(Hierdie artikel word in drie aflewerings geplaas. In die eerste aflewering word saligsprekinge in die Ou Testament bespreek; daarna kom die Bergpredikasie aan die beurt, en in die laaste aflewering word verdere saligsprekinge in die Nuwe Testament in oënskou geneem).
Johan Malan, Mosselbaai (Augustus 2013)
1. Wat is Saligheid en Seën
2. Saligsprekinge in die Ou Testament
3. Saligsprekinge in die Bergpredikasie (Deel 1)
4. Saligsprekinge in die Bergpredikasie (Deel 2)
5. Verdere Saligsprekinge deur Christus
6. Saligsprekinge deur die Apostels
7. Die Bron van alle Saligheid
|
|
|
|
|
|
Te midde van kommer, onsekerheid en ’n onvoorspelbare toekoms, stel die meeste mense hulle hoop op ’n groot mate van geluk en seën om positiewe uitkomste in hulle lewe te verseker. Dit is veral waar van diegene wat nie geestelike ankers het nie, en wat van mening is dat hulle toekoms deur magte buite hulleself bepaal word. In die moeilike omstandighede waaronder mense dikwels leef, het dit algemene gebruik geword om mekaar geluk en seën toe te wens – veral wanneer iemand ’n nuwe fase of tydperk in sy lewe betree, vir ’n werk of ekonomiese hulpverlening aansoek doen, aan een of ander toets of studieprogram onderwerp word, op ’n lang reis vertrek, mediese behandeling moet ondergaan, ens.
Die gebrek aan geestelike sekuriteit (die vaste wete van redding) is die grootste enkele probleem waardeur mense in die gesig gestaar word, en dit is ook die oorsaak van baie ander probleme. Ons is almal sondaars van die dag van ons geboorte af, en daarom sonder die saligheid van ’n ware geestelike lewe (Rom. 5:12). Die Bybel het ’n boodskap van hoop aan mense wat weens hulle sondegeneigde natuur van God af vervreem geraak het. Die deur is vir verlore siele geopen om na die Here terug te keer en die saligheid (geestelike seën) te verkry wat Hy aan elke bekeerling bied. Al wat van hulle gevra word, is die bereidwilligheid om hulle bose weë te verlaat, in die regte verhouding met God te kom, en sodoende ’n deel van sy koninkryk van geregtigheid te word.
Diegene wat nie op hierdie vriendelike uitnodiging reageer nie en verkies om hulle eie lewens weg van die Here af en in stryd met sy geregtigheid te lei, tel nie onder die geseëndes van die Here nie. Hulle maak van hulleself vyande van God wat deur Hom geoordeel sal word (Hand. 17:30-31). Die bekeerlinge, daarenteen, word deur die Here vergewe en salig gemaak, en sodoende tot kinders van God herskep. As gevolg hiervan ontvang hulle ’n baie spesiale vorm van Goddelike seën en vrede in hulle harte, asook die versekering van verdere seëninge wat die volgelinge van die Messias op hulle lewensweg te beurt sal val.
Daar is talle saligsprekinge in die Bybel, waardeur die Here aspekte beklemtoon van die seëninge wat deur Godvresende mense geniet word. Die woord wat algemeen in die Ou Testament gebruik word vir die toestand wat deur hierdie seëninge meegebring word, is “welgeluksalig” (Heb. esjer; Eng. blessed; happy). Die Griekse ekwivalent van hierdie begrip in die Nuwe Testament is makarios – om gelukkig of geseënd te wees. Dit het dieselfde betekenis as “welgeluksalig” – wel, gelukkig en salig.
Christus se Bergpredikasie is een van die belangrike boodskappe oor saligheid en seëninge in die Bybel. In die agt saligsprekinge word die besondere seëninge genoem wat deur dissipels van Christus geniet sal word wanneer hulle lewens die Goddelike kenmerke weerspieël wat grondliggend in die Christendom is. Hierdie kenmerke en seëninge behoort baie deeglik ondersoek en nagestreef te word.
Christene is fisies sterflike mense wat in ’n sondige wêreld leef wat vyandig teenoor hulle geloof is, daarom het hulle voortdurend die behoefte aan Goddelike intervensie in die vorm van onderskraging en ander geestelike seëninge. Dit is ’n algemene gebruik in Christelike gemeentes om seënbede uit te spreek. Dit is ’n kort gebed vir Goddelike seën en leiding aan die einde van ’n erediens. Die prediker lig gewoonlik sy hande op en spreek die seën uit. Die woorde van die priesterlike seën in Númeri 6:24-26 word soms hiervoor gebruik: “Die Here sal jou seën en jou behoed; die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees; die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.” Ander verse wat ook vir hierdie doel gebruik word, kom voor in Psalm 29:11, 121:7-8, 1 Thessalonicense 3:11-13, Filippense 4:7, 19-20, en 23.
Ons wil almal graag deur die Here geseën word, en dit het daartoe aanleiding gegee dat mense seënwense oor andere uitspreek soos: “God seën jou.” Dit word dikwels gedoen op of kort voor sekere godsdienstige feesdae en Nuwejaarsvieringe, wanneer daar gesê word: “Geseënde Kersfees”, “Geseënde Paasfees”, Voorspoedige Nuwejaar”, ens. In baie gevalle is hierdie “wense” weinig meer as ’n begeerte vir goeie geluk, goeie gesondheid en voorspoed, wat geen werklike geestelike inhoud het nie.
Dit moet duidelik gestel word dat die geluk en seën wat met die woord “salig” bedoel word, Goddelik in oorsprong is en net deur die Here aan mense geskenk word wat by Hom in guns is omdat hulle aan sy voorwaardes vir ’n verhouding met Hom voldoen. Hulle word hierdeur in staat gestel om ’n hegter verhouding met Hom te handhaaf en meer van Hom afhanklik te wees. God gee in sy Woord talle voorskrifte oor hoe ’n mens as ’n salige moet lewe en optree. Daar is geen hoër doel om voor te lewe as om ’n gunsgenoot van die Here te wees en deur Hom salig verklaar en geseën te word nie.
In die hoofstukke hierna word die hemelse saligheid en seën beskryf, sodat gelowiges presies kan weet hoe om deur Jesus Christus met God versoen te word, hulle prioriteite reg te bepaal, en hoe om in verskillende situasies in ooreenstemming met God se wil op te tree. Daar word ook gewys op die ernstige implikasies vir diegene wat nie die saligheid wat die Here aan alle mense bied, deelagtig word nie.
Die Here het in die Ou Testament die basiese riglyne neergelê oor hoe individue en nasies se verhouding met Hom moes wees indien hulle deel van sy koninkryk wou wees en daarvan verseker wou wees dat hulle sy seën geniet. Indien hulle volkome gelukkig en salig (welgeluksalig) wou wees, moes hulle voldoen aan ’n aantal basiese geestelike vereistes wat die Here gestel het. Baie hiervan word genoem in die Psalms, waarin die lof en barmhartigheid van God besing word, asook die ryke seëninge waarin die regverdiges kan deel.
“Welgeluksalig is hy wie se oortreding vergewe, wie se sonde bedek is. Welgeluksalig is die mens aan wie die Here die ongeregtigheid nie toereken nie en in wie se gees geen bedrog is nie. ... My sonde het ek U bekend gemaak, en my ongeregtigheid het ek nie bedek nie. Ek het gesê: Ek wil aan die Here my oortredinge bely; en U het die ongeregtigheid van my sonde vergewe” (Ps. 32:1-2, 5).
Daar is net een rede vir die geestelike vervreemding tussen God en mense, en dit is hulle sonde: “Julle ongeregtighede het ’n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie” (Jes. 59:2). Net diegene wat hulle sondes bely en laat staan (Spr. 28:13) vind genade in die Here se oë, dien Hom, volg Hom en deel in sy seëninge wat oor die verlostes uitgespreek is. Hulle word welgeluksalig genoem.
Israel is dikwels voor die keuse gestel of hulle die seën van die Here in hulle lewe wou geniet (Deut. 28:1-14), of die vloeke wou verduur wat die gevolg van volhardende sonde en goddeloosheid sou wees (Deut. 28:15-68; vgl. Deut. 11:26-28). Die uiteinde van die seën en die vloek wat op mense rus, sal respektiewelik die ewige seën wees wat die regverdiges in die hemel sal geniet, en die straf wat alle sondaars se ewige lot in die hel sal wees.
Daar word in die Ou Testament verskeie seëninge verkondig oor volke wat die Here dien: “Welgeluksalig is die nasie wie se God die Here is, die volk wat Hy vir Hom as erfdeel uitgekies het” (Ps. 33:12). Ongelukkig het die uitverkore volk, Israel, net vir relatief kort tydperke die seën van die Here geniet. Selfs nadat Hy hulle uit Egipte verlos het om Hom in die Beloofde Land te gaan dien, het Hy in die meeste van hulle geen welbehae gehad nie (1 Kor. 10:5).
Dieselfde reël geld in Nuwe-Testamentiese tye, waarin volke ook geseën sal word as hulle die Here dien. In die praktyk doen hulle dit nie en maak eerder kompromie met die ongeregtigheid. As gevolg hiervan wandel hulle in duisternis: “Geregtigheid verhoog ’n volk, maar die sonde is ’n skandvlek vir die nasies” (Spr. 14:34). Dit is duidelik dat die volke eers in die komende vrederyk die Here sal dien en dan sy volle seën sal geniet (Jes. 2:2-4; Sag. 8:20-22).
Die aanbod en uitnodiging tot begenadiging bly nogtans staan: alle volke wat die Here dien, sal welgeluksalig wees: “Welgeluksalig is die volk wat ... wandel in die lig van u aangesig” (Ps. 89:16). Israel het die ideale geleentheid gehad om die Here in die Beloofde Land te dien, veilig teen alle aanslae van buite af te wees, en voorspoedig in al hulle weë: “Welgeluksalig is jy, o Israel! Wie is soos jy? ’n Volk wat deur die Here verlos is, die skild van jou hulp en wat die swaard van jou hoogheid is, sodat jou vyande hulle al kruipende aan jou onderwerp; maar jy sal op hulle hoogtes stap” (Deut. 33:29).
Israel is egter dikwels weens goddeloosheid aan hulle vyande oorgegee en moes vir lang tydperke in ballingskap ver van hulle land af lewe. Die Here wag steeds dat Israel as ’n volk na Hom sal terugkeer sodat hulle volkome herstel kan word: “Want so sê die Here Here, die Heilige van Israel: In terugkeer en rus lê julle heil, in stil wees en vertroue bestaan julle krag. ... En daarom sal die Here met ongeduld daarop wag om julle genadig te wees, en daarom sal Hy Hom verhef om Hom oor julle te ontferm; want die Here is ’n God van die gerig. Welgeluksalig almal wat op Hom wag!” (Jes. 30:15, 18).
Israel sal eers welgeluksalig wees wanneer hulle sonde vergewe en almal van hulle rondom die Messias verenig is: “Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ’n nuwe verbond sal sluit. ... En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die Here; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die Here; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie” (Jer. 31:31, 34).
Dit sal ook goed gaan met alle ander volke wat die Here van harte dien: “Welgeluksalig is die volk wie se God die Here is! (Ps. 144:15).
Waarom is die hele wêreld so ver van ’n toestand van welgeluksaligheid af? Geestelik en moreel gesproke is die nasies sonder enige vaste beginsels, op ’n pad weg van die Here en sy geregtigheid af. Hulle het die deur wyd oopgegooi vir alles wat immoreel en oneerbaar is, en moedig selfs die aanbidding van elke denkbare valse godsdiens aan. Dit word alles gedoen onder die vaandel van menseregte, vryheid van geloof en vryheid van spraak. Die waarheid van God word egter teëgestaan omdat dit nie in assosiasie met enige vorm van die leuen kan bestaan nie. Die waarheid vereis dat ’n keuse tussen reg en verkeerd uitgeoefen word. Geen nasie wil in hierdie stadium die regte keuse doen nie, en hulle verkies om eerder God, sy Seun en sy Woord ter wille van hulle bandelose vryhede te verwerp:
“Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge? Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die Here en teen sy Gesalfde en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp! Hy wat in die hemel woon, lag; die Here spot met hulle. Dan sal Hy hulle aanspreek in sy toorn, en in sy grimmigheid sal Hy hulle verskrik: Ek tog het my Koning gesalf oor Sion, my heilige berg. Ek wil vertel van die besluit: Die Here het aan My gesê: U is my Seun, vandag het Ek self U gegenereer. Eis van My, en Ek wil nasies gee as u erfdeel en die eindes van die aarde as u besitting. U sal hulle verpletter met ’n ysterstaf, U sal hulle stukkend slaan soos ’n erdepot. Wees dan nou verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde! Dien die Here met vrees, en juig met bewing. Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil!” (Ps. 2:1-12).
Die internasionale rebellie teen God en sy Seun is futiel en selfvernietigend. Spoedig sal almal wat teen God en sy oppergesag rebelleer, in die eindtydse oordele van die dag van die Here omkom. Hulle sal baie goed weet dat die Seun se toorn teen hulle ontvlam het, paniekbevange van sy aangesig af wegvlug “en vir die berge en die rotse sê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Op. 6:16-17).
Hulle sal dan besef dat dit veel beter is om die Seun te dien en te eer as om Hom te verwerp en te probeer beveg. Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil!
Die veel meer uitnemende weg is om getrou aan die Here se Woord te bly, dit gedurig te oordink, streng daarvolgens te wandel en Hom met jou hele hart te eer. Dit is die enigste gelukkige vorm van lewe en staan in skrille kontras teenoor ’n goddelose bestaan:
“Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie; maar sy behae is in die wet van die Here, en hy oordink sy wet dag en nag. En hy sal wees soos ’n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit. So is die goddelose mense nie, maar soos kaf wat die wind verstrooi. Daarom sal die goddelose nie bestaan in die oordeel en die sondaars in die vergadering van die regverdiges nie” (Ps. 1:1-5).
Hierdie saligspreking oor mense wat ’n liefde vir die Woord het, word dikwels in die Psalms herhaal: “Welgeluksalig is die man wat die Here vrees, wat ’n groot welbehae in sy gebooie het” (Ps. 112:1; vgl. Ps. 94:12). Die hele Psalm 119 handel oor die wet (of woord) van die Here asook al die seëninge wat uit die onderhouding daarvan voortspruit: “Welgeluksalig is die opregtes van weg, wat in die wet van die Here wandel. Welgeluksalig is die wat sy getuienisse bewaar, Hom van ganser harte soek; ook geen ongeregtigheid doen nie, maar in sy weë wandel” (Ps. 119:1-3).
Die volgende is enkele van die stellings uit hierdie wonderlike Psalm, en daardeur word verskillende seëninge beskryf wat meegebring word deur eerbied vir die Here se Woord: “Waarmee sal die jongeling sy weg suiwer hou? Deur dit te hou na u Woord” (v. 9). “Ek soek U met my hele hart; laat my nie afdwaal van u gebooie nie” (v. 10). “Ek het u Woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie” (v. 11). “Ja, u getuienisse is my verlustiging, my raadsmanne” (v. 24). “Ek sal op die weg van u gebooie wandel, want U verruim my hart” (v. 32). “Neig my hart tot u getuienisse en nie tot winsbejag nie” (v. 36). “Ek sal u bevele tot in ewigheid nie vergeet nie, want deur hulle het U my lewend gemaak” (v. 93). “Ek het my voete teruggehou van elke verkeerde pad, dat ek u Woord kan bewaar” (v. 101). “U Woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad” (v. 105). “Die opening van u woorde gee lig; dit maak die eenvoudiges verstandig” (v. 130). “Maak my voetstappe vas in u Woord, en laat geen ongeregtigheid oor my heers nie” (v. 133). “Laat u aangesig skyn oor u kneg, en leer my u insettinge” (v. 135).
Een van die duidelike aspekte van welgeluksaligheid is dat dit op ’n lewe dui wat veilig is omdat die persoon in die teenwoordigheid van die Here lewe en daagliks onder sy sorg verkeer. Hy is ’n veilige skuilplek teen al die gevare waardeur ’n mens bedreig kan word: “Smaak en sien dat die Here goed is; welgeluksalig is die man wat by Hom skuil” (Ps. 34:9). “Die Naam van die Here is ’n sterk toring; die regverdige hardloop daarin en word beskut” (Spr. 18:10). Ons moet leer om onsself te midde van nood en benoudheid op die beskerming van die Here te beroep: “God is vir ons ’n toevlug en sterkte; as hulp in benoudhede is Hy in hoë mate beproef” (Ps. 46:2). “Welgeluksalig is hy wat die God van Jakob het as sy hulp, wie se hoop is op die Here sy God” (Ps. 146:5).
Wanneer ’n mens jou toevlug tot die Here neem om by Hom te skuil en in sy teenwoordigheid te lewe, dan kan jy geen vrees of kwaad in jou binneste herberg nie. Die Here ken jou gedagtes van ver af, en voor Hom is jou lewe oop en bloot. Sy Heilige Gees sal jou van alle krom en skewe paaie oortuig, sodat jy op die reguit pad van die Here se geregtigheid kan wandel. Dit sal verseker dat jy altyd ’n lied in jou hart het: “Welgeluksalig is die mens wie se sterkte in U is, in wie se hart die gebaande weë is. ... Welgeluksalig is die mens wat op U vertrou!” (Ps. 84:6, 13).
Die Here se seën rus kennelik op almal wat ’n helpende hand reik na die armes, siekes en vreemdelinge wat geen heenkome het nie: “Welgeluksalig is hy wat ag gee op die arme; die Here sal hom red in die dag van onheil. Die Here sal hom bewaar en hom in die lewe hou; hy sal gelukkig gemaak word op die aarde. Ja, U kan hom nie oorgee aan die begeerte van sy vyande nie. Die Here sal hom ondersteun op die siekbed” (Ps. 41:2-4).
Die Here het Homself daartoe verbind om die armes, hongeriges en eensames te versorg en te vertroos, daarom belowe Hy om ook goed te doen aan diegene wat hierdie taak verrig: “Wie hom ontferm oor die arme, leen aan die Here; en Hy sal hom sy weldaad vergelde” (Spr. 19:17). Hy sal ook konings en regerings seën wat hierdie basiese plig van menslikheid nakom: “’n Koning wat getrou aan die armes reg verskaf, sy troon sal vir altyd bevestig wees” (Spr. 29:14).
Die belangrikste vereiste vir barmhartigheid is dat ’n persoon ’n intieme wandel met die Here moet hê, want dan sal hy op ’n waardige wyse omgaan met ander mense en empatie hê met hulpbehoewendes: “Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die Here van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?” (Miga 6:8). Só ’n persoon is welgeluksalig, omdat liefde teenoor jou naaste ’n noodwendige uitvloeisel is van liefde teenoor God. Naastediens wat nie deur liefde vir God gemotiveer word nie, is slegs humanitêre hulp wat wel mense se tydelike nood aanspreek, maar in gebreke bly om ’n oplossing vir hulle geestelike armoede en behoeftes aan te bied.
(Word vervolg)