Waarskuwings teen Geestelike Veragtering en Verval

Johan Malan, Mosselbaai (Maart 2016)

Skriflesing: “Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie; en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie” (Heb. 12:14-15).

In die Bybel is daar duidelike opdragte om heilig te leef en vordering te maak in ons geestelike lewe, maar terselfdertyd word ernstige waarskuwings gerig teen diegene wat veragter in die genade en weer volgens hulle ou natuur begin leef. Sulke mense raak maklik verbitterd weens teleurstellings en moeilike omstandighede, en dra dan hulle twyfel en negatiewe gedagtes oor op andere. Ons gaan óf vorentoe in ons verhouding met die Here en jaag die heiligmaking na, óf ons gaan agteruit en val geestelik terug. Diegene wat nader aan die Here leef, ervaar sy vrede en blydskap in hulle harte en leef ook in vrede saam met ander mense, terwyl dié wat terugval, noodwendig verkoel in hulle liefde teenoor God én teenoor hulle medemens.

Ons word gewaarsku dat ons in ʼn vervallende wêreld leef wat al hoe slegter word terwyl dit op die oordele van God afstuur. Dit is opsigtelik dat geestelike verval en misleiding in die eindtyd toeneem om ʼn klimaat van ontvanklikheid vir die Antichris te skep. Christene moet egter ʼn vergesig verby al hierdie probleme hê en die wederkoms van Christus verwag, sodat hulle in heiligheid voor Hom kan verskyn. Ons moet dus die misleiding en verval weerstaan sodat ons nie daardeur meegesleur, besoedel en ontmoedig word nie.

Petrus sê: “Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? – julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas. … Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede. … Noudat julle dit dan vooruit weet, geliefdes, moet julle op jul hoede wees dat julle nie miskien meegesleep word deur die dwaling van sedelose mense en wegval uit jul eie vastigheid nie. Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Pet. 3:11-12, 14, 17-18).

Petrus sluit sy brief af met ʼn waarskuwing én ʼn bemoediging. Proff. Walvoord en Zuck (The Bible Knowledge Commentary) sê: “Die woorde noudat julle dit dan vooruit weet is die vertaling van een Griekse woord (proginoskontes), waarvan die woord prognose afgelei is. Wanneer ʼn mediese prognose gemaak is, kan ʼn pasiënt homself beter op die toekoms voorberei deur bv. die regte dinge te doen. Wanneer ʼn dokter sê: ‘As jy aanhou om so baie te eet, sal jy oor ʼn paar jaar ernstige hartprobleme hê’, dan weet die pasiënt dit vooraf en kan sy lewenswyse daarby aanpas. Petrus het ook gewaarsku dat Christene deur bose mense mislei kan word en uit hulle standvastigheid kan wegval. Die uitdrukking dat julle nie miskien meegesleep word nie dui op ʼn groepsbeweging. Valse leraars is nie tevrede om net nou en dan ʼn paar mense te mislei nie, want hulle is daarop ingestel om groot groepe op ʼn dwaalweg te lei, weg van die regte leer van Christus af. Mense wat na hulle luister, verkeer in gevaar om geestelik weg te val (dié werkwoord word in 2 Pet 1:10 as struikel vertaal en in Gal. 5:4 as verval).”

As jy nie in die genade en kennis van Christus toeneem nie, dan vervaag selfs die kennis wat jy reeds opgedoen het en maak jou vatbaar vir misleiding. Hierteen waarsku die Bybel ons ernstig, omdat geestelike stagnasie en agteruitgang die teendeel van ʼn lewe van toenemende heiligmaking is. Die Bybel bied aan ons ʼn duidelike prognose van die geestelik siek wêreld waarin ons woon, daarom moet ons gepaste stappe neem om dit te vermy en nie daardeur meegesleur te word nie. Ons moet dus nie deel van die geestelike probleme in die wêreld word nie, maar onbeweeglik sterk wees in ons geloofslewe sodat ons deel kan bly van die oplossing wat die ongelowiges en teruggevalle Christene so dringend nodig het.

In die Nuwe Testament word ons onderrig oor hoe “om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is” (Jud. 1:3). Anton Bosch maak die volgende baie tersaaklike opmerking in hierdie verband: “Die feit is dat al die sendbriewe, van Romeine af tot by Judas, met een primêre doel geskryf is en dit is om ons te waarsku teen die gevare van moedeloosheid, onbelyde sonde, ongehoorsaamheid en valse leerstellings. Indien hierdie reaksies nie die potensiaal gehad het om geestelike verval in die hand te werk nie, sou daar geen behoefte gewees het vir die eindelose waarskuwings nie en kon ons maar net sowel met ons sonde voortgegaan het sodat die genade meer kan word. Beslis nie! (Rom. 6:1-2). Indien die moontlikheid van geestelike veragtering en verval nie daar was nie, waarom moet ons onsself dan so beywer vir leerstellige suiwerheid, ʼn heilige lewenswandel en volharding?”

Daar is twee verskillende stadiums van verval, naamlik veragtering in die genade en veral uit die genade. In die eerste stadium bly die betrokke persoon ʼn kind van die Here omdat hy net verkoel het in sy liefde. Christus het gesê: “En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei. En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel” (Matt. 24:11-12). Geestelike en morele verval lei aanvanklik dus net na ʼn verkoeling in mense se geestelike lewe. Die Galásiërs was in ʼn soortgelyke situasie omdat hulle van geestelike na vleeslike Christene teruggeval het. Paulus vra: “Nadat julle met die Gees begin het, eindig julle nou met die vlees?” (Gal. 3:3). Dit was ʼn algemene probleem in die vroeë kerk, daarom het Paulus ook vir die Korinthiërs gesê: “En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus” (1 Kor. 3:1). Hulle het óf weens ʼn gebrek ten opsigte van die stap van heiligmaking geestelik gestagneer, óf hulle het agteruit beweeg en veragter in die genade vanaf ʼn geestelike na ʼn vleeslike toestand.

Baie Christene gaan net eenvoudig voort op die pad van misleiding en sonde totdat hulle later verval uit die genade. Die verval vind hoofsaaklik op twee terreine plaas, naamlik geestelike (leerstellige) en morele (vleeslike) verval.

Leerstellige én morele verval

Daar is verskeie voorbeelde in die Bybel van mense wat geestelik heeltemal uit die genade verval as gevolg van morele sondes én die aanvaarding van valse leerstellings:

ʼn Terugkeer na goddeloosheid. Al reeds in die Ou Testament is die gevolge van geestelike verval duidelik uiteengesit: “Maar as die regverdige afwyk van sy geregtigheid en onreg doen en handel volgens al die gruwels wat die goddelose doen – sal hy lewe? Aan al sy geregtighede wat hy gedoen het, sal nie gedink word nie; om sy troubreuk wat hy begaan het, en om sy sonde wat hy gedoen het, om hulle ontwil sal hy sterwe” (Eseg. 18:24). Dit is die gevolg van totale verval. Sulke mense kom weer onder die oordeel van die sondaars, al was hulle vroeër gelowiges wat die Here gedien het. Hulle het die pad byster geraak en hulle geloof verloor.

Dreigende algehele verval. Toe Dawid die erge sondes van moord en owerspel gepleeg het wat uitdruklik deur God se wet verbied word, het hy besef dat hy op die randjie van algehele geestelike verval was, soos wat met Saul voor hom gebeur het (1 Sam. 16:14). Dawid het ernstig om genade gebid, sy sondes bely en gevra dat die Heilige Gees hom nie sou verlaat nie: “Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë. ... was my, dat ek witter kan wees as sneeu. ... Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie. Gee my weer die vreugde van u heil” (Ps. 51:6, 9, 13-14). Hy het nie as ʼn teruggevallene voortgeleef nie, maar is vergewe, gereinig en ten volle in die diens van die Here herstel.

Verval uit genade. Paulus waarsku die Galásiërs dat indien hulle sou voortgaan om die wet en genade te vermeng, hulle daardeur tot hulle eie skade die Nuwe-Testamentiese verlossingsleer sou ondermyn. Dit sou tot hulle verlies aan geloofsekerheid lei, omdat hulle nie meer Christus se offer as genoegsaam beskou het sonder die wet nie: “Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval” (Gal. 5:4). Hier word met mense gepraat wat reeds die Here Jesus as Verlosser aangeneem en in sy genade bevestig is. Indien hulle egter tot aspekte van die wet sou terugkeer, sou hulle Christus verloën en geheel en al in ʼn ongeredde toestand verval. Dit sou hulle van Jesus Christus as die enigste Verlosser “losmaak” en hulle weer onder die juk van die wet plaas.

Verwerping van die leer van Christus. Die grondbeginsels van die evangelie is ononderhandelbaar. As iemand daarvan afwyk, bly hy nie in Christus nie en verloor noodwendig sy aanspraak op redding: “Elkeen wat ʼn oortreder is en nie bly in die leer van Christus nie, hy het God nie. Wie in die leer van Christus bly, hy het die Vader sowel as die Seun” (2 Joh. v.9). Proff. Walvoord en Zuck (The Bible Knowledge Commentary, bl. 907-908) sê die volgende oor dié teks: “Hierdie woorde impliseer duidelik dat die apostel na geloofsverval verwys onder diegene wat in ʼn stadium geglo het. Die uitdrukking “bly in” (Grieks meno) word 23 keer in Johannes se eerste sendbrief gebruik, en verwys na die lewe wat voortdurend in Christus bly (“the abiding life”). Iemand wat nie in iets bly nie, was duidelik vroeër daarin gewees. Die Nuwe-Testamentiese skrywers was realisties oor die moontlikheid dat ware Christene die slagoffers van dwaalleerstellings kan word, en het dikwels daarteen gewaarsku, veral in die boek Hebreërs. Johannes het pas sy lesers teen die moontlike verlies aan loon gewaarsku (v.8). Hulle word nou gewaarsku om nie buite die grense van die gesonde leer te beweeg nie, maar om in die leer van Christus te bly en daarin te volhard. Wanneer ʼn persoon van die waarheid afwyk, dan laat hy God agter, want Hy is nie met só iemand nie. Wat hierdie persoon doen, doen hy sonder die Here.”

Die verbreking van iemand se verhouding met Christus. Die Here Jesus het op gelowiges se verpligting gewys om voortdurend in Hom te bly en nie afvallig te raak nie: “Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie. ... As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand” (Joh. 15:4, 6). Die Here kan nie ontrou raak nie, maar die mens kan wél ontrou raak, sy verhouding met die Here afskeep en uiteindelik te gronde laat gaan. Die einde van ʼn afvallige se pad is die vuur van God se oordele, omdat hy homself weer by die sondaars en agnostici voeg en hulle gedrag goedpraat.

ʼn Aanval op geloof deur die geldgod. Valse leerstellings neem geweldig toe in die eindtyd. Daar is ʼn groot geneigdheid tot die voorspoedsevangelie deur mense wat hoofsaaklik daarop ingestel is om aardse geluk en rykdom na te jaag. Hulle het Christus nie ter wille van die geestelike behoeftes van hulle onsterflike siele lief nie, maar hoofsaaklik vir die verkryging van tydelike seëninge. As gevolg van hierdie materialistiese gesindheid beskryf Jesus hulle as geestelik verblind en spuug hulle uit sy mond, m.a.w. Hy verwerp hulle weg van sy aangesig af (Op. 3:16-17). Hy verbreek self sy verhouding met hulle weens hulle humanistiese selfregverdiging. Die geldgod, Mammon, is die dryfkrag agter ʼn valse evangelie wat daarop ingestel is om mense se geloof te vernietig. Dit is die rede waarom Jesus Christus buitekant die deur van die eindtydse kerk van Laodicéa staan om die afvallige lidmate te laat besef dat hulle besig is om ʼn misleidende vorm van godsdiens sonder Hom te bedryf. Hulle roem net in dit wat hulle self vermag het, en spreek hulle lidmate salig sonder dat daar geestelike wedergeboorte is. Hulle bely Christus met hulle lippe, maar hulle harte is ver van Hom af (vgl. Matt. 15:8-9).

Die groot afval van die laaste dae. Die Bybel waarsku onomwonde teen leerstellige verval. Mense wat afvallig raak van die waarheid wat hulle vroeër bely het, speel in Satan se hande omdat hulle hulself oopstel vir valse leringe wat van die Groot Misleier af kom: “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang” (1 Tim. 4:1). Sulke mense verwerp die ware geloof en aanvaar valse leerstellings, en daardeur beëindig hulle hul reis as volgelinge van Christus. Daar is ʼn opvallende toename van hierdie verskynsel in die eindtyd, maar dit het regdeur die kerkbedeling gebeur. Paulus sê vir Timótheüs hy moet die goeie stryd stry “en aan die geloof en ʼn goeie gewete vashou. Sommige het dit van hulle weggestoot en aan die geloof skipbreuk gely” (1 Tim. 1:18-19). As ons van die weg van die waarheid afwyk, stuur ons af op geestelike struikeling en sal uiteindelik as skipbreukelinge op die see van die lewe uitspoel. Paulus noem voorbeelde van sulke ontspoorde dissipels wat van die geloof afvallig geword het, en sê dat hulle van die waarheid afgedwaal het en nou keer hulle deur hulle valse prediking die geloof van ander mense om (2 Tim. 2:16-18). Daar is vandag baie van hierdie geestelike skipbreukelinge in die wêreld wat deur die duiwel gebruik word om talle ander mense se geloof te vernietig.

ʼn Verval na openlike kettery. ʼn Groot deel van die geestelike verval van die laaste dae is gerig op die verloëning van die Bybelse Jesus sodat die weg gebaan kan word vir die aanvaarding van die valse, universele christus van alle gelowe – die Antichris (Op. 13:3-4). Die bestaan van Jesus word nie ontken nie, maar Hy word valslik voorgestel as ʼn historiese Jesus wat geen Goddelike attribute het nie en dus geen mens se siel kan red nie. Leraars wat in baie gevalle self vroeër in die Bybelse Jesus geglo het maar intussen afvallige postmoderniste geword het, mislei baie ander mense wat nog onkundig oor die Woord is en sleep hulle saam na die verderf: “Maar daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ʼn vinnige verderf oor hulleself bring; en baie sal hulle verderflikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word” (2 Pet. 2:1-2). Valse leraars streel mense se gehoor deur fabels en mites wat verdraaiings van God se Woord is te verkondig (2 Tim. 4:3-4). Die waarheid van die Bybel word deur hulle verag, verwerp en as outyds bestempel.

ʼn Selfvernietigende ontkenning van Bybelse waarhede. Die heel laaste waarskuwing in die Bybel is gerig aan persone wat aspekte van God se Woord ontken en dus daarmee wegdoen: “En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is” (Op. 22:19). Hierdie waarskuwing geld nie net ten opsigte van die boek Openbaring nie, maar het op die hele Bybel betrekking (Deut. 4:2; 12:32; Luk. 21:33). Gelowiges wat onder die mag van misleiding kom en begin om kardinale Bybelse leerstellings te vergeestelik, te ontken en sodoende uit die Bybel weg te neem, se name sal uit die boek van die lewe verwyder word. Dit beteken dat hulle name wel vroeër daar was, maar weens hulle latere ongeloof is dit uitgewis. Die oorwinnaars wat aan die Here Jesus en sy Woord getrou bly en nie daarvan afwyk nie, kry die versekering dat hulle nooit sal tel onder die afvalliges wie se name verwyder word nie: “Wie oorwin, sal beklee word met wit klere, en Ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe nie” (Op. 3:5). Waarom sou so ʼn versekering gegee word as gelowiges se name nie uitgewis kan word nie? Jesus sal vir die oorwinnaars sê: “... jy het my Woord bewaar en my Naam nie verloën nie” (Op. 3:8). Hulle het op die Here se pad volhard tot die einde toe.

Die wegneem van belangrike leerstellings, voorskrifte en beloftes uit die Bybel, het reeds so ver gevorder dat daar ʼn omvattende “teologie van ontkenning” ontstaan het. Die lys van ontkennings raak al hoe langer en sluit die volgende onderwerpe in: Geloof in die Bybel as die letterlik geïnspireerde en foutlose Woord van God, die skeppingsverhaal, die wonderwerke in die Bybel, die maagdelike geboorte, Godheid en opstanding van Jesus Christus, die heilswaarde van sy kruisdood, die eindtydse herstel van Israel in hulle land, die wegraping wanneer die hemelse Bruidegom sy bruid kom haal, die eindtydse verskyning van ʼn persoonlike Antichris wat vir sewe jaar lank oor die aarde sal regeer, die duisendjarige vrederyk ná Christus se wederkoms, die herstel van die troon van Dawid in Jerusalem, ens. Wat bly van die Bybel oor nadat misleide teoloë dit aan ʼn menslik bedinkte wetenskaplike wêreldbeeld onderwerp, krities-histories verklaar en sodoende van essensiële aspekte van sy grondbetekenis beroof het? Die ewe belangrike vraag is: Wat word van die mense wat hulleself hieraan skuldig maak? Omdat hulle die Finale Waarheid verwerp het, verskyn hulle name nie meer op die lys van die verlostes nie.

Die straf oor valse profete. Dit verwys na selfaangestelde profete wat onverifieerbare, buite-Bybelse profesieë verkondig. Nadat die boek Openbaring geskryf is, het ons die volle raad wat God aan ons wou openbaar (Hand. 20:27), daarom mag ons niks daarby voeg of daarvan weglaat nie: “Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is” (Op. 22:18). Ons mag net die Woord verkondig (2 Tim. 4:2), en dit beteken dat beweerde openbarings deur drome, visioene, hoorbare stemme, gesprekke met engele of selfs met afgestorwenes, buite orde is. Hierdie boodskappe is misleidend en die beoefenaars daarvan moet weet dat God se oordele op hulle wag. Hulle sal agterbly wanneer die Here sy kinders kom haal, al is hulle ook bekende en populêre predikers (Matt. 7:22-23).

Hernude slawerny aan sonde. Paulus waarsku gelowiges in Israel ernstig teen terugkeer na ʼn lewe van oorheersing deur sonde: “Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ʼn bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie. Maar vermaan mekaar elke dag so lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie” (Heb. 3:12-13). Dit is duidelik dat hierdie “broeders” daarteen moet waak dat hulle nie aan die verleiding van die sonde toegee en as gevolg daarvan in sonde begin leef nie. Wanneer hulle dít doen, raak hulle van die lewende God afvallig en kry bose en ongelowige harte. Indien hulle in daardie toestand sterf, sal hulle sekerlik verlore gaan. Hulle moet opnuut tot bekering kom as hulle weer Christene wil word, en dan besef dat volharding nodig is om enduit op die pad van die Here te bly: “Want ons het deelgenote van Christus geword, as ons net die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou” (Heb. 3:14; vgl. Kol. 1:23).

Die verlore seun en sy herstel. In die gelykenis van die verlore seun lees ons van ʼn jongman wat deur sondige begeerlikhede oorkom is en as gevolg daarvan sy verhouding met sy vader verbreek het om in die wêreld in sonde te gaan leef. Daar het hy sy eiendom verkwis deur losbandig te leef (Luk. 15:13, 30). Hy het egter in sy sondige en teruggevalle toestand tot besinning gekom en besluit om terug te gaan en sy verhouding met sy vader te herstel. Hy het gesê: “Ek sal opstaan en na my vader gaan, en ek sal vir hom sê: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u” (Luk. 15:18). Sy vader het hom van harte vergewe en hom ook volkome herstel. Hieruit leer ons dat daar beslis genade vir teruggevalle Christene is – selfs hulle wat uit die genade verval en heeltemal van die Here af weggedwaal het om in sonde te gaan leef.

Ons moenie die fout maak om die verlore seun in sy afgedwaalde toestand salig te verklaar deur te beweer dat hy nooit verlore kan gaan omdat hy altyd ʼn seun van sy vader bly nie. Die vader self het aan die oudste seun gesê: “… hierdie broer van jou was dood en het weer lewendig geword, en hy was verlore en is gevind” (Luk. 15:32). Die seun was nie in sy afgedwaalde toestand fisies dood nie, maar geestelik. Hy is as “verlore” en “dood” beskryf. Hy het egter uit die dood ontwaak. Die Griekse woord vir “weer lewendig geword” (anazao) beteken letterlik “herleef” of “opnuut lewendig geword”. Die Strong’s woordelys gee die betekenis aan as: “to recover life; live again; revive”. Hierdie woord kan net betrekking hê op iemand wat eers geleef het, toe gesterf en daarna weer herleef het. Aanvanklik het die seun geleef, toe in sy sondes gesterf terwyl hy in ʼn geestelik verlore toestand verval het, en daarna is hy geestelik weer lewend gemaak. Daar is hoop vir teruggevallenes, selfs al het hulle heeltemal uit die genade verval, daarom moet ons die verlore skape gaan soek en na die kudde van die Here teruglei.

ʼn Verkeerde begrip van ewige sekerheid

Baie Christene maak ongegronde afleidings van die volgende stelling deur die Here Jesus: “My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My. Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie” (Joh. 10:27-28). Die Here se beloftes word dikwels aan voorwaardes gekoppel. In hierdie geval is dit die gehoorsaamheid van sy dissipels. Die betrokke werkwoorde, “luister” en “volg”, is in die onvoltooide tydvorm geskryf, en beteken dat sy getroue dissipels aanhou om na sy stem te luister en voortgaan om Hom te volg. Net hulle kry die versekering dat niemand (geen eksterne mag) hulle uit die Here se hand kan ruk nie. Hy sal nie toelaat dat ons bo ons kragte versoek word nie, maar sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee sodat ons dit sal kan verdra (1 Kor. 10:13). Die duiwel kan ons nie uit die hand van die Here ruk tensy ons doelbewus met hom saamwerk nie. Ons behou egter ons vrye wil en is steeds aan versoekings onderworpe, daarom kan ons self, uit eie keuse, uit die hand van die Here gaan. As ons nie meer na sy stem luister nie en van Hom af wegdwaal, het ons beslis probleme! Hierdie beginsel word ook in Johannes 15:4-6 bevestig waar die loot wat nie in Christus bly nie, verdroog en uiteindelik in die vuur kan beland. As ons in Hom bly, soos Hy in ons, dan sal ons nooit verlore gaan nie. In Openbaring word Jesus se getroue dissipels as oorwinnaars beskryf, en aangemoedig om vas te hou wat hulle het totdat Hy kom (Op. 2:25-26; 3:10-11). Diegene wat hulle eerste liefde (Jesus Christus) verlaat het, sal spoedig in geestelike duisternis verkeer as hulle hulself nie uit hierdie toestand bekeer nie (Op. 2:4-5). Die kandelaar met sy lig stel die Heilige Gees voor, en die Here onttrek sy Gees aan diegene wat nie gehoorsaam is en by hulle eerste liefde bly nie.

Onherstelbare verval

Daar is ʼn uiterste vorm van onherstelbare verval waaruit die oortreder nie gered kan word nie, maar daar is min mense wat tot op hierdie punt verval (Heb. 6:4-6; 10:26-29). In dié verse beskryf Paulus ʼn vorm van geestelike hoogverraad. Die betrokke persoon verwerp die Koning van die koninkryk waaraan hy behoort het, deur die bloed van Christus onder sy voete te vertrap en die Gees van genade te laster en te smaad. Die Gees verlaat hom, daarom kan hy nooit weer onder sonde-oortuiging kom en geestelik herstel word nie. Dié persoon raak heeltemal onverskillig en gevoelloos teenoor godsdiens – hy dryf eerder die spot daarmee. Ons moet altyd onthou dat mense nie vir die hemel of hel gepredestineer is deur God nie, maar ʼn vrye wil het en self besluite kan neem wat tot hulle redding of verlorenheid lei. ʼn Gelowige kan deur sy optrede die Heilige Gees weerstaan, bedroef of selfs uitblus (Hand. 7:51; Ef. 4:30; 1 Thess. 5:19). Die engele in die hemel het ook ʼn vrye wil en baie van hulle het – ten spyte van al die heerlikheid van God wat hulle aanskou en beleef het – saam met Lucifer teen God gerebelleer en is uit die hemel gewerp: God het “die engele wat gesondig het, nie gespaar nie maar hulle in die hel [tartarus, ʼn bewaarplek vir die hel] gewerp en aan kettings van duisternis oorgegee” (2 Pet. 2:4).

Die meeste teruggevallenes is egter bloot deur versoekings, misleiding en twyfel oorkom. Hulle het nie vir Christus verag en die Heilige Gees belaster nie – soos wat die verlore seun ook nie sy vader as persoon verwerp het nie. Daar is vir hulle genade om geestelik herstel te word, daarom moet ons na hulle uitreik sodat hulle gebroke verhouding met die Here reggestel kan word.

Die Pinksterbelofte

Die Pinksterbelofte van vervulling met die Heilige Gees moet telkens weer in die geloof aanvaar word. Ondersoek jouself opnuut en bely alles wat tussen jou en die Here mag staan. Vra Hom om jou ʼn nuwe toerusting met krag uit die hoogte te gee. As jy dit doen, sal jy nooit struikel nie. Wanneer die Heilige Gees volle beheer oor ons lewens het, sal ons die versoekings van sonde en vleeslikheid kan oorwin: “Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie” (Gal. 5:16). Ons sal ook van geestelike dwalings gevrywaar word, want die Heilige Gees sal ons in die hele waarheid lei en ons aan al die woorde van die Here Jesus herinner (Joh. 14:26). Hy sal ons ook verligte oë van die verstand gee sodat ons Bybelse profesieë reg sal kan verstaan (Joh. 16:13). Dit is ook net deur sy krag dat ons ʼn geestelike wapenrusting kan aantrek sodat ons staande kan bly teen die liste van die duiwel (Ef. 6:10-11).

Die Here roep ons tot ʼn lewe van godsvrug en oorwinning. Dit is ʼn praktiese lewe van groei in die Here “tot die mate van die volle grootte van Christus; sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering” (Ef. 4:13-14). Wanneer daar geestelike groei en vooruitgang is, is daar nie geestelike stagnasie en stilstand nie – en nog minder ʼn proses van veragtering in die genade tot op ʼn punt wanneer ons self nie eers meer weet of ons gered of ongered is nie. Die moontlikheid van verval bestaan steeds, maar dit spoor ons net meer aan om te waak en bid dat ons nie in versoeking kom nie. Wanneer daar stabiliteit en vrug in ons geestelike lewe is, is daar geen plek vir vrees oor terugval nie, want die volmaakte liefde dryf die vrees na buite (1 Joh. 4:18).

Wanneer ons vrede in ons eie harte het, sal ons slegs bekommerd raak as dit blyk dat van ons broers of susters in die Here mislei word of verstrik raak in een of ander morele sonde. In gevalle van geestelike agteruitgang moet alles moontlik gedoen word om die betrokke persoon deur gebed en gesprekvoering weer herstel te kry op ʼn pad van geestelike groei: “Broeders, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie” (Gal. 6:1; vgl. 1 Kor. 10:12). Met die oog gevestig op Jesus, sit ons ons geestelike reis met toewyding voort, terwyl ons voortgaan om elke las af te lê én die sonde wat ons so maklik omring (Heb. 12:1-2).

Die Here maak dit vir ons wat in Christus gebly het en nooit van Hom afgedwaal het nie moontlik om hierdie reis as oorwinnaars te voltooi: “En nou, my kinders, bly in Hom, sodat ons vrymoedigheid kan hê wanneer Hy verskyn en nie beskaamd van Hom weggaan by sy wederkoms nie” (1 Joh. 2:28).