Johan Malan, Mosselbaai (Mei 2015)
Baie Christene verwag ʼn herlewing wat gaan uitbreek voor die einde van die kerkbedeling. Die Bybel voorspel egter nie ʼn groot herlewing vir die laaste dae nie, maar ʼn groot verval weg van die Bybel se geestelike en morele standaarde af. Hierdie verval vind reeds plaas en kom in alle sektore van menslike samelewings plaas – veral ook in die meeste kerke wat van Bybelse waarhede af wegbeweeg het om humanistiese hervormings in te stel. In die immorele wêreld waarin ons leef word die mens verheerlik en sy vryhede vooropgestel, waaronder vryheid van geloof (jy kan glo net wat jy wil), vryheid van spraak (jy kan enige opinie of ideologie huldig), vryheid van seksuele oriëntasie (jy kan gay of lesbies wees as jy wil, en selfs sulke huwelike sluit), en die vryheid om jou eie morele lewenswyse te bepaal (niks is meer sonde nie, solank jy nie ander mense se belange en regte aantas nie). Enige negatiewe opmerkings wat jy oor hierdie onbybelse samelewingsorde maak, kan as haatspraak beskou word en jou in die moeilikheid laat beland, daarom word evangeliese Christene al hoe minder verdra. Christelike onderwys word ook nie meer deur regerings aangebied of gefinansier nie.
Baie mense staan verstom oor hoe ver die verval reeds in die wêreld plaasgevind het. Wat gaan van die huidige geslag jongmense word, wat in ʼn totaal goddelose wêreld sonder vaste beginsels groot word? Die Here Jesus het in sy profetiese rede oor die eindtyd verwys na verskeie aspekte van die geestelike verval en misleiding wat in die laaste dae sal plaasvind. Hy sê onder meer: “Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei. ... En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei. En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel” (Matt. 24:4-5, 11-12).
Die kern van ons Christelike geloof gaan deur ʼn menigte valse profete aangeval word met die oog daarop om ʼn valse christus aan die wêreld voor te stel. Die geestelike en morele verval wat hieruit voortvloei, sal so erg wees dat selfs baie Christene in hulle liefde vir God sal verkoel. In Mattheus 24 word Israel se pad déúr die verdrukking uitgestippel, en hulle word duidelik teen ʼn valse messias gewaarsku: “As iemand dán vir julle sê: Kyk, hier is die Christus! of: Daar! – moet dit nie glo nie. Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei [hier spesifiek verwysende na die uitverkore volk, Israel]. Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê. As hulle dan vir julle sê: Kyk, Hy is in die woestyn – moenie uitgaan nie; kyk, Hy is in die binnekamer – moet dit nie glo nie” (Matt. 24:23-26).
Israel word ernstig gewaarsku om nie die komende valse messias aan te hang nie. Hy sal waarskynlik iewers in die woestyne van die Midde-Ooste sy opwagting maak en groot skares lok. Sy verskyning in die binnekamer kan in ʼn moderne konteks na TV’s in mense se huise verwys, want dit is ʼn uitgemaakte saak dat hy ook van hierdie medium gebruik sal maak om homself oral te openbaar. Sy aanspraak om ʼn wêreldmessias vir alle gelowe te wees, sal so oortuigend wees dat selfs die meerderheid Jode dit sal aanvaar. Jesus het hulle hierteen gewaarsku toe Hy gesê het: “Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle neem My nie aan nie. As ʼn ander een in sy eie naam kom, hom sal julle aanneem” (Joh. 5:43).
Moet egter nie dink dat dit net Israel is wat deur die Antichris mislei sal word om ʼn verbond met hom te sluit nie. Daniël 9:27 sê dat hy vir een week lank (dit is ʼn jaarweek van sewe jaar) ʼn sterk verbond met baie nasies sal sluit. In Openbaring 13:3-4 staan daar: “En die hele wêreld het verwonderd agter die dier aan gegaan ... en die dier aanbid en gesê: Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer?” Hy sal dus wêreldwyd aanvaar, nagevolg en aanbid word. Daar sal net ʼn minderheid mense wees wat hom sal verwerp en die ware Messias aanhang. Hulle sal egter toenemend vervolg word.
Dit is belangrik dat ons nougeset sal waak om nie in hierdie tyd deur die verkondiging van ʼn ander Jesus en ʼn ander evangelie mislei te word nie, want dit geskied onder die aansporing van Satan se verleidende geeste (2 Kor. 11:2-4; 1 Tim. 4:1). Enige kerk wat aspekte van die Persoon en Goddelike die attribute van die ware Jesus ontken, is besig om sy lidmate op die aanvaarding en aanbidding van die Antichris voor te berei. Hoeveel kerke is daar nie vandag waarin die maagdelike geboorte, hemelse oorsprong, Godheid, opstanding uit die dood, hemelvaart en wederkoms van Jesus openlik ontken word nie! Daar word ook al hoe minder na die heilsbetekenis van sy kruisdood verwys. In kringe waar hierdie dwalings verkondig word, word daar ook spoedig na ʼn intergeloofsbeskouing oorgeskakel, naamlik dat daar saligheid deur alle gelowe is omdat almal van hulle na bewering dieselfde God aanbid. Dit open finaal die weg vir die aanvaarding van ʼn wêreldmessias vir alle gelowe.
Kan u sien waarom die Bybelse leer oor wedergeboorte en heiligmaking so kwaai onder druk is? Alle duiwelse magte van misleiding word ingespan om geloof in die ware Christus te ondermyn, te verswak en uiteindelik te vernietig. Die duiwel is nie tevrede as Christene se liefde net verkoel nie – dit moet heeltemal vernietig word. Daar word veral twee metodes gebruik om die Christelike geloof aan te val en in diskrediet te bring. Enersyds is daar ʼn groot aantal valse profesieë wat by die Bybel gevoeg word deur valse leraars en valse profete, en andersyds is daar die afwatering, vergeesteliking of ontkenning van Bybelse waarhede. Die laaste waarskuwings wat die Here Jesus in sy Woord aan ons gee, het op hierdie twee ernstige dwalings betrekking:
“Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is. En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is” (Op. 22:18-19).
Valse profete is besig om die Bybel oor te skryf, want hulle maak daarop aanspraak dat die Here ’n groot aantal buite-Bybelse openbarings aan hulle gemaak het deur middel van drome, visioene, gesprekke met engele en selfs hoorbare stemme wat met hulle praat. Hulle laat baie mense dwaal deur hierdie valse profesieë, daarom sê die Here dat al die plae en rampe wat in Openbaring beskryf word, ook oor hulle sal kom. Hulle sal agterbly tydens die wegraping en aan die toorn van God onderwerp word oor al die leuens wat hulle verkondig het.
Die ander groep ontken Bybelse leerstellings deur beloftes wat die Here aan ons gemaak en opdragte wat Hy aan ons gegee het, weg te redeneer. Hulle verbeur enige reg dat hulle name steeds in die boek van die lewe verskyn, omdat hulle daarvoor verantwoordelik is dat daar ʼn teologie van ontkenning gepopulariseer is waarin al hoe meer Bybelse waarhede ontken word. Die lys ontkennings word by die dag langer. Daar word bv. ontken dat die Bybel die geïnspireerde Woord van God is, dat Jesus die Seun van God is wat die losprys vir ons sonde betaal het, dat verlore sondaars deur geloof in Hom gered en geheilig moet word, dat Jesus tydens die wegraping sy bruidsgemeente sal kom haal, dat daar ʼn duiwel en hel is, dat daar ʼn Antichris en ʼn groot verdrukking sal wees, en ook dat Christus ná sy wederkoms ʼn duisendjarige vrederyk sal instel en van die troon van Dawid af oor die aarde sal regeer.
Wat bly daar in kerke oor om te sê indien al hierdie kernwaarhede ontken word? Omtrent net sedelesse oor verdraagsaamheid, naasteliefde, die opheffing van armes en verdruktes, ʼn lekker lewe op aarde, en ʼn wonderlike toekoms vir alle mense in die hemel – dit is nou as hulle nog in die hemel glo. Die nuwe siening is dat die mens sy hemel op aarde moet hê.
Baie Christene is diep bekommerd oor die lae geestelike standaarde wat besig is om op aarde pos te vat, en as gevolg hiervan bid sommige van hulle ernstig vir herlewing. Volgens die Bybel sal daar voor die wegraping net in ʼn baie beperkte sin ʼn herlewing plaasvind, deurdat sekere kinders van die Here hulle sal verootmoedig en Hom vir meer heiligheid en groter toewyding sal vertrou. Baie ander sal egter verflou in hulle liefde en saam met die dwase maagde nalaat om die ekstra olie van die Heilige Gees in hulle lewens te verkry. Hulle sal nie die erns van die eindtydse situasie begryp nie en geestelik aan die slaap raak kort voordat die Bruidegom kom om sy bruid te kom haal. Onder die ongeredde wêreldlinge sal sonde en ongeregtigheid van kwaad tot erger gaan. Jesus sê: “Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word. En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees” (Op. 22:11-12).
Dit is die omstandighede wat in die eindtyd net voor die koms van Christus sal heers – nie ʼn groot herlewing nie, maar ʼn gepolariseerde situasie tussen lig en duisternis. Ware Christene sal onder groot druk kom om saam met die wêreld hulle standaarde te verlaag en veral hulle siening oor ʼn afgesonderde lewenswandel van heiligmaking prys te gee, maar hulle moet onder geen omstandighede hieraan toegee nie. Dit is ongelukkig net ʼn relatief klein groepie gelowiges wat getrou sal bly tot die einde toe.
Wanneer gaan die volgende herlewing dan plaasvind en wat kan ons doen om dit te bevorder? Dit sal direk ná die wegraping plaasvind, omdat die skielike verdwyning van die ware gelowiges vir dié wat agterbly ʼn groot teken sal wees – soos dit ook vir die dwase maagde in die gelykenis was toe hulle gesien het dat net die wyse maagde deur die Bruidegom weggeneem is. Ons lees in Openbaring 7:1-8 van 144 000 Jode – 12 000 uit elk van die twaalf stamme van Israel – wat Jesus vroeg in die verdrukking as Messias sal aanvaar en gevolglik die valse messias wat deur die meerderheid Jode én nie-Jode nagevolg sal word, sal verwerp. Hierdie verseëlde getuies sal die vroeë begin van Israel se geestelike herstel wees, en die evangelie van verlossing oral verkondig. Die gevolg sal wees dat daar in die verdrukking miljoene mense uit alle volke sal wees wat sal besef dat Jesus die ware Messias is, en hulle sondes teenoor Hom sal bely sodat Hy hulle kan vergewe en red (Op. 7:9-14).
Ons moet nou al ernstig dink aan dié wat gaan agterbly. Sorg dat jou lewe ʼn oortuigende getuienis van die Here Jesus se genadewerk is. Handhaaf goeie verhoudinge met die ongelowiges en afvalliges, sonder om met hulle sienings kompromie te maak. Tree só op dat hulle respek vir jou kan behou. Hou aan om vir hulle te bid, sonder om moedeloos te word. Sorg ook dat daar genoeg leesstof oor redding, heiligmaking en die wederkoms in jou huis is, want ná die wegraping sal dit baie dringend benodig word. Sorg ook dat jy kopieë van die ou vertaling van die Bybel het (die 1933/53-uitgawe), omdat dit die beste Afrikaanse weergawe van die oorspronklike teks is.
Sorg ook dat jy self in hierdie tyd geestelik versterk word, sodat jy onbeweeglik vas kan staan op die Rots, Jesus Christus. Word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte (Ef. 6:10). Hou ook aan om die Here te dien, want dit sal verseker dat jy nie met leë hande voor Hom sal verskyn nie. Paulus het goeie raad vir alle gelowiges: “Daarom, my geliefde broeders, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie” (1 Kor. 15:58). Die belangrikste vrug van heiligmaking is afsondering vir die diens van die Here. Wat ʼn voorreg om Hom te kan dien en iets vir sy koninkryk te kan beteken.