Die Verborgenheid van die Eerste Opstanding

Johan Malan, Mosselbaai (Januarie 2014)

’n Verdere belangrike verborgenheid wat in die Nuwe Testament geopenbaar word, is dat daar vir die regverdiges ’n afsonderlike opstanding uit die dode sal wees. Omdat ware gelowiges ten nouste geassosieer word met Jesus Christus as sy liggaam, of bruidsgemeente, val hulle opstanding en verheerliking saam met die eindtydse openbaring van Christus as Bruidegom, Regter en Koning. Hierdie gebeurtenis sal skielik en dramaties wees. Paulus sê:

“Kyk, ek deel julle ’n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ’n oomblik, in ’n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word. Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word” (1 Kor. 15:51-53).

Tydens die eerste opstanding sal Christus as Bruidegom net aan die regverdiges verskyn om vir altyd met hulle verenig te word. Hy wil nie hê dat ons onkundig oor hierdie belofte moet wees nie, omdat dit aan gelowiges ’n vaste hoop vir die toekoms gee asook ’n belangrike doel om voor te lewe:

“Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie. Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring. Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie. Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde” (1 Thess. 4:13-18).

Die eerste opstanding en wegvoering van die regverdiges sal die einde meebring van die kerkbedeling op aarde, en die begin wees van ’n uitgebreide reeks openbaringshandelinge: “Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word” (Kol. 3:4; vgl. Sag. 14:4-5). Vir dit om te kan gebeur, moet die ware kerk vooraf reeds met Christus verenig word.

Twee opstandings

Die Bybel onderskei duidelik tussen twee liggaamlike opstandings – een vir gelowiges en een vir ongelowiges. Die een word “die opstanding van die lewe” genoem (Joh. 5:29), “die eerste opstanding” (Op. 20:5-6), en “die opstanding van die regverdiges” (Luk. 14:14), terwyl die ander een “die opstanding van die veroordeling” genoem word (Joh. 5:29). Daar is ten minste ’n duisend jaar tussen hierdie twee opstandings, en hulle verskil ook wat hulle aard en gevolge betref (Op. 20:4-6).

Die feit dat Jesus verwys na “die laaste dag” waarop Hy die regverdiges sal opwek (Joh. 6:39, 40, 44, 54), het baie duidelik betrekking op die laaste dag van die kerkdispensasie wanneer Hy ons kom haal (Joh. 14:2-3). Nadat die oes klaar ingesamel is deur wêreldevangelisasie, sal die regverdiges onder alle nasies opgewek en in die hemel by Hom versamel word.

Paulus verwys na die verskillende fases waarin die eerste opstanding plaasvind: “Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms. Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het” (1 Kor. 15:22-24).

Jesus Christus het self die eerste opstanding ingelui en dit daardeur vir almal wat in Hom glo, moontlik gemaak om in die wonderlike seën van die eerste opstanding te deel. Wanneer Christus aan die einde van die kerkdispensasie terugkom, sal die hoofoes van gelowiges in die hemel ingesamel word (1 Thess. 4:16-17). Daarna sal die gelowiges uit die verdrukking ook opgewek word (Op. 20:4). Al hierdie gelowiges vorm deel van die eerste opstanding in Christus.

Tussen die opstanding van Christus as die eersteling en die opstanding van die weergebore regverdiges by sy wederkoms (die eerste opstanding) sal die totale kerkbedeling verloop, wat tans byna twee millennia al voortduur. Dit is uit Openbaring 20 duidelik dat ’n verdere duisend jaar van Christus se regering sal verloop tussen die opstanding van die regverdiges en die einde van die huidige aarde. Dan sal die onregverdiges in die tweede opstanding opgewek word om vir die eindoordeel voor die groot wit troon gedaag te word.

Johannes verwys na al die heiliges wat tydens die eerste opstanding opgewek sal word om in die Millennium as konings saam met Christus te regeer: “...en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank. En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie. ... Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding” (Op. 20:4-6).

Tydens Jesus se geheime koms (die eerste fase van sy wederkoms) kom Hy net om die weergebore gelowiges op te wek; dit is waarom Paulus sê: “...die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan” (1 Thess. 4:16). Hier word hoegenaamd niks oor die opstanding van die ongelowige dooies gesê nie. Aangesien ’n eerste opstanding ook ’n tweede opstanding impliseer, en aangesien ons weet dat beide die gelowiges en ongelowiges sal opstaan (Hand. 24:15), is dit duidelik dat die ongelowige dooies tydens ’n later opstanding opgewek sal word.

Diegene wat deel het aan die eerste opstanding word geseënd genoem, want dit is inderdaad ’n bevoorregte posisie om hierby ingesluit te wees. Verskeie ander Skrifgedeeltes lewer onweerlegbare bewyse dat weergebore gelowiges eerste opgewek sal word. Die volgende is uitdrukkings wat slegs na die eerste opstanding verwys:

·      Die eerste opstanding (Op. 20:6).

·      Die opstanding van die kinders van God (Luk. 20:36).

·      Die opstanding van dié wat in Christus gesterf het (1 Thess. 4:16).

·      Die opstanding van die regverdiges (Luk. 14:14).

·      ’n Beter opstanding (Heb. 11:35).

·      Die opstanding tot die lewe (Joh. 5:29).

·      Die opstanding uit die dode in Jesus (Hand. 4:2).

Wanneer daar na die Christene se opstanding uit die dode verwys word, asook wanneer die opstanding van Christus ter sprake is, word die uitdrukking ek nekroon in Grieks gebruik. Dit beteken uit die dode en word slegs ten opsigte van ’n opstanding gebruik waarin daar ander dode is wat agterbly. Hierdie uitdrukking, wat 49 keer in die Nuwe Testament gebruik word, waarvan 34 keer in verband met die opstanding van die Here Jesus, word nie een keer in verband met die finale opstanding gebruik nie. Na die tweede opstanding word slegs as toon nekroon verwys, wat die opstanding van die dode is.

Wanneer die wegraping plaasvind, staan die regverdiges met verheerlikte liggame onder die ander dode op [vanuit die dode] en gaan dan met dié wat nog in die lewe is, Christus tegemoet in die lug. Die onregverdiges (ongereddes) sal in hulle grafte bly omdat hulle nie “in die Here” gesterwe het nie (Op. 14:13). Hulle sal eers tydens die finale oordeelsdag opgewek word om hulle ewige straf te ontvang.

Die laaste basuin

Die eerste opstanding gaan gepaard “met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan” (1 Thess. 4:16). Dit word ook beskryf as “die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons [wat nog in die lewe is] sal verander word” (1 Kor. 15:52). Die basuingeklank tydens die eerste opstanding sal die geestelike vervulling wees van die jaarlikse oesfees wat in Israel gevier word gedurende die herfsmaand. Hierdie fees, wat met die Rosh Hashanah saamval, was in Ou-Testamentiese tye “’n gedenkdag deur basuingeklank, ’n heilige vierdag” (Lev. 23:24).

Baie mense maak egter verkeerde afleidings van die feit dat die basuin wat sal blaas tydens die opstanding van die gelowiges beskryf word as die “laaste basuin” (1 Kor. 15:52). Hulle verwar hierdie basuin met die basuine wat God se oordele tydens die verdrukking aankondig (Op. 8 tot 11) en op grond daarvan verwerp hulle die belofte van ’n voorverdrukkingwegraping. Dit is waar dat verskeie basuine van God se oordele tydens die daaropvolgende verdrukking geblaas sal word, maar dit het niks met die oesfees en die opstanding van die regverdiges te doen nie.

Die laaste basuin wat genoem word in verband met die opstanding van die gelowiges, verwys na die laaste van ’n lang reeks basuine wat elke jaar van 1 Elul af op Israel se godsdienstige kalender tot op die tweede dag van Tisjri geblaas word (gewoonlik Aug./Sept. op die Gregoriaanse kalender). Hierdie basuine kondig die einde van die oesseisoen aan en is in die besonder ook ’n oproep tot bekering. Die laaste basuin in hierdie reeks blaas op die tweede dag van Tisjri teen sononder wanneer die dag amper verby is. Dit is terselfdertyd ook Israel se Nuwejaarsfees (Rosh Hashanah) op hulle siviele kalender. Rosh Hashanah se Bybelse naam is Yom Teruah, wat beteken “Dag van die ramshoring se geklank” of “Die blaas van die opwekking”.

Kort nadat die laaste basuin op 2 Tisjri geblaas is, begin die sewe dae wat bekend is as die “sewe verskriklike dae” wat van 3 tot 9 Tisjri verloop. Hierdie sewe dae verwys profeties na die jaarweek van die verdrukking onder die valse messias. Op die tiende dag van Tisjri word die Groot Versoendag gevier.

In die lig van hierdie opeenvolging van gebeure, moet daar twee fases onderskei word in die koms van Christus – sy koms vir sy heiliges wanneer die basuin voor die sewe verskriklike dae sal blaas, en sy koms met sy heiliges op die Groot Versoendag. Hierdie twee fases in die koms van Christus verskil in die volgende opsigte van mekaar:

Sy koms voor die verdrukking

Sy koms na die verdrukking

Hy kom as die hemelse Bruidegom

Hy kom as die Koning van konings

Hy kom in die geheim tydens die wegraping

Hy kom in die openbaar sodat alle mense Hom kan sien

Hy kom vir sy heiliges

Hy kom met sy heiliges

Hy ontmoet die heiliges in die lug

Hy sit sy voete op die Olyfberg

Hy beloon sy heiliges

Hy oordeel en regeer die wêreld

Hy word slegs deur sy heiliges gesien

Elke oog sal Hom sien

Hy keer na die hemel terug nadat Hy sy bruid versamel het

Hy bly op aarde om as Koning van die konings uit Jerusalem te regeer

In die lig van die groot betekenis van die Fees van Basuine in die opstanding en verheerliking van die kerk van Christus van alle tye (insluitend Ou-Testamentiese heiliges wat op die Messias gewag het), moet ons die belofte van die eerste opstanding ten volle aanvaar. Hierdie verborgenheid is op ’n baie duidelik manier in die Nuwe Testament aan ons geopenbaar, en bevestig verskeie profetiese aanduidings wat in die Ou Testament gegee is oor ’n eindtydse oes van regverdige mense wat in die hemel versamel sal word.