Prof. Johan Malan, Mosselbaai (Oktober 2012)
In die huidige bedeling speel ons lewens af tussen die eerste en tweede koms van die Here Jesus. As gelowiges lei ons ’n lewe wat voortvloeiend is uit sy eerste koms toe Hy ’n nuwe lewe aan ons kom skenk het, en ná ons wedergeboorte strek ons onsself uit na sy wederkoms wanneer ons met verheerlikte liggame beklee sal word. Indien ons vertrekpunt reg is, sal ons ’n duidelike begrip van ons eindbestemming hê. Ons moet dus die vaste versekering hê dat Jesus Christus die onwankelbare Rots is waarop ons nuwe lewe gebou is, want dan alleen sal ons insig verkry in die nuwe hoedanighede waarin Hy tydens sy wederkoms geopenbaar sal word.
Dit is die raamwerk waarbinne ons ons nuwe lewe lei – voortvloeiend uit sy eerste koms, en besig om voor te berei op sy tweede koms. Elke keer wanneer ons Nagmaal gebruik herbevestig ons hierdie belangrike perspektief tussen die Here Jesus se twee komste. Paulus sê: “Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom” (1 Kor. 11:26). Die eerste keer het Hy gekom om te sterf vir ons sonde, maar die tweede keer kom Hy om in sy heiliges verheerlik te word en saam met hulle te regeer (2 Thess. 1:10; Op. 5:9-10).
’n Vaste versekering van ons geloof in Christus as Verlosser, asook die vervulling met sy Heilige Gees, is die enigste manier waarop ons voorbereid kan wees vir die oomblik wanneer ons as sy bruid met Hom verenig sal word en ook in sy koninkryk saam met Hom sal regeer. Die Heilige Gees stel ons in staat om getroue dissipels van Jesus te wees, en ook sonder vlek of rimpel voor Hom te verskyn wanneer Hy weer kom. Met die oog hierop verwag die Here Jesus van al sy dissipels om met die Heilige Gees vervul te wees (Joh. 14:16; 16:13-14; Hand. 1:8).
Afgesien van die groot verskille tussen Christus se eerste en tweede koms, is daar ook belangrike ooreenkomste waarop ons moet let. Dit is veral vir die ongeredde wêreld nodig om ag te slaan op die ernstige gevolge van die verwerping van Christus. Uit ’n vergelykende studie van sy eerste en tweede koms blyk die volgende ooreenkomste:
Tydens Jesus se eerste koms het sowel die godsdienstige as politieke leiers in Israel kennis gedra van profesieë oor die koms van die Messias, maar hulle het sy verskyning verwerp omdat dit ’n bedreiging vir hulle belange ingehou het. Herodes het by besoekers uit die buiteland inligting gekry oor ’n koning wat in Israel gebore sou word:
“En toe Jesus te Betlehem in Judéa gebore is, in die dae van koning Herodes, het daar wyse manne uit die Ooste in Jerusalem aangekom en gesê: Waar is die Koning van die Jode, wat gebore is? Want ons het sy ster in die Ooste gesien en gekom om Hom hulde te bewys. En toe koning Herodes dit hoor, was hy ontsteld en die hele Jerusalem saam met hom; en hy het al die owerpriesters en die skrifgeleerdes van die volk bymekaar laat kom en by hulle navraag gedoen waar die Christus gebore sou word. En hulle het vir hom gesê: Te Betlehem in Judéa, want so is daar deur die profeet geskrywe: En jy, Betlehem, land van Juda, is volstrek nie die geringste onder die vorste van Juda nie, want uit jou sal ’n leidsman voortkom wat vir my volk Israel ’n herder sal wees” (Matt. 2:1-6).
Herodes het dit as ’n bedreiging vir sy eie koningskap gesien, daarom het hy kort daarna ’n kindermoord in Betlehem en omstreke gelas in ’n poging om Jesus dood te maak (Matt. 2:16). Die Joodse godsdiensleiers het nie verdere ondersoek ingestel na die waarheid van Jesus se geboorte as Messias nie, want sy koms sou die einde van hulle mag beteken, asook die wetgebaseerde vormgodsdiens waarmee hulle gemoeid was.
Hierdie situasie gaan homself herhaal in die periode kort voor die wederkoms van die Here Jesus. Soos die wyse manne van ouds, is daar in die eindtyd ook wyse manne uit die nie-Joodse wêreld wat ag slaan op die tekens van Christus se spoedige koms, en gereed maak om Hom te ontmoet. Hulle erken Hom as Koning, aanvaar sy gesag, buig voor Hom neer in gebed en bring hulde aan Hom. Deur hulle optrede wys hulle dat hulle deel is van sy koninkryk.
Aan die ander kant is daar die politieke leiers wat, soos Herodes, bedreig voel deur die moontlikheid van Christus se koms en met alle geweld probeer om van Hom ontslae te raak. Hulle weet dat Hy as Koning kom en ’n Christelike nuwe wêreldorde sal instel wat ’n skielike einde sal bring aan hulle sondige leefwyse en humanistiese wêreldorde. As gevolg van hierdie onaanvaarbare intervensie het hulle vir Christus as die hoogste gesagspersoon uit hulle grondwette verban, Hom en sy Woord uit hulle skoolleerplanne verwyder, en die beginsels van Christelike moraliteit verwerp. In plaas daarvan is hulle doelbewus besig om Christelike samelewings te transformeer in sekulêre of multigodsdienstige samelewings.
Dan is daar die ortodokse Joodse leiers wat, soos hulle eweknieë in die eerste eeu, steeds vir Jesus as Messias verwerp. Hulle het wel ’n Messiasverwagting, maar erken nie Jesus se aanspraak om Messias te wees nie. Hulle wag vir ’n Messias wat as ’n politieke en militêre leier sal optree om Israel teen sy baie vyande te laat triomfeer, en wat die tempel in Jerusalem sal laat herbou om die bedeling van die wet te laat herleef en verder voort te sit. Soos wat die Joodse godsdiensleiers die dissipels van Jesus in die eerste eeu vervolg het, word Messiaanse Jode ook nou sleggemaak en deur die meerderheid verwerp.
Tydens Jesus se eerste koms het Hy ’n klein groepie dissipels geroep en rondom Hom versamel. Hulle is uit die samelewing weggeneem en afgesonder om spesiaal deur die Messias vir sy doel opgelei te word. Hulle het die gevestigde strukture van Judaïsme verlaat (of is daaruit verdryf) om die Messias se smaad en verwerping met Hom te deel (Heb. 13:13).
Die dissipels wou weet wat van hulle sou word, want hulle het alles ter wille van Jesus prysgegee. Petrus het Hom gevra: “Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. Wat sal daar dan vir ons wees? En Jesus sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle dat julle wat My gevolg het, in die wedergeboorte wanneer die Seun van die mens op sy heerlike troon gaan sit, julle ook op twaalf trone sal sit en die twaalf stamme van Israel sal oordeel” (Matt. 19:27-28).
Dit was ’n besonder moeilike taak wat aan die dissipels opgedra is om die verwerpte Messias te dien, want dit sou hulle onder hulle eie volk én in die heidenwêreld in onguns bring. Hulle moes aan selfregverdigende mense hulle ongeloof, sonde en verlore toestand openbaar en Jesus as die enigste Verlosser verkondig. Die dissipels se bereidwilligheid om by die waarheid te bly, hoe onaanvaarbaar dit ook al onder die meerderheid agnostici was, sou daartoe lei dat hulle name vir ewig as geloofshelde in die annale van die Christendom opgeteken word. Die pad na heerlikheid gaan deur lyding en opoffering.
Paulus, Petrus en die ander apostels was geloofshelde wat eendag saam met Christus oor sy verloste volk sal regeer. Paulus het in Rome ’n marteldood deur onthoofding gesterf weens sy geloof, maar hy het voor die tyd vir die gemeente in hierdie heidense stad geskryf dat ons “erfgename van God en mede-erfgename van Christus is, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met hom verheerlik kan word” (Rom. 8:17). Aan Timótheüs het hy die versekering gegee dat indien ons bereid is om saam met Christus verdrukking te verdra, ons eendag saam met Hom sal regeer (2 Tim. 2:12).
Tydens die wederkoms van Christus gaan daar weer ’n groep Joodse evangeliste geroep en afgesonder word om Israel én die res van die wêreld te evangeliseer. Hierdie keer sal daar 144 000 getuies vir die Messias se diens afgesonder word – 12 000 uit elkeen van die twaalf stamme van Israel (Op. 7:4-8). Hulle sal die taak hê om te midde van nog groter vyandigheid, gedurende die eerste helfte van die Antichris se bewind, te verkondig dat Jesus Christus die ware Messias en enigste Verlosser van die wêreld is.
Die getuienis van hierdie groep dissipels sal daardie lei dat daar ’n uiterste vorm van vyandigheid en polarisasie sal ontstaan tussen die volgelinge van die ware Messias en dié van die valse messias. Die dissipels van Christus, saam met hulle bekeerlinge, sal hewig vervolg word. Dit sal hulle egter nie van stryk bring nie, want geestelik sal hulle teen die Antichris oorwin, ongeag of hulle fisies sal oorleef of nie (Op. 12:11). Hulle sal die groot uitdaging aanvaar om binne die beperkte tyd van die eerste 42 maande van die verdrukking die wêreld te evangeliseer en die spoedige vestiging van die ware Christus se koninkryk op aarde te verkondig. In ’n profesie oor die verdrukking het Jesus gesê: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matt. 24:14).
In hierdie tyd sal miljoene mense in die hele wêreld gered word (Op. 7:9-14). Die groot herlewing (of geestelike ontwaking) waarop so baie mense hoop, sal dus eers in die sewe jaar van verdrukking plaasvind. Die laaste dae van die kerkbedeling word nie deur ’n herlewing gekenmerk nie, maar deur ongekende geestelike misleiding en afvalligheid (1 Tim. 4:1; 2 Tim. 4:3-4).
Die dissipels is beveel om met die Heilige Gees vervul te word, omdat slegs dit hulle in staat sou stel om die Groot Opdrag te aanvaar om die wêreld te evangeliseer (Luk. 24:46-49). Met die stadige vervoermiddels van destyds, die afwesigheid van Christelike kerke, organisasies en massakommunikasiemiddels, asook die totale onbekendheid van die Christelike leer, was dit ’n byna bomenslike taak wat baie jare lank sou duur. Dit was nietemin die begin van die lang bedeling van wêreldevangelisasie.
Die vroeë dissipels moes ’n dispensasionele oorgang bewerkstellig vanaf die tye van Israel as die Uitverkore Volk onder die wet, na die tye van die nasies onder die nuwe genadeverbond. Israel moes gewoond raak aan die idee dat God se openbarings in die nuwe bedeling nie deur Israel, hulle profete en tempeldiens sou geskied nie omdat die bedeling van die wet verby was. Die nasies moes blootgestel word aan die feit dat daar nie meer ’n onderskeid tussen ’n Jood en ’n Griek is nie, en dat die Here voortaan lede van alle volke op ’n gelyke grondslag nooi om tot sy koninkryk toe te tree: “God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer” (Hand. 17:30).
Die Here het deur die Heilige Gees aan die vroeë dissipels die gawe verleen om bevestigende tekens en wonders te doen ten einde die egtheid van die evangelieboodskap te bevestig en ook ongeloof uit die harte van Jode en heidene te kon verdryf: “God [het] ook nog saam getuig deur tekens en wonders en allerhande kragtige dade” (Heb. 2:4). Een van hierdie tekens was die vermoë om in enige van die tale van die heidene die evangelie te kon verkondig en vertaal. Dit het aan die hoorders die bewys gelewer dat God aan die werk was en dat Hy lede van alle nasies tot bekering oproep. Skeptisisme en ongeloof is sodoende teëgewerk (1 Kor. 14:22).
Hierdie tekens is egter nie normatief vir die kerkbedeling nie, want ons het die hele geopenbaarde wil van God in sy Woord (Hand. 20:27), asook ’n wolk van Christelike getuies wat van die waarheid daarvan getuig (Heb. 12:1-2). Gegewe die volle openbaring wat ons van die Here se verlossingsplan het, word dit as buite orde beskou om na buite-Bybelse openbarings te soek en sodoende by die Bybel te probeer aanvul (Op. 22:18).
Wanneer die Antichris en die valse profeet na die wegraping geopenbaar word, sal daar weer ’n dispensasionele oorskakeling plaasvind van die kerkbedeling af na die bedeling van die Antichris se regering. Die ware kerk, wat ’n “pilaar en grondslag van die waarheid” was (1 Tim. 3:15), sal dan weg wees. Die daaropvolgende verwikkelings op geestelike gebied sal onheilspellend wees: “En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei” (Matt. 24:11, 24). Hierdie verkeerde voorbeeld sal deur die Antichris en valse profeet gestel word, wat baie mense deur groot tekens en wonders sal verbyster (2 Thess. 2:9; Op. 13:12-15).
In hierdie besonder veeleisende tyd sal die Here sy dissipels, en veral ook sy twee spesiale getuies wat saam met hulle sal werk (Op. 11:1-7), bemagtig om ook groot tekens en wonders te kan doen. Deur hierdie vertoon van goddelike krag sal verseker word dat nie alle mense slagoffers sal word van die Antichris se misleiding nie. Vir ernstige en ingeligte gelowiges sal dit duidelik wees dat die Antichris deur ’n vreemde god (Satan) bemagtig is om groot tekens te doen (2 Kor. 4:4; Op. 13:2).
Daar sal ook in hierdie tyd ’n nuwe uitstorting van die Heilige Gees wees, en dit sal die finale vervulling van Joël 2 wees: “En daarna sal Ek my Gees uitgiet op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, julle ou mense drome droom, julle jongelinge gesigte sien. En ook op die diensknegte en op die diensmaagde sal Ek in dié dae my Gees uitgiet. En Ek sal wondertekens gee aan die hemel en op die aarde: bloed en vuur en rookpilare. Die son sal verander word in duisternis en die maan in bloed, voordat die groot en deurlugtige dag van die HERE kom. En elkeen wat die Naam van die HERE aanroep, sal gered word; want op die berg Sion en in Jerusalem sal daar ontkoming wees soos die HERE gesê het, en onder die vrygeraaktes die wat die HERE sal roep” (Joël 2:28-32).
Hierdie finale uitstorting van die Heilige Gees kort voor Christus se wederkoms, vind baie duidelik in “die dag van die Here” plaas (die verdrukking van sewe jaar) wanneer daar groot tekens op die aarde en in die lug sal wees (vgl. Op. 6:12). ’n Groot verlossing sal spesifiek op die berg Sion in Jerusalem plaasvind, verwysend na die Joodse volk: “Oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ’n mens rouklaag oor ’n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ’n mens bitterlik ween oor ’n eersgebore kind” (Sag. 12:10).
Die heel eerste gevolg van die eindtydse uitstorting van die Heilige Gees oor Israel gedurende die verdrukking, sal die redding van die 144 000 spesiale getuies van die Messias wees. Daarna sal baie ander Jode deur hulle getuienis gered word, en aan die einde van die verdrukking sal die hele oorblyfsel van Israel gered word.
Tydens Christus se eerste koms, net na die vervulling van sy rol as die Lam van God wat vir die sonde van die wêreld geoffer moes word, is Hy opgeneem in die hemel en op die Vader se troon verheerlik. God het Hom uitermate verhoog en aan Hom ’n naam gegee wat bo elke naam is (Fil. 2:9). Christus het “heengegaan na die hemel en is aan die regterhand van God, terwyl engele en magte en kragte aan Hom onderwerp is” (1 Pet. 3:22). Op die Vader se troon leef Hy altyd om vir ons in te tree (Heb. 7:25).
Tydens Christus se wederkoms sal Hy as Koning verheerlik word op die troon van Dawid, wat nie in die hemel is nie maar op aarde. Hy sal Dawid se vervalle troon oprig en self daarvandaan oor Israel en die hele wêreld regeer (Hand. 15:16-17; Jes. 9:5-6). Dan sal die profesie vervul word wat die engel voor die geboorte van Jesus aan Maria gegee het: “Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee” (Luk. 1:32).
Jesus Christus sal in mag en majesteit van die hemel af neerdaal as Koning van die konings (Op. 19:16) en sy koninkryk hier op aarde openbaar. Sy bruidsgemeente (die lede van sy liggaam) sal saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word (Kol. 3:4) en dan saam met Hom in sy koninkryk regeer (Op. 5:9-10). ’n Tydperk van ongekende vrede sal op aarde aanbreek, oorlogvoering sal ophou en die Here sal deur alle nasies geraadpleeg en geken word (Jes. 2:2-4; Jer. 3:17; Sag. 8:22). Israel sal ’n seën vir die hele wêreld wees en almal sal hulle eer (Sag. 8:23; Jes. 4:3; Rom. 11:12).
Die groot doel waarvoor Jesus Christus na die aarde gekom het, sal na sy wederkoms vervul wees:
· Die verlossing wat die Here Jesus alleen kon bring, is reeds sedert sy eerste koms ’n voldonge feit, en teen die tyd van sy wederkoms sal dit aan alle volke op aarde verkondig wees.
· Sy bruidsgemeente (die uitgeroepenes onder alle nasies) sal voltallig wees, almal van hulle sal verheerlikte liggame hê en sal hulle posisies in die koninkryk van die Messias inneem.
· Die oorblyfsel van Israel sal almal gered wees en hulle sal ’n verhewe posisie in die koninkryk van die Messias geniet.
· Die lank verwagte koninkryk van die hemel waarvoor ons gereeld bid, sal geopenbaar wees en die hele skepping sal daarby baat vind.
· Die Antichris en valse profeet sal in die poel van vuur wees, waar alle booswigte en ongereddes van alle eeue ná die eindoordeel by hulle sal aansluit.
· Die duiwel sal vir ’n duisend jaar lank gebind word voordat hy ook tydens die eindoordeel tot die poel van vuur verdoem sal word.
· Hierna sal die Here Jesus ’n nuwe hemel en aarde skep waarin geregtigheid sal woon. Geen sonde en ongeregtigheid sal ooit daar inkom nie.
Die getuienis van Jesus is die gees van die profesie (Op. 19:10). Almal wat in die regte verhouding met Hom is, tel onder sy weergebore volgelinge wat al sy heerlikheid met Hom sal deel. Almal wat geen verhouding met Hom het nie, tel onder sy vyande oor wie sy oordele rus. Ons word almal voor ’n keuse gestel of ons met Christus versoen wil word vir die vergifnis van sonde, en of ons in ’n wanverhouding met Hom wil leef en dan self die straf vir ons sonde sal moet dra. Hy is reeds as Verlosser geopenbaar en sal weldra ook as Regter geopenbaar word.