Die Rol van Tekens en Wonders

Prof. Johan Malan, Middelburg (Julie 2009)

Tekens en wonders is bonatuurlike dade waardeur God sy almag vertoon om gelowiges wonderbaarlik uit te red, oor sy vyande te triomfeer, en ook aspekte van sy raadsplan bekend te maak. Goddelike oordele is soms, soos in die tyd van Noag en Lot,  oor rebelse samelewings uitgestort. Hoewel die Here Homself enige tyd deur tekens en wonders kan openbaar, was daar tydperke in die geskiedenis toe sulke verskynsels algemeen voorgekom het. Dit het veral gebeur tydens en ná Israel se uittog uit Egipte; gedurende die veroweringstogte van leiers soos Josua, Gideon, Simson en Dawid; en ook gedurende die optrede van profete soos Elia en Elisa. In die tyd van Josua het die Here selfs die son en maan laat stilstaan sodat Israel hulle vyande voor donker kon inhaal en verdelg (Jos. 10:12-13).

Die begin én die einde van die Nuwe Testamentiese bedeling word ook deur die grootskaalse voorkoms van tekens en wonders gekenmerk, maar in die lang tydperk van die kerkbedeling self speel dit nie ‘n prominente rol nie. In hierdie tyd handhaaf die Here sy teenwoordigheid op aarde deur sy Heilige Gees wat mense van sonde oortuig en gelowiges ooreenkomstig Skrifuitsprake in geestelike waarhede lei. Dit is van die uiterste belang dat ons nie tekens en wonders wat vir die voorbereiding en vestiging van die Christelike kerk bedoel was, kunsmatig in die kerkbedeling sal probeer voortsit nie. Dit is net so belangrik dat ons nie die valse tekens wat in die eindtyd as voorbereiding vir die verskyning van die Antichris voorkom, sal najaag nie.

Dit is nodig om die verskillende groepe tekens en wonders van nader te ondersoek sodat vasgestel kan word wat hulle doel en betekenis is, en waar hulle in God se raadsplan inpas. Suiwer Skrifeksegese en groot onderskeidingsvermoë is nodig om duidelikheid hieroor te kry.

OT tekens en wonders

In die Ou Testament (OT) het die Here vir Israel as sy eie volk geroep en hulle teenoor die heidense volke gestel wat in die mag van Satan was. Daar was ‘n sigbare grens tussen God se koninkryk en Satan se koninkryk. Die Here het dikwels in die fisiese stryd tussen Israel en sy vyandige bure ingegryp en groot oorwinnings vir sy volk bewerk. Jérigo se mure het omgeval sonder dat Israel ‘n vinger verroer het (Jos. 6). Simson het duisende Filistyne deur sy bonatuurlike krag verslaan. In die tyd van Hiskia het die engel van die Here 185 000 Assiriërs wat Jerusalem beleër het, doodgemaak (2 Kon. 19:35). Deur God se toedoen was Nebukadnésar se vuuroond magteloos teen drie gelowige Israeliete, terwyl Daniël wonderbaarlik in ‘n leeukuil oorleef het. Die almag en verlossende krag van die Here kon deur almal gesien word, sodat mense kon besef dat daar ‘n ware God van die hemel en aarde is, wat ver verhewe is bo al die nietige afgode.

Die beoefening van godsdiens onder alle volke het in OT tye vele sigbare manifestasies gehad. Die heidense gelowe was gebaseer op verskillende vorms van afgodediens, en in die stryd teen hulle moes Israel die afgodsbeelde én hulle tempels fisies vernietig. Israel se godsdiens het hoofsaaklik bestaan uit die instandhouding van daaglikse offers in die tabernakel of tempel.  Uiterlike rituele handelinge was van die grootste belang – so ook die posisie van die priesters as menslike middelaars. Die Here het Homself dikwels op bonatuurlike maniere geopenbaar, soos bv. deur drome, visioene, ‘n hoorbare stem, en ook engele wat sekere mense met boodskappe van die Here af besoek het. Sy teenwoordigheid kon soms in ‘n helder lig, ‘n wolkkolom of ‘n vuurkolom waargeneem word. Heilige plekke is in die tabernakel of tempel ingerig waar Hy deur sekere gesalfdes geraadpleeg kon word.

Begin van die Christelike kerk

Aan die begin van die Nuwe Testament (NT) was daar sedert die openbare bediening van Jesus ‘n duidelike aanloop na die vestiging van die Christelike kerk. Dit het met groot tekens en wonders gepaard gegaan – veral die genesing van siekes en die opwekking van dooies – ten einde die Messiasskap van Jesus as die Seun van God te bevestig. Sy opstanding uit die dood en hemelvaart het die kroon gespan op ‘n lewe uit die krag van God, sodat almal kon sien en weet dat Hy die beloofde Messias was.

Petrus het die volk op die goddelike aspekte van Jesus se lewe gewys: “Israeliete, luister na hierdie woorde! Jesus, die Nasarener, ‘n man deur God vir julle aangewys met kragte en wonders en tekens wat God deur Hom onder julle gedoen het.” Hy het ook na die groot betekenis van Jesus se kruisdood en opstanding verwys, wat alles volgens God se voorneme gebeur het (Hand. 2:22-24). Die Here Jesus se wonderwerke was God se manier om te bevestig dat Hy die Messias en Verlosser van Israel én die hele wêreld is.

In ‘n tyd van groot aanvegtinge teen die vroeë Christelike kerk het die apostels gebid dat die Here hulle in staat sou stel om genesings, tekens en wonders in die Naam van Jesus te doen (Hand. 4:29-30; Heb. 2:4). Hierdie bevestigende tekens was deel van hulle bediening (Hand. 2:43; 5:12; 6:8; 14:3; 15:12). Daar is aanduidings dat mag om hierdie spesiale tekens te doen in dié tyd ook aan ander gelowiges verleen is. Die Here Jesus het gesê:

“En vir die wat geglo het, sal hierdie tekens volg: in my Naam sal hulle duiwels uitdryf, met nuwe tale sal hulle spreek, slange sal hulle opneem; en as hulle iets dodeliks drink, sal dit hulle geen kwaad doen nie; op siekes sal hulle die hande lê, en hulle sal gesond word. Nadat die Here dan met hulle gespreek het, is Hy opgeneem in die hemel en het gaan sit aan die regterhand van God. Maar hulle het uitgegaan en oral gepreek, en die Here het saamgewerk en die woord bevestig deur die tekens wat daarop gevolg het” (Mark. 16:17-20).

Proff. Walvoord & Zuck (The Bible Knowledge Commentary, bl. 196) sê die volgende oor Markus 16:17-20: “Hierdie verse noem vyf soorte tekens vir diegene wat glo. Tekens is bonatuurlike gebeurtenisse wat van die goddelike oorsprong van die apostels se boodskap getuig (vgl. Mark. 16:20). Die tekens het die geloof bevestig wat deur die vroeë gelowiges verkondig is, maar die persoonlike geloof wat elkeen van hulle beoefen het, was nie van tekens afhanklik nie. In die lig van hierdie feit, asook historiese getuienis, is dit redelik om te aanvaar dat hierdie bevestigende tekens slegs normatief vir die vroeë apostoliese era was. In die uitvoering van hulle opdrag het die apostels die vermoë gekry om wonderwerke in die naam van Jesus te doen... As ‘n finale bevestigende teken het hulle hul hande op siekes gelê en hulle genees.”

Laat ons na hierdie vyf spesiale tekens en wonderwerke kyk:

Duiwels uitdryf. Die mag van God oor die koninkryk van die duisternis is hierdeur gedemonstreer en mense is, in die openbaar, op skouspelagtige wyse, van duiwelbesetenheid verlos. Die doel hiermee was dat die mense die bekeringsboodskap van die apostels moes glo: “Die skare het eendragtig ag gegee op die woorde van Filippus toe hulle dit hoor en die tekens sien wat hy doen. Want uit baie van die wat onreine geeste gehad het, het die geeste uitgegaan terwyl hulle met ‘n groot stem skreeu; en baie wat lam en kreupel was, het gesond geword” (Hand. 8:6-7). In die latere kerkbedeling is die verlossende krag van die Here steeds oor al die werke van die duiwel werksaam, maar die bediening van die versoening is nie tot sekere “gesalfdes” beperk nie. In die proses van bevryding moet daar veel groter klem wees op die geloof van die ontvanger, eerder as dat demone eensydig deur ‘n ander persoon uitgedryf word. Wanneer iemand in die geloof na die genadetroon van die Here Jesus gaan, het hy nie iemand anders nodig om die duiwel te bestraf en hom vry van demoniese bindings te verklaar nie. Skrifgefundeerde berading en geestelike begeleiding is wel in baie gevalle nodig – sodat ‘n persoon se belydenis van sonde volkome, sy geloof in die verlossingskrag van Christus op vaste beloftes gebaseer, en sy bevryding en reiniging ten volle in die geloof aanvaar sal word. Hy moet geleer word om hom na die genadetroon van Christus te wend waar hy verlossing deur die bloed van die Lam sal verkry (Ef. 1:7), en nie na persone met spesiale “magte” om duiwels te bestraf, bindings te verbreek, en gesond te maak nie.

Spreek in ander tale. In die tyd van die vroeë Christelike kerk was daar nog nie ‘n Bybel gewees sodat sondaars deur konkrete opdragte en beloftes van die Here tot bekering opgeroep en nuwe bekeerlinge in die volle raad van God onderrig kon word nie. In hierdie tyd het die Here sy wil op ‘n bonatuurlike manier deur die teken van ander tale bekend gemaak. Dit was ander bekende tale (glossa) of dialekte (dialektos) wat die betrokke persoon nie kon praat nie. Die Heilige Gees het dan aan hom die gawe gegee om in een of ander taal te praat, en aan iemand anders die gawe om dit in die hoorders se eie taal te vertaal. Daar is nie in ‘n vreemde, brabbeltaal gepraat nie. Die ongelowige of skeptiese hoorders het as gevolg van hierdie teken besef dat God aan die werk was, en as gevolg daarvan geglo: “Die tale is dus ‘n teken nie vir die gelowiges nie, maar vir die ongelowiges” (1 Kor. 14:22). Soos wat die evangelies en sendbriewe van die NT later in die eerste eeu geskryf en onder gemeentes gesirkuleer is, is talespreek en tale uitlê geleidelik deur Skriflesing en Skrifuitleg vervang (vgl. (Kol. 4:16 en 1 Thess. 5:27). Dit was toe nie meer nodig om bonatuurlike en buite-Bybelse openbarings van God se wil te kry nie, omdat sy volle raad in die Bybel opgeteken is (Hand. 20:27). Die Bybel vervang nie net talespreek nie, maar ook goddelike openbarings deur drome, visioene, hoorbare stemme en engele wat boodskappe aflewer. Die Here spreek net met ons deur die woord van sy Seun soos in die Bybel opgeteken (Heb. 1:1). Dit beteken dat die funksie van profete ook verval het. Ons mag slegs Bybelse profesieë bestudeer en verkondig. Buite-Bybelse profesieë wat deur selfaangestelde profete verkondig word, is ‘n teelaarde vir geestelike misleiding en word gebruik om mense op ‘n dwaalspoor te plaas.

Mag oor giftige slange. Die Here het hierdie teken ook gebruik om heidene te oortuig dat sy apostels die waarheid verkondig. Paulus is op ‘n eiland deur ‘n hoogs giftige slang gebyt en die inboorlinge het verwag dat hy óf baie siek sou word óf dood sou neerval. Toe hy egter niks oorkom nie, het hulle hom in verwondering as ‘n goddelike persoon aangehang. Hy het die Woord aan hulle verkondig en ook siekes in die naam van die Here Jesus gesond gemaak (Hand. 28:1-10). Gelowiges het nie sulke besonderse magte in die kerkbedeling nie. Selfs al sou iemand wonderbaarlik teen dodelike slanggif beskerm word, is dit steeds nie ‘n algemene reël wat vir almal geld nie.

Mag oor ander gif. In die tyd van die apostels het selfs die Grieke se gifbeker geen verskrikking vir die Here se spesiale gesante ingehou nie. Gelowiges is egter nie in die kerkbedeling outomaties teen die uitwerking van gif en ander lewensgevaarlike middels gevrywaar nie, en kan dus ook nie op hierdie teken aanspraak maak nie.

Die gawe van genesing. Die apostels het die gawe van handoplegging gehad, wat beoefen is om die genesing van groot getalle siekes te bewerkstellig. Hierdie gawe is ook deur ouderlinge in die vroeë kerk beoefen (Jak. 5:14-15). Op grond van hierdie teken het baie mense die evangelie geglo en Christus as Verlosser aangeneem. Die spesiale apostoliese gawe van handoplegging bestaan egter lankal nie meer nie. Die apostels het in ‘n transisionele tyd geleef toe die klem van ‘n uiterlike (fisiese) vlak af na ‘n innerlike (geestelike) vlak verskuif het. Die Here wil hê ons moet besef dat Hy primêr gesterf het om ons geestelike krankhede op Hom te neem, sodat daar deur sy wonde aan die kruis genesing vir ons siek en sterwende siele kon kom (vgl. Jes. 53:4-5). Indien liggaamlike genesing deel van die versoening aan die kruis was, moet daar nie so iets soos ‘n siek Christen wees wat nie genesing kan verkry nie. Dit is egter nie die geval nie! Ten spyte hiervan moet ons steeds die vrymoedigheid neem om al ons probleme en siektes in gebed voor die Here se troon te noem, want Hy sorg vir ons. Ons moet egter onthou dat ons nie ‘n buitengewone mag of salwing het om mense te genees nie – ons kan ook nie op grond van Christus se kruisdood op liggaamlike genesing aanspraak maak nie. Die Here kan iemand deur ‘n wonderwerk genees op grond van sy genade, en dit gebeur ook dikwels, maar dit is nie die ervaring van alle siek en gestremde persone nie. Selfs Paulus wat baie ander mense genees het, het onder liggaamlike kwale gebuk gegaan waarvan hy nie verlos is nie. Hy het egter daarby berus, omdat die Here dit met ‘n doel toegelaat het (2 Kor. 12:7-10). Ons leef in ‘n verganklike wêreld waarin ons liggame ook aan die verganklikheid onderworpe is. Party mense sterf vroeër as ander, maar die groot saak is dat ons aardse lewe verbygaan. Ons hoogste prioriteit moet nie aardse geluk, rykdom en ‘n kommervrye lewe wees nie, maar die vrede van God in ons harte dat ons saak met Hom reg is. Die volkomenheid waarna ons verlang, sal ons eers kry wanneer die Here Jesus weer kom.

Omstandighede in die kerkbedeling

Ons is in ‘n geweldig bevoorregte posisie in die kerkbedeling dat ons die volle geopenbaarde wil van God in die Bybel het, asook sy onafgebroke teenwoordigheid in ons lewe deur die Heilige Gees. Ons het verligte oë van die verstand om die verborgenhede van Christus se genade te kan verstaan, en word deur die Heilige Gees bekragtig om daarvolgens te kan leef. In ons lewe van geloof in die gekruisigde en opgestane Here Jesus wat lank gelede vir ons redding gekom het, en vir die openbaring van sy koninkryk weer gaan kom, moet ons streng by NT beginsels van die geloofslewe bly. Die volgende feite i.v.m. tekens, wonders, die stryd teen boosheid, asook God se openbarings aan ons, moet duidelik begryp word:

·       Daar is nie meer ‘n geografiese begrensing tussen God se volk en die heidendom nie – ons is soos koring en onkruid wat in dieselfde land groei. Die fisiese stryd in die OT tussen die uitverkore volk (Israel) en die heidennasies met hulle afgodediens, het in die NT verander na ‘n geestelike stryd tussen die koninkryk van die lig en die koninkryk van die duisternis. Die koms van die Messias het ‘n heel ander dimensie aan hierdie stryd gebring, want Hy is die oorwinnaar teen Satansmag, en in sy Naam kan ons ook oorwin. Omdat ons stryd nie teen vlees en bloed is nie (Ef. 6:10-12), moet ons ‘n geestelike wapenrusting aantrek om te kan staande bly en te oorwin (2 Kor. 10:3-5). Uiterlike krag en geweld is van geen nut in hierdie stryd nie – slegs die krag wat die Here deur sy Heilige Gees aan ons verleen, stel ons in staat om te kan oorwin.

·       Aan die begin van die bedeling van geloof in Christus was dit van kardinale belang om die egtheid van Jesus se Messiasskap, asook sy boodskap van geestelike verlossing, deur goddelike krag en tekens te bevestig. Baie dinge sou drasties verander, daarom was Jesus se boodskap glad nie populêr by Israel se volksleiers wat byna onbeweeglik in hulle OT wettisisme en vormgodsdiens vasgevang was nie. Jesus sou nie ‘n militêre leier wees om Israel van Romeinse oorheersing te bevry nie, maar ‘n geestelike leier om sy volk van hulle sonde te verlos. Hy het die OT offerdiens afgeskaf toe Hy Homself as die vlekkelose Lam van God aan die kruis geoffer het. Hy het nie Israel se ritualistiese tempeldiens voortgesit nie, maar die priesterorde oorbodig gemaak en die voorhangsel na die heiligdom laat skeur om aan alle gelowiges toegang tot die genadetroon te verleen. Hy sou daarna die Hoëpriester van alle gelowiges wees en dus ook ons enigste Middelaar na die Vader. Die rol van menslike bemiddelaars is beëindig. Die regverdiges sou in die nuwe bedeling deur die geloof lewe en nie deur geïnstitusionaliseerde godsdienstige tradisies nie.

·       Die apostels het die mag gekry om die bevestigende tekens vir Jesus se Messiasskap voort te sit totdat die vroeë Christelike kerk goed gevestig was. In werklikheid was hulle verhewe magte in stryd met die NT amp van die gelowige, asook ons vrye toegang tot die genadetroon, daarom het dit net vir ‘n beperkte tyd lank voortgeduur totdat dit sy doel gedien het. Die teken van talespreek het opgehou toe die stelling duidelik en by herhaling gemaak is dat die evangelie in alle tale aan alle mense verkondig moes word. Die baie algemene teken van genesing deur handoplegging wat in ‘n stadium sonder voorbehoud aan mense gebied is, het ook opgehou toe daar nie meer apostels met buitengewone magte was nie. Daarna moes alle gelowiges self met hulle behoeftes en probleme in gebed na die Here se genadetroon gaan. Hy kan genesing, verligting, of berusting in ons moeilike omstandighede, siekte of gestremdheid gee, asook krag om ons kruis te dra, terwyl ons uitsien na die volkomenheid wat ons eendag sal hê. Ons moet met voorsiening in ons basiese behoeftes tevrede wees terwyl ons ons weg deur ‘n gebroke wêreld vind, met blymoedigheid ons kruis dra en Christus volg (vgl. 1 Tim. 6:7-12). Ons moet altyd in gedagte hou dat ons nog nie in koninkrykstoestande leef, waarin daar geen gebrek, verdrukking of beproewings sal wees nie. Die vrederyk van Christus kom nog, en tans leef ons in ‘n wêreld wat geestelik en moreel donker is omdat dit in die mag van die Bose lê (1 Joh. 5:19; Fil. 2:15).

Dit is duidelik dat ons nie in die NT na tekens en wonders moet soek nie, maar moet opgroei in die allerheiligste geloof. Selfs in die tyd van groot tekens en wonders het Jesus teen die gevare van ‘n oormatige ingesteldheid hierop gewaarsku: “’n Slegte en owerspelige geslag soek na ‘n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona” (Matt. 12:39-40). Die teken van Jona is in Jesus vervul, wat op die derde dag ná sy kruisiging en begrafnis uit die dood opgewek is. Is die soendood en opstanding van Jesus die sentrale waarhede waarop jou geestelike lewe gebou is, of soek jy steeds na wonderwerke en buitengewone openbarings van God deur drome, visioene en buite-Bybelse profesieë?

Eindtydse tekens en wonders

In die eindtyd sal daar weer groot en dramatiese openbarings van God se krag wees. Vir sommige sal dit tot uitredding wees en vir ander tot veroordeling. Een van die grootste en mees dramatiese ingrypings van God in die lotgevalle van mense sal tydens die wegraping plaasvind. Die gestorwe gelowiges van alle tye sal, in ‘n oomblik, uit die dood opgewek en met verheerlikte, onsterflike liggame beklee word. Daarna sal die lewende gelowiges ook in ‘n oogwink verheerlikte liggame kry en dan sal almal saam weggevoer word, die Here tegemoet in die lug (1 Kor. 15:51-53; 1 Thess. 4:16-18). Vir ons sal geloof dan oorgaan in aanskoue, en groot en wonderlike dinge sal aan ons geopenbaar word.

Op aarde sal die Antichris en valse profeet geopenbaar word om ‘n Sataniese nuwe wêreldorde in te stel. Hulle bewind sal met dramatiese tekens en wonders gepaard gaan, want die Antichris “se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen” (2 Thess. 2:9). Die valse profeet “doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense” (Op. 13:13). Deur sy tekens sal hy die mensdom verlei om die merk van die Antichris te ontvang en sy beeld te aanbid (Op. 19:20).

Ons leef in die eindtyd, kort voor die koms van die hemelse Bruidegom, en moet op ons hoede wees vir die wêreldwye voorkoms van valse tekens en wonders waardeur die mensdom voorberei sal word om ‘n valse christus en sy valse profeet te ontvang en na te volg. Daar is tans baie valse profete wat wel in die naam van Jesus optree, maar in werklikheid wegbereiders is vir die komende valse christus. Die Here Jesus het teen hulle gewaarsku:

“Pas op dat niemand julle mislei nie... Baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei... Daar sal valse christusse en valse profete opstaan en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei” (Matt. 24:4,11,24).

Wat sal die uiteinde van hierdie valse leraars wees wat mense in die naam van Jesus mislei het? “Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Matt. 7:22-23).

Daar is vandag baie van hierdie misleiers wat vals profeteer, daarop aanspraak maak dat hulle duiwels uitdryf, en ook opspraakwekkende tekens doen en genesings bewerkstellig. Hulle berei nie mense voor om in heiligheid voor die hemelse Bruidegom te verskyn nie, maar sal hulle aan die groot eindtydse misleier van die koninkryk van die duiwel uitlewer.

Tekens en wonders is bonatuurlike verskynsels wat soms moeilik is om te beoordeel. Gegewe die feit dat die duiwel dit intensief gaan gebruik om die mensdom te mislei, moet ons baie versigtig wees om nie enigiets op sigwaarde te aanvaar nie. Johannes sê: “Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan” (1 Joh. 4:1). Pas ‘n Skriftoets toe op die “profete”. Kyk of dit wat hulle sê, streng in ooreenstemming met Bybelse uitsprake is. Die duiwel is daarop uit om die Bybel te verdraai en valse verwagtings by mense te skep. Kyk ook of hulle metodes aan Bybelse riglyne voldoen. Vreemde verskynsels soos val in die gees, lag in die gees, profeteer in die gees, en talle soortgelyke manifestasies, is vreemd aan die Bybel en dus vals.

Sorg dat u Skrifkennis voldoende is om as ‘n duidelike verwysingsraamwerk vir alle leerstellige kwessies en kwelvrae gebruik te kan word: “Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Joh. 8:32). Moenie mislei word nie – veral ook nie deur die valse tekens en wonders van die vyand nie.