Johan Malan, Mosselbaai (Desember 2013)
Romeine 8 sluit af met ’n verhewe beskrywing van God se liefde wat deur Jesus Christus oor ’n verlore mensdom uitgestort is sodat ons herskep kan word om nie meer vyande van God te wees nie, maar gunsgenote. God die Vader het self die grootste offer gebring om hierdie verhouding moontlik te maak: “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal [Jode én nie-Jode] oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?” (Rom. 8:32). Die Verlosser het nie net gesterf om ons voor God te regverdig nie, maar is ook opgewek en tree voortdurend by die Vader se troon vir ons in (Rom. 8:34). Hy het die dood en die sonde oorwin, daarom kan geen magte in die lewe óf in die dood ons van sy liefde skei nie. ’n Voortgesette verhouding met God is net deur Hom moontlik.
In die lig van die lewensveranderende liefde van God deur sy Seun, is dit in almal van ons se belang om duidelikheid oor die volgende vrae te verkry: Wat word van mense wat hulle lewe buite die liefde en versoening van Christus probeer lei? Wat sou word van Israel, wat as volk die Messias verwerp het nadat God hulle gebruik het om die koms van sy Seun voor te berei, en uit wie Christus as die Seun van die mens gebore is? Hoe sou die geestelike blindheid van die uitverkore volk hulle verhouding met die Here raak, en wat sou die invloed daarvan op die verbonde tussen hulle en God wees? Paulus sê dit sou tot die gedeeltelike verharding van Israel lei, en dit is die onderwerp van een van die verborgenhede wat in die Nuwe Testament aan ons geopenbaar word.
In Romeine 9 tot 11 beskryf Paulus die roeping van Israel as God se volk, die redes vir hulle geestelike mislukking, asook hulle eindtydse herstel wanneer die hele volk met die Messias versoen sal word. Hy wys daarop dat die verharding van die verbondsvolk nie permanent sou wees nie, dat God se verbonde met Israel nie gekanselleer is nie, en dat daar altyd ’n klein oorblyfsel gelowige Israeliete was wat die Here behaag het. Hy wys ook daarop dat Israel weens ongeloof hulle sentrale plek in God se heilsplan vir die wêreld verloor het, maar dat hierdie gebroke verhouding tydens die Messias se wederkoms volkome herstel sal word.
Die kerk se rol in wêreldevangelisasie dui dus nie op ’n situasie waarin Israel deur die hoofsaaklik nie-Joodse kerk vervang is nie (die sogenaamde Vervangingsteologie), daarom moet die kerk nie arrogant of eiewys optree deur Israel se historiese én profetiese rol in die openbaring en uitbreiding van God se koninkryk op aarde te probeer ontken of geringskat nie. Die Here beklemtoon die feit dat Israel selfs in hulle gevalle en verharde toestand ’n seën vir die wêreld is, en dat hulle nog veel meer ’n seën sal wees wanneer hulle die Messias as Verlosser en Koning aanvaar het. Daar is dus geen ruimte in die Christelike kerk vir anti-Joodse sentimente en die ontkenning van Israel se nasionale regte op hulle land wanneer die Here hulle in die eindtyd herstel nie.
Al hierdie diepsinnige waarhede is deel van ’n verborgenheid wat nie vroeër bekend was nie, maar wat deur middel van Paulus se bediening aan die Christelike kerk bekend gemaak word. Hy sê vir die gemeente in Rome: “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het; en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend” (Rom. 11:25-26). In hierdie twee verse word verskeie belangrike stellings gemaak waaraan daar ten volle erkenning gegee moet word in Nuwe-Testamentiese teologie:
· Israel sou in ’n toestand van geestelike verhardheid kom. Dit sou net ten dele wees deurdat hierdie toestand nie permanent sou voortduur nie maar beslis in ’n stadium beëindig sal word. Die voegwoord totdat beteken “tot op die oomblik dat ...” en dui op ’n definitiewe keerpunt in die situasie of toestand wat beskryf word. Die tydperk van Israel se nasionale verharding sou egter regdeur die kerkbedeling voortduur terwyl die volheid van die nie-Joodse volke deur middel van wêreldevangelisasie ingebring word.
· ’n Ander implikasie van die begrip “ten dele” is dat dit nie die hele Israel sal wees wat geestelik verblind en verhard is nie. Daar sal altyd ’n relatief klein oorblyfsel van die volk wees wat die geestelike voortbestaan van Israel deurlopend sal bevestig.
· Gelowiges onder die nasies moenie op Israel se tydelike ongeloof oorreageer en in stryd met Bybelse uitsprake meen dat Israel se rol in God se plan vir die nasies uitgedien is en deur die kerk vervang is nie. Dit is nie die geval nie.
· Die nasionale bekering van Israel sal eers plaasvind wanneer die Messias kom en sy voete op die Olyfberg neersit. Dan sal die “hele Israel” gered en meer as ooit tevore gebruik word in die vestiging en uitbreiding van God se koninkryk op aarde.
Die profetiese keerpunt wat volgens die begrip “totdat” in Romeine 11:25 vir Israel sal aanbreek, sluit aan by twee ander uitsprake wat die Here Jesus gemaak het. In sy profetiese rede het Hy gesê: “Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:24). Aan die einde van die kerkbedeling, wanneer die volheid van die heidense (nie-Joodse) nasies in die koninkryk van God ingegaan het, sal Israel én hulle hoofstad Jerusalem herstel word – ook geestelik as die volk van God en die stad van die Groot Koning (vgl. Ps. 48:2-3).
Christus het by ’n ander geleentheid ook vir die inwoners van Jerusalem gesê: “Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23:39). Dit sal die sleutel wees tot Israel se nasionale geestelike ontwaking, en die hoogtepunt van hulle volledige eindtydse herstel tydens die wederkoms van die Messias. Daarna sal die hele Israel die Here van harte dien: “En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die Here; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die Here; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie” (Jer. 31:34).
Die verborgenheid oor Israel se roeping, geestelike blindheid én uiteindelike redding as volk is ten volle aan ons geopenbaar. Die Here verwag van ons om hiervan kennis te neem en nie op ’n ondankbare en oneerbare manier teenoor Israel op te tree nie. Ons moet uit Israel se foute leer (1 Kor. 10:1-12), en terselfdertyd ook ondersteuners van Israel wees wat voorbidding doen vir die volle herstel van hierdie volk en hulle hoofstad, Jerusalem (Jes. 62:6-7; Ps. 122:6).
Paulus verwys in Romeine 9 na al die voorregte wat Israel geniet het om deur die Here as sy spesiale volk uitverkies te word – die beloftes aan die aartsvaders, die volk se aanneming as kinders van God, die gewaarborgde seën deur al die verbonde wat met hulle gesluit is, die wette van die Here waardeur die beginsels van ’n heilige lewe neergelê is, asook die godsdienstige seremonies in die tabernakel en later in die tempel, waaronder prediking, gebede, die offerdiens en die raadpleeg van die Here (Rom. 9:4-5).
Al hierdie godsdienstige aktiwiteite en openbarings van die Here deur Israel was egter net ter voorbereiding op die menswording van God se Seun aan wie alle heerskappy op aarde oorgegee is. Israel is dus ’n baie spesiale volk, “uit wie die Christus is na die vlees – Hy wat oor alles is, God, lofwaardig tot in alle ewigheid” (Rom. 9:5). Jesaja wys ook daarop dat Hy die “Sterke God” is wat in Jerusalem op die troon van Dawid sal regeer (Jes. 9:5-6).
Dit was vir Paulus ’n bron van groot smarte dat Israel nie hulle verhewe roeping besef het om in die volle sin van die woord ’n Messiaanse volk te wees nie (Rom. 9:1-3). Hulle het nie in die Here se weë gewandel en Hom van harte gedien nie, en daardeur het hulle hulself onwaardig gemaak om die Messias te ontvang, te erken en te gehoorsaam. Net ’n klein groepie Jode was geestelik reg ingestel, daarom sê Paulus: “... want hulle is nie almal Israel wat uit Israel is nie” (Rom. 9:6). Net diegene wat werklik ’n geloofsverhouding met die Here gehad het, was geestelik gesproke Israeliete (“Stryders vir God”). Die ander was slegs Israeliete in naam, maar in werklikheid ongelowig en geestelik dood.
In Romeine 9 tot 11 word ’n onderwerp bespreek wat in baie kringe omstrede is, naamlik wie die finale verantwoordelikheid vir mense se geloof of ongeloof het. Is dit God of die mense self? God bepaal die gevolge van die situasie waarin alle mense hulleself bevind – óf as ontvangers van sy genade óf as die voorwerpe van sy toorn. Hy wil groot en wonderlike dinge op aarde openbaar deur middel van die vestiging van sy koninkryk, daarom verkies Hy gelowiges en stel hulle aan as diensknegte om sy koninkryk deur hulle te bevorder. Die ongelowiges wat hulle harte teen Hom verhard, is self daarvoor verantwoordelik dat God hulle harte nog verder verhard. Op dié manier word hulle aan God se oordele onderwerp sodat sy opperheerskappy op dié manier bevestig kan word.
Weens die Here se voorkennis oor hoedanig mense ten opsigte van sy eise oor geloof en heiligheid gaan reageer, kan Hy hulle vooraf reeds as begenadigdes of veroordeeldes beskryf. Dit dui egter nie op ’n rigiede uitverkiesingsleer waarin die mens geen keuse oor sy uiteindelike bestemming het nie. Selfs Farao het ’n keuse uitgeoefen om God en sy volk teë te staan. Die Here het dit geweet en Farao se hart verder verhard sodat Hy sy almag oor die ongelowige Egiptenare kon toon.
Wat Israel betref, het Hy die hele volk verkies om sy gunsgenote, diensknegte en getuies te wees. Dit het ’n verantwoordelikheid op elke lid van die volk geplaas om ’n vrye wilsbesluit te neem ten opsigte van geloof in God en die handhawing van ’n verhouding met Hom. Die meeste van hulle het nie ’n positiewe keuse uitgeoefen nie, daarom het verkiesing vir hulle in verwerping verander.
Kort na Israel se uittog uit Egipte en die belewenis van God se magtige dade van verlossing, het die volk in ongeloof en afgodediens verval. Wat het van hulle uitverkiesing geword? “Maar God het in die meeste van hulle geen welgevalle gehad nie, want hulle is neergeslaan in die woestyn” (1 Kor. 10:5; vgl. Ps. 95:10-11). Selfs nadat hulle die Beloofde Land beërf het, het hierdie neiging tot afvalligheid voortgeduur. Josua was baie ongelukkig hieroor, maar het hulle vrye wilsbesluit eerbiedig: “Maar as dit verkeerd is in julle oë om die Here te dien, kies dan vir julle vandag wie julle wil dien: òf die gode wat julle vaders daar oorkant die Eufraat gedien het, òf die gode van die Amoriete in wie se land julle woon; maar ek en my huis, ons sal die Here dien” (Jos. 24:15).
Tydens Jesus se eerste koms het dieselfde situasie geheers. Hy wou Jerusalem se inwoners by Homself versamel as volgelinge van hulle lank beloofde Messias, maar hulle was geestelik afgestomp en het geweier om Hom te erken. Hy het vir hulle gesê: “Hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak ... en julle wou nie! Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat” (Matt. 23:37-38). Israel se verkiesing het deur hulle eie toedoen in ’n lang tyd van verworpenheid oorgegaan. Wanneer Paulus dus sê dat God aan hulle ’n gees van diepe slaap gegee het sodat hulle nie kan sien of hoor nie (Rom. 11:8), was hulle self hiervoor verantwoordelik. As gunsgenote van God en lede van sy uitverkore volk het hulle alle rede en ook die volle geleentheid gehad om die Messias aan te neem, maar hulle het nie. God het hulle nie eensydig uitgesluit nie, want die evangelie van Christus was nog altyd “’n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek” (Rom. 1:16).
Die Here wil nie hê dat een mens verlore moet gaan nie, maar dat almal gered moet word (Hand. 17:30; 1 Tim. 2:3-4; 2 Pet. 3:9). Wanneer dit by redding kom, maak dit hoegenaamd nie saak of die betrokke persoon ’n lid is van die uitverkore volk (Israel) of van een of ander heidense volk nie. Al wat saak maak is of hy God se genade wat deur Jesus Christus aan hom gebied word, aanvaar: “Want daar is geen onderskeid tussen Jood en Griek nie; dieselfde Here is tog Here van almal en ryk oor almal wat Hom aanroep. Want: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word” (Rom. 10:12-13). Hy sal slegs diegene oordeel wat uit eie beweging sy aanbod van genade verwerp het, ongeag van watter volksverband hulle is.
Israel se verkeerde beskouing oor die doel en rol van die wet het daartoe gelei dat hulle die Messias verwerp het, terwyl die wet in werklikheid bedoel was om die weg tot die aanvaarding van die Messias voor te berei. Die heidene wat nie die wet gehad het nie, het makliker tot bekering gekom en ’n geloofsband met Christus aangeknoop. Vir die heidene wat die evangelie geglo het, het verworpenheid in verkiesing verander, terwyl lede van Israel wat die evangelie deur hulle ongeloof teëgestaan het, van hulleself verworpenes gemaak het:
“Wat sal ons dan sê? Dat die heidene, wat die geregtigheid nie nagejaag het nie, die geregtigheid verkry het, naamlik die geregtigheid wat uit die geloof is; terwyl Israel, wat die wet van die geregtigheid nagejaag het, die wet van die geregtigheid nie bereik het nie. Waarom? Omdat dit nie uit die geloof was nie, maar net asof dit uit die werke van die wet was; want hulle het hul gestamp teen die steen van aanstoot. Soos geskrywe is: Kyk, Ek lê in Sion ’n steen van aanstoot en ’n rots van struikeling; en elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie.” (Rom. 9:30-33).
Waarom het die wet vir die Jode ’n struikelblok geword? Omdat die onderhouding van die wet nie ’n geloofshandeling was nie, maar ’n vorm van werkeheiligheid gebaseer op eie pogings om die wet te onderhou. Indien wetsonderhouding met die geloof verenig was, sou hulle hul onvermoë erken het om die wet te onderhou, en die Here vir die vergifnis van hulle sondes vertrou het. In dié geval sou die wet vir hulle ’n tugmeester na die Messias gewees het (Gal. 3:24), want Hy het gekom om sy volk van hulle sondes te verlos (Matt. 1:21; Hand. 4:12).
Gelowige Jode het wel die oorgang van die wet na genade gemaak. Paulus het gesê die doel van sy lewe was om in Christus gevind te word, “nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof” (Fil. 3:9).
Vir die vormgodsdienstige Jode was die wet ’n einddoel tot geregtigheid, daarom het hulle nie hulle geregtigheid in die geloofsaanvaarding van die Messias gesoek nie. Hy was eerder vir hulle ’n struikelblok omdat Hy hulle wettiese eiegeregtigheid verwerp en hulle skynheiligheid geopenbaar het. Hierdie Jode het nie aan die roeping van God voldoen nie en dus nie Messiaanse Jode geword nie: “Want omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid probeer oprig, het hulle hul aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie. Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo” (Rom. 10:3-4).
Die meerderheid Jode het hulleself van God vervreem as gevolg van hulle verkeerde begrip van die wet. Diegene wat dit nie gedoen het nie, en wat God deur die geloof behaag het, was altyd net ’n klein minderheid: “Al is die getal van die kinders van Israel soos die sand van die see, net die oorblyfsel sal gered word” (Rom. 9:27).
Dit is ’n universele reël dat mense net deur die geloof geregverdig kan word by God. “Abraham het in God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken” (Rom. 4:3). In ’n geloofsverhouding speel gebed ’n groot rol, en sulke mense raak bewus van hulle sonde wanneer hulle in gebed tot God nader. In Ou-Testamentiese tye het die Here aan Israel sy wet gegee om aan hulle te toon wat die beginsels van sy geregtigheid is, en hulle sodoende van hulle eie sonde bewus te maak. Hy het hulle sonde vergewe (Rom. 4:7-8), hoewel die skaduagtige sondoffers van die Ou Verbond toe nog nie in die eenmalige offer van die Lam van God vervul is nie.
Indien die wet en die offerdiens reg verstaan is, sou dit gelowiges na die Here gedryf en hulle geloof versterk het omdat hulle nie uit eie krag die vereistes van die wet kon nakom nie. Die meeste Israeliete het egter die fout gemaak om die werke van die wet voorop te stel en net dit na te streef, eerder as ’n aktiewe geloofsverhouding met die Here. Hulle het die slawe van ’n godsdiensstelsel geword, waarin hulle primêr in hulle eie werke geroem het. Omdat die soeke na sondevergifnis nie sterk aanwesig was nie, was hulle nie ingestel op die koms van die lydende Messias wat die oortredings van die volk op Hom kon neem nie (vgl. Jes. 53:5). Toe Jesus as die Lam van God gekom het om juis hierdie rol te vervul, het hulle Hom verwerp.
In Nuwe-Testamentiese tye maak baie mense presies dieselfde fout. Hulle soek hulle heil in ’n godsdiensstelsel met al sy rituele en seremonies, maar kan nie van ’n persoonlike verhouding met die Here Jesus getuig nie en het ’n powere gebedslewe. Hulle roem dus ook in hulle godsdienstige werke, maar nie in hulle geloof nie. Hierdie probleem moet dringend reggestel word, en daarvoor is ’n eerlike selfondersoek nodig: “Ondersoek julself of julle in die geloof is; stel julself op die proef. Of is julle nie seker van julself dat Jesus Christus in julle is nie?” (2 Kor. 13:5). Evangeliese prediking is die oplossing vir hierdie probleem: “Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die Woord van God” (Rom. 10:17).
Onder die meerderheid Israeliete wat vir Jesus as Messias verwerp het, het ongeloof en vormgodsdiens die oorhand gekry. Dit het Israel as volk gediskwalifiseer om onder die Nuwe Verbond die Messias se getuies op aarde te wees, daarom het die verantwoordelikheid vir die evangelisering van die wêreld spoedig in die hande van nie-Joodse getuies van Christus geval.
Dit is van die grootste belang dat ons Israel se rol as ’n openbaringskanaal van God se koninkryk raaksien en ten volle erken, want dit het vierduisend jaar gelede by die roeping van Abraham begin, en sal binnekort weer ’n nuwe fase betree wanneer die Messias-Koning terugkeer. Deur God se toedoen sal Israel as volk vir altyd voortbestaan: “Want Ek is met jou, spreek die Here, om jou te verlos. Want Ek sal ’n einde maak aan al die nasies waarheen Ek jou verstrooi het; maar aan jou sal Ek geen einde maak nie, maar Ek sal jou tugtig met mate, al sal Ek jou sekerlik nie ongestraf laat bly nie” (Jer. 30:11; vgl. Lev. 26:44-45). In die komende verdrukking sal ’n oorblyfsel van Israel gered word om die Messiasryk te beërf (Jer. 30:7).
In watter opsig is Israel in die kerkbedeling vir ons ’n seën terwyl hulle geestelik verblind is? Paulus het die kerk in Rome vroeër reeds daarop gewys dat Israel die kanaal is waardeur die Woord van God na die mensdom gekom het, en dat dit beslis nie almal van hulle is wat afvallig en geestelik verhard geraak het nie: “Wat is dan die voordeel van die Jood? Of wat is die nut van die besnydenis? Groot, in alle opsigte: ten eerste tog seker dat aan hulle die woorde van God toevertrou is. Want wat maak dit as sommige ontrou geword het? Sal hulle ontrou miskien die getrouheid van God vernietig? Nee, stellig nie!” (Rom. 3:1-4).
In Romeine 11 sê Paulus dat selfs die afvalligheid van Israel tot die nie-Joodse wêreld se voordeel is, want nadat hulle as volk die saligheid wat deur die Messias aan hulle gebied is geweier het, het die opdrag gekom om dit aan die heidene (die nie-Joodse nasies) te gaan verkondig. Ons het dus ook erfgename van God se koninkryk geword, en sal in die toekoms op ’n nuwe manier deur Israel bevoordeel word wanneer hulle ook die Messias sal aanneem en dien: “Ek vra dan: Het hulle miskien gestruikel om te val? Nee, stellig nie! Maar deur hulle val het die saligheid tot die heidene gekom om hulle jaloers te maak. En as hulle val die rykdom van die wêreld is en hulle tekort die rykdom van die heidene, hoeveel te meer sal hulle volheid dit nie wees nie! ... Want as hulle verwerping die versoening van die wêreld is, wat sal hulle aanneming anders wees as lewe uit die dode?” (Rom. 11:11-12, 15).
Ons moet Israel nie verwerp of verkleineer weens hulle geestelike hardheid nie, maar hulle inteendeel jaloers maak op die manier waarop ons die God van Abraham, Isak en Jakob deur die Messias, Jesus van Nasaret, dien. Hulle moet hulle eie geestelike armoede besef by die aanskoue van ons geestelike rykdom in die Here. Ons sal dit slegs ten volle kan doen as ons die verborgenhede rondom Israel se verlede, hede en toekoms reg verstaan.
In Romeine 11 word die geestelike koninkryk van die Messias op aarde met ’n olyfboom vergelyk. Hierdie boom is ’n skepping van God. Sy wortel wat in die verborge, onsigbare, geestelike sfeer werksaam is, is die Verlosser van die mensdom, Jesus Christus, wat self ook God is. Die boom wat uit die wortel groei, is ’n geslag mense wat deur God geroep is om sy koninkryk op aarde te vestig. Hulle is Abraham, Isak en Jakob; en ná Jakob ’n volk bestaande uit die twaalf stamme van Israel. In die stam van Juda, in die koninklike familie van Dawid, is die Messias gebore as die Seun van Dawid en erfgenaam van sy koninklike troon.
Volgens Openbaring 22:16 is Jesus “die wortel en die geslag van Dawid”. As die wortel van Dawid (en van die olyfboom) is Hy die oorsprong, of Here, van Dawid. As die geslag van Dawid is Hy die Seun van Dawid wat mens geword het om Homself vir ons sondes te offer én ook in die Millennium op die troon van Dawid te regeer. Paulus verwys ook na ’n uitspraak in Jesaja waarin Jesus as die wortel van Ísai (Dawid se vader) beskryf word: “En Jesaja sê ook: die wortel van Ísai sal daar wees, en Hy wat opstaan om oor die nasies te heers, op Hom sal die nasies hoop” (Rom. 15:12; vgl. Luk. 1:32). Die uitdrukking “die wortel van Ísai” verwys na Jesus se natuur as God, want Hy het voor Ísai reeds bestaan. Hy is die oorsprong van alle seëninge, en op Hom moet alle mense hoop. Gedurende die Millennium sal Hy nog in ’n meerdere mate die toonbeeld van alle mense se hoop en verwagting wees.
Aan die eerste aartsvader, Abraham, is dit duidelik gestel dat die Messias wat uit sy nageslag gebore sou word, God se koninkryk onder alle nasies sou vestig (Gen. 12:3). “Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet [waardeur ons nie gered kan word nie] ... sodat die seën van Abraham na die heidene kan kom in Christus Jesus” (Gal 3:13-14; vgl. Jes. 49:5-6). Die opdrag tot wêreldevangelisasie kon egter eers ná die koms van die Messias gegee word. In Ou-Testamentiese tye het God sy koninkryk in en deur Israel uitgebrei, sodat hulle die takke van die olyfboom geword het.
Deur hulle weiering om die Messias te aanvaar, het Israel die maat van hulle vaders se ongeloof en sonde vol gemaak (Matt. 23:29-39). Die verwerping van die Messias, wat die wortel van die olyfboom is, het daartoe gelei dat Israel as volk (die mak takke) afgekap is en verdroog het. Takke van wilde olyfbome (die heidennasies) is in hulle plek in die stam van die olyfboom ingeënt omdat hulle die Messias as Verlosser aanvaar het (Rom. 11:17-24).
Dit is belangrik om daarop te let dat nie-Joodse gelowiges deel kry van die vettigheid van die wortel en stam van die boom – nie van sy takke (die volk Israel) nie. Dit maak van hierdie olyfboom iets veel meer as net die Joodse volk. Ons word in die Messias ingeënt, soos ons ook uit die gelykenis van die wynstok leer (Joh. 15:1-7), en nie in die Joodse volk nie. Ons het in ons geloofslewe Christelike wortels en nie Hebreeuse wortels nie.
Ons keer dus nie terug na skaduagtige gebruike onder die wet soos wat die gemeente van die Galásiërs gedoen het nie, maar gaan voort na ’n totaal nuwe lewe in Jesus Christus. Ons het nêrens in die Bybel ’n opdrag om soos Israel (die verdroogde mak takke van die olyfboom) te word en saam met hulle ortodokse feeste en Sabbatte te hou waarin die Here Jesus nie erken en vereer word nie. Ons vier die godsdienstige feeste as vervulde Messiaanse feeste, met ander woorde met ’n duidelike Nuwe-Testamentiese inslag, anders verloën ons Christus.
Die inenting in die olyfboom staan in verband met geestelike lewendmaking en die verkryging van ’n Christelike identiteit. ’n Ongeredde Griek wat tot bekering kom, word deel van die olyfboom omdat hy dan ’n geredde Griek is. Hy word nie ’n Jood (een van die mak takke) nie. So ook is net Messiaanse Jode deel van die boom, omdat hulle in die wortel en stam (die Messias) is. Wanneer hulle weens ongeloof afgekap word, bly hulle steeds Jode – net ongelowige Jode. Die olyfboom verander dus nie iemand se etniese identiteit nie. Gelowiges uit élke volk en stam en nasie sal eendag voor die Here staan (Op. 5:9-10; 7:9).
Sommige van die afgekapte mak takke van die olyfboom (ongeredde Jode) sal in die eindtyd weer in die olyfboom ingeënt word, daarom weet ons dat ’n oorblyfsel van Israel as volk gered sal word wanneer die Messias kom (Rom. 11:25-26). Nie-Joodse Christene moet dié belofte aanvaar, vir die vervulling daarvan bid, en ongeredde Jode evangeliseer deur aan hulle die goeie nuus van die Messias te verkondig. Humanitêre hulpverlening aan Israel sonder Christelike evangelisasie is van weinig nut.
Het jy die volle openbaring van die verborgenheid van Israel se gedeeltelike en tydelike verharding ter harte geneem, en beywer jy jouself vir hulle volle herstel sodat tye van verkwikking voor die aangesig van die Here vir almal van ons kan aanbreek? Meer kennis van God se Woord bring ook meer verantwoordelikheid mee om in die lig daarvan te wandel en uitvoering aan die opdragte daarin te gee.
Ons moet ’n goeie kennis van die Bybel hê en deur die Heilige Gees die vermoë om “die woord van die waarheid reg [te] sny” (2 Tim. 2:15). Die Nuwe Afrikaanse Vertaling sê ons moet “die woord van die waarheid suiwer verkondig.” Ons moet dus seker maak dat ons die Woord se grondbetekenis ken en eerbiedig, en dit verklaar in die Bybelse verband waarin dit aangebied word, want dit sal ons lei om die Woord ook korrek op ons eie situasie toe te pas. Om dit te kan doen, vereis ’n deeglike kennis van die progressiewe ontplooiing van God se raadsplan sedert Ou-Testamentiese tye, maar veral ook van die nuwe openbarings wat die Here deur middel van die verklaring van verborgenhede in die Nuwe Testament gee.
Die talle uiteenlopende en dikwels botsende teologiese sieninge oor Bybelse uitsprake in ’n groot aantal kerke in die wêreld is ’n bewys daarvan dat die Woord meesal nie reg beoordeel, suiwer verkondig en dispensasioneel korrek toegepas word nie. Dit is veral uit die vertolking van die verborgenhede duidelik tot watter mate die betrokke eksegete kennis dra van sentrale Bybelse waarhede en die harmonie in die Skrif verstaan. Hoe minder ’n persoon in staat is om ’n verborgenheid te verstaan, hoe meer wend hy homself tot vergeesteliking, allegorisering, die vervangingsteologie, mitologisering, of bloot net humanisties gemotiveerde kritiese denke, om van stellings af weg te kom wat nie met sy eie teologiese verwysingsraamwerk versoen kan word nie. In die proses word daar al hoe verder van Skrifwaarhede af wegbeweeg.
Indien die verborgenheid oor die verharding en eindtydse redding van Israel nie reg verstaan en verklaar word nie, lei dit tot een of meer van die volgende dwalings wat almal uit die Skrif weerlê kan word:
· Israel se geestelike verhardheid word as ’n permanente toestand beskou, met die gevolg dat die geestelike ontwaking van hierdie volk in die eindtyd ontken word. Daar is egter ruim getuienis in die Skrif van Israel se fisiese en geestelike herstel (Eseg. 36:22-28).
· Die rol van die gelowige oorblyfsel in Israel word buite rekening gelaat. Jesus en sy dissipels was deel van die veragte minderheidsgroep, en dit is duidelik dat die goue draad van Israel se heilsgeskiedenis deur hulle loop.
· Israel word permanent deur die kerk vervang as die “volk van God” waardeur Hy sy doel op aarde bereik. Israel se verbonde is egter nie op die kerk oordraagbaar nie, omdat hierdie verbonde onder andere hulle reg bevestig om die Beloofde Land te bewoon (Gen. 13:14-15; Eseg. 11:17).
· Sommige Christene beskou die olyfboom van Romeine 11 as die volk Israel, en sien dit as hulle roeping om self Jode te word deur Hebreeus aan te leer, onder die wet te leef (veral die Sabbatswet), en sodoende ’n nuwe Israel tot stand te bring. Hulle assosieer egter met ’n volk wat tydens die hele Nuwe-Testamentiese bedeling geestelik dood en fisies oor die aarde verstrooi is. Hulle het Hebreeuse wortels in plaas van Christelike wortels.
· Die Messiaanse koninkryk wat aan Israel belowe is nadat hulle met die Messias versoen is, word dispensasioneel deur antichiliaste teruggeskuif en voor die wederkoms van Christus op die kerkbedeling toegepas. Transformasie- en ekumeniese byeenkomste word gebruik om koninkrykstoestande te probeer skep. Dit werk egter nie, want die Bybel praat van ’n groot afval in die laaste dae, wat sal uitloop op die wêreldwye regering van die Antichris (Op. 13:7).
· Die arrogante afleiding word soms gemaak dat die kerk beter as ongelowige Israel is, en sodoende word die waarskuwing vergeet dat die kerk ook van die olyfboom af verwyder kan word indien dit in ongeloof verval (Rom. 11:22). Grootskaalse geloofsverval is juis ’n kenmerk van die eindtydse kerk (1 Tim. 4:1; Op. 3:15-17).
· Die geestelike herlewing van Israel wanneer die Messias kom (Sag. 12:10), word as die verheerliking van die kerk beskou. Die verheerliking van die ware kerk vind egter sewe jaar vroeër tydens die wegraping plaas, net voor die verdrukking.
Al hierdie dwalinge is die direkte gevolg van foutiewe afleidings van Bybelse leerstellings. Geen wonder nie dat die Christelike kerk, behalwe vir relatief klein evangeliese kerke, reeds baie ver van die waarheid van God se Woord afgewyk het. Hulle is die slagoffers van misleiding, en as hulle nie betyds daaruit verlos word nie, sal hulle hulself nie in Christus se koninkryk bevind nie, maar in die Antichris se wêreldryk (Op. 13:3-4, 7).