Johan Malan, Mosselbaai, (September 2013)
Baie volke in die Verre Ooste en Afrika suid van die Sahara is eers in die 18de en 19de eeue deur sendelinge uit die Westerse wêreld aan die Christelike geloof blootgestel en ook gehelp om hulle leefstyl hierby aan te pas. In verskeie gevalle is groot deurbrake gemaak en het daar oral Christelike gemeentes ontstaan. Ons bied graag aan u ’n geredigeerde weergawe van ’n sendingverhaal uit hierdie tyd. Dit speel in die noorde van Taiwan af, wat vroeër as Formosa bekend gestaan het:
The Life of George Leslie Mackay of Formosa
Daar is twee redes waarom dit belangrik is om boeke van hierdie aard te lees. Eerstens is dit nodig om byna vergete sendingverhale uit ‘n vergange era op te diep sodat moderne Christene kan begryp wat dit geverg het om die getuienis van Jesus Christus aan vyandige heidenvolke oor te dra. Dit was dikwels ’n lewensgevaarlike onderneming wat groot eise aan hierdie vroeë pioniers gestel het.
Die tweede rede vir die lees van sulke boeke is om ons in staat te stel om ’n moderne beoordeling te kan doen van die verdere uitbreiding van die Christelike godsdiens in die tradisioneel nie-Christelike wêreld. Hoe het die opkomende geslagte op die verdere uitbreiding van die Christelike geloof gereageer? Indien die reaksie power was, wat is die redes daarvoor?
Hieronder is ’n oorsig van die huidige godsdienstige situasie in Taiwan:
Volgens die Wikipedia artikel “Religion in Taiwan” erken hierdie land se Departement van Binnelandse Sake 26 verskillende gelowe. Die belangrikste hiervan is die volgende:
Boeddhisme (35.1%)
Taoïsme (33%)
I-Kuan Tao (3.5%)
Protestants (2.6%)
Rooms-Katoliek (1.3%)
Ander (5.8%)
Nie-godsdienstig of aanhangers van tradisionele gelowe (18.7%)
In die lig van onderlinge beïnvloeding tussen die Oosterse gelowe, is ’n duidelike klassifikasie van godsdienste in Taiwan nie moontlik nie. Baie mense beoefen mistiese gebruike soos transendentale meditasie, die dra van gelukbringers, die verering van voorouergeeste of afgode, asook die huldiging van ’n holistiese, Oosterse lewens- en wêreldbeskouing, sonder om formeel met een of ander godsdiens te identifiseer. Indien die statistiek vir die Oosterse gelowe in die lys hierbo by die nie-geaffilieerde groep gevoeg word wat meesal aspekte van die inheemse gelowe beoefen, dan is die totaal van diegene wat Oosterse gelowe aanhang, meer as 90%.
In die Wikipedia artikel wat hierbo aangehaal is, word die volgende gesê onder die sub-opskrif “Boeddhisme, Taoïsme en die inheemse gelowe”:
“Volgens die Amerikaanse CIA identifiseer omtrent 93% van Taiwan se bevolking hulleself met Boeddhisme, Taoïsme of ander inheemse Sjinese gelowe. Soos wat die geval is met die meerderheid Oos-Asiatiese gelowe in die algemeen, beteken identifikasie met hierdie gelowe nie die formele lidmaatskap van sulke gelowe, soos wat die geval in ander dele van die wêreld is nie. Dit is baie algemeen vir Taiwannese om ’n vermenging van dié drie godsdienstige tradisies te beoefen. Sommige mense beoefen slegs Boeddhisme, maar die meerderheid vermeng aspekte van Taoïsme met elemente van Boeddhisme en die inheemse gelowe. Dit is nie ongewoon om Boeddhistiese en Taoïstiese tempels langs mekaar aan te tref, en selfs onder een dak nie. ’n Voorbeeld hiervan is die Longshan-tempel in Taipei. Godsdienstige diversiteit was nooit ’n belangrike oorsaak van konflik in Taiwan nie. Diegene wat hulleself as suiwer Boeddhiste beskou, is gewoonlik aan die Zhaijiao-beweging verbonde.
|
Mengjia Longshan-tempel in Taipei. |
Die Hui-an-tempel in Kuan-t'ien. |
“’n Ander voorbeeld van godsdienstige sinkretisme wat dikwels in Taiwan teëgekom word, is die groot aantal soetra sing-praat groepe. Hulle kombineer Boeddhistiese, Taoïstiese en inheemse spiritualiteit deur middel van sing-praat (chanting) en verskeie rituele. In klein plattelandse dorpies waar Boeddhistiese of Taoïstiese monnike nie geredelik beskikbaar is nie, word opgeleide soetra-groepe gehuur om ’n verskeidenheid dienste te lewer. Die lede van die groep bestaan uit gewone dorpenaars wat in Boeddhistiese kleredrag getooi is. Hulle maak musiek met tradisionele instrumente sowel as elektroniese klaviere.
“Afgesien van groot tempels is daar ook verskeie buitelug-heiligdomme langs die paaie en in parke waar mense kan vertoef om te mediteer en gebede op te sê. In baie van die huise en sakeondernemings word ook plekke ingerig waar kerse of beeldjies geplaas, en ook offers gebring kan word. Sekere restaurante voorsien ’n spesiale plek waar die kombuisgod vereer kan word sodat die restaurant suksesvol bedryf sal word. Studente besoek graag ’n heiligdom vir die god van studies voordat hulle ’n toets of eksamen gaan skryf. Dit sal glo aan hulle geluk besorg om te kan slaag.
“Taoïstiese tempels is baie dekoratief. Gekleurde teëls, beelde van drake en ander mitologiese kreature versier die dak. Binne is die tempels vol afbeeldings van gode en historiese figure wat as goddelik beskou word, en hierdeur word die Taoïstiese volksgodsdiens se tradisie van politeïsme en voorvaderverering weerspieël.” (Einde van aanhaling).
Confucianisme is ’n ander belangrike deel van godsdienstige denke in Taiwan. Confucius was een van Sjina se mees bekende en geliefde leraars, en hy was verantwoordelik vir die instelling van rituele ter verering van die voorouers. Keiser Yuan van die Westelike Han Dinastie (207 B.C. – A.D. 24) het die eerste heiligdom te ere van Confucius gebou, en daarna is verskeie tempels opgerig as ’n teken van respek teenoor hierdie wysgeer.
In die artikel “Discover Taiwan” (http://eng.taiwan.net.tw/m1.aspx?sNo=0002009) word gesê dat die Christelike geloof in die eerste helfte van die 17de eeu in Taiwan gevestig is toe Rooms-Katolisisme en Protestantisme deur Spaanse en Hollandse sendelinge hierheen uitgedra is. Onder die Protestante het die Presbiteriaanse kerk in historiese tye die mees prominente rol gespeel.
Daar is ’n hele aantal denominasies en sektes in Taiwan wat saam as “Protestants” geklassifiseer word, en dit is moeilik om te bepaal hoeveel van hulle evangeliese Christene is met ’n getuienis van wedergeboorte. Die ware Christendom – so belangrik as wat dit inderdaad is – is uiteraard veel kleiner as wat die eilandstaat se amptelike statistiek as Protestants aandui. Volgens die Wikipedia-artikel wat hierbo aangehaal is, verteenwoordig die 2,6% Protestante 605 000 mense uit ’n totale bevolking van 23,3 miljoen.
Hoe verklaar ons die relatief lae persentasie van Protestantse Christene in Taiwan in die lig van die intensiewe sendingpogings deur die vroeë pioniers, evangelisasie deur bestaande kerke, sowel as radio- en internetbedienings wat potensieel miljoene mense in ’n ontwikkelde land soos Taiwan bereik. Elke land het sy eie unieke faktore wat die godsdienstige aard en voorkeure van sy inwoners bepaal, en om hierdie rede moet veralgemenings vermy word.
Regeringsbeleid oor vryheid van geloof, Christelike onderwys, sowel as kulturele faktore wat ten gunste van tradisionele (inheemse) gelowe is, oefen ’n groot invloed op mense se godsdienstige oriëntasie uit. Dit is egter duidelik dat die vroeë sendelinge veel meer vasberade was om die waarheid te verkondig te midde van negatiewe faktore, en selfs openlike vyandigheid, as wat die meeste van die moderne predikers en evangeliste is.
’n Faktor wat ook die voortgesette groei van die ware Christendom in alle gemeenskappe beïnvloed, is die feit dat elke nuwe geslag mense opnuut geëvangeliseer en met die evangelie gekonfronteer moet word. Die Christendom is nie oorerflik nie, daarom word selfs toegewyde Christene se kinders met ’n sondige natuur gebore waarvan hulle verlos moet word. Indien kerke hulle plig m.b.t. evangelisasie versuim en die jong geslag salig verklaar bloot op grond van kerklike rituele soos die kinderdoop, dan tree daar duidelike verval in Christelike standaarde in. Die toename in ’n naamchristendom wat net ’n gedaante van godsaligheid het, lei tot goddeloosheid in die samelewing (2 Tim. 3:1-5; Op. 2:4-5). Ekonomiese voorspoed werk ook geestelike vervlakking en sekularisasie in die hand (Op. 3:15-17).
’n Ander faktor wat die uitbreiding van die Christendom in ’n land beperk, is vervolging – ongeag of die oorsprong van die vervolging die regering is wat kommunistiese of ander antichristelike beleidsrigtings afdwing, of militante lede van nie-Christelike gelowe wat saamsweer om Christene te verdryf of dood te maak. Hierdie verskynsels is besig om in verskillende wêrelddele toe te neem, aangesien vyandige mense daarin slaag om misleide en geestelik onvolwasse Christene te ontmoedig om die Here te dien.
In groot dele van Asië, Afrika en die Midde-Ooste word Christene aan verskillende vorms van vervolging onderwerp – van bespotting en diskriminasie af tot openlike onderdrukking, insluitend aanvalle deur moorddadige godsdienstige fanatici, asook die doodstraf wat deur radikale regerings opgelê word. Die Christene in moderne Taiwan geniet egter demokratiese regte en vryheid van geloof, maar vir hoe lank nog? Donker wolke van ’n militante en sterk antichristelike beweging is besig om oral in die wêreld saam te pak, en sy hoofdoelwit is om die Bybelse Christendom uit te roei.
In ’n artikel, Die Christendom is byna uitgewis in die Midde-Ooste, sê die Telegraph: “Volgens ’n berig in die Middle East Quarterly staar die Christendom uitwissing in die gesig in die Bybelse hartland in die Midde-Ooste, as gevolg van die toenemende vervolging van sy aanhangers. Die studie waarsku dat Christene oral in die wêreld groter vyandigheid ervaar as enige ander godsdienstige groep. Die stelling word ook gemaak dat politici ongeërg is oor die omvang van geweld teen Christene in Afrika, Asië en die Midde-Ooste” (http://www.telegraph.co.uk/news/religion/9762745/Christianity-close-to-extinction-in-Middle-East.html).
Wikipedia (Christianity in the Middle East) bevestig hierdie neiging: “Die Christendom wat in die eerste eeu n.C. sy ontstaan in die Midde-Ooste gehad het, was een van die belangrikste godsdienste in die streek, tot met die Moslem veroweringstogte in die middel en laat 7de eeu n.C. ... Christene maak tans slegs 5% van die bevolking uit, wat ’n drastiese afname is vanaf 20% vroeg in die 20ste eeu.”
Bewerings oor die vervolging van Christene in die Midde-Ooste en Asië word deur verskeie berigte bevestig, onder meer deur die tydskrif Christianity Today. Onder die opskrif Persecution in China is very real, sê die redaksie: “Jy kan argumenteer dat Christene in Sjina vryer is as wat hulle 30 jaar gelede was. Vervolging is egter besig om toe te neem, en die sentrale regering beplan om die huiskerke uit te wis. In die jaarverslag van die China Aid-organisasie word genoem dat die aantal insidente van Christenvervolging in Sjina in 2012 merkbaar toegeneem het vergeleke met vorige jare. Dit sluit in die aantal arrestasies, veroordelings na arbeidskampe, korttermyn vonnisse, verkragting en marteling tydens polisie-aanhouding, vernietiging of konfiskering van eiendom, lyfstraf, boetes, ontslag en die verlies aan besigheidslisensies, asook polisie-intimidasie.” (http://www.christianitytoday.com/ct/2013/february-web-only/persecution-in-china-is-very-real.html).
Wat is die moontlikheid dat totalitêre Sjinese beheer van hierdie aard op Taiwan afgedwing kan word? Chang Mao-sen en Stacy Hsu van die Taipei Times het ’n artikel geskryf waarin hulle die aandag vestig op die Taiwannese se gebrek aan ’n krisisbewustheid. Hulle haal ’n Japannese verteenwoordiger aan wat gewaarsku het: “Taiwan se grootste krisis is die inwoners se gebrek van ’n bewussyn oor die krisis waardeur hulle bedreig word. Hulle is by ’n kruispad waar hulle ’n keuse moet doen tussen anneksasie deur Sjina en ’n lewe onder ’n eenpartyregering, of om voort te gaan om burgers van ’n vrye en demokratiese nasie te wees. ... Indien die Taiwannese die verkeerde roete by die kruispad kies, sal hulle dalk die bitter gevolge van ’n nuwe tydperk van totalitarisme moet dra, soos wat hulle voorouers in die verlede gedoen het.” (http://www.taipeitimes.com/News/taiwan/archives/2013/06/18/2003565079).
Afgesien van die werklike bedreiging van die verlies aan Christelike vryheid, is daar ook die voortslepende probleem van sinkretisme, die aanknoop van ekumeniese bande met die nie-Christelike gelowe, en die gevolglike verlies van die evangeliese Christendom se basiese karakter. Die intergeloofsbeweging is besig om momentum te verkry, en hulle beskou nie-kompromiemakende evangeliese gelowiges as ’n groot struikelblok vir die spoedige vorming van ’n noue alliansie van wêreldgodsdienste. Slegs toegewyde Christene wat ’n goeie kennis van die Bybel het, sal in staat wees om die druk van hierdie eenheidsbeweging te kan weerstaan.
Diegene wat by die beginsels van multigodsdienstige denke aanpas, sal noodwendig medewerkers word van ’n wêreldwye beweging wat die weg voorberei vir die koms van die universele messias van alle gelowe – die Antichris (Op. 13:3-4, 8). Dit is ’n gevaarlike pad, want daar is hoegenaamd geen ruimte vir kompromie met die nie-Christelike gelowe nie. Die vyande van die kruis is egter fanaties in hulle strewe na ’n mensgemaakte koninkryk, en ons is reeds in ’n vroeë stadium van die groot eindtydse stryd om beheer oor die wêreld en al sy inwoners.
In die huidige ideologiese polarisasieproses neem die verskynsel van godsdienstige globalisme steeds duideliker vorm aan, terwyl die waarheid van die Christelike evangelie toenemend onder druk kom. Die uiteinde hiervan sal wees dat feitlik die hele wêreld hulleself agter die Antichris sal skaar en hom sal help om teen die ware Christus te veg (Op. 13:3; 19:19-21). Dit sal egter die einde van hierdie valse, wêreldwye mag wees wanneer hulle in ’n finale daad van konfrontasie selfs militêre magte sal mobiliseer om te veg teen Hom wat alle mag in die hemel en op aarde het (Matt. 28:18-20).
George Mackay het ’n duidelike boodskap verkondig aan die mense van Taiwan wat in geestelike duisternis gewandel het – bekeer julle van jul bose weë en vernietig in die openbaar alle simbole van julle afgodediens as ’n teken van julle volle verbintenis aan die enigste Redder van die wêreld – Jesus Christus! Niks minder as ’n duidelike Christelike getuienis sal ons help om die opkomende nuwe wêreldorde met sy intergeloofsbasis te kan weerstaan nie. Diegene wat óf mislei óf geïntimideer word om die knie voor die magte van kompromie te buig, verloën die Here Jesus as die enigste weg tot die Vader (Joh. 14:6; vgl. 1 Joh. 5:12).