Struikelblokke op die Weg na Heiligmaking

Johan Malan, Mosselbaai, (April 2013)

Elke Christen word geroep tot ’n lewe van heiligheid, oorwinning en onbelemmerde diens aan die Here. Daar is egter veel volharding en toewyding nodig voordat dit ’n werklikheid sal word. Paulus sê ons moet ’n nuwe fase van gehoorsaamheid in ons lewe betree, alle hindernisse aflê en met volharding na volkome heiligheid soek. Hy het in sy eie lewe ook na die vervulling van hierdie belofte gestreef: “Ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus” (Fil. 3:14). Hy het hierdie verhewe, oorwinnende lewe nagejaag om dit vas te gryp en nooit weer na die sukkelbestaan van die verlede terug te keer nie.

Die hoë roeping van alle Christene is niks minder nie as gelykvormigheid aan Jesus Christus self. In die lig van die getuienis van Paulus, asook talle ander heiliges deur die eeue heen, moet ons werk daarvan maak om die struikelblokke uit die weg te ruim sodat ons ook ons roeping tot volkome heiligheid kan verkry: “Daarom dan, terwyl ons so ’n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof” (Heb. 12:1-2).

Die struikelblokke wat ons onderweg na die vervulling van hierdie hoë ideaal moet aflê, word in Hebreërs 12 as sonde en laste beskryf. Dit is dinge wat tussen ons en die vervulling van die belofte van heiligmaking staan. Daar is talle van hierdie hindernisse wat ons aftrek en van die volle seën van ’n Christusgelykvormige lewe beroof. Die spesifieke probleme verskil van persoon tot persoon, want nie almal van ons het dieselfde swakhede en neigings wat deur die Bose uitgebuit word om ons geestelik te ondermyn en tot ’n val te bring nie. Die volgende is van die mees algemene struikelblokke:

Vleeslikheid

Die vlees verwys na die ou, ongekruisigde natuur van die mens. Omdat die vlees tot sonde en die bevordering van eiebelang geneig is, staan dit die werking van die Heilige Gees in ’n gelowige se lewe teë. “Want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie” (Gal. 5:17). Jong bekeerlinge wat nog nie ’n volle oorgawe gemaak het nie, bevind hulleself in die situasie van oorheersing deur die vlees, en dit sal vir die res van hulle lewe voortduur as hulle niks daaraan doen om die mag van die vlees te verbreek nie.

Dit gebeur dikwels dat wanneer ’n persoon tot bekering kom en sy hart vir die Here gee, hy hom van sekere sondes van die verlede distansieer sonder om sy vleeslike toestand volledig te bely en oorwinning daaroor te kry. In sulke gevalle oorleef die vlees en soek na meer “Christelike” en dus meer aanvaarbare maniere om homself te laat geld en steeds die beeld van die eie-ek te bou. So ’n persoon het nog nie ’n rein hart nie, maar ’n verdeelde hart waarin die Gees en vlees teenoor mekaar staan.

Die groot ideaal van die vlees is om homself te laat geld, die kruis van selfverloëning te vermy en doelgerig voort te gaan om eiebelang na te jaag. In sy pogings tot selfhandhawing lê hy verskillende struikelblokke in die weg van vordering na die Geesvervulde lewe. Die volgende struikelblokke kom algemeen in mense se lewens voor, en is almal aanduidings van ’n onderliggende vleeslike toestand:

Ritualisering en kerkisme

Baie mense verkies om nie duidelik deur die eis van wedergeboorte en heiligmaking gekonfronteer te word nie. In plaas daarvan volg hulle die maklike pad van die verkryging van kerklidmaatskap deur middel van gebruike soos die doop en aanneming. In vormgodsdienstige kerke is dit die prediker wat lidmate salig spreek, en nie die Heilige Gees nie (vgl. Rom. 8:16). Die gevolg is dat lidmate net ’n gedaante van godsaligheid het, sonder die wederbarende krag van die Heilige Gees (2 Tim. 3:5). Vir sulke gelowiges is kerklidmaatskap die deur na die hemel, en getroue kerkbesoek die enigste weg tot heiligmaking. Hulle is onversetlik toegewy aan die dogma van hulle denominasie, en totaal gekant teen alle leerstellings wat hoër eise aan hulle stel. Hulle lewens is op ’n valse fondament gebou omdat hulle nooit aan die volle waarheid oor regverdigmaking en heiligmaking blootgestel is nie. Hierdie houding sluit enige moontlikheid van geestelike ontwaking en groei na volwassenheid uit.

Selfs al het so ’n persoon waarlik sy hart aan die Here gegee, sukkel hy om geloofsekerheid te kry, want sy doop en kerklidmaatskap is die ankers van sy siel, eerder as geloof in Christus. Sy gebrek aan heiligmaking word in sulke gevalle nie aan sy vleeslike toestand toegeskryf nie, maar aan die feit dat hy nie genoeg kerk toe gaan en ook nie genoeg bydraes gee nie. Die afwesigheid van heiligmaking word dus deur menslike pogings tot ’n beter lewe aangespreek, steeds onbewus van die noodsaaklikheid van ’n volle oorgawe en die dood van die eie-ek. Vir so ’n persoon bly werklike heiligmaking ’n ontwykende droom wat nie deur vleeslike pogings verkry kan word nie. Dit is tragies dat kerke en hulle rituele dikwels in die pad staan tussen ’n gelowige en die volheidslewe.

Terugkeer na die wet

Die eie-ek kan nie by ’n geloofslewe aanpas waarin volle vertroue gestel word in die afgehandelde werk van Jesus Christus aan die kruis nie. Wanneer die “oue mens” ná bekering toegelaat word om voort te bestaan, soek hy na maniere om homself ook in die geloofslewe te laat geld. Hy verkies ’n vorm van selfregverdiging voor God op grond van sy eie pogings en werke, daarom is hy sterk ingestel op ’n vermenging tussen die wet en genade.

Wanneer ’n persoon mislei word om hierdie pad te volg, word hy weg van die kruis af op die wet ingestel, en dit bied aan die vlees die geleentheid om sy eie vorm van heiligheid uit te werk. Hy word nie meer deur ’n volle oorgawe en sterwe aan die kruis gekonfronteer om hartsreiniging te verkry en die vrug van die Heilige Gees voort te bring nie. In plaas daarvan beoefen hy ’n valse vorm van heiligmaking wat na eie pogings binne die raamwerk van ’n wettiese lewenswyse lei. Sulke persone roem in hulle onberispelike lewens volgens die wet, en probeer om aan al hoe meer wette gehoorsaam te wees – ook die sabbatswette. Hulle beperk Christus se rol net tot vergifnis in gevalle van wetsverbreking.

Wat sê Paulus van mense wie se belangrikste mikpunt wetsnakoming is? “Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval” (Gal. 5:4). ’n Lewe van hierdie aard bou nie ’n mens se geestelike lewe en verhouding met Christus op nie, maar ondermyn dit eerder en vernietig dit uiteindelik. As die kruis van Jesus nie meer vir jou algenoegsaam is nie, is jy op ’n ernstige glybaan weg van die Here af op die pad van selfregverdiging. Wanneer die liefde van God in ons harte uitgestort is en ons “hoop volkome op die genade wat ons deel word by die openbaring van Jesus Christus” (1 Pet. 1:13), het ons nie meer die wet as riglyn vir ons lewe nodig nie (Rom. 13:8-10).

Die wet was in Ou-Testamentiese tye net ’n tugmeester na die Messias toe – dit het Israel vir redding en heiligmaking na Jesus en die kruis gedryf. In hierdie nuwe bedeling is dit die Heilige Gees wat ons van sonde oortuig, wat ons wederbaar en vervul, wat ons in die hele waarheid lei en Christus ’n werklikheid in ons lewe maak. Die wet kan nie redding bewerk nie, en nog minder heiligmaking, daarom moet ons nie ’n verhouding tussen gelowiges en die wet bou nie, maar tussen gelowiges en Christus. Die Heilige Gees oortuig ons van sonde wanneer ons lewens nie in volle ooreenstemming met Christus se beeld van heiligheid is nie. Hy is geestelik en moreel die norm waarna ons streef – nie die wet nie.

Morele sondes

Vleeslike Christene se lewens word altyd deur morele sonde gekenmerk, want die vlees “onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie” (Rom. 8:7). ’n Gelowige wat aan die neigings van sy sondige natuur toegee, tree soos ’n ongeredde persoon op (1 Kor. 3:1-3). Die volgende immorele dade is kenmerkend van baie gelowiges wat nog nie die Here vir volkome heiligmaking vertrou het nie: hoogmoed, liefde vir die wêreld en vir wêreldse vermaak, liefde vir geld, rykdom en die neiging om altyd net die beste te wil hê, oneerlike finansiële transaksies, verskillende vorms van verslawing (bv. aan drank, tabak, kos en dwelms), wraaksugtigheid, leuens, onrein gedagtes en buite-egtelike verhoudings. Hierdie lys gaan aan, en daar is nie ’n einde aan dit wat die vlees vir sy eie behaaglikheid begeer nie.

Bedroef jy die Heilige Gees deur jou aan een of meer van hierdie dinge skuldig te maak? Weet dan dat jou hart nog nie gereinig is nie en dat jy nog nie deur die Heilige Gees vervul is nie. Hy moet eers volle beheer oor jou lewe kry voordat jy van al die skewe en krom paaie sal afwyk: “Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie” (Gal. 5:16). Die Heilige Gees sal die Here Jesus ’n groter werklikheid in jou lewe maak en jou in staat stel om sy heiligheid deelagtig te word: “Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie” (Rom. 13:14).

Die oplossing vir vleeslikheid is dus nie menslike pogings om minder te probeer sondig nie, maar ’n eerlike selfondersoek, gepaard met die belydenis en onmiddellike versaking van alles wat tussen jou en die Here staan (Spr. 28:13; 1 Joh. 1:9). Volgens Hebreërs 10:19-22 is die Here Jesus ons Hoëpriester wat ons harte reinig deur sy bloed en ons deur die geskeurde voorhangsel tot in die heiligdom begelei waar God se genadetroon is. Christus se kruisdood bewerk nie net ons regverdigmaking nie, maar ook ons heiligmaking.

Wanneer die Heilige Gees ons met krag uit die hoogte vervul, word ons van alles oortuig wat nog tussen ons en die Here staan. Hy lei ons opnuut na die kruis om volkome reiniging te verkry deur die bloed van die Lam. As ons hieraan gehoorsaam is, dan verkry die Heilige Gees volle beheer oor ons lewens en sal ons onbelemmerd in die hele waarheid lei.

Vleeslike Christene word ook van hulle sondes oortuig deur die Heilige Gees, maar hulle is dikwels nie bereid om met daardie sondes te breek nie. In dié opsig bedroef hulle die Heilige Gees en weerstaan sy werking in hulle lewens (Ef. 4:30).

Die eer van mense

Dit is ’n algemene neiging onder vleeslike Christene om vol van hulleself te wees, graag oor hulleself en hulle eie prestasies te praat, en altyd na volle erkenning vir hulle aandeel in enige saak te soek. Hulle wil hoog aangeskrewe wees in hulle kerke en in die samelewing, en juis daarom huiwer hulle om standpunte in te neem wat dalk aanstoot kan gee, of oor mense se sonde te praat en sodoende vir hulle ’n verleentheid te skep. Vleeslike predikante en ouderlinge maak liewer kompromie en spreek nie graag dwalende gelowiges aan nie.

Die Here Jesus het egter duidelike waarskuwings aan sy dissipels gerig dat hulle nie die eer van mense moet soek nie, want die evangelie van verlossing is van so ’n aard dat dit verwerp word deur die wêreld, asook deur ongeredde kerklidmate wat net ’n gedaante van godsaligheid het. ’n Ware dissipel van Jesus moet bereid wees om vervolging te verduur en deur die wêreld verwerp te word (Luk. 6:22-26; Joh. 15:19-20). ’n Vleeslike gelowige kan nie hierdie soort behandeling aanvaar nie, want hy voel diep seergemaak en in sy ego gekrenk as mense hom nie op die hande dra en lof toeswaai oor dit wat hy doen nie. Daar is duidelik ’n prys om te betaal as ons ’n volle oorgawe wil maak om deur die Heilige Gees vervul te word.

Verkeerde leerstellings

’n Vleeslike Christen is nie onder die volle beheer van die Heilige Gees nie, daarom kan hy nie daarop aanspraak maak dat hy in die hele waarheid gelei word nie. So ’n persoon luister nog na allerlei ander stemme – ook dié van valse profete – en raak dus maklik van die waarheid afvallig. Die Here Jesus het sy dissipels duidelik teen misleiding gewaarsku (Matt. 24:4-5, 11, 24), maar die kerkgeskiedenis deur die eeue heen bevestig die tragiese feit dat vleeslike lidmate dikwels die verkeerde leringe van valse profete nagevolg het.

Die Galásiërs is gewaarsku teen valse leraars wat verwarring veroorsaak deur die evangelie van Christus te verdraai (Gal. 1:6-8). Dieselfde vermaning is aan die Efésiërs gerig (Hand. 20:29-30). Die Korinthiërs is ook gewaarsku teen demoniese misleiding wat daarop gerig is om die evangelie kragteloos te maak deur middel van valse voorstellings van Jesus (2 Kor. 11:3-4). Dit gebeur onder die direkte beïnvloeding van die duiwel wat as ’n engel van die lig kom, asook valse profete wat hulleself as vroom gesante van God voordoen (2 Kor. 11:13-15).

Die Bybel waarsku ons dat misleiding van hierdie aard ’n algemene verskynsel sal word in die eindtyd: “Die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang” (1 Tim. 4:1). Paulus sê dat daar ’n menigte leraars sal wees wat die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels (2 Tim. 4:2-4).

Vleeslike Christene is geestelik onvolwasse en het nie goed ontwikkelde onderskeidingsvermoë nie (Heb. 5:12-14; Ef. 4:14), daarom is dit vir hulle baie moeilik om teen die stygende gety van valse lerings staande te bly. Soek na die vervulling met die Heilige Gees, bestudeer die Bybel onder sy leiding, en neem standpunt in teen alles wat in stryd daarmee is.

Twyfel en ongeloof

Twyfel en ongeloof in mense se harte is twee van die noodwendige gevolge van valse leerstellings. Persone wat vreemde leerstellings aanhang, is losgemaak van die Bybel en het navolgers van mense geword. Dit is die manier waarop kultusse gevorm word. Wanneer die slagoffers van hierdie bewegings genoeg gehad het van vreemde manifestasies soos val en lag in die gees, by herhaling mislei is deur drome, visioene en valse profesieë wat nie uitgekom het nie, groot somme geld aan inhalige predikers gegee het, en voortdurend deur twyfel en onsekerheid geteister is nadat hulle deur verwaande leraars salig gespreek is, dan draai baie van hulle heeltemal van godsdiens af weg en verwerp ook Bybelse waarhede saam met die misleiding waaraan die valse profete hulle blootgestel het.

Die dissipels van Jesus het ook by tye getwyfel en is as kleingelowiges beskryf, maar hulle het hulle fout agtergekom en vir die Here gevra: “Gee ons meer geloof” (Luk. 17:5; vgl. Matt. 8:26). Wanneer mense se geloof begin wankel, moet hulle tyd inruim vir afsondering, hulleself én die Skrif deeglik ondersoek, en ’n nuwe oorgawe aan die Here maak.

Verflouing in waaksaamheid

Een van die kenmerke van vleeslike Christene is dat hulle nie waaksaam genoeg is teen die versoekings en aanslae van die Bose nie. Hulle besef ook nie die waarde van volhardende gebed nie: “Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak” (Matt. 26:41). ’n Vleeslike persoon is meer op sy eie vermoëns as op die krag van die Heilige Gees ingestel, en dit is die rede waarom hy so dikwels faal in sy pogings om versoekings te oorwin. Hy word op onverwagte oomblikke oorval en gee dan maklik in.

Sulke persone bied gewoonlik nie betyds weerstand teen sonde nie, en wag totdat dit amper te laat is voordat hulle ’n standpunt daarteen probeer inneem. ’n Geesvervulde persoon word egter onmiddellik teen verkeerde gedagtes en voornemens gewaarsku, en dit stel hom in staat om probleme te voorkom nog voordat daar aan sondige suggesties toegegee word.

Verflouing van ons wederkomsverwagting

Wanneer die Heilige Gees nie deur vleeslike gesindhede in ons lewe geblokkeer word nie, skerp Hy ook by ons ’n sterk wederkomsverwagting in (Joh. 16:13). Hy het na die aarde gekom om ’n bruidsgemeente vir Jesus Christus te versamel, en ons word daagliks voorberei om aan die einde van ons lewe in ’n rein kleed voor die hemelse Bruidegom te verskyn (Ef. 5:25-27). Nadat ’n persoon gewederbaar is, word hy ook geheilig en in staat gestel om werke te doen wat by die bekering pas (Matt. 3:8). Hierdie werke is nie menslike pogings om God te behaag nie, maar die vrug van die Heilige Gees in ’n oorgegewe persoon se lewe. Dit verleen ook aan hom ’n bruilofskleed: “En aan haar [die bruid] is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges” (Op. 19:8).

Die dwase maagde in Matthéüs 25:1-13 is ’n uitbeelding van vleeslike gelowiges wat ’n lae standaard handhaaf en verkeerdelik meen dat hulle vir die Bruidegom se koms gereed is. Hulle het wel lampe wat in ’n stadium gebrand het, maar het nie ekstra olie by hulle nie. Die ekstra olie dui op die vervulling met die Heilige Gees, wat deur baie Christene nagelaat word. Dit is die rede waarom hulle geestelik gesproke leeg loop, nie ’n bruilofskleed het nie en aan die slaap raak wanneer hulle moet waak en bid.

Baie van hierdie vleeslike meelopers sal hulle tekortkoming eers ná die wegraping besef wanneer dit te laat is om vir die Bruidegom se geheime koms gereed te maak. Hulle sal nog steeds hulle gebroke verhouding met die Here kan herstel, maar deur die verdrukking moet gaan en dus ’n duur prys vir hulle vleeslikheid betaal. Hulle laat toe dat die ongekruisigde vlees hulle geestelik blokkeer en uitblus, en sodoende van die seën van ’n lewe van oorwinning beroof.

Versoekings m.b.t. menslike krag en wysheid

Diegene wat net op hulle eie wysheid en insig staat maak, kom altyd in botsing met die Bybel. Hulle wil nie aanvaar dat die wêreld in die eindtyd al hoe slegter word en op ’n groot verdrukking afstuur nie. In plaas daarvan bedink hulle menslike planne om die wêreld geestelik en moreel te hervorm, kunsmatig groot herlewings deur transformasiebyeenkomste te probeer skep, en sodoende hulle eie Utopia tot stand te bring.

Dit is dieselfde argumente wat die Antichris ook sal gebruik om die wêreld te verenig en te transformeer. Hy sal sê: “Deur die krag van my hand het ek dit gedoen en deur my wysheid, want ek is verstandig; en die grense van die volke het ek verwyder, en hulle voorrade het ek geplunder; en die wat op trone sit, het ek soos ’n maghebber neergewerp” (Jes. 10:13).

Die wysheid van God is totaal anders as dié van mense. Sy Heilige Gees oortuig ons daarvan dat die wêreld al hoe slegter word en op ’n groot verdrukking onder die beheer van die Antichris afstuur. In hierdie tyd sal God ook die sondaars oordeel, sodat boosheid van die aarde af verwyder kan word. Ons opdrag is om te waak en te bid sodat ons waardig kan wees om die komende verdrukking te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan (Luk. 21:36).

Dit is net die Heilige Gees wat aan ons die regte insig in God se Woord kan gee, en ons ook kan help om reg daarop te reageer, “want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God” (1 Kor. 2:10). Sonder Hom sal ons die situasie in die wêreld totaal verkeerd beoordeel, verkeerde verwagtings koester en onsself met nuttelose en irrelevante aktiwiteite besig hou.

Is jy met die Heilige Gees vervul en dien jy die Here deur die krag van die Gees, of bestaan jou godsdiens uit oorredende woorde van menslike wysheid (1 Kor. 2:4), aangevul deur vleeslike pogings om God te behaag? Alles wat uit die mens se natuurlike insig en vermoëns voortspruit, sal soos hout, hooi en stoppels voor die regterstoel van Christus verbrand. Selfs al het so ’n persoon ’n getuienis van redding gehad, sal sy vleeslike godsdienstigheid verwerp word sodat hy beskaamd voor die Here sal staan: “As iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen” (1 Kor. 3:15). Loon word slegs gegee vir werke wat onder die leiding en deur die krag van die Heilige Gees gedoen is.

Die geheim van sukses

Die enigste weg na ’n suksesvolle geestelike lewe is om die vlees met al sy werke oor te gee om gekruisig te word, sodat ons harte en lewens van die invloed daarvan gereinig kan word. Slegs dan kan die Gees van God ons volkome vervul en in die volle waarheid lei. Dit is die eerste en belangrikste probleem wat ons in die proses van heiligmaking moet aanspreek. Paulus het vir ’n Christelike gemeente gesê: “...dat julle, wat die vorige lewenswandel betref, die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan, en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid” (Ef. 4:22-24).

Ons kan nie ten volle met die nuwe lewe in Christus beklee word, voordat ons nie eers in ’n stap van volle oorgawe die ou lewe afgelê en oorgegee het om gekruisig te word nie (vgl. Kol. 3:8-10). Die struikelblokke in die weg van heiligmaking móét verwyder word. Sonder dit sal ons in ’n verlengde kleuterskool van vleeslikheid en geestelike onvolwassenheid vasgevang bly (1 Kor. 3:1-3).

Het jy al die oorwinningslewe deelagtig geword, of word die Gees van God deur lank gevestigde struikelblokke in jou lewe teëgestaan en selfs uitgeblus? (vgl. 1 Thess. 5:19). Die oplossing hiervoor is volkome heiligmaking: “En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!” (1 Thess. 5:23). Dit is ’n werk wat net die Here in ons harte kan doen, mits ons bereid is om van die struikelblokke van vleeslikheid afstand te doen.