Verborgenhede wat in die Nuwe Testament Geopenbaar is

Johan Malan, Mosselbaai (November 2013)

Inhoud

1.    Die verborgenheid van die koninkryk van die hemel

2.    Die verborgenheid van Israel se verharding en eindtydse redding

3.    Die verborgenheid van die evangelie van Jesus Christus

4.    Die verborgenheid van die liggaam van Christus

5.    Die verborgenheid van die geloof

6.    Die verborgenheid van die Here se wil

7.    Die verborgenheid van die eerste opstanding

8.    Die verborgenheid van die ongeregtigheid

9.    Die verborgenheid van die dier met die sewe koppe

10.  Die verborgenheid van die ontugtige vrou

Inleiding

In die progressiewe ontplooiing van God se raadsplan vir die mens was daar deur die eeue heen bepaalde tye vir die openbaring van nuwe waarhede. Hierdie openbarings het soms nuwe geestelike bedelings, of dispensasies, in die menslike heilsgeskiedenis ingelui. Die twee mees uitstaande voorbeelde hiervan was die bedeling van die wet wat gevolg het nadat God by Sinai sy gebooie aan Israel gegee het, en die bedeling van genade (waarna ook verwys word as die kerkperiode of die bedeling van die Heilige Gees) wat aangebreek het ná Christus se eerste koms, kruisiging, opstanding, hemelvaart, en die uitstorting van die Heilige Gees. Die volgende vasgestelde geleentheid van hierdie aard sal wees wanneer Christus as Regter en Koning na die aarde terugkeer.

Paulus verwys na die belangrike nuwe fase wat aangebreek het tydens die koms van Christus: “Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun” (Heb. 1:1). Baie van dit wat die Here Jesus in hierdie nuwe bedeling aan ons sê is die vervulling, of verdere uitbreiding, van bekende Ou-Testamentiese waarhede. Baie ander dinge is wesenlik nuut en was dus totaal onbekend tot op die oomblik dat dit aan die mens geopenbaar is. Die Bybel verwys na hierdie nuwe openbarings as die bekendmaking van “verborgenhede”.

Dit is die verantwoordelikheid van Christus se getuies om nie alleen ten volle op hoogte te wees van die nuwe openbarings nie, maar dit ook aan andere te verkondig: “So moet ons dan beskou word as dienaars van Christus en bedienaars van die verborgenhede van God” (1 Kor. 4:1). Wanneer dit gedoen word, sal ander gelowiges ’n meer volledige begrip van Jesus Christus se genadewerk hê, en nie die fout begaan om hulleself geestelik te verarm deur onkunde, of deur leerstellige beginsels van die nuwe bedeling met die vorige bedeling van die wet te probeer vermeng nie. Dit kan rampspoedige gevolge in mense se lewens hê: “Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval” (Gal. 5:4). Dit is dus uiters belangrik om die verborgenhede in die Bybel te ken en in die lig van die nuwe openbarings te wandel.

Daar word in die Nuwe Testament tien verborgenhede genoem, en dit het betrekking op sake wat nie aan Ou-Testamentiese gelowiges bekend was nie. Die Here verwag van al sy dissipels, en veral hulle wat die evangelie verkondig, om kennis van dié nuwe openbarings te dra en dit aktief te verkondig. Dit is slegs as ons al die Nuwe-Testamentiese verborgenhede ten volle begryp en in ag neem, dat ons goed voorbereid sal wees vir verdere openbarings tydens die wederkoms van Christus. Selfs met alles wat ons nou weet, ken ons nog steeds net ten dele en wag daar op ons wonderlike nuwe openbarings in die kennis van God. Paulus sê: “Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is” (1 Kor. 13:12).

Ons gedeeltelike kennis van God en al sy werke beperk egter nie ons kennis van Christus en ons verhouding met Hom nie. Deur die vervulling met die Heilige Gees is ons in staat om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte, lengte, diepte en hoogte van Christus se liefde is wat die kennis oortref, sodat ons vervul kan word tot al die volheid van God (Ef. 3:17-19). Wanneer ons in Jesus Christus se liefde gewortel en gegrond is, sal ons bewus wees van al die nuwe openbarings oor Hom en sy evangelie, asook die verborge planne van die Bose om ons geestelik te mislei. Hierdie kennis sal ons help om afdraaipaaie te vermy en op die regte weg te volhard.

 

Die Verborgenheid van die Koninkryk

Die eerste verborgenheid het betrekking op die koninkryk van God, asook die verskillende vorms waarin dit tydens die mens se heilsgeskiedenis geopenbaar is, en ook verder in die toekoms geopenbaar sal word. Binne die breë raamwerk van die ewige en universele koninkryk van God, is daar in Ou-Testamentiese tye ’n teokratiese, aardse koninkryk ingestel waarin die uitverkore volk, Israel, die spesiale diensknegte en verteenwoordigers van God was. Dit was egter net die vroeë begin van ’n koninkryk wat bestem is om uiteindelik oor die hele aarde te strek en aan lede van alle nasies toegang tot God se ewige koninkryk te verleen.

Die Here het verskeie fases vir die vestiging en uitbreiding van hierdie koninkryk bepaal, naamlik: (a) die Ou-Testamentiese roeping van Israel om as verteenwoordigers en bemiddelaars in God se koninkryk op aarde op te tree; (b) die eerste koms van God se Seun as Verlosser van Israel én die hele wêreld, gevolg deur die Nuwe-Testamentiese bedeling om die geestelike fondament vir God se koninkryk in die harte van mense te lê; en (c) die sigbare openbaring van God se koninkryk op aarde onder die koningskap van sy Seun.

Die koninkryk van die hemel is ’n aardse manifestasie van die groter koninkryk van God, en dus ’n wesenlike deel daarvan. Dit is die rede waarom die twee begrippe soms afwisselend vir dieselfde koninkryk gebruik word (vgl. Matt. 19:23-24). In die Evangelie van Matthëús word ’n groot aantal gelykenisse van die koninkryk van die hemel aangebied, waardeur geestelike verborgenhede verkondig word wat nie in Israel se Ou-Testamentiese koninkryk bekend was nie. Eers wanneer dit verwesenlik is, en toegang tot die koninkryk van God aan alle nasies gebied is, sal daar ’n eskatologiese openbaring van hierdie koninkryk plaasvind.

Die eerste van ’n uitgebreide reeks verborgenhede wat in die Nuwe Testament geopenbaar word, was daarop ingestel om Israel se aandag op die dieper betekenis, geestelike beginsels en groot einddoel van die koninkryk van die hemel te vestig. Dit was vir hulle belangrik om hierdie nuwe perspektief ter harte te neem, anders sou hulle steeds die slagoffers van hulle eie, beperkende denke wees. Hulle godsdienstige tradisie het tydens die koms van die Messias op die volgende fondamente berus:

·      Die Joodse volk het tydens die Here Jesus se aardse bediening al vir tweeduisend jaar die verbond van Abraham gehad, en hulle beskou die besnydenis nog altyd as die toetreepunt tot God se koninkryk.

·      Hulle het al vir 1 400 jaar die wet van die Here gehad as morele riglyne vir hulle as God se volk, en verkeerdelik gemeen dat die wet saligmakende krag het.

·      Hulle het die tabernakel en tempel gehad, wat in samehang met ’n uitgebreide offerdiens gefunksioneer het. Op grond hiervan het hulle ’n ritualistiese tradisie van versoening vir sonde gehad, sonder om te besef dat die bloed van diere nie sonde kan wegneem nie omdat dit slegs vooruit gewys het na die eenmalige offer van die Lam van God (Heb. 10:1-10).

·      Hulle het ’n Jerusalemgebaseerde koninkryk gehad waarin ’n koning God se aardse koninkryk bedryf het in samewerking met godsdiensleiers soos priesters en profete. God het die veiligheid van hierdie koninkryk teen vyandige aanvalle gewaarborg indien sy volk gehoorsaam was en in sy weë gewandel het.

Israel wou hierdie voorlopige en skaduagtige fase in die koninkryk van die hemel in sy bestaande vorm voortsit, en was gevolglik teen enige gedagtes oor geestelike vernuwing gekant. Hulle het net op die Messias gewag om die troon van Dawid te herstel, die tempel in Jerusalem te herbou, die offerdiens weer in te stel sodat die verbondsvolk met God versoen kon word, en dan met God se hulp ’n sterk weermag op te bou om alle gevare van buite af militêr te vernietig.

Toe Jesus egter daarop aanspraak gemaak het dat Hy Israel se Messias is, en Hy geen poging aangewend het om die volk van oorheersing deur die Romeinse Ryk te bevry nie, is Hy summier deur die volksleiers verwerp. As God het Hy egter alle skatte van wysheid en kennis gehad, daarom het Hy deur gelykenisse tot Israel gespreek om sodoende die verborge aspekte van sy koninkryk aan hulle te verduidelik.

Omdat Israel die koninkryk van die hemel genasionaliseer en net vir hulleself toegeëien het, het hulle nie die groter en meer verhewe doelstellings van hierdie koninkryk begryp nie, en gevolglik nie gewag op die vervulling van die Ou-Testamentiese offerdiens deur die soendood van die Messias as die Lam van God nie. Hulle het steeds gemeen dat lidmaatskap van hierdie koninkryk tot Israel beperk is, en dat dit benewens biologiese afkoms van Israel se twaalf stamme op ’n ritualistiese wyse deur die besnydenis, die onderhouding van die wet en die offerdiens verkry kon word. Dit beteken dat nie-Jode van God se koninkryk uitgesluit word.

Jesus het aan hulle verduidelik wat die ware aard en universele doelstellings van hierdie koninkryk is, wat die streng geestelike voorwaardes is waaraan hulle moes voldoen (Joh. 3:3), en wat die aard van die geestelike bedreigings is waarmee hulle te kampe sou hê om as lede van God se koninkryk oorwinnend te kon leef. Baie van hierdie inligting was totaal onbekend aan die volk, daarom het Jesus gesê: “Ek sal my mond open deur gelykenisse; Ek sal dinge uitspreek wat verborge was van die grondlegging van die wêreld af” (Matt. 13:35). Omdat hierdie verborgenhede direk met die Persoon en werke van die Messias verband hou, sou lede van die volk wat Hom verwerp, dit nie kon verstaan nie. Aan sy dissipels het Hy gesê: “... aan julle [is] dit gegee om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie. ... Want die hart van hierdie volk het stomp geword” (Matt. 13:11, 15).

Die gelykenisse van die koninkryk was net ter voorbereiding op die openbaring van verdere verborgenhede van die Christelike lewe, wat eers ná Jesus se kruisiging en die uitstorting van die Heilige Gees bekendgemaak sou word. Indien hierdie gelykenisse ter harte geneem is, sou dit die volk ontvanklik gemaak het vir dit wat daarna gevolg het. Die meerderheid van die mense het hulleself egter teen prediking oor dieper geestelike waarhede verset en as gevolg daarvan ’n onleerbare gees gehad. Wanneer basiese leerstellings oor God se koninkryk verwerp word, is sulke mense nie gereed om onderrig oor die verdere ontplooiing van God se heilsplan vir die mens te ontvang nie. Dit is die rede waarom die Here Jesus hierdie verborgenhede net aan ’n kerngroep gelowiges in Israel verkondig en verklaar het.

Nuwe-Testamentiese gelowiges het geen verskoning om oningelig te wees oor die openbaring van verborgenhede nie, daarom moet hulle vrae vra soos die volgende: Wat was die verborge, nuwe kenmerke van die koninkryk waarvan die verbondsvolk al vir so lank ’n deel was? Vir wie is hierdie koninkryk bedoel, en wat word van mense verwag wat lede daarvan wil wees? ’n Ander belangrike vraag is: Wat word van diegene wat teëstanders van hierdie koninkryk is, en ook van mislukte, dubbelhartige lede van dié koninkryk?

Die gelykenisse van die saaier en die koring en onkruid

Hierdie twee gelykenisse sluit ten nouste by mekaar aan, en is ook die enigste twee in Matthëús 13 wat afsonderlik verklaar is sodat die dissipels dit duidelik kon verstaan en ter harte neem. Hulle word só uitgelê:

“Luister julle dan na die gelykenis van die saaier. As iemand die woord van die koninkryk hoor en nie verstaan nie, kom die Bose en roof wat in sy hart gesaai is – dit is hy by wie langs die pad gesaai is. En by wie op rotsagtige plekke gesaai is – dit is hy wat die woord hoor en dit dadelik met blydskap aanneem; maar hy het geen wortel in homself nie, hy is net vir ’n tyd, en as daar verdrukking en vervolging kom ter wille van die woord, struikel hy dadelik. En by wie in die dorings gesaai is – dit is hy wat die woord hoor, maar die sorg van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom verstik die woord, en hy word onvrugbaar. En by wie op die goeie grond gesaai is – dit is hy wat die woord hoor en verstaan, wat dan ook vrug dra en oplewer: die een honderd-, die ander sestig-, die ander dertigvoudig” (Matt. 13:18-23).

“Nadat Hy die skare weggestuur het, het Jesus huis toe gegaan; en sy dissipels het na Hom gekom en gesê: Verklaar vir ons die gelykenis van die onkruid in die saailand. En Hy het geantwoord en vir hulle gesê: Hy wat die goeie saad saai, is die Seun van die mens, en die saailand is die wêreld. Die goeie saad – dit is die kinders van die koninkryk, en die onkruid is die kinders van die Bose, en die vyand wat dit gesaai het, is die duiwel. Die oes is die voleinding van die wêreld, en die maaiers is die engele. Net soos die onkruid dan bymekaargemaak en met vuur verbrand word, so sal dit wees in die voleinding van hierdie wêreld: die Seun van die mens sal sy engele uitstuur, en hulle sal uit sy koninkryk bymekaarmaak al die struikelblokke en die wat die ongeregtigheid doen, en sal hulle in die vuuroond gooi. Daar sal geween wees en gekners van die tande. Dan sal die regverdiges skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor” (Matt. 13:36-43).

Volgens hierdie twee gelykenisse is die sentrale verwysingspunte en basiese beginsels van die koninkryk van die hemel die volgende:

·      Hy wat die goeie saad saai, is die Seun van die mens (13:37). Jesus Christus self is die Bron van die boodskap van verlossing, deur Wie mense lidmaatskap van die koninkryk van die hemel kan verkry. Hy is die lig van die wêreld en die enigste Naam waardeur ons gered kan word. Al sy dissipels moet van hierdie basiese waarheid kan getuig, want daar kan nie ’n geestelike huis gebou word voordat die regte fondament gelê is nie.

·      Die saailand is die wêreld (13:38). Hierdie koninkryk is nie geografies tot die land Israel beperk nie, maar sal uiteindelik oor die hele aarde strek. Kort voor die wederkoms van Christus sal die evangelie van die koninkryk in die hele wêreld verkondig word tot ’n getuienis vir al die nasies, dan sal die einde kom (24:14).

·      Die saad is die woord van die Here (13:19). Die woord verwys nie na die Tora nie, maar na die evangelieboodskap van die Nuwe Verbond. Die evangelie van genade is deel van die verborgenheid van die koninkryk wat aan Israel en die nasies verkondig moet word, sodat hulle geestelik voorberei kan word vir hierdie toekomstige koninkryk.

·      Die Bose beroof mense van die woord (13:19). Onkundige en ongelowige mense is slagoffers van demoniese misleiding. Die vyand van God se koninkryk beroof mense van geestelike waarhede, en spesifiek ook van kennis oor die verborgenhede in die Bybel.

·      Ongeredde naamchristene het nie ’n toekoms in die koninkryk nie (13:20-21). ’n Oppervlakkige geestelike belewenis sonder ’n veranderde hart lei nie na ’n standhoudende verbintenis met die koninkryk nie (vgl. 15:8). Sulke mense het nie die geesteskrag om teëstand en vervolging te kan weerstaan nie, daarom verval hulle weer in twyfel en ongeloof.

·      God se geregtigheid is kompromieloos (13:22). Die lewenspatroon in die koninkryk van die hemel vereis ’n veranderde hart en kan nie met die sondige lewenswyse van die verdorwe wêreld vermeng word nie. Dubbelhartigheid bring ’n spoedige einde aan mense se betrokkenheid by God se koninkryk. Mense wat steeds die dorings en distels van sonde in hulle lewe akkommodeer, blus die Gees uit.

·      Godsvrug is die bewys van ware gelowiges (13:23). Diegene wat die woord van die Here verstaan, glo, en van alle sonde gereinig is, dra veel vrug in sy koninkryk. Hulle harte is gereinig en met die Gees vervul. Dit gaan dus nie vir die Here oor volksverband, afkoms of uiterlike verbondstekens nie, maar oor veranderde harte.

·      Die koring is die kinders van die koninkryk (13:38). Hulle is die produk van die goeie saad wat gesaai is (13:24). Mense in wie se lewens die Woord van God ten volle gestalte aanneem, word gelykvormig aan sy Seun wat die vleesgeworde Woord is.

·      Die onkruid is die kinders van die Bose (13:38). Hulle behoort aan ’n vyandige koninkryk, maar is tussen die koring gesaai. Hierdie mense het die duiwel as vader en streef daarna om sy begeertes te doen – hy is ’n leuenaar, verleier, kwaadstigter en mensemoordenaar.

·      Die skeiding tussen die koring en onkruid vind eers in die oestyd plaas (13:30). Dit dui op ’n situasie waarin lig en duisternis naas mekaar bestaan op aarde, wat beteken dat die koninkryk van die hemel net in ’n verborge vorm in gelowiges se harte bestaan – dit sal eers in die eindtyd sigbaar geopenbaar word wanneer die Koning kom om volle beheer te neem.

·      Die saamgroepering en verbranding van die onkruid (13:40). Dit sal nie in die voleinding van die “wêreld” wees nie, maar aan die einde van die huidige bedeling (Gr. aioon; Eng. age), wat dui op die oordele van God wat in die komende verdrukking oor die goddeloses sal kom.

·      Beloning vir getroue diens (13:23). Gelowiges se lewens sal vrug oplewer vir die koninkryk van die hemel: dertig-, sestig- of honderdvoudig. Dit sal die grondslag vir die toekenning van genadeloon wees, en ook ’n bewys van hoe ernstig en heelhartig hulle die Verlosser en Koning van God se koninkryk gedien het.

·      Verheerliking van die kinders van die koninkryk (13:43). Hulle sal skyn soos ligte in die koninkryk van hulle Vader. Eers moet alle nasies in die wêreld die geleentheid kry om tot die Messias se koninkryk toe te tree, dan sal hierdie koninkryk ten volle geopenbaar word.

In hierdie twee gelykenisse alleen is verskeie verborgenhede oor die koninkryk van die hemel opgeklaar. Die dissipels en ander lede van die Joodse volk wat die dieper betekenis daarvan verstaan het, sou die Messiasskap van Jesus erken en ook geweet het dat Hy die enigste hoop vir die redding en geseënde voortbestaan van Israel én alle ander volke is. Hy is die beloofde Verlosser en Koning van die wêreld. Hulle moes ook leer dat die koninkryk van die hemel eers heelwat later op aarde gevestig sou word, nadat miljoene ander mense op aarde ook die geleentheid gehad het om lede daarvan te word. Min het die dissipels in daardie vroeë stadium besef dat hulle die opdrag sou kry om met die groot taak van wêreldevangelisasie te begin.

Gedurende die kerkbedeling sou die koninkryk van die hemel nie sigbaar op aarde geopenbaar word nie, maar nogtans as ’n geestelike werklikheid in gelowiges se harte gevestig word (Luk. 17:21). Die volgelinge van Christus sou deur ’n goddelose wêreld gekonfronteer word, en die voortgesette vyandigheid sou groot volharding en geestelike oorlogvoering verg terwyl hulle hul taak verrig (Joh. 15:18-20; Ef. 6:10-11). Die dissipels moes verder ook toesien dat hulle nie self die slagoffers van die duiwel se subtiele misleiding word nie, want hy sou nie passief toekyk terwyl sy koninkryk bedreig word nie.

In die lang tydperk voor die sigbare openbaring van die hemelse koninkryk op aarde, is daar verskeie lewensbeginsels wat eerbiedig en opdragte wat uitgevoer moet word. Dit het van die dissipels se insig, toewyding en volharding afgehang of hulle hul doel sou bereik, daarom het die Here deur verskeie gelykenisse seker gemaak dat hulle die erns van die saak besef en afdwalinge betyds raakgesien en vermy word. Nuwe kennis wat deur die openbaring van verborgenhede aan hulle oorgedra is, het die pad van Nuwe-Testamentiese gelowiges duidelik uitgestippel. Die regte geestelike oriëntasie en toekomsverwagting was noodsaaklik, sodat daar nie ’n valse begrip oor die koninkryk geskep sou word nie.

Daar is ’n groot aantal gelykenisse waarin die verdere ontplooiing van die koninkryk beskryf word, asook die beginsels en vereistes wat daarmee in verband staan. Dit is vir elke mens op aarde lewensbelangrik om hiervan kennis te neem. Gelowiges word hierdeur bemoedig en gehelp om op die regte pad te bly, terwyl ongelowiges ernstig gewaarsku word teen die werklikheid van die alternatiewe koninkryk van die duisternis waarby hulle betrokke is – of hulle dit wil weet of nie. As die Here nie ’n persoon se geestelike Vader is nie, dan is die duiwel sy vader wat hom na ’n donker toekoms en die ewige dood sal lei (Joh. 8:41-44).

Die volgende is verdere gelykenisse én ander vorms van onderrig wat handel oor ’n verskeidenheid aspekte van die koninkryk van die hemel:

Die lydende Messias

Die Here Jesus het dit duidelik gestel dat dit nie tydens sy eerste koms sy doel was om as Koning aangestel te word wat Israel se politieke koninkryk herstel nie, maar om as die lydende Messias sy rol te vervul as die Lam van God wat gekom het om vir die redding van ’n verlore mensdom te sterf (Matt. 18:11; 20:18-19). Sondaars moes eers geestelik losgekoop word voordat hulle deel van sy koninkryk kon word – daarna sal Hy as Koning oor sy verloste erfdeel regeer. Die gelykenis van die goeie herder beklemtoon hierdie feite baie duidelik, maar die wettiese Jode kon dit nie verstaan nie (Joh. 10:6). Christus het die verborge betekenis daarvan uitgelê deur Homself as die goeie herder te verklaar:

“Ek is die deur van die skape. ... As iemand deur My ingaan, sal hy gered word. ... Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom dat hulle lewe en oorvloed kan hê. Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape. ... Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder. Ek het mag om [my lewe] af te lê en Ek het mag om dit weer te neem. Hierdie gebod het Ek van my Vader ontvang” (Joh. 10:7-18).

Jesus moes sy lewe aflê om mense te kon red. Dit sou Hy nie net vir Israel doen nie, maar ook vir die ander skape, m.a.w. die nie-Joodse volke van die wêreld. Christus verwys ook na sy opstanding – die opneem van sy lewe nadat Hy dit afgelê het. ’n Verdere verborgenheid wat eers later verklaar sou word, was dat die gelowiges uit Israel en die nasies in een geestelike liggaam saamgevoeg sou word.

Ortodokse Jode wat nie Jesus se Messiasskap erken het nie, het glad nie hierdie belangrike openbaring oor sy soendood en opstanding aanvaar nie. Die volksleiers het hierdie agnostisisme gedeel en was daarvoor verantwoordelik dat Israel oor die aarde verstrooi sou word terwyl die Messias wat deur hulle verwerp is, aan die nasies verkondig word. Eers daarna sal Israel na hulle land terugkeer en voorberei word om die Messias tydens sy tweede koms te ontvang (vgl. Luk. 19:41-44; Matt. 23:37-39).

Toetreepunt tot die koninkryk

’n Belangrike verborgenheid wat deur die Messias geopenbaar is, was dat die bedeling van die wet sy einde bereik het en dat die Ou-Testamentiese verbondsteken van die besnydenis saam met getroue wetsnakoming, nie meer ’n toetreepunt tot die koninkryk van die hemel was nie (Heb. 8:13). Geloof in die Seun van God sou onder die Nuwe Verbond die enigste manier wees van geestelike vernuwing deur ’n veranderde, gereinigde hart. Jesus het vir ’n ortodokse leraar wat onberispelik volgens die Ou Verbond geleef het, gesê: “Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (Joh. 3:3).

In die verdere gesprek wat hierop gevolg het, word verduidelik dat wedergeboorte voortspruit uit geloof in die Seun van God: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. ... Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie. En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos” (Joh. 3:16-19).

Geloof in Jesus sou hierna die enigste grondslag vir redding wees, want Hy sou met sy kruisiging al die skaduagtige offers van die Ou Testament vervul. Die alternatief vir geloof in Hom is die oordeel oor die ongelowiges. Nie net het die meeste mense in Israel die geestelike duisternis van ’n verdorwe wêreld liewer gehad as die lig van God se koninkryk nie, maar dit sou ook die situasie tydens die hele kerkbedeling wees. Die bewandelaars van die smal pad was nog altyd ’n klein minderheid (Matt. 7:13-14; Luk. 13:23-24). Verblinde godsdiensleiers op die breë pad verstaan nie die geopenbaarde verborgenheid oor Christus en sy reddende genade nie, daarom verwerp hulle Hom deur sy Messiasskap, maagdelike geboorte, die betekenis van sy soendood, sy mag om sonde te vergewe, sy opstanding uit die dood, sy hemelvaart en sy beloofde liggaamlike wederkoms uit die hemel te bevraagteken of te ontken.

’n Ware geloof gaan gepaard met ’n sondebesef en ’n ootmoedige vertroue in God om jou sonde te vergewe. Hoogmoedige mense dink baie van hulleself en roem graag in hulle goeie werke en onberispelike lewe volgens die wet, daarom nader hulle nie die Here se genadetroon vir die reiniging van sonde nie. Met die oog hierop het Jesus die gelykenis van die Fariseër en tollenaar vertel (Luk. 18:9-14). Die Fariseër het homself regverdig en met ’n onveranderde hart huis toe gegaan, terwyl die tollenaar wat sy sonde bely en sy behoefte aan redding erken het, geregverdig huis toe gegaan het. Hy het ervaar wat dit was om vergewe en geestelik vernuwe te word, en het dus deur die nou poort ingegaan.

Nie konings nie maar diensknegte

Die onbybelse verwagting van ’n geopenbaarde koninkryk nog voordat Jesus as Koning van die konings gekom het, lei daartoe dat mense vir hulleself hoë posisies as konings en heersers in die vooruitsig stel. Dit was selfs onder Jesus se volgelinge ook die geval. Die moeder van Johannes en Jakobus het ’n versoek aan Jesus gerig: “Sê dat hierdie twee seuns van my in u koninkryk mag sit, een aan u regter- en een aan u linkerhand” (Matt. 20:21). In sy antwoord wys Jesus daarop dat hierdie versoek onvanpas was vir dit wat onmiddellik vir die dissipels voorgelê het. Hulle moes eerder vir krag en genade gebid het om vervolging en verwerping te kon verduur terwyl hulle Christus se getuies in ’n vyandige wêreld is. Dit was nie toe die tyd vir aansien en heerskappy nie, maar vir nederigheid en diensbaarheid:

“Maar Jesus antwoord en sê: Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle die beker drink wat Ek aanstons gaan drink, en gedoop word met die doop waarmee Ek gedoop word? ... Julle weet dat die owerstes van die nasies oor hulle heers en die groot manne oor hulle gesag uitoefen; maar só moet dit onder julle nie wees nie; maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees. En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as 'n losprys vir baie” (Matt. 20:22, 25-28).

Daar is geen sprake van heerskappy in Christus se toekomstige koninkryk sonder ’n diep geestelike toewyding aan die Verlosser, asook die bereidwilligheid om diens te lewer aan sy verborge koninkryk wat nie van hierdie bose wêreld is nie. Tydens hierdie bedeling is politieke en ekonomiese mag in die hande van die owerstes van heidennasies. Eers wanneer Christus weer kom en die koninkryke van die wêreld vernietig het, sal sy getroue diensknegte saam met Hom regeer (Op. 11:15; 19:15).

Die Koning wat weer kom

Die Here Jesus het na aanleiding van ’n verdere gelykenis sy koms as Verlosser na die aarde verduidelik, en beklemtoon dat Hy eers by ’n later geleentheid as Koning sou terugkeer. Die situasie wat tot hierdie gelykenis aanleiding gegee het was die redding van die bekende sondaar in Israel, naamlik die tollenaar Saggéüs. Ná die heelhartige bekering van Saggéüs het Jesus gesê: “Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom, aangesien hierdie man ook ’n seun van Abraham is. Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was” (Luk. 19:9-10).

As ’n afstammeling van Abraham was Saggéüs ’n lid van die verbondsvolk en het Hy ’n geboortereg gehad om die koninkryk van die hemel te beërf. Hy moes egter eers sy sondige weë laat vaar en met die Messias-Koning van Israel versoen word, en dit het hy gedoen. Hieruit is dit duidelik dat erfgename van die koninkryk van God eers geestelik geregverdig moes word, en daarvoor is dit nodig om Jesus as Messias en Verlosser te erken. Lede van die verbondsvolk wat geweier het om dit te doen, was onwaardig vir die koninkryk.

Die dissipels het egter nie besef dat dit ’n langtermyn taak sou wees om Israel van die waarheid van die Messias se evangelie te oortuig, en ook geestelik uit te reik na die ganse verloregaande wêreld nie. Hulle het voor die kruisiging nog steeds gemeen dat Jesus direk sou voortgaan om die koninkryk van God as ’n sigbare werklikheid op aarde te vestig. Die Here Jesus het die waarhede oor hierdie belangrike saak in die volgende gelykenis verduidelik:

“En terwyl hulle na hierdie dinge luister, vertel Hy daar nog ’n gelykenis by, omdat Hy naby Jerusalem was en hulle gedink het dat die koninkryk van God onmiddellik sou verskyn. Hy het dan gesê: ’n Man van hoë geboorte het na ’n ver land gereis om vir homself ’n koningskap te ontvang en dan terug te kom. En nadat hy tien van sy diensknegte geroep het, gee hy hulle tien ponde en sê vir hulle: Dryf handel daarmee totdat ek kom. Maar sy medeburgers het hom gehaat en ’n gesantskap agter hom aan gestuur om te sê: Ons wil nie hê dat hierdie man koning oor ons moet wees nie. En toe hy terugkom, nadat hy die koningskap ontvang het, sê hy dat daardie diensknegte aan wie hy die geld gegee het, by hom geroep moes word, sodat hy kon weet wat elkeen met handel verdien het. En die eerste het verskyn en gesê: Meneer, u pond het tien ponde wins gemaak. En hy sê vir hom: Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede. En die tweede kom en sê: Meneer, u pond het vyf ponde verdien. En hy sê ook vir hierdie een: En jy moet wees oor vyf stede. En ’n ander een kom en sê: Meneer, hier is u pond wat ek in ’n doek weggesit het; want ek was bang vir u, omdat u ’n strawwe man is; u neem weg wat u nie uitgesit het nie, en maai wat u nie gesaai het nie. Toe sê hy vir hom: Uit jou mond sal ek jou oordeel, slegte dienskneg! Jy het geweet dat ek ’n strawwe man is wat wegneem wat ek nie uitgesit het nie, en maai wat ek nie gesaai het nie. Waarom het jy dan nie my geld aan die wisselaars gegee nie? Dan kon ek dit by my koms met rente ingevorder het. ... Maar daardie vyande van my wat nie wou hê dat ek koning oor hulle sou wees nie, bring hulle hier en slaan hulle voor my dood” (Luk. 19:11-23, 27).

Jesus is die Man van hoë geboorte, wat bestem is om die Koning van Israel én die hele wêreld te wees: “En jy, Betlehem Éfrata, klein om te wees onder die geslagte van Juda, uit jou sal daar vir My uitgaan een wat ’n Heerser in Israel sal wees; en sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid” (Miga 5:1). Hy sou as ’n mens in Betlehem gebore word, maar as God ’n ewige selfbestaan hê. Hy sou Israel se Heerser wees (Luk. 1:32). Na aanleiding hiervan het die eerste eeu se gelowiges in Israel gedink dat Hy spoedig as Koning gekroon sou word.

Jesus is die Man van hoë geboorte wat ná sy soendood as God se Offerlam na ’n ver land (die hemel) sou reis om daar uitermate verhoog te word en ’n Naam te kry wat bo elke naam is (Fil. 2:9). Daarna sal Hy as Koning terugkeer. Aan die begin van die periode van sy afwesigheid op aarde het Hy diensknegte aangestel om die sake van sy hemelse koninkryk hier te behartig.

Die pond wat Hy aan elkeen van hulle gegee het, dui nie op aardse munt nie omdat hulle nie in aardse terme oor rykdom, krag, aansien en invloed sou beskik nie. Die pond dui op die instaatstellende krag van die Heilige Gees. Kort voor die Here Jesus se hemelvaart het die vrae oor die vestiging van sy koninkryk steeds voortgeduur, maar in die plek van ’n geopenbaarde koninkryk het Hy die krag en vermoë aan hulle belowe om oral op aarde sy getuies te wees:

“Die wat bymekaargekom het, vra Hom toe en sê: Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig? En Hy antwoord hulle: Dit kom julle nie toe om die tye of geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie; maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde” (Hand. 1:6-8).

Gedurende hierdie tyd sou die dissipels deur die wêreld verwerp en vervolg word terwyl hulle onder uiters moeilike omstandighede die mensdom evangeliseer. Israel se Ou-Testamentiese koninkryk sou in ’n gevalle toestand bly en Jerusalem deur die nasies vertrap word, omdat die beloofde eskatologiese koninkryk eers tydens die Messias se wederkoms gevestig sal word. Intussen sou die tye van die heidennasies voortduur, en sou die dissipels van Christus uiterlik gesproke die status van vreemdelinge en bywoners in ’n goddelose wêreld hê (1 Pet. 2:11).

Wanneer die Koning terugkeer aarde toe, het Hy regterlike afsprake met twee groepe mense – die gelowiges wat lede van sy koninkryk is, en die ongelowiges wat sy koningskap verwerp het. Die gelowiges wat deur die krag van die Heilige Gees gearbei het, sal genadeloon ontvang (1 Kor. 3:8-15). ’n Deel daarvan sal regerende posisies in die Koning se geopenbaarde koninkryk wees – sommige sal oor meer stede regeer as andere, afhangende van hulle getroue diens aan die Koning. Diegene wat niks bereik het nie, het glad nie erns gemaak om die Here vir die toerusting met krag uit die hoogte te vertrou nie (Luk. 24:46-49; Hand. 1:8), en kon deur die krag van die vlees niks bereik wat ewigheidswaarde het nie. Hulle het met hout, hooi en stoppels gebou en sal as mislukte dissipels met leë hande voor die Koning verskyn.

’n Ander belangrike deel van die openbaring en vestiging van Christus se koninkryk op aarde is die vernietiging of uitskakeling van alle maghebbers en volgelinge van Satan se koninkryk. Dit sluit die koning van hierdie ryk in (die Antichris), sy mederegeerder (die valse profeet) sowel as hulle miljoene volgelinge (Op. 19:19-21). In die gelykenis sê Christus: “Daardie vyande van my wat nie wou hê dat ek koning oor hulle sou wees nie, bring hulle hier en slaan hulle voor my dood” (Luk. 19:27). Die duiwel wat oppergesag in hierdie bose koninkryk het, sal saam met sy demone in ’n put gebind en dus ook van die toneel verwyder word (Op. 20:1-3). Daar kan geen naasbestaan tussen die geopenbaarde koninkryk van God en die koninkryk van die duisternis wees nie.

Dit is betekenisvol dat die Koning by sy terugkeer eers sy diensknegte rondom Hom versamel sodat vasgestel kan word hoedanig hulle hul opdrag uitgevoer het (Rom. 14:10-12; 2 Kor. 5:10). Die regterstoeloordeel vind in die hemel plaas en sal direk ná die wegraping gebeur (1 Thess. 4:16-17). Met die wegname van die gemeente sal die teëhouer teen die openbaring van die Antichris uit die weg geruim wees (2 Thess. 2:6-12), wat beteken dat die valse christus geopenbaar kan word om vir sewe jaar lank oor die aarde te regeer (Dan. 9:27; Op. 13:7). Sy volgelinge sal almal die ware Christus verwerp, daarom sal hulle deur God geoordeel word. Mense wat in daardie tyd eers gered sal word deur die ware Christus as Verlosser te aanvaar, sal as martelare vir hulle geloof sterf (Op. 6:9-11; 12:11).

Die bruilof

Die volgende gelykenis van Jesus demonstreer die negatiewe reaksies van verskillende groepe mense wat nie die verborgenhede van die koninkryk begryp het nie, en as gevolg daarvan hulleself van groot seëninge beroof het:

“Die koninkryk van die hemele is soos ’n koning wat ’n bruilof vir sy seun berei het en sy diensknegte uitgestuur het om die genooides na die bruilof te roep, en hulle wou nie kom nie. Weer het hy ander diensknegte uitgestuur met die boodskap: Sê vir die genooides: Kyk, my maaltyd het ek berei, my beeste en vetgemaakte vee is geslag en alles is gereed. Kom na die bruilof. Maar hulle het hul daaraan nie gesteur nie en weggegaan, een na sy eie stuk land en ’n ander na sy handelsaak. En die origes het sy diensknegte gegryp en mishandel en doodgemaak. Toe die koning dit hoor, het hy kwaad geword en sy manskappe gestuur en daardie moordenaars omgebring en hulle stad aan die brand gesteek. Daarop sê hy vir sy diensknegte: Die bruilof is wel gereed, maar die genooides was dit nie werd nie. Gaan dan op die kruispaaie en nooi almal wat julle mag vind, na die bruilof. En daardie diensknegte het uitgegaan op die paaie en almal versamel wat hulle gevind het, slegtes sowel as goeies, en die bruilofsaal het vol gaste geword. En toe die koning ingaan om na die gaste te kyk, sien hy daar iemand wat nie ’n bruilofskleed aan het nie. En hy sê vir hom: Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder ’n bruilofskleed aan? En hy kon geen woord sê nie. Toe sê die koning vir sy dienaars: Bind sy hande en voete, neem hom weg en werp hom in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande” (Matt. 22:2-13).

Israel het so ’n beperkte begrip van die koninkryk van die hemel gehad dat hulle nie hulle hoë roeping as God se volk besef het nie, naamlik om die bruid van sy Seun te wees. Hulle het God se eis van heiligmaking heeltemal nagelaat, ten spyte daarvan dat dit ’n onontbeerlike voorbereiding vir hulle toekomstige rol was: “Want Ek is die Here julle God; toon dan dat julle heilig is en wees heilig, want Ek is heilig” (Lev. 11:44). Met slegs enkele uitsonderings het hulle nie na hierdie standaard gestreef nie, en was slegs op die uitkyk vir ’n Messias met die politieke en militêre vermoë om Israel se leidende posisie in die wêreld te bevestig.

Die volk was geestelik afgestomp en hulle sonde het hulle nie gepla nie, daarom het hulle nie ’n nederige Messias verwag wat Homself as ’n soenoffer sou oorgee vir die uitwissing van hulle sonde nie. Toe Hy wel in hierdie hoedanigheid gekom het, was Israel nie net onwaardig om as sy bruid met Hom verenig te word nie, maar openlik vyandig teenoor Hom omdat Hy nie hulle wettiese lewenswandel en selfregverdiging aanvaar het nie.

Volgens die gelykenis het die Vader twee groepe diensknegte gestuur om aan Israel te verkondig dat die Messias, wat Verlosser, Bruidegom én Koning is, gekom het. Die eerste groep gesante was die profete van die Ou Testament, asook Jesus self (vgl. Jes. 52:13–53:7; Sag. 9:9; Joh. 8:24). Die volk het egter hulle getuienis verwerp.

Ná die dood, opstanding en hemelvaart van Jesus, asook die uitstorting van die Heilige Gees, het die Vader ’n tweede groep getuies na Israel gestuur, naamlik die twaalf apostels. Hulle is ook verwerp, vervolg en in sommige gevalle ter dood veroordeel. Die relatief klein groep Messiaanse Jode wat die getuienis oor Jesus aanvaar het, was nie verteenwoordigend van die meerderheid ongelowiges nie, daarom is die profesieë oor die verwoesting van Jerusalem en die internasionale verstrooiing van Israel in die jaar 70 n.C. vervul.

Die verkondiging van die evangelie onder die nie-Joodse volke is ook net deur ’n minderheid in elke volk aanvaar. Selfs in hierdie minderheidsgroep is daar talle vormgodsdienstige kerklidmate wat nie ’n getuienis van wedergeboorte het nie, en eerder op hulle eie geregtigheid vertrou – hulle is nie met Jesus Christus beklee nie (Rom. 13:14). Die nominale gelowiges word in die gelykenis uitgebeeld deur die persoon wat sonder ’n bruilofskleed in die saal is. Tydens die wegraping sal hierdie mense egter uitgesluit en agtergelaat word, en sal hulle saam met die ongelowige en misleide wêreld in die duisternis van die verdrukking onder die skrikbewind van die Antichris verkeer.

Dit is absoluut noodsaaklik om die verborgenhede van die koninkryk te ken – en veral van die Koning wat ook Verlosser en Bruidegom is. Dit is slegs diegene wat geestelik met Hom versoen en met sy Heilige Gees vervul is, wat lede van sy bruidsgemeente is (Op. 19:7-9).

Koms van die Bruidegom

Die gelykenis van die tien maagde beklemtoon belangrike aspekte in verband met mense se ingesteldheid ten opsigte van die koninkryk van die hemel. Omdat Israel nie geestelik voldoen het aan die eise van God se Woord nie, was hulle nie gereed om die Messias te ontvang tydens sy eerste koms nie. Uit die gelykenis hieronder blyk dit dat die situasie tydens Jesus se tweede koms nie veel beter gaan wees nie, omdat die hemelse Bruidegom ’n groot aantal selfverklaarde “gelowiges” gaan agterlaat wanneer Hy sy bruidsgemeente kom haal:

“Dan sal die koninkryk van die hemele wees soos tien maagde wat hulle lampe geneem en uitgegaan het om die bruidegom te ontmoet. En vyf van hulle was verstandig en vyf dwaas. En toe die wat dwaas was, hul lampe neem, het hulle geen olie met hulle saamgeneem nie. Maar die verstandiges het olie in hulle kanne saam met hul lampe geneem. En terwyl die bruidegom talm om te kom, het hulle almal vaak geword en aan die slaap geraak. En middernag was daar ’n geroep: Daar kom die bruidegom; gaan uit hom tegemoet! Toe staan al daardie maagde op en maak hulle lampe gereed. En die wat dwaas was, sê aan die verstandiges: Gee vir ons van julle olie, want ons lampe gaan uit. Maar die verstandiges antwoord en sê: Miskien sal daar nie genoeg wees vir ons en vir julle nie. Maar gaan liewer na die verkopers en koop vir julleself. En onderwyl hulle gaan om te koop, het die bruidegom gekom. En die wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof, en die deur is gesluit. Later kom toe die ander maagde ook en sê: Meneer, meneer, maak vir ons oop! Maar hy antwoord en sê: Voorwaar ek sê vir julle, ek ken julle nie. Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet waarop die Seun van die mens kom nie” (Matt. 25:1-13).

Om die bruid van die Lam te wees, en as gevolg daarvan in al die voorregte van sy koninkryk te deel, vereis veel meer as net die voldoening aan uiterlike kriteria soos verbondstekens, lidmaatskap van een of ander denominasie, asook die doen van goeie werke wat van gelowiges verwag word – dit vereis ’n lewe onder die beheer van die Heilige Gees. Net die Here alleen kan deur sy Gees ’n sondige mens herskep en aan die beeld van sy Seun gelykvormig maak. In hierdie gelykenis dui die olie in die maagde se kanne op die volheid van die Heilige Gees in hulle lewens. Dit verseker dat die lig van hulle getuienis in die donkerste nag sal aanhou skyn, dat hulle nie in die duisternis van geestelike onkunde op dwaalweë sal beland nie, en dat hulle in die lig van die Here se teenwoordigheid sal wandel tot op die oomblik wanneer die hemelse Bruidegom hulle kom haal.

Die dwase maagde het wel aan die uiterlike kriteria voldoen, maar het nagelaat om met die Heilige Gees vervul te word (vgl. Ef. 5:18) sodat hulle waarlik deur die Gees kon wandel (Gal. 5:16-17). In hulle lewens is die vrug van die Gees dus deur vleeslike werke vervang, en dit is hoegenaamd nie vir die Here aanvaarbaar nie. Werke van hierdie aard, hoe goed dit ook al bedoel word, kan nie aan ’n persoon ’n geskikte bruilofskleed verleen nie. Johannes sê: “En aan haar [die bruid] is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges” (Op. 19:8).

Die Here het dit deur sy Heilige Gees aan haar “gegee” om so bekleed te wees. Hierdie regverdige dade is dus nie dit wat ’n persoon uit eie krag vir die Here doen nie, maar wat die Heilige Gees deur hom doen. Sonder ’n bruilofskleed van hierdie aard sal die betrokke persone agterbly wanneer die Bruidegom kom, al het hulle ook hoeveel rituele, menslike tradisies, en werke van eiegeregtigheid om aan te bied (vgl. Matt. 7:21-23).

Tydens Jesus se eerste koms het ortodokse Jode gemeen dat wetsnakoming alleen hulle vir die Messias se koninkryk geskik gemaak het. Dit was ’n ernstige vergissing. Tydens Jesus se tweede koms sal baie gelowiges onder die indruk wees dat hulle sonder heiligmaking die aangesig van die Bruidegom sal sien (vgl. 1 Thess. 5:23; Heb. 12:14; 1 Joh. 3:3). ’n Groot ontnugtering wag op diegene wat lae geestelike standaarde handhaaf.

Bestudeer die verborgenhede en bid daarvolgens

Die Here Jesus het sy dissipels geleer om te bid vir die vervulling van al die wonderlike beloftes oor die koninkryk van die hemel, maar ook vir krag en genade om in ons aardse pelgrimsreis onderweg na die ten volle geopenbaarde koninkryk staande te kan bly in ’n wêreld wat nou nog in die mag van die Bose lê. Die breë perspektief en verhewe doel van ons gebede moet altyd die eer van die Here wees, asook ’n toekomstige situasie op aarde waarin net sy wil sal geskied – m.a.w. die openbaring van die koninkryk van die hemel: “Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (Matt. 6:9-10). Dit is waarheen ons op pad is en waarna ons streef.

Hierna gaan die gebed om genade om te kan oorleef onder moeilike omstandighede, om geestelik bewaar te word in die versoening wat die Here aan ons bied, om ons veranderde harte te toon deur die wyse waarop ons met die vyande van God kommunikeer, en om daagliks staande te kan bly teen al die liste van die duiwel: “... gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe; en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen” (Matt. 6:11-13).

Ons is verteenwoordigers van ’n koninkryk wat nie van hierdie wêreld is nie. Terwyl ons na dié koninkryk op pad is, moet ons getuies vir Christus wees en skyn soos ligte te midde van ’n krom en verdraaide geslag (Fil. 2:15). Dit vereis dat ons ook verdere verborgenhede oor die koninkryk van die hemel, wat eers ná die kruisdood van die Here Jesus en die uitstorting van die Heilige Gees geopenbaar is, in ag sal neem. Ons moet dus op die basiese gebed hierbo uitbrei deur ons versoek vir sondevergifnis pertinent op Christus se verdienste aan die kruis te baseer, en ook alle ander versoeke in sy Naam aan die Vader te rig.

Dit is in almal van ons se belang om deeglik op hoogte te wees van al die verborgenhede wat die Here in sy Woord aan ons openbaar. Dit werp vir ons lig op sake waarvan ons andersins nie bewus sou wees en gevolglik ook nie sou kon verstaan nie. Ons het al hierdie kennis nodig om as mense van God volkome te wees, “vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Tim. 3:17).

(Word vervolg).