Verborgenheid van die Antichris en sy Medewerkers

Johan Malan, Mosselbaai (Januarie 2014)

In die Nuwe Testament word daar verskeie verborgenhede oor die alternatiewe koninkryk van die duisternis geopenbaar. Dit beklemtoon die noodsaaklikheid daarvan om die volle wapenrusting van God aan te trek sodat ons staande kan bly teen die liste van die duiwel (Ef. 6:11). Satan werk steeds vanuit ’n verborge, mistiese sfeer, maar die Here wil hę dat ons sy werking van misleiding en versoeking sal raaksien en suksesvol teëstaan.

Aan die einde van die kerkbedeling sal die renegaatkoninkryk van die duiwel al hoe meer geopenbaar word, en verteenwoordigers daarvan sal invloedryk raak en prominente posisies op aarde beklee. Wanneer die ware kerk as die teëhouer van die Antichris uit die weg geruim is deur middel van die wegraping, sal die hierdie bedrieër as ’n duiwelsgeďnspireerde węreldleier skielik sy verskyning maak. Hy sal verskeie medewerkers hę om sy bose planne te help uitvoer – veral die valse profeet en ’n alliansie van valse węreldgodsdienste.

Mense wat nie van die openbaring van hierdie verborgenhede kennis geneem het nie, ontken gewoonlik heftig dat daar ’n persoonlike Antichris en valse profeet sal wees wat vir sewe jaar lank beheer oor die węreld sal voer. Die gevolg van hierdie onkunde is dat hulle geen gevaar in die ekumeniese beweging sien nie en maklik by intergeloofsbewegings betrokke raak. Hoe dieper hulle by hierdie denkrigting ingetrek word, hoe meer ontken hulle selfs die bestaan van die duiwel en sy koninkryk – ook van die hel. Die Here Jesus wil egter voorkom dat ons die slagoffers van misleiding word, daarom sę Hy: “Pas op dat niemand julle mislei nie” (Matt. 24:4).

Die verborgenheid van die ongeregtigheid

Die koninkryk van die duisternis was deur die eeue heen werksaam om God en sy koninkryk teë te staan. Dit is altyd op ’n onregstreekse wyse gedoen deur van misleide mense gebruik te maak om allerlei soorte leuens te versprei. Ware gelowiges het hierdie misleiding raakgesien vir wat dit was, die bevorderaars daarvan as valse profete ontmasker en hulle leerstellings sterk teëgestaan. As gevolg hiervan kon die koninkryk van die duisternis nooit onbetwiste alleenbeheer in die węreld verkry nie, en was daar ’n voortgesette stryd tussen lig en duisternis.

Paulus verwys na hierdie uitgerekte stryd, asook die dramatiese gevolge wat sal intree wanneer die getuies van die lig vir ’n kort tyd van die aarde af weggeneem sal word: “En nou, julle weet wat hom [die Antichris] teëhou, sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word. Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen“ (2 Thess. 2:6-9).

Alle vorms van geestelike misleiding in die menslike geskiedenis kan as goddeloosheid of antichristelike leuens beskryf word. Mense wat hierdie verkeerde opvattings baie sterk bevorder, word as valse profete of valse leraars bestempel (vgl. 2 Pet. 2:1), en in uiterste gevalle selfs as antichriste in die kleine. As sodanig is hulle voorlopers vir die eindtydse Antichris wat die węreld in totale geestelike duisternis sal dompel: “Kinders, dit is die laaste uur; en soos julle gehoor het dat die Antichris kom, bestaan daar ook nou baie antichriste, waaruit ons weet dat dit die laaste uur is. ... Wie is die leuenaar, behalwe hy wat ontken dat Jesus die Christus is? Dit is die Antichris wat die Vader en die Seun loën” (1 Joh. 2:18, 22).

Almal wat die Godheid en Messiasskap van Jesus ontken, is medewerkers van die groot Leuenaar en derhalwe wegbereiders vir die Antichris. Die teëhouer teen al die antichristelike leuens is die ware kerk as die tempel van die Heilige Gees (1 Joh. 4:1-6). Omdat Jesus Christus deur die Heilige Gees in hierdie mense se harte leef, is hulle die sout van die aarde en die lig van die węreld. Valse kerke wat hulleself aan geestelike misleiding blootgestel het, dryf al hoe verder van die ware Christus af weg en word mettertyd medewerkers van ’n ander Jesus en ’n ander gees, naamlik die Antichris en sy gees van dwaling (2 Kor. 11:3-4). Hulle het net ’n gedaante van godsaligheid en het die krag daarvan (die Heilige Gees) verloën (2 Tim. 3:5).

Die verborgenheid van die ontugtige vrou

In Openbaring 17 en 18 onderskeidelik, praat Johannes van twee Babilons wat in die eindtyd na prominensie sal verrys. Die een is verborge Babilon wat ’n geestelike tuiste vir valse godsdienste is, en die ander een ’n handelstad waar sonde en ongeregtigheid hoogty sal vier. Omdat Babilon die versinnebeelding en oorsprong van die węreld se heidense godsdienste is, word die eindtydse, valse alliansie van węreldgodsdienste op ’n gepaste wyse as “Verborge Babilon” beskryf. Sy word as ’n vrou voorgestel wat op die Antichris se rug ry, en dus deur hom erken, ondersteun en gebruik sal word. In Openbaring 17 sę die engel aan Johannes:

“Kom hierheen, ek sal jou toon die oordeel van die groot hoer wat op die baie waters sit, met wie die konings van die aarde gehoereer het, en die bewoners van die aarde het dronk geword van die wyn van haar hoerery. En hy het my in die gees weggevoer na ’n woestyn, en ek het ’n vrou sien sit op ’n skarlakenrooi dier, vol godslasterlike name, met sewe koppe en tien horings. En die vrou was bekleed met purper en skarlaken en versierd met goud en kosbare stene en pęrels, en sy het in haar hand ’n goue beker gehad, vol van gruwels en die onreinheid van haar hoerery; en op haar voorhoof was ’n naam geskrywe: Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde. En ek het die vrou gesien, dronk van die bloed van die heiliges en van die bloed van die getuies van Jesus, en ek het my uitermate verwonder toe ek haar sien. Toe sę die engel vir my: Waarom het jy jou verwonder? Ek sal jou die verborgenheid van die vrou vertel en van die dier met die sewe koppe en die tien horings, wat haar dra. ... Die sewe koppe [van die dier] is sewe berge waar die vrou op sit. En hulle is sewe konings: vyf het geval en een is; die ander een het nog nie gekom nie, en wanneer hy kom, moet hy ’n kort tydjie bly. … En die tien horings wat jy op die dier gesien het, hulle sal die hoer haat en haar verlate maak en naak, en haar vlees eet en haar met vuur verbrand. … En die vrou wat jy gesien het, is die groot stad wat heerskappy voer oor die konings van die aarde” (Op. 17:1-7, 9-10, 16, 18).

Die dier met die sewe koppe en tien horings word in Openbaring 13 in meer besonderhede beskryf. Dit verwys na die Antichris wat die eindtydse heerser van ’n sewende, goddelose węreldregering sal wees. Vyf van hierdie węreldryke het in die tyd van Johannes al geval, naamlik die Babiloniese Ryk van Nimrod, die Assiriese Ryk, die herstelde Babiloniese Ryk van Nebukadnésar, die Medo-Persiese Ryk en die Griekse Ryk. Die sesde een, die Romeinse Ryk, was aan bewind, terwyl die sewende en laaste węreldryk, dié van die Antichris, nog toekomstig was.

Die vrou sit op al sewe hierdie ryke en voer geestelike heerskappy oor hulle. Die sewe berge, of koninkryke, waarop sy sit moet dus nie tot die sewe berge van Rome beperk word en die vrou tot die kerk van Rome nie. Sy is ’n versinnebeelding van al die valse godsdienste van alle tye. In elk geval was daar meer as sewe bose Romeinse keisers wat die Christene vervolg het, want van Nero af tot by Diokletianus alleen was daar tien.

Die vrou voer heerskappy oor al die konings van die aarde en mislei hulle volgelinge om nie die ware God te aanbid nie. Sy stel die geestelike mag van leuens en misleiding voor wat Satan op aarde verkry het. Dit is in hierdie sin dat die hele węreld, uitgesonderd die klein minderheid ware Christene, volgens 1 Johannes 5:19 in die mag van die Bose lę.

Dit is van die uiterste belang om die rol van valse godsdienste in die eindtyd in oënskou te neem omdat hulle amptelike erkenning in die ryk van die Antichris sal kry en met groot krag beklee sal word. Hulle sal ook as ’n ekumeniese liggaam aan mekaar verbind word, stelselmatig nader aan mekaar beweeg, en uiteindelik die Antichris as hulle gemeenskaplike węreldmessias aanvaar. Vir die misleide Christene sal hy die Christus wees, vir die Jode die Messias, vir die Moslems die Imam Mahdi, vir die Hindoes Krishna en vir die Boeddhiste die Maitreya Boeddha.

Ná die openbaring van die Antichris sal die hele węreld, met die uitsondering van die 144 000 Joodse evangeliste en die ware Christene van daardie tyd, godsdienstig verenig wees. Saam sal hulle ’n bloedige vervolging teen die Christene instel wat sal weier om die dier te aanbid en na te volg. Die bloed van die getuies van Jesus sal aan die hande van hierdie vrou wees, wat die moeder van die afvalliges is. Hierdie vrou gaan dus nie wesenlik iets nuuts doen nie, maar die eeue oue vervolging van God se kinders op aarde op ’n baie intensiewe skaal voortsit.

Daar is verskeie ekumeniese liggame in die groeiende intergeloofsbeweging, onder andere die Parlement vir Węreldgodsdienste en die VN se Verenigde Godsdienste Inisiatief. Hulle doel is om godsdiensgelykheid na te streef onder die voorwendsel dat alle gelowe dieselfde God aanbid. Wanneer dié idee goed gevestig is, sal die volgelinge van alle gelowe genoegsaam mislei wees om dieselfde węreldmessias te aanvaar en te aanbid. Die klimaat sal dan gunstig wees vir die verskyning van die universele messias en die valse profeet van alle gelowe.

Dit is uit Openbaring 17 duidelik dat die ontugtige vrou wat die valse węreldgodsdienste voorstel, nie in isolasie gaan funksioneer nie maar in ’n noue verband met die Antichris se politieke stelsel vir ’n węreldregering sal optree. Sy sal ’n duidelike politieke agenda hę om haar volgelinge die Antichris se węreldregering te laat aanvaar, tesame met sy nommer, asook ’n godsdienstige agenda om haar volgelinge geestelik te mislei om die Antichris as węreldmessias te erken en te aanbid.

Die Antichris se huwelik met die alliansie van valse węreldgodsdienste geskied in nabootsing van die verhouding tussen Jesus Christus en sy bruidsgemeente. Godsdienstige Babilon, die bruid van die Antichris, gaan egter nie ’n lang en gelukkige huwelik hę nie. Sy sal net vir 3˝ jaar op die dier se rug ry, en groot voorregte en aansien in sy koninkryk geniet voordat sy afgegooi en doodgemaak sal word. Johannes beskryf haar teregstelling só: “En die tien horings wat jy op die dier gesien het, hulle sal die hoer haat en haar verlate maak en naak, en haar vlees eet en haar met vuur verbrand” (Op. 17:16).

Wanneer die Antichris homself in die middel van die verdrukking tot God verklaar, sal hy nie meer as universele messias vir ’n alliansie van węreldgodsdienste beskikbaar wees nie. Alle gelowe sal dan verbied en hulle aanbiddingsplekke verwoes of vir iets anders gebruik word. Die enigste opsie wat daar dan aan al die misleide aanhangers van die valse gelowe gebied sal word, sal wees om die dier as god te aanbid (2 Thess. 2:4) en voor sy beeld neer te buig. Diegene wat weier om dit te doen, sal volgens Openbaring 13:15 tereggestel word.

Godsdienstige Babilon, die ontugtige vrou, sal dus in die middel van die verdrukking tereggestel en haar plekke van aanbidding óf gesluit óf verwoes óf vir ander doeleindes aangewend word. Dit geld natuurlik ook die Joodse geloof. Daniël sę: “…en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ’n verwoester wees” (Dan. 9:27).

Die bruid van die Antichris sal net 3˝ jaar met haar bruidegom [die valse Christus] getroud wees wanneer sy rol as misleidende engel van die lig uitgedien sal wees. Hy sal dan in sy ware karakter as ’n wreedaard, mensemoordenaar en selfverklaarde god geopenbaar word. Sy sal dan voor ’n skrikwekkende keuse gestel word om óf die dier as god te aanbid en te vereer óf in die openbaar tereggestel te word. Die meeste misleides sal die weg van godsdienstige slawerny verkies en die knie voor die eindtydse Baäl as die god van hierdie węreld buig.

Die Antichris se bruid kan dus reg uit die staanspoor ’n min dae-kalender hou waarop die dae van haar kortstondige glorie afgemerk word – 1260 dae van haar huweliksdag af tot by haar vernedering tot slawerny, of haar openbare teregstelling. Wat ’n duur prys is dit nie om guns in die dier se oë te vind!

Die moederorganisasie vir die geestelik afvalliges van die węreld is reeds besig om gestalte aan te neem. Uit die oogpunt van die tradisioneel Christelike węreld verloop hierdie proses deur die volgende sewe fases:

1.   Eenheid in die Christelike węreld, ook tussen Protestante en Katolieke;

2.   godsdiensgelykheid tussen alle gelowe in lande se grondwette, staatstrukture en onderwysstelsels;

3.   die vorming van intergeloofsalliansies ter wille van samewerking oor sake van gemeenskaplike belang;

4.   die propagering van die idee van die universele God wat deur alle gelowe aanbid word;

5.   klimaatskepping vir die koms van die universele messias van alle gelowe;

6.   die verskyning van die węreldmessias en sy gesamentlike aanbidding deur alle gelowe; en

7.   die verpligte aanbidding van die Antichris as God, 3˝ jaar ná sy verskyning.

Wanneer fase 6 bereik is, sal die hoer die toppunt van haar populariteit en openbare steun geniet terwyl sy op die dier se rug ry. In fase 7 vind haar skielike val en vernietiging plaas.

Ons moet daarop bedag wees dat die groot stryd tussen God en Satan in prehistoriese tye begin het toe Lucifer homself met God probeer gelykstel het. Dit het tot sy val aanleiding gegee, en sedertdien tot die eeue-oue stryd tussen die koninkryke van die lig en die duisternis. Satan het beslis nie sy pogings laat vaar om in die plek van God as die Heerser van die heelal aanbid te word nie. Al die godsdienstige bedrog en misleiding in die węreld word deur die gees van die dwaling aangeblaas, en is op die einddoel van die aanbidding van Lucifer en die Antichris ingestel (Op. 13:4). Ons beleef nou die laaste groot aanslag uit die ryk van die duisternis met die oog op die onbetwiste vestiging van die duiwel en sy “christus” as węreldleiers. Wanneer die teëhouer [die kerk van Christus] uit die weg geruim is, sal die planne vir ’n antichristelike oorname vinnig en doelgerig geďmplementeer word.

Die verborgenheid van die dier met die sewe koppe

Johannes verklaar nie net die verborgenheid van die alliansie van valse węreldgodsdienste wat deur ’n ontugtige vrou voorgestel word nie, maar ook dié van haar demoniese leier. Die engel het aan hom gesę: “Ek sal jou die verborgenheid van die vrou vertel en van die dier met die sewe koppe en die tien horings, wat haar dra” (Op. 17:7).

Volgens Openbaring 13 en 17 sal die Antichris kenmerke van al die antieke węreldryke hę. In Openbaring 13:1-2 gebruik Johannes dieselfde simbole vir die ou węreldryke as wat in Daniël 7:4-6 gebruik word. Die Antichris word voorgestel as ’n saamgestelde dier met die bek van ’n leeu (Babilonies), die pote van ’n beer (Medo-Persies), die lyf van ’n luiperd (Grieks), en ’n kop met tien horings (Romeins). Soos in die Babiloniese Ryk sal hy ’n afgodsbeeld laat maak en alle onderdane van sy ryk dwing om voor die beeld neer te buig en dit te aanbid. Soos in die Medo-Persiese Ryk sal hy ’n Joodse volksmoord gelas wanneer Israel in onguns by hom raak, en hy sal deur middel van die onveranderlike wette van die Meders en Perse regeer, m.a.w. deur militęre dekrete. Soos in die Griekse Ryk van Alexander die Grote sal hy ’n snelontplooiingsmag op die been bring wat oral op kort kennisgewing sal kan toeslaan om sy gesag te handhaaf. Soos in die Romeinse Ryk sal immoraliteit, korrupsie en uiterste geweld hoogty vier, asook die summiere openbare teregstelling van alle teëstanders van sy ryk.

In Bybelse profesieë is daar egter twee verskillende beelde wat van die Antichris voorgehou word – dié van vredevors en militęre tiran. Hy sal aanvanklik as ’n ruiter op ’n wit perd op die toneel verskyn (Op. 6:2), en alle nasies sal hom aanhang, ’n verbond met hom sluit (Dan. 9:27), en hom selfs ook as verlosser en węreldmessias aanbid (Joh. 5:43; Op. 13:8). Diegene wat nie die verborgenheid van die dier met die sewe koppe en tien horings ken nie, sal nie in staat wees om die Antichris direk na sy verskyning te eien vir wie hy werklik is nie, en gevolglik maklik deur hom mislei word.

Die tien horings op sy kop dui op tien eindtydse węreldleiers wat saam met hom sal regeer: “En die tien horings wat jy gesien het, is tien konings wat nog geen koningskap ontvang het nie, maar hulle ontvang mag soos konings een uur lank saam met die dier” (Op. 17:12). Hulle sal volledig onder sy mag wees en geheel en al deur hom gemanipuleer word: “Hulle het een gesindheid en sal hulle krag en mag oorgee aan die dier” (Op. 17:13). Hulle sal ook saam met die Antichris die alliansie van valse godsdienste afskaf en vernietig nadat dit sy doel gedien het (Op. 17:16).

Wanneer die ware Christus kom sal die Antichris, die valse profeet en hulle węreldwye gevolg oorwin en vernietig word (Op. 19:19-21). Maak seker dat jy nie onder sy volgelinge tel nie. Dit kan jy alleen doen indien jy ’n verhouding met die ware Christus het en ook ten volle ingelig is oor al die verborgenhede wat Hy in sy Woord aan ons openbaar. Veral in hierdie tyd, so kort voor die wederkoms van Christus, is dit van besondere belang dat ons nie dalk ’n “ander Jesus” navolg en verkondig wat nie in die Bybel aan ons voorgehou word nie (vgl. 2 Kor. 11:2-4; Gal. 1:6-8). Enige verdraaiing of vervalsing van die waarheid geskied onder inspirasie van die gees van dwaling, en is uiteindelik op die aanvaarding van ’n valse messias gerig (vgl. Joh. 5:43).

Slot: Die belangrikheid van dieper insig

Die openbaring van verborgenhede in die Nuwe Testament is van groot belang om aan ons insig te gee in die verdere ontplooiing van God se raadsplan vir die redding en heiliging van mense, ons vertroud te maak met voorheen onbekende aspekte van die geestelike stryd waarby ons betrokke is, en ons sodoende toe te rus vir dit wat in die toekoms op ons wag. Die tien verborgenhede wat die Here in sy Woord bekend maak, vorm deel van ’n omvattende reeks openbarings in die Nuwe Testament. Slegs gelowiges wat ten volle daarvan kennis neem en in die lig daarvan wandel, is werklik in staat om op die smal pad te volhard en te voorkom dat hulle weens onkunde die slagoffers van misleiding word. Hulle het die regte ingesteldheid om as oorwinnaars uit die stryd te tree, geestelik gereed te wees wanneer die hemelse Bruidegom kom, en met vrymoedigheid rekenskap van hulle lewens voor Christus se regterstoel te kan gee. Die Here Jesus rus ons toe met meer kennis en genade (Joh. 1:14) sodat ons in alle opsigte aan die eise van ware dissipelskap sal kan voldoen.

Die geestelike voordele wat die bestudering van die tien verborgenhede aan ons bied, kan só opgesom word:

’n Voorbeeldige lid van God se koninkryk. Volle insae in die geestelike vereistes, aard en doelstellings van God se koninkryk sal verseker dat ons waardige lede daarvan is, suksesvol weerstand sal bied teen alles wat in stryd daarmee is, die eskatologiese vervulling daarvan ten volle sal begryp, nie na ’n fisiese koninkryk sal soek voordat die Koning kom nie, en ook Israel se rol in die verdere openbaring van hierdie koninkryk reg sal verstaan en bevorder.

Israel se tydelike verharding en eindtydse redding as volk. Die Here het Israel se verwerping van die Messias gebruik as ’n geleentheid om die evangelie aan alle nasies te bied, sodat hulle ook deel van sy koninkryk kon verkry. Israel se geestelike verharding is egter net tydelik “totdat die volheid van die heidene ingegaan het; en so sal die hele Israel gered word” (Rom. 11:25-26). Ons is dank aan Israel verskuldig omdat die Woord van God deur hulle na ons toe gekom het, en as ons enigsins kennis geneem het van God se plan vir hulle, sal ons ons in Israel se fisiese herstel aan die einde van die kerkbedeling verbly en ook met ’n vaste vertroue na hulle geestelike lewendmaking as volk uitsien.

Die verborgenheid van die evangelie. Voor die koms van Christus was die detail van die finale verlossingsplan deur die soendood van God se Seun nie bekend nie. Die openbaring van hierdie verborgenheid het ’n nuwe dispensasie in die redding van ’n verlore mensdom ingelui, en gevolglik die voorafgaande bedeling van die wet my sy onvolmaakte offers en ander skaduagtige gebruike afgesluit (Heb. 10:1-10). Diegene vir wie die evangelie van Jesus Christus steeds ’n verborgenheid is, is daartoe geneig om hulle heil in die wet en ander godsdienstige rituele te soek – en dit tot hulle groot nadeel en geestelike verarming (Gal. 5:4).

Die verborgenheid van die liggaam van Christus. Israel se roeping en afsondering as God se volk op aarde het in Nuwe-Testamentiese tye plek gemaak vir ’n totaal ander groep gelowiges wat beskryf word as die “gemeente van Christus” (Ef. 5:23; Kol. 1:24), die “geheiligdes in Christus” (1 Kor. 1:2) of die “liggaam van Christus” (Rom. 12:5; 1 Kor. 12:27). Hierdie liggaam bestaan uit lede wat almal deur die Heilige Gees gewederbaar is en dus vir God as hulle gemeenskaplike Vader aanbid. Hulle behoort aan Christus en is sy getuies op aarde. Sommige van hulle is ook lede van menslik ingestelde denominasies, maar nie alle lede van kerke is noodwendig weergebore en dus lede van die liggaam van Christus nie.

Die verborgenheid van die geloof. ’n Ware geloof is die vrug van die Heilige Gees. Dit behels die aanvaarding van Jesus Christus as Verlosser op ’n geestelike vlak in jou hart. Dit gee ’n veel meer konkrete inhoud aan geloof as wat in Ou-Testamentiese tye moontlik was. Hierdie nuwe en Godgegewe vorm van geloof moet duidelik onderskei word van ander vorms van geloof wat die produk is van misleiding (deur bv. in ’n afgod te “glo”) of die gevolg van menslike rasionalisering (verstandelike aannames sonder enige geestelike substansie wat na ’n hartsverandering kan lei). Almal wat nie deur die Heilige Gees in Christus as Verlosser glo nie, is uit ’n Bybelse oogpunt ongelowiges (2 Kor. 4:4). Het jy al die verborgenheid van ’n ware geloof ontdek? ’n Voorheen “gelowige” Paulus het dit ontdek en verbly hom daarin (Fil. 3:8-9).

Die verborgenheid van God se wil. Die gevalle mensdom is onbekend met God se wil. Deur sy Woord en Gees maak God egter verborge aspekte van sy wil aan ons bekend. Eerstens is dit sy wil dat alle mens op aarde gered moet word – beslis nie net lede van die Uitverkore Volk, of ’n vooraf uitverkore groep heidene nie (Hand. 17:30; 1 Tim. 2:3-4; 2 Pet. 3:9). Daar is ook verdere aspekte van sy wil, naamlik dat alle gelowiges heilig sal lewe (1 Thess. 4:3; 1 Pet. 1:15-16). Net mense wat God se wil doen t.o.v. wedergeboorte en heiligmaking sal eendag sy aangesig in sy geopenbaarde koninkryk sien (Matt. 7:21; Heb. 12:14).

Die verborgenheid van die eerste opstanding. Eers nadat Jesus Christus die losprys vir die węreld se sonde betaal en ook die dood oorwin het deur uit die graf op te staan, kon die belofte van ’n spesiale opstanding net vir regverdiges gemaak word. Alle gelowiges word deelgenote van sy opstanding uit die dood (1 Kor. 15:17-23). As ons saam met Christus sterf vir die węreld en vir sonde, sal ons ook saam met Hom lewe en in die seën van die eerste opstanding deel. Saam met hierdie belofte word die wonderlike versekering van die wegvoering voor die verdrukking ook aan gelowiges gegee (1 Thess. 4:13-18; Luk. 21:36). Diegene wat nie hierdie beloftes glo nie, verkeer nog in die duister oor die openbaring van verborgenhede in die Nuwe Testament, en veral ook dit wat die toekoms vir ons inhou: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van die mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet. Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God” (1 Kor. 2:9-10).

Die verborgenheid van die ongeregtigheid. Die Here maak aan ons bekend dat daar deur die eeue heen ’n geestelike stryd tussen God se koninkryk en Satan se koninkryk was. Die gees van dwaling wat daarop uit is om God en sy Woord te bevraagteken en te opponeer, word die verborgenheid van die ongeregtigheid genoem (2 Thess. 2:7). Hierdie gees kom uit ’n bose koninkryk wat tans nog verborge is, maar in die eindtyd sigbaar geopenbaar sal word wanneer die Antichris op die toneel verskyn (2 Thess. 2:8). Mense wat nie die bestaan van ’n koninkryk onder die beheer van Satan erken nie, het nie ’n behoefte aan redding uit hierdie bose koninkryk nie, en dus ook nie aan ’n geestelike wapenrusting vir beskerming in die stryd teen die bose geeste in die lug nie. Hulle verwag ook nie die verskyning van ’n persoonlike Antichris wat met sy talle handlangers beheer oor die węreld sal uitoefen nadat sy teëhouer (die ware kerk as ’n tempel van die Heilige Gees) uit die weg geruim is nie.

Die verborgenheid van die ontugtige vrou. Een van die eindtydse instellings wat die finale voorbereidingswerk vir die verskyning van die Antichris sal doen, is ’n alliansie van valse węreldgodsdienste. Wanneer die valse christus skielik op die toneel verskyn, sal hierdie ekumeniese liggaam van gelowiges as sy “bruid” op sy rug ry, volle erkenning in sy ryk geniet, en deur hom gebruik word om evangeliese Christene wat hom nie as węreldmessias erken nie, te vervolg en tereg te stel (Op. 17:1-7). Gelowiges wat nie van hierdie belangrike feit bewus is nie, raak dikwels met humanistiese motiewe by intergeloofsekumene betrokke en word sodoende onbewus wegbereiders vir die Antichris.

Die verborgenheid van die dier met die sewe koppe. Die laaste verborgenheid het betrekking op die Antichris self, wat as ’n persoonlike węreldleier op die toneel sal verskyn. Hy sal beheer verkry oor alle nasies op aarde (Op. 13:7) en hulle ook dwing om hom as hulle Verlosser en God te aanbid (Op. 13:8, 15; 2 Thess. 2:4). Sy openbaring en die instelling van sy sewe jaar-lange regering sal die eindtydse uitvloeisel wees van ’n geestelike oorlog wat eeue lank vanuit ’n mistiese, geestelike sfeer gevoer is. Hy sal deur Satan bemagtig word (Op. 13:2), as medewerker sal hy die valse profeet hę (Op. 13:11-14), en as sy “bruid” die alliansie van valse węreldgodsdienste (Op. 17:3). Sy laaste groot oorlog sal teen die ware Christus wees, maar dit sal tot die totale verdelging van sataniese magte op aarde lei (Op. 19:19-21).

Ons is bevoorreg om al hierdie profetiese kennis van huidige én toekomstige węreldgebeure te hę. Die openbaring van dinge wat baie lank verborge gehou is, lig nie net belangrike aspekte van die geestelik stryd vir ons toe nie, maar vestig ook ons aandag op die reddende genade van Here, sodat ons ten volle kan begryp wat die hoogte, diepte, breedte en lengte van sy liefde vir ons is. Laat ons nie onder diegene wees wat tydens Christus se eerste koms al weens hulle onkunde en ongeloof verkwalik is nie: “Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie” (Matt. 22:29). Onkundige vormgodsdienstiges is nie in die regte verhouding met Christus as Verlosser nie. Hulle het ook nie ’n Bybelse toekomsverwagting nie omdat die profetiese woord steeds vir hulle verborge is. Laat ons in die volle lig van God se Woord wandel!

NS. ’n Boek waarin al die artikels oor die verborgenhede verskyn, kan hier gelees word: http://www.bibleguidance.co.za/Afrboeke/Verborge/Verborge.htm