Verval van die Ware Jesus af

Prof. Johan Malan, Mosselbaai (Maart 2013)

Die wêreld is onder groot druk om die rug te draai op die ware Christus van die Bybel sodat daar ’n multigodsdienstige ontvanklikheid geskep kan word vir die verskyning van die valse Christus van alle gelowe. Die komende Messias-Koning van die misleide wêreld sal die Antichris wees, die groot teëstander van die ware Christus. ’n Toenemende aantal mense is positief op sy koms ingestel, totaal onbewus van die feit dat hulle deur die duiwel mislei is om die weg voor te berei vir die verskyning van ’n valse vredevors vir die hele mensdom.

Daar moet noodwendig eers ’n grootskaalse wegbeweeg van die waarheid af plaasvind voordat die dwaling van ’n valse Christus in mense se harte gevestig kan word. Dit is presies wat vandag besig is om te gebeur. ’n Breë spektrum gelowiges – insluitend ’n groot aantal teoloë en predikante – is betrokke by ’n vervalproses wat van die waarheid af na die leuen lei. Baie van diegene wat vroeër volgelinge van die eksklusiewe en unieke Christelike geloof was waarin Jesus die enigste Verlosser van die wêreld is, het oorgeskakel na ’n inklusiewe, intergeloofsbenadering en sodoende kampvegters vir ’n ander Jesus geword, nl. die Antichris.

Hoe kan daar so ’n drastiese verandering van denke intree by persone wat toegang tot die Bybel het en van beter behoort te weet? Misleiding is altyd die gevolg van onkunde, ongeloof, of blootstelling aan valse leerstellings. Sulke mense is onkundig oor die volle omvang van die Goddelike waarheid. Hulle lees nie die Bybel nie, of glo nie wat daarin staan nie, en het dus nie vaste oortuigings en ’n duidelike Christelike verwysingsraamwerk nie. Jesus het ons veral met die oog op die eindtyd gewaarsku: “Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei” (Matt. 24:4-5). Wanneer daar in ’n persoon se hart twyfel oor die ware Christus geskep is, raak hy van Hom afvallig en word soveel makliker die volgeling van valse profete en valse christusse (Matt. 24:24).

Volgens die Bybel gaan hierdie vervalproses in die laaste dae ongekende afmetings aanneem, omdat dit volgens die profetiese woord nou die tyd vir die verskyning van die valse Christus is. Die verwerping van die ware Christus vind in die volgende drie stadiums plaas:

Verflouing in liefde vir Christus

Daar begin heel eerste om groter afstand tussen Christus en sy volgelinge te ontstaan. Hulle het Hom nie meer bo alles lief nie, bly nie gereeld in verbinding met Hom deur gebed en Bybelstudie nie, en laat toe dat sonde en negatiewe ervarings hulle van Hom af wegtrek. Daar is verskeie redes vir die verwydering wat intree:

·        “En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel” (Matt. 24:12). Terwyl die wêreld boser word in voorbereiding op die openbaring van “die mens van sonde” (2 Thess. 2:3), begin baie Christene ook permissief te leef en dryf stadig maar seker van die Here Jesus af weg. ’n Opregte wandel met Christus vereis ’n verbintenis tot selfverloëning, heiligmaking en vervulling met die Heilige Gees. Wanneer die nastreef van hierdie opdragte oor geestelike groei nagelaat word, word gelowiges van die Here af weggetrek deur hulleself oor te gee aan sonde, hoogmoed en ander vleeslike begeertes.

·        Paulus sê dat daar in die eerste eeu reeds baie van die “broeders in Christus” was wat weer openlik in sonde begin leef het en as gevolg daarvan gevaar geloop het om heeltemal van Christus afvallig te raak: “Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ’n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie. Maar vermaan mekaar elke dag ... sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie” (Heb. 3:12-13). Ons moenie vir die duiwel enige plek gee in ons lewe nie (Ef. 4:27), want dit sal ons verhouding met Jesus benadeel en uiteindelik verbreek.

·        Oordrewe materialisme het ook verwoestende gevolge omdat dit mense geestelik laat afkoel en lou word, en dit is afstootlik vir Christus: Omdat jy lou is ... sal Ek jou uit my mond spuug. Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie” (Op. 3:16-17). Sulke mense word deur hulle eie prestasies en voorspoed van die Here en sy geestelike rykdomme af weggetrek: “Die geldgierigheid is ’n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof” (1 Tim. 6:10).

·        ’n Ander belangrike rede vir geestelik afkoeling teenoor Jesus Christus is geestelike misleiding. Valse leraars bied dikwels ’n verwronge beeld van Jesus aan deur Hom eensydig en verdraaid voor te stel. Sommige van sy goddelike attribute word óf verswyg óf openlik ontken, met die gevolg dat ’n valse Jesus verkondig word. Paulus het vir ’n afvallige en teruggevalle gemeente gesê: “Ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. Want as iemand kom en ’n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, ... laat julle jul dit goed geval” (2 Kor. 11:3-4). Gelowiges word leerstellig van die ware Christus af weggelok. As hierdie proses nie omgekeer word nie, sal totale vervreemding van die waarheid af mettertyd intree.

Die verlaat van Christus deur sommige afvalliges

Gelowiges wat aanhou om te verkoel in hulle verhouding teenoor Christus, loop gevaar om uiteindelik totaal van Hom afvallig te raak en as gevolg daarvan in ’n geestelike woestyn te beland waarin hulle sal wegkwyn. Dit is ’n tragiese feit dat nie alle Christene in die Here Jesus bly en op die weg van heiligmaking volhard nie. Die Verlosser het gesê: “Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie. ... As iemand in My nie bly nie [dit is ’n besliste moontlikheid], word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur” (Joh. 15:4-6). Die aantal voormalige gelowiges wie se name nou op die lys van afvalliges verskyn, is besig om daagliks toe te neem.

Iemand wat nie meer die Here Jesus waarlik liefhet nie, maak ruimte vir ander liefdes in sy lewe – liefde vir homself, vir sonde, vir rykdom en selfs (ten koste van Christus) vir sy kerk en predikant. Christus het so ’n gemeente soos volg berispe: “Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie” (Op. 2:4-5). Dit was nie die eerste waarskuwing teen afvalligheid wat die kerk in Éfese ontvang het nie. Paulus het hulle vroeër gewaarsku dat hulle ná sy vertrek deur valse leraars mislei en van Christus af weggelei sou word op ’n verkeerde pad (Hand. 20:29-30). Hulle het nie op een van die waarskuwings ag geslaan nie.

Hierdie gemeente het die werklike gemeenskap met Christus geleidelik laat vaar en daarna sy Naam gebruik as ’n blote simbool van ’n veraf en vae Godsfiguur. In plaas daarvan om ’n aktiewe verhouding met Hom te handhaaf, het hulle ander liefdes en doelwitte nagejaag. Hulle het nie hulle prioriteite reggestel deur na hulle verlore, eerste liefde terug te keer nie, maar met hulle dooie vormgodsdiens en vreemde liefdes voortgegaan.

Die gemeente in Éfese het ’n onleerbare gees gehad en was hardkoppig verbind tot die verkondiging van hulle gevestigde dwalings. Selfs nadat hulle ’n brief van vermaning vanaf die opgestane Christus self ontvang het deur die bemiddeling van die apostel Johannes (Op. 2:1-7), het hulle hul nie bekeer nie en die Here het uiteindelik sy Gees aan hulle onttrek. Daarna het die leë, humanistiese boodskappe van naasteliefde en goeie werke wat deur hulle leraars verkondig is, maar sonder wedergeboorte en ’n lewende verhouding met Christus, vir die meeste van die misleide en selfgesentreerde lidmate irrelevant en vervelig geraak. Hulle die kerk in groot getalle begin verlaat, die gemeente het doodgeloop, die kerkgebou was later in onbruik en het totaal vervalle geraak. Net ’n verlate ruïne was deur die eeue heen die stille getuienis van ’n eens dinamiese gemeente van Christus wat lank gelede in Éfese gevestig was. Groot geestelike duisternis het hier ingetree en die hele land (tans Turkye) het ’n sterk vesting vir ’n nie-Christelike geloof geword. Dit is vandag nog so.

Baie mense bevind hulle in dieselfde situasie. Ten spyte van talle waarskuwing het hulle aangehou om van die Here Jesus af weg te dwaal, en uiteindelik is hulle verhouding met Hom heeltemal verbreek. Paulus het selfs vir Timótheüs teen so ’n moontlikheid gewaarsku: “Dit is ’n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red. ... Hierdie boodskap vertrou ek aan jou toe ... sodat jy daardeur die goeie stryd kan stry en aan die geloof en ’n goeie gewete vashou. Sommige het dit van hulle weggestoot en aan die geloof skipbreuk gely, onder wie daar is Himeneus en Alexander” (1 Tim. 1:15, 18-20).

In sy tweede pastorale brief aan Timótheüs verwys Paulus weer na hierdie afvalliges uit ’n vorige lewe van geloof: “[Hulle het] van die waarheid afgedwaal, omdat hulle sê dat die opstanding al plaasgevind het; en hulle keer die geloof van sommige om” (2 Tim. 2:18). Die situasie is vandag baie erger omdat daar groot getalle afvallige teoloë is wat sê dat Christus nie uit die dode opgestaan het nie en dat daar nie vir die regverdiges wat in Hom glo, ’n eerste opstanding voor die millennium sal wees nie (vgl. Luk. 14:14; Op. 20:6).

Die geloof van talle moderne gelowiges word in die ongekarteerde waters van rasionele postmodernisme omgekeer op grond van hulle verwerping van wetenskaplik onverklaarbare wonderwerke en ander bonatuurlike ingrypings deur God. Hulle verlaat hulle eerste liefde en word skipbreukelinge in hulle geestelike lewe omdat hulle onder andere nie meer in die opstanding van Christus en sy dissipels glo nie (1 Kor. 15:17-23). Sulke mense volg nie Bybelse voorskrifte oor hoe om in die waarheid geanker te bly nie, en laat na om hulle geestelike lewe te voed en te koester deur in die genade en kennis van Christus te groei. Hulle weet ook nie hoe om geestelik staande te bly teen die aanhoudende aanslae en misleiding van die Bose nie (Ef. 6:10-13; 2 Kor. 10:3-5; 2 Pet. 3:17; 1 Tim. 4:1).

Dit is vir ware dissipels van Christus duidelik dat teruggevalle gelowiges slegs naamchristene is omdat hulle nie langer ’n lewende verhouding met Jesus Christus handhaaf nie. Sommige van hulle is leerstellig mislei en glo nie meer in die ware evangelieboodskap nie. Ander het moreel verstrik geraak in sonde. Soos die verlore seun het hulle heeltemal vasgevang geraak in ’n lewenstyl van materialisme, onbeperkte menslike vryhede, losbandige partytjies, dubbele standaarde en ander sondes. Hulle word ook opgeroep om uit hulle afvallige toestand tot bekering te kom en na die vaderhuis terug te keer. As hulle dit nie doen nie, sal hulle in hul sonde sterf en die gevolge daarvan moet dra.

Die belastering van Christus

Op die verste punt van verval is daar ’n groep afvalliges wat geestelike verraad teenoor Christus pleeg deur doelbewus van hulleself teëstanders en selfs openlike vyande van die Bybelse Seun van God te maak. Hulle opponeer en belaster Hom so ver as moontlik en gebruik nietige argumente om die Bybel wat van Jesus getuig (Hy is die Woord wat vlees geword het) te bevraagteken, te verdraai, in ’n slegte lig te stel of totaal te verwerp. Sulke mense adem die gees van die Antichris – hy sal “sy mond oopmaak om te laster teen God, om sy Naam en sy tabernakel en die wat in die hemel woon, te laster” (Op. 13:6; vgl. 1 Joh. 2:22).

Verbale laster is maar net een vorm van die ontering van God se Naam. Baie mense gebruik sulke growwe en aanhoudende lastertaal dat hulle nie twee sinne kan praat sonder om die Naam van God in al sy vorms ydellik te gebruik nie. Daar is egter talle ander maniere waarop God deur sy teëstanders beledig, belaster en verkleineer word. Hieronder is veral die geestelike verraad wat teen Hom gepleeg word. Lasteraars val die Drie-enige God meedoënloos aan in ’n poging om die Vader, die Seun en die Heilige Gees negatief voor te stel deur hulle goddelike beeld en attribute te vervals en af te kraak, hulle met die afgode gelyk te stel, en selfs hulle bestaan totaal te ontken.

Onder hierdie groep lasteraars is daar ’n groot aantal teoloë wat alles moontlik doen om Jesus van sy Godheid te ontneem en van Hom net ’n gewone menslike profeet te maak. Hulle ontken sy bonatuurlike verwekking deur die Heilige Gees, sy eenheid met die Vader, die heilsbetekenis van sy kruisdood, sy liggaamlike opstanding uit die dood, sy hemelvaart, asook die belofte van sy wederkoms uit die hemel. Die moderne wetenskap is hulle “god” en hulle aanvaar geen god, persoon of verskynsel waaraan bonatuurlike eienskappe toegeskryf word nie.

Humanistiese teoloë beskou die Bybelse Jesus wat deur evangeliese, Bybelgelowige Christene aanbid word, as die “kultiese Jesus”. Vir hulle is Hy ’n fiktiewe god wat gekonstrueer is uit die idealistiese denke van die apostels en vroeë kerkvaders. Hulle was na bewering afgunstig op die gode van die heidense volke, en het toe besluit om hulle eie God te skep deur vir Jesus subjektief tot God te verklaar. Vir hulle is Hy die menslike manifestasie van die Drie-enige God (Kol. 1:15; 2:9).

Volgens rasionalistiese teoloë het die Bybelse Jesus wat as die Seun van God en ook God self uit die hemel gekom het, nooit bestaan nie. Hulle bied hulle eie, menslik gekonseptualiseerde Jesus – die “historiese Jesus” – as ’n plaasvervanger vir die “Bybelse Jesus van geloof” aan. Hierdie Jesus is nie die bonatuurlike God-Mens nie, sy kruisiging staan nie met die vergifnis van sonde in verband nie, en hy het slegs gekom om aan ons liefde, nederigheid, verdraagsaamheid en meegevoel met gemarginaliseerde mense in die samelewing te leer. Dit het tot ’n sosiale evangelie gelei waarin hulpverlening aan armes en onderdruktes die belangrikste fokus is. Verder pas hulle Christelike verdraagsaamheid toe op die terrein van ons verhouding teenoor ander gelowe, en op grond daarvan regverdig hulle intergeloofsbande en multigodsdienstige ekumeniese betrekkinge.

In die VSA is daar in 1985 deur voorstanders van teologiese rasionalisme ’n Jesus Seminaar gestig waardeur hulle ’n alternatiewe, duiwelsgeïnspireerde “historiese Jesus” aan die wêreld bied wat ’n vervalsing van die ware Jesus is (vgl. 2 Kor. 11:3-4; Gal. 1:6-8). Leiers van hierdie beweging is ook na Suid-Afrika genooi en hier het hulle openlik die spot gedryf met die beweerde bonatuurlike attribute van Jesus. Hulle het gesê dat sy kruisdood ’n blote politieke daad was (die teregstelling van kriminele) wat geen heilsbetekenis vir ons het nie, dat Hy nie begrawe is nie (honde het glo sy lyk gevreet) en dat Hy nie uit die dood opgestaan het nie. Hulle het ook sy Vader as ’n wreedaard bestempel omdat Hy sy Seun aan die grusame foltering van ’n kruisdood oorgegee het.

Die aanvaarding van hierdie uiterste kettery het ’n groeiende beweging in Suid-Afrika geword wat die meeste teologiese fakulteite reeds diep binnegedring het. Mense wat hierdie idees oor ’n “ander Jesus” huldig, is voorlopers van die Antichris. Die Here Jesus het agnostiese Joodse leiers in die eerste eeu gewaarsku dat as hulle Hom verwerp, hulle hulleself deur eie toedoen aan die kant van die valse Messias sou skaar (Joh. 5:43). Hulle sal hierdie vervalser met ope arms verwelkom wanneer hy kom.

Voorsorgmaatreëls teen verval

Elke mens op aarde moet vasstel waar hy met Jesus Christus staan, want dit raak sy toekoms hier én in die ewigheid ten nouste: “Ondersoek julleself of julle in die geloof is; stel julleself op die proef. Of is julle nie seker van julself dat Jesus Christus in julle is nie – as julle ten minste nie verwerplik is nie” (2 Kor. 13:5). Die vraag is nie of ons net verstandelik van Jesus kennis geneem het nie, maar of Hy deur die geloof in ons harte woon en ons lewens ingrypend verander het: “Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie” (1 Joh. 5:12).

Indien ons seker van ons redding is, moet ons na hartsreiniging en vervulling met die Heilige Gees streef. Ons moet die heiligmaking in die vrees van God volbring (2 Kor. 7:1), want dan alleen sal Christus volle gestalte in ons aanneem, en sal Hy gedurig meer word in ons lewe en onsself minder (Joh. 3:30). Daar moet dus geestelike ontwikkeling by ons wees sodat ons kan opgroei na die mate van die volheid van Christus, “sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering” (Ef. 4:13-14). Dit is ons enigste waarborg teen geestelike verval.

Wanneer Christene nie in die Here groei nie, tree daar geestelike stagnasie en uiteindelik geestelike verval by hulle in. Die glybaan van verval is baie ernstig en gevaarlik, want dit eindig in die dood indien ’n persoon nie betyds op hierdie afdraandepad omdraai nie. Jakobus sê: “...en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort” (Jak. 1:15).

Dit is dus baie belangrik dat ons die tekens van geestelike verval in ’n vroeë stadium sal raaksien en paslike stappe daarteen neem. Eers koel ’n persoon net af in sy verhouding teenoor Jesus Christus. Die redes hiervoor moet bepaal word, want die oorsaak daarvan is altyd sonde of misleiding van een of ander aard. Indien ’n persoon niks hieraan doen nie, sal hy al hoe verder van Christus af wegdrywe en uiteindelik sy eerste liefde verlaat. Indien hy dan nog steeds nie omdraai nie, sal hy in die kring van die spotters eindig (Ps. 1:1). Hier sal hy met agnostici en ander afvalliges assosieer wat met die Christelike geloof die spot dryf.

In ’n gevorderde stadium van verval sal die krag van die dwaling so sterk in die teruggevalle persoon werksaam wees dat hy die leuens van die groot teëstander van Jesus sal glo (2 Thess. 2:11). Onder die invloed van sataniese misleiding sal hy dan bereid wees om ’n verbond met die Antichris te sluit, onbewus van die feit dat dit tot sy finale en ewige verdoemenis sal lei (Op. 14:9-11).