(In hierdie tweede aflewering oor die saligsprekinge in die Bybel word aandag gegee aan die Bergpredikasie).

3. Saligsprekinge in die Bergpredikasie (Deel 1)

Johan Malan, Mosselbaai (Augustus 2013)

Die Here Jesus se Bergpredikasie is in die eerste plek aan Israel gerig, om aan hulle te toon wat God se standaard is om toegang tot die koninkryk van die hemel te verkry. Die uitverkore volk het toe reeds vir 1 500 jaar lank onder die wet gelewe en het as gevolg daarvan gemeen dat hulle veel beter as die heidene was, en dat hulle plek in die hemel verseker was. Die Messias het deur hierdie preek egter aan hulle getoon aan watter standaard hulle moes voldoen om toegang tot sy koninkryk te verkry. Die meeste van hulle het nie hieraan voldoen nie.

Omdat hierdie preek voor Christus se kruisiging gelewer is, bevat dit net breë geestelike beginsels en standaarde, sonder spesifieke verwysing na die kruisevangelie. Soos wat Jesus se onderrig aan Israel egter gevorder het, het Hy hulle gaandeweg begin onderrig oor die feit dat net Hy sonde kan vergewe (Matt. 9:2; Luk. 7:47) en dat Hy self die deur tot God se koninkryk is: “Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word” (Joh. 10:9).

Wanneer ons op grond van die kruisevangelie gered is, moet ons lewens nog steeds aan die algemene geestelike standaarde voldoen wat in die Bergpredikasie uiteengesit is. Hierdie agt kenmerke is vir ons ’n aanduiding of ons waarlik gered is (2 Kor. 13:5), die Heilige Gees se getuienis oor redding in ons harte het (Rom. 8:16), vernuwe is in ons gemoed (Rom. 12:1-2), en diensbaar is in die Here se koninkryk (Matt. 3:8, Jak. 2:14, 26):

Arm van gees

Die eerste saligspreking in hierdie preek van Christus vestig die aandag op die toetreepunt tot sy koninkryk. Hoe moet ons ingesteldheid wees wanneer ons deur die nou poort in sy koninkryk wil ingaan? Hy het gesę: “Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele” (Matt. 5:3).

Geestelike armoede beteken dat jy van nature niks het wat vir God van enige waarde is nie, “want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (Rom. 3:23; vgl. Jes. 64:6). Wanneer jy in enigiets van jouself roem, dan besef jy nie jou geestelike armoede nie en het nog nie voor die Here gebreek om niks in sy oë te wees nie.

Paulus was ’n geleerde en godsdienstige man wat onberispelik volgens die wet gewandel het, maar het die nietigheid van dit alles besef. Hy het gesę dat hy al daardie dinge “as drek beskou het om Christus as wins te verkry en in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar dié wat deur die geloof in Christus is, ... sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word” (Fil. 3:8-10). Paulus moes aan die einde van homself kom deur glad nie in sy eie voortreflikhede te roem nie, maar saam met Christus te sterwe sodat hy in ’n nuwe lewe met Hom kon wandel.

Die boodskap van geestelike armoede is so belangrik dat die Here Jesus dit verder in ’n gelykenis verduidelik het: “En Hy het ook met die oog op sommige wat op hulleself vertrou dat hulle regverdig is en die ander verag, hierdie gelykenis vertel. Twee manne het na die tempel opgegaan om te bid, die een ’n Fariseër en die ander ’n tollenaar. En die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: o God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie – rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week, ek gee tiendes van alles wat ek verkry. En die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy oë na die hemel ophef nie, maar het op sy bors geslaan en gesę: o God, wees my, sondaar, genadig! Ek sę vir julle, hierdie laaste een het geregverdig na sy huis gegaan eerder as die eerste een; want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en hy wat homself verneder, sal verhoog word” (Luk. 18:9-14). Selfverhoging en selfregverdiging staan in die pad van ’n grondige bekering en hartsverandering.

Dit was dieselfde boodskap wat die geestelik voorbeeldige Nikodémus moes hoor: “As jy nie weergebore word nie, kan jy die koninkryk van God nie sien nie” (Joh. 3:3). Hy moes eers afsien van alles wat hy self bereik en gedoen het en waarlik arm van gees word voor die Here, sodat hy saam met Christus in ’n totaal nuwe lewe kon wandel. Die ou dinge moes verbygaan en as waardeloos gereken word, sodat alles deur ’n geestelike wedergeboorte nuut kon word.

Het jy al geestelik arm geword en van jou eie prestasies afgesien sodat jy deur die nou poort kan ingaan? (Luk. 13:24). Baie mense verkies egter om dit nie te doen nie en voort te gaan om in hulle eie geestelike bates te roem, bv.: “Ek is gedoop en aangeneem, ek het gelowige ouers en ek probeer my bes om goed te lewe.” Só ’n persoon het nog nie arm van gees geword nie en kan nie regtig van wedergeboorte getuig nie, omdat dit die begin van ’n nuwe lewe is.

Die Here Jesus, wat alle skatte van wysheid, kennis en geestelike rykdom het, het dit afgelę, die gedaante van ’n dienskneg aangeneem, ons sonde op Hom geneem, en geestelik aan die kruis arm geword sodat ons die rykdom van sy genade deelagtig kan word: “Want julle ken die genade van onse Here Jesus Christus, dat Hy, alhoewel Hy ryk was, ter wille van julle arm geword het, sodat julle deur sy armoede ryk kan word” (2 Kor. 8:9; vgl. Fil. 2:5-8).

As ons arm van gees word en ons godsdienstige selfregverdiging afsterf sodat ons niks het om op te roem nie, dan alleen kan die Here ons siele uit genade red en ons deelgenote van sy hemelse koninkryk maak. Ons sal dan ’n rykdom in die Here hę wat geen mens van ons af kan wegneem nie. Deur die vervulling met die Heilige Gees sal die bewussyn van hierdie geestelike rykdomme al hoe sterker word en ons in staat stel om die Here met oorgawe te kan dien.

Die treurendes

“Salig is die wat treur, want hulle sal vertroos word” (Matt. 5:4). Hierdie toestand van treur veronderstel dat die persoon bewus is van ’n hopelose situasie waaruit hy glad nie kan kom nie, terwyl die troos dui op Goddelike ingryping om volkome uitkoms te gee.

Die Here wil hę dat ons tot die volle besef moet kom van die betreurenswaardige toestand van geestelike verval waarin die węreld al vir duisende jare verkeer. Alle mense is as gevolg van die sondeval op ’n pad weg van die Here en sy geregtigheid af (Rom. 3:10-12). Nie almal besef egter die donker toestand waarin hulle verkeer nie, daarom soek hulle nie regtig na uitkoms nie. Diegene wat dit wel besef en ook treur oor hulle verlore toestand, sal deur die Here gered en vertroos word. Hulle is salig! Die ander gaan onnadenkend voort op die pad van die dood.

Het jy al van jou sondigheid bewus geword en getreur daaroor? Dan alleen sal die Here jou lot verander en jou troos deur jou uit die kuil van vernietiging te red (Ps. 40:2-4). Dawid het tot die Here gebid: “Hoor, Here, my gebed, en luister na my hulpgeroep; swyg nie by my trane nie” (Ps. 39:13). Nadat die Here ’n sondaar gered en vertroos het, is daar ’n loflied op sy lippe: “U het my siel gered van die dood, my oog van trane, my voet van struikeling” (Ps. 116:8).

Dit is net die Heilige Gees wat ’n mens kan oortuig van sy sonde en verlore toestand, asook van die feit dat die Here hom daaruit kan red. Dit is egter noodsaaklik dat die sondaar gebroke en verslae voor die Here sal staan – geheel en al bewus van die omvang van sy probleem – en dan sy geloof ten volle in die Here se reddende genade sal stel: “Die Here is naby die wat gebroke is van hart, en Hy verlos die wat verslae is van gees” (Ps. 34:19).

Dieselfde beginsel van berou oor sonde geld in Nuwe-Testamentiese tye: “Want die droefheid volgens die wil van God werk ’n onberoulike bekering tot redding, maar die droefheid van die węreld werk die dood” (2 Kor. 7:10). Die droefheid volgens God se wil lei tot trane oor jou sondigheid en verlorenheid. Die Heilige Gees oortuig jou egter nie net van jou sonde nie, maar ook van Christus se geregtigheid, asook die feit dat dit deur die geloof jou deel kan word. Jou sondeoortuiging lei dus tot sondebelydenis en bekering, asook die vaste wete dat die Here jou siel uit genade red. Daar is diepe en standhoudende vertroosting vir almal wat onder die leiding van die Heilige Gees hulle sonde erken, bely en laat staan.

Węreldlinge wat nog nie met die evangelie gekonfronteer is nie, ervaar ook droefheid as gevolg van die moeilike omstandighede waaronder hulle mag verkeer. Hulle soek egter ander oplossings vir hulle sondes en probleme, omdat hulle nie die pad na die Here se genadetroon ken nie. Geen mens kan egter sonder die Here se hulp uit die greep van sonde en verlorenheid ontkom nie, daarom lei die droefheid volgens die węreld na die dood. Al gebruik die persoon watter tegnieke ook al om uit die mag van Satan te ontkom, slaag hy nie daarin om ’n nuwe hart en lewe te verkry nie, en beweeg steeds nader aan die ewige dood.

By die Here Jesus is volle verlossing, want Hy het “self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe” (1 Pet. 2:24). Dan word die trane oor sonde met die loflied van die verlostes vervang: “U het my roukleed losgemaak en my met vreugde omgord. ... U omring my met vrolike gesange van bevryding” (Ps. 30:12; 32:7).

Wanneer ’n Christen aan versoekings toegee en opnuut begin sondig, moet hy weer deur die proses gaan van sondeoortuiging en treur oor sy sondes. Die aand voor Jesus se kruisiging het Petrus Hom verloën toe hy onder die druk van vyandige mense geswig het; toe onthou hy die Here Jesus se waarskuwing: “Voor die haan kraai, sal jy My drie maal verloën. En hy het buitentoe gegaan en bitterlik geween” (Matt. 26:75). Hy het die vergifnis en vertroosting van die Here verkry, en is geestelik volkome herstel.

Wat word van diegene wat nie met trane van berou na die Here toe gekom het nie? Baie van hulle het sy genade doelbewus geminag en verwerp, en gaan sonder Hom deur die lewe. Sulke mense weerstaan aanhoudend die roepstem van die Heilige Gees; sommige van hulle bedroef en belaster Hom selfs deur hulle optrede, en dan verlaat Hy hulle. Die gevolg van hierdie mense se keuse is dat hulle die Here se geestelike vertroosting verbeur en eers tot besinning sal kom wanneer die oordele van die Here hulle tref.

Die geestelik verharde ryk man het eers in die doderyk tot besinning gekom en wou toe sy familie waarsku, maar dit was te laat (Luk. 16:23-25). Esau het sy eersgeboortereg waardeur die seën van die Here aan hom oorgedra sou word, geminag en vir ’n pot lensiesop verkoop. Hy het ook sy fout agtergekom toe dit te laat vir trane was: “Want julle weet dat hy, toe hy ook later die seën wou beërwe, verwerp is, want hy het geen geleentheid vir berou gevind nie, al het hy dit met trane vurig begeer” (Heb. 12:17). Daar kan nie ware berou oor sonde wees sonder die Heilige Gees se oortuigingswerk nie. Esau se trane was ’n węreldse, emosionele reaksie oor dit wat hy vroeër volkome verwerp het, en in hierdie laat stadium van sy lewe het hy maar net aan selfbejammering gelei. Sy trane was te laat en het nie tot redding en die vertroosting van die Here gelei nie.

Die sagmoediges

“Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe” (Matt. 5:5). Hierdie gesindheid beteken dat ’n persoon ’n sagte en leerbare gees het en dus ’n ontvanklike gemoed om oor die hoër geestelike en morele beginsels van die hemelse koninkryk onderrig te kan word. Diegene wat positief op onderrig van hierdie aard reageer, sal mede-erfgename van Christus wees wanneer Hy tydens sy wederkoms sy koninkryk op aarde openbaar (Rom. 8:17; 2 Tim. 2:12). Hulle sal saam met Hom oor die aarde regeer (Op. 5:9-10; 20:6).

Christus se koninkryk word nie deur krag of geweld uitgebrei nie, maar deur geestelike oorreding en ’n vrye wilsbesluit aan die kant van die ontvangers. Diegene wat bereid is om hulleself te verneder voor die gesag van God se Woord en daardeur onderrig te word, word deelgenote van hierdie koninkryk. Hoogmoedige en arrogante mense wat besig is om hulle eie koninkryk op aarde te vestig en hulle eie, selfsugtige belange te bevorder, is nie sagmoedig nie en kan daarom nie Christus se koninkryk beërf nie.

Die Jode het ’n selfverheffende en selfregverdigende vormgodsdiens beoefen wat op wetsonderhouding gebaseer is, en het daarom nie die regte ingesteldheid gehad om Jesus as Messias en Koning te aanvaar en deel van sy koninkryk te word nie. Die Here Jesus het vir hulle gesę: “Dit is julle wat julself regverdig voor die mense, maar God ken julle harte; want wat by die mens hoog geag word, is ’n gruwel voor God” (Luk. 16:15). Hulle harte was verhard (die teenoorgestelde van sagmoedigheid) as gevolg van hulle valse teologiese begrippe en misleidende selfbeeld, daarom het hulle die Messias en sy evangelie verwerp.

Baie mense het vandag ook ’n tradisionele, kerkistiese godsdiensvorm vol geestelike dwalings, op grond waarvan lidmate salig verklaar word. Drie van die duidelikste dwalings van afvallige kerke is: (a) die ontkenning van Christus se maagdelike geboorte en Godheid, (b) die Goddelike inspirasie en foutloosheid van die Bybel, en (c) die leer van doopsaligheid (mense word deur die doop gered). Hulle skaal Christus en sy Woord af terwyl hulle hulself verhef en hul valse sienings op lidmate afdwing “deur leringe te leer wat gebooie van mense is” (Matt. 15:8-9). Dit is egter alles tevergeefse pogings.

Indien ons met die suiwer evangeliese boodskap van die Bybel gekonfronteer word, is daar geen plek vir kerkistiese of teologiese selfverheffing nie – net die onvoorwaardelike aanvaarding van dit wat die Bybel oor redding sę: “Ontvang met sagmoedigheid die ingeplante woord, wat in staat is om julle siele te red” (Jak. 1:21; vgl. 1 Pet. 1:23). Ons moet hierdie boodskap ook met sagmoedigheid en deernis aan ander verkondig, soos wat die Here Jesus self gedoen het. Hy het gesę: “... leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele” (Matt. 11:29; vgl. 2 Kor. 10:1; Ef. 4:2).

’n Sagmoedige, leerbare gees is een van die vrugte van die Heilige Gees, en dus ’n kenmerk van ’n heilige lewe (Gal. 5:22; 6:1; Kol 3:12; 1 Tim. 6:11-12). ’n Persoon wat nie sagmoedig is nie, het ’n harde hart en kan nie die Woord van God verstaan of aanvaar nie (Mark. 6:52; Hand. 19:9; 2 Kor. 3:14). Ons word vermaan om nie ons harte teen die evangelie te verhard nie: “Vandag as julle sy stem hoor, verhard nie julle harte nie” (Heb. 4:8).

Die oomblik wanneer ’n persoon weer vir sonde in sy lewe plek gee, begin sy hart stelselmatig om hard, gevoelloos en apaties teenoor die Bybel en die Here se geregtigheid te word. Hiermee saam verdwyn sy sagmoedigheid, leerbaarheid en bereidwilligheid om Bybelse voorskrifte te aanvaar: “Maar vermaan mekaar elke dag ... sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie” (Heb. 3:13).

Honger en dors na die geregtigheid

“Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word” (Matt. 5:6). God se attribuut van geregtigheid spruit voort uit sy hoedanigheid van heiligheid, en verbind Hom daartoe om billik, liefdevol en regverdig teenoor almal op te tree. As gevolg hiervan bied Hy sy reddende genade aan almal wat Hom in die geloof vertrou om hulle van hul ongeregtigheid en sonde te verlos. God se geregtigheid duld egter geen sonde nie, daarom sal Hy noodwendig ook alle onbekeerlike sondaars straf.

Geregtigheid by mense dui in die eerste plek op die aanvaarding van God se voorsiening vir saligheid en regverdigheid, asook op ’n voortgaande gesindheid en optrede wat in ooreenstemming is met die wil van God. Aan sulke mense sal God Homself openbaar en hulle ook deur sy Heilige Gees in staat stel om volgens die eise van sy geregtigheid te lewe.

Wanneer ons God se geregtigheid aanvaar, verbind ons onsself tot die volgende feite oor sy Persoon en karakter:

·      God is heilig, en self die verpersoonliking van alles wat waar, opreg, barmhartig, eerbaar, rein, skoon en ordelik is. Dit is sy begeerte dat die mense wat na sy beeld geskape is, ook hierdie eienskappe sal vertoon, daarom sę Hy: “Wees heilig, want Ek is heilig” (1 Pet. 1:16).

·      God se geregtigheid lei daartoe dat Hy sonde haat en sondaars straf. “[God het] ’n dag bepaal waarop Hy die węreld in geregtigheid sal oordeel” (Hand. 17:31). Wanneer Christus as Regter en Koning van die konings terugkeer aarde toe tydens sy wederkoms, sal Hy “oordeel en oorlog voer in geregtigheid” (Op. 19:11).

·      God se genade vereis vryspraak aan berouvolle sondaars, maar sy geregtigheid eis die doodstraf oor sondaars. Daar is aan beide hierdie vereistes voldoen deur die plaasvervangende kruisdood van Jesus Christus. Hy het die straf vir ons sonde gedra, en nou kan sy geregtigheid en heiligheid deur middel van wedergeboorte en vervulling met die Heilige Gees aan ons toegereken word.

Begenadigde mense roem nie in hulleself nie, maar in die geregtigheid van God wat deur sy Seun aan hulle toegereken is. Net hulle word seuns en dogters van die hemelse Vader omdat daar geen ander weg tot versoening met die Vader is nie. Nie die beste mens op aarde, en selfs nie die mees wetsgehoorsame persoon in Israel, kan sonder Jesus Christus aan God se standaard van geregtigheid voldoen nie. Dit is die rede waarom niemand tot die Vader kan kom behalwe deur Hom en op grond van sy soendood nie.

Die meeste van die ortodokse Jode het God nie geken nie, en toe probeer om die geestelike leemte in hulle lewe deur menslike pogings tot wetsnakoming te probeer vul. As gevolg van hierdie misleidende grondslag vir geregtigheid het hulle geloof in Jesus verwerp, ten spyte daarvan dat dit die enigste manier is waarop God se geregtigheid aan hulle toegereken kan word: “Want omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid probeer oprig, het hulle hul aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie. Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo” (Rom. 10:3-4).

Die geregtigheid van God is sonder die wet deur Jesus Christus geopenbaar, “die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal wat glo” (Rom. 3:21-22). Paulus het self heeltemal daarvan afgesien om sy geregtigheid op sy goeie, wettiese lewe te baseer, en in plaas daarvan sy geloof in Christus gestel (Fil. 3:8-10). In hierdie nuwe lewe het hy aan die dood en opstanding van die Here Jesus gelykvormig geword en steeds daarna gestreef om hoër hoogtes in sy geestelike lewe te bereik (Fil. 3:14).

Baie lede van Christelike kerke maak die fout om op hulle goeie lewe en kerkverband te roem, in die veronderstelling dat dit as sodanig hulle aanneemlik vir God maak. In die proses rig hulle hul eie geregtigheid op, sonder dat hulle ooit ’n duidelike getuienis oor wedergeboorte en die nuwe lewe in Christus het. Sulke mense honger nie na die geregtigheid van God nie en word derhalwe nooit geestelik versadig nie. Hulle is afwesig by Bybelstudies en stel nie regtig daarin belang om hulleself verder in die geregtigheid van God te verdiep nie. Hulle verstaan nie die verlossingsleer nie en verwerp gewoonlik ook die leer oor heiligmaking. Soos Israel van ouds, bou hulle hul lewens op die sand van selfregverdiging en vreemde ervarings (Matt. 7:21-23).

’n Honger en dors na die geregtigheid van God deur Jesus Christus, is ’n wesenskenmerk van ware Christene. Aan sulke mense openbaar die Here Homself en Hy gebruik hulle ook in die uitbreiding van sy koninkryk op aarde.

 

4. Saligsprekinge in die Bergpredikasie (Deel 2)

Die volgende is die laaste vier saligsprekinge in Christus se Bergpredikasie:

Barmhartigheid

“Salig is die barmhartiges, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word” (Matt. 5:7). Barmhartigheid kan beskryf word as hulp in nood, van watter aard die nood ook al mag wees, sonder om iets in ruil daarvoor te verwag. Die gewer betoon onverdiende guns aan die behoeftige.

Een van die kenmerke van ’n lid van die Here se koninkryk is dat hy aan andere barmhartigheid (vergifnis, hulp, versorging en liefde) bewys omdat hy self barmhartigheid by die Here verkry het. Hy doen dus aan ander wat die Here aan hom gedoen het. Indien hy nie so optree nie, is hy ’n swak getuie van Jesus Christus en dus nie ’n waardige volgeling van Hom nie.

Ons leef in ’n węreld waarin mense in die algemeen hard, onvergewensgesind en ongenaakbaar teenoor mekaar optree, en waarin jy baie min ontvang as jy nie daarvoor betaal nie. Die Here verwag egter nie van sy kinders om gesindhede van selfsug, harteloosheid en wraaksugtigheid te openbaar nie, want dit is nie kenmerke van sy koninkryk nie. ’n Onvergewensgesinde persoon kan nie verwag dat hy self deur die Here vergewe sal word nie (Matt. 6:15).

Dieselfde beginsel geld ook vir die bewys van barmhartigheid op ander lewensterreine. In die gelykenis van die onbarmhartige skuldeiser word van ’n persoon vertel wie se enorme skuldlas deur sy heer afgeskryf is, maar toe gee hy sy eie skuldenaar oor aan vervolging sonder om enige genade aan hom te betoon. “Daarop roep sy heer hom en sę vir hom: Jou slegte dienskneg, al daardie skuld het ek jou kwytgeskeld, omdat jy my gesmeek het; moes jy nie jou mededienskneg ook barmhartig wees soos ek jou ook barmhartig gewees het nie? En sy heer het hom in toorn oorgegee aan die pynigers totdat hy sou betaal het alles wat hy hom skuldig was. So sal ook my hemelse Vader aan julle doen as julle nie elkeen sy broeder van harte sy oortredinge vergewe nie” (Matt. 18:32-35).

Barmhartigheid word met betrekking tot sowel geestelike as materiële behoeftes betoon, en hiervan is geestelike behoeftes verreweg die belangrikste. Die grootste behoefte van ’n verlore mensdom is geestelik van aard, en dit is waaroor die Here Hom in die eerste plek ontferm. Dawid het gebid: “Wees my genadig, o God, na u goedertierenheid; delg my oortredinge uit na die grootheid van u barmhartigheid. Was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde” (Ps. 51:3-4).

Die enigste voorwaarde wat die Here aan ’n gebedsversoek van hierdie aarde koppel, is dat die persoon sy sonde sal bely én ook sal ophou om dit te doen (bekering): “Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind” (Spr. 28:13; vgl. 1 Joh. 1:9). Die Here red ’n sondaar deur hom te wederbaar en volkome te vernuwe deur sy Heilige Gees (Tit. 3:5).

Die Here se barmhartigheid is oneindig oor almal wat sy genadetroon nader en hiervoor bid: “Sy barmhartigheid is van geslag tot geslag vir die wat Hom vrees” (Luk. 1:50). “Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word” (Heb. 4:16).

Die tweede terrein van ’n mens se behoeftes is op die materiële vlak geleë, en hiervoor moet ons ook bid omdat die Here in alle behoeftes van ons wil voorsien. Dit beteken nie dat alle probleme soos mis voor die son sal verdwyn nie, maar die Here kom wel tot ons hulp – al gee Hy net krag om ons kruis te kan dra en nie te midde van moeilike omstandighede ten gronde te gaan nie. Ons moet die soet én die suur van die lewe saam met die Here deurgaan terwyl ons deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan (Hand. 14:22; vgl. 2 Kor. 11:24-27).

Onthou dat die geestelike nood van mense oneindig belangriker as hulle materiële behoeftes is, en dat dit die grootste rede vir die verlening van barmhartigheid is. Die gelykenis oor die barmhartige Samaritaan is in die eerste plek gebruik om ’n vraag aan Jesus te beantwoord oor wat ’n mens moet doen om die ewige lewe te beërf (Luk. 10:25-37). Die eerste vereiste hiervoor is liefde teenoor God en liefde teenoor jou naaste. Die tweede vraag het gehandel oor wie ons naaste is. In die gelykenis word daar op ’n treffende wyse aangetoon dat enige persoon wat in lewensgevaar verkeer, gehelp moet word om die groot krisis waarin hy is, te oorleef.

Die ongelukkige persoon wat langs die pad lę, is ’n beskrywing van alle mense wat op die lewensweg deur die groot Rower, Satan, oorval en op die pad van die dood aan sy eie lot oorgelaat is. Vormgodsdienstiges (die priester en Leviet) kon of wou die ongelukkige persoon nie help nie. Die Samaritaan, ’n persoon wat in Israel as ’n uitgeworpene beskou is, het die sterwende man gehelp, verpleeg, en in staat gestel om sy reis met blydskap voort te sit.

Die priesters en Leviete in Israel het niks aan die geestelike nood van hulle volk gedoen nie. Meer nog, hulle het die Messias, die Verlosser van Israel én die hele węreld (Joh. 1:29), as ’n uitgeworpene beskou en Hom nie aanvaar nie. Nogtans was Hy die Een wat aan verlorenes wat in Satansmag was, verlossing en redding gebring het. Die wyn en olie wat Hy op mense se geestelike wonde sit, dui op sy bloed waardeur hulle van sonde gereinig word (1 Joh. 1:7) en op sy Gees wat uitgestort is om verlore mense te wederbaar, te versorg en te vertroos.

Indien die wetgeleerde wat strikvrae aan Jesus probeer vra het, self ’n volgeling van die Messias was, sou hy beslis kon uitgaan om die barmhartigheid van ons groot Verlosser aan mense te bied wat geestelik op die pad van die dood oorval en verblind is. Hy was egter nie self gered nie en het nodig gehad dat die Groot Barmhartige Samaritaan hóm eers uit die mag van die duisternis verlos voordat hy ander sou kon help.

Wanneer ons die geestelike barmhartigheid aan verloregaandes verkondig, moet ons noodwendig ook in hulle tydelike behoeftes probeer voorsien sover ons kan. Die Here het ons geseën, daarom is ons verplig om ook ander se materiële nood te verlig: “Maar wie die goed van die węreld het en sy broeder sien gebrek ly en sy hart vir hom toesluit, hoe bly die liefde van God in hom?” (1 Joh. 3:17). Help dus waar jy kan om andere se nood te verlig, maar veral dié van mede-Christene: “Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof” (Gal. 6:10). As enige lid van die liggaam van Christus ly, dan ly al die lede saam met hom: “Dink aan die gevangenes asof julle medegevangenes is, en aan die wat mishandel word, as mense wat self ook ’n liggaam het” (Heb. 13:3).

Reinheid van hart

“Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien” (Matt. 5:8). Wanneer iemand uit die duisternis van verlorenheid na God se koninkryk oorkom, word sy sonde nie net vergewe nie, sy hart moet ook gereinig en met die Heilige Gees vervul word. Ons moet dus nie net daarna streef om gelowiges te word nie, maar ook heiliges (Geesvervulde gelowiges). Daar is sekere stappe van toewyding wat ons moet doen om uitvoering aan die opdrag tot heiligmaking te gee. Wanneer ons hieraan gehoorsaam is, sal ons in staat gestel word om ’n positiewe rol te speel om die vrede van God in die samelewing te bevorder, en ons sal ook vrymoedigheid verkry om eendag in ’n waardige toestand voor die Here te verskyn:  “Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie” (Heb. 12:14).

Die belangrikste opdrag wat God in die Ou Testament aan Israel gee, is: “Wees heilig, want Ek is heilig” (Lev. 11:44). Hierdie opdrag geld eweneens vir ons in die Nuwe Testament: “Soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word” (1 Pet. 1:15-16). Ware heiligheid wat die beeld van God vertoon, kan net van binne af uit ’n veranderde hart kom, wanneer die beginsels van God se geregtigheid deur die Heilige Gees op die tafels van ’n gelowige se hart geskryf is. Dit bepaal jou lewensbeginsels, verander jou persoonlikheid en lewenswandel ten goede en maak van jou ’n gesant van die Here.

Heiligheid kan nie van buite af kunsmatig deur die aanleer van sekere gedragspatrone aangeplak word en in kombinasie met ’n vleeslike hart funksioneer nie: “Want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie” (Gal. 5:17). Die ou, vleeslike natuur moet eers in ’n volle oorgawe oorgelewer word om gekruisig te word, en dan eers sal ons geestelik volkome vernuwe word in ons gemoed en deur die werking van die Heilige Gees met die nuwe mens beklee word wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid (Ef. 4:22-24). Hierdie dieper werk van heiligmaking staan ook as “volkome heiligmaking” bekend (1 Thess. 5:23).

Het jy al erns gemaak met die opdrag tot heiligmaking? Let daarop dat hierdie opdrag net aan gelowiges gegee word wat reeds gered is en as belydende lidmate en by Christelike gemeentes ingeskakel het. Paulus sę aan die Efésiërs: “Moenie dronk word van wyn nie – daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul” (Ef. 5:18). Aan die Thessalonicense sę hy: “Dit is die wil van God: julle heiligmaking. ... Want God het ons nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligmaking. Daarom, hy wat dit verwerp, verwerp nie ’n mens nie, maar God wat ook sy Heilige Gees aan ons gegee het” (1 Thess. 4:3, 7-8). Aan die Korinthiërs sę hy: “Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring” (2 Kor. 7:1). Dit moet ’n lewenswyse word: “Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie” (Gal. 5:16).

As ons God werklik geestelik wil sien, moet alle struikelblokke uit ons lewe verwyder word: “Daarom ... laat ons ook elke las aflę en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lę, die oog gevestig op Jesus” (Heb. 12:1-2). Slegs wanneer ons al hierdie hindernisse verwyder, sal ons Hom werklik kan sien. Dawid het hierdie belangrike feit lank gelede al besef, en self sy eie vraag beantwoord: “Wie mag klim op die berg van die Here? En wie mag staan in sy heilige plek? Hy wat rein van hande en suiwer van hart is. ... Hy sal seën wegdra van die Here en geregtigheid van die God van sy heil” (Ps. 24:3-5).

Dawid het ook besef dat, as ’n mens iewers langs die pad verlei word en weer in sonde val, jy die Heilige Gees bedroef en ook jou rein hart verloor. Hy was inderdaad in so ’n situasie, maar het ernstig om vergifnis en herstel gebid: “Verberg u aangesig vir my sondes en delg uit al my ongeregtighede. Skep vir my ’n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my ’n vaste gees. Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie” (Ps. 51:11-13).

Ons moet wegvlug vir die begeerlikhede van sonde en jaag na geregtigheid, geloof, liefde en vrede “saam met die wat die Here uit ’n rein hart aanroep” (2 Tim. 2:22). Terwyl ons dit doen, moet ons voorberei om sonder vlek of rimpel of iets dergeliks voor Christus te verskyn – heilig en sonder gebrek (Ef. 5:25-27). Hy kan en wil jou heilig maak, maar jy moet jou volle samewerking gee sodat dit ’n heerlike werklikheid in jou lewe kan word.

’n Aktiewe wederkomsverwagting is ’n noodsaaklike deel van ’n Christen se motivering om stappe van hoër toewyding te doen sodat hy daardie dag onbevlek voor die hemelse Bruidegom kan verskyn: “En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is” (1 Joh. 3:3).

Vredemakers

“Salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word” (Matt. 5:9). Ons leef in ’n vyandige węreld wat grootliks van God vervreem is as gevolg van die sondeval. Die toestand van sondigheid en geestelike doodsheid waarin alle mense gebore word, verklaar die feit waarom hulle in vyandskap teenoor God leef. Die Here nooi verlore mense egter terug na sy koninkryk deur op grond van die soendood van Jesus Christus vrede met Hom te maak. Al die kinders van God is geroepe vredemakers wat aktief moet deelneem aan die verkondiging van die goeie nuus dat sondaars vrede met God kan maak, want Hy is die God van vrede (Rom. 15:33; 2 Kor. 13:11; Fil. 4:9).

Almal wat met God versoen is, ervaar hierdie vrede in hulle harte: “En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en sinne bewaar in Christus Jesus” (Fil. 4:7). Dit is ’n soort vrede wat die węreld nie aan iemand kan gee nie, daarom het die Here Jesus gesę: “Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die węreld gee, gee Ek aan julle nie” (Joh. 14:27). Sy vrede wat op sondevergifnis en wedergeboorte volg, word deur die Heilige Gees in ons harte uitgestort: “Die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede...” (Gal. 5:22).

Hierdie vrede spruit voort uit die feit dat ons nie meer van God af hoef te probeer wegvlug uit vrees vir sy oordeel oor sonde nie, omdat die sonde wat ons veroordeel het, vergewe en versoen is: “En dit alles is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening gegee het, naamlik dat God in Christus die węreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie en die woord van die versoening aan ons toe te vertrou” (2 Kor. 5:18-19). Ons is toevertrou met die taak om die boodskap van vrede met God verder uit te dra.

Baie mense maak die fout om te dink dat die vrede wat ons as Christene moet bevorder, van ons in ’n sekulęre sin pasifiste maak wat teen niks en niemand weerstand mag bied nie. Dit is glad nie die geval nie. Ons Christelike oortuigings bring ons in botsing met ’n verdorwe węreld wat in die mag van die Bose lę. As gevolg hiervan moet ons geestelik sterk staan en weerstand bied teen die ongeregtigheid waarmee ons gekonfronteer word. Jesus het oor hierdie situasie gesę: “Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard” (Matt. 10:34). Daar kan selfs geestelike tweedrag binne gesinsverband voorkom, wat vereis dat Christelike beginsels kompromieloos verdedig moet word omdat die eer van Christus op die spel is (Matt. 10:35-37).

Ons geestelike weerbaarheid moet met die oog op hierdie stryd verhoog word: “Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel” (Ef. 6:11). Valse leerstellings moet weerstaan word, ongeag wie dit verkondig of wat die gevolge van die teëspraak mag wees: “Verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlę, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ’n evangelis; vervul jou bediening” (2 Tim. 4:2-5). Dit is ’n inherente deel van ons opdrag “om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is” (Jud. 1:3).

Misleide pasifiste is dié mense wat die bevordering van vrede vertolk as ’n opdrag om teen niks weerstand te bied nie, ook nie teen vreemde godsdienste nie, en die mensdom inherent as goed en vredeliewend te sien. Hulle erken nie die onderlinge vyandigheid tussen die koninkryke van God en Satan nie, daarom probeer hulle ’n soort węreldvrede skep wat op kompromie berus. Die valse profete in Israel het ook hierdie valse vrede verkondig: “Hulle genees die verbreking van die dogter van my volk op die maklikste manier deur te sę: Vrede, vrede! – terwyl daar geen vrede is nie” (Jer. 6:14).

Daar sal eers uiterlike vrede op die aarde neerdaal nadat Christus as die Vredevors teruggekeer, sy vyande verdelg en ’n regering van geregtigheid gevestig het. Sy koms sal wees “tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid” (Jes. 9:6).

Intussen moet ons onverpoos voortgaan om mense uit die duisternis na Christus se wonderbare lig te lei, sodat die vrede van God in hulle harte ervaar kan word. Wat ons verhouding met mense in ’n misleide en verdeelde węreld betref, moet ons ons rol as vredemakers beoefen, maar sonder om enige kompromie oor Christelike beginsels te maak: “Vergeld niemand kwaad vir kwaad nie; bedink wat goed is voor alle mense; as dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense” (Rom. 12:17-18). Indien mense jou egter oor jou Christelike beginsels verwerp, dan moet dit maar so wees. Bybelse beginsels mag nooit oorboord gegooi word ter wille van goeie verhoudings met vyande van die kruis nie.

Vervolging ter wille van die waarheid

“Salig is die wat vervolg word ter wille van die geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele. Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil. Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele; want so het hulle die profete vervolg wat voor julle gewees het” (Matt. 5:10-12). Hierdie agtste en laaste saligspreking in die Bergpredikasie word herhaal om die erns daarvan nog sterker te stel en ook meer besonderhede daaroor te verskaf.

Die geregtigheid van God se koninkryk staan teenoor die ongeregtigheid van ’n verdorwe węreld wat onder die heerskappy van die owerste van die mag van die lug is (Ef. 2:2; 6:12; 1 Joh. 5:19). Die meerderheid mense het die duisternis liewer as die lig (Joh. 3:19), en dit is die rede waarom die minderheid Christene wat hulleself op die smal weg bevind, vervolg word.

Deur hierdie duidelike waarskuwing teen vervolging en negatiewe reaksies wat alle ware Christene kan verwag, vestig die Here Jesus ons aandag op ’n baie belangrike dispensasionele feit, naamlik die voortgesette verwerping van sy koninkryk op aarde. Die hele bedeling tussen sy eerste en tweede koms word gekenmerk deur die antagonisme en vyandige reaksies van ’n misleide en ongelowige meerderheid. Die verwerping wat Jesus te beurt geval het tydens sy eerste koms, sou regdeur die kerkdispensasie ten opsigte van Hom en sy minderheid ware volgelinge voortduur. Hy het hulle dikwels hierteen gewaarsku:

“As julle van die węreld was, sou die węreld sy eiendom liefhę. Maar omdat julle nie van die węreld is nie, maar Ek julle uit die węreld uitverkies het, daarom haat die węreld julle. Onthou die woord wat Ek vir julle gesę het: ’n Dienskneg is nie groter as sy heer nie. As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg. As hulle my woord bewaar het, sal hulle jul woord ook bewaar. Maar al hierdie dinge sal hulle aan julle doen ter wille van my Naam, omdat hulle Hom nie ken wat My gestuur het nie” (Joh. 15:19-21).

Christus het hierdie inligting aan sy dissipels bekend gemaak sodat hulle kon leer om in Hom vrede en blydskap te ervaar, ten spyte van die feit dat hulle in die węreld vervolg word: “Dit het Ek vir julle gesę, dat julle in My vrede kan hę. In die węreld sal julle verdrukking hę; maar hou goeie moed, Ek het die węreld oorwin” (Joh. 16:33).

Die feit dat Christus die węreld oorwin het, beteken dat Hy die geestelike houvas wat die duiwel en sy koninkryk oor die gevalle mensdom gehad het, aan die kruis verbreek het. Hy het mens geword, “sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag het oor die dood – dit is die duiwel – en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was” (Heb. 2:14-15). Die moontlikheid vir die geestelike verlossing van alle mense is hierdeur verseker, daarom is almal wat Jesus Christus as Verlosser aangeneem het, nie meer slawe van die sonde nie – hulle is vry.

Dit beteken egter nie dat die duiwel en sy koninkryk tydens die eerste koms van Jesus opgehou bestaan het nie. Inteendeel – hoewel hy ’n oorwonne vyand is, loop hy steeds rond soos ’n brullende leeu om te kyk wie hy kan verslind (1 Pet. 5:8-9). Ons moet die volle wapenrusting van God aantrek en hom teëstaan. Die duiwel is steeds “die owerste van hierdie węreld” (Joh. 14:30) omdat hy beheer voer oor die groot meerderheid van die węreldbevolking.

Solank hierdie toedrag van sake voortduur, sal die minderheid Christene onder druk geplaas en selfs vervolg word. “En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word” (2 Tim. 3:12). Ons moet dus nie verwag om nou ’n sorgvrye lewe te hę waarin ons as konings oor ons erfdeel regeer en ons daarop kan toespits om so ryk, voorspoedig en gelukkig as moontlik in hierdie sondige węreld te wees nie. Die voorspoedsevangelie is heeltemal buite orde en word in werklikheid deur die duiwel gebruik om mense se geloof te vernietig (1 Tim. 6:7-12; Luk. 16:13).

Ons moet dus nie in die huidige bedeling na mag, hoë posisies en gemaksugtigheid streef nie (Mark. 10:42-45). Die koninkryk van die hemel funksioneer nou in ’n verborge vorm te midde van ’n goddelose węreld. Wanneer Christus weer kom, sal die situasie drasties verander – dan sal diegene wat nou saam met Hom ly en deur die węreld verwerp word, saam met Hom regeer: “Ly dan verdrukking soos ’n goeie krygsman van Jesus Christus. ... As ons verdra, sal ons met Hom regeer. As ons Hom verloën, sal Hy ons ook verloën (2 Tim. 2:3, 12). Aan die Christene in Rome sę Paulus dat as ons saam met die Here Jesus ly, ons ook saam met Hom verheerlik sal word (Rom. 8:17; vgl. Fil. 1:29).

Petrus beklemtoon ook die feit dat die koninkryk van die hemel nie tydens die kerkbedeling as ’n sigbare entiteit op aarde geopenbaar word nie, maar as ’n geestelike werklikheid sal dit drasties teëgestaan word totdat Christus weer kom. In hierdie tydperk moet ons bereid wees om te deel in sy lyding, vernedering en verwerping, dan sal ons ook saam met Hom regeer wanneer Hy as die Koning van konings terugkeer: “Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie; maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel” (1 Pet. 4:12-13).

Ons karakter word nie deur voorspoed, wonderwerke, rykdom, mag en groot invloed gevorm nie, maar eerder deur beproewings, loutering en die manier waarop ons teëstand en probleme hanteer. Hierdeur leer ons vasberadenheid, deursettingsvermoë, en om te wag op die Here vir uitkoms, sodat ons sy heiligheid deelagtig kan word (Heb. 12:10).

Verstaan jy die beginsels waarvolgens die koninkryk van die hemel tydens die kerkbedeling funksioneer? Beskik jy oor die hoedanighede, karaktertrekke en geesteskrag om ’n waardige dissipel van Jesus Christus te wees? Word jy deur die Heilige Gees gelei en is jou prioriteite reg? Dan alleen sal jy as mens van God volkome wees, vir elke goeie werk volkome toegerus (2 Tim. 3:17).

(Word vervolg)