Skadubeeld en Werklikheid: Die Joodse Feeste en Hulle Vervulling in Christus

Johan Malan, Mosselbaai (Mei 2014)

Inleiding: ’n Groot aantal gelowiges jaag nie die seën van heiligmaking op die korrekte, Bybelse manier na nie. As ’n plaasvervanger hiervoor keer hulle terug na die wet met sy rigiede strukture, simboliese aktiwiteite en groot aantal seremonies en feeste. Baie van hulle raak so meegevoer deur hulle nuwe ervarings dat hulle ten volle oortuig is van hulle Tora-georiënteerde uitdrukkings van geloof en hulle ritualistiese metodes om tot God te nader. Die weerhouding van sekulêre aktiwiteite op die sewende dag van die week (die Joodse Sabbat) is ’n sentrale aspek van hierdie dogma. Sommige van hierdie mense meen selfs dat die gebruik van Hebreeuse woorde ’n hemelse karakter verleen aan hulle aktiwiteite en uitsprake – tot so ’n mate dat daar selfs na Hebreeuse weergawes van persoonsname gesoek word. Daar is beslis ’n groot leemte in die huidige aanbieding van die evangelie as dit die manier is waarop gelowiges reageer op die hoë roeping van heiligheid aan die Here.

 

Die groot aantal tipes en simboliese handelinge wat deel vorm van die Ou-Testamentiese wet, was van groot profetiese betekenis gedurende die tyd voor die kruisiging van Christus. Dit het die doel gedien om Israel voor te berei op die vervulling van hierdie rituele en offers toe die Lam van God sou sterf vir die sondes van die wêreld, gevolg deur sy opstanding en hemelvaart, die uitstorting van die Heilige Gees, die evangelisering van die wêreld, die wederkoms van Christus, die verheerliking van sy heiliges, die oordeel oor sy vyande, en die vestiging van sy koninkryk op aarde.

Die oomblik toe Christus sy lewe afgelê het as ’n soenoffer vir sondaars, is baie van die voorafgaande profetiese skadubeelde vervul deur die wonderlike werklikheid van die kruis. Die grondslag is gelê vir ’n nuwe verbond in die bloed van Christus, waardeur die ou verbond vervang is: “Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ’n nuwe verbond tot stand sal bring. ... As Hy sê ’n nuwe verbond, het Hy die eerste oud gemaak; en wat oud word en verouder, is naby die verdwyning” (Heb. 8:8, 13). Hierdie stelling het ook betrekking op die gebruike en seremonies van die ou verbond, wat almal uitgedien is nadat hulle hul voorbereidende rol vervul het.

Die Ou-Testamentiese bedeling van die wet is volledig vervang deur die Nuwe-Testamentiese bedeling van genade: “Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo” (Rom. 10:4); “... want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade” (Rom. 6:14). Die ou verbond het die weg gebaan vir ’n nuwe verbond, waardeur dit heeltemal vervang is.

Gedurende die finale fase van die dispensasie van die wet het die Here Jesus gesê: “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul” (Matt. 5:17). Die woord “vervul” (Gr. pleroo) beteken “om (’n taak of periode) af te sluit”, en kan ook vertaal word as “afhandel, beëindig, verval...” (Strong’s Konkordansie). Hierdie stelling help ons om beter te verstaan wat die verhouding is tussen die ou en nuwe bedeling, en behoort nooit gebruik te word as regverdiging om die dispensasie van die wet voort te sit deur wet en genade te vermeng in ’n poging om ’n simbiotiese verhouding tussen hulle te skep nie.

Paulus beskryf die voorbereidende rol van die wet in Israel soos volg: “Maar voordat die geloof gekom het, is ons onder die wet in bewaring gehou, ingesluit met die oog op die geloof wat geopenbaar sou word. Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof. Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder ’n tugmeester nie“ (Gal. 3:23-25). Die wet het Israel van sonde oortuig, maar dit kon nie die verdorwe harte van die volk verander nie – hulle kon ook nie van hulle sondes verlos word deur die herhalende diere-offers wat deur die wet voorgeskryf is nie:

“Want die wet, wat ’n skaduwee het van die toekomstige weldade, nie die beeld self van die dinge nie, kan nooit deur dieselfde offers wat jaar na jaar gedurig gebring word, die wat toetree, tot volmaaktheid lei nie. ... want die bloed van stiere en bokke kan onmoontlik die sonde wegneem. ... Ons is geheilig deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, net een maal” (Heb. 10:1, 4, 10).

Christus is die vervulling van die wet en die profete (die hele Ou Testament) en slegs deur geloof in Hom kan ons lewens lei wat vir God welgevallig is. In die nuwe verbond vestig God sy gebod van liefde in die harte van almal wat Christus as hulle Verlosser ontvang het. Op hierdie manier word hulle geestelik gewederbaar en verkry die natuur van Christus. Dit beteken dat hulle ’n verhouding met Christus moet handhaaf – nie met die wet nie.

Die liefde van God word deur die Heilige Gees in ons harte uitgestort (Rom. 5:5) en ons word geroep om vervul te word tot al die volheid van God (Ef. 3:9-10). As ons in die liefde van Christus gewortel en gegrond is, sal ons in staat wees om hoër hoogtes van geestelike groei en morele reinheid te bereik as dit wat onder die wet moontlik was: “Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet” (Rom. 13:9-10). Die liefde van God dring ons om aan die beginsels van sy geregtigheid gelykvormig te word.

Die eise van die wet word deur geloof in Christus vervang. Elke oortreding wat deur die wet genoem word is ook ’n daad wat in stryd is met Christus se geregtigheid, daarom word dit as ’n sonde beskryf. Dit is egter die Heilige Gees, en nie die wet nie, wat ons van sulke sondes oortuig omdat dit in stryd is met ons verhouding met die Verlosser. Die maatstaf van ons heiligheid is die sondelose lewe van Christus, en dit behoort ons groot doel te wees om in sy voetspore te volg en sy beeld in ons gestalte te laat aanneem.

Dit is belangrik om te besef dat “die letter [van die wet] maak dood, maar die Gees maak lewend” (2 Kor. 3:6). Die wet word van buite afgedwing en veroordeel almal wat enige van sy bepalings oortree. Hierteenoor wederbaar die Heilige Gees ons harte en vestig God se liefde daarin. Hy stel ons ook in staat om aan die eise van Goddelike liefde te voldoen. Indien ons egter nie daaraan gehoorsaam is nie, is die versoening van Christus aan die kruis altyd tot ons beskikking om ons te vergewe en te reinig. In hierdie situasie is ons waardig om deel van God se koninkryk te wees – veel meer as diegene wat net wettiese navolgers van die ou verbond is.

Christus het aan sy dissipels gesê: “As julle geregtigheid nie oorvloediger is as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, julle nooit die koninkryk van die hemele sal ingaan nie” (Matt. 5:20). Die wet kan jou nie red nie – dit kan net ’n skuldgevoel in jou vestig, asook die behoefte aan ’n Verlosser om jou te vergewe en te reinig. Die toegerekende geregtigheid van Christus is die enigste manier waarop vergifnis van sonde en ’n veranderde hart verkry kan word. Dieselfde boodskap is gerig aan Fariseërs wat hulleself net in terme van die wet beoordeel het: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (Joh. 3:3). Indien die beginsels van God se agape-liefde ons harte en gedagtes beheer, is ons waarlik kinders van God wat wandel in die vryheid waarmee Christus ons vrygekoop het, en wat Hom gewillig dien deur die krag van die Heilige Gees – nie deur menslike pogings tot wetsgehoorsaamheid nie.

Die seëninge van die nuwe verbond vloei nie uit die wet voort nie, maar uit Christus se voltooide werk aan die kruis. Hierdie seëninge word in die geloof aangeneem en nie deur die werke van die wet verdien nie. Die nuwe lewe waarin ons nou wandel is gebaseer op die genoegsaamheid van Christus se versoening, die liefde van God wat ons harte beheer, en die krag van die inwonende Heilige Gees. Hierdie Goddelike attribute verteenwoordig saam die nuwe mens wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid (Ef. 4:24).

Enige poging om iets toe te voeg tot die algenoegsaamheid van Christus se verlossingswerk en die instaatstellende krag van die Heilige Gees, deur dit bv. met die werke van die wet te vermeng, is onder die invloed van verkeerde opvattings en ernstige misleiding. Die Galásiërs was slagoffers van hierdie soort misleiding. Paulus het die vermenging van wet en genade op die sterkste moontlike manier veroordeel deur te sê dat diegene wat ’n valse evangelie van hierdie aard verkondig, ’n vervloeking genoem moet word (Gal. 1:6-9).

Paulus het selfs ook vir Petrus gekritiseer omdat hy gelowiges uit die heidendom aan sekere van die Jode se seremoniële wette onderwerp het: “... waarom dwing jy die heidene om soos Jode te lewe? Ons wat van nature Jode is ... weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie. ... Ek verwerp nie die genade van God nie; want as daar geregtigheid deur die wet is, dan het Christus tevergeefs gesterwe” (Gal. 2:14-16, 21).

Ten spyte van Paulus se duidelike prediking oor die genade van Christus op grond van sy soendood, het die Galásiërs nogtans vortgegaan om te luister na die leerstellings van Judaïseerders (sogenaamde Messiaanse Judaïste) wat die wet en genade met mekaar vermeng het. Paulus het hierdie ernstige misleiding beskryf as ’n vorm van betowering – iets wat net van die gees van dwaling af kan kom: “o, Onverstandige Galásiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie, julle voor wie se oë Jesus Christus afgeskilder is as onder julle gekruisig? Dit alleen wil ek van julle weet: het julle die Gees ontvang uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof [in Christus]?” (Gal. 3:1-2).

Paulus se raad aan diegene wat verlos is van die juk van die wet is duidelik: “Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie. ... Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval” (Gal. 5:1, 4). Walvoord & Zuck (Bible Knowledge Commentary) sê die volgende oor verlossing uit gebondenheid: “Paulus het verkondig dat Jesus die Groot Verlosser is wat mense bevry van slawerny. Die apostel het ’n beroep op die Galásiërs gedoen om vas te staan in hierdie vryheid, want nadat hulle van slawerny aan die heidendom verlos is, het hulle gevaar geloop om betrokke te raak by slawerny aan die Mosaïese Wet.”

Die werke van die wet wat deur Paulus onder die nuwe verbond as uitgedien beskou word, was nie net beperk tot die besnydenis nie, maar tot die wet in sy geheel: “Kyk, ek, Paulus, sê vir julle dat as julle jul laat besny, Christus vir julle tot geen nut sal wees nie. En ek betuig dit weer aan elke mens wat hom laat besny, dat hy onder verpligting is om die hele wet te onderhou” (Gal. 5:2-3). Die Mosaïese Wet het ook die groot aantal feeste ingesluit wat almal slegs ’n skaduwee was van toekomstige dinge (Gal. 4:9-11). Christus is die vervulde werklikheid van die feeste (Kol. 2:16-17), en hierdie feit vereis dat onvermengde Christelike uitdrukking aan vervulde profesieë en tipologiese handelinge gegee moet word.

Volle identifikasie met Christus

Die vraag moet beantwoord word of die groot aantal seremonies en feeste wat deur die wet voorgeskryf word, slegs ’n voorbereidende rol vervul het en almal tydens Christus se koms verval het? Die feeste en ander instellings het inderdaad in hulle oorspronklike, skaduagtige vorm verval, maar hulle het ’n uiters belangrike doel gedien deur mense se aandag te vestig op die vervulde geestelike werklikhede en instellings wat ten grondslag van die nuwe verbond lê. Die feeste is deel van die profetiese beloftes van dit wat ons in die Nuwe Testament glo en doen – in ’n sekere sin soos ’n koringkorrel wat ontkiem en in ’n lewegewende plant ontwikkel het.

Neem die volgende Nuwe-Testamentiese werklikhede van ons geloof in ag wat deur die eerste koms van ons Here Jesus Christus teweeggebring is:

·      Jesus of Jeshua (afgelei van “Jahweh Red”) is die beliggaming van God se verlossing – die Lam van God wat in die volheid van die tyd gekom het om gekruisig te word vir die sondes van die wêreld. Geloof in Hom is die sleutel om in sy verlossing te kan deel.

·      Hy is ons Heiligmaking. Die sondelose lewe van Jesus is die hoogste uitdrukking van God se heiligheid, en deur die Heilige Gees kan ons almal vernuwe word in die gees van ons gemoed en ons “met die nuwe mens beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid” (Ef. 4:23-24).

·      Hy is ook die hemelse Regter wat oë het soos ’n vuurvlam (Op. 1:14; Hand. 17:30-31), en voor Hom sal elke knie buig en elke tong bely dat Jesus Christus die Here is (Fil. 2:9-11). Hy sal alle mense veroordeel wat die verlossing verwerp het wat Hy steeds vryelik aan alle mense op aarde bied.

In die Nuwe Testament het ons ’n verhouding met Christus wat nie in stand gehou word deur die slaafse navolging van ’n groot aantal reëls, wette, offers en seremoniële feeste op bepaalde dae nie. Ons verhouding met die Verlosser word op ’n daaglikse basis onder die leiding van die Heilige Gees gehandhaaf, en Hy oortuig ons van alle sondes wat ’n versteuring van hierdie verhouding veroorsaak. Jesus Christus is die einddoel van ons geloof, en volle vereenselwiging met Hom is die hoogste ideaal waarna ons kan streef. Wat behels die band tussen ons en Christus alles?

·      Ons identifiseer met die gekruisigde Jesus wat vir die sondes van die mensdom gesterf het. Dit is waarom ons die versoening op Gólgota bely en ook daagliks self ’n kruis opneem waaraan ons vir die wêreld en die sonde sterf (Luk. 9:23; Gal. 6:14). Ons identifikasie met die kruis verbind ons tot ’n lewe van absolute heiligmaking en oorwinning oor sonde, en die gekruisigde Christus is ook die kern van ons boodskap aan die wêreld (1 Kor. 2:2).

·      Ons identifiseer bewustelik en op ’n daaglikse basis met Jesus wat saam met die Vader en die Heilige Gees woning maak in ons harte (Joh. 14:23). Die Heilige Gees lei ons in die hele waarheid sodat ons in die voetspore van Jesus kan volg (Joh. 16:13). Sy wet van die liefde is die geestelike en morele riglyn van ons lewe (Joh. 13:34-35). Deur gereelde gebed en Bybelstudie hou ons hierdie verbindingskanaal aktief in stand en versterk ons geloof.

·      Ons identifiseer met die Seun van God wat sedert sy eerste koms steeds deur die meerderheid mense in die wêreld verwerp word, en dit bring vervolging deur die wêreld vir ons mee (Joh. 15:18-20). Omdat die duiwel die dryfkrag agter die verdorwe wêreld en sy antichristelike leefwyse is, is Nuwe-Testamentiese gelowiges intensief by geestelike oorlogvoering betrokke (Ef. 6:10-12; 2 Kor. 10:3-5).

·      Ons identifiseer met Jesus as die Verlosser van die wêreld, wat gekom het om te soek en te red wat verlore is (Luk. 19:10). Hy verwag van sy dissipels om hierdie taak uit te voer deur sy getuies in die evangelisering van die wêreld te wees (Joh. 20:21), en hiervoor het Hy die krag van die Heilige Gees tot ons beskikking gestel (Luk. 24:45-49; Hand. 1:8).

·      Ons identifiseer met Jesus wat die Regter van die gelowiges én ongelowiges sal wees (2 Kor. 5:10; Hand. 17:30-31). Hy sal sy dissipels se werke op die proef stel sodat bepaal kan word tot watter mate hulle in Christus se oorwinning geleef en uitvoering aan sy opdragte gegee het (1 Kor. 3:11-15; Luk. 19:15-26).

Dit is duidelik dat ons verbondenheid met Christus geestelike kwaliteite tot ons lewe toevoeg wat ver bokant die eise en doelstellings van die wet is. Die wet het Israel net as ’n eerste stap in bewaring gehou totdat die Messias gekom het, dan sou die wêreldwye verkondiging van sy reddende genade ’n aanvang neem. Die stryd teen die wêreld en die koninkryk van Satan sou ’n nuwe vlak van intensiteit bereik, maar die instaatstellende krag van die Heilige Gees sou tot die beskikking van alle dissipels van Jesus wees om hulle taak te midde van teëstand uit te voer. Israel het hulleself egter nie deur geloof in God se beloftes waardig gemaak om die Messias te ontvang en sy getuies te wees nie. Hierdie opdrag is daarna slegs aan die klein groepie dissipels van Jesus gegee, en sedertdien was dit die taak van gelowiges onder alle nasies.

Doel van die feeste

Die verhewe Christelike vervulling van die sewe jaarlikse feeste wat in Levitikus 23 bespreek word, moet in ag geneem word, asook die vervulling van die weeklikse Sabbat. In die lig daarvan sal die verband tussen wet en genade baie duidelik wees:

Pasga. Hierdie fees is ingestel tydens Israel se uittog uit Egipte toe die paaslam geslag en die bloed daarvan aan die deurposte van Israeliete se huis gesprinkel is (Ex. 12:5-7). Die Messiaanse aard van hierdie fees is baie duidelik, omdat Israel se bevryding uit die Egiptiese slawerny ’n baie duidelike tipe is van hulle geestelike verlossing uit die slawerny aan sonde. Die paaslam was sonder enige twyfel ’n profetiese heenwysing na die komende Messias. Jesaja sê: “Die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom. ... Die Here het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom. ... [Hy was] soos ’n lam wat na die slagplek gelei word” (Jes. 53:5-7). In die Nuwe Testament word Christus genoem “die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem” (Joh. 1:29). Petrus sê: “... ons is losgekoop ... deur die kosbare bloed van Christus, soos van ’n lam sonder gebrek en vlekkeloos” (1 Pet. 1:18-19).

Jesus is gedurende die Paasfees van 32 n.C. gekruisig, en daardeur is hierdie fees vervul en in sy oorspronklike vorm afgesluit. Die aand voor sy kruisiging het die Here Jesus die Nagmaal ingestel as die Nuwe-Testamentiese voortsetting van Paasfees. Paulus sê: “Want ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het, dat die Here Jesus in die nag waarin Hy verraai is, brood geneem het; en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis. Net so ook die beker ná die ete, met die woorde: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis. Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom” (1 Kor. 11:23-26).

Dit is duidelik dat die Nagmaal nie ’n instelling onder die wet is nie, en dat dit ook nie aan ’n bepaalde dag of seisoen van die jaar gekoppel word nie. Dit kan gevier word so dikwels as wat ons wil, deur die gebruik van ongegiste wyn (nuwe wyn of druiwesap – Heb. tirosh) en ongesuurde brood as simbole van die onbesoedelde bloed en sondelose liggaam van Christus.

Ná die kruisiging van die Messias het daar hoegenaamd geen rede oorgebly vir die voortgesette viering van die Ou Testamentiese Pasga nie, waarvan die historiese fokus Israel se verlossing uit Egipte was, en die profetiese fokus die eenmalige offer van die Lam van God. Ortodokse Jode hou egter aan om hierdie fees te vier, en daardeur verwerp hulle formeel die vervulling daarvan tydens Christus se eerste koms. Gedurende die seder-maaltyd van die Pasga los die Jode selfs ’n stoel vir Elia oop om op te daag en die koms van die Messias aan te kondig.

Hoewel ’n profeet soos Elia inderdaad sal kom om Israel op die Messias se wederkoms voor te berei (Mal. 4:5-6), het Johannes die Doper ’n soortgelyke rol vervul tydens Jesus se eerste koms (Matt. 11:13-14). Die Jode het egter ook sy bediening verwerp en as gevolg daarvan heeltemal in gebreke gebly om die vervulling van die Pasga raak te sien. Daar is ’n groot gevaar aan hierdie situasie verbonde, omdat die “ander Messias” op wie se koms ortodokse Jode nou wag, noodwendig die valse Messias sal wees. Jesus het hulle teen die ernstige gevare gewaarsku wat sou intree indien hulle Hom verwerp: “Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle neem My nie aan nie. As ’n ander een in sy eie naam kom, hóm sal julle aanneem” (Joh. 5:43).

Diegene wat die ware Christus ken en dien, vier die Nagmaal en daardeur verkondig hulle sy dood totdat Hy weer kom. Hulle hou nie aan om profetiese skaduwees in herinnering te roep wat byna tweeduisend jaar gelede al vervul is nie. Deur die vervulling van die Pasga te ontken, maak hulle die deur oop vir ’n “ander Messias” wat nie van die Here af kom nie (vgl. 2 Kor. 11:4).

Die Fees van die Ongesuurde Brode. Hierdie fees is nou geassosieer met die Paasfees en vir ’n hele week lank ná Pasga gevier. Alle suurdeeg (meesal brokstukke en krummels van gesuurde brood) moes gedurende die fees uit Joodse huise verwyder word. Suurdeeg stel sonde voor en moes dus uit gelowiges se huise verwyder word. Die simboliek van hierdie fees vestig die aandag op die noodsaaklikheid van selfondersoek deur lede van God se volk.

Christene vier nie ’n spesifieke Nuwe-Testamentiese weergawe van hierdie fees nie, omdat dit by hulle ’n daaglikse toewyding moet wees om hulleself beproef voor God te stel. Paulus sê: “Laat ons onsself van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring” (2 Kor. 7:1). Dit impliseer baie duidelik dat ons van die suurdeeg van sonde gereinig moet word: “Weet julle nie dat ’n bietjie suurdeeg die hele deeg suur maak nie? Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle ’n nuwe deeg kan wees – soos julle inderdaad ongesuurd is – want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus. Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van ondeug en boosheid nie, maar met die ongesuurde brode van reinheid en waarheid“ (1 Kor. 5:6-8).

Die gekruisigde Christus is ons vervulde Pasga, terwyl die daaropvolgende proses van heiligmaking lewenslank moet voortgaan. Daar is baie afdraaipaaie van die smal pad af in die vorm van geestelike misleiding, asook versoekings op morele gebied, en ons moet gedurig daaraan herinner word dat ’n bietjie suurdeeg die hele deeg suur maak. Op dieselfde manier as wat ’n klein siekte uiteindelik die hele liggaam kan doodmaak, sal moedswillig sonde wat dalk aanvanklik nie deur ons as ernstig beskou word nie, uiteindelik ons hele lewe beïnvloed en daartoe lei dat ons struikel of val.

Ons moet vasberade afwyk van die kwaad: “Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie” (Gal. 5:16). Dit vereis die handhawing van streng standaarde: “Laat ons elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof” (Heb. 12:1-2). Hy sal ons voortdurend reinig van die suurdeeg van sonde in ons lewe: “As ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons [voortdurend] van alle sonde” (1 Joh. 1:7). Wandel jy in die lig of doen jy dalk dinge waardeur jy die Heilige Gees bedroef en jouself besoedel?

Fees van die Eerstelinge. Gedurende die lentemaand, gewoonlik baie naby aan die Pasga, het die Jode die Fees van die Eerstelinge gevier, spesifiek op die eerste dag van die week (’n Sondag): “Spreek met die kinders van Israel en sê aan hulle: As julle in die land kom wat Ek julle gee en sy opbrings oes, moet julle die eerstelingsgerf van julle oes na die priester bring. En hy moet die gerf voor die aangesig van die Here beweeg, sodat julle welgevallig kan wees; die dag ná die Sabbat moet die priester dit beweeg” (Lev. 23:10-11). In ’n geestelike sin was hierdie viering daarop gerig om die hele volk vir God aanvaarbaar te maak.

In die jaar 32 is hierdie seremonie uitgevoer op die Sondagmôre toe Jesus uit die graf opgestaan het (Mark. 16:9). Die koringkorrel wat in die grond geval en gesterf het (die dood en begrafnis van Jesus) het op hierdie Sondagoggend sy eerste vrug opgelewer. Dit het in ’n geestelike sin ook die begin van ’n oesseisoen vir siele ingelui, omdat die hele oes wat daarna ingesamel sou word, vir God aanvaarbaar sou wees deur die dood en opstanding van Jesus.

Verder het die opstanding van Jesus die oorgang van die ou verbond na die nuwe aangedui. Dit is waarom dit op ’n Sondag gebeur het wat die eerste dag van die week is, en simbolies ook die begin van ’n nuwe bedeling. Om hierdie rede het die viering van die Sabbat nie net ’n ander vorm aangeneem sonder wetlike voorskrifte en strafmaatreëls vir oortreders nie, maar ook van die sewende dag af verskuif na die eerste dag van die week in die nuwe bedeling van genade. Weens die voltooide werk van die Messias kan ons elke Sondag opstandingsdag vier. Ons het deur Hom toegetree tot ’n nuwe verbond met God, daarom is ons ook aktief deel van die opstandingslewe van die Here Jesus: “En as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes. … Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het” (1 Kor. 15:17, 20).

Die vervulling van hierdie fees was die beweegrede waarom die dissipels spontaan die dag van die Here op Sondae gevier het (Hand. 20:7; 1 Kor. 16:2), en hierdie gebruik het sedert die begin van die Christelike kerk gevestig geraak. Die vroeë kerkvaders bevestig almal die feit van Sondagaanbidding as ’n algemene instelling. Ignatius, die biskop van Antiochië, het in 110 n.C. geskryf: “Diegene onder ons wat die nuwe hoop verkry het, onderhou nie meer die Sabbat nie maar die dag van die Here waarop ons in Hom opgestaan het, sodat ons as dissipels van Jesus Christus geken kan word.” Justinius die Martelaar (100 – 165 n.C.), ’n dissipel van Johannes, het geskryf: “Op Sondae het almal in die stede en op die platteland op een plek saamgekom waar die verslae van die apostels en die geskrifte van die profete gelees is. … Sondag is die dag van ons algemene byeenkomste, omdat dit die eerste dag is waarop God uit die duisternis lig geskep en die aarde gemaak het. Jesus Christus, ons Verlosser, het op dieselfde dag uit die dode opgestaan.” Irenaeus het in omtrent 178 n.C. gesê dat die opstanding van die Here Jesus net op die dag van die Here gevier kan word, wat die eerste dag van die week is.

Die groot betekenis van die vervulde Fees van die Eerstelinge vereis dat ons hierdie fees elke Sondag as die Verlosser se opstandingsdag sal vier. Dit is betreurenswaardig dat daar steeds mense is wat voorkeur gee aan die profetiese skaduwees van die ou verbond, deur ’n Sabbat te vier wat deur die wet van Moses voorgeskryf is. Geen wonder nie dat die geestelike onderskeidingsvermoë van sulke mense só beperk is dat baie van hulle nie eers besef dat Jesus die Messias is wat op die eerste dag van die week uit die dood opgestaan het, en daardeur ’n nuwe dispensasie in God se verlossingsplan vir die mensdom ingelui het nie.

Die Pinksterfees. “Dan moet julle tel van die dag ná die Sabbat, van die dag af as julle die beweegoffergerf bring – sewe volle weke moet dit wees; tot die dag ná die sewende Sabbat moet julle vyftig dae tel; dan moet julle ’n nuwe spysoffer aan die Here bring” (Lev. 23:15-16). Dit is betekenisvol dat hierdie fees ook op ’n Sondag gevier word – die dag ná die sewende Sabbat. Daar is vyftig dae in hierdie sewe weke. Volgens die reël van inklusiewe berekening is daar agt Sondae in dié periode omdat beide die eerste en die laaste Sondae getel word. Die fees van die vyftigste dag word die Pinksterfees genoem, afgelei van die Griekse woord “pentecoste” wat “vyftigste” beteken.

Op hierdie dag herdenk ortodokse Jode die formele begin van die bedeling van die wet. Hulle glo dat die bevryde Israeliete op die 50ste dag ná die viering van die Pasga en hulle uittog uit Egipte by die berg Sinai aangekom het waar Moses die tien gebooie ontvang het (Ex. 19:1-3). Dit was vir só ’n ortodokse Pinksterfees dat Jode uit verskillende lande in Jerusalem bymekaar was op daardie besondere Sondagoggend toe die Heilige Gees uitgestort is, soos in Handelinge 2 beskryf. Hulle het nie besef dat die Paasfees, die Fees van Ongesuurde Brood en die Fees van Eerstelinge reeds vervul is deur die versoeningswerk en opstanding van Jesus nie. Hulle was gevolglik ook onbewus van die feit dat die bedeling van die wet tot ’n einde gekom het. Die nuwe dispensasie van genade wat deur die Heilige Gees bedien word, het die dispensasie van die wet vervang, “want die letter maak dood, maar die Gees maak lewend” (2 Kor. 3:6; vgl. Heb. 8:7-13 en Jer. 31:31). By Sinai het 3 000 mense gesterf omdat hulle onder die wet gestraf is weens afgodediens (Ex. 32:28). Op Pinksterdag, soos in die Nuwe Testament beskryf, is 3 000 mense gered toe die nuwe bedeling deur die uitstorting van die Heilige Gees (Hand. 2:41) ingelui is.

Die begin van die kerkbedeling op Pinksterdag dui aan dat die voorafgaande bedeling van die wet vervang is. Dit was nog ’n voorbeeld van God se volmaakte tydsberekening, omdat 40 dae verloop het tussen die opstanding en hemelvaart van Jesus, en ’n verdere tien dae terwyl die dissipels gebid en op die belofte van die Heilige Gees gewag het. Dit is ’n totaal van 50 dae, presies dieselfde tyd as wat daar verloop het tussen die twee beweegoffers van Eerstelinge en Pinkster. Christene erken steeds hierdie chronologie, omdat ons Jesus se opstandingsdag op die Sondag ná Goeie Vrydag vier, sy hemelvaart 40 dae later op ’n Donderdag, en Pinkster tien dae later, weer op ’n Sondag.

Dit is ook interessant dat Pinkster nie in isolasie gevier word nie. Die aftelling van 50 dae dien as ’n verbindingslyn tussen Pinkster en die eerste drie feeste. Om hierdie rede moet die uitstorting van die Heilige Gees altyd in sy noue verband gesien word met die hele reeks gebeure wat gelei het tot die dood, opstanding en hemelvaart van die Here Jesus. Vir Christene is Pinkster nie ’n geïsoleerde fees wat net een keer per jaar gevier word nie, maar ’n lewe van heiligmaking en daaglikse afhanklikheid van die Heilige Gees om ons te vervul, te lei en te inspireer. Slegs Hy kan ons toerus en motiveer om die Here aanhoudend te dien.

Die oesfeeste. Gedurende die herfs van elke jaar vier die Jode drie oesfeeste – die Fees van Basuine (Rosh Hashanah), die Groot Versoendag en die Loofhuttefees. Hierdie feeste verwys profeties na die wederkoms van die Messias omdat hulle almal tydens sy eindtydse openbaring vervul sal word:

Die Fees van Basuine sal vervul word wanneer ’n oes vir God se koninkryk in die hemel versamel sal word: “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde” (1 Thess. 4:16-17). Christene sonder nie net een dag per jaar uit om hulle aandag te vestig op die insameling van die oes van siele tydens die wederkoms nie, maar kyk altyd op en verwag die Here: “Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus, wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam” (Fil. 3:20-21).

Die Groot Versoendag sal vervul word wanneer die hele oorblyfsel in Israel gered sal word tydens die wederkoms van Christus (Sag. 12:10; Rom. 11:25-27). Op die dag van Christus se terugkeer ná die sewe jaar van verdrukking sal Hy sy voete op die Olyfberg sit, en ons sal saam met Hom wees (Sag. 14:4-5). “Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word” (Kol. 3:4).

Die Loofhuttefees sal vervul word nadat Christus teruggekeer het, sy vyande geoordeel, ’n oorblyfsel van Israel en die nasies gered, en die troon van Dawid in Jerusalem herstel het (Op. 19:19-21; Matt. 24:29-30; Hand. 15:16-17). Beloftes oor die wederkoms van die Here Jesus is baie belangrik vir Christene omdat ons toekomsverwagting daarop gebaseer is. Ons moet die feit erken dat die profetiese beloftes wat in hierdie drie feeste vervat is, net so letterlik in die Messias vervul sal word as wat die beloftes oor die eerste vier feeste vervul is tydens sy eerste koms en die uitstorting van die Heilige Gees.

Dit is baie belangrik om aandag te gee aan die eskatologiese perspektief wat deur die laaste drie feeste aan ons verleen word, want dit sal verseker dat ons hoë geestelike standaarde handhaaf te midde van groot misleiding, verdrukking en ’n wêreldwye versaking van Bybelse beginsels in die eindtyd. Belydende Christene wat nie in die nabyheid van Christus se koms glo nie, mag dalk vreesagtig raak en selfs onder die teruggevallenes eindig. Jesus het sy dissipels teen hierdie moontlikheid gewaarsku: “En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel” (Matt. 24:12). Sulke gelowiges sal onder die dwase maagde wees wat hulle verwagting op die Bruidegom se spoedige koms verloor het, nagelaat het om te verseker dat hulle genoeg olie in hulle lampe het (vervulling met die Heilige Gees), en gevolglik aan die slaap geraak het toe hulle moes gewaak en gebid het.

Jesus Christus is ons hele lewe. Indien ons getrou aan Hom bly deur versoekings, misleiding en die heersende gees van wêreldgesindheid te oorwin, sal ons deel hê in die heerlikheid van sy koninkryk: “As ons met Hom gesterf het [vir die wêreld en vir sonde], sal ons ook met Hom lewe. As ons [verdrukking] verdra, sal ons met Hom regeer” (2 Tim. 2:11-12). Oorwin jy al die struikelblokke wat die teëstander op jou weg lê in ’n poging om jou te ontmoedig en geestelik te laat ontspoor? Christus sê: “Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom. En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee” (Op. 2:25-26). Volhard tot die einde toe, verwag die hemelse Bruidegom elke dag, en berei voor om heilig en sonder gebrek voor Hom te verskyn: “Elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is” (1 Joh. 3:3).

Geen godsdienstige tradisies of leerstellings van mense kan opweeg teen ’n lewe na die beeld van Christus nie, en dit kan alleen verkry word deur geloof in Hom, ’n weergebore hart wat met sy Gees vervul is, asook gelykvormigheid aan sy dood én opstanding. Paulus was ten volle bereid om sy posisie in die godsdienstige strukture van Israel te verloor ter wille van Christus. Hy sê: “Maar wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag. Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry en in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof; sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word” (Fil. 3:7-10).

Paulus het met Christus gesterf vir die wêreld, maar terselfdertyd deur gelykvormigheid aan sy opstanding ’n nuwe lewe verkry waarmee geen godsdiensstelsel of wettiese lewenswyse vergelyk kan word nie.