(Hierdie is die laaste aflewering in die reeks van drie artikels oor die saligsprekinge in die Bybel).

5. Verdere Saligsprekinge deur Christus

Johan Malan, Mosselbaai (Augustus 2013)

Die belangrikheid van die agt saligsprekinge in die Bergpredikasie word bevestig deur die feit dat God se redding, asook ander manifestasies van sy genade, die bron van alle seëninge in die Bybel is. Tydens sy aardse bediening het die Here Jesus dikwels na Goddelike seëninge verwys, en ook spesifieke voorbeelde genoem van mense wat deur God geseën is.

Die seën van Goddelike openbarings

God het Homself deur sy Woord aan die mensdom geopenbaar. Almal wat dit hoor, aanneem en daarvolgens wandel, word salig genoem. In die Ou Testament is God se Woord deur Moses, die profete en Godvresende konings in Israel verkondig. In die Nuwe Testament het God Homself in al sy volheid deur sy Seun geopenbaar. Een van sy name is Die Woord van God (Op. 19:13). Johannes sê: “En die Woord het vlees geword en onder ons gewoon – en ons het sy heerlikheid aanskou, ’n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom – vol van genade en waarheid” (Joh. 1:14). Jesus het ook sy dissipels salig genoem omdat hulle Hom gesien en gehoor het, want dit was nie vir die profete beskore nie (Luk. 10:23-24).

Maria is salig genoem omdat sy geglo het wat die Here oor die geboorte van Jesus aan haar gesê het (Luk. 1:45, 48). Wat ’n voorreg was dit nie om so deur die Here gebruik te kon word nie! Petrus is salig genoem omdat hy ’n openbaring van die Vader ontvang het dat Jesus die Christus is, die Seun van die lewende God (Matt. 16:16-17).

Ná Christus se hemelvaart is nuwe openbarings van God deur die apostels verkondig, totdat die volle openbaring van sy wil aan die mens met die skryf van die boek Openbaring voltooi is. Daarna word die Bybel as die Woord van God onder die leiding van die Heilige Gees deur alle Christene verkondig: “Verkondig die Woord; hou aan tydig en ontydig” (2 Tim. 4:2). Die seën van die Here rus steeds op almal wat dit hoor en aanneem: “Salig is hulle wat die Woord van God hoor en dit bewaar” (Luk. 11:28).

Die woorde van die Here is geestelike voedsel waardeur mense opgebou word in die allerheiligste geloof: “Salig is hy wat brood eet in die koninkryk van God” (Luk. 14:15). Alle Christene is geroepe getuies van Christus, wat die opdrag het om die brood van die lewe aan mense te bedien. Baie mense sal dit tot hulle nadeel van die hand wys, maar vir baie ander sal dit ’n hemelse feesmaal wees (Luk. 14:16-24).

Die saligheid is uit die Jode

Israel het ’n uiters belangrike rol gespeel as die volk van God waaruit die Messias en Verlosser van die wêreld gebore is. Jesus het vir die vrou by die put in Samaria gesê: “... die saligheid is uit die Jode” (Joh. 4:22). Hiermee het Hy nie bedoel dat die Jode self voorbeelde van godsdienstigheid was nie, maar dat Hy self as ’n Jood uit die geslag van Dawid gebore is. Johannes die Doper het van Hom gesê: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Joh. 1:29). Paulus het gesê dat Israel die volk is waarin God in die Persoon van Jesus Christus vlees geword het (Rom. 9:5).

Die verlossing is in die Messias self, daarom het Hy ook vir die vrou by die put gesê: “Elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ’n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe” (Joh. 4:14). Tydens die viering van die Loofhuttefees in Jerusalem het Hy gesê: “As iemand dors het, laat hom na my toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê, strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. En dit het Hy gesê van die Heilige Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo” (Joh. 7:37-39).

Die feit dat Israel vir Jesus as Messias verwerp het, het regstreeks daartoe gelei dat Jesus sy dissipels met die boodskap van verlossing na elke volk en taal en stam en nasie gestuur het (Matt. 28:19; Mark. 16:15). Israel se blindheid het dus tot ’n groot geestelike voordeel vir die nie-Joodse wêreld gelei. Paulus sê oor Israel: “Ek vra dan: Het hulle miskien gestruikel om te val? Nee, stellig nie! Maar deur hulle val het die saligheid tot die heidene gekom om hulle jaloers te maak” (Rom. 11:11). Omdat ons die seën verkry het wat in die eerste plek vir Israel bestem was, is ons daartoe verplig om hulle te probeer terugwen vir die koninkryk van God. Ons moet hulle jaloers maak op die manier waarop ons die Messias deur die God van Abraham, Isak en Jakob dien. Israel sal nog as ’n volk geestelik ontwaak en almal rondom die Messias verenig word (Rom. 11:25-26; Sag. 12:10). Dan eers sal hulle salig wees.

Ons verpligting om die Woord te gehoorsaam

Daar rus ’n spesiale saligspreking op diegene wat nie net hoorders van die Woord is nie, maar ook daders wat hulle lewens daarvolgens inrig en dit verkondig. Jesus het sy dissipels uit die duisternis van geestelike onkunde en morele verdorwenheid gelei tot in die volle lig van die kennis van God en sy geregtigheid. Daarna het Hy hulle verder onderrig in die Woord van God om van hulle lewende getuies van sy geregtigheid te maak. Hy verklaar sy dissipels salig indien hulle dieselfde doen: “Want Ek het julle ’n voorbeeld gegee om, net soos Ek aan julle gedoen het, ook so te doen. ... As julle hierdie dinge weet, salig is julle as julle dit doen” (Joh. 13:15, 17).

Jakobus sê: “Word daders van die Woord en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie” (Jak. 1:22). Indien die mense van die wêreld die seëninge moet ontvang wat die Here vir hulle beskik het, moet die dissipels van Christus nie net passiewe hoorders van die Goeie Nuus wees nie, maar aktiewe getuies daarvan. Hulle het ’n baie belangrike rol om te vervul in God se program om die geestelike bestemming van die wêreld te verander. Jesus het gesê:

“Julle is die sout van die aarde, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit gesout word? Dit deug nêrens meer voor as om buite gegooi en deur die mense vertrap te word nie. Julle is die lig van die wêreld. ’n Stad wat bo-op ’n berg lê, kan nie weggesteek word nie; en ’n mens steek ook nie ’n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is. Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik” (Matt. 5:13-16).

’n Ten volle veranderde lewe moet gelykvormig aan Jesus Christus wees, in die krag van die Heilige Gees gelei word, en voldoende in die Woord geskool wees sodat die waarhede daarvan reg verkondig kan word. Slegs dit sal ’n verskil in die wêreld kan maak en mense help om die seëninge van God te kan verkry. Saligheid en die verlossing van sonde is die eerste seën wat mense verkry, maar dit word deur verskeie ander seëninge gevolg vir diegene waarlik aan die Woord gehoorsaam is.

Die saligheid van ’n vaste geloof

Die Here verklaar ons salig indien ons ’n geloofsband met Jesus Christus het en ’n verhouding met Hom handhaaf. Dit behels dat ons sal glo dat Hy van die Vader af kom, maagdelik gebore is, as God een met die Vader is, vir ons sondes gesterf en uit die dood opgestaan het, na die hemel opgevaar het waar Hy vir ons intree, en weer sal kom om ons te kom haal. Ons neem al hierdie feite in die geloof aan sonder dat ons die Here Jesus as Seun van die Mens gesien het. Thomas wou aanvanklik nie geglo het dat Jesus God is wat uit die dood opgestaan het nie. Nadat hy Hom egter gesien het, het hy gesê: “My Here en my God! Jesus sê vir hom: Omdat jy My gesien het, Thomas, het jy geglo; salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het” (Joh. 20:28-29).

Die dissipels moes die boodskap van geloof in Jesus na die hele wêreld uitdra: “Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom. Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word” (Mark. 16:15-16). Die seën van die groot Saligmaker rus op almal wat glo. Diegene wat egter nie glo nie, lewe onder die veroordeling van God.

Kort voor sy hemelvaart het Jesus aan die gelowiges die belofte gegee dat die saligheid wat hulle in Hom verkry het, die vaste versekering van ’n ewige tuiste in die hemel is: “Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is” (Joh. 14:1-3).

 

6. Saligsprekinge deur die Apostels

Die apostels het die boodskap van Jesus Christus se reddende genade oral uitgedra. Dit was die goeie tyding dat alle mense deur geloof saligheid kon verkry in die Naam van Jesus. Daar was egter voorwaardes hieraan verbonde, asook sekere implikasies waarvan Christene moes kennis neem. Dit het ook duidelike verpligtinge vir gelowiges meegebring. Hierdie implikasies en verpligtinge, hoe veeleisend ook al by tye, weeg nie op teen die ewige heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie.

Die noodsaaklikheid van geloof

Geloof in God is die kritieke faktor wat ’n mens salig maak. “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ’n beloner is van die wat Hom soek” (Heb. 11:6). Ons moet veranderde harte en lewens hê, tesame met die vooruitsig dat ons vir ewig in die hemel by die Here sal wees. Petrus sê die saligheid van ons siele is die einddoel van ons geloof (1 Pet. 1:9).

Die boodskap van die apostels oor geloof in Christus was onomwonde, soos wat Petrus ook vreesloos voor die Joodse Raad getuig het: “En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie” (Hand. 4:12). Daar is net een bron van saligheid, en dit is geloof in Jesus Christus.

Ons geloof in Christus het nie net op ons redding betrekking nie, maar moet die dryfkrag van ons ganse lewe op aarde wees, daarom moet alles uit die geloof gedoen word: “Die regverdige sal uit die geloof lewe” (Heb. 10:38). Geloof in Christus is ’n skild om ons teen ongeloof en aanvalle deur die sielevyand te beskerm (Ef. 6:16), maar ook ’n oorwinningswapen: “Alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof. Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?” (1 Joh. 5:4-5).

Die saligheid van sondevergifnis

In Ou-Testamentiese tye reeds was die werke van die wet die uitvloeisels van ’n geloofsverhouding en het nie in sigself saligmakende krag gehad nie. Paulus bevestig dat dit in Nuwe-Testamentiese tye steeds dieselfde is: “Soos Dawid ook die mens salig spreek aan wie God geregtigheid toereken sonder werke: Welgeluksalig is hulle wie se ongeregtighede vergewe en wie se sondes bedek is. Welgeluksalig is die man aan wie die Here die sonde nie toereken nie” (Rom. 4:6-8).

Wat ’n wonderlike voorreg! “Almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is” (Rom. 3:23-24). Hierdie saligheid kan nie verdien word nie – dit is té kosbaar en kan net in die geloof aanvaar word.

Lyding ter wille van die saligheid

Omdat die saligheid van die Here so wesenlik verskil van die waardes en ideale van ’n verdorwe wêreld, word dit voortdurend bevraagteken, verwerp en die aanhangers daarvan selfs vervolg. Verdrukking van hierdie aard moet egter nie tot ontmoediging by Christene lei nie, maar eerder tot blydskap omdat hulle ter wille van Christus ly (Luk. 6:22-23).

Die Joodse Raad het die apostels erg vervolg, maar dit het hulle nie van stryk gebring nie: “En nadat hulle die apostels ingeroep het, het hulle hul laat slaan en hulle bevel gegee om nie in die Naam van Jesus te spreek nie en hulle laat gaan. Hulle het toe van die Raad af weggegaan, bly dat hulle waardig geag was om vir sy Naam oneer te ly. En hulle het nie opgehou om elke dag in die tempel en van huis tot huis te leer nie, en die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is” (Hand. 5:40-42).

Dieselfde beginsel geld ook vir ons: “Maar as julle ook moet ly ter wille van die geregtigheid, salig is julle. En vrees hulle glad nie, en wees nie ontsteld nie. Maar heilig die Here God in julle harte en wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is, met sagmoedigheid en vrees” (1 Pet. 3:14-15).

Versoekings en beproewings kom ook oor alle Christene se pad. Indien ons ons kruis op ’n waardige manier dra, word ons salig genoem: “Salig is die man wat versoeking verdra, want as hy die toets deurstaan het, sal hy die kroon van die lewe ontvang wat die Here beloof het aan die wat Hom liefhet” (Jak. 1:12).

Saligsprekinge in Openbaring

Christene moet ook met betrekking tot hulle toekomsverwagting die regte oortuigings huldig en verkondig. Kennis hieroor sal hulle help om voorbereid te wees op dit wat kom. Dit is so belangrik en oor en oor die moeite werd om daarop ag te slaan dat die Here ons dikwels salig noem indien ons gereedmaak om ons toekomstige rol in sy koninkryk te vervul. Die volgende sewe saligsprekinge kom in Openbaring voor:

1. Die waarde van Bybelse profesieë. “Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby” (Op. 1:3).

Die Here wil nie hê dat ons verkeerde profetiese verwagtings moet koester nie, want ’n mens se voorbereidings vir die toekoms word hierdeur bepaal. Die volgende is reaksies wat op verskillende verwagtings volg:

·      Sommige mense verwag nog voor die wederkoms van Christus die manifestasie van ’n Christelike koninkryk op aarde, en beywer hulleself hiervoor. Hulle ignoreer profetiese waarskuwing oor die groot afval van die laaste dae, en probeer alles in hulle vermoë om ekumeniese bande te skep en ’n groot beweging vir Christelike eenheid van stapel te stuur.

·      Ander mense verwag ’n wêreldwye verdrukking onder die bewind van die Antichris, en meen dat die kerk bestem is om deur hierdie tyd te gaan en dus ook onder dié diktator se tirannie te ly. Baie van hulle is besig om veilige toevlugsoorde vir Christene in te rig. In hulle eindtydse oriëntasie het hulle ’n Antichrisverwagting en nie ’n Christusverwagting nie. Volgens hulle sal Christus eers aan die einde van die verdrukking kom, gevolglik is ’n ontmoeting met Hom nie deel van hulle voorbereidings vir die onmiddellike toekoms nie. Hulle aktiwiteite het ’n verkeerde fokus en is nie in die belang van ’n beter verhouding met Christus nie.

·      ’n Groot aantal mense het geen duidelike Bybelse toekomsverwagting nie en leef net vir die dinge van hierdie wêreld asof daar geen einde aan kom nie. Weens hulle gebrek aan insig sal hulle enige wêreldleier aanvaar – ook ’n godsdienstige een – wat vrede, eenheid en ekonomiese voorspoed aan almal belowe. Hulle sal uiteindelik onder die groot massa misleide mense wees wat verwonderd agter die Antichris sal aangaan (Op. 13:3). Wat ’n ernstige vergissing!

·      ’n Relatief klein groep gelowiges is reg ingelig oor Bybelse profesieë en besef dat daar nie nou ’n transformasie na Christelike koninkrykstoestande gaan wees nie, maar inteendeel ’n groot afval wat na die openbaring van die Antichris gaan lei. Hulle aanvaar egter die belofte dat ons nie vir die komende verdrukking en Goddelike oordele bestem is nie, en berei voor om deur die hemelse Bruidegom weggevoer te word (Luk. 21:36; Joh. 14:2-3; 1 Thess. 4:16-18). Hulle word salig genoem omdat hulle na die profetiese woord luister en die beloftes daaroor in hulle harte bewaar. Hierdie ingesteldheid het vir hulle ’n positiewe uitkoms, want elkeen wat die hoop op Christus se wederkoms koester, “reinig homself soos Hy rein is” (1 Joh. 3:3). Hulle berei deur heiligmaking voor om saam met Hom na die hemel te vertrek, en nie om agter te bly en hier van die Antichris af te probeer wegvlug nie.

Dit is van kardinale belang om Bybelse profesieë reg te verstaan; daarom sê Paulus ook: “Verag nie die profesieë nie” (1 Thess. 5:20). Salig is almal wat dit doen.

2. Voorbereid vir ’n sekere toekoms. “Salig is van nou af die dode wat in die Here sterwe. Ja, sê die Gees, sodat hulle kan rus van hul arbeid, en hulle werke volg met hulle” (Op. 14:13).

Hierdie saligspreking is spesifiek vir die martelare van die groot verdrukking bedoel, want die dood sal vir hulle verlossing bring van verdere vervolging en marteling (vgl. Op. 6:9-11). Hulle werke – waaronder ook die bereidwilligheid om vir hulle geloof te sterf (Op. 2:10) – sal hulle volg en voor Christus se regterstoel vir hulle loon besorg. Hulle sal ook saam met die Here Jesus regeer in sy vrederyk wat kort na die verdrukking ingestel sal word (Op. 20:4).

In ’n meer algemene sin geld hierdie saligspreking ook vir alle Christene, want almal wat in Christus sterf, is salig en sal tydens die opstanding van die regverdiges met verheerlikte liggame opgewek word (1 Thess. 4:13-17; 1 Kor. 15:51-53). Daarna sal almal van ons genadeloon voor Christus se regterstoel ontvang (1 Kor. 3:11-15; 2 Kor. 5:10).

3. Gereedheid vir Christus se skielike koms. “Kyk, Ek kom soos ’n dief. Salig is hy wat waak en sy klere bewaar, sodat hy nie miskien naak rondloop en hulle sy skaamte sien nie” (Op. 16:15).

Die Here Jesus se koms sal skielik en onverwags wees, soos ’n dief in die nag. Dit sal dan te laat wees om vir sy koms voor te berei, daarom moet ons hele lewe in ’n toestand van gereedheid vir sy koms gelei word. Redding en heiligmaking word dikwels metafories met ’n kleed vergelyk: “Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie” (Rom. 13:14).

In Matthéüs 22:1-14 word ons vereniging met Christus met ’n koninklike bruilofsmaal vergelyk. In Bybelse tye het ’n koning ook aan die genooide gaste ’n bruilofskleed gegee om aan te trek. Soms was daar persone wat gemeen het hulle eie kleed is goed genoeg (eiegeregtigheid) en wat dan nie die koning se kleed aangetrek het nie. Ons lees van so ’n situasie in hierdie gelykenis:

“En toe die koning ingaan om na die gaste te kyk, sien hy daar iemand wat nie ’n bruilofskleed aan het nie. En hy sê vir hom: Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder ’n bruilofskleed aan? En hy kon geen woord sê nie. Toe sê die koning vir sy dienaars: Bind sy hande en voete, neem hom weg en werp hom in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande” (Matt. 22:11-13).

Daar is vandag ook baie mense wat meen dat hulle Christene is omdat hulle ’n goeie lewe lei en ook aan ’n kerk behoort. Hulle geestelike “naaktheid” sal egter geopenbaar word wanneer Christus kom, want hulle sal uitgewerp (agtergelaat) word op daardie oomblik wanneer die Here Jesus sy bruid kom haal. Dit sal vir hulle ’n groot verleentheid en skande wees.

As ons salig wil wees, moet ons nie net toesien dat ons ’n bruilofskleed het wat die Here aan ons gegee het nie, maar ons moet ook deurentyd waak en ons kleed rein bewaar. Die kleed moet sonder vlek of rimpel wees op die dag wanneer die Bruidegom skielik kom en ons voor Hom sal verskyn – ons moet heilig en sonder gebrek wees (Ef. 5:25-27).

4. Die bruid van die Lam. “Salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam” (Op. 19:9).

Die uitnodiging na die bruilofsmaal van die Lam vereis nie alleen dat die persone met Jesus Christus beklee is nie (toegerekende geregtigheid), maar ook dat hulle onder die leiding van die Heilige Gees werke gedoen het waardeur hulle kleed verder versier word (meewerkende geregtigheid). In die voorafgaande vers word gesê: “En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges” (Op. 19:8). Dit is deur die Heilige Gees aan haar gegee om werke te doen wat vir God welbehaaglik is, omdat sy Seun daardeur verheerlik en sy koninkryk op aarde uitgebrei word. Dit is die goud, silwer en kosbare stene waarmee ons ná ons bekering moet bou op die Rots, Jesus Christus (1 Kor. 3:10-15).

Wat ’n eer om na die luisterryke geleentheid van die bruilofsfees van die Lam genooi te wees, wat ’n uitnemende voorreg om deur die Gees van God werke te doen wat by die bekering pas en in harmonie met die kleed van geregtigheid is, en hoe uiters noodsaaklik is dit om te waak en te bid dat ons waardig sal wees vir hierdie wonderlike afspraak.

5. Die sekerheid van die eerste opstanding en ons koningskap saam met Christus. “Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank” (Op. 20:6).

Almal wat reeds die saligheid in Christus verkry het, kry daarmee saam verskeie wonderlike beloftes om na uit te sien. Ná die aardse lewe met al sy uitdagings wat deur die krag van die Heilige Gees en met die gesindheid van Christus te bowe gekom kan word, wag daar die onuitspreeklike seën van die ewige lewe. Dit sal begin by die opstanding van die regverdiges aan die einde van die kerkdispensasie. Oor al hierdie gelowiges het die tweede dood geen mag nie, daarom word hulle salig genoem. Die eerste dood is die dood van die liggaam aan die einde van ons aardse lewe. Ons is almal sterflike mense. Die tweede dood is egter die ewige dood in die poel van vuur, en dit sal die lot wees van alle ongeredde mense wat ná die vrederyk opgewek sal word om voor die groot wit troon te verskyn en hulle oordeel te ontvang (Op. 20:5, 11-15).

Die eerste opstanding vind in fases plaas en sluit alle gelowiges in wat voor die aanvang van die vrederyk geleef het. Hierdie opstanding het by Christus se opstanding begin, en almal wat aan Hom behoort sal hierin deel:

“Want as die dode nie opgewek word nie, dan is Christus ook nie opgewek nie; en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes; dan is ook die wat in Christus ontslaap het, verlore. As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense. Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het. Want aangesien die dood deur ’n mens is, is die opstanding van die dode ook deur ’n mens. Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms. Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee” (1 Kor. 15:16-24).

Diegene wat opgewek word wanneer die Bruidegom sy gemeente voor die verdrukking kom haal, sal reeds in die hemel wees voordat die eerste seël van God se oordele oor die ongelowiges gebreek word. Hulle sal daarna uitsien om ná die verdrukking saam met Christus terug te kom aarde toe en hier as konings te regeer (Op. 5:9-10). Hulle sê spesifiek: “... en ons sal as konings op die aarde heers.”

Die martelare van die verdrukking verteenwoordig die na-oes en vorm deel van die eerste opstanding omdat hulle ook voor die vrederyk opgewek sal word. Hulle is dus ook salig en sal saam in die vrederyk regeer. Johannes sê: “...en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank” (Op. 20:4).

Die herhaling van die belofte oor die eerste opstanding in Openbaring 20:6 is spesifiek gedoen met die oog op diegene wat nie deel was van die wegvoering nie en eers tydens die verdrukking weergebore sal word. Alhoewel hulle baie laat eers gered word, is hulle deel van Christus se koninkryk en verkry ook die seëninge wat daaraan verbonde is.

6. Die vaste versekering van Christus se sigbare koms. “Kyk, Ek kom gou. Salig is hy wat die woorde van die profesie van hierdie boek bewaar” (Op. 22:7).

Die herhaling van die eerste saligspreking in hierdie profetiese boek (Op. 1:3) word om ’n spesifieke rede gedoen. Openbaring begin by ’n oorsig oor die kerkgeskiedenis (Op. 2–3), en dit is noodsaaklik dat alle gelowiges van alle tye ’n sterk verwagting op die koms van Christus koester. Die salige hoop op Christus se koms help ons om nie oormatig by die dinge van die wêreld betrokke te raak nie, en om ons op die ewige lewe voor te berei deur dinge te doen wat ewigheidswaarde het. Sodoende gaar ons skatte in die hemel op.

Gelowiges wat al hulle tyd, aandag en geld aan sekulêre dinge bestee, is geestelik arm en sal met leë hande voor die Here verskyn (1 Kor. 3:15). As ons so ’n ingesteldheid het, is ons geestelik beklaenswaardig: “As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense” (1 Kor. 15:19).

Die herbevestiging van Christus se spoedige wederkoms word veral gedoen met die oog op diegene wat eers in die verdrukking tot bekering kom. Aan die einde van hierdie tyd kom Hy weer – hierdie keer in die openbaar sodat elke oog Hom sal sien. Baie mense uit Israel en die nasies sal dan eers gered word (Sag. 12:10; Matt. 24:29-30).

7. Gehoorsaamheid aan sy opdragte. “Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, die eerste en die laaste. Salig is die wat sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte in die stad” (Op. 22:13-14).

Die stelling: “Salig is die wat sy gebooie doen” (v. 14) moet reg verstaan word. In verskeie ander vertalings word hierdie teks soos volg vertaal: “Salig is die wat hulle klere was” (NIV, RSV, AB, NAB). Hierdie stelling vind noue aansluiting by dit wat van die martelare gesê word in Openbaring 7:14: “... hulle het hul klere gewas en hul klere wit gemaak in die bloed van die Lam.”

Wanneer die begrip “gebooie” gebruik word, moet dit Nuwe-Testamenties vertolk word met die oog daarop om God se wil ten opsigte van die Here Jesus te doen (Matt. 7:21). Dit behels onder meer om met Christus versoen te wees en reiniging deur sy bloed te verkry (Ef. 1:7; 1 Pet. 1:18-19) en om uitvoering aan sy nuwe gebod van die liefde te gee (Joh. 13:34). Die laaste versoek in Jesus se hoëpriesterlike gebed was dat sy dissipels met sy liefde vervul sou wees: “Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak en sal dit bekend maak, sodat die liefde waarmee U My liefgehad het, in hulle kan wees, en Ek in hulle” (Joh. 17:26).

Kan jy ’n meer salige en geseënde bestaan as dit bedink? Paulus se gebed vir die Efésiërs was:

·      dat hulle met krag versterk sal word deur sy Gees in die innerlike mens;

·      dat Christus deur die geloof in hulle harte sal woon;

·      dat hulle in sy liefde gewortel en gegrond sal wees;

·      dat hulle saam met al die heiliges ten volle sal begryp wat die breedte, lengte, diepte en hoogte van Christus se liefde is wat die kennis oortref; en

·      dat hulle vervul sal word tot al die volheid van God (Ef. 3:16-19).

Salig is almal wat hiervan kan getuig.

 

7. Die Bron van alle Saligheid

Wanneer die saligsprekinge in die Bybel gelees word, is dit duidelik dat dit hoofsaaklik op geestelike seëninge dui wat die Here alleen aan ’n mens kan gee. Dit is alles daarop gerig om die gevalle mens se gebroke verhouding met God te herstel, te versterk, in stand te hou, en uiteindelik aan hom ’n ewige hemelse bestaan te verseker. Hoe meer ’n mens by die plan van God vir sy lewe inval en na hoër vlakke van sy roeping in Christus streef, des te meer word hy geseën en in die waarheid van God se Woord bevestig.

Om salig te wees impliseer ’n intieme verhouding met Jesus Christus, want Hy is die Bron van alle seëninge. Die essensie van die Christelike geloof bestaan veel meer uit ’n persoonlike verhouding met die Saligmaker as wat dit ’n godsdienstige stelsel is wat op sekere reëls en rituele gebaseer is. Christus is alles vir ons – ons wysheid, geregtigheid, heiligmaking en verlossing (1 Kor. 1:30) – kortom, ons hele lewe. Hy maak ons vry van sonde en gee aan ons ’n nuwe lewe, nuwe lewensbeginsels, asook die krag van die Heilige Gees om dit te kan uitleef, eerder as ’n stel reëls en wette waarvolgens ons moet leef. ‘n Geseënde persoon is iemand in wie die gesindheid en tipiese optrede van die Here Jesus waargeneem kan word.

Van Jesus se geboorte af is Hy bekend gestel as die Saligmaker van Israel en die wêreld. Die engel het aan die herders van Betlehem gesê: “Moenie vrees nie, want kyk, ek bring julle ’n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees, dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is” (Luk. 2:10-11). Sagaria het gesê dat Jesus gekom het “om kennis van saligheid aan sy volk te gee in die vergifnis van hulle sondes” (Luk. 1:77).

Die naam “Saligmaker” (Gr. Soter) is afgelei van sozo, wat beteken om te red, verlos, beskerm, genees, bewaar, goed te doen, heel te maak (Strong’s Konkordansie: 4982 en 4990 in die Bylaag: Griekse Woordeboek). Hierdie handelinge sluit alle aspekte van Goddelike seëninge in waaraan mens kan dink. Die groot Verlosser het inderdaad gekom om gebroke mense te seën deur hulle te verlos en heel te maak, en hulle ook te beskerm teen die vyand van ons siele.

Die Here Jesus se rol as Saligmaker is nie tot Israel beperk nie, omdat sy reddende genade aan alle mense in die hele wêreld aangebied word. “Hy [is] waarlik die Christus, die Saligmaker van die wêreld” (Joh. 4:42). In Ou-Testamentiese tye reeds het God gesê dat sy Seun vir die redding van die hele wêreld sou kom: “Dit is te gering dat U my Kneg sou wees om op te rig die stamme van Jakob en terug te bring die gespaardes in Israel: Ek het U gemaak tot ’n lig van die nasies, om my heil te wees tot aan die einde van die aarde” (Jes. 49:6).

Omdat net God mense salig kan maak, en Jesus self as God die Seun gelyk is aan God die Vader en God die Heilige Gees, moet sy Godheid uitdruklik erken word. Dit moet ook blyk uit die manier waarop ons Hom aanspreek – nie altyd net as “Jesus” nie, maar as die “Here Jesus”. Petrus beskryf Hom as “onse God en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Pet. 1:1), en voeg hierby: “Want so sal ryklik aan julle verleen word die ingang in die ewige koninkryk van ons Here en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Pet. 1:11).

Daar was ongelukkig baie mense in Israel, veral onder die skrifgeleerdes, wat geweier het om Jesus se Messiasskap en Godheid te erken, en aanstoot geneem het omdat Hy Homself God genoem het. “Jesus het hulle geantwoord: Baie goeie werke het Ek julle getoon van my Vader. Oor watter een van dié werke stenig julle My? Die Jode antwoord Hom en sê: Dit is nie oor ’n goeie werk dat ons U stenig nie, maar oor godslastering, en omdat U wat ’n mens is, Uself God maak” (Joh. 10:32-33).

As gevolg van hierdie gesindheid en verkeerde gevolgtrekking het ’n groot deel van Israel, en veral hulle geestelike leiers, nie die saligheid verkry wat die Here Jesus in die eerste plek aan hulle gebied het nie. Sy saligheid is net vir diegene wat Hom nie verwerp nie. Hy het gesê: “Salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie” (Matt. 11:6).

Vir almal wat in Christus bly, is daar die vooruitsig om hier op aarde ’n godvrugtige bestaan te voer, asook die salige hoop op sy wederkoms: “Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe, terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus, wat Homself vir ons gegee het om ons te verlos van alle ongeregtigheid en vir Homself ’n volk as sy eiendom te reinig, ywerig in goeie werke” (Tit. 2:11-14).

Die salige hoop waarna Titus verwys, is die wegraping. Die blydskap wat daaraan gekoppel word, spruit nie net uit die feit dat ons hemel toe gaan wanneer Christus kom nie, maar ook dat ons die toorn van die komende dag van die Here (die verdrukking op aarde) sal ontvlug: “Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus” (1 Thess. 5:9). Ons ervaar reeds die saligheid van redding en heiligmaking, maar ons verwag ook die onbeskryflike saligheid van verheerliking in ’n nuwe liggaam, asook die ewige lewe in die nuwe Jerusalem, waarin daar nooit enige ongeregtigheid sal inkom nie (Op. 21:1-7, 27).

Terwyl ons die vervulling van die beloftes oor ons toekomstige saligheid afwag, moet ons alles moontlik doen om tydens ons aardse lewe die volle doel te bereik waarvoor die Here ons hier geplaas het. Ons moet heilig leef tot eer van die Here, en met alle ywer getuies vir Christus wees sodat sy koninkryk deur die redding van siele uitgebrei kan word. Ons bruikbaarheid kan deur sonde, vleeslikheid, passiwiteit, onkunde en wêreldgesindheid gekortwiek word. Hoedanig maak jy erns met die opdrag tot heiligheid en diensbaarheid?

Die kwalitatiewe aard van ons saligheid hang af van die mate waartoe ons met Jesus Christus identifiseer, aan Hom gehoorsaam is, en in Hom tot geestelike volwassenheid opgegroei het. Paulus sê ons moet opgroei tot die mate van die volle grootte van Christus, sodat ons nie soos geestelike kinders sou wees wat heen en weer gedryf word deur elke wind van lering nie (Ef. 4:13-14). Petrus bevestig hierdie vermaning en sê: “Julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Pet. 3:18). Die saligheid is nie in die wet nie, nie in ’n stel reëls nie, nie in ’n kerk nie, en ook nie in menslike pogings tot ’n goeie lewe nie – dit is in Jesus Christus alleen, in wie ons kan opgroei tot al die volheid waartoe ’n genadige God ons geroep het.

(Slot)