ʼn voorbeeld is, asook die huidige Sjina en Noord-Korea. Soms word alliansies tussen verskillende partye gevorm, waarin Marxisme ook erkenning geniet, soos bv. Suid-Afrika se ANC/SAKP/COSATU-alliansie. Daar is ook ander vorms van die diktatorskap van die proletariaat, dikwels met sterk Marxistiese of radikaal Islamitiese verbintenisse.

·         Monopolistiese kapitalisme is ʼn politieke stelsel waarin die regering óf inherent uit lede van die geldmag in ʼn land bestaan, óf pionne is van die geldmag waardeur hulle gemanipuleer word. Weens die monopolie wat die super-rykes in die ekonomie verkry het, word die beginsels van die vryemarkstelsel ondermyn, die werkersklas uitgebuit, en die lewe so gemaklik moontlik vir die rykes gemaak, met o.a. minimum belastingverpligtinge. In só ʼn stelsel word die geldgod (Mammon) openlik gedien en die evangeliese Christendom weerstaan.

Die klein minderheid ware Christene op die smal weg kan net eenvoudig nie ʼn demokratiese verkiesing wen teen al die valse beloftes wat deur ander partye gemaak word nie. Weens hulle streng godsdienstige en morele beginsels sal hulle nooit baie populęr wees nie; daarom sal hulle noodwendig altyd vreemdelinge en bywoners wees in ʼn węreld wat in die mag van die Bose lę. Die Here maak steeds bemoeienis met menslike sake in antwoord op die gebede van Christene wat swaarkry, maar dit verander nie die algemene patroon van heidense regering wat steeds in ʼn noue assosiasie met die koninkryk van die duisternis funksioneer nie.

In die Ou Testament, toe Israel se koninkryk in assosiasie met God se koninkryk ingestel is, was dit algemene gebruik dat God besluite met betrekking tot die aanstelling van hulle konings gemaak het. Hy het ook by tye oor die aanstelling of omverwerping van heidense konings beslis – veral wanneer hulle met Israel in konflik was. Hierdie situasie het egter geheel en al in Nuwe-Testamentiese tye verander. Israel het nie meer ʼn teokratiese regering waarin God se oppergesag erken word nie, want as gevolg van hulle ongeloof en die verwerping van hulle Messias/Koning is hulle tydelik verwerp as God se uitverkore volk, uit hulle land verstrooi, en Jerusalem vir byna twee millennia deur die nie-Joodse nasies vertrap (Luk. 21:24).

In die huidige bedeling is die ware kerk onder alle nasies God se getuies op aarde, en hulle verteenwoordig sy verborge koninkryk in die midde van ʼn bose węreld. Ons moeilike situasie in ʼn geestelik donker węreld word duidelik in die Nuwe Testament uitgespel: “Die węreld sal julle haat” (lees Joh. 15:18-20); “In die węreld sal julle verdrukking hę” (Joh. 16:33). Geredde en ongeredde mense is soos koring en onkruid wat saam in dieselfde land groei (Matt. 13:24-30; 36-43). Eers ná die eindtydse oordeel oor bose mense (v. 42), sal die regverdiges “skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader” (v. 43) – dit sal in Christus se vrederyk wees.

Satan se koninkryk funksioneer tans ook uit ʼn verborge geestelike sfeer, maar weens die groot populęre ondersteuning daarvan het hierdie ryk daarin geslaag om sy gesag te laat geld oor menselewens op baie terreine – van regerings af regdeur tot by die korrupte lewenstyle van individue. Dit is die rede waarom Satan en sy koninkryk dikwels in politieke terme beskryf word as die heersers van hierdie węreld (Ef. 6:10-13). Christene is betrokke by ʼn geestelike oorlog teen hom en sy groot aantal menslike medewerkers. Hierdie misleide mense kies hulle eie leiers – God stel hulle nie aan nie. Die Here het die instelling van ʼn regering bepaal sodat ordelike samelewing verseker kan word (Rom. 13:3-4), maar wanneer mense hulle vrye wil en bose neigings inspan om hierdie instelling te misbruik en op ʼn verwronge manier te laat funksioneer, dan doen hulle dit onder die leiding van die duiwel. God het nie hierdie leiers aangestel of hulle dade gepredestineer nie. Laasgenoemde is ʼn Calvinistiese leerstelling wat teen dié tyd al lankal as vals en in stryd met werklike gebeure geopenbaar is.

Indien mense dink dit is moeilik om ʼn stryd te voer “teen die owerhede, teen die magte, teen die węreldheersers van die duisternis van hierdie eeu” (Ef. 6:12), dan moet hulle weet dat die verdorwe węreld op nog veel moeiliker tye afstuur wanneer die verborge koninkryk van Satan geopenbaar sal word onder die leierskap van sy koning, die Antichris: “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die węreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie” (Matt. 24:21). Dit sal ook ʼn tyd van Goddelike oordele oor die węreld wees. God sę: “En Ek sal aan die węreld sy boosheid besoek, en aan die goddelose hulle ongeregtigheid; en Ek sal die trots van die vermeteles laat ophou en die hoogmoed van tiranne verneder” (Jes. 13:11).

Ware Christene is egter nie bestem vir die geopenbaarde koninkryk van Satan onder die heerskappy van die Antichris nie, en hulle is ook nie bestem vir God se oordele oor die goddeloses nie (vgl. Joh. 5:24; Rom. 8:1). Ons moet waak en bid om waardig te wees om die komende tyd van verdrukking in sy geheel te ontvlug en in die hemel voor die Seun van die mens te verskyn (Luk. 21:36; 1 Thess. 1:10). Daar is nie die geringste twyfel dat die wegraping voor die verdrukking sal plaasvind nie. Die verdrukking (die 70ste jaarweek van Daniël) is die tyd van Jakob (Israel) se benoudheid – nie die tyd van die kerk se benoudheid nie. Die lede van alle nasies wat – soos die ongelowige Jode – vir Jesus as Messias verwerp het, sal ook almal deur die komende verdrukking gaan.

Die goeie nuus is dat ten spyte van die erns van die verdrukking (wat noodwendig wag op almal wat hulle harte teen God verhard het), sal dié tyd net vir sewe jaar lank duur en dramaties beëindig word deur die wederkoms van Jesus Christus op die Olyfberg (Sag. 14 & Op. 19). Die Here Jesus sal as die magtige Koning van die konings kom om sy vyande te verdelg en sy koninkryk van geregtigheid op aarde te vestig. Hy sal die troon van Dawid in Jerusalem herstel en Self daarvandaan regeer. Die hele oorblyfsel van Israel sal gered word wanneer Hy terugkeer (Matt. 23:39; Rom. 11:25-27).

Wat die huidige situasie betref, sal lewensomstandighede nog slegter raak terwyl die węreld op die verdrukking afstuur. Ná die wegraping sal dit met die ongelowiges ellendig gaan wanneer hulle hulself skielik in die verdrukking onder die diktatorskap van Satan se magtige en genadelose koning bevind. Die duiwel sal aan dié koning “sy krag en sy troon en groot mag” gee (Op. 13:2). “En aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie” (Op. 13:7). Wat die Christene betref, neem die druk op hulle ook toe terwyl groter duisternis oor die aarde toesak, maar hulle oomblik van uitredding sal skielik aanbreek wanneer die hemelse Bruidegom hulle sal wegneem om by Hom te wees (Joh. 14:2-3; 1 Thess. 4:16-17).

Die aanhangers van die koninkryk-nou teologie probeer tevergeefs om Christelike regerings op aarde te vestig voor die koms van die Koning van die konings. Hulle gebruik selfs onbybelse vorms van strategiese geestelike oorlogvoering om die węreld van Sataniese vestings en alle oorblyfsels van sonde te bevry. In die proses probeer hulle om Bybelse eskatologie wat dui op verslegtende toestande terwyl die węreld op die groot verdrukking afstuur, te hersien en oor te skryf. Hulle drome lę egter aan skerwe, want werklike toestande in die węreld beweeg vinnig in die teenoorgestelde rigting. Ons moet nou met toegespitste ywer ingestel wees op die redding van individue sodat Sataniese vestings in hulle lewens verbreek kan word. Christene moet aangemoedig word om sterk te staan in ʼn vervallende węreld. In die polarisasieproses wat tans op morele en geestelike gebied aan die gang is (Op. 22:11), moet Christene toesien dat hulle heiligheid, geregtigheid en geloof onwankelbaar is en nie deur kompromie, moedeloosheid, twyfel of vrees ondermyn word nie.

Geloofstoetse

Christene se geloof word getoets deurdat hulle in ʼn geestelik vyandige węreld die krag van hulle oortuigings moet toon. As mense met veranderde harte moet hulle skyn soos ligte te midde van ʼn krom en verdraaide geslag (Fil. 2:15). Hulle is in die węreld, maar nie van die węreld nie (Joh. 17:11, 14, 16). Hulle moet hulle dus nie totaal van die sondige węreld met sy politieke en sosiale prosesse, sy ekonomiese en opvoedkundige instellings onttrek nie, maar hulle betrokkenheid daarby moet altyd met ʼn hoë mate van persoonlike integriteit, deursigtigheid en eerbaarheid gepaard gaan. Daar moet aan die węreld getoon word dat daar ʼn Christelike manier van optrede is waarin daar geen plek is vir korrupsie, omkopery, dubbele standaarde, leuens, luiheid, halfhartigheid, onbetroubaarheid en disrespek teenoor ander mense en hulle belange nie. ʼn Christen kán en móét ʼn bate vir die samelewing wees, al stem mense nie met sy/haar geloofsoortuigings en morele beginsels saam nie. Daniël het nie in Babilon uit sy pos in ʼn korrupte regering bedank nie, maar hy het streng by sy geloofsoortuigings gebly.

Terwyl ons in die dae van ons vreemdelingskap in ʼn gevalle węreld ons roeping as getuies van Christus vervul, moet węreldgelykvormigheid en die kondonering van sondige praktyke deurgaans vermy word. Ons moet steeds ʼn sterk verwagting na Christus se wederkoms hę, want eers met die openbaring van sy koninkryk sal daar waarlik ʼn samelewingsorde en regeringstelsel van geregtigheid op aarde wees. Ons behoort nou reeds aan daardie koninkryk, daarom verkondig ons die koms van die Koning: “Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus” (Fil. 3:20).