Twyfel oor Geloofsake

Johan Malan, Mosselbaai (Julie 2014)

Dit is veral in moderne tye ’n algemene verskynsel dat mense oor die grondbeginsels van hulle geloof begin twyfel en, in uiterste gevalle, ook die bestaan van God bevraagteken. Verwarde denke wat deur geestelike twyfel geskep word, word dikwels veroorsaak deur negatiewe ondervindings soos traumatiese gebeure in ’n gesin, in ’n gemeenskap of elders in die wêreld, deur sosiale, ekonomiese en ander persoonlike krisisse, of deur verydelde verwagtings en onbeantwoorde gebede. Morele verval, teologiese twisgesprekke en wydverspreide geestelike dwalings in kerke en kweekskole dra daartoe by dat mense se geloof verswak of selfs vernietig word. Internet webwerwe en ’n toenemende aantal boeke waarin die geloofwaardigheid van die Bybel en die relevansie van die Christelike geloof deur vooraanstaande mense bevraagteken word, speel ook ’n groot rol in die beweging weg van die Bybel en sy voorskrifte af. Die norme en tradisies van die Christendom word as onwetenskaplik en onaanvaarbaar vir die moderne mens beskou.

Die Bybel waarsku ons teen geloofsverval wat in die laaste dae besonder algemeen sal voorkom: “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang” (1 Tim. 4:1). Baie van die misleide predikers en ander verkondigers van geestelike dwalings werk mee om hierdie demonies geïnspireerde leerstellings te bevorder (2 Tim. 4:3-4; 2 Pet. 2:1-2). Paulus se stelling in 1 Timótheüs 4:1 oor mense wat “van die geloof afvallig word” (letterlik: “... van die geloof af vertrek” – Eng.: “depart from the faith”) is afgelei van die Griekse woord afistemi wat soos volg vertaal en verklaar word in die Strong’s Konkordansie: “aanhits om te rebelleer; ophou of wegdros; verlaat, weggaan, wegval, weerhou, onttrek”. Onder die invloed van vyandige geestelike invloede onttrek sekere mense hulle bewustelik van die geloof en beweeg daarvan weg.

Baie van die twyfelaars wat besig is om hulle van die geloof te onttrek is nie openlik vyandig, aggressief of onleerbaar wanneer hierdie onderwerp met hulle bespreek word nie – hulle is bloot ontnugterde gelowiges wat eerlik na die waarheid soek. Hulle probleme behoort nie geïgnoreer of as onbelangrik geag te word nie, omdat hulle worstel met beginselsake wat die potensiaal het om hulle geloof te vernietig en hulle in agnostici te verander indien hierdie probleme nie grondig aangespreek word nie. Die totale lewens- en wêreldbeskouing van so ’n persoon loop gevaar om verwerp en vervang te word deur ’n ander beskouing waarin ’n Bybelse geloof geen rol speel nie. Dit is die rede waarom baie van hierdie mense stryd voer met vrae oor die verhouding tussen natuurlike en bonatuurlike verskynsels en, spesifiek in ’n Christelike verband, die mate waartoe God tussenbeide tree en bemoeienis maak met mense se daaglikse lewe op aarde. Hoe moet ons ’n verklaring gee vir alles wat gebeur? Waar is God in ’n wêreld wat vol geweld, pyn en ellende is, en waarin miljoene onskuldige mense ly en sterf? Wanneer mense deur moeilike vrae soos dié gekonfronteer word, probeer hulle gewoonlik om daarvan sin te maak binne die raamwerk van die ideologiese of kosmologiese model van een van die volgende wêreldbeskouings (vir meer inligting hieroor, sien http://www.bibleguidance.co.za/Afrartikels/Wereldbeskouing.htm):

Agnostisisme. Sekere mense begin om die Bybel, God se plan vir redding en ook die versorging van sy kinders te betwyfel, en uiteindelik ook die bestaan van God self. Hulle kan nie enige duidelike plan in God se handelswyse met mense raaksien nie, en regverdig hulle standpunt deur na beweerde inkonsekwenthede en weersprekings in die Bybel te verwys. Hierdie stellings word as verskonings gebruik om die Goddelike oorsprong van die Bybel te ontken en dit te bestempel as ’n menslik bedinkte boek wat onvolmaak is en ook ontoepaslik is vir mense in moderne samelewings. Baie van hierdie weifelendes bereik later die punt waar hulle enige bonatuurlike intervensie in die lewens van mense ontken, en vereenselwig hulle dan met die wetenskaplike beskouing van natuurlike oorsaak en gevolg om alle verskynsels te verklaar. Sommige van hierdie mense raak volslae ateïste, terwyl ander verkies om deïste te word wat net in ’n veraf God (Deus Remotus) of ’n verborge God (Deus Absconditus) glo wat hom na bewering van sy skepping onttrek het en dus geen bemoeienis met menslike lewe op aarde maak nie. Wat hulle betref, het hy alle bande met sy skeppingswerk verbreek, daarom is dit nodeloos om tot hom te bid om op te tree en die toenemende aantal probleme in ’n oorbevolkte, misleide, immorele en misdaadgeteisterde wêreld op te los.

Deïste kan egter nie hulle ekstreme beskouings van ’n God wat nie by sy skepping betrokke is, handhaaf nie. Jack Zavada (Christianity.about.com) sê: “Die begrip deïsme vergelyk God met ’n horlosiemaker wat ’n horlosie gemaak en aan die loop gesit het, maar daarna niks daarmee te doen het nie. Deïste het tot hierdie gevolgtrekking gekom deur na natuurrampe en menslike tragedies te kyk waarin God nie tussenbeide getree het nie. Hierdie siening is ooglopend onbybels. Regdeur die Bybel tree God voortdurend tussenbeide ter wille van sy kinders. God die Vader het Israel uit hulle Egiptiese slawerny verlos en hulle in die land Kanaän gehelp om oorloë te wen. As die belangrikste van al sy bemoeienisse het Hy sy Seun, Jesus Christus, as ’n offer vir die sondes van die wêreld gestuur.”

New Age mistisisme. In hierdie wêreldbeskouing, wat ook die grondslag vorm van Oosterse gelowe soos Boeddhisme en Hindoeïsme, word die heelal gesien as ’n geïntegreerde geheel sonder enige onderskeid tussen natuurlike en bonatuurlike verskynsels. Volgens hierdie holistiese beskouing is die heelal ’n selfonderhoudende geheel waardeur daar ’n kosmiese krag of energie vloei wat in sigself dinamies en skeppend is en nie onder die beheer van ’n persoonlike, transendente God funksioneer nie. Ingevolge hierdie mense se panteïstiese oortuigings is God ’n onpersoonlike lewenskrag wat in die hele skepping teenwoordig is. Mense is in die algemeen onbewus van hierdie kosmiese krag of energie, daarom moet hulle hul bewussynsvlakke verhoog deur middel van psigotegnieke soos transendentale meditasie. Wanneer hulle ’n kosmiese bewussyn verkry het, kom hulle in verbinding met die lewegewende energiebron waarna soms verwys word as die hoër self, die dieper self of die god van binne. Wanneer hulle toegang tot hierdie energiebron verkry het, is hulle in staat om die kragte van goed en kwaad (jin en jang) te balanseer in hulle eie lewens, asook in hulle verhoudings met ander mense. Hulle kan dié krag ook gebruik vir selfgenesing, en om ander te help om die oorsprong van hulle siektes en lyding vas te stel. Op hierdie manier word die mens die bepaler van sy eie lotgevalle. Hoe meer vordering mense maak met die verhoging van hulle kosmiese bewussyn, hoe nader kom hulle aan die ideaal om meesters van wysheid te word wat ander kan help deur hulle in die proses van kosmiese ontwaking en selfverlossing te begelei.

Calvinisme. Kragtens hierdie wêreldbeskouing word die drie-enige God se soewereiniteit só vertolk dat alle mense op aarde, van voor hulle geboorte al, ’n Goddelik bepaalde bestemming het wat óf na die hemel óf na die hel lei. In sy uiterste vorm leer die Calvinistiese dogma dat Goddelike uitverkiesing die lotsbestemming van alle mense op ’n vaste en onveranderlike wyse bepaal. Dit kom daarop neer dat God twee lyste name het – een vir die gereddes en een vir die verlorenes. Geen geestelike meriete of enige onafhanklike besluit deur mense word in ag geneem nie, omdat God sy besluit oor almal se status en bestemming al reeds voor die grondlegging van die wêreld geneem het. Vir die meeste Calviniste is uitverkiesing ’n breë begrip wat ook alle dade insluit wat mense ooit gedoen het of nog sal doen. Om anders te argumenteer, deur bv. besluite en handelinge aan ’n persoon se eie wil of die gevolge van sy bose hartstogte toe te skryf, kom vir hulle neer op die miskenning van God se soewereiniteit waarvolgens Hy vooraf goedkeuring moet verleen vir alles wat gebeur. Ooreenkomstig hierdie uitgangspunt maak Calviniste van God die bewerker van sonde, insluitend al die geweldpleging waarin miljoene onskuldige mense al gesterf het. Dit is ’n ernstige wanvoorstelling van die God van grenslose liefde en geregtigheid.

Geen wonder dat Calvinistiese leraars nie in staat is om die vrae te beantwoord van denkende individue wat nie langer bereid is om blindelings die leerstellings en gebooie van mense na te volg nie (vgl. Matt. 15:8-9). Sulke leraars vermy of verkleineer gewoonlik diegene wat moeilike vrae vra. Hulle hoop waarskynlik dat die meerderheid gemeentelede die vyf basiese leerstellings van Calvinisme, naamlik totale verdorwenheid, onvoorwaardelike verkiesing, beperkte versoening, onweerstaanbare genade en die volharding van die heiliges, bloot onnadenkend sal aanvaar. Die meeste mense vind dit inderdaad baie gerusstellend om aan ’n Calvinistiese kerk te behoort waarin hulle verseker word dat hulle onder die uitverkorenes is, dat hulle deur die kinderdoop in ’n ewige verbondsverhouding met die Here is, dat niks buite die wil van die Here met hulle sal gebeur nie, en dat hulle altyd die voorreg van ewige saligheid (eenmaal-gered-altyd-gered) sal geniet, ongeag hoe diep hulle keer op keer in sonde mag val. Mense met wie slegte dinge gebeur het, vind dit egter moeilik om God se wil te verstaan, en dit is duidelik dat hulle predikante dit selfs nog moeiliker vind om negatiewe ervarings binne die raamwerk van Calvinistiese denke aan hulle te verduidelik.

’n Bybelse wêreldbeskouing. Dit is lewensbelangrik om ’n evangeliese wêreldbeskouing te huldig waarin Bybelse leerstellings weerspieël word oor die drie-enige God en sy attribute, sy skeppingswerke, die oorsprong en invloed van boosheid, die morele en geestelike verdorwenheid van die mensdom, die vrye wil van die mens en sy aanspreeklikheid teenoor God, die Goddelike inspirasie en foutloosheid van die Bybel, die Godheid en soendood van Christus, redding, heiligmaking, die voorsiening van God, geestelike oorlogvoering teen bose magte, die volharding van die heiliges te midde van ’n intense geestelike stryd, en die regte begrip van Bybelse profesieë oor die laaste dae net voor en ná die wederkoms van Christus. Hierdie basiese leerstellings moet grondig bestudeer en in die geloof aangeneem word. Ons moet ingeligte, toegewyde en standvastige getuies van Christus wees, ten volle toegerus om mense in al hulle behoeftes te bedien, en ook in staat om in die onstabiele en verbygaande wêreld waarin ons woon, vir hulle die pad vorentoe aan te dui.

Wanneer die oortuigings van gelowiges omstrede raak en begin wankel as gevolg van onbeantwoorde vrae oor God, oor redding en oor ander aspekte van hulle geloof, word ’n vrugbare teelaarde geskep vir misleiding en die betwyfeling van alle Skriftuurlike waarhede. Die vyand sal vinnig wees om so ’n situasie uit te buit deur meer saadjies van ongeloof te saai. Kleingelowige gebede wat nie beantwoord word nie is van die eerste gevolge van so ’n persoon se geestelike veragtering. Jakobus sê: “Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ’n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word. Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie – so ’n dubbelhartige man, onbestendig in al sy weë” (Jak. 1:6-8). Ons kan slegs suiwer bid en geloofsantwoorde ontvang indien ons denke gevestig is in die Bybel as die letterlik geïnspireerde en foutlose Woord van God, want dit is die hoogste en finale gesag in alle sake wat betrekking het op geloof en die lewe, en wat deur die Heilige Gees aan elke gelowige vertolk word. Die leerstellings van die Bybel, en spesifiek die evangelieboodskap, moet nooit as onbelangrik of verouderd beskou word nie en ook nooit verander word om by ’n persoon se eie voorkeure en subjektiewe leerstellige oriëntasie aan te pas nie. 

Tim Challies (www.boundless.org) maak die volgende opmerkings oor die waarde van die Bybel as God se Woord, sowel as die genade van Christus wat deur sy soendood aan ons gebied word:

“Christene glo dat die Bybel die enigste onfeilbare bron van God se openbaring aan ons is. Die Bybel alleen onderrig ons oor alles wat nodig is vir ons verlossing van sonde, en dit is die standaard waarteen alle Christelike gedrag gemeet moet word. Die beste plek om te begin om die Bybel te verstaan, is om kennis te neem van wat die Bybel oor homself sê. Die Bybel lewer getuienis oor sy eie uniekheid en selfgenoegsaamheid: ‘Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus’ (2 Tim. 3:16-17). Dit getuig oor sy eie volmaaktheid en krag: ‘Die wet van die Here is volmaak: dit verkwik die siel; die getuienis van die Here is gewis: dit gee wysheid aan die eenvoudige’ (Ps. 19:8). Dit getuig oor sy eie volledigheid: ‘Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is. En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is’ (Op. 22:18-19). Die Bybel eis vir homself die hoogste en prominentste plek op. Dit vereis dat dit as God se belangrikste openbaring aan ons beskou word. Sommige mense glo egter dat die openbaring wat deur die Bybel aan ons gegee is, aangevul en vervang moet word deur jonger openbarings. Dit is veral ’n versoeking in moderne tye wanneer mense meer waarde heg aan nuwe dinge as aan ou dinge. ...

“Die Bybel maak dit duidelik dat die kruis die mees verhewe aspek van die Christelike geloof is. Dit is aan die kruis waar Jesus Christus die straf vir ons sonde betaal het. Aan die kruis het Jesus die sondes van die mensdom op Hom geneem en die doodstraf vir hierdie sonde uitgedien. Die straf wat Hy uitgedien het, was die regverdige toorn van die Vader – die straf waaraan diegene skuldig was wat die rug op hulle Skepper gedraai het. Aan die kruis sien ons die groot verborgenheid van Jesus wat vir ons sonde geword het en van sy Vader geskei is sodat Hy aan die eis van God se geregtigheid kon voldoen. Dit is die evangelie! Die evangelieboodskap vereis ’n geloofsrespons. In die geloof aanvaar ons dit en deur genade ontvang ons al die voordele van dit wat Christus aan die kruis vermag het” (einde van aanhaling).

Wat ons geestelike probleme ook al mag wees, moet ons net die wortels van ons geloof ondersoek en regstel wat daarin ontbreek of wat in ons uitlewing daarvan verkeerd gegaan het. In Johannes 15:1-7 word ons geloofsverhouding met Christus vergelyk met lote wat in die wingerdstok ingeënt is. Die metafoor van “inenting” beeld die wedergeboorte uit wanneer ons ʼn geloofsband met Christus vasknoop en deel aan sy lewe verkry. Hierna rus die verpligting op ons om deur toewyding in Christus te bly en ʼn godvrugtige lewe onder die volle beheer van sy Heilige Gees te lei (Joh. 15:4; Gal. 5:16; Ef. 5:18). Ons verhouding met Hom moet kwalitatief opgebou en versterk word, want dit sal verseker dat ons in alle opsigte van ons bestaan ʼn Christelike lewens- en wêreldbeskouing sal huldig waarin daar geen plek vir twyfel sal wees nie. Dit sal ons help om in die lig te wandel en ook ons oortuigings teen die toenemende aantal dwalings in die wêreld te kan verdedig.