Die Russiese Inval in Israel

Johan Malan, Mosselbaai (Desember 2015)

Skriflesing: Esegiël 38:1-16; 39:1-12

Die Bybel profeteer ʼn groot eindtydse oorlog wat teen Israel gevoer sal word deur ʼn alliansie van lande onder die leierskap van Rusland. Die blote skaal van hierdie militęre operasie is ʼn aanduiding dat dit as ʼn “finale oplossing” vir die Joodse vraagstuk nagestreef sal word met die oog op die vervanging van Israel deur ʼn Islamitiese kalifaat wat uit Jerusalem beheer sal word. Indien hierdie scenario ʼn werklikheid word, sal Israel se hoop verydel wees om in beheer van Jerusalem te bly terwyl hulle wag op die verskyning van hulle Messias op die Olyfberg om sy vyande te oordeel en die troon van Dawid in Jerusalem te herstel. Die koninkryk wat Islam beoog, verskil heeltemal van die een waarin Israel ʼn sentrale posisie beklee, en Moslemstate is bereid om hulle rykdom en politieke invloed te deel met ʼn supermoondheid soos Rusland as dié hulle sou help om hulle doel te bereik – vinnig en beslissend deur oorweldigende militęre mag.

Volgens Esegiël 38 en 39 gaan verskeie lande in die Midde-Ooste, Oos-Europa en Noord-Afrika onder die aanvoering van Rusland ʼn geweldige aanslag op Israel loods om hierdie land tot ʼn val te bring en van die węreldkaart af uit te wis. Na aanleiding van die etimologie van volks- en plekname wat in hierdie twee hoofstukke gebruik word, kan daar in die meeste gevalle ʼn konkrete verband met moderne volke en lande aangedui word – in elk geval wat die belangrikste rolspelers betref:

Die land Magog. Volgens die register van nasies in Génesis 10 was Magog ʼn kleinseun van Noag (v. 1-2). Die afstammelinge van Magog het ten noorde van die Kaukasusgebergte in die huidige Rusland gewoon, en is die belangrikste antieke volk waaruit die moderne Russe afgestam het.

Die vors van Ros, Meseg en Tubal. Ros, of Rus, was een van die stamme wat van Magog afgestam het, en hulle het lank in die omgewing van die Wolga gewoon. Meseg en Tubal was jonger broers van Magog (Gen. 10:2) en het ook in die gebied van die huidige Rusland gevestig. Meseg was die stigter van die Moski, en van dié naamwoord is “Moskou” afgelei. Tubal is die stamvader van die Tibereni wat langs die Swart See gewoon het.

Die agterhoeke van die Noorde. Moskou, die hoofstad van Rusland, is reg noord van Jerusalem “in die agterhoeke van die noorde” geleë. Onmiddellik noord van Israel was Assirië, die land van “die koning van die Noorde” (vgl. Dan. 11:40). Rusland word egter onderskei as geleë in die agterhoeke van die Noorde.

Die profesie in Esegiël 38 en 39 het duidelik op “die laaste dae” betrekking en is dus nie in Ou-Testamentiese tye vervul nie. Dit is ook nie ʼn simboliese of allegoriese beskrywing nie, want dit verwys uitdruklik na ʼn aanval op die herstelde volk Israel, wie se land “gedurigdeur as ʼn puinhoop gelę het” (Eseg. 38:8). Israel is in 1948 uit hulle internasionale ballingskap herstel, en dit was ook eers in die 20ste eeu dat Rusland ʼn supermoondheid geword het wat ander lande kan bewapen en leiding kan neem om ʼn groot oorlog te voer.

Israel het sedert 1948 aansienlik uitgebrei en ook ʼn baie sterk weermag opgebou. Esegiël beskryf die herstelde Israel as ʼn land wat ooplę, sonder poorte of mure, waarin almal veilig woon. As gevolg van al die bedreigings van vyandige nasies rondom hulle, en duisende radikale Palestyne in hulle midde, voer die Israeli’s egter nie regtig ʼn veilige bestaan nie. Dit is wél so dat Israel nie, soos in antieke tye, mure rondom hulle stede bou vir veiligheid nie. Die talle kibboetse lę ook oop na alle kante toe. Volgens ʼn Messiaanse Jood, Arnold Fruchtenbaum, beteken die woord “veiligheid” (Heb. betach) in Eseg. 38 ʼn “valse gerustheid en veiligheid” wat gebaseer is op ʼn oormatige vertroue in Israel se militęre krag om aanvalle af te slaan. Die skielike en onverwagte Russiese inval sal dus vir die Israeli’s ʼn groot skok en ontnugtering wees, en selfs hulle oordeelsvermoë aantas m.b.t. die identiteit van die ware Messias.

Esegiël noem die volgende bondgenote wat saam met Rusland ʼn inval in Israel sal doen om die land van Joodse besetting te bevry:

Persië. Die naam van Persië is in 1935 na Iran verander. Ná die Islamitiese rewolusie onder die leiding van die Ajatolla Khomeini in 1979, het hierdie land uitgesproke anti-Israels geraak en het sowel politieke as godsdienstige leiers openlike oproepe vir die uitwissing van die Joodse staat gedoen. Rusland het ʼn militęre verbond met Iran gesluit, en verskaf ook wetenskaplike en tegnologiese hulp aan hulle op die gebied van kernnavorsing. Israel en verskeie ander lande vrees dat Iran beplan om kernwapens te vervaardig om Islam se vyande uit te wis. Iran finansier en bewapen terroristegroepe soos Hesboellah in Libanon en Hamas in Gasa, wat beide daartoe verbind is om Israel tot ʼn val te bring.

Put is die Hebreeuse naam vir Libië. Hierdie Islamitiese land het in anargie verval nadat kolonel Gaddafi se bewind tydens ʼn rewolusie tot ʼn val gekom het. Die strydende Islamitiese faksies in Libië het een ding in gemeen, en dit is hulle gemeenskaplike haat vir Israel.

Kus is die oorspronklike Hebreeuse naam vir Ethiopië. Ná die val van Haile Selassie se bewind in 1974 het Ethiopië eers ʼn kommunistiese en later ʼn Islamitiese regering gekry. Antieke Kus het egter wyer grense gehad en sluit ook die huidige Soedan in. Dit is duidelik dat daar in Noord-Afrika verskeie Moslemstate is wat sterk kandidate is vir ʼn Russiese alliansie teen Israel met die oog op die stigting van ʼn Islamitiese kalifaat in die Midde-Ooste

Togarma en Gomer. Hierdie twee antieke volke het gebiede in Klein Asië, Oos-Europa en die voormalige Sowjet-Unie bewoon, en dit is nie duidelik met watter van die moderne volke in hierdie gebied hulle ʼn direkte verwantskap het nie. Daar is verskeie moontlikhede, soos Turkye en Moslemstate in die voormalige USSR. Dit sal egter mettertyd duidelik word watter lande aan die Russiese koalisie sal deelneem. Esegiël praat in elk geval benewens Gog se vyf bondgenote van nog “baie volke saam met jou” (Eseg. 38:6), sonder om hulle te identifiseer. Dit is dus duidelik dat ʼn groot groep lande – heelwaarskynlik Moslemstate – wat almal op Israel se uitwissing ingestel is, onder Rusland se aanvoering aan hierdie gepoogde uitwissingsoorlog sal deelneem.

Die leierskaprol van Rusland is nie net aan hulle sterk weermag en gevorderde wapentuig te danke nie, maar is so beskik omdat die Here hulle wil straf. Die Here sę: “Kyk, Ek het dit teen jou, o Gog” (Eseg. 39:1). Die rede vir die Goddelike toorn teen Rusland is omdat hulle ʼn groot rol gespeel het in die aanstigting van Jodehaat, en ook sedert Israel se herstel in 1948 aansienlike hoeveelhede wapens aan die vyande van die Joodse staat voorsien het. Verder het hulle militęre opleiding aan militantes uit Arabiese state verskaf. Hulle huiwer selfs nie om kerntegnologie aan Israel se grootste vyand (Iran) te verskaf en sodoende Israel se voortbestaan te bedreig nie. Die strafmaatreëls teen Rusland is die begin van ʼn uitgebreide reeks oordele van die Here tydens die komende verdrukking, en dit versterk die verwagting dat hierdie inval net ná die wegraping sal plaasvind.

Wat godsdiens betref is Rusland wel nie self in groot getalle tot die Moslem-geloof geneë nie, maar hulle besef dat as hulle Islam se eskatologiese drome help verwesenlik van die stigting van ʼn węreldoorheersende kalifaat in die Midde-Ooste, Rusland self ook groot mag, invloed en dalk olierykdomme in dié strategiese węrelddeel sal verkry. Godsdienstig gesproke is Rusland in ʼn soort niemandsland. Hulle is nie meer van staatskant af amptelik tot die bevordering van ateďsme verbind soos tydens die meer as 70 jaar van kommunistiese oorheersing nie, maar (behalwe vir relatief klein groepies evangeliese Christene) ken hulle nie die ware Christendom nie. Sedert hulle nuutgevonde vryheid in 1990 het groot groepe Russe by die Russies-Ortodokse Kerk aangesluit, maar die evangeliese karakter van hierdie kerk is twyfelagtig.

In ʼn artikel in The Economist van 31 Okt. 2015, getiteld Russians feel less positive towards religion now than they did in 1990, word onder meer gesę: “Over the quarter-century since the collapse of the Soviet system, Russian feelings about religion have changed a lot. In Soviet times, the state expected and encouraged citizens to be atheists. Now a loose affiliation to a religious faith has become the national default mode; a plurality of Russians tell pollsters they are Russian Orthodox, while significant minorities identify with Islam, Buddhism or Judaism. But a survey published a few days ago showed [that] … the general effect of religion on human welfare is viewed in much bleaker terms than in 1990. The proportion of people who think religion does more good than harm to society has slumped from 61% to 36% while the share detecting more harm than good has risen from 5% to 23%.”

Rusland is baie duidelik vir selfsugtige oorwegings van magsuitbreiding by die stryd in die Midde-Ooste betrokke, en sal duidelik geen probleem hę om Israel op te offer as hulle voordeel daaruit kan trek nie. Hulle besef egter nie dat hulle daardeur ʼn antichristelike koninkryk in die Midde-Ooste sal help vestig wat regstreeks in stryd is met God se koninkryk en Israel se rol in daardie koninkryk nie. Vir hierdie daad van rebellie gaan Rusland gestraf word. Die Here sę dat Gog met hake aan sy kakebene uit sy land getrek sal word om aan dié oorlog deel te neem. Hulle sal dus deur omstandighede gedwing word om nie meer net ʼn onregstreekse rol te vervul nie maar hulle Arabiese en ander bondgenote fisies te gaan help in die oorlog teen Israel. Wanneer hulle wél tot hierdie bose stap oorgaan, sal Rusland en sy bondgenote ʼn rampspoedige afspraak met die noodlot in Israel hę. Die Here sę aan Gog: “Op die berge van Israel sal jy val, jy en al jou leërs en die volke wat saam met jou is” (Eseg. 39:4).

ʼn Gevaarlike bondgenootskap met Islam

Rusland besef nie dat ʼn militęre en politieke bondgenootskap met enige van die faksies van Islam nie net ʼn daad van opposisie teen Israel en die God van die Bybel is nie, maar ook ʼn bondgenootskap met die koninkryk van die duisternis. Enigeen wat hierby betrokke raak, bevorder radikale Islam se oogmerke en verhaas net sy eie ondergang. Rusland het reeds hierdie gevaarlike grens oorskry, en as gevolg daarvan hake in sy kakebeen gekry waardeur hy al hoe dieper by ʼn onheilige oorlog ingetrek word. Die noodlottige besluit wat hulle geneem het, was om ʼn militęre verdrag met Iran en Sirië te sluit wat hulle verplig om hulp te verleen in die geval van enige aanvalle teen hierdie twee lande. Meer nog, dit betrek Rusland ook by die ondermynende geweldpolitiek wat hierdie lande voer – nie net teen Israel en sy bondgenote nie, maar ook teen ander faksies van Islam. Die binnegevegte in Islam is baie ernstig en het na bloedige burgeroorloë gelei. Verskeie Arabiese state het al sulke oorloë gevoer, maar die heel grootste een van almal word tans in Sirië gevoer, en Rusland is reeds diep daarby betrokke.

Die twee groot godsdienstige faksies in Islam is die Soenniete wat meer as 80% van alle Moslems verteenwoordig, en ʼn magtige minderheidsgroep van die Sjiďete wat hoofsaaklik in Iran, Irak en Sirië gevestig is, met kleiner groepe in baie ander lande. Sunnah beteken Tradisie en verwys na die feit dat hierdie groep ʼn versameling tradisies (die hadiths) het wat volle erkenning op dieselfde vlak as die Koran geniet. Hulle erken al die kalifs wat as opvolgers van Mohammed heersers in die Moslem węreld was, terwyl die Sjiďete die eerste drie kalifs as indringers beskou wat wederregtelik hulle posisies verkry het, en wie se leerstellings ook verwerp word. Daar is ʼn bitter stryd tussen die Soennies en Sjiďete.

Volgens die Sjiďtiese weergawe van Islam het die 12de afstammeling van Mohammed, wat as die 12de Imam of die Mahdi bekend staan, in die jaar 941 verdwyn en homself by die put Jamkaran in Iran skuilgehou. Die Sjiďete glo dat hy sal terugkom wanneer die węreld vol onderdrukking, oorloë en tirannie is, en dat hy as die Imam Mahdi dan aan die hoof van ʼn Islamitiese węreldstaat sal staan. Iran voer ʼn verbete ideologiese (en beplande militęre) stryd teen al die teëstanders van Islam – dit sluit in die eerste plek Israel in, maar ook alle nie-Moslemstate, veral lande soos Amerika en sy bondgenote wat Israel ondersteun en ook militęre aanvalle op Islamitiese teikens doen. Iran glo dat die stryd teen Islam se vyande moet eskaleer, selfs al loop dit op ʼn węreldoorlog uit, en hiervoor het hulle die steun van Rusland verkry, al besef Rusland nie regtig waarvoor hulle hulself inlaat nie. Iran is die grootste aanstigter van terrorisme teen Israel, en verskaf deurlopend geld en wapens aan groepe soos Hesboellah in Libanon en Hamas in die Gasa-gebied van Israel. Hierdie groepe is al van etlike duisende vuurpyle voorsien om aanvalle op Israel te doen, en dit gaan steeds onverpoosd voort. Sirië is ʼn belangrike deurgangspunt vir logistieke hulp aan die terroriste aan Israel se grense. Nietemin gaan Rusland voort om hierdie rewolusionęre minderheidsregering in Sirië te ondersteun en te verdedig.

Die binnegevegte in Islam is net so gewelddadig en gekompliseerd as hulle stryd teen die nie-Islamitiese węreld. President Bashar al-Assad van Sirië is aan die hoof van ʼn minderheid Sjiďete in ʼn oorwegend Soennitiese land. Al die opposisiegroepe is Soenniete, en word deur Rusland as terroriste beskou wat aangeval moet word – ook die meer gematigde opposisie teen Assad se bewind. Aan die mees radikale kant van die opposisie in Sirië is die Islamitiese Staat (IS) wat reeds groot dele van Sirië en Irak se grondgebied beset en tot ʼn groeiende Islamitiese staat verklaar het.

Rusland het verskeie aanvalle op vestings van IS-militantes gemaak, maar IS het hard teruggeslaan en in Oktober 2015 ʼn bom geplant in ʼn Russiese passasiersvliegtuig wat op ʼn vlug was tussen Sharm El-Sheikh in Egipte na St. Petersburg in Rusland. Die vliegtuig het in die Sinai-Skiereiland neergestort en al 224 insittendes is dood. Hierdeur is Rusland dieper ingetrek in die stryd tussen strydende partye in Islam, en het hulleself tot grootskaalse weerwraak verbind. Rusland raak net al hoe meer in die moeilikheid, want hulle bombardeer die vestings van alle opposisiegroepe in Sirië – ook dié wat deur Amerika gesteun en bewapen word om Assad te probeer onttroon. Dit plaas Amerika en Rusland ook op ʼn weg van konfrontasie.

Die veelvuldige jihads (“heilige oorloë) wat Islam onderling veg, en ook teen almal buite Islam, is die tema van verskeie boeke deur bekende skrywers soos die Messiaanse Jood, Joël Rosenberg. Sommige daarvan is fiksieverhale maar dit is op baie moontlike scenario’s gebaseer. Hieronder is ʼn reeks van drie boeke oor Iran se jihad teen Israel en Amerika, naamlik The twelfth Imam, The Tehran initiative,  en Damascus countdown. Hierbenewens is daar ook The last jihad en The Ezekiel option waarin die Russiese inval van Esegiël 38 en 39 uitgebeeld word. ʼn Ander skrywer, Joel Richardson, het onder andere die volgende baie insiggewende boeke geskryf: The Islamic Antichrist, Mideast Beast: The Scriptural case for an Islamic Antichrist, en When a Jew rules the world. Laasgenoemde boek is ook in Afrikaans vertaal en deur FaithEquip in Kaapstad uitgegee (Wanneer n Jood die węreld regeer; vir inligting, sien www.faithequip.co.za/). In hierdie boek beskryf Richardson die gevare van Jodehaat en vervangingsteologie, en wys ook op die bedeling van ware vrede wat sal aanbreek nadat die antichristelike stryd teen Israel verby is, die Messias teruggekeer en die troon van Dawid in Jerusalem herstel is.

Op hierdie oomblik is ons egter nog in die hitte van die stryd, en die intensiteit daarvan is besig om verder op te bou. Rusland, Amerika en baie ander lande is ongelukkig besig om groot oordeelsfoute te begaan deur betrokke te raak by enige van die partye in die interne Islamitiese jihad. Benewens die stryd tussen Soenniete en Sjiďete is daar ook onder die Soenniete groeperings wat hoogs antagonisties en selfs vyandig teenoor mekaar is. Die Wahabiete in Saoedi Arabië en die Moslem Broederskap in Egipte is van die grootste groepering in die Midde-Ooste. Daar is egter ekstremistiese Soennie-groepe soos Al-Qaeda en die Islamitiese Staat wat op fundamentele Islamitiese hervormings aandring soos die streng toepassing van die sharia-wette. Dit sluit onder meer die teregstelling van bekeerlinge uit Islam na ander gelowe in, die steniging van ontrou vrouens, en die verbod op die oprigting van enige kerke of tempels van ander gelowe in die hele grondgebied van ʼn Moslem-land.

Kunsmatige eenheid in Islam

Die enigste kans vir verenigde optrede in Islam is wanneer hulle deur ʼn gemeenskaplike vyand van buite bedreig word, soos bv. Israel of Amerika. Wanneer daar in Esegiël 38 en 39 na Rusland se bondgenote gekyk word, in elk geval dié wat genoem word, dan is dit duidelik dat dit Sjiďtiese én Soennitiese Moslems in Oos-Europa, Klein Asië, die Midde-Ooste én Noord-Afrika insluit. Die klem gaan dus heeltemal verskuif van die interne Moslem faksiegevegte na die eksterne stryd teen ‘n vyand van buite. Die gemeenskaplike oogmerk van die vestiging van ʼn Moslem kalifaat met Jerusalem as hoofstad, en wat onder die beheer van ʼn afstammeling van Mohammed sal staan, sal in elk geval tydelike eenheid van doelstelling onder die strydende partye skep. Almal van hulle verwag die koms van hierdie magtige militaris, “verlosser” en toekomstige węreldleier.

ʼn Ingryping deur God

Die uitslag van die Russies-Islamitiese inval in Israel sal hoogs verrassend, onverwags en uiters dramaties wees. Die een oomblik sal Israel nog deur uitwissing in die gesig gestaar word terwyl die invalsmagte uitbrei en die land soos ʼn wolk oordek, dan sal die Here skielik die invallende leërs op die berge van Israel verdelg. Vuur sal uit die hemel neerdaal (Eseg. 39:4-6) en daar sal ʼn baie groot aardbewing voorkom (Eseg. 38:19-23). Almal sal kan sien dat dit ʼn ingryping deur God is en hulle sal aan Hom die eer vir die oorwinning gee. Dit sal Israel sewe maande lank neem om die lyke van hulle vyand te begrawe, en hulle sal sewe jaar lank met die oorlogsbuit vuur maak. Israel sal waarskynlik die wapens en toerusting in vuuroonde gooi om dit te smelt en dan die yster vir die vervaardiging van landbou- en industriële gebruike aan te wend.

Die Here sę dat Hy op hierdie wyse sy naam aan Israel én die nasies bekend sal maak sodat hulle gebroke verhouding met Hom herstel kan word:

“En Ek sal my heerlikheid onder die nasies bring, en al die nasies sal my strafgerig sien wat Ek voltrek het, en my hand wat Ek op hulle gelę het. En die huis van Israel sal weet dat Ek die HERE hulle God is, van dié dag af en verder. En die nasies sal weet dat die huis van Israel vanweë hulle ongeregtigheid in ballingskap gegaan het; omdat hulle teen My troubreuk begaan het, het Ek my aangesig vir hulle verberg en hulle in die hand van hul teëstanders oorgegee, sodat hulle almal deur die swaard geval het. Volgens hulle onreinheid en hulle oortredinge het Ek met hulle gehandel en my aangesig vir hulle verberg. Daarom, so sę die Here HERE: Nou sal Ek die lot van Jakob verander en My ontferm oor die hele huis van Israel en ywer vir my heilige Naam. En hulle sal hul smaad vergeet en al hul ontrou wat hulle teen My begaan het, as hulle in hul land veilig woon en daar niemand is wat hulle verskrik nie. As Ek hulle terugbring uit die volke en hulle versamel uit die lande van hulle vyande, sal Ek My in hulle as die Heilige laat ken voor die oë van baie nasies. En hulle sal weet dat Ek, die HERE, hulle God is, daaraan dat Ek hulle in ballingskap laat gaan het na die nasies, maar hulle weer versamel het in hulle land en dáár niemand meer uit hulle agter laat bly het nie. En Ek sal my aangesig nie meer vir hulle verberg nie, omdat Ek my Gees oor die huis van Israel uitgegiet het, spreek die Here HERE” (Eseg. 39:21-29).

Dit is opvallend dat belangrike fases in Israel se eindtydse herstel dikwels met groot oorloë saamval. Tydens die Eerste Węreldoorlog is Israel se grondgebied van Turkse (Islamitiese) beheer bevry en het ʼn Britse mandaatgebied geword. Dit het die weg gebaan na die oordra van die grond aan Israel sodat Jode weer daar kon vestig. In die Tweede Węreldoorlog is Israel as volk van hulle internasionale ballingskap verlos en te midde van groot benoudheid gedwing om na die land van hulle vaders te vlug vir oorlewing. Direk ná die komende Russiese inval in Israel, en spesifiek in die lig van God se ingryping, sal Israel en die nasies weer die oppergesag van God erken. Godsdiens sonder die Messias, Jesus, is egter nie ware godsdiens nie en lei gewoonlik net na ritualistiese uitdrukkings van geloof. Wanneer die Messias aan die einde van die verdrukking tydens die hoogtepunt van die slag van Armagéddon terugkeer, sal die oorblyfsel van Israel en die nasies waarlik gered en met God versoen word.

Geloof in God sal nietemin feitlik węreldwyd bely word ná die Goddelike ingryping in Israel. Dit sal ʼn duidelike verskuiwing in ingesteldheid meebring van ʼn sekulęre węreldbeskouing af waarin die bonatuurlike dimensie ontken is, na ʼn ingesteldheid waarin Goddelike dade ten volle erken word. Geloof in God sonder die uitdruklike erkenning van Christus se posisie as Middelaar tussen God en die mens is egter nie ʼn ware, Bybelse geloof nie.

Ernstige misleiding

Satan gaan op ʼn listige manier die vernietiging van die groot invalsmag in Israel tot die voordeel van sy eie koninkryk uitbuit om sodoende die steun van die meerderheid mense op aarde te behou. Hy sal dit doen deur die Antichris en die valse profeet as węreldleiers en die beskermhere van ʼn multigodsdienstige nuwe węreldorde te openbaar, maar dit kan slegs gebeur nadat die Antichris se teëhouer, die ware kerk, tydens die wegraping van die aarde af weggeneem is (1 Thess. 4:16-17). Die skielike ontwaking van spiritualiteit na aanleiding van Israel se wonderbaarlike uitredding sal dan deur die duiwel gebruik word om geloof in die valse god van alle gelowe, asook ʼn valse, universele christus, in mense se harte te vestig (vgl. 2 Kor. 4:4).

Die Antichris sal daarna streef om soveel as moontlik voordeel uit die situasie te verkry en daarop aanspraak maak dat hy ʼn derde węreldoorlog deur sy optrede afgeweer het, dat hy Israel van gewisse ondergang gered het, en dat hy ʼn dreigende ineenstorting van die węreldekonomie voorkom het. As bevestiging van sy aanspraak dat ʼn spesiale gesant van God is, sal hy en sy tweede in bevel, die valse profeet, skouspelagtige tekens en wonders doen waardeur hulle selfs die vuur sal naboots wat God uit die hemel laat neerdaal het om Israel se vyande verdelg. Johannes sę van die valse profeet: “Hy oefen al die mag van die eerste dier [die Antichris] uit voor sy oë, en maak dat die aarde en die wat daarop woon, die eerste dier aanbid. ... En hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense” (Op. 13:12-13).

Die Antichris sal daarop aanspraak maak dat hy vrede tussen alle nasies kan skep – ook tussen Moslems en Jode. Hy sal Jerusalem tot ʼn internasionale stad verklaar en die Tempelberg ʼn aanbiddingsplek vir alle gelowe maak. Die Jode sal hulle tempel daar herbou, en dit sal naas Islam se moskees funksioneer, wat almal volle erkenning sal geniet. Israel sal só dankbaar wees omdat die “Messias” gekom en hulle van verdelging uitgered het, dat hulle dadelik ‘n verbond met hierdie valse “Messias” sal sluit (Dan. 9:27; Joh. 5:43). Dieselfde sal deur Islam en alle ander gelowe gedoen word: “En die hele węreld het verwonderd agter die dier aan gegaan. En hulle het die draak [die valse god van hierdie węreld] aanbid wat die dier mag gegee het, en die dier aanbid en gesę: Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer?” (Op. 13:3-4).

Die nadraai van die Russiese inval in Israel sal dus nie die openbaring van God se koninkryk onder die leiding van die ware Messias wees nie, maar die openbaring van Satan se koninkryk onder die leiding van die valse messias. Daar sal nog ʼn węreldoorlog moet volg voordat Israel en die nasies van die geestelike misleiding van ʼn valse messias bevry sal word om die ware Messias te ontvang, te aanbid en na te volg. Sagaria sę: “In dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lę, aan die oostekant” (Sag. 14:4). Die Gees van die Here sal Israel van hulle sonde oortuig en hulle sal volkome met die Messias versoen word. In ʼn Messiaanse profesie staan daar:

“Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ʼn mens rouklaag oor ʼn enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ʼn mens bitterlik ween oor ʼn eersgebore kind. In dié dag sal die rouklag groot wees in Jerusalem. ... En dié dag sal daar ʼn geopende fontein wees vir die huis van Dawid en vir die inwoners van Jerusalem teen sonde en onreinheid. En in dié dag, spreek die HERE van die leërskare, sal Ek die name van die afgode uit die land uitroei, sodat aan hulle nie meer gedink sal word nie” (Sag. 12:10-11; 13:1-2).

Op daardie dag sal die Antichris en valse profeet lewend in die poel van vuur gegooi word (Op. 19:19-20). Die gruwelik afgodsbeeld van die Antichris sal ook verdelg word saam met alle ander afgode wat in Jerusalem en ook op enige ander plek in die węreld aanbid is. Hierna, tydens die vrederyk, sal net Christus aanbid word en die kennis van die Here sal die aarde oordek soos die waters die seebodem (Jes. 11:9). Al die nasies sal die Here in Jerusalem kom aanbid en hulle sal nie meer wandel na die verharding van hul bose hart nie (Jer. 3:17). Dit geld natuurlik ook vir Rusland en al die Moslemlande wat in ʼn stadium saam met hom probeer het om Israel uit te delg. Die geestelike karakter van die Midde-Ooste sal ook drasties verander. Jesaja sę:

“In dié dag [van die Here tydens die vrederyk] sal daar ʼn grootpad wees van Egipte na Assirië, en Assiriërs sal in Egipte kom en Egiptenaars in Assirië; en Egipte sal saam met Assirië die HERE dien. In dié dag sal Israel die derde wees naas [saam met] Egipte en Assirië, ʼn seën in die midde van die aarde, omdat die HERE van die leërskare hom geseën het, met die woorde: Geseënd is my volk Egipte en my maaksel Assirië en my erfdeel Israel!” (Jes. 19:23-25). Dit is net Jesus wat ʼn groot en blywende verskil kan maak in die lewens van individue én nasies.

Die duiwel speel natuurlik ʼn groot rol as die verleier van die nasies om geestelike misleiding en afgodediens te bevorder. Wanneer hy ná die vrederyk losgelaat word, sal daar weer ʼn oorlog teen Jerusalem en God se koninkryk gevoer word – nog veel groter as die komende Russiese inval in Israel: “En wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan uit sy gevangenis ontbind word; en hy sal uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is, die Gog en die Magog, om hulle te versamel vir die oorlog; en hulle getal is soos die sand van die see. En hulle het opgekom oor die breedte van die aarde en die laer van die heiliges en die geliefde stad omsingel, en vuur het van God uit die hemel neergedaal en hulle verslind” (Op. 20:7-9).

Interessant genoeg sal hierdie laaste rebellie weer in die gebied van die huidige Rusland gestig word – Gog in die land Magog. Dit is die land waar die eerste kommunistiese diktatuur met sy staatsbeleid van ateďsme op 1 Mei 1917 gestig is. Daardie bose ideologie het onbeskryflike ellende en dood vir miljoene mense gebring – veral vir Jode en Christene. Intussen het kommunisme geval, maar nou vat Rusland hande met radikale Islam in Iran en Sirië wat ewe vyandig teenoor die Christendom en Israel is.

Wanneer gaan die volke van die węreld – ook die vrye węreld in die Weste – leer waar hulle heil geleë is? Post-Christelike Europa is op dieselfde pad wat weg van die enigste Vredevors af lei, dit is waarom alle nasies in die eindtyd teen Jerusalem, en dus ook teen die koninkryk van God, gaan optrek waar die Here hulle sal oordeel (Sag. 12:2-3; 14:12-13). Dit is dus nie net Rusland wat op die verkeerde pad is nie, maar breedweg, met die uitsondering van klein evangeliese groepe, die hele węreld. Dit is waarom ʼn tyd van oordele vir die węreld tydens die verdrukking van sewe jaar onafwendbaar is:

“Want kyk, in dié dae en in dié tyd wanneer Ek die lot van Juda en Jerusalem verander, sal Ek al die nasies versamel en hulle na die dal van Jósafat laat aftrek, om daar met hulle ʼn strafgerig te hou ter wille van my volk en my erfdeel Israel wat hulle onder die nasies verstrooi het, en my land wat hulle verdeel het” (Joël 3:1-2). Die Verenigde Nasies is feitlik eenparig in hulle standpunt dat die grondgebied van Israel én die stad Jerusalem tussen Israel en die Palestyne verdeel moet word, en in dié opsig is hulle heeltemal buite die wil van God.

In eindtydse profesieë, veral dié wat op Israel betrekking het, waarsku die Here nie net vir Rusland teen samewerking met Israel se vyande nie, maar Hy waarsku alle nasies in die węreld teen sondige bondgenootskappe en optredes wat net tot hulle eie ondergang kan lei. Aan die ander kant is daar beloftes van ryke seën vir diegene wat vir Israel seën en ook die Woord van God eerbiedig wat van Israel af oor die hele węreld uitgegaan het. Net diegene wat getrou bly aan God, sy Seun en sy Woord, sal erfgename van sy hemelse koninkryk wees.