Johan Malan, Mosselbaai (Desember 2013)
In hierdie artikel word vier verborgenhede bespreek wat direk verband hou met die Persoon en werk van Jesus Christus, asook met God se wil vir die mensdom. Israel én die hele wêreld word geensins in die duister gelaat oor wie Jesus is, wat die doel van sy eerste koms na die wêreld was, wat die verhouding is waarin ons teenoor Hom behoort te staan, en hoe ons God se wil in Christus kan ken nie. Geloofsake wat voor sy koms slegs skaduagtige gebruike, simboliese handelinge en profetiese beloftes was, het in Hom ’n wonderlike werklikheid geword. Deur die verkondiging van hierdie konkrete geestelike feite is dinge bekend gemaak wat verborge was van die grondlegging van die wêreld af (Matt. 13:35).
Met die koms van Christus het Ou-Testamentiese skadubeelde ’n werklikheid geword. Johannes sê: “En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon – en ons het sy heerlikheid aanskou, ’n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom – vol van genade en waarheid” (Joh. 1:14). Dit is ons voorreg om deur die Heilige Gees in die hele waarheid van die Verlosser gelei te word, en daardeur die rykdom van sy genade deelagtig te wees.
In die lang tyd voor die koms van Christus het mense meesal op ’n onregstreekse wyse met God gekommunikeer deur:
· die bemiddeling van onvolmaakte priesters wat voorlopers was van die volmaakte Hoëpriester wat die enigste Middelaar tussen God en die mens is (Heb. 7:11, 22-28);
· herhalende en onvolmaakte offers wat vooruit gewys het na die eenmalige en finale offer van Christus aan die kruis (Heb. 10:1-10);
· beperkte toegang tot die genadetroon van God in die Allerheiligste wat deur ’n voorhangsel afgesluit is, maar tydens Christus se soenoffer vir alle gelowiges oopgestel is (Heb. 4:14-16; 10:19-22); en
· onsuksesvolle pogings om die wet te vervul, totdat die Seun van God dit volmaak vervul en sy kleed van geregtigheid en heiligheid aan ons gebied het.
Verskeie van die verborgenhede van die evangelie is aan apostels soos Paulus geopenbaar, want dit kon eers gedoen word nadat Christus gekruisig, opgestaan en na die hemel opgevaar het, die Heilige Gees uitgestort is, en die evangelie van verlossing ook aan die nie-Joodse wêreld gebied is. Jesus Christus is self die verpersoonliking van verlossing. Paulus sê aan die gemeente in Rome: “Aan Hom dan wat magtig is om julle te versterk volgens my evangelie en die prediking van Jesus Christus, ooreenkomstig die openbaring van die verborgenheid wat eeue lank verswyg is, maar nou geopenbaar is ... onder al die heidene” (Rom. 16:25-26).
Die Korinthiërs word ook herinner aan die groot voorreg wat hulle gehad het deur kennis te neem van ’n verborgenheid wat eeue lank bedek was maar met die koms van Christus geopenbaar is (1 Kor. 2:7). Die Efésiërs verkry insig in dieselfde saak, en verneem ook dat God alles deur sy Seun geskape het (Ef. 3:3-7, 9). Paulus vra vir Christene in hierdie gemeente om vir hom voorbidding te doen, “sodat ’n woord my gegee mag word as ek my mond oopmaak om met vrymoedigheid die verborgenheid van die evangelie bekend te maak” (Ef. 6:19). Hy het dieselfde versoek aan die Kolossense gerig, en gevra dat daar vir hom gebid moes word om selfs in die gevangenis getrou te bly aan die verkondiging van die verborgenheid van Christus (Kol. 4:3; kyk ook Kol. 1:26-27; 2:2).
In sy pastorale brief aan Timótheüs wys Paulus op die belangrike feit dat Jesus Christus self God is wat in ’n menslike liggaam verskyn het om die evangelie van verlossing ’n werklikheid te maak: “En, onteenseglik, die verborgenheid van die godsaligheid is groot: God is geopenbaar in die vlees, is geregverdig in die Gees, het verskyn aan engele, is verkondig onder die heidene, is geglo in die wêreld, is opgeneem in heerlikheid” (1 Tim. 3:16). Mense wat nie van hierdie verborgenhede bewus is nie, betwis die Godheid van Jesus Christus, aanvaar nie die Drie-eenheid van God nie, begryp nie die volle implikasies van Jesus se kruisdood nie, sukkel om die oorgang van die wet na genade te maak, en raak maklik betrokke by geestelike dwalings en beweerde buite-Bybelse openbarings van God.
In die Ou Testament het die Here ’n volk (Israel) as sy verteenwoordigers op aarde aangestel, maar in die Nuwe Testament gebruik Hy ’n totaal ander groep individue wat bestaan uit geredde persone uit alle nasies – die kerk. Hulle word geestelik saamgevoeg in een groep wat as die liggaam van Christus beskryf word. Voor die koms van Christus was dit heeltemal onbekend dat daar so ’n groep tot stand sou kom, maar vir ons is dit ’n praktiese werklikheid.
Die Here Jesus koester en versorg sy gemeente sodat Hy haar in sy diens kan gebruik. Sy word verder ook voorberei om tydens sy wederkoms as sy vrou met Hom verenig te word. Tans is sy soos ’n verloofde bruid wat op die koms van die Bruidegom wag. Paulus sê:
“Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees. ... Want ons is lede van sy liggaam ... Hierdie verborgenheid is groot, maar ek sê dit met die oog op Christus en die gemeente” (Ef. 5:25-32).
Die liggaam van Christus is oor die hele aarde versprei. Geestelik is dit wel ’n eenheid waarin alle lede broers en susters in die Here is, maar op die uiterlike, strukturele vlak, bestaan die liggaam as plaaslike gemeentes wat almal deur die leiding van die Heilige Gees, op grond van die Woord van God, en onder die gesag van Christus, as afsonderlike gemeentes funksioneer.
Die Here verwag van elke Christen dat hy sy verantwoordelikheid as ’n lid van hierdie liggaam sal besef. Sy eie liggaam, siel en gees word deel van die tempel van die Heilige Gees, en dit verbind hom tot ’n heilige lewenswandel. Sommige gelowiges leef egter in sonde en word deur vleeslike ideale gemotiveer. Paulus vra vir hulle: “Weet julle nie dat julle ’n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?” (1 Kor. 3:16; vgl. 1 Kor. 6:19-20).
Dit is elkeen van ons se taak om vas te stel wat ons funksie in die liggaam is, want die lede vervul almal aanvullende funksies om die geheel doeltreffend te laat funksioneer: “Want soos ons in een liggaam baie lede het en die lede nie almal dieselfde werking het nie, so is ons almal saam een liggaam in Christus en elkeen afsonderlik lede van mekaar. En ons besit genadegawes wat verskil volgens die genade wat aan ons gegee is: is dit profesie, na die maat van die geloof; of bediening, in die werk van bediening; of wie leer, in die lering; of wie vermaan, in die vermaning; wie uitdeel, in opregtheid; wie ’n voorganger is, met ywer; wie barmhartigheid bewys, met blymoedigheid“ (Rom. 12:4-8).
Daar is vandag baie mense wat, onafhanklik van die Bybel, profesieë uitspreek. Ons is egter tot die Woord van God gebonde en moenie daarvan afwyk nie (Op. 22:18-19). Slegs Bybelse profesieë moet verkondig word, tesame met boodskappe oor bemoediging en geestelike opbouing: “Maar hy wat profeteer, spreek tot die mense woorde van stigting en troos en bemoediging” (1 Kor. 14:3).
Persone wat leiding neem in die gemeente van Christus, moet “die verborgenheid van die geloof in ’n rein gewete hou” (1 Tim. 3:9). Dit beteken hulle moet die diep waarhede van die geloofslewe in Christus verstaan en ook aan ander kan oordra. Terwyl hulle dit doen, moet hulle deurgaans ’n rein gewete hê, wat vereis dat hulle niks sal doen wat in stryd is met hulle geloof en getuienis nie. Hulle moenie een ding verkondig en ’n ander ding doen nie.
Die verborgenheid van die Nuwe-Testamentiese geloof impliseer dat geloof, soos wat dit in Ou-Testamentiese tye beoefen is, veel meer inhoud gekry het ná die koms van Christus. Dit gaan gepaard met ’n vaste oortuiging dat Jesus God die Seun is wat mens geword het sodat Hy die liefde van die Vader aan ons kon openbaar. Hierdie liefde het Hom daartoe beweeg om sy lewe vir ons af te lê sodat ’n losprys vir ons sonde betaal kon word. Ons kan net op grond van Christus se soenverdienste tot die Vader nader, met die vaste versekering dat Hy ons in die Naam van sy Seun sal verhoor en in genade aansien.
’n Ware geloof is die vrug van die Heilige Gees, en dus ’n Godgegewe vermoë om op ’n diep geestelike vlak bewus te wees van ons sonde en verlorenheid, maar ook van die genade en kwytskelding van sonde wat Christus aan ons bied. Mense wat nog nie die evangelie van Christus gehoor en aangeneem het nie (vgl. Rom. 10:17), is steeds verlore, al “glo” hulle ook in ander gode of ander maniere van verlossing. Hulle is die slagoffers van misleiding, en as sodanig uit ’n Bybelse oogpunt steeds ongelowiges: “Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie” (2 Kor. 4:3-4).
Die verborgenheid van ’n ware geloof is net in die Nuwe Testament geopenbaar, en dit moet aan almal verkondig word wat nog nie Christene is nie. Wanneer hierdie groot gawe van God ontdek is, sal mense nie hulle saligheid in ander gelowe, in hulle eie werke of in die werke van die wet soek nie. Jesus Christus lei sondaars uit die duisternis van slawerny aan sonde na die wonderbare lig van ware geestelike vryheid. Hy lei ook wettiese Jode uit hulle Ou-Testamentiese oriëntasie in hierdie nuwe verhouding met die Drie-enige God, “want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo” (Rom. 10:4).
Jesus Christus se versoening aan die kruis is die fondament van ’n nuwe lewe in Hom, waarin ons deur die Heilige Gees gelei word en ook die vaste riglyne in sy Woord kan verstaan, sodat ons meer insae in die wil van God vir ons lewe kan verkry: “In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade, wat Hy oorvloedig aan ons bewys het in alle wysheid en verstand, deurdat Hy aan ons die verborgenheid van sy wil bekend gemaak het na sy welbehae wat Hy in Homself voorgeneem het” (Ef. 1:7-9).
Daar is algemene aspekte van God se wil vir die mensdom wat duidelik in sy Woord uitgespel is. Die eerste is dat God nie wil hê dat ’n enkele mens verlore moet gaan nie, maar dat almal gered sal word. Ná die koms van Christus verkondig God “aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer” (Hand. 17:30). “God, ons Verlosser, wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom” (1 Tim. 2:3-4). “Die Here ... wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom” (2 Pet. 3:9).
Tweedens is dit die uitgesproke wil van God dat al sy kinders heilig sal leef: “Want dit is die wil van God: julle heiligmaking. ... Want God het ons nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligmaking. Daarom, hy wat dit verwerp, verwerp nie ’n mens nie, maar God wat ook sy Heilige Gees aan ons gegee het” (1 Thess. 4:3, 7-8). Die Here wil ons deur heiligmaking en ’n grondige kennis van sy Woord toerus om meer volkome volgens sy wil te kan leef. Paulus bid die Kolossense toe, “... dat julle vervul mag word met die kennis van sy wil in alle wysheid en geestelike insig, sodat julle waardiglik voor die Here mag wandel om Hom in alles te behaag en julle in elke goeie werk vrug mag dra en in die kennis van God mag groei” (Kol. 1:9-10).
Daar is egter verskeie situasies in die lewe, asook keuses wat ons moet doen, waaroor die Bybel nie spesifieke leiding gee nie. In sulke gevalle verwag die Here van ons om self besluite te neem wat in die beste belang van sy koninkryk sal wees, en dus ook in ons eie beste belang. Om dit te kan doen, moet ons ’n goeie kennis van sy Woord hê want dit, saam met die leiding van die Heilige Gees, sal aan ons “verligte oë van die verstand” gee (Ef. 1:18) sodat ons geestelike feite en sekulêre oorwegings saam in ag kan neem.
Dit is slegs mense wat die verborgenheid van die Here se wil verstaan, wat besluite kan neem wat Hom sal behaag en terselfdertyd ook ons oorlewing sal verseker te midde van moeilike ekonomiese en ander omstandighede waaraan die meeste mense – ook toegewyde Christene –onderworpe is.