Prof. Johan Malan, Mosselbaai (Februarie 2013)
Die einde van die kerkbedeling is ’n besonder veeleisende, wanordelike en onseker periode in die węreldgeskiedenis. Alle mense op aarde is onderhewig aan die druk van oorskakeling na ’n nuwe węreldorde, waarin volke hulle reg van ’n vrye en onafhanklike bestaan gaan verloor. Hierdie oorskakeling word verhaas deur węreldwye probleme soos oorloë en opstande, terrorisme, moeilike ekonomiese omstandighede weens oorbevolking, lae produktiwiteit, oorbesteding, werkloosheid, besoedeling en die oorbenutting van natuurlike hulpbronne, asook die bandeloosheid en wetteloosheid wat kenmerkend van postmoderne samelewings is.
Hierbenewens word evangeliese Christene onderwerp aan verdere vorms van geestelike, morele en ideologiese druk wat daarop gerig is om hulle identiteit as Bybelgelowige Christene te vernietig. Dit is teen hierdie omvattende aanslag dat die Bybel ons waarsku. Ons moenie deel word van die probleem deur kompromie te maak met boosheid nie, maar, deur ons geloof in Jesus Christus, die krag van die Heilige Gees en profetiese waarskuwings teen toenemende boosheid in die eindtyd, moet ons vasberade die wedloop loop wat voor ons is. Eerbiedig jou onherroeplike toewyding aan Christus deur doelgerig op die smal pad te volhard sonder om daarvan af te wyk, of om toe te gee aan demoniese versoeking om die wedloop te laat vaar. Ons word opgeroep om teen boosheid te oorwin deur nie in die raad van die goddelose te wandel, op die weg van die sondaars te staan of in die kring van die spotters te sit nie (Ps. 1:1).
Daar is sewe opsigtelike aspekte van die stryd teen die Christendom, en ons moet die uitdaging aanvaar om op elkeen van hierdie fronte meer as oorwinnaars te wees. Daar was vir Christene nog altyd ’n stryd om te stry, maar in die eindtyd neem die aanslag in intensiteit toe. Saam met al die geleenthede om vir die Here te werk, neem die geestelike stryd ook in sy omvang toe. Die duiwel bied groter weerstand waar sy belange die meeste bedreig word. Paulus het gesę: “Want ’n groot en kragtige deur het vir my oopgegaan, en daar is baie teëstanders” (1 Kor. 16:9). Hy het daarteen gewaak om nie deur Satan bedrieg te word nie, en bygevoeg: “... want ons is met sy planne nie onbekend nie” (2 Kor. 2:10-11).
Is ons ook bekend met Satan se planne wat daarop ingestel is om ons geestelik te laat koers verloor en ons ook te ontneem van ons motivering om die Here te volg en te dien? Toets jouself op die volgende sewe terreine waar die eindtydse Christendom by ’n hewige stryd betrokke is:
’n Nuwe węreldorde is vinnig besig om in ’n vroeë stadium van hierdie millennium gestalte aan te neem, en dit verteenwoordig een van die grootste bedreigings vir die evangeliese Christendom. Die doel van die nuwe węreldorde is om ’n verenigde węreld te skep waarin alle mense in harmonie kan saamleef. Die boustene daarvan is: (a) politieke globalisme wat gerig is op die vestiging van ’n węreldregering wat almal gelyk sal behandel; (b) ekonomiese globalisme wat ingestel is op die beoefening van sentrale beheer oor die węreldekonomie sodat die verskil tussen ryk en arm uitgewis kan word; asook (c) godsdienstige globalisme as die geestelike dryfkrag agter die bevordering van ’n alliansie van węreldgodsdienste waarin alle partye as gelyke vennote kan saamwerk om harmonie en węreldvrede te verseker.
Die idee van multigodsdienstige denke is geheel en al onaanvaarbaar vir evangeliese Christene. Dit kom neer op verraad teen die Drie-enige God van die Bybel wanneer die intergeloofsbeginsel aanvaar word dat alle gelowe dieselfde God aanbid. Evangeliese Christene glo nie aan ’n universele Skeppergod wat Homself aan sommige mense deur Jesus Christus geopenbaar het, en aan andere deur Mohammed, Krisjna, Boeddha of die voorvadergeeste nie. Jesus was nie maar net een van baie middelaars tussen God en die mens nie – Hy is die unieke Seun van God, en niemand kan na die Vader gaan behalwe deur Hom nie (Joh. 14:6).
Die evangeliese Christendom sluit alle ander gelowe uit, terwyl die nuwe węreldorde ’n inklusiewe benadering volg waardeur alle gelowe ingesluit en aan mekaar verbind word. Hierdie nuwe benadering is reeds deur die meeste lande aanvaar, daarom is daar nie meer Christelike grondwette en Christelike onderwys wat deel van staatsbeleid is nie. Intergeloofsleerplanne word aangebied waarin daar iets goeds in alle gelowe gesien word en daar sodoende ’n grondslag vir intergeloofsdialoog en -samewerking geskep word.
Christene wat nie hierdie nuwe benadering wil aanvaar nie, en wat steeds volhou dat net hulle reg en al die ander gelowe verkeerd is, word as fundamentalisties, negatief en veroordelend beskou en derhalwe as struikelblokke in die vestiging van godsdienstige globalisme. Veral die jong geslag is baie aan breinspoeling van hierdie aard blootgestel.
Een van die gevolge van multigodsdienstige denke is dat die Bybel nie meer ernstig opgeneem word nie, en so ook nie Jesus Christus wat die vleesgeworde Woord is nie. Sulke mense steur hulleself al hoe minder aan wederkomsprediking, want dit maak deel uit van ’n Bybelse openbaring waaraan hulle geen waarde heg nie. Daar word eerder aandag gegee aan die beskouings en teorieë van ander gelowe, insluitend die byna uitgestorwe Maja Indiane van Sentraal-Amerika. Hulle teorie oor die einde van die węreld wat op 21 Desember 2012 sou aanbreek, was selfs die onderwerp van ’n Hollywood-film en het węreldwyd aanklank gevind. Die waarheid van die Bybel word toenemend deur multigodsdienstige leuens verdring.
Evangeliese Christene word skepties bejeën wanneer hulle daarop wys dat die aarde eers ná die duisendjarige vrederyk van Christus sal vergaan. Voor hierdie ryk, wat direk na die wederkoms van die Here Jesus ingestel sal word, sal daar wel ’n sewe jaar-lange verdrukking en groot goddelike oordele wees, maar dit sal nie die einde van alle lewe op aarde meebring nie.
Die eindtyd word veel meer as enige ander tyd in die verlede deur ’n groot toename in geestelike dwalings gekenmerk. Paulus sę: “Daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie,” en as gevolg hiervan sal hulle valse leraars rondom hulleself versamel, die oor afkeer van die waarheid en hulle wend tot fabels (2 Tim. 4:3-4). Dit is in ’n toenemende mate die geval in ons tyd. Op alle denkbare maniere word pogings aangewend om die evangelie van Jesus Christus te ondermyn omdat dit in die pad staan van die nuwe węreldorde. Die volgende basiese aspekte van ons geloofslewe word wesenlik verander sodat dit die grondslag van valse leerstellings kan vorm:
· Die beeld van die God van die Bybel word verander om Hom gelykvormig te maak aan die universele god van alle gelowe.
· Jesus Christus word van sy uniekheid en Godheid ontneem en sy beeld word so verander dat Hy gelykvormig gemaak word aan die universele en internasionaal aanvaarbare messias van alle gelowe.
· Die Heilige Gees word gereduseer tot ’n onpersoonlike bonatuurlike krag waardeur mense bemagtig word om tekens en wonder te doen en ook ekstatiese, buite-Bybelse openbarings van God se wil te ontvang, bv. deur drome, visioene, hoorbare stemme, ens.
· Die Bybel word afgeskaal tot ’n menslike geskrif wat baie foute en weersprekings bevat, en nie op alle mense van alle tye betrekking het nie. Dit is na bewering in terme van ’n primitiewe en onwetenskaplike węreldbeeld geskryf, en word daarom nie as die tydlose en verhewe Woord van God beskou nie. As gevolg hiervan word die Bybel óf vergeestelik óf histories verklaar en verloor gevolglik sy relevansie vir die postmoderne mensdom.
· As gevolg van al hierdie faktore word die Christelike geloof afgeskaal en met die ander węreldgodsdienste gelykgestel. Die unieke karakter daarvan verdwyn heeltemal, en as gevolg van mense se ongeloof het dit nie meer ’n saligmakende krag nie. Die evangelie van Jesus Christus is slegs werksaam as ’n krag tot redding vir diegene wat glo (Rom. 1:16). Mense wat weier om Bybelse beloftes te glo, verhard hulle harte teen die evangelie en bly dus ongered (Heb. 4:7).
Evangeliese Christene moet teen hierdie tydgees van agnostisisme en antichristelike hervormings weerstand bied, al is die druk vir verandering ook hoe groot. As ons die Bybelse Godsbegrip verander, Jesus Christus met die afgode gelykstel, die Woord van God nie meer in ere hou nie, onsself vir vreemde geestelike manifestasies oopstel en doelbewus deel van die vervalle, eindtydse węreldorde word, is ons deur misleiers van die waarheid af weggesleep en het ons uit ons eie vastigheid in Christus weggeval (2 Pet. 2:1-2; 3:17). Daar is ongelukkig baie Christene wat verflou in hulle ywer, wankel in hulle geloof en veragter in die genade.
Die postmoderne mens van die eindtyd aanvaar geen vaste reëls wat sy vryheid aan bande lę nie – nie op politieke, godsdienstige óf morele gebied nie. Hy wil vry wees om korrupsie te pleeg, omkoopgeskenke te betaal, mense af te pers, te dobbel en te drink, buite-egtelike verhoudings aan te knoop en ook openlik homoseksueel te leef as dit hom sou pas. Die ironie is dat kerke wat die stroom van immoraliteit behoort te stuit, dikwels self kampvegters is vir groter morele vryhede, insluitend die reg van seksuele oriëntasie.
In 2012 het daar ’n Bybel vir gays verskyn waaruit alle verwysings na homoseksualiteit weggelaat is. Op die webblad http://queenjamesbible.com/ sę die redakteurs van die nuwe Bybel: “Dit was algemeen bekend dat King James biseksueel was. Hoewel hy met ’n vrou getroud was, was hy onder sommige van sy vriende as gevolg van sy baie gay verhoudings ook as ‘Queen James’ bekend. Ons is baie aan hom verskuldig en dit is tot sy eer dat ons hierdie nuwe Bybel die ‘Queen James Bible’ noem.” Die bewering word verder gemaak dat die woord “homoseksualiteit” vir die eerste keer in 1946 in ’n Engelse Bybel genoem is, en hierdeur word geďmpliseer dat dié begrip nie in die oorspronklike tale van die Bybel voorkom nie.
Voor 1946 is ander woorde egter gebruik, bv. sodomiete, wat presies dieselfde betekenis het. Die eerste verwysing na hierdie sonde verskyn in die Tora wat in 1312 v.C. by Sinai van die Here af ontvang is. In Levítikus 20:13 staan daar: “En as ’n man met ’n manspersoon gemeenskap het soos mens met ’n vrou het, het hulle altwee iets gruweliks gedoen. Hulle moet sekerlik gedood word.” Hierdie vorm van seksperversie druis in teen die basiese natuur van mense soos wat hulle geskape is, en sal daarom altyd as ’n gruwel beskou word deur God. Paulus skryf aan die gemeente in Rome oor die bose dade wat deur sulke mense gepleeg word:
“Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is; en net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid bedrywe en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang” (Rom. 1:26-27). Vir ’n verdere bespreking van wat die Bybel oor gays sę, sien http://apprising.org/2012/12/15/%D1%8F-u-ready-4-the-queen-james-bible/.
’n Immorele lewe word ook gekenmerk deur verskeie ander verwronge uitvloeisels wat tipies is van die duiwel en sy bose koninkryk. Paulus noem immorele dade “die onvrugbare werke van die duisternis” (Ef. 5:11), “die werke van die vlees” (Gal. 5:19-21) of bloot “sonde” (Heb. 12:1). Evangeliese Christene moet die getuienis hę dat die Here Jesus hulle van hul sondes verlos het. Daarna moet hulle in heiligheid toeneem, sodat die sonde nie weer ’n houvas op hulle verkry nie: “Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie” (Rom. 6:12).
Soos wat sonde en losbandigheid in die eindtyd toeneem, en die waarheid toenemend deur die leuen verdring word, moet ons op die smal weg volhard en nie daarvan afwyk nie. Ons moet vasstaan in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en onsself nie weer plaas onder die juk van diensbaarheid aan sonde nie.
Christene word ook deur ’n groot uitdaging gekonfronteer om teen die sterk invloed van materialisme en sekulęre humanisme te stry en standvastig in hulle geloof te bly. Die prestasies van die moderne wetenskap, en veral die hoë mate van tegnologiese sofistikasie wat bereik is, plaas dit binne baie mense se bereik om suksesvol te wees, ryk te word en in hulle eie vermoëns te kan roem.
Wanneer rykdom toeneem, verminder die mens se afhanklikheid van eksterne hulp, insluitend geestelike ondersteuning, en word die suksesvolle persoon die bepaler van sy eie lotgevalle. In werklikheid word hy sy eie god. In sy selfvergenoegde posisie besef hy nie sy geestelike armoede en afhanklikheid van God nie. Die Here Jesus sę aan sulke mense: “Omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug. Want jy sę: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie” (Op. 3:16-17).
Wanneer ’n persoon deur rykdom of bloot net die begeerte na rykdom meegesleur word, koel hy af teenoor die Here en raak uiteindelik geestelik die pad byster. Paulus sę: “Die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang. Want die geldgierigheid is ’n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor” (1 Tim. 6:9-10).
Dit beteken nie dat die gelowige ekonomies onaktief moet wees en akademies vrygestel is van hoë prestasies nie. Paulus sę dat “as iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie” (2 Thess. 3:10). ’n Christen moet altyd hardwerkend wees, ’n persoon van onbetwiste integriteit en iemand wat ook na die belange van andere omsien. Daar moet egter perke wees: geld en die sug na rykdom moet nie ’n obsessie by hom word nie, want dan is hy ’n volgeling van die geldgod, die onregverdige Mammon. Ons kan nie God én Mammon dien nie (Matt. 6:24), daarom moet ons seker maak dat ons geestelike prioriteite altyd in orde is. Baie Christene raak egter oormatig materialisties en dit maak hulle geestelik lou, koud en nie geďnteresseerd in die dinge van die Here nie.
Morele depressie is die teenoorgestelde van hoogmoed en selfvoldaanheid. Sulke persone het geen vertroue in die Here of in hulleself nie, hulle toon geen belangstelling in die lewe nie, wantrou almal en verkies gewoonlik die dood bo die lewe. Hulle geloof is so afgetakel dat hulle nie die beloftes in die Bybel kan of wil aanvaar nie, daarom is hulle selfs traag om redding wat vryelik aan hulle gebied word aan te gryp. Hulle moeilike omstandighede trek hulle af in ’n put van donker gedagtes, en hulle geloof verander in twyfel of selfs algehele wanhoop.
Ons word teen ’n verstandelike en geestelike ingesteldheid soos dié gewaarsku: “Pas op vir julleself dat julle harte nie miskien verswelg word deur ... sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie” (Luk. 21:34). Gelowiges wat nie na die Here Jesus se wederkoms uitsien nie, het alle rede om bekommerd te wees oor die opregtheid van hulle verhouding met Hom. ’n Swak geloof en onvoldoende geestelike toewyding lei dikwels na morele laksheid. Vir só ’n persoon kan die dag van die Here se koms skielik aanbreek sonder dat hy daarvoor gereed is. Die Here Jesus het gesę ons moet waak en bid sodat ons waardig is om die komende verdrukking te ontvlug en voor Hom in heerlikheid te verskyn (Luk. 21:36). Ons moenie in biddeloosheid, ongeloof en selfbejammering verval nie, want dan sal ons nie waaksaam en gereed wees vir Christus se skielike koms om sy geheiligde bruid te kom haal nie.
Die moeilike tydsomstandighede van die laaste dae kan baie Christene depressief maak en hulle van hulle uitgebreide verpligtinge in die lewe laat onttrek. Dan word hulle geestelik egter nog swakker in plaas van sterker. Ons moet besef dat daar selfs nog moeiliker tye voorlę, en onsself voorberei om dit die hoof te bied. Ons kan nie die stryd gewonne gee, neerlaag aanvaar en deur selfbejammering vasgevang raak nie. Paulus sę: “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom” (2 Tim. 3:1). Die węreld sal al hoe boser word en ekonomiese omstandighede al hoe moeiliker, terwyl geweld, misdaad en wetteloosheid eksponensieel sal toeneem. Ons sal geestelik sterk moet wees om ons weg deur die troebel waters van eindtydse verval te vind en te volhard tot die einde toe.
Die Bybel gee duidelike raad oor hoe om geestelik gesond te wees: “Word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte ... sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel” (Ef. 6:10-11). Dit vereis dat ons van alle sondes en sondige gedagtes gereinig sal word deur die bloed van die Lam (1 Joh. 1:7). Ons moet ook opnuut met die Heilige Gees vervul word sodat ons versterk kan word met krag uit die hoogte. Slegs dan sal ons geestelik sterk staan en ook in staat wees om twyfelaars en diegene wat gestruikel het, te kan help: “Broeders, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie. Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus” (Gal. 6:1-2).
Daar is verskeie waarskuwings in die Bybel teen eindtydse Christene wat onbetrokke raak by die werk van die Here omdat hulle nalaat om te waak, te bid en die Here te dien soos wat hulle behoort. Die gevolg hiervan is dat hulle nie net geestelik aan die slaap raak nie, maar ook verkeerde dinge doen waardeur hulle van die Here af wegdryf.
Ons lees in die gelykenis van die tien maagde dat hulle al tien aan die koninkryk van die hemel behoort het en dat almal uitgegaan het om die bruidegom te ontmoet. Net vyf van hulle was verstandig in dié sin dat hulle ekstra olie by hulle gehad het. Olie is ’n simbool van die Heilige Gees en dit dui daarop dat hulle ’n volle oorgawe gemaak het om met die Heilige Gees vervul te word. Die vyf dwase maagde het wel lampies en olie gehad, maar nie genoeg olie nie. Middernag het hulle lampe begin doodgaan. Hulle dwaasheid is daarin geleë dat hulle vleeslike Christene was wat nie met die Heilige Gees vervul was nie (vgl. 1 Kor. 3:1-3; Gal. 5:17; Ef. 5:18).
Daar was twee ernstige probleme waardeur hierdie groep van tien gekenmerk is. Die vleeslikes het nog nie die krag van die Heilige Gees ontvang nie (vgl. Hand. 1:8; Luk. 24:49), daarom kon hulle nie werke doen wat by bekering pas nie. Geen wonder dat die lig van hulle getuienis uitgedoof is toe omstandighede moeilik begin raak het nie. Hierbenewens was daar ’n probleem waaraan al tien die maagde skuldig was, naamlik die verflouing van hulle verwagting op die koms van die bruidegom toe hy langer getalm het as wat hulle gemeen het. Hulle het nie gewaak en gebid nie, maar in passiwiteit verval en geestelik aan die slaap geraak. Selfs Geesvervulde kinders van die Here kan hulle visie verloor, verflou in hulle toewyding en nalaat om ’n aktiewe wederkomsverwagting te hę. Hulle het nog die Here lief en leef vir Hom, maar alles is nie in orde in hulle geestelike lewe nie.
Die gevaar is dat sulke mense wat nie ’n aktiewe verwagting koester ten opsigte van die Bruidegom se skielike koms nie, geneig is om vir hulleself ander doelwitte te stel en te vergeet dat hulle rekenskap van hulle lewens voor Christus se regterstoel sal moet gee. As gevolg hiervan raak hulle węreldgesind, op eiebelang ingestel, dryf van die Here af weg en maak hulleself aan sondige optrede skuldig: “Maar as daardie slegte dienskneg in sy hart sę: My heer talm om te kom – en hy sy medediensknegte begin slaan en saam met die dronkaards begin eet en drink, dan sal die heer van dié dienskneg kom op ’n dag dat hy dit nie verwag nie en op ’n uur dat hy dit nie weet nie; en sal hom pynig en hom ’n deelgenoot van die geveinsdes maak” (Matt. 24:48-51).
Is jy ook een van die slapende maagde wat nie meer elke dag vir Jesus Christus voor oë hou en naby Hom leef nie? Dan het jy die tydgees van passiwiteit en onbetrokkenheid by die werk van die Here ten prooi geval en sal beslis skade ly wanner die Here sy diensknegte beloon vir hulle arbeid en geloof. Ons word opgeroep om wyse maagde te wees wie se lewens van Geesgeďnspireerde werke getuig: “Wie is dan die getroue en verstandige dienskneg vir wie sy heer oor sy diensvolk aangestel het om hulle hul voedsel op tyd te gee? Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, op hierdie manier besig sal vind. Voorwaar Ek sę vir julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel” (Matt. 24:45-47).
Een van die groot gevare waarteen Christene in die eindtyd moet waak, is om nie met afvalliges of węreldlinge kompromie te maak nie. In die postmoderne tydgees is dit aan die orde van die dag om aan alle gelowe, gebruike of ideologieë erkenning te gee en selfs openlike kompromie daarmee te maak. Dit lei na ’n groot mate van verdraagsaamheid teenoor dinge wat in stryd is met die Christelike geloof, en uiteindelik word verskillende sondes en valse geloofsopvattings goedgepraat en selfs oorgeneem. Ons word teen kompromie van hierdie aard gewaarsku:
“Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? ... Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem; en Ek sal vir julle ’n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige” (2 Kor. 6:14-18).
Ons kan nie twee here dien nie, ons kan nie God én die węreld liefhę nie, en ons kan ook nie ’n brug bou tussen die smal weg en die breë weg omdat ons graag die beste uit twee węrelde wil geniet nie. Trouens, ons kan nie eers in die kleinste opsig kompromie maak met enigiets wat selfs net in die geringste mate van die waarheid van God se Woord afwyk nie. Indien daar gelowiges is wat sekere Bybelse leerstellings verloën, of wat ’n kompromie-godsdiens beoefen waarin bv. die Ou-Testamentiese wet en die Nuwe-Testamentiese genade vermeng word, dan moet ons geen deel daaraan hę nie. Onthou dat ’n bietjie suurdeeg die hele deeg suur maak (1 Kor. 5:6).
Waarmee kan ons ons weg suiwer hou? Deur nougeset in ooreenstemming met God se Woord te wandel. Ons moet saam met die psalmis kan sę: “Ek het U Woord in my hart gebęre dat ek teen U nie sal sondig nie” (Ps. 119:11).
Weerstaan doelgerig die neiging tot kompromie want dit is ’n wesenlike deel van die opdrag tot heiligmaking. As ons na gees, siel en liggaam onberispelik wil wees op die dag van Jesus Christus, moet ons na volkome heiligmaking streef (1 Thess. 5:23-24). Heiligmaking vereis dat ons sal afwyk van elke vorm van die kwaad en daarvan gereinig sal word deur die bloed van die Lam (1 Joh. 1:7). Ons moet ook met die Heilige Gees vervul word sodat ons die nodige krag en motivering sal hę om onder alle omstandighede voort te gaan om die Here te dien (Hand. 1:8). Dit is die geheim vir kompromielose toewyding aan die Here.
Die einddoel van ons geloof moet wees om ten spyte van al die aanslae en stryd teen ons, vasberade voort te gaan om die Here selfs onder die moeilikste omstandighede te dien. ’n Voorwaarde hiervoor is dat ons altyd onsself krities sal ondersoek om seker te maak dat daar niks is wat tussen ons en die Here inkom, wat ons vordering kan skaad of belemmer nie:
“Daarom dan, terwyl ons so ’n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflę en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lę, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, ... en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie” (Heb. 12:1-2, 15).
Heerlike dinge wag op die oorwinnaars – dit is hulle wat hulleself nie onder die dwase maagde, die vleeslikes, moedeloses en kompromiemakers bevind nie: “Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom. En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee” (Op. 2:25-26).
Elkeen van ons moet onsself heelhartig aan die ideaal toewy om die wedloop onder die geledere van die oorwinnaars te voltooi. Dit sal tot die eer van die Here wees om voor sy troon bevind te word as ’n oorwinnaar in die groot stryd teen die koninkryk van die duisternis, en ook as ’n betroubare werker wat nie met leë hande voor Hom sal verskyn nie.