Uiterste Geestelike Polarisasie

Johan Malan, Mosselbaai (September 2014)

Skriflesing: “Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word. En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees” (Op. 22:11-12).

Baie Christene bid ernstig vir herlewing en die geestelike verdieping van gelowiges sodat die Here meer kan word in ons lewens, in ons gemeentes, en ook in die breër samelewing. In Openbaring 22:11-12 gee die Here Jesus vir ons ʼn aanduiding dat daar kort voor sy wederkoms wél so ʼn beweging na meer heiligheid sal wees, maar dat daar terselfdertyd groter geestelike verval en toenemende goddeloosheid in die węreld sal intree. Hierdie geestelike en morele polarisasie is nou baie meer opsigtelik as voorheen: goddeloosheid neem ongekende afmetings aan, terwyl die geestelike standaard van heiligheid onder toegewyde kinders van die Here tot hoër hoogtes gevoer word, al is hulle in baie gevalle net ʼn klein minderheid.

Volgens die Bybel beweeg hierdie teenoorgestelde groepe na twee uiterste gebeurtenisse, naamlik enersyds die verskyning van Christus aan sy getroue dissipels, en andersyds die verskyning van die Antichris aan die geestelik misleide menigtes. Ons het dus hier te doen met die verdere polarisering tussen lig en duisternis, of die waarheid en die leuen. Die Here Jesus is die Lig van die węreld, daarom is sy volgelinge wat besig is om in sy voetspore te volg, op ʼn pad van toenemende regverdigheid en heiligheid – dit is die smal pad, en aan die einde van hierdie pad sal ons in heerlikheid voor Hom verskyn. Hierteenoor staan die duiwel aan die hoof van die koninkryk van die duisternis, en hy is besig om die mensdom te mislei om ʼn valse Christus, die Antichris, na te volg – hulle is op die breë pad van ongeregtigheid en sonde, en aan die einde van dié pad sal die Antichris mag verkry oor die gevalle mensdom (Op. 13:7).

Hierdie twee weë het ʼn kennelike werklikheid geword in die węreld ná die eerste koms van Jesus Christus. Voor daardie tyd het die duisternis van sonde en ongeregtigheid oor die hele aarde geheers, behalwe vir ʼn klein groepie gelowige Israeliete. Maar toe kom die Lam van God om versoening te doen vir sonde van alle mense, en daarna gee Hy aan sy dissipels opdrag dat bekering en vergewing van sonde in die hele węreld verkondig moes word (Luk. 24:46-47). Mense moes uit die duisternis van hulle sondige verlede oorkom na Christus se wonderbare lig.

In alle gemeenskappe waar die evangelie verkondig is, het dit aanleiding gegee tot polarisasie tussen lig en duisternis, m.a.w. tussen Christene en ongeredde węreldlinge. Paulus sę vir gelowiges in Éfese: “Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here – wandel soos kinders van die lig” (Ef. 5:8). Om dit te kon doen, moes hulle standpunt inneem teen die werke van die duisternis en hulle sterk daarteen uitspreek: “... en hou nie gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis nie, maar bestraf dit liewer” (Ef. 5:11). Dit het tot ʼn groot mate van antagonisme tussen die kinders van die lig en die kinders van die duisternis gelei, want daar kan geen gemeenskap wees tussen Christus en die afgode nie (2 Kor. 6:14-18).

Soos wat die lig meer geword het, het die teëstand uit die koninkryk van die duisternis ook hewiger geraak. Die sendingopdrag na alle nasies is oor baie eeue heen uitgevoer, en tans is die twee paaie van lig en duisternis in omtrent alle gemeenskappe op aarde gevestig. Die breë pad dra egter nog steeds die meeste verkeer, en terwyl die sonde in intensiteit toeneem, word die druk op Christene ook groter – in sekere lande baie erger as in ander. Die Here gee egter aan ons meer genade om ten spyte van hierdie druk op die pad van toenemende heiligheid te volhard en steeds vordering daarop te maak: “... waar die sonde meer geword het, het die genade nog meer oorvloedig geword” (Rom. 5:20).

Daar is ʼn baie werklike en ernstige rede waarom ons in die eindtyd op die pad van groter regverdigheid en heiligheid moet volhard, en dit is omdat die aanslag op ons geestelike lewe besig is om hewiger te raak. As daar nie groter waaksaamheid en toewyding by ons aanwesig is nie, sal ons stadig maar seker geestelik begin verkoel en veragter in die genade. Die Here Jesus verwys in sy profetiese rede na die toenemende boosheid van die eindtydse węreld, en waarsku lou en kompromiemakende Christene soos volg: “En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel” (Matt. 24:12). Daar sal nie plek wees vir passiewe, vleeslike en onbetrokke meelopers nie. Hulle sal ernstige selfondersoek en hertoewyding aan die Here moet doen as hulle geestelik staande wil bly in hierdie veeleisende tye.

Daar is egter nog ʼn groter motivering vir toenemende heiligheid, en dit is om onberispelik in heiligheid te wees wanneer ons voor die hemelse Bruidegom verskyn. Petrus sę: “Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? ... [B]eywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede” (2 Pet. 3:11, 14). Paulus doen ʼn soortgelyke beroep op die Thessalonisense: “En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!” (1 Thess. 5:23). Volkome heiligmaking dui onteenseglik op hoër hoogtes waarna ons moet streef in ons geestelike lewe en verhouding met die Here Jesus, want dit sal verseker dat ons nie beskaamd sal staan op die dag van sy wederkoms nie.

Christus vestig ook in sy profetiese rede aandag op die geestelike waardigheid wat deur heiligmaking geskep word: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36). Hy sę nie dat ons net hoef te glo en dan kan terugsit sonder om verder aan ons verhouding met Hom te werk nie; nee, ons moet waak teen die vyand se aanvalle, teen geestelike misleiding, en ook waak ter wille van meer gebed: “Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie” (Matt. 26:41). Só sal ons verseker dat ons nie, soos die dwase maagde, op ʼn kritieke oomblik aan die slaap raak en totaal onbewus sal wees van die feit dat ons gevaarlik min van die olie van die Heilige Gees in ons lampe het nie. Ons het ʼn besliste opdrag om vervul te word met die Heilige Gees (Ef. 5:18) sodat ons die Here in alles kan behaag.

Verder is toenemende regverdigheid en heiligheid ook in belang van die kwaliteit van ons dienswerk as dissipels van Jesus. Sy oproep hiertoe in Openbaring 22 word direk in verband gebring met ons verskyning voor sy regterstoel om rekenskap van ons lewe as dissipels te gee: “[K]yk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees” (Op. 22:12). Sommige dissipels verdien met hulle pond, wat op die instaatstellende krag van die Heilige Gees dui, tien ponde, ander vyf, en nog ander sal daar staan met leë hande – gered asof deur vuur heen (vgl. Luk. 19:12-24; 1 Kor. 3:15). Ons moenie met minimum standaarde in ons geestelike lewe tevrede wees nie, maar streef na meer heiligheid en groter diensbaarheid. Daar is potensiaal om dertig-, sestig- en selfs honderdvoudig vrug te dra as die saad van die Woord in jou hart gesaai is (Matt. 13:23). Lewer jou lewe vrug op en sal jy met vrymoedigheid rekenskap van jou roeping as getuie van Christus kan gee?

Wat die sondaars en hulle bose werke betref, is daar ʼn toename in goddeloosheid wat besig is om op te bou tot by die punt waar hulle die Antichris met ope arms sal ontvang. Die węreld is in ʼn gevorderde stadium van geestelike en morele verval, soos waargeneem kan word in die feit dat die sataniese leerstelling van ʼn multigodsdienstige messias vir alle gelowe besig is om oral pos te vat, ook onder misleide Christene: “Maar die Gees sę uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang” (1 Tim. 4:1). Hierdie mense het onder die invloed van valse leerstellings gekom, en in die proses het baie van hulle die suiwer geloof prysgegee (Eng.: “they departed from the faith”).

Paulus sę ook: “... want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thess. 2:3-4). Wanneer die węreld deur geestelike misleiding gekondisioneer is om Satan se “mens van sonde” in die plek van Christus as węreldmessias te aanvaar en ook te aanbid, sal die einde van die kerkbedeling spoedig aanbreek, waarna die dwalendes aan die mag van hierdie misleier oorgegee sal word. Hulle sal hom spontaan aanvaar, navolg en ook aanbid: “En die hele węreld het verwonderd agter die dier aangegaan ... en die dier aanbid” (Op. 13:3, 4).

Die finale punt in die polarisasie tussen lig en duisternis sal aanbreek wanneer Christus aan die einde van die groot verdrukking na die aarde terugkeer om die Antichris en sy magte te oordeel. Johannes sę: “En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër” (Op. 19:19). Hierdie konfrontasie sal lei tot die slag van Armagéddon, waar die Antichris en sy magte verdelg sal word. Christus se koninkryk van die lig sal dan sonder enige verdere teëstand op die aarde gevestig word.

Hierdie punt is nog nie bereik nie; daarom is ons nog in die hitte van die stryd. Dit is nodig dat ons geestelik toegerus sal wees vir dit wat voorlę, daarom is daar ʼn paar indringende vrae wat aan elke gelowige gevra moet vra: “Hoedanig is jou verhouding met die Here Jesus? Hoe vaar jy geestelik te midde van die verskerpende polarisasie tussen lig en duisternis? Is jy een van die teëhouers van die Antichris wat besig is om die goeie stryd van die geloof te stry en teen die toenemende dwalings van ons tyd te waarsku? Neem jy heiligmaking ernstig op en is jy met die Heilige Gees vervul? Het jy ʼn sterk verwagting op Christus se koms en is jy gereed daarvoor?” Indien jy gereed en goed voorbereid is, sal jy nie met leë hande voor Hom verskyn nie, maar waardig wees om ʼn mede-erfgenaam van sy ewige koninkryk te wees.

Daar is baie op die spel in ons geestelike lewe, maar ons hoogste doelstelling moet altyd die eer van die Here en die uitbreiding van sy koninkryk wees. As ons die kruisweg volg en saam met Hom ly in die voortgaande stryd teen ʼn goddelose węreld, sal ons nie slegs vandag die vrede van God in ons harte hę wat alle verstand te bowe gaan nie (Fil. 4:7), maar ook eendag in sy onuitspreeklike heerlikheid deel. Ons het alle rede om vas te staan in die Here en nie te eindig in die geledere van diegene wie se liefde te midde van die toenemende boosheid in die węreld verkoel het nie. Sulke mense onderskat die eise van die verskerpende polarisasie tussen lig en duisternis, en hulle sal ʼn duur prys daarvoor betaal.

Ons moet tot die einde toe op die smal pad volhard en toesien dat ons nie deur die sielevyand beroof en geestelik verarm word nie. Hiertoe spoor die Here Jesus ons in die lig van sy naderende wederkoms aan: “Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie” (Op. 3:11). Hy moedig ook ʼn ander gemeente op ʼn soortgelyke wyse aan: “Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom. En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee” (Op. 2:25-26). Hy wil hę dat elkeen van sy dissipels onder die oorwinnaars sal eindig.

As ons absoluut verbind is tot die beginsel van meer heiligheid in ons lewe en dit werklik met erns nastreef, sal die vrug daarvan duidelik in ons lewens sigbaar word (vgl. Rom. 6:22). In Hallelujalied 314 word die seën van ʼn geheiligde lewe só beskryf:

            Meer heiligheid gee my,

            meer gloed in my hart,

            meer troos in beproewing,

            oor sonde meer smart!

            Meer steun op my Heiland,

            meer trou op Hom let,

            meer vreugde in arbeid,

            meer krag in gebed!