Prof. Johan Malan, Mosselbaai (November 2011)
In die moderne samelewing is fisiese slawerny steeds ’n werklikheid, en volgens Wikipedia is daar na raming meer as 25 miljoen mense wêreldwyd hierby betrokke. Die meeste van hulle is arm mense in Asië wat slawearbeid vir ryk mense verrig omdat hulle nie hulle familieskuld kon betaal nie. Lede van gesinne wat in die skuld is, moet ’n sekere aantal dae per week as slawe vir die leners werk – dikwels op die landerye van grondbesitters. Verder kom gedwonge kinderarbeid in arm lande voor, en daar is ook ander vorms van slawerny: ’n Toenemende aantal vroue en minderjarige kinders word jaarliks deur misdaadsindikate ontvoer en as slawe in die seksbedryf gebruik.
Daar is egter ’n ander, meer abstrakte vorm van slawerny deur ’n onsigbare vyand, waaronder die meeste mense op aarde hulle hele lewe lank gebuk gaan, en dit is geestelike en morele slawerny. Dit is ’n toestand waarmee alle mense gekonfronteer word, omdat almal van ons weens die gevalle natuur wat ons van Adam geërf het, slawe van die sonde is. Sonde is die gevolg van vervreemding van God, en dit lei na ’n toestand van geestelike en morele verdorwenheid. Die sondeval het die mens in God se oë verwerplik gemaak (Gen. 6:5-6). Paulus sê: “... deur een mens [het] die sonde in die wêreld ingekom en deur die sonde die dood, en so [het] die dood tot alle mense deurgedring, omdat almal gesondig het” (Rom. 5:12). Onder die natuurlike mense is daar nie een regverdige persoon op aarde nie: “Hulle het almal afgewyk, tesame het hulle ontaard; daar is niemand wat goed doen nie, ook nie een nie” (Ps. 14:3; Rom. 3:10).
Slawerny kan baie verskillende vorms aanneem. Geestelike en morele slawerny verwys na ’n toestand wat die gevolg is van een of ander valse geloof of immorele gewoonte wat ’n groot mate van beheer oor jou lewe verkry het.
Slawerny bepaal jou karakter, persoonlikheid en optrede, en maak in baie opsigte van jou wat jy is – ’n sondaar. Dit neem jou vryheid weg om ’n ander persoon te wees as die een wat deur die verslawing gebind word; dit besoedel jou karakter en laat jou stadig maar seker in ’n moeras van sonde en ongeregtigheid wegsink.
Alle verlore mense is onderworpe aan verskillende vorms van slawerny aan die sonde, en dit sluit ook ongeredde predikante in. Petrus verwys na valse leraars wat vryheid aan mense belowe terwyl hulle self nog nie vry van die sonde is nie: “Hulle belowe vryheid aan [mense], terwyl hulle self slawe van die verdorwenheid is; want waar ’n mens deur oorwin is, daarvan het hy ook ’n slaaf geword” (2 Pet. 2:19). Hoe kan een gevangene ’n ander een na vryheid lei?
Die Here het die mens gemaak om geestelik en moreel net aan Hom gebonde te wees, en binne hierdie verhouding sy vrye wil te gebruik om hoë ideale van heiligheid en kreatiwiteit na te streef. Enige ander vorm van beheer wat mense in stryd met God se bepalings oor hulle lewe toelaat, het ongewenste gevolge. Dit maak van mense godsdienstige en morele slawe van Satan, wat die groot vyand en verleier van die mensdom is. Hy wil soveel as moontlik slawe en diensknegte hê om hom te dien.
Miljoene mense word die slawe van valse gelowe wat almal die produkte is van Satan se misleidingswerk. Hulle weet nie dat hulle in werklikheid slawe van die duiwel is wanneer hulle offers aan hulle valse gode bring nie, maar dit is presies wat dit is: “Wat sê ek dan? Dat ’n afgod iets is, of dat ’n afgodsoffer iets is? Nee, maar dat die heidene wat dit offer, aan duiwels offer en nie aan God nie. En ek wil nie hê dat julle met die duiwels gemeenskap moet hou nie” (1 Kor. 10:19-20). Sulke mense is aan die dwingelandy van Satan uitgelewer.
Hierdie vorm van geestelike slawerny kan mense tot groot uiterstes dryf, selfs om ander mense dood te maak en ook hulle eie lewens as martelare op te offer in die belang van hulle afgod. Die heilige oorloë wat die Moslems voer, is ’n goeie voorbeeld hiervan. Wanneer die duiwel slawe van mense maak, dryf hy hulle tot op die punt van selfvernietiging. Selfs al maak hy nie van hulle ekstremiste nie, is sy basiese doel met valse godsdienste die geestelike verblinding van sy slagoffers, sodat hulle nie die evangelie van Jesus Christus moet aanneem wanneer hulle daarmee kennis maak nie. Paulus sê: “Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld [Satan] die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie” (2 Kor. 4:3-4).
Godsdienstige slawe se sinne is deur Satan verblind, en hulle is totaal uitgelewer aan die afgode wat hulle aanbid. In Afrika het die geloof in voorvaders, asook toorkrag, so ’n groot houvas op mense dat hulle alles sal doen wat die betrokke duiwels in die naam van die voorvadergeeste van hulle verwag om te doen. Die Here Jesus het gekom om mense van hierdie intimiderende vorm van slawerny te verlos.
Geestelike slawerny word egter nie in alle gevalle beëindig wanneer mense hulleself uit heidense gelowe tot die Christendom bekeer nie, omdat baie van hulle dan die slawe van valse vorms van die Christendom word. Hulle is aanhangers van ’n groot aantal sektes, en dan verdedig hulle hand en tand die valse leerstellings wat hulle in stryd met die waarheid van die Woord aanvaar het. Baie van hulle, soos bv. die Jehovasgetuies, maak groot opofferings (finansieel en deur die verdra van spot en verwerping) terwyl hulle hul valse leerstellings verkondig en uitleef.
Daar is ook misleide Christene wat nie onder die genade en vryheid van Christus leef nie, maar onder die wet. Hulle probeer die Ou Testamentiese wette nakom, veral ook wette oor die Sabbat, maar maak van hulleself slawe van ’n sisteem wat geen saligheidswaarde het nie. Hulle het geen geestelike vryheid nie omdat hulle slawe van die wet is. Paulus sê:
“Ek verwerp nie die genade van God nie; want as daar geregtigheid deur die wet is, dan het Christus tevergeefs gesterwe. ... Want almal wat uit die werke van die wet is, is onder die vloek; want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie. En dat niemand deur die wet by God geregverdig word nie, is duidelik; want die regverdige sal uit die geloof lewe. ... Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet” (Gal. 2:21; 3:10-13).
Is jy dalk die slaaf van ’n wettiese godsdiens wat jou nie een tree nader aan die koninkryk van
die hemel kan bring nie? Kom dan vir bevryding na die kruis en staan vas in die
vryheid waarmee Christus Jesus ons vrygemaak het. Binne die raamwerk van die
liefde van God het ons die vryheid om onsself ten volle uit te leef, sonder dat
ons tot oneer van die Here of tot die nadeel van ons naaste sal optree.
Om so te kan leef, moet ons harte gereinig en deur die Heilige Gees vervul word
met die liefde van Christus (Rom. 5:5).
Die gevalle mensdom se geestelike slawerny gaan ook met morele slawerny gepaard. Die mens het ’n liggaam met vyf sintuie wat hom vir beïnvloeding deur die verdorwe wêreld oopstel, en dit skep vir hom ’n daadwerklike probleem omdat hy met ’n sondige natuur gebore is wat na die kwade neig: “Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang” (Ps. 51:7). Dit beteken dat die mens inherent verdorwe is en van nature, uit sy binneste, bose gedagtes bedink wat die potensiaal het om sy hele lewe te besoedel en te verwoes.
Die Here Jesus het gesê: “Want van binne, uit die hart van die mense, kom die slegte gedagtes, egbreuk, hoerery, moord, diewery, hebsug, boosheid, bedrog, losbandigheid, afguns, lastering, hoogmoed, dwaasheid. Al hierdie booshede kom van binne uit en maak die mens onrein” (Mark. 7:21-23). Dit is dus deel van sy gevalle natuur om sulke dinge te bedink en ook te doen. “Elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort” (Jak. 1:14-15).
Die duiwel moedig die proses van dekadensie en verval na selfvernietiging aan, daarom bring hy nog meer versoekings oor sulke mense se pad, waardeur hy vir hulle geleenthede skep om uiting te gee aan hulle sondige hartstogte en begeerlikhede. Indien jy nie hierdie sondige gedagtes verwerp en die Here vra om jou gemoed en hart te reinig nie, raak hulle in jou binneste gevestig. Dan sal jy hulle oor en oor bedink en hulle sal spoedig jou persoonlikheid, waardes en gedrag ingrypend verander. Sondes word mettertyd vestings vir boosheid in jou lewe en jy word ’n magtelose slaaf daarvan. Jou afhanklikheid raak erger, totdat jy later amper elke oomblik van die roepstem van die sonde bewus sal wees en jou glad nie teen die mag daarvan sal kan verset nie – in elk geval nie uit eie krag nie.
Afgodediens: Wanneer ’n bepaalde sonde in ’n groot mate beheer oor ’n persoon verkry het, word dit vir hom ’n vorm van afgodediens. Hy buig die knie voor daardie afgod en dien dit feitlik dag en nag. Paulus sê: “Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is, waardeur die toorn van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid kom, waarin julle ook vroeër gewandel het toe julle daarin geleef het” (Kol. 3:5-7). In ’n ware Christen se lewe behoort sulke sondes tot die verlede tyd.
Bose gesindhede en immorele dade is die karaktertrekke van die valse god van hierdie wêreld (Satan), daarom raak ons by afgodediens betrokke wanneer ons toelaat dat sonde in ons harte gevestig raak en die rigting van ons lewe bepaal: “Maar as julle bittere afguns en selfsug in julle hart het, moenie roem en lieg teen die waarheid nie. Dít is nie die wysheid wat van bo kom nie, maar is aards, natuurlik, duiwels; want waar afguns en selfsug is, daar is wanorde en allerhande gemene dade” (Jak. 3:14-16). Wanneer ons gered word, word ons van slawerny aan die sonde verlos, en dus van geestelike en morele afgodediens bevry.
Seksuele sondes: Die eerste drie sondes wat die Here Jesus in Markus 7:21-23 noem, is slegte gedagtes, egbreuk en hoerery. Baie mense se harte word totaal deur onrein gedagtes oorheers, en hulle stimuleer dit gewoonlik deur na pornografie te kyk en vuil gesprekke te voer. Internetpornografie speel ’n toenemende rol, asook pornografiese foto’s wat deur selfone aangestuur word. Dit lei na onbehoorlike seksuele verhoudings wat baie gou ’n lewenswyse word, en dus ’n vorm van immorele verslaafdheid aan sonde.
Ekonomiese sondes: Een van die morele sondes wat in baie mense se lewens na slawerny en afgodediens lei, is geldgierigheid. Hierdie afgod se naam is Mammon: “Niemand kan twee here dien nie; want óf hy sal die een haat en die ander liefhê, óf hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie” (Matt. 6:24). ’n Dolle gejaag na rykdom het verwoestende gevolge in ’n mens se geestelike lewe: “Maar die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mens laat wegsink in verderf en ondergang” (1 Tim. 6:9).
Een van Mammon se aktiwiteite waarmee hy baie mense vang, hulle gedagtes oorheers, en uiteindelik hulle lewens en finansiële bates heeltemal verwoes, is dobbelary. Baie mense is erg hierdeur verslaaf en sal alles op die spel plaas om vinnig te probeer ryk word. Ander sondes wat ook met geld in verband staan, is korrupsie, diefstal en omkopery. By baie diewe raak dit ’n obsessie om te steel en aan te hou steel; hierdie mense staan bekend as “kleptomane”. Daar is ’n toenemende aantal regerings wêreldwyd wat as “kleptokrasieë” beskryf word weens die grootskaalse verduistering van staatsgeld deur politici en amptenare. Sonde is gewoontevormend en verkry mettertyd ’n wurggreep op sy slagoffers.
Verslawing aan drank en ander verdowingsmiddels: ’n Baie algemene vorm van verslaafdheid aan sonde is die gebruik van verdowingsmiddels. Dit kan die voortdurende en herhalende gebruik van tabak, drank, dagga en ’n groot verskeidenheid ander dwelms insluit. Sulke mense word tereg as dwelmverslaafdes beskryf. Die verslawing word mettertyd erger, daarom word daar gaandeweg meer gedrink, gerook, en ook meer en sterker dwelmmiddels gebruik. Alles waardeur die mens oorwin is, daarvan het hy ’n slaaf geword (2 Pet. 2:19). Die verkeerde dinge waardeur mense oorwin word, word “die werke van die duisternis” genoem en moet deur Christene weerstaan word: “... [H]ou nie gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis nie, maar bestraf dit liewer” (Ef. 5:11).
Laster, vuil taal en woede-uitbarstings: Vir baie mense het dit tweede natuur geword om te vloek, God se Naam ydellik te gebruik en Hom sodoende te belaster. Wanneer iemand vloek en laster is dit die gees van die Antichris wat geopenbaar word. Johannes sê van die Antichris: “En hy het sy mond oopgemaak om te laster teen God, om sy Naam en sy tabernakel en die wat in die hemel woon, te laster” (Op. 13:6). Dit is ’n verslawende gewoonte wat saam met ander sondes bely en laat staan moet word: “Maar nou moet julle ook dit alles aflê, naamlik toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond” (Kol. 3:8). Vloektaal gaan dikwels gepaard met ’n onbeteuelde humeur, woede-uitbarstings, toorn en wraakgierigheid. Ons moet dus ook van die gesindhede verlos word wat na laster en vloektaal lei: “Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word, saam met alle boosheid” (Ef. 4:31).
Gewelddadigheid: Omdat die duiwel ’n geweldenaar en moordenaar is, maak hy ook van sy volgelinge geweldenaars en moordenaars. Die Here vra: “Waarvandaan kom oorloë en vegterye onder julle? Kom hulle nie hiervandaan, van julle welluste wat in julle lede stryd voer nie? Julle begeer en julle het nie, julle pleeg moord en is naywerig en julle kan niks verkry nie. Julle veg en maak oorlog, en julle het nie, omdat julle nie bid nie” (Jak. 4:1-2). Oorlogvoering word hier in ’n offensiewe sin bedoel, naamlik om te verower en te vat wat nie aan jou behoort nie. Die geskiedenis van die ongeredde mensdom is deurtrek van rusies, konflikte en oorloë waarin ontelbare mense onnodig gesterf het. Christene moet geen deel aan oorlogvoering hê nie, behalwe net om hulle eie belange, besittings en menselewens te beskerm en te verdedig (defensiewe oorlogvoering), want “geen moordenaar het die ewige lewe as iets blywends in hom nie” (1 Joh. 3:15).
Leuens: Alle gewoontesondaars is ook gewoonteleuenaars omdat hulle navolgers is van Satan wat die vader is van die leuens (Joh. 8:44). Alle valse godsdienste op aarde is op leuens gebaseer en daarop ingestel dat mense ’n valse god moet aanbid. Terwyl Satan die bron van alle leuens is, is God die bron van alle waarheid; sy Woord is die waarheid en sy Gees wil ons in die hele waarheid lei (Joh. 14:6; 16:13; 17:17). Leuens is deel van die ou, verdorwe lewe, en as ons daarheen terugkeer, gee ons aan die duiwel plek in ons lewe: “Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het en julle met die nuwe mens beklee het” Kol. 3:9-10).
Die bindende mag van negatiewe emosies: Die duiwel kan ook deur die donker gedagtes van negatiewe emosies beheer oor ’n persoon verkry, hom tot wanhoop dryf en uiteindelik sy geloof heeltemal vernietig. Een van hierdie emosies is vrees – vrees vir die dood, vir moeilike omstandighede, vir die onbekende toekoms, vrees vir mense en vir bose magte, en ook vrees vir die oordele van God wat kom. Twyfel en vrees is die teenoorgestelde van geloof, daarom is ’n vreesagtige mens nie ’n gelowige mens nie. Is jy ’n slaaf van vrees? Die Here Jesus het deur sy dood die duiwel oorwin wat mag het oor die dood, sodat Hy “almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was” (Heb. 2:14-15). Hy het ook hierdie vorm van slawerny kom verbreek, daarom sê Paulus: “[Ons] het nie ontvang ’n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar ... die Gees van aanneming tot kinders” (Rom. 8:15).
Daar is baie newe-effekte van vrees, naamlik kwellings, bekommernis en depressie. Die Here Jesus sê: “Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag [dit is die dag van die wegraping] julle nie skielik oorval nie” (Luk. 21:34). Sorge werk saam met ander sondes soos dronkenskap om ’n geestelike las op jou te lê wat jou heeltemal in ’n kuil van wanhoop sal aftrek as jy dit nie betyds oorkom nie. “... Daarom dan, ... laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê” (Heb. 12:1-2).
Jesus Christus is ons Bevryder, en Hy stel ons vry van alle vorms van sondige afhanklikheid waaraan ons onderworpe was: “As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees” (Joh. 8:36). Hy het as Verlosser na die aarde toe gekom om ons bande van slawerny te verbreek. Daarna moet ons seker maak dat ons nie weer ’n juk van slawerny op ons neem nie, want daar is ongelukkig Christene wat later weer van hulle vryheid afstand doen. Paulus sê aan sulke gelowiges: “Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid [aan die sonde] bring nie” (Gal. 5:1).
Die Galásiërs se vryheid in Christus was bedreig, en Paulus het hulle hierteen gewaarsku. Hulle was pas van slawerny aan sonde en ’n heidense geloof verlos, maar het as Christene nou die gevaar geloop om slawe van die Mosaïese wet te word. Die wet met sy voorskrifte van besnydenis en die onderhouding van sekere heilige dae was vir hulle so belangrik dat hulle hulself daaraan wou onderwerp (vgl. Gal. 4:9-11; 5:3). Dit sou egter hulle Christelike geloof, asook die vryheid wat dit aan ons bied, heeltemal vernietig: “Kyk, ek, Paulus, sê vir julle dat as julle jul laat besny, Christus vir julle tot geen nut sal wees nie. ... Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval” (Gal. 5:2, 4).
Die Here Jesus het gekom om ons volkome vry te maak van alle bande van sonde waardeur ons gebind word. As ons nog altyd die slagoffers van verslawende gewoontes is, dan is die fout beslis nie by die bloed van Christus waardeur ons van alle sonde gereinig kan word nie (1 Joh. 1:7), maar by ons onwilligheid om ’n besluit te neem om ons sonde te bely én te laat staan (Spr. 28:13). Ons moet die verlossing wat aan ons gebied word, volkome aanvaar, al moet ons ook deur ’n moeilike tyd van aanpassing weens die verbreking van een of ander gewoonte gaan. Miljoene mense het al hierdie verlossing deelagtig geword, en daarsonder moet ons nie probeer lewe nie.
Wanneer ons die Here Jesus volg en dien, moet ons seker maak dat Hy die eerste en grootste liefde in ons lewe is, want dit sal alle vorms van slawerny uitskakel. Hy het gesê: “Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie” (Matt. 10:37). Die persoon wat jy die meeste liefhet, beïnvloed ook jou eie waardes en lewenshouding, en jy volg graag daardie persoon se voorbeeld. Indien dit nie Jesus Christus is nie, het jy probleme, want net Hy stel ’n volmaakte voorbeeld, en kan ook jou sonde vergewe en jou karakter verander om gelykvormig te word aan sy heilige natuur. As jy Hom nie so ken en volg nie, dan ken jy Hom nog nie goed nie en sal gevolglik maklik ’n navolger (en selfs ’n slaaf) van ander mense word. Ons word egter hierteen gewaarsku: “Julle is duur gekoop; moenie slawe van mense word nie” (1 Kor. 7:23). Ons enigste voorbeeld is Jesus Christus, daarom moet Hy in ons lewe gestalte verkry (Gal. 4:19).
In Bybelse tye was daar mense wat nie dissipels van Jesus wou word nie, omdat sekere van hulle gesinslede daarteen gekant was. Ouers was meesal gekant teen enige besluit van hulle kinders om die sinagoge te verlaat en hulle rug te draai op die tradisies van hulle voorvaders. Diegene wat aan hierdie druk toegegee en daarom nie tot bekering gekom het nie, het hulleself oneindig benadeel. As gevolg van hulle verkeerde besluite het hulle voortgegaan om die slawe van ’n valse godsdiens te wees, en dus ook van die duiwel wat die vader van misleiding is. Die Here Jesus het aan onbekeerlike ortodokse leiers wat Hom verwerp het, gesê: “Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen” (Joh. 8:44).
Die goeie nuus is dat die Here Jesus gekom het om die bande van alle vorms van morele en godsdienstige slawerny te verbreek en ons vry te maak in Hom. Hy het na die aarde gekom “om vir die gevangenes ’n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis” (Jes. 61:1).
Sondaars moet net besef dat hulle gevangenes van Satan is solank hulle nog verslawende gewoontes beoefen wat deur die Bybel as sonde beskryf word. Ondersoek dus jouself of jy werklik in die geloof is, met ander woorde ’n persoon is wat van die verlossing van sy sondes kan getuig. Sondaars gaan nie hemel toe nie. Paulus sê vir die Korinthiërs: “Of weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie? Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete [gays] of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie. En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God” (1 Kor. 6:9-11).
Lede van die gemeente was wel voor hulle bekering deur sommige van hierdie sondes vasgevang, maar hulle is volkome daarvan verlos en deur die bloed van die Lam gereinig. Mense wat in hulle sonde volhard, sal nie die koninkryk van die hemel beërf nie, al is hulle ook lidmate van kerke: “Want dit moet julle weet dat geen hoereerder of onreine of gierigaard, wat ᾽n afgodedienaar is, ᾽n erfdeel het in die koninkryk van Christus en van God nie. ... Die toorn van God [kom] oor die kinders van die ongehoorsaamheid” (Ef. 5:5-6).
As daar nog ’n vesting van sonde in jou lewe is, neem die wapens van die Gees op en verklaar oorlog daarteen: “Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie; want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus” (2 Kor. 10:3-5). Alle sondes begin by ’n bose gedagte, maar dit eindig in ’n vesting van sonde wat beheer oor jou lewe verkry. Eers bedink jy ᾽n sonde oor en oor, dan regverdig jy dit vir jouself, daarna maak jy planne om dit uit te voer, en uiteindelik word jy ᾽n slaaf daarvan.
Identifiseer eers die vestings van sonde in jou lewe. Is jy dalk ’n slaaf van drank of dwelms, van humeur en gewelddadigheid, van geld, dobbelary, lasterlike taal, seksuele wandade, of dalk donker emosies soos ongeloof, twyfel en wanhoop, of dalk ’n geestelike dwaling van een of ander aard? Neem dan die wapens van die lig daarteen op en gun jouself geen rus voordat jy volle oorwinning gekry het nie. Die geestelike wapens wat ons moet gebruik, sluit die wapens in van geloof, die bloed van die Lam, gebed, die swaard van die Gees (die beloftes in die Here se Woord), en ook ons Christelike getuienis.
Wanneer jy volle vryspraak in die geloof aanvaar het, begin dan dadelik om daarvan te getuig en aan die Here al die eer vir sy genadewerk in jou lewe te gee. Dit sal jou geloof versterk en jou help om elke dag vas te staan in die vryheid waarmee Christus jou vrygekoop het. Andere moet kan sien dat jy as mens drasties verander het – dat die ou dinge verbygegaan en alles nuut geword het (2 Kor. 5:17).
Begin dadelik om geestelik uit te reik na die ongelowiges wat nog slawe van sonde is, en op wie die ewige oordele van God wag. Johannes sê: “Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars – hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel” (Op. 21:8). Deur ons getuienis kan baie van hulle van die slawerny van sonde verlos word, sodat hulle uit die koninkryk van die duisternis oorgebring kan word na die wonderbare lig van Christus se koninkryk (Kol. 1:13; 1 Pet. 2:9).